Ek dra die laaste ruk so lekker aan my 1982-prefekdas. Vandag weer.
Iemand vra vanoggend of dit ‘n PUK-das is. Ek antwoord: “Nee, selfs nog ouer – skooldas; Hoërskool
Alberton.”
Die das is in my matriekjaar van my afgeneem – amper soos
weermagoffisiere wat oneervol ontslaan word. Hulle word glo op die paradegrond
staangemaak en dan word hulle ten aanskoue van almal van hul ken- en rangtekens
gestroop. Daar is ‘n woord daarvoor, amper soos kastreer. Maar nie kastreer
nie.
Miskien is dit ‘n mite. Ek weet nie.
Toe doen ek ʼn internetsoektog na
die woorde “oneervolle ontslag weermag” en kom inderdaad dadelik op die woord
af – kasseer / kassering.
Dis nog erger as wat ek gedink
het. Die koerantberig uit 2007 (dis duidelik nie net iets uit die dae van die
Apartheidsregime nie) noem onder andere die volgende: “Kassering word as die mees vernederende wyse
van oneervolle ontslag uit die weermag beskou.”
ʼn Entjie verder vertel die joernalis ook van ʼn man se range wat met ʼn seremoniële swaard van sy klere afgesny word. Dis nou nadat hy geboei aangejaag is paradegrond toe. Dan word jy uit jou uniform gehelp en tot op die grense van die weermagbasis marsjeer. Van daar moet jy koers kies.
ʼn Entjie verder vertel die joernalis ook van ʼn man se range wat met ʼn seremoniële swaard van sy klere afgesny word. Dis nou nadat hy geboei aangejaag is paradegrond toe. Dan word jy uit jou uniform gehelp en tot op die grense van die weermagbasis marsjeer. Van daar moet jy koers kies.
Dink ek aan die swaard en die
feit dat jy uit jou klere gehelp word, verstaan ek waarom daar net ʼn –r tussen
kasseer en kastreer staan. En ja, dit is inderdaad wat, in afgewaterde formaat,
in my matriekjaar met sommige van ons prefekte gebeur het.
Ons had ’82 besoek van ‘n Japannese rugbyspan. Die prefekte moes toe
die agtermiddag in die geselskap van die toerspan-rugbyspelers deurbring.
En daar ruil ons toe links en regs skoolwapens en –balkies en dinge
uit.
Ek kan nou nie meer onthou of ek my prefekbalkie, gewone balkie of
prefekdas geruil het vir ‘n das of ding uit die Verre Ooste nie, maar geruil
het ek geruil. Dalk was dit Sjinese, maar ek twyfel – Verwoerd, Vorster en
Botha kon tog nie daardie jare sulke wafferse diplomatieke bande met Sjina
gehad het nie, nie soos vandag met Mbeki en Zuma se generasie die geval is nie.
Ewenwel, ons ruil te lekker allerhande keep sakes uit. Eet koek en drink koeldrank.
En die volgende dag, toe is die hel los. Meneer en Juffrou Snyman,
verbeel ek my was die prefekvoogde. Ons is uitgekryt oor ons dislojaliteit
teenoor die skoolwapen en word inderdaad ‘n ruk lank kamma-kamma van ons prefekskap
gestroop. Of so gedreig dat ek dit in my brose kindergemoed as volskaalse kassering onthou.
Einste das wat destyds in die gedrang gekom het, strop nou om my nek
soos ek hier sit en tik.
Nie hieroor of daaroor nie, maar oordat ek, om tot op hierdie punt te
kom, twee verkeerde dinge gedoen het. Eerstens het ek myself in ‘n huwelik in
laat bind. En dan het ek, nadat ek die fout gemaak het om te begin rook, die
veel groter oortreding begaan om op te hou rook.
Dan is dit nog ʼn kwessie van geloof ook.
Ek het mos my lewe lank geglo ʼn man dra net een van twee hemde werk toe
– ʼn witte, saam met blou en swart broeke, of ʼn ligte roomwittes, saam met alle
skakerings van bruin broeke.
Hoe jy voel, in welke bui jy is, wat in jou lewe aangaan, waar jy
gisteraand was en hoe laat jy by die huis gekom het, ál daardie dinge word deur
jou das kommunikeer.
Gevolglik het ek baie dasse, uiteenlopende dasse, uitspattige dasse,
gedempte dassie, doodsdasse, los-my-uit-dasse, partytjiedasse, verspotte
dasse... Selfs ligloop-dasse en een wat groot en duidelik “HELP ME” uitspel. Noem
maar op, ek het hom.
