Pages

2.3.14

Die huis wat my pa gebou het




a.       Sitkamer

Voor die aanbouings was hierdie twee vertrekke. Teen die muur aangrensend aan my ouers se slaapkamer was ʼn kaggel waar winteraande vuur gemaak is.

Sitkamer

My lekkerste herinnering aan hierdie vertrek is Jac se 21ste verjaarsdagpartytjie. Dit was die laat sestigs. Musiek is gemaak op die ou platespelers waar die hele ding soos ʼn tas gelyk het. Die onderste deel was die draaitafel, maar die boonste deel het losgekom en verdeel in die twee luidsprekers.

Sondaeaande met biltong voor die kaggel was die heerlikste.

Baie pa-en-seun-tyd is hier deurgebring; ons het oor naweke hier musiek geluister.

Die tannies van die Vroue Landbou-unie, die Verjaarsdagklub en die Betsie Verwoerd-damesklub het ook hier vergader.

b.      Eetkamer

ʼn Groot tafel wat met verdrag groter kon word. ʼn Moewiese buffet.

As daar drie groentes was, moes ek twee eet. Was daar vier; dan drie. Ek was gelukkig as daar net twee groentes was, want dan hoef ek net een ingewurg het.

Eetkamer

Rooihoender, gemaak van destyds se blikkies rooi tamatiesop was my gunstelingdis. Ons almal se gunstelingdis. En toe hou Oxo op om daardie dik rooi blikkies tamatiesop te maak. En tamatiesop vir die rooihoender se sous was net nog nooit weer dieselfde nie.

c.       Studeerkamer

Hier het dit gegoël. Mense wat met die helm gebore was, het onafhanklik van mekaar en sonder enige voorkennis geweier om by hierdie vertrek in te gaan.

Hier was ook ʼn kaggel.

My lekkerste herinnering aan hierdie vertrek is die ses tot agt blikke koekies jaar na jaar wat met die oog op die Kersvakansie hier gestaan en wag het om karavaan toe te gaan:  speserykoekies, grondboontjiebotterkoekies, vlakoekies en hawermout-crunchies. Ek moes groot word voor ek die eerste keer met outydse soetkoekies kennis gemaak het – straks was dit té outyds, té soet na my ouers se sin.

Studeerkamer, voor my geboorte

Meer as 40 jaar later word mense nie meer met die helm gebore nie, is spoke iets van die verlede nie. Miskien was alles versinsel om kleintjies uit die koekies te hou. Ek weet nie. My het dit nie gekeer nie. Ook nie my broer nie – by hierdie vertrek se houtraamvensters dat hy snags vanuit sy buitekamer ingeklim het om in die huis te kom kry, wat dit ook al was wat hy binne kom soek het.

d.      Kombuis

In ons kombuis is nie tee gedrink, of sover ek onthou, vreeslik om ʼn tafel gekuier nie, selfs al was daar ʼn kombuistafel met ʼn geel blad en blinkerige staalpote. Hier is kos gemaak. En elke Vrydag koek gebak. Ek is toegelaat om pens en pootjies op die werksoppervlak, langs die mengbak te sit. “Jy gaan siek word, moenie so groot lek nie, proe net.”

Om die geel kombuistafel met die masonite blad is verjaarsdagkoeke versier, kolwyntjies omgetoor soos geen eietydse bakker, noudat kolwyntjies weer ʼn modegier geword het, my ma dit vandag kan nadoen nie.


Van hier het ek saans vir Pa gewag om van die werk terug te kom huis toe. Eers het hy elke aand vir my iets in sy boonste sak gehad – maar later het dit iets geword wat net tot Woensdagaande beperk is. O, maar dit was spesiaal. Die kere wat dit ʼn blikkie Groovy was, was die este leste beste.

My broer sou donkiesjare later met wrewel in sy stem (en dan is wrewel ʼn sinoniem, beter woord en eufemisme vir baie ander) vertel hoe goed hy my wag onthou, die aande dat Pa nié gekom het nie, nie betyds gekom het nie, glad nie gekom het nie. Ek het tussen die sitkamer en die kombuis gependel. Sitkamer toe om deur die venster in die donker en die straat af te kyk wanneer kom pa se kar dan; kombuis toe om te hoor of die kar wat ek gedink het syne is, wel syne was. Sitkamer toe... kombuis toe... Uiteindelik, klaar gehuil, slaapkamer toe.

Ek het ʼn lang en lomp vergelyking wat ek iewers aan die begin of die einde sou inwerk, maar laat ek dit nóú doen, noudat die geleentheid hom voordoen.

