Pages

17.4.12

Geboorte- en ander dae

April was my lewe lank nog altyd ‘n maand met blye vierdae. Ek en Annieka het op 7 April getrou; Annieka is op 10 April gebore.
Dan is daar ‘n hele rits ander verjaarsdae:  Annieka se boetie, Erik, en saam met hom, Leanie.
Ook, uit my kinderdae: Tannie Susan (my ma se beste vriendin), Tannie Hazel (my broer se skoonma), Tannie Marthie (my beste skoolvriend, Riaan, se ma).
Natuurlik onthou ek nie meer die datums nie – dit was almal in een week, iets soos 9, 12 en 14. Maar Tannie Marthie, een van my baie ander mammas, (dis na haar huis wat ek gehardloop het die oggend toe ek hoor my ouers gaan skei) is in 1988 begrawe toe ek in die weermag en duisende kilometers ver weg was. Kanker het Tannie Susan (dis by hulle in die buitekamer wat ons ruk lank gebly het na ons uit die huis is) se lewe geneem. En Tannie Hazel (dis sy wat my aan Enid Blyton bekend gestel het – en so my hele lewe lewenslank verander en verryk het) is nou die ander dag, seker so vyf of ses of sewe jaar gelede, oorlede.
En dan 21 April, die belangrikste van hulle almal, Judy.
Wat dan nou ook vanjaar, vir die eerste keer, ‘n stil verjaarsdag gaan wees.
Ek is nog al die pad van 1 April af ‘n April-gek wat kort-kort vir elke bakatel aan het grens gaan.
Soos Vrydag, toe ek ‘n groot bottel Vanilla-essens koop om my leë bottel vanilla-essens mee op te vul.
Ek het mos so ‘n das van my pa, sy troudas. Die ding val letterlik al gate in, maar dis vir my heerlik om hierdie ding uit die jare veertig of vyftig van die vorige eeu uit die kas te ruk en skool toe te dra. Vreemd hoe die modes daardie jare was – die ding is so kort, maak nie saak hoe ek dit knoop nie; dit kom nie eens naby my naeltjie uit nie.
En soos my pa se das, het die vanilla-essens se bottel geword.
Ek het hom uit hulle kas geneem, ses of sewe of agt jaar gelede toe hulle uit die huis, ouetehuis se versorgingseenheid toe is.
Hoe vergeet enige kind die eerste keer wat hy, op sy knieë op die koskas of werksblad, vir die soveelste keer sy ma vra of hy dan maar tog aan die vanilla-essens wat so lekker ruik en die kos so lekker laat smaak, kan proe nie, en sy ma hom, wel wetend wat wag, laat proe?
Ek onthou dit soos gister. Dit moes voor 1970 gewees het.
Klaradyn onthou dit soos gister. Ons praat daarvan elke keer as ons met vanilla-essens werk.
En toe is ons vanilla-essens, Judy se vanilla-essens, so ‘n jaar of wat gelede op.
Maar ons het nog in die huis een van hierdie klein botteltjies, uit die dae voor ons Judy se bottel gekry het, en ek maak dit leeg in Judy se bottel.
Op hierdie bottel word nog Afrikaans gepraat.
Dit verbaas my dat die goed nie verslaan het nie; die prys op die bottel is net meer as R1-00.
En elke keer, wat nie te gereeld is nie, gebruik ek en Klaradyn vanilla-essens, dan loop my gedagtes ver en lekker en mooi paaie.
Maar toe is die laaste druppeltjie van ons eie essens in die groot bottel ook op, en ek bêre die bottel met sy hele lewe van herinneringe liefderyk heel agter in die kas. Ek bêre hom nie, ek steek hom weg; ek wil kyk of daar nog sulke groot bottels in die handel beskikbaar is, om Judy se bottel te vul. Dan is dit Judy se vanilla-essens-bottel, Ouma van Wyk se kaneelsuikerstrooier, Ouma Moolman se slaai- en mengbakke en Hans se biltongkerwer. (En Hans se das, maar ons kuier nou in die kombuis saam met die voorgeslagte.)
Annieka het huis vol mense vir haar verjaarsdag en ek weet haar poeding vra om ‘n halwe teelepel vanilla-essens.
En ek is gelukkig – teen meer as 30 maal die vorige een se prys, en nou slegs in Engels, kry ek ‘n hervul vir ons vanilla-essens-bottel van Judy.
Na ek my dood uit- en aandra van die pakkies – ‘n enkele verjaarsdagete (en geensins overdadig nie) se aankope is deesdae twee keer die prys as die eerste maand se groceries wat ek en Annieka in 2000 gekoop het – los ek alles net so op die rak en kry die dure bottel vanilla-essens uit.
Maar ek het die leë bottel nie goed genoeg weggesteek nie – dis ‘n week gelede, toe ledige niksdoen-vakansiehande en –vingers deur die kas gegaan het, weggegooi.
Dis meer as 40 jaar dat ek nie met vanilla-essens kan werk sonder dat ek nie elke keer opnuut weer in die gedagtes pens en pootjies op die werksoppervlakte langs die klitser sit nie, presies soos ek Klaradyn dit nou nog steeds sien doen.
En vir die volgende 40 jaar (mog ek so lank vasbyt) sal daar nou ook ‘n ruk deur my gemoed trek as ek sommer nog net lees dat die resep vanilla-essens vra.
Ai, en toe gaan ek gister kitsbank toe om myself nog dieper in die rooi te kry ten einde kos op die tafel te hê – en daar is my saldo oornag, skielik sestien maal meer batig as wat dit die vorige dag oortrokke was!
Dat 83 jaar, sy sou Vrydag 84 wees, se spaarsamig leef, 83 jaar se sente omdraai en jouself indoen ter wille van jou kinders, ten koste van jouself, ‘n mens by dít moet uitbring! Dat ‘n leeftyd jou moet reduseer tot ‘n bankbalans ‘n week voor jou 84’ste verjaarsdag.
Ek moes myself, doelloos op en af tussen die rye en gange kruideniersware, daaraan herinner dat ons ouers se nalatenskap veel meer is as ‘n batige saldo.
Maar dit was nie maklik of lekker nie.
En die kassiere, met wie ek altyd so lekker gesels, het sommer gesien om nie eers te poog om ‘n geselsie met die oom aan te knoop nie.


Ai, en dan kry ek nou al lag vir myself: Ek en Klaradyn verjaar 5 dae uit mekaar, en iewers tussen daardie vyf dae het Judy haar laaste asem roggelend uitgeblaas. Gelukkig kan ek nie onthou wanneer nie, weet ek nie wanneer nie, en stel ek ook nie belang om uit te vind wanneer nie.
Ek weet nie wie gaan vanjaar Klaradyn se cup cakes bak nie, want dit sal nie ek wees nie, en Pa se das gaan ek einde Augustus / begin September beslis ook nie dra nie.

1 comment:

Freda Coetzee (Spang) said...

Ek ken glad nie vir Judy nie, maar Vanilla-essence sal vir my ook nie weer dieselfde wees nie. Nie oor HAAR bottel nie, maar oor JOU bottel - die een wat nou nie meer is nie. En oor jou lee hart...