In die Moolman-residensie is ek die enigste een wat ooit ʼn
lig agter my afskakel. En so veel soos wat ek ligte afskakel, so selde skakel
ek ooit ʼn enkele lig aan – een van die twee vrouens in die huis het dit vir my
aan vergeet.
Klaradyn is nie gebore daartoe in staat om ʼn lig af te
skakel nie, dis nog lank nie deel van haar verwysingsraamwerk nie. En dié
sonderlinge eienskap is geneties – sy het dit net so van haar ma geërf.
As ek net ʼn sent gehad het vir elke keer dat ek ʼn lig
agter iemand anders afskakel, was ek ʼn miljoenêr en het ek nie nodig gehad om
geld te wil spaar deur onnodige ligte af te skakel nie.
Ek het ʼn ruk gelede my oortrokke fasiliteit by die bank
vergroot en vir elke lig in die huis van hierdie nuwe gloeilampe loop koop wat
vyftien keer duurder as gewone gloeilampe kos, skynbaar twee keer so lank hou
en ses keer minder krag verbruik.
Met my somme was nog nooit iets fout nie – ek het
uitgereken dat ek, na die aanvanklike astronomiese uitgawe om oor te skakel na
die veel duurder, maar tegelyk ook ietwat goedkoper gloeilampe, ons teen 2073
gelyk sal breek – dan het ek genoeg aan kragverbruik gespaar om die insetkoste
te kon dek. Dat ek dan biologies gesproke op 109 jaar en enkele maande inklok,
beteken omgelukkig dat ek dan seker reeds besig sal wees om die laaste van my
dae in ʼn ouetehuis te slyt, maar dit nou maar daar gelaat.
My obsessiewe afskakel van al wat lig is – daar is mos
mense wat helder oordag ook ligte aansit – is nie net tot Witstinkhoutstraat 13
beperk nie – ek skakel orals waar ek gaan, so ver ek gaan, van soggens tot
saans, ligte af.
By die skool ook. In die besonder die twee manskleedkamers
wat ʼn mens nou maar een maal genoop is om in die duur van ʼn lang werksdag
(onderwysers werk nie net halfdag nie) te besoek.
Ek het nog nooit nodig gehad om te kan sien wat ek doen
as ek toilet toe gaan nie. En as ek my dan nou daar in die halfdonker bevind, en
so donker is dit regtig ook nou nie – geen mens sou dit in die Victoriaanse tyd
vir oomblik oorweeg het om ʼn paraffien lamp op te steek en saam met jou in te
neem toilet toe nie – loop ek gereeld kollegas raak wat inkom en die lig
aansit. Dan wonder ek elke keer wat op deeske aarde dan nou so klein kan wees
dat ʼn man lig nodig het om dit op te kan spoor voor jy jou ding kan doen. Wat
dit ook al is wat jy kom staan en doen het.
Dit gebeur ook gereeld dat ek die lig op ʼn kollega
afskakel, in die besonder een betrokke kollega. Dit gebeur party jare dat ons
presies in die selfde kombinasies en tydgleuwe op die rooster klas het, dan het
ons ook dieselfde periodes af. Nodeloos om te sê dat die tye wanneer ons stap
om water te gaan afslaan ook redelik gesinchroniseer is.
Hy ken my en my gewoonte nou al, so hy sê niks meer nie –
dis dan ek wat my water en ligte skoon wegskrik as ek om die draai kom, opkyk
en ʼn donker figuur voor my by die krip sien. Deesdae kug hy darem al so ʼn beleefde
waarskuwingskuggie; dit het immer al gebeur dat ek om die draai kom en gevaar
loop om my nood in sy sak te verlig, nog voor ek enigsins van sy
teenwoordigheid bewus raak.
Oor ligte en close
encounters in die toilet gaan dit glad nie vandag nie – eerder Skoonma se
selfoon wat my lewe so deurmekaar kom krap.
Van ʼn selfoon het ek die eerste keer bewus geraak in
1994. In Rome, om presies te wees, iewers in die omgewing van die Spaanse
trappe en die Trevi-fonteine. Dit het inderdaad gebeur dat ek ʼn Suid-Afrika
sonder selfone daardie tyd verlaat het, en toe ek na drie en ʼn half maande met ʼn
rugsak deur Europa terugkom, toe het die eerste outjies hier ook al selfone.
Ek het 9 jaar vasgebyt en toe maar ingegee. Nee, self het
ek nie een gaan koop nie, ek sou ook nooit nie en het nog nooit nie, my broer
kon sy boetie sonder die gerief van ʼn selfoon nie meer ʼn dag langer uitstaan
nie en het vir my ʼn kontrak geopen en ʼn foon uit die Kaap aangestuur. Bygesê hy
was in daardie stadium in die selfoonbedryf betrokke.
Hy het selfs vir agt jaar of langer die rekening ook
betaal. Dis nou maar eers ʼn jaar of wat dat ek self betaal, nie ʼn rekening nie –
die R100-00 vir my R100-00-ʼn-maand-kontrak.
Ja dis 20 jaar later, en ek is steeds nie groot op selfone
nie. Dit is en bly ʼn “onwegdoenbare ergernis” soos my oorlede oupa donkiesjare
voor die koms van selfone van onwegdoenbare ergernisse soos selfone gepraat het.
Veel van ʼn statussimbool kon dit ook nog nooit wees nie,
mog my selfbeeld nooit eendag nodig hê om enige selfoonkonneksie te hê nie. My
Nokia-dingetjie wat nog aan die hartlongmasjiene en bakstene van die vorige eeu
herinner is trouens eerder ʼn sterk anti-establishment boodskap.
ʼn Berry, of hy nou swart of blou of rooi is, was vir my
nog altyd ʼn bessie. En as ek sien hoe ingrypend ʼn Black Berry my vrou se ganse lewenspatroon
verander het, is ek bly so ding is my tot nou toe nog gespaar.
Maar so gaan die skoonoues (en dis nie ʼn tikfout nie) ook
toe nou saam met die stroom oor van Black Berry na I-phone. Skoonma sê ek kan met
liefde haar ou foon kry en in belang van Klaradyn (en haar selfbeeld) is ek met
die ding daar weg.
O, en ek had nog net las!
Annieka hê te vertelle dat ek moet onthou dis nie ʼn selfoon
nie, dis eintlik ʼn mini-rekenaar. Dit kan wees wat dit wil, ek hou gʼn stuk niks
van enige iets wat namens my dink nie – en hierdie ding dink en doen van die
oggend tot die aand namens my en in my naam.
Vir drie oggende in ʼn ry kry ek selfoonboodskappe van
2012 rondom die afsterwe van ʼn goeie vriendin sedert universiteitsdae. Dan haal
ek hom uit en sien ek is oop by ʼn nuwe selfoonboodskap aan ʼn kollega by die
skool. Dan soek die ding toestemming om dít te doen, dan is hy weer op sy eie
besig met dát. Hy kry net nie end nie.
Veral ook omdat ʼn ander kollega my op die skool se wi-fi (of so iets) ook gekoppel het.
So het ek, om ʼn lang storie kort te maak, vier periodes
aanmekaar klas met matrieks, die klok lui en ek sit af kleedkamers toe – my tande
trap al langer as ʼn halfuur water.
By die kleedkamers gekom, skakel ek, oudergewoonte, die
lig wat onnodig brand, af.
Om die draai, voor die porseleinkrippie, besig om in die
gereedheidshouding te kom, tel ek uit die hoek van my oog op dat my hemp se
boonste sak soos ʼn gloeiwurm of vuurvlieg gloei.
Dis die bloody
selfoon – hy is weer op sy eie aan die doen.
En daar, in die donker, voor die krip, in mid streaam, kry ek die ding uit my sak
uit om te kyk watter kattekwaad dit nou weer aanvang. En daar, met die totter
en vroetel om die kloutjie by die oor te bring, raak ek – alles is mos deesdae touch screen –tegnologie – op die regte
verkeerde tyd aan die regte verkeerde knoppie...
...en daar neem ek, sonder dat ek enigsins wou, ʼn foto
van dit wat op daardie in die selfoon-kameralens se plek is – kompleet met ingeboude
flitsligtegnologie!
En wat in die nanosekonde afgeneem word, is asof dit met
voorbedagte rade en berekend afgeneem is.
Daar is natuurlik nie ʼn manier dat ek met ʼn foto van my
eie meer private implement in my bosak rondloop nie – netnou val ʼn klavier op
my kop of word ek in die straat doodgery, dan kyk die mense na die tyd op my
selfoon en vertel vir mekaar dat Hans Moolman foto’s van sy eie onderdele
geneem het en dit boonop aan sy bors gekoester het.
Nou kos dit my soek om die foto ge-delete te kry, maar ek kry dit wonder bo wonder reg.
En is ek nie bly nie!
Ek weet die hele week daar is net een mens wat my met die
opstel van my nuwe tweedehandse foon kan help, ʼn matriekseun wat in sy standerd
6-jaar my klas se klaskaptein was.
Maar hy is heel week weg – hy neem aan die een of ander nasionale
swemkompetisie deel.
Gelukkig is hy terug en ontbied hom (via Annieka se BBM)
om tog by sy meneer ʼn draai te kom maak.
As jy my nou moet vra hoe dit gekom het dat hy in sy haas
verkeerdelik die picture galery-knoppie
gedruk het, weet ek nie, maar hy het – ʼn mens touch mos net die screen en
dan gaan die masjien aan’t holle op sy eie.
Ek slaan onmiddellik in ʼn nat en koue sweet uit.
Wat as my vreemde twist
op ʼn selfie van die vorige
periode voor die krip toe nié uitgevee is nie? Wat as die stomme seun nou
oopmaak op ʼn foto van sy meneer se meneer!
Gelukkig is al wat daar is die laaste foto’s wat Klaradyn
met Ouma se foontjie geneem het, en die kind is in elk geval weer daar uit
sonder om enigsins iets te registreer – daar kon maar naakte foto’s van sy
juffrou ook gewees het, ek dink nie hy sou dit registreer nie.
Dit was nogtans ʼn benoude oomblik.
No comments:
Post a Comment