Voor ek in my eerste pos ingestap het, Januarie 1988, sit ons af Burger
Broers in Johannesburg toe. Die beginneronderwyser skaf twee ligte somerspakke
aan. ʼn Stemmige gryse, en ʼn donkerbloue met ʼn fyn wit penstrepie in. Wit
dashemde. En twee paisely
dasse.
Die een het ek nou nog steeds. Altyd lekker en met ʼn stewige skeut
nostalgie as ek hom die dag om my nek bind.
Genoegsaam om te sê dat die ander een in die wasmasjien beland en
onherstelbaar beskadig anderkant uitgekom het.
Lang storie met twee kante – myne en Annieka sʼn. Die een hou verband
met klere wat op die grond gegooi word; die ander met mense wat ander mense se
goed nie uitlos nie en funksionele hopies klere net so wasgoedbalie toe stuur,
sonder om eers te kyk wat dit alles is. En sonder om die sakke deur te gaan
(maar dis ʼn ander storie vir anderdag).
Ek het selfs nog my oorlede pappie se troudas. Dit dateer uit die vroeë
jare vyftig van die vorige eeu. Die ding val al gate in en dit maak nie saak
hóé ek hom knoop nie, die onderste punt kom nooit eers naby my naeltjie uit
nie. Maar, o, dis ʼn lekkerte om hom die dag aan te trek skool toe.
Hierdie vintage bykomstigheid uit Hans Moolman senior se klerekas is
self verlede jaar deur die was. Hierdie keer ʼn misverstand tussen my en die
huisbediende. Maar ek het hom eiehandig herstel en nog blinker gestryk as wat
hy reeds geblink het.
Toe kry ek mos in ʼn stadium ʼn vrou in my lewe.
En soos dit mos nou maar een maal met vrouens is, begin sy toe getrou
aan hul aard aan my aard totter verander:
“Kyk hierdie mooi vlootblou hemp wat ek vir jou vir skool gekoop het –
ek weet nie wát dit met jou en al die wit en beige hemde is nie!”
Haai mense, en daar het nie net die vismotte nie, maar ook ek,
donkerbrille nodig as ons voor my klerekas staan. Die vlootblou is spoedig
uitgebrei en aangevul met ʼn rype verskeidenheid ander bloue, kanariegeel,
borrie, mosterd, donkie, grys, swart, skarlaken, pruim... Daar is nie ʼn kleur op die kleurwiel nie, of ek het
hom.
My dasversameling brei met rasse skrede uit. Dis immers meer as net
swart, bruin en blou wat nou my broeke op wit of roomwit aan die hand van my
das moet komplementeer.
Party mans raak mos maar moeilik van sekere goed ontslae. Ek is een van
hulle. Maar oor die jare heen raak ek, met die uitsondering van die reeds
genoemde troudas en so twee of drie ander, van al my pa en Oom Chappie se
geërfde dasse ontslae.
Oom Chappie, my oorle’ ma se oorlye suster se oorlede man, én my pa
sterf beide in 1978. Van Pa erf ek genadiglik net ʼn paar dasse; Oom Chappie se dasse
en, van alle dinge, ʼn sestal nagelate onderbroeke vind inderdaad ook hul weg na
my kas toe – sulke dik wollige Elmar-onderbroeke wat aan Skotse tartan
herinner! Dit was 1978, kouse is nog in die kringe waarin ek my verstand gekry
het, gestop as hulle gate ingekry het, die goed is beslis nie weggegooi nie;
nie vir gate nie en allermins ook nie as die eienaar sou besluit om af te sterf
nie.
Behalwe dat mense daardie jare nie goed weggegooi het nie, is alles nog
gebou en gemaak om te hou – van huwelike tot Toyoya-bakkies. En wollige
winterstof Elmar-onderbroeke daarby.
Nodeloos om te sê dat ek vyf, nee, ek lieg, sés, jaar later saam met
Uncle Chappie se onderbroeke universiteit toe is.
Daar op universiteit begin ek toe tot my spyt rook. Van 1985 tot so
vier of vyf jaar gelede.
En aan ʼn sigaret het ek nog nie weer gevat nie.
Maar ek word ʼn oorryp piesang in ʼn te klein skil wat na drie jaar
letterlik uit my nate begin bars – hempsnate, broeknate – selfs my trouring pas
nie meer nie.
Twee jaar gelede moet ek vir ses agtereenvolgende dae in ses verskillende
provinsies onderwysopleiding aanbied. En my hemde span.
Die middag toe ek moet inpak, sit Annieka haar voet neer – dit immer
nie net van my wat die mense gaan sleg dink nie, maar ook van haar, my vrou.
En sy sleep my van die tas waar ek inpak, winkels toe.
Twee of drie ure later pak ek verder – ses piksplinternuwe hemde. Nie ʼn
enkele witte of roomwitte nie. Erger nog – nie ʼn enkele effekleurige mosterd of
turkoois of burgundy nie, maar ses bontes. Nie uitspattige Hawai-bontes nie,
maar strepies en blokkies en allerhande skakerings.
Ek reis te lekker deur die land. Maar terug in Pretoria moet ek skool
toe en ek het nie skoolhemde wat pas nie. Ek moet skool toe in my ses jet setting
province hopping pikante bont pakkies.
Nou kyk, ek sal nog met wit of rooi kouse skool toe gaan, maar met ʼn bont
hemp en ʼn bont das vang jy my net eendag in my kis – as dit iemand van AVBOB, en
beslis nie ek nie, is wat my so uitgevat het.
En daar sit ek met 45 dasse waarvan net drie effekleurig is: ʼn bruine
(my pa of Oom Chappie), ʼn swarte met ʼn skoolwapen op (Hoërskool Staatspresident
C.R. Swart se prefekdas) en ʼn bloue met ʼn skoolwapen op (Die Hoërskool
Menlopark se prefekdas).
Intussen is my ses bont hemde einde verlede jaar aangevul met nog vyf
lieflike bontes uit Woollies se Wolwaarde-reeks.
Die kinders wonder nie meer watter das Meneer vandag gaan aanhê nie,
want dit is deesdae redelik maklik voorspelbaar – óf die swarte, óf die bruine,
óf die bloue.
Daar is vierde, ʼn meroen een, ook met ʼn skoolwapen op – my 1982
Hoërskool Alberton prefekdas, maar hy tel nie – daar is niks in die klerekas
waarby ek hom kan dra nie.
Dis altans wat gedink het, tot Januarie 2014, want breek Januarie 2014
aan en ek moet skool toe, is Uncle Chappie se bruin das skoonveld weg. En dis
al Maart, en hy is steeds weg.
En die naaste wat ek aan bruin kan kry, is meroen; Hoërskool
Alberon-prefekdas-meroen.
En dís hoekom ek na al die jare so lekker aan my prefekdas van 1982
dra.
Waarom ek nie bloot uitgaan en nuwe dasse koop nie?
Ek het al drie keer uitgegaan om my dasse aan te vul. En gaan Saterdag
weer. Ek het al drie kere onverrigtersake teruggekeer huis toe.
Eerstens weier ek om meer as R100-00 vir ʼn das te betaal – so Markhams
en Truworths en daai plekke is uit, ek is beperk tot Woollies en Moolla’s, Pep
en Jet, en so een of twee dasse in Edgars. Van hierdie vyf hou net twee dasse
aan, Woolllies en Edgars. Maar niks is effekleurig nie, selfs al is dit R120-00
sal ek dan maar settle, maar ook nie
eers teen R120-00 nie.
Verder is al die goed wat ek wel kan kry nou se dae van sy, en die egte
sy dasse wat ek kan bekostig is almal hierdie blink sy goed – val daar net ʼn broodkrummeltjie
op, dan sprei daar ʼn kol olie oor daardie das, dat jy hom nooit weer kan dra
nie. Bring jy net botter of margarien, selfs melk of staatsdiens-rooibostee binne
ʼn twee meter radius van so ʼn das, slaan die kol al uit.
Dit help nie ek koop so ʼn das nie, ek sal vir hom twee keer dra en dan
moet ek hom weggooi.
Ek soek ʼn kommin, goedkoop kwaliteit das, ʼn oude doos das, soos oorlede
Pa en Uncle Chappie se dasse. Ek soek ʼn das soos wat Jet en Pep sou verkoop
het, ás hulle verdomp net dasse verkoop het.
Ek gaan Saterdag baie ver uitry winkels toe, dis sodat ek, kom ek
weereens onverrigtersake terug, op die pad terug by die stad se grootste
hospice kan stop. Ek is seker ek sal daar ʼn oorle’ pappie of een of ander chappie se das kan opspoor. Wie weet,
miskien is ek gelukkig en is hierdie pappie nog Pappie, die random chappie s’n, niemand anders nie as
my eie Uncle Chappie sʼn.
No comments:
Post a Comment