Vir jare, jare na die egskeiding (trouens tot gister, eergister toe nie nuus kom dat die huis gesloop word) sou ek, hoor ek hoe my ma, of enige geskeie mens, vertel van hoe sleg hul huwelik was, kom met ʼn teenvraag, sommer ʼn hele stel teenvrae:

Julle kon tog nie só ongelukkig gewees het nie? Daar móés goeie tye ook gewees het! Dit hét immers op ʼn kol so goed gegaan dat julle in die huwelik getree het. Ek sien vakansiefoto’s, sorgelose, gelukkige tye. Julle hét iewers langs die pad kinders verwek. Moenie nóú kom staan en vertel dit was alles net sleg nie.

Ek kón dit nooit verstaan nie, tot Vrydag toe. Maar nou verbeel ek my dat ek iets daarvan begin verstaan.

Met my en 27 Telawarren straat is dit soos met die egskeidings waar daar van voormalige eggenote en eggenotes gepraat word soos hier bo impliseer word.

Ek besef dat daar inderdaad wel goeie tye saam was, dat goeie lieflike herinneringe opgebou is, dat daar selfs meer positiewe stukke onthou as slegtes kan wees.

Die geneuk is net – al is die mooi so baie en miskien selfs  soveel veer, is dit nie so sterk, so intens, soos die negatiewe nie.

Ek het wonderlike herinneringe aan die huis, baie, maar dit is nie een naastenby so intens, so groot en voorop in die geheue soos die negatiewe, slegte, grepe onthou nie.

Ek was destyds geraak toe ek hoor hierdie baken op die dorp gaan te wyte aan gierigheid en onbevoegde, onbeholpe, inkompetente munisipale bestuur gesloop word.

Ek was ontroer en is tot trane beweeg toe ek besoek aan die bouvallige dop gebring het – tot bouval gebring deur gierigheid, nie deur tyd nie.

Maar ontstel toe die nuus Donderdag of Vrydag kom dat die dorp se erfenisvereniging nié opgewasse genoeg teen die korrupsie en stiksienige kortsigtigheid van die wanbestuur aan stuur van sake was nie, was ek nie.

Niks kan of kon my aanspoor of beweeg om vir die plek in die bresse te wil tree nie.

Saam met die hartseer is ek heimlik bly en verlig.

Die letsels wat die huis gelaat het, sal lewenslank bly.

Vir my ma is lewenslank gelukkig reeds verby.

My eie pad vorentoe is ook baie korter as die een veertig jaar terug, 1974 toe, toe ek en my ma daar uit is.

Tog is dit of die finale afbreek van die huis ʼn mens, al is dit net simbolies, ʼn stap verder aan die finale afsluit van onaangename hoofstuk het.

Die Engelse praat van closure kry.

So dáárom teken ek nie protes aan nie.

Dit sou goed wees as ek, en miskien my broer ook, eerder kaalvuis gewapen met enige iets wat ʼn baksteenmuur moer toe kan slaan, kon afsit New Redruth toe om elkeen sy eie beskeie bydrae tot die afbreek van soveel meer as net ʼn baksteenmuur te lewer.

e.      Donkerkamer

Reg voor die donkerkamerdeur was ʼn baie groot luik in die dak deur na die solder toe. Die deel van die huis met die meeste en grootste bekoring. Ek is nóóit daar toegelaat nie. Ek kon hoogstens een of twee keer met leer opklim en in die geheimenis inloer.

Die mense wat die huis in 1978 vir R23 000 op die veiling gekoop het, het nooit die Moolman-goed op die solder verwyder nie. Ek het hulle twee keer besoek, iewers in die 80’s en een keer in die 90’s en hulle het dit op beide geleenthede genoem oor hulle mý die goed wou gee.

Ek het dit elke keer van die hand gewys.

Hoe ek die verkoopprys na al die jare so goed onthou? Dis eenvoudig. My ma het in 1979 toe die huis opgeveil is nie kans gesien om R23 000 vir die huis te betaal nie. In 1980 het sy toe 'n kleiner plek, 'n meenthuis, vir presies dubbel die prys gekoop. Dis 'n stukkie wiskunde en ironie wat ek nooit sal vergeet nie. Ek het baie kinders al aan die hand hiervan verduidelik wat hulle onder ironie kan verstaan.

