Pages

31.8.14

Klaars verjaar (1)

Klaradyn het tien geword, gister, en ek wil vertel van haar partytjie.

Maar ʼn mens se kind word tien, en jy staan stil en bewonder die hier en die nou met weggeslane asem.

Dan word jy stil en jy kyk terug, jy kyk tien jaar terug. En dan loop jy eers weer die pad van mylpaal tot mylpaal – tot gister toe sy, sy maar ook óns, ons al drie, tot hiér, hier by tien stil gekom staan het.

En dan word jy nóg stiller, want skielik kyk jy vorentoe, ʼn skrale tien jaar vorentoe, en die mylpale, oorgangsrites, stopstrate, T-aansluitings en moontlike doodloopstrate is skielik soveel meer, soveel groter.

Ek vergeet sommer skoon van die partytjie – teen tienerwees, storm en drang, matriek, sweet sixteen, uitgaan, opbreek en al daardie dinge, word ʼn tienjarige se partytjie ʼn stukkie studentikoosvermakerige trivialiteit.

Dan stap ek maar eerder terug.

Die aand voor Klaradyn se geboorte was al ʼn mylpaal in my en Annieka se huwelik – dit was die eerste nag in ons getroude lewe dat ons nie saam onder die selfde dak, in dieselfde kamer, op dieselfde bed geslaap het nie.

Ek sou dit vir jare so wou hou. Veral na ek ʼn kollega en haar man leer ken het wat al twintig jaar getroud was en nog steeds nie ʼn enkele nag van mekaar geskei, deurgebring het nie.

En toe die ironie – die grootse oomblik in my en Annieka se lewens saam breek aan – ons eerste- (en toe enigste-) –ling se geboorte breek aan – en sy moet vir ʼn induksie gaan. Sy moet die nag voor die tyd hospitaal toe. Ek moet alleen agterbly.

Gelukkig net vir een nag, want ek het vir ons ʼn familiekamer by die hospitaal bespreek.

Ek was gister gereeld weer daar.

Eers toe Tannie Marieta SMS om geluk te wens. Sy het vir Pappa ʼn bier hospitaal toe gebring. En toe nooi ons haar op. Toe maak sy ons touwys met die eerste omruil van ons eie Klaradyn se heel eerste poefdoek. (Dis ʼn poefdoek met ʼn spesiale naam, ek het die naam vergeet, maar dis so swart en vernoem na die dokter/doktor wat dit die eerste keer in wetenskaplike terme beskryf het. Ja, ek was ʼn pa wat baie voorafleeswerk gedoen het.)

In daardie stadium was Klaradyn ʼn paar ure oud, maar vir my toe ook maar eers ʼn paar ure lank “Klaradyn”.

Ek het nie geweet of ons lewens met ʼn Klaradyn of ʼn Klein Hansie verryk gaan word nie. Ek wóú nie weet nie.

As die Here wou gehad het dat ons vooraf weet wat op ʼn mens wag, dan sou ons al van vroegste tye af geweet het. Hierdie gier om te weet het saam met buskruit en die splitsing van die atoom gekom – reguit uit die hand van die satan.

Toe bel Tannie Pat gister om geluk te sê, ons tweede besoekers van destyds, Tannie Pat en Tannie Ina. En ek sien weer met hoeveel liefde en vrymoedigheid Tannie Pat die bondeltjie liefde vas hou. En met dieselfde hoeveelheid liefde en vrymoedigheid waarmee Pat vashou en oplig en speel, met presies dieselfde hoeveelheid versigtigheid, amperse lugtigheid – te bang om seer te maak – staan  Ina nader, naby.

Toe sluit Oom Erik-hulle by ons aan vir die partytjie. En dadelik is ek nóg ʼn verdere nege maande terug, agtertoe, nege maande vroeër nog as die oggend in die hospitaal.

Ons het die Vrydag voor hulle troue van die volgende oggend, gehoor dat Annieka swanger is; in die woorde van die ginekoloog: “Jy is nie net swanger nie, nie eers báie swanger nie  – jy is sommer fókken swanger.” En daar wil ons nie die glorie van hul troue steel nie en moet ons wag tot hulle veilig op hul wittebrood afgesien is, voor ons die wonderlike nuus van die nuwe lewetjie met die res van die familie kan deel.

Toe kom skoonma en skoonpa inloer by die partytjie. En presies soos ek hulle sien staan het, eers toe ek in die hospitaalgang by hulle verby is teater toe vir die geboorte, toe later die aand toe hulle vir die eerste keer kom kuier het, het ek die twee oues sien staan toe hulle gister naderstaan om die verjaarsdagkoek met die tien kersies, tien jaar later. Tien jaar ouer.

En dit bring trane in my oë. Soveel om voor dankbaar te wees, soveel wat as niks anders nie as louter seën en genade beleef en beskryf kan word.

Ek onthou Ouma Nooi se eerste kuier. Ook ons laaste kuier. Hoeka tussen my en Klaradyn se verjaarsdae.

En toe ander oom en tannie, Oom Jac en Tannie Bev, spesiaal opgevlieg het van die Kaap af, om die nuweling te kom ontmoet. Tien jaar later het ʼn lieflike presentepakkie en hope liefde al die pad spesiaal van die Kaap af opgevlieg na die klein meisietjie toe.

En eintlik wil ʼn mens nie ophou om dankbaar te huil as jy eers begin tjank het nie – geen mens kan nié ontroer en tot trane beweeg wees, as tien jaar se opgehoopte stof tot dankbaarheid skielik weer oor jou spoel nie.

Na die hospitaal was dit die rit deur Pretoria se strate huis toe. 30km/uur. Niks meer nie.

Ek en Annieka was van die ou soort – ons het tot op sewe weke gewag voor ons die eerste keer met haar uit is – Dros toe, in Hatfield, onder die bome in die lieflike tuin.

Toe moet Mamma terug werk toe. Vir nege en jaar en nege maande dat Klaarskind soggens by Ouma-hulle afgelaai word – sommer so in haar pajamies, want ons stap soggens 07:00 al by die werk in.

Klaradyn was 2, op pad 3 toe, of was dit 3 op pad 4 toe, toe ons haar smiddaes by Tannie Karina begin optel het – eers twee middae ʼn week, toe meer. Wat ʼn mylpaal was dit nie vir ons gewees nie – ek en Annieka was seker by 20 kleuterskole gewees, nie net in die omgewing nie, maar in ʼn moewiese radius om die huis. En toe ons by Tannie Karina instap, toe weet ons, hier by hierdie vrou sal dit wees. En ons was nog nie een dag spyt nie.