Die donkerkamer self is so genoem omdat my pa hier sy foto’s ontwikkel het. Die grootste pakslae wat ek in my lewe gekry het, het ek hier gekry toe ek ʼn bak van sy chemikalieë in die bad wat daar ingebou was, laat uitloop het.


Die boosste van alle bose herinneringe sentreer ook rondom hierdie vertrek. Dis ʼn geluid. Die geluid van my pa se bos sleutels as hy snags uit hulle kamer, verby my kamer, in die donker afvoeter donkerkamer toe, daar gaan stil staan en sukkel om die deur oop te kry.

Dis hier waar hy sy drank opgesluit gehou het.

Erger nog, die geluid van my pa se sleutels, en my pa self, as hy later, probeer toesluit en terugstrompel kamer toe. Verby my kamerdeur regs langs hulle sʼn.

Hy het nooit lank in die donkerkamer gebly nie.

Maar ek sou daardie sleutels tot drie of vier en meer kere ʼn nag hoor.

Ek weet presies waar ek met my hamer sou gaan staan het, as dit nie was dat die bull dozers my voorgespring het nie.

f.        Spens

ʼn Huis met ʼn spens, ʼn volwaardige outydse spens. Dit sal lewenslank my begeerte bly om ʼn huis met ʼn spens soos ons spens van destyds te kan besit. Rakke van onder tot bo.

Al is dit reg langs die hell hole van ʼn donkerkamer, het ek van hierdie deel van die huis net positiewe herinneringe.

As al die vensters toe was, en my broer nie gesorg het dat die studeerkamervenster se knip gelig is nie, was hierdie spens se toiletgrootte venster die enigste een waardeur Klein Hansie ingelaat kon word om die kombuisdeur se jail lock van binne oop te maak.

Die kombuisdeur en regs van hom die spensvenster.
Ek het verlede jaar in die kombuisdeur gestaan, gemik en gedruk


g.       Spaarkamer

My ma het oornag grys geword. Letterlik oornag. En dis nie sommer net ʼn storie soos die spoke in die studeerkamer nie. Sy het hier oornag grys geword die nag nadat my pa sy goeie vriend, Oom Kobus, gekry het om my ma in te lig dat hy haar dagvaar vir ʼn egskeiding.

h.      Badkamer

“Mamma! Kom veeee my aaaaf!”

Ek was ʼn bedorwe klein brokkie. Wat meer kan ek sê.

i.         My slaapkamer

Ek het my imaginary friend se naam vergeet! Ek kan dit glo nie. Ek sien myself op die mat sit en speel. Ek hoor ons speel. Ek hoor hom terug praat. Maar verdomp of ek sy naam onthou.

My slaapkamer

Ek onthou van my nagmerries en my drome, beddegoed en gordyne.

Ek onthou selfs my kindertydse vrae oor goddelike uitverkiesing, predestinasie, en almag, weliswaar nie in daardie groot woorde nie. Ook my wonder oor die lewe en die dood, tyd en ruimte.

j.        Hoofslaapkamer

Hierdie vertrek was selfs groter as wat hy geteken lyk.

Hoofslaapkamer

Winteraande, somtyds, is die tafel wat ver anderkant, oorkant die dubbelbed, en later twee enkelbeddens,  gestaan het, se kantflappe opgeslaan en het ons as gesin hier geëet. Nee, die borde is nie in die kombuis voorberei nie – die opskepborde en –skottels is aangedra. Hier is volwaardig aangesit en geëet.

Daar ander onthou ook, onnodig om oop te krap.

ʼn Lekker onthou is die tradisie om my verjaarsdagpresente op die vloer uit te pak. Ek kan by ma, of ma-hulle toe daar nog ʼn dubbelbed was, inkruip, en word ek die volgende oggend wakker is dit net pakkies en dinge waar jy kyk.

Siembamba, soggens  oor die radio.

Ek onthou ook ʼn skildery, miskien was dit ʼn print, bokant die trousseau kis. Ek het nounet ʼn deeglike Google-soektog na de leste Tretchikoff-afdruk uitgevoer. Nee, is ek bly om te kan sê, dit was nié ʼn Tretchi-print nie. Maar elke keer as ek MM Walters se woorde van “Tretchikoff se blougroen meid uit Java” wat “solitaire, effek berekend” teen die muur hang, dan dink ek aan dié betrokke skildery in die slaapkamer.

k.       Hoofbadkamer

Piepie saam met pappa en wonder wanneer my tollewietsie dan eendag soos syne gaan lyk.