En tussenin dit alles was daar nog die eerste probeer met vastekos, die eerste vastekos (ʼn goeie twee of drie maande later), die eerste kruip (saam met Pat en Ina by ʼn vakansieoord), die eerste treetjies (knap na die meisiekind se eerste verjaarsdag). Die eerste tand. Die eerste wisseltand.

Die ontdekking van die rooi Kersfeesvaderpak in ʼn boks.

Noodgedwonge die eerste jaar daarna toe Pappa nie meer nodig had om Kersvader se helpertjie te wees nie, maar Klaradyn nou vir hom kan instaan.

Die ontdekking van twee briefies die laaste 12 maande wat Klaradyn kleintyd vir die tandemuis geskryf het. (Grootword is nie maklik nie!)

Ek wil nie daaraan herinner word nie, maar ek onthou ook die mangeloperasie. Hoe oud was sy? Drie? Vier of vyf? Ek kan nie eers saam gaan tot waar hulle my kind narkose gee nie! Ek moet haar en haar brose gemoed vingeralleen los toe hulle haar wegstoot. Ék wat by was met haar geboorte en saam met haar ma by die hospitaal ingeboek was!

Ek onthou gelukkig ook die klein operasietjie saam met Dokter George. Hý het my saam met haar laat gaan, die narkotiseur het my selfs die maskertjie laat vashou. Dis mos hoe dit hoort met ʼn pappa se enigste dogtertjie!

Graad R. Graad 1. Graad 2. Graad 3. Die eerste eksamen, graad 4.

Die eerste seuntjie wat vir haar blomme gegee het, omdat hy wou.

Die eerste soveel baie ander.

En dan onthou ek my kind self. Klaradyn self. Nie die ander en die mylpale nie, Klaradyn en die liefde en geluk, die lekker en wonderlike voorreg wat iets soos kommer kan wees.

Wat ek onthou is te veel. En wat ek onthou, is nie wat saak maak nie, dis wat ek nié onthou nie wat saak maak:  Ek, en ek weet ek onthou en praat saam met Annieka, onthou nie een enkele teleurstelling nie. Een of twee skrikke, ja – maar nie ʼn enkele teleurstelling nie.

Dit was Hedwig wat ons destyds daarvan bewus gemaak het dat die dag op ons wag dat ons gaan agterkom ons kind is nie lelieblank nie, nie ʼn engelkind sonder foute is nie, en dat ons ook dit in die gesig sal moet staar, tromp-op, vierkantig.

Hoogstens enkele spatseltjies slightly off-white, far and in between. Ja. Miskien. Maar nie ʼn enkele teleurstelling nie. Nie in 10 jaar nie.

Mamma en Pappa is voorwaar geseën.

Ek wens ons kind, ek wens ons twee ouers self, ek wens ons al drie, Pappa-Mamma-en-Klaars, Pappa en Mamma en Klaars, nie ‘n soortgelyke 10 jaar toe nie, maar diesélfde 10 jaar as die pas afgelope 10 jaar.

Ons sê ook nie net geluk nie. Voor ons geluk sê, se ons dankie. En dankie en dankie en nogmaals dankie. Dankie.


25.8.14

Komkommertoebroodjies, ons manier

Met komkommertoebroodjies het ek die eerste keer te doen gekry op universiteit, 1984. Ons het ʼn vertaling van Oscar Wilde se drama, The Importance of being Ernest, op die planke gebring. In een van die tonele bedien Merriman (ek verbeel my dit was die karakter se naam) komkommertoebroodjies en tee.

Ag, siestog, en daar is die stomme mens wat Merriman speel (hoeka ook nie ʼn Merri-man nie, maar ʼn Merri-woman) alergies vir komkommers. Maar dit kom ons eers openingsaand agter toe die verhoogbestuurder en rekwisietemeester ons vir die eerste keer met haar tuisgemaakte komkommertoebroodjies bederf.

Onse Merriman gaan aan het nies, dis ʼn aardigheid. En toe sy eers die onbeheerbare niesings het, toe gaan sy ewe onbeheersd aan die giggel.

En dan is so ʼn giggel mos iets wat aansteeklik inwerk op al wat mens op dieselfde verhoog is.

Egter ook nie net die giggels wat in daardie produksie aansteeklik was nie – die grillings het by tye net so sterk die ronde gedoen. Veral hier teen die laaste aand van die speelvak.

Behalwe vir die komkommertoebroodjies en tee in een van die vroeë bedrywe, is daar nog koek en tee teen die einde ook. En na ons openingsaand in bedryf 1 so heerlik op komkommertoebroodjies trakteer is, kon ons nie wag om te sien, en te proe, waarmee die rekwisiete-vrou (dierbare Philippa en ook al in haar graf) in bedryf vier vorendag gaan kom nie.

O, en was dit nie aanskoulik nie – Philippa is al die pad Turkstra-bakkery toe (ja, hierdie speel alles op Potjiesdorp af) en het terug gekom met ʼn driedubbele sjokoladeroomkoek. Die ding moes ʼn fortuin gekos het. Dit móés, want ons mog nie ding opgeëet het nie.

Lady Bracknell was die enigste wat elke aand een happie kon neem – die res van ons moes sorg dat ons skyfies koek in die volgende dekorwisseling ongedeerd agtertoe gaan.

More-aand kry jy weer die vorige aand se skyfies koek.

Maar hier teen die einde van die speelvak was die room nie net al suur nie, die miere het die koek al dae gelede in die rekwisietekamertjie ontdek en hul intrek geneem.

So nou moes jy keer dat die ellendige miere vurklangs teen jou arms opklim.

Geld vir ʼn tweede koek was daar nie.

Skynbaar ook nie vir ʼn tweede bottel melk nie. Die melk wat uit die silwer melkbekertjie geskink is, het hier na die einde se kant toe in sulke kaserige dik hompe en bobbels in die porselein teekoppietjie geval.

Die plesier waarna ons aand een so uitgesien het, toe lankal nie meer ʼn plesier nie.

Selfs die komkommertoebroodjies het nie meer komkommer gehad nie, maar flou verlepte stukkies groen blaarslaai. Vir ʼn tweede nies- en giggelbui het die regisseur nie kans gesien nie en hy het sommer vroeg met die komkommer weggedoen.

Nie dat ons nie weer gegiggel het nie. Ek onthou byvoorbeeld toe die verhooglig se blou jelly (die raampie gekleurde sellofaan wat voor die ligte ingeskuif word om ʼn sekere ligeffek te verkry) een aand op my, Jack Worthing, se kop geval het.

Jack en Ernest was so van stryk gebring dat hulle letterlik in ʼn groef verval het – ons het ʼn groot gedeelte van die teks, trouens die grootste deel van een toneel, daardie aand drie keer na mekaar in ʼn sinnelose sirkel aan die gehoor voorgehou.

Verlede week se komkommertoebroodjies het hierdie stukkies onthou aan die vergetelheid ontruk. Want na 1984 se nieserige kennismaking, was verlede week die eerste keer dat komkommertoebroodjies weer my pad gekruis het.

Annieka is lief daarvoor om te sê dat ons graag 17 kinder sou wou hê, maar toe net 1 gekry het, 1 wat meisiekindalleen 17 kinders sterk is en 16 ander se skoene ook vol staan.

So kom sy die Donderdag by die huis en laat val dat Juffrou haar en twee maatjies gevra het vir ʼn item op die skool se jaarlikse English-evening.

Ons lees al van graad 0 af van hierdie English-evening in die skool se dagboek, maar wat dit is, weet ons nie – die aand is beperk vir leerders van graad 4 tot graad 7.

En Sussie is vanjaar eers in graad 4.

Dat die kind nou groot word, is duidelik – veral nadat sy vroeër by die huis gekom het met ʼn briefie wat lui:  “Sal jy saam met my English evening toe gaan?” En dit van ʼn knapie!

Juffrou se versoek is vir my aansienlik meer aanneemliker en ek stem dadelik in. Iets in Klaradyn se algehele gebrek aan dringendheid waarsku ons egter om te kyk waar vanjaar se English Evening in die dagboek aangeteken is.

Ook maar goed so want dis die eerskomende Woensdag. As hulle iets wil doen, moet dit more skool toe – die Juffrou moet goedkeur en hulle moet dit die naweek leer. Maandag kan ons werk aan bewegings, Dinsdag oefen en Woensdag die optrede.

Waar kry jy in een middag ʼn gepaste gedig vir graad 4 dogters om saam as ʼn item op ʼn English Evening te doen?

Ek gryp my eerste Engelse digbundel wat ek gekry het toe ek 7 was, maar al die gedigte is te lank. Ek gryp Klaradyn se eerste digbundel van 40 jaar later, maar almal is te kort.

Toe google ek maar, en oomblikke later hét ek ʼn werkbare gedig, te kostelik:

The Quarrel - by Maxine Kumin

Said a lightning bug to a firefly,
"Look at the lightning bugs fly by!"

"Silly dunce!" said the fly. "What bug ever flew?
Those are fireflies. And so are you."

"Bug!" cried the bug. "Fly!" cried the fly.
"Wait!" said a glow worm happening by.

"I'm a worm," squirmed the worm. "I glimmer all night.
You are worms, both of you. I know that I'm right."

"Fly!" cried the fly. "Worm!" cried the worm.
"Bug!" cried the bug. "I'm standing firm!"

Back and forth through the dark each shouted his word
Till their quarrel awakened the early bird.

"You three noisy things, you are all related,"
She said to the worm, and promptly ate it.

With a snap of her bill she finished the fly,
And the lightning bug was the last to die.

All glowers and glimmerers, there's a MORAL:
Shine if you must, but do not quarrel.

Ek verdeel dit in drie stemme en werk hier en daar ‘n stukkie koorspraak in.

Vrydag by die huis gekom, hoor ons Juffrou het klaar haar goedkeuring gegee, maar meer nog – en vandag se kinders moet nie onderskat word nie – Klaradyn ken reeds die gedig, nie net haar woorde nie, die hele gedig – hulle het dit in die twee pouses gou geleer.

Maandag-middag wil ek bewegings insit, maar dis te laat – hulle het sommer gou pouse bewegings uitgewerk. Wie is ek nou om te wil inmeng.

Dinsdag tweedepouse is dit kleedrepetisie.

En na skool moet ek hoor ek moet kos vir 10 mense maak. Hulle drie het glo ‘n tafel en tussen die drie an hulle is ons 10 gaste. Die een dek die tafel, die ander sorg vir drinkgoed en ons voed hulle. “But it has to be cucumber sandwiches.

Die dat ek toe maar gaan oplees oor die goed. En die eerste wat ek raaklees is dat dit saam met agtermiddag se tee bedien is omdat dit geensins vullend is nie. Jy kon komkommertoebroodjies eet dat dit ʼn aardigheid is, en steeds teen vanaand se kant ʼn eetlus hê.

En dit moet botter wees, nie margarien nie. En die komkommerskyfies moet 20 minute in ʼn vergiettes asemhaal en sweet maar nie dehidreer nie. En dit mag nie ure voor die tyd gemaak word nie – dit raak soggy. En dit moet liefs dadelik voorgesit word. En... En... En!

En toe my twee komkommers op is, het ek nog twee brode oor. En ek bel Annieka om  nog twee komkommers te bring. Maar ek bly nie by die tradisionele nie, ek bestel ook roomkaas en jogurt en doen iets wat die een meesterkok ophemel, maar ʼn ander vervreem – ek maak nie komkommertoebroodjies nie, maar smeerkaas-en-jogurtbroodjies met komkommer. Maar ek het vrede – ons moet iets substansieel hê om voor te sit. Die 10 het intussen 12 geword.

Dankie tog ons het uit die staanspoor gesê dat Mamma sommer kolwyntjies gaan koop – anders het ons nog kolwyntjies ook moes bak.

Pappa, Mamma en Klaars loop al drie twee keer motor toe met eetgoed vir 12 mense.

En toe ons in die kar sit, Mamma en Klaars met skinkborde en bakke op hul skote, by hul voete en gebalanseer op hul koppe, hoor ek:  “Die ander mense bring ook elk die een of ander soet en sout.”

Wat hulle toe ook doen – hoenderboudjies en koue vleisies en kasies en hope komkommerbroodjies. Die tafel kreun, daar is nie pakplek nie. Annieka bring nie eers die kolwyntjies te voorskyn nie – daar is genoeg vir ʼn weermag. En die 10 wat 12 geword het, word 14.

Maar dit was ʼn heerlike aand. Die broodjies was inderdaad effe soggy teen die einde van die program. Maar nie die ergste nie.  (Dalk was die meel net bitter omdat die muis so vol was, ek weet nie.)

Toe ons uitstap sit elke vrou met ʼn bord broodjies op die skoot. Ek laai dit by die vulstasie af en sê vir die joggies om te eet. Daar word heerlik laataandfees gevier.

Ons elkeen kom met ʼn lied in die hart by die huis aan. Klaradyn kwetter soos 17, ek het wonderlike heimwee terug universiteit toe. En Mamma wonder watter gedig volgende jaar aangepak kan word.





13.8.14

Vertrou my maar/dit belowe ek jou

Ek klim Sondagaand pens en pootjies (baie meer pens as pootjies) saam met Klaradyn in die bed. Ook nie net die twee van ons nie, maar drie. Eintlik vier. In ʼn enkelbed. Pappa en dogtertjie, ook Jasper (die regte egte hond) en Kamphond (die wollige speelding-hond).

Dit moet Klaradyn se English hour wees want sy haak af:  “I must be the happiest girl on earth - I am in the arms of my father, and in my arms I have my little Jasper.”

Ek wonder stilweg of sy die vaagste benul het dat sinnetjies soos daardie, hierdie pappa van haar die happy-ste man, nie on earth nie, maar sommer in die hele universe maak.

Ek wou dít op Facebook deel, maar toe voel dit te veel soos goedkoop spog, toe bêre ek dit vir hier waar minder mense lees. 

Toe bêre ek dit vir hier waar sy dit eendag sal kan lees. Dis immers waaroor hierdie geklets daar is – vir Klaradyn as sy eendag sou wonder en uitvra hoe dit was toe sy nog 'n kindertjie was en ek haar nie kan vertel nie - my kop het my verlaat, of ék die ondermaanse.

Ook om my, en Mamma, te help onthou.

Om ons ook te herinner aan iets wat ons almal die volste potensiaal het om eendag te vergeet, byvoorbeeld die storie van die perdeblom.

Nou as jy my moes vra, voor ek die storie van die perdeblom gekoop het om vir haar voor te lees, wat op aarde ʼn perdeblom is, sou ek jou nie kon antwoord nie.

ʼn Perdeblom, vir ingeval daar ander soos ek is wat nie weet nie, is hierdie klein geel blommetjies wat ons as bossie en onkruid leer ken. Aan die einde van die seisoen word hulle sulke spierwit sagte bolletjies wat in tientalle saadjies opbreek en dan in die lug wegsweef.

As kind is ek grootgemaak om baie versigtig vir die goed te wees – as een van daardie veerligte saadjies in jou oog beland, word jy blind. Seker ʼn ouvroustorie gewees, maar ek het daarvoor geval. (Nie dat dit my ooit gekeer het om nie die saadbondeltjies te pluk en in die wind weg te blaas nie.)

Klaradyn was seker so drie, miskien vier, toe ek met die storieboek van die perdeblom by die huis aankom. Dis deur die Duitse skrywer, Knister. In die oorspronklike Duits, verbeel ek my, kom die titel neer op iets soos “Vertrou my” of “Vertrou jy my.”

In Afrikaans is dit miskien uitgegee onder ʼn naam soos “ʼn Belofte is ʼn belofte” of “Die belofte”. Ek sal nie weet nie; ons praat almal van die boekie as “Die storie van die Perdeblom”, of sommer net “Perdeblom”.

In daardie symste bed waar ek en sy en Jasper Sondagaand geklim het, het ek en sy en die Perdeblom-boek destyds geklim sodat Pappa die nuwe slaaptydstorie kan lees.

En daar word die boek ʼn mylpaal in my kind se lewe.



Die storie het my in die winkel aangegryp, so ek lees met oorgawe en gevoel. En daar leef Klaradyn haar so in die storie dat sy, vir die eerste maal in haar lewe, toe ons die krisis van die storie nader, onbedaarlik, onbeheersd, totaal ontroosbaar, snot-en-trane begin tjank.

Asof in ʼn fliek. Maar net ʼn boek.

Dat so ʼn jong en klein sieletjie tot soveel empatie in staat was het ʼn diep, en blye, indruk op my gemaak.

Daarna het ons al weer baie, en baie lekker gehuil; in flieks, maar ook in boeke. Ontroosbaar.

Die boeke en flieks is die meeste nou al vergete. Maar die storie van die perdeblom het vas bly steek.

Gereeld ook dat een van ons drie, ʼn ander in die driemanskap van Pappa, Mamma en Klaars, sal konfronteer met die kern van die storie:  “Vertrou jy my” of “Vertrou my (alles sal regkom)



ʼn Goeie sewe jaar later soek ons toe ʼn storie vir die kunswedstryd se gedramatiseerde prosa. Ek soek iets wat sy uit haar hart en guts kan vertel, en ons al drie besluit, na ons by báie stories ingeloer het, eenparig op kleintyd se storie van die Perdeblom. Dit is immers nie net ʼn storie vir klein-klein kindertjies nie, dit sny temas aan wat op iemand se oudag nog ter sprake is.

Net 75% van die storie word met woorde vertel (party sal sê dis net 50%), die ontbrekende 25% (of 50%) is suiwer prentjies, so ons moes heelwat aanpassings maak en met woorde, stem en beweging tuisbring wat baie van die prentjies vertel het.



Ek het lank en wyd gesoek of die storie nie iewers aanlyn gelees en gekyk kan word nie, maar helaas nie. Hier is daarom ons verwerking vir die verhoog, nie naastenby so aangrypend soos die boek nie en beslis tweedebeste.

Baie diere slaap baie lank en baie diep in die winter. Dit is hulle winterslaap. Sodra die lente dan weer aanbreek, is dit tyd om wakker te word.

Bruno, die marmotjie, raak wakker uit sy lang, diep winterslaap. “O, maar ek voel lekker uitgerus en versterk. Laat ek sommer dadelik die wye wêreld daar buite gaan verken.”

Bruno loop en loop en loop tot hy stokflou is. Toe kruip hy uitgeput in ʼn holtetjie in die gras en maak sy ogies toe sodat hy eers ʼn bietjie kan rus.

En wát sal hy sien toe hy sy ogies weer oopmaak? Hier vlak voor hom, ampertjies teen sy snoet.
ʼn Blom. ʼn Wonderskone blom, ʼn goudgeel-soos-die-son, Perdeblom.

“Halo,” sê Bruno. Sy hartjie bons van blydskap.
“Halo,” sê Perdeblom, en sy skyn so geel soos die son.

Die twee is dolgelukkig en lag en speel. Dag, na dag, na dag.

“Vir my, Blommie, word jy elke dag net al mooier en mooier,” verklap Bruno een aand laat voor hy vlak teen Perdeblom se stammetjie gaan slaap. “Ek hou weer daarvan as jy so vrolik in die helder maanskyn rondspring en dans,” laat val Perdeblom, “en ek weet ook dat jy my altyd sal beskerm as ek slaap.”

Op ʼn dag lyk Perdeblom heeltemal anders, sy is nie meer haar ou vertroude goudgeel-soos-die-son nie, maar spierwit en donsig, ʼn veerligte bolletjie katoen amper.

Sy vra vir Bruno:  “Vertrou jy my, Broens?” 
“Natuurlik vertrou ek jou,”
antwoord Bruno verbaas. 
“Sal jy my altyd vertrou, al gebeur wat ook al?” vra Perdeblom weer.
“Ek sal jou altyd vertrou, al gebeur wat ook al,” belowe Bruno.
“Nou blaas dan so hard as wat jy kan. Ek belowe jou alles sal weer regkom.”

Toe blaas Bruno so hard as wat hy kan.

Maar iets vreesliks gebeur.  “Ag, wat het ek tog nou gedoen?”  Daar sweef wit en donsige Perdeblom se blom in een duisend sewe honderd ses en vyftig sagte spikkeltjies wit op die lug van Bruno weg.

“Maar sy het my tog belowe dat alles weer sal regkom. En ek het haar belowe dat ek haar vertrou! ʼn Belofte is ʼn belofte.”

Wat het Perdeblom tog bedoel toe sy gesê het: “Alles sal weer regkom.”

Toe die laaste sagte spikkeltjie wit ook verdwyn, sug Bruno diep en fluister saggies: “Sy het belowe.”

En toe loop hy maar alleen verder, deur die grote wye wêreld.  En, o, daar is so baie mooi dinge om te ontdek en te leer ken: skoenlappers, waterstroompies, die groenste groen grasvelde.  “O, ek wens ek kon vir my mooi perdeblom daarvan vertel.”  Hy wonder ook elke dag steeds oor haar belofte: “Wat het sy tog bedoel toe sy gesê het alles sal regkom?”

Toe dit herfs word, verlang hy so baie na sy blom, dat hy teruggaan na die plekkie waar hulle een keer so gelukkig saam was.  Bruno raak sommer baie vaak. “Dit is tyd,” dink hy, “om ʼn nessie vir my lang winterslaap te bou.”

Dis presies wat hy toe ook doen. Spoedig kruip hy in en maak sy ogies toe.  “ʼn Belofte is ʼn belofte,” dink hy oulaas, “en sy het belowe alles sal weer regkom...”

Hy sink weg in ʼn lang, diep, diepe lang slaap...

En wat sien Bruno toe hy na sy lang winterslaap weer wakker word en die slaap uit sy twee ogies vee?  Wat ʼn wonderlike gesig: Nie een nie, maar, so ver soos hy kan sien, een duisend sewe honderd ses en vyftig piksplinternuwe, wonderskone perdeblomme, goudgeel soos die son.


Hier kan die regte-egte storie aanlyn bestel word:  http://fantasi.co.za/?mbt_book=dit-belowe-ek-jou

6.8.14

Oor sosaties en sambokke

Ons het ons een jaar lelik vasgeloop rondom ʼn uitruilstudent uit een van die Europese lande waar rooivleis ʼn rariteit is – nie omdat almal vegetariërs of geloofsbeswaardes is nie, bloot oor dit so duur is.

Die kind toer toe vir drie weke met ons vleisvreters deur Namibië, Botswana, Zambië en Zimbabwe.

Saans beplan ons niks anders as braaivleis nie – ons het bees en bees en bees, en vir afwisseling nogmaals ʼn bietjie bees. Daar is die lekkerste sosaties en ʼn rits ander snitte en bewerkings – alles lugdig verpak en en vir duisende kilometers gevries.

En al waarteen ons gewaarsku word, is dit Mejuffrou nie rooivleis eet nie. Twee dae voor ons vertrek vaar ons die winkels in en koop drie weke se geblikte vis. Jy kan ook nou nie vir die mens 21 blikkies tuna koop nie, stomme mens. So ons foeter by al wat delikatessen in op soek na Duitse, Deense en dure Dietse blikkies haring en forel en makriel. Ag, siestog, en dan kan ons nie van die kind verwag om haar vis met mieliepap te eet nie – so daar is ʼn ander spul blikkies en pakkies en langlewe rogbrode en dinge óók in ʼn trommel in.

Eerste aand slaan ons nog diékant van die grens tent op. Daar word groot vuur gemaak en toe ons vra wat ons vir Mejuffrou moet uitkry, moet ons hoor sy sien kan vir een van die sosaties waarvan haar gasgesin-sussie haar so baie vertel het.

En daar ontwikkel die kind, in die bestek van een buitelugaandete onder die suidersterre ʼn sinnigheid in braaivleis.

Aand twee noem sy dat dag drie haar “visdag” sal wees (teen dié tyd praat sy al mooi Afrikaans). Dag drie het gekom en gegaan en dit was asof die laaste gevoel wat sy moontlik vir vis kon gehad het, weggeraap is die ewigheid in.

So ook dag vier en vyf en ses en sewe...

Week twee het ons agtermiddag begin vra watter vleis sy vanaand voor lus het, dat ons kan weet wat om uit te haal. En teen die einde van daardie week was ál die sosaties op.

Begin week drie, iewers in Zim, knoop ons toe ʼn spul ruiltransaksies aan en raak só van al die blikkies en goed ontslae.

En van toe af steur ek my nie veel aan ʼn uitlandse kos-geit of –gier nie – dis suiwer fiemies en basta met enige spesiale versoeke.

Maar net soos ons ons vasgeloop het deur ons te veel te steur, is die teendeel ook waar – jy kan die geite van jou laat afloop soos water van ʼn eend se rug. Maar wees gewaarsku daar ís iets soos die blinde sambok.

So ontvang ʼn kollega van my die kind saam met wie haar eie kind tydens haar studiejare oorsee studenteverblyf gedeel het.

Van allergieë en geite was daar, daar oorkant, vir vier jaar lank geen sprake nie. Die kind het ʼn kerngesonde eetlus en eetpatroon daarby.

Maar toe Mejuffrou na vyf jaar (beide van hulle het nou al amper ʼn jaar se werk agter die rug) in sonnige Suid-Afrika waar die leeus en die olifante in die strate rondloop, kom kuier, het sy ʼn skielike ding met gluten.

Nee, sy kom niks daarvan oor nie, sy het geen allergie of iéts nie, sy eet uit die bloute net geen styselrigheid of greintjie gluten onder die son nie. Nie brood, pasta, ertappels, pasteie, koeksisters of enige sousie wat met mielieblom of so iets verdik is nie.

O, aarde, en sy kom neem haar intrek in ʼn no-nonsense huis. Besige mense waar laat ingekom en kos gemaak moet word.

En nou met special needs. Na ʼn week weet die ma  nie meer wát om te maak nie – uithang gaan sy waaragtig nie die hele duur van die besoek nie, maar afsteek gaan sy waaragtig ook nie.

Week twee is sy in ʼn nuwe roetine – in plaas daarvan om na skool te bly en haar werk eers af te handel, jaag sy saam klokslag 14:00 saam met die klok en die kinders hier uit.

Nie hieroor of daaroor nie – om te gaan kosmaak terwyl die twee maats nog nie by die huis is nie. Op dié manier is daar nie helpende hande en nuuskierige ogies in die kombuis as sy roer met die aandete nie. Só kan haar hand ook plek-plek gly-gly met ʼn glutentjie hier, ʼn verbloemde styseltjie of gekamoefleerde granerigheidjie daar.

Volgende oomblik storm sy benoud by my in:  “Het jy dan nie iewers vir my ʼn pampoenkiekieresep sonder meel nie!”

Kom dit uit dat sy die naweek terwyl hulle die oggend strate toe was, gou ʼn baksel outydse, Boerse, pampoenkoekies saamgeslaan het.

En daar is die kind gaande daaroor. Dis nog nie eers weer halfpad naweek toe nie en sy moes intussen, op spesiale versoek, nou al weer twéé keer van daardie lekker pumpkin fritters maak.

En nou soek die kind die resep – nie met bobotie of enige van die ander Suid-Afrikaanse dissse wat haar gasvrou so glutenvry opgetoor het, dat sy haar mense daar oorkant wil beïndruk nie. Nee – met die pampoenkoekies, bruinsuiker en kaneel.

Sy soek nie net die resep nie, om seker te maak dat dinge daar oorkant flatervry verloop as sý dit die dag vir haar mense maak,  soek sy ʼn oefenlopie, hier ter plaatse voor sy eersdaags op die vliegtuig klim en koers kry huis toe.

Nou kan ek my geensins ʼn pampoenkoekie sonder meel voorstel nie; aan die anderkant laat ek my nie vertel dat die Amerikaners wat so verbeeldingryk met ʼn nederige pampoen kan omgaan, nog nie ʼn meelvrye iets uit sou gedink het nie.

Ons google daar en dan, “gluten free pumpkin fritters” en “flourless pumpkin ietsie-anders-wat-ek-nie-nou-onthou-nie.”

Kortvoorlank sit ons met iets wat ʼn sterk Suid-Afrikaanse geur en gevoel sal kry as jy net eers die kaneelsuiker deeglik ingespan het.

Maar lees ek die ingrediënte so, weet ek nie so mooi nie. Ek kan so op sigwaarde sê dit soos plaatkoekies gaan uitkom. Ás hulle gelukkig is en die hele spul nie die ganse bodem van die pan eerder soos ʼn pannekoek betrek nie.

En daar;s nie veel wat jy kan doen nie – dis óf minder pampoen (wat nie sal deug nie) óf meer eier (wat net so min, indien nie minder nie, sal deug).

Resep in die hand is sy daar uit, maar ek hoor hoe sy haar dogter bel en dié die dood voor die oë sweer as hulle agtermiddag daar opdaag voordat sy nie klaar het met die pampoenkoekies nie. Daar is nie ʼn manier dat hulle dit saam in ʼn toetskombuis gaan maak nie. Iets moet voorval dat ons tuiskok en haar leerling nie saam in die huis is nie.

Hulle moet dan maar so uit die kombuise Skype as die kind net eers weer daar anderkant is. Wie, weet, dan kry hulle aan hierdie kant dan nog straks die meel  ingewerk sónder dat die buitelandse oë enigsins snuf in die neus kry.

Ai, siestog, die hele storie sou seker snaaks kon wees, ás dit nie was dat die stomme kind so opgewonde was oor dié ellendige pampoenkoekies waaraan sy haar hier by ons so kaduks geëet het nie. Maar die passievolle jong kind, wat alles wat sy aanpak met oorgawe en ongekende entoesiasme doen, het nou al twee keer daar oorkant pampoenkoekies gebak.

En nie om te oefen en te kyk hoe dit werk voor sy dit vir mense voorsit nie, nee, elke keer met ʼn huis vol mense wat die verrigtinge met honger oë dophou en volg.

Vra ons maar, want ons weet – elke keer is dit selfone en kameras waar jy kyk – om die groot spog af te neem.

Ag, siestog, elke keer is dit natuurlik ʼn klaaglike mislukking – elke plaatkoekierige kwasi-pannekoek-floppie word omtrent uit ses hoeke afgeneem en dadelik deurgestuur Suid-Afrika toe dat die kenners hier kan kyk wat dan met Ouma se beproefde resep verkeerd kon geloop het en sommer dadelik weer raad stuur.

Twee keer het sy nou al teleurgesteld gevra of hulle seker is dat sy die regte resep het, want haar goedjies herinner geensins aan die poffertjies in die verre suide nie.

En twee keer antwoord hierdie kant heel instemmend.

Dit help ook nie hulle ontdek ʼn ingrediënt wat per toeval – kan jy glo – op die resep uitgelaat is nie, want al wat dit kan wees, is meel.

Of is daar dalk iemand wat kan help met iets anders as meel, of kapokertappel, of rysmeel, want nie een van dié drie sal deug nie.


5.8.14

Nooit weer nie, nooit-ooit

Dis regtig nie lekker om eerste ding, elke oggend van jou lewe, met gedagtes rondom “nooit, ooit weer nie” te moet begin nie.

En met my is dit seker nou al ses maande presies hoe dit is.

Ek voorsien ook nie dat dit gaan verander nie. Nooit ooit nie.

Gelukkig is dit nie verganklikheidsgedagtes rondom goeters soos die dood nie; eintlik bloot net variasies op een enkele woord:  “Nooit!” Nie doodnegatief nie, maar gagga-negatief genoeg.

En vir iemand met ʼn brein soos myne, het ek smorens net ʼn woord soos “nooit” nodig en my gedagtes loop met my hol agter al die ander nooit-ooite in my lewe aan.

Ek het vrede met al die oorlye mense, selfs die naastes soos oorle’ Hans en Judy, Ouma van Wyk en Tannie Anne. Daar is niks wat ek nog vir een sou wou sê of doen wat my soggens voor die badkamerspieël, terwyl ek tande borsel, besig sal hou nie.

Maar Oom Ben en ʼn gans ander Tannie Anne as my ma se sus, Tannie Anne, is geheel en al in ʼn ander klas. Hulle is soos ʼn ertjie onder vyftig matrasse. En dan weet ek nie eers of dit ooit Oom Ben en Tannie Anne was nie, is nie, moes wees nie. Ek en my broer sien mekaar hoogstens een keer in twee jaar, en die laaste vier kere al het ek hom nog elke keer met hierdie Oom Ben en Tannie Anne konfronteer.

Tannie Anne, hulle het iewers in Durban gebly. (Die “Bluff”? Daar is mos ʼn plek soos “The Bluff”, is daar nie?) Een jaar het sy vir my vir Kersfees seker ʼn stuk of vyftien of meer leesboekies gestuur. Ek praat van sowat veertig jaar gelede. Drie of vier daarvan het sulke gunstelinge geword, dat ek dit steeds het; ʼn ander, dat ek dit steeds onthou. Dis in Klaradyn se boekrak – ons bewaar dit soos goud.

Daar was Suid-Wes-parkiete in hok vlak teen die motorhek. En leiklip vloere. Frangipani en alles tipies Natal. Geil, groen, welig, humied, drukkend.

Dit was (miskien) familie van my pa. Die tannie had goud in haar tande en het gerook. Die oom het gedrink. En al het hulle Afrikaans gepraat, was hulle Engels. Óf die tannie had ʼn “husky voice”, óf die oom had ʼn rasperstem. Ek weet waar het die yskas gestaan, hoe die tuinpaadjie gelyk het, selfs hoe die parkiete in die hok opgelyn gesit het...

Maar ek weet nie eers of dit ʼn Anne en ʼn Ben was nie. Dreyer, verbeel ek my.

En my broer weet nie eers van wie ek praat nie.

Ma Judy is dood en sou seker die laaste tien jaar van haal lewe nie meer geweet het van wie ek praat nie. Pa is al jare voor haar tot stof.

My eerste herinnering aan ʼn “Game”-kettingwinkel, ek onthou dit asof dit gister was, hou verband met die vakansie dat ek, Ma en Pa by, noem hulle dan maar Oom Ben en Tannie Anne Dreyer, gekuier het.

Vandat my gedagtes soggens so in die “nooit-ooit” gewerp word, dink ek seker twee keer ʼn week opnuut aan hulle:  “Ek sal nooit-ooit weet wie hulle was, waar hulle vandaan gekom, of wat hulle in my lewe gesoek het nie.” Die enigste rede waarom ek hul nog lewendig in my het, is die kinderboekies op my kind se rak. Dis al.

En so spring ek dan van die een nooit-ooit na die volgende nimmer-as-te-nimmerste nooit-ooit-nooit nie. Byvoorbeeld springboklewer en uie, op ʼn regte, egte skottelskaar, in die veld, dis winter saam met Oom Kobus op sy plaas; op ʼn bankie voor Rembrandt se Joodse Bruidjie, of Van Gogh se slaapkamer; kaartspeel, in die aand, onder die bome, in die destydse karavaanpark oorkant Warmbad se warmbad. For that matter, nooit ooit weer matzos met botter en sout saam met tee in die Warmbad-hotel se sitkamer nie – die hotel en sy poeierblou interieur is al jare afgebreek

Rembrandt en Van Gogh, Breughel en Giotto en al die ander outjies soos hulle, is natuurlik nie een honderd en tien persent finaal verby nie. Daar is ʼn nul-komma-nul-nul-nul-één-kans. Maar nie sommer nie.

Teen daardie tyd van die oggend, my tande nou net klaar geborsel, het al die finaliteitsgedagtes my al so negatief gestem vir die res van die dag, dat ek die nul-komma-trippel-nul-een-kans nie eers registreer nie.

En dit alles omdat die buurmaatjies, ʼn tweeling – Hannes en Wikus, se ouma (maar of dit nou Oom Zed, of Tannie Rhona se ma was, sal ek nie weet nie) iewers rondom 1969 Europa toe gegaan het. Vir die twee seuns het sy plastiek woer-woere teruggebring. Dit had ingeboude liggies wat aangaan as die goed ordentlik begin spoed optel. Suiwer toorkuns vir ʼn klein seuntjie. Daardie jare. Vandag, verbeel ek my, is dit algemeen.

En dan het sy ook gebring – maar nie ʼn speelding vir een van die seuns nie, eerder iets vir die hele gesin – ʼn kontrepsietjie met drie onderdele waarin jy die onderkant van die destydse lood-tandepastabuisies staangemaak het. Hierdie kontrepsietjie het dan jou lood-tandepastabuisie, soos jy keer na keer tandepasta gebruik het, mooi netjies in sy magie opgerol. Niks tandepasta het in die buisie se stert agtergebly nie en die buisie het netjies en in plek gebly.

As die woer-woere met hul ingeboude liggies destyds vir hierdie jong seuntjie suiwer toorkuns was, weet ek nie wat hierdie toothpaste dispenser was nie. Magic, met ʼn hoofletter –M. Nee, MAGIC, in hoofletter gespel. Miskien eerder on-ge-fokken-looflik – maar daardie jare was so ʼn sterk woord nie deel van my verwysingsraamwerk nie.



Ek kan dit, vandag nog, niks anders as ʼn toothpaste dispenser noem nie – dis nie iets wat in Suid-Afrika bestaan, gekry en gekoop kan word nie, dis nie iets wat in Afrikaans ʼn naam het nie.


Ek onthou dat ek, speel ek by die bure, gaan piepie het – nie om te piepie nie, maar om te kyk hoe die tandepastabuisie ingekatrol en korter word.


Dis natuurlik vandag geen geheim nie, as ek en Annieka ooit in ʼn skeihof beland, sal dit nie oor ʼn derde party of die een of ander onversoenbare persoonlikheidsverskil of ding wees nie, maar oor ʼn tandepatabuisie. Nee, ʼn tande-fokken-pasta-fokkense-buisie.

Sy het vir ʼn tandepastabuisie en hoe daar met ʼn tandepastabuisie omgegaan moet word, geen, maar geen respek nie. Dis ʼn blog-inskrywing op sy eie, dit wás trouens al, en ek gaan nie nou ons vuil wasgoed in die openbaar uithang vir almal om te sien nie.

Vir die eerste veertien jaar van ons huwelik was ons totaal uiteenlopende omgang met tandepastabuisies nie so ʼn wesenlike probleem nie – sy het hare gehad, en ek myne, langs mekaar in die badkamer.

Want in 1994 toe ek by Annieka-hulle aan huis begin kom, spoor my oog, vir die eerste keer na meer as dertig jaar, weer so ʼn porselein toothpaste dispenser op.


Annieka se tannie was jare tevore Europa toe en het vir haar familie van die goed ingebring.

Daar is duidelik meer mense as net ek wat oor tandepastabuisies se versorging voel soos ek. Waarom anders sal hulle sulke goed opkoop en die land inbring as hulle in die vreemde is.

Dié betrokke tandepata-kontrepsie het my nog nooit laat wonder oor enige moontlike bymotiewe waarom ek Annieka getrou het nie, maar laat ek eerlik wees – dit het heimlik ʼn baie groot rol gespeel in die keuse van ons destydse huwelikskontrak:  binne gemeenskap van goedere, daar buite, of met aanwas van goedere.

Ek het die ding al een keer, en dit het ons bootjie gevaarlik na aan die rotse gehad, uit die asblik moes red.

Kan jy glo – in een van haar akute spring cleaning aanvalle bliksem sy die ding, sonder om nugter te dink, mooitjies in die asblik. Ek spoor hom, uit en deur suiwer genade alleen, op toe ek iets in die buitenste groot asblik gaan gooi.

Dit was gelukkig nie ʼn maand nie, toe praat ons weer met mekaar en deel ons van nuuts af aan dieselfde slaapkamer en bed.

En toe, ses maande gelede, kom ek agter die eenvoudige stukkie ding werk nie meer so goed soos hy al die jare gewerk het nie.

ʼn Oomblik se ondersoek het my by die rede – ʼn onderdeel is soek.

En ek soek en soek, op my knieë, in die badkamerkas se diepste hoekies waar geen mens in jare was nie. Maar verniet – die onderdeel is nie net soek nie, dis weg.

Ek sal dit nie wees nie – ek pas die ding soos goud op.

Maar tussen Annieka en Martha is enige iets moontlik. Annieka het net ʼn effense bevlieging en die ding is asblik toe omdat sy nie hou van hoe ding lyk nie. Martha kon die onderdeel gesien het en nie geweet het wat dit is nie, sy kon gereken het dit hoort nie in ʼn badkamer nie en het dit weggegooi.

Ja, as die tandepasta nou sy gat gesien het en die buisie heeltemal ingekatrol was dat net sy kop uitsteek, is daar mos nog ʼn dag of twee se tandepasta in die buis se nek en keel oor. Iemand soos Annieka het haar buisie dan al lankal eenkant gelos en ʼn nuwe oopgemaak; nie ek nie.

Dis dan wanneer ek die buisie teen die spieël plat- en gladstryk met die steel van die tandeborsel. (Daarom ook dat ek nooit ʼn tandeborsel vervang as die hare uitgewerk is nie – lank voor die hare uitgewerk is, het ek die steel al teen die spieël op een van die gladgestrykte tandepastabuisies afgebreek en moet hy vervang word.)

Dit is wat moes gebeur het – die tandepasta was 99, 99999999% klaar opgebruik en ek moes die buisie uit die kontrepsie gehaal het om die laaste oggend se tandepasta met die steelkant van die borsel uit te kry.

Iemand moes die onderdeel vir ʼn stukkie gemors aangesien het en dit weggegooi het.

My broer bel my ʼn week gelede in die klas. Ek skrik, want hy sal nooit in klastyd bel nie – dit moet dood wees.

Maar dit is nie. Hy het vergeet om te sê hulle gaan Europa toe, is daar iets wat ek nodig het.

Op daardie oomblik weet ek daar is iets wat ek wil vra, maar verniet of ek kan onthou. Ek onthou ek het die laaste dag of wat gedink dat al hoe ek aan wat ek soek, gaan kom, is as iemand dit vir my van oorkant die waters bring.

Maar verniet of ek kan onthou wat dit was.

Dis eers die volgende oggend, terwyl ek tande borsel natuurlik, dat ek onthou – ek moes gevra het dat hy op die uitkyk moet wees vir ʼn tandepastabuisiebewerker – in ʼn Suid-Afrikaanse winkel het ek dit in amper vyftig jaar nog nooit gesien nie. Hoe kan ek so onnosel wees om te wil staan en vergeet.

Ek kan met die wonderlikste lied in my hart en die beste, korrekste voet denkbaar, uit die bed opstaan, maar eindig ek deesdae voor die wasbak by tandeborsel op, dan bederf my dag. Nie oor ek moet sukkel met die buisie nie –  ek laat my nie ore aansit deur ʼn tandepastabuisie nie, ek sit hóm ore aan – maar oor ek keer op keer weer daaraan dink dat ek “nooit ooit weer” my kontrepsie kan gebruik nie.

En dan verval ek in al die ander nooit-ooits van my lewe, sleep ek my voete verder en verander die melodie in my hart in ʼn treurmare met ʼn dodemarspas.