Hoofbadkamer

Hier het ek ook ʼn diamant weggebliksem wat my ma-hulle in ʼn poeierkwas weggesteek het. Dit was die jare van Reeva-cosmetics. En hierdie cosmetic-kwas kon soos ʼn vrou se lipstiffie in en uit draai. Pa het ʼn kwassie gehad waarmee hy sy kameras en lense skoon gekwas het. Ek het gereeld skelm my skylectric-motortjies met Ma se kwas skoongekwas, soos Pa sy kameras se binnekante. En so van die diamant ontslae geraak.

l.         Voorstoep

Hier het die lekkerste swaai, wat Pa self gemaak het, gehang. ʼn Lang ystertafel is hier staan gemaak en daai verjaarsdagpartytjie-koeke waarvoor ek op die kombuis se blad kon sit, is hier, onder die beaugenvilla voorgesit.

Voorstoep

m.    Slaapkamerstoep

Veselperskes had daardie jare nog vesels. Jy kon die pitte uitwas en droog, dan het die goed soos glug-poppies, waarvan die hare so wild gestaan het, gelyk. Hier was lekker son. Hier is veselperskepitte gedroog, modderkoekies en kleiosse.

n.      Buitekamers

Buitegeboue

Jac, my broer, het hier geslaap. Pa se draaibanke en ander houtwerkgereedskap het ook hier gestaan toe Jac eers uit is. Lekker male bonding tye met my pa hier gehad.

o.      Stoorkamer

Hier is 25-kg mieliemeel, suiker en broodmeel in sulke groot blikke met skewe deksels gestoor.

Buitegeboue vanuit kombuis

p.      Bediendekamer

Anna Mofokeng had hier ʼn bed op verfblikke.

q.      Bediendekamer-binnehof

In die binnehof het ek bolletjies pap met my hand kon rol en dit dan eet soos Anna.

r.        Hoenderhok

In my dae was dit in geen jare meer ʼn hoenderhok nie. Grassnyers en goed is daar staan gemaak.

s.       Vrugteboord

Pruime, appelkose, perskes.

t.        Klip

Langs die kraan was ʼn onmenslike groot en swaar klip. Dit is as verhoog gebruik toe Jac en Bev getrou het en twee groot markiestente in die tuin opgeslaan is vir die resepsie. (Resepsie? Het in jare nie die woord gehoor nie. Maar dis beslis die woord wat in 1973 gebruik is om na die onthaal, na afloop van die huweliksbevestiging, te verwys.

u.      Motorhuis

Dit was eintlik ʼn moerse Kaaps-Hollandse gewelhuis-afdak. Hier het die biltong en droë wors elke jaar inlieflike lang rye en reekse gehang. Hier is skaap geslag teen R25-00 ʼn skaap. Hier is hoender en vis oor geurige skaafsels in ʼn stukkende ou yskas gerook.

Hier is ook bier gestook. Ek weet wat dit 40 jaar gelede genoem is. Ek weet nie wat hulle dit vandag noem nie.

Motorhuis en bediendekwartiere

Happies en Boela en Lady, en al die baie ander honde, se hondehokke wat Groot Hans Moolman self aanmekaar geskryn en –timmer het, het ook hier staanplek gehad.

v.       Akkerboom

Onder die akkerboom, by die klip, op die stoep en in die vrugtebome het ek my maats baie gespeel.

Ek wou baie keer nie binne in die huis speel nie, het om die waarheid te sê in vrees geleef dat my maats wil in, kamer toe.

Pa het nooit vir weke aaneen snags met sy sleutels gangaf gestap, voor hy gaan lê het nie, vir lank gaan lê het nie. Dan het Slabberts-bottelstoor se afleweringswa daagliks voor die huis gestop, soos Springbok-apteek se motorfiets by ander mense se huise medisyne aflewer.

Jacques, Riaan, Andre, Marius, Alwyn, Pieter, Casjohan, Sean, dis hoekom ons altyd buite moes speel – my ma-hulle se kamerdeur was reg langs my kamerdeur.

Net ek en my verbeeldingsmaatjie, DIRKIE was sy naam! wat altyd en enige tyd hier kon kom speel.

Sien, dié huis wat vandeesweek platgestoot is, is jare gelde al gelyk met die grond gesloop.



Naskrif:

Ek lees hier hulle noem dat  my pa die huis in die vyftigerjare van die vorige eeu gebou het. Dit is nie die geval nie. Toe hulle in 1955 daar ingetrek het, was dit reeds een van die oudste, indien nie die oudste, huis in New Redruth.

Hier is hoe hy eers daar uitgesien het:




No comments: