Pages

31.3.14

Die lekkerte van 'n elektriese stoompot

Dis nou al hóé lank dat die wonders van ʼn elektriese stoompot van tyd tot tyd deur die kosmakers onder die skool se personeel aan my voorgehou word.




Seker drie winters nou al dat ek die sopseisoen afskop met die sug na ʼn elektriese stoompot. Eers kon ek nergens meer ʼn ring vir my ou pot opspoor nie. Gelukkig kry ek toe na twee jaar se sukkel ʼn tweedehandse stoompot present, hoeka van ʼn kollega wat haar oue wegmaak omdat sy toe ook die era van elektriese stoompotte betree.

Vir drie winters dat ek dan nou jaar na jaar spyt is dat ek nie September, toe dit my verjaarsdag was, vir ʼn elektriese stoompot gevra het nie. Maar wie dink ook nou met die koms van die lente aan ʼn stoompot.

Verlede jaar maak ek egter ʼn punt daarvan om ʼn elektriese stoompot die enigste item op my wenslysie te maak. 

Ek plant selfs die saad dat die hele familie sáám kan bydra, dit hoef nie op een mens neer te kom nie.

Die res koop ongelukkig nie in nie en dis net Annieka en Klaradyn wat einde Augustus 2013 afsit Game toe om Pappa se elektriese stoompot te koop.

Daar aangekom, gee Klaradyn die stoompot net een kyk, voor sy die res van die goed op die kombuiswarerak verder met aandag begin bestudeer. Dis ook nie lank nie of sy kom haal Annieka waar sy nog besig is om die elektriese stoompotte se  pryse en waarborge en spesifikasies te vergelyk. Daar sit sy met haar ma af na die reeks kosstomers wat deesdae hier by ons beskikbaar is – die prentjie van ʼn rype verskeidenheid groente wat sagkens op een van die bokse in so ʼn stomer gaar gestoom word, het haar oog, maag en verbeelding getrek. “Kyk net bietjie hiér, Mamma. Jy weet dat ek en jy nie een gaan hou van die kos wat Pappa vir ons in daardie ander masjien gaan gaar maak nie. Maar kyk net watter lekker kos maak ʼn mens in dié ding gaar.”


Annieka, wat soos Klaradyn, geen voorliefde vir bredies, eenskottel-stowegeregte of sop met groot goeters in, het nie, het nie veel verdere oortuiging nodig nie, veral nie omdat die stoommasjientjie heelwat minder as die helfte van ʼn stoompot kos nie.

En so gebeur dit toe dat ek 4 September nie die verwagte stoompot kry nie, maar ʼn baie gesonde stomer.

Ek was spyt oor die afwesigheid aan ʼn stoompot onder die geskenke, maar oor die teenwoordigheid van ʼn stomer was ek nog nie een dag spyt nie. Ek maak minstens een keer ʼn week van hom gebruik. Ons is trouens al op ons tweede een, en dit in minder as ses maande. Nee, dit het niks met breekskade te doen nie – ons eerste stomer is saam met Annieka se motor gesteel. Ons het aspersies by Ouma-hulle gaan gaar stoom, en die masjien was nog in die kattebak toe die motor voor Klaradyn skool gesteel is.

Ek het egter nie kans gesien om nog ʼn enkele sop- en bredieseisoen in te gaan sonder ʼn nuwe elektriese stoompot nie.

Ja, ek maak heerlik kos in die prutpot, maar dit gebeur wel dat 'n mens sekere dinge moet aanjaag. Witstinkhoustraat 13 word immers deur onderwysers, nie deur huisvrouens en kokke nie, bewoon.

Ek het ook geweet dit help nie ek plaas ʼn stoompot op my Kersfees-wenslysie – Klaradyn sal net weer ʼn stokkie daarvoor steek.

Die gevolg is, einde September, toe my verjaarsdagbonus in my oortrokke bankrekening beland, sit ek dadelik af Game toe om my eie stoompot – aan Hans met liefde van Hans – aan te koop. Maar dis hoogsomer en ek is te dom om te weet hoe veeldoelig so ʼn stoompot heeljaar deur kan wees; ek pak hom uit, bewonder hom, kwyl en bêre hom vir die winter.

Toe ons drie weke gelede vir twee weke deur reën oorval word en Annieka die tweede dag van reënweer begin pannekoek bak, besluit ek dat pannekoekweer ook sopweer is – naas pannekoekpanne kan elektriese stoompotte ook nou uit die kas geruk word.

En drie weke later, naas die stomer wat weekliks gebruik word, is dit nou ook die stoompot, sommer twee keer ʼn week. Ek het selfs al die punt bereik waar ek beide masjiene op dieselfde aand inspan.

Dis egter gisteraand se tamatiesop – dit het die agtermiddag weer na reën gelyk en voordat Annieka met pannekoek kon kom, het ek Klaradyn oorgewen met die voorstel dat ek en sy tamatiesop maak. En as daar nou een ding is, waarop Klaradyn altyd inkoop, dan is dit haar gunsteling – tamatiesop!

Ek onthou hoe lank ek gesoek het na ʼn lekker tuisgemaakte tamatiesopresep, ek onthou my eksperimente (ek het selfs met tamatiesap as basis eksperimenteer) wat party meer suksesvol, ander minder suksesvol, was.

Ek besef nóú, ek het nie ʼn resep nodig gehad nie, wat ek nodig had was ʼn elektriese stoompot!

Vir gisteraand se sop het ek 18 tamaties se skille afgekry – ook nie ek nie, Klaradyn. Na ek dit in die kookwater laat loskom het, het ek haar ingeroep om verder te gaan terwyl ek twee uie en ʼn paar toontjies knoffel op die bodem van die stoompot taaibruin braai.

Klaradyn het nie net geskil nie, sy het die tamaties met die grootste pret tot ʼn pulp verwerk, sónder die gebruik van ʼn mes of vermenger. Ongelooflik wat twee ywerige silwerskoon handjies aan 18 oorryp afgeskilde tamaties kan doen!
En dit is inderdaad al wat dit was – tamaties, uie en knoffel. Ek sou een of ander vorm van hoenderekstrak wou byvoeg, maar hier was niks nie, nie Inna Paarman se poeier- óf vloeistofekstrak nie, ook nie die vertroude gewone hoenderekstrakblokkies nie.

Ek het nie eers regte egte ekstrak gehad om by te voeg nie – die hoender wat ek vroeër die week in die stoompot gemaak het, is in so min as ʼn koppie water gaargestoom, en dié watertjies het ek gebruik om sous van te maak.
20 minute later toe klits ons die heilsaamheid in die pot met een van hierdie handmengers fyn. ʼn Halwe kannetjie room, soplepel suiker, peper na smaak en ʼn handvol basilikum (wat Klaradyn in die kruiesnipper verwerk het) verder, roep ons Ma om te kom tafel dek. En die eerste wat Ma dek is die wynglase – te lekker.



Vir die eerste maal, en eerder vir die aardigheid as enige iets anders, het ons ʼn pakkie spekvleisblokkies (bits-o-bacon) brosbruin gebraai, en dit toe vir smaak en garnering, na die sop in ons borde rusplek gekry het, bygevoeg.

Saam met brood.

En gelukkig is dit net ons drie om die familietafel – twee van ons se brood kan reguit sopbord toe gaan om die lekker daar soos ʼn spons op te slurp, dit hoef nie ewe pretensieus in die kleinbordjie staangemaak te word nie.

Een vet lekkerte!

En die beste van alles – daar is genoeg vir ʼn tweede maaltyd!

Ek is gelukkig – my gesin ag iets soos tamatiesop nie as voorgereg tot die hoofgereg nie, hulle is doodgelukkig om dit as hoofgereg te geniet.

Hulle het ook geen probleem met ʼn aandete wat net uit groente bestaan nie – veral nie as dit ʼn verskeidenheid gestoomde groente is nie.

Net so lekker en maklik in die elektriese stoompot is om jou stampmielies, groente én vleis, saam en tegelyk in die stoompot gaar te maak.

Ronde een het ek stampmielies en beesvleis gebruik, ronde twee was dit mielierys/mieliegruis en skaapvleis. 

Koningskos uit die boonste rakke.

En dit omdat ʼn kollega na pouse op pad klas toe noem hoe baie haar gesin daarvan hou as sy die stamp en die vleis saam in die stoompot voorberei. 

Ek begin daar en dan reageer soos Pavlov se honde reageer het as hulle die klokkie by die hek gehoor het.

Stampmielies oornag in water.

Eers braai jy jou blokkies vleis mooi bruin – sommer in die stoompot. Doen ook dieselfde met jou ui, rooipeper en knoffel (of wat ook al).

In met die stampmielies (bedek met water). Rus die vleis sagkens op die bedding stampmielies. Bedek die vleis met jou gebraaide ekstras. Kry Klaradyn om ʼn paar tamaties op haar unieke manier te verwerk – geur dan die tamaties met al die geurmiddels en kruie wat jy reken jou dis gaan benodig. 

Bedek dan alles met hierdie tamaties. Maak toe en drukkook. Voltooi die sous met ʼn pakkie bruinuiesop (of wat ook al).

Gebruik jy mielierys, moet jy nie die fout maak om dit net te bedek nie. Dit moet soveel water kry soos wat die verpakking voorstel. So nie, loop jy gevaar dat die mielies al die water absorbeer en jy niks stoom het om jou vleis gaar te drukkook nie. Die elektriese stoompot registreer die foutjie dan en skakel vanself af. Ek het die fout gemaak, die masjien het dit agtergekom en ek kon die fout herstel.


Mense dis lekker – ek wens sommer dit was Julievakansie en nie nou eers April-vakansie nie.

21.3.14

ʼn Benoude oomblikkie

In die Moolman-residensie is ek die enigste een wat ooit ʼn lig agter my afskakel. En so veel soos wat ek ligte afskakel, so selde skakel ek ooit ʼn enkele lig aan – een van die twee vrouens in die huis het dit vir my aan vergeet.

Klaradyn is nie gebore daartoe in staat om ʼn lig af te skakel nie, dis nog lank nie deel van haar verwysingsraamwerk nie. En dié sonderlinge eienskap is geneties – sy het dit net so van haar ma geërf.

As ek net ʼn sent gehad het vir elke keer dat ek ʼn lig agter iemand anders afskakel, was ek ʼn miljoenêr en het ek nie nodig gehad om geld te wil spaar deur onnodige ligte af te skakel nie.

Ek het ʼn ruk gelede my oortrokke fasiliteit by die bank vergroot en vir elke lig in die huis van hierdie nuwe gloeilampe loop koop wat vyftien keer duurder as gewone gloeilampe kos, skynbaar twee keer so lank hou en ses keer minder krag verbruik.

Met my somme was nog nooit iets fout nie – ek het uitgereken dat ek, na die aanvanklike astronomiese uitgawe om oor te skakel na die veel duurder, maar tegelyk ook ietwat goedkoper gloeilampe, ons teen 2073 gelyk sal breek – dan het ek genoeg aan kragverbruik gespaar om die insetkoste te kon dek. Dat ek dan biologies gesproke op 109 jaar en enkele maande inklok, beteken omgelukkig dat ek dan seker reeds besig sal wees om die laaste van my dae in ʼn ouetehuis te slyt, maar dit nou maar daar gelaat.

My obsessiewe afskakel van al wat lig is – daar is mos mense wat helder oordag ook ligte aansit – is nie net tot Witstinkhoutstraat 13 beperk nie – ek skakel orals waar ek gaan, so ver ek gaan, van soggens tot saans, ligte af.

By die skool ook. In die besonder die twee manskleedkamers wat ʼn mens nou maar een maal genoop is om in die duur van ʼn lang werksdag (onderwysers werk nie net halfdag nie) te besoek.

Ek het nog nooit nodig gehad om te kan sien wat ek doen as ek toilet toe gaan nie. En as ek my dan nou daar in die halfdonker bevind, en so donker is dit regtig ook nou nie – geen mens sou dit in die Victoriaanse tyd vir oomblik oorweeg het om ʼn paraffien lamp op te steek en saam met jou in te neem toilet toe nie – loop ek gereeld kollegas raak wat inkom en die lig aansit. Dan wonder ek elke keer wat op deeske aarde dan nou so klein kan wees dat ʼn man lig nodig het om dit op te kan spoor voor jy jou ding kan doen. Wat dit ook al is wat jy kom staan en doen het.

Dit gebeur ook gereeld dat ek die lig op ʼn kollega afskakel, in die besonder een betrokke kollega. Dit gebeur party jare dat ons presies in die selfde kombinasies en tydgleuwe op die rooster klas het, dan het ons ook dieselfde periodes af. Nodeloos om te sê dat die tye wanneer ons stap om water te gaan afslaan ook redelik gesinchroniseer is.

Hy ken my en my gewoonte nou al, so hy sê niks meer nie – dis dan ek wat my water en ligte skoon wegskrik as ek om die draai kom, opkyk en ʼn donker figuur voor my by die krip sien. Deesdae kug hy darem al so ʼn beleefde waarskuwingskuggie; dit het immer al gebeur dat ek om die draai kom en gevaar loop om my nood in sy sak te verlig, nog voor ek enigsins van sy teenwoordigheid bewus raak.

Oor ligte en close encounters in die toilet gaan dit glad nie vandag nie – eerder Skoonma se selfoon wat my lewe so deurmekaar kom krap.

Van ʼn selfoon het ek die eerste keer bewus geraak in 1994. In Rome, om presies te wees, iewers in die omgewing van die Spaanse trappe en die Trevi-fonteine. Dit het inderdaad gebeur dat ek ʼn Suid-Afrika sonder selfone daardie tyd verlaat het, en toe ek na drie en ʼn half maande met ʼn rugsak deur Europa terugkom, toe het die eerste outjies hier ook al selfone.

Ek het 9 jaar vasgebyt en toe maar ingegee. Nee, self het ek nie een gaan koop nie, ek sou ook nooit nie en het nog nooit nie, my broer kon sy boetie sonder die gerief van ʼn selfoon nie meer ʼn dag langer uitstaan nie en het vir my ʼn kontrak geopen en ʼn foon uit die Kaap aangestuur. Bygesê hy was in daardie stadium in die selfoonbedryf betrokke.

Hy het selfs vir agt jaar of langer die rekening ook betaal. Dis nou maar eers ʼn jaar of wat dat ek self betaal, nie ʼn rekening nie – die R100-00 vir my R100-00-ʼn-maand-kontrak.

Ja dis 20 jaar later, en ek is steeds nie groot op selfone nie. Dit is en bly ʼn “onwegdoenbare ergernis” soos my oorlede oupa donkiesjare voor die koms van selfone van onwegdoenbare ergernisse soos selfone gepraat het.

Veel van ʼn statussimbool kon dit ook nog nooit wees nie, mog my selfbeeld nooit eendag nodig hê om enige selfoonkonneksie te hê nie. My Nokia-dingetjie wat nog aan die hartlongmasjiene en bakstene van die vorige eeu herinner is trouens eerder ʼn sterk anti-establishment boodskap.

ʼn Berry, of hy nou swart of blou of rooi is, was vir my nog altyd ʼn bessie. En as ek sien hoe ingrypend ʼn Black Berry my vrou se ganse lewenspatroon verander het, is ek bly so ding is my tot nou toe nog gespaar.

Maar so gaan die skoonoues (en dis nie ʼn tikfout nie) ook toe nou saam met die stroom oor van Black Berry na I-phone. Skoonma sê ek kan met liefde haar ou foon kry en in belang van Klaradyn (en haar selfbeeld) is ek met die ding daar weg.

O, en ek had nog net las!

Annieka hê te vertelle dat ek moet onthou dis nie ʼn selfoon nie, dis eintlik ʼn mini-rekenaar. Dit kan wees wat dit wil, ek hou gʼn stuk niks van enige iets wat namens my dink nie – en hierdie ding dink en doen van die oggend tot die aand namens my en in my naam.

Vir drie oggende in ʼn ry kry ek selfoonboodskappe van 2012 rondom die afsterwe van ʼn goeie vriendin sedert universiteitsdae. Dan haal ek hom uit en sien ek is oop by ʼn nuwe selfoonboodskap aan ʼn kollega by die skool. Dan soek die ding toestemming om dít te doen, dan is hy weer op sy eie besig met dát. Hy kry net nie end nie.

Veral ook omdat ʼn ander kollega my op die skool se wi-fi (of so iets) ook gekoppel het.

So het ek, om ʼn lang storie kort te maak, vier periodes aanmekaar klas met matrieks, die klok lui en ek sit af kleedkamers toe – my tande trap al langer as ʼn halfuur water.

By die kleedkamers gekom, skakel ek, oudergewoonte, die lig wat onnodig brand, af.

Om die draai, voor die porseleinkrippie, besig om in die gereedheidshouding te kom, tel ek uit die hoek van my oog op dat my hemp se boonste sak soos ʼn gloeiwurm of vuurvlieg gloei.

Dis die bloody selfoon – hy is weer op sy eie aan die doen.

En daar, in die donker, voor die krip, in mid streaam, kry ek die ding uit my sak uit om te kyk watter kattekwaad dit nou weer aanvang. En daar, met die totter en vroetel om die kloutjie by die oor te bring, raak ek – alles is mos deesdae touch screen –tegnologie – op die regte verkeerde tyd aan die regte verkeerde knoppie...

...en daar neem ek, sonder dat ek enigsins wou, ʼn foto van dit wat op daardie in die selfoon-kameralens se plek is – kompleet met ingeboude flitsligtegnologie!

En wat in die nanosekonde afgeneem word, is asof dit met voorbedagte rade en berekend afgeneem is.

Daar is natuurlik nie ʼn manier dat ek met ʼn foto van my eie meer private implement in my bosak rondloop nie – netnou val ʼn klavier op my kop of word ek in die straat doodgery, dan kyk die mense na die tyd op my selfoon en vertel vir mekaar dat Hans Moolman foto’s van sy eie onderdele geneem het en dit boonop aan sy bors gekoester het.

Nou kos dit my soek om die foto ge-delete te kry, maar ek kry dit wonder bo wonder reg.

En is ek nie bly nie!

Ek weet die hele week daar is net een mens wat my met die opstel van my nuwe tweedehandse foon kan help, ʼn matriekseun wat in sy standerd 6-jaar my klas se klaskaptein was.

Maar hy is heel week weg – hy neem aan die een of ander nasionale swemkompetisie deel.

Gelukkig is hy terug en ontbied hom (via Annieka se BBM) om tog by sy meneer ʼn draai te kom maak.

As jy my nou moet vra hoe dit gekom het dat hy in sy haas verkeerdelik die picture galery-knoppie gedruk het, weet ek nie, maar hy het – ʼn mens touch mos net die screen en dan gaan die masjien aan’t holle op sy eie.

Ek slaan onmiddellik in ʼn nat en koue sweet uit.

Wat as my vreemde twist op ʼn selfie van die vorige periode voor die krip toe nié uitgevee is nie? Wat as die stomme seun nou oopmaak op ʼn foto van sy meneer se meneer!

Gelukkig is al wat daar is die laaste foto’s wat Klaradyn met Ouma se foontjie geneem het, en die kind is in elk geval weer daar uit sonder om enigsins iets te registreer – daar kon maar naakte foto’s van sy juffrou ook gewees het, ek dink nie hy sou dit registreer nie.


Dit was nogtans ʼn benoude oomblik.

2.3.14

Die huis wat my pa gebou het




a.       Sitkamer

Voor die aanbouings was hierdie twee vertrekke. Teen die muur aangrensend aan my ouers se slaapkamer was ʼn kaggel waar winteraande vuur gemaak is.

Sitkamer

My lekkerste herinnering aan hierdie vertrek is Jac se 21ste verjaarsdagpartytjie. Dit was die laat sestigs. Musiek is gemaak op die ou platespelers waar die hele ding soos ʼn tas gelyk het. Die onderste deel was die draaitafel, maar die boonste deel het losgekom en verdeel in die twee luidsprekers.

Sondaeaande met biltong voor die kaggel was die heerlikste.

Baie pa-en-seun-tyd is hier deurgebring; ons het oor naweke hier musiek geluister.

Die tannies van die Vroue Landbou-unie, die Verjaarsdagklub en die Betsie Verwoerd-damesklub het ook hier vergader.

b.      Eetkamer

ʼn Groot tafel wat met verdrag groter kon word. ʼn Moewiese buffet.

As daar drie groentes was, moes ek twee eet. Was daar vier; dan drie. Ek was gelukkig as daar net twee groentes was, want dan hoef ek net een ingewurg het.

Eetkamer

Rooihoender, gemaak van destyds se blikkies rooi tamatiesop was my gunstelingdis. Ons almal se gunstelingdis. En toe hou Oxo op om daardie dik rooi blikkies tamatiesop te maak. En tamatiesop vir die rooihoender se sous was net nog nooit weer dieselfde nie.

c.       Studeerkamer

Hier het dit gegoël. Mense wat met die helm gebore was, het onafhanklik van mekaar en sonder enige voorkennis geweier om by hierdie vertrek in te gaan.

Hier was ook ʼn kaggel.

My lekkerste herinnering aan hierdie vertrek is die ses tot agt blikke koekies jaar na jaar wat met die oog op die Kersvakansie hier gestaan en wag het om karavaan toe te gaan:  speserykoekies, grondboontjiebotterkoekies, vlakoekies en hawermout-crunchies. Ek moes groot word voor ek die eerste keer met outydse soetkoekies kennis gemaak het – straks was dit té outyds, té soet na my ouers se sin.

Studeerkamer, voor my geboorte

Meer as 40 jaar later word mense nie meer met die helm gebore nie, is spoke iets van die verlede nie. Miskien was alles versinsel om kleintjies uit die koekies te hou. Ek weet nie. My het dit nie gekeer nie. Ook nie my broer nie – by hierdie vertrek se houtraamvensters dat hy snags vanuit sy buitekamer ingeklim het om in die huis te kom kry, wat dit ook al was wat hy binne kom soek het.

d.      Kombuis

In ons kombuis is nie tee gedrink, of sover ek onthou, vreeslik om ʼn tafel gekuier nie, selfs al was daar ʼn kombuistafel met ʼn geel blad en blinkerige staalpote. Hier is kos gemaak. En elke Vrydag koek gebak. Ek is toegelaat om pens en pootjies op die werksoppervlak, langs die mengbak te sit. “Jy gaan siek word, moenie so groot lek nie, proe net.”

Om die geel kombuistafel met die masonite blad is verjaarsdagkoeke versier, kolwyntjies omgetoor soos geen eietydse bakker, noudat kolwyntjies weer ʼn modegier geword het, my ma dit vandag kan nadoen nie.


Van hier het ek saans vir Pa gewag om van die werk terug te kom huis toe. Eers het hy elke aand vir my iets in sy boonste sak gehad – maar later het dit iets geword wat net tot Woensdagaande beperk is. O, maar dit was spesiaal. Die kere wat dit ʼn blikkie Groovy was, was die este leste beste.

My broer sou donkiesjare later met wrewel in sy stem (en dan is wrewel ʼn sinoniem, beter woord en eufemisme vir baie ander) vertel hoe goed hy my wag onthou, die aande dat Pa nié gekom het nie, nie betyds gekom het nie, glad nie gekom het nie. Ek het tussen die sitkamer en die kombuis gependel. Sitkamer toe om deur die venster in die donker en die straat af te kyk wanneer kom pa se kar dan; kombuis toe om te hoor of die kar wat ek gedink het syne is, wel syne was. Sitkamer toe... kombuis toe... Uiteindelik, klaar gehuil, slaapkamer toe.

Ek het ʼn lang en lomp vergelyking wat ek iewers aan die begin of die einde sou inwerk, maar laat ek dit nóú doen, noudat die geleentheid hom voordoen.

Vir jare, jare na die egskeiding (trouens tot gister, eergister toe nie nuus kom dat die huis gesloop word) sou ek, hoor ek hoe my ma, of enige geskeie mens, vertel van hoe sleg hul huwelik was, kom met ʼn teenvraag, sommer ʼn hele stel teenvrae:

Julle kon tog nie só ongelukkig gewees het nie? Daar móés goeie tye ook gewees het! Dit hét immers op ʼn kol so goed gegaan dat julle in die huwelik getree het. Ek sien vakansiefoto’s, sorgelose, gelukkige tye. Julle hét iewers langs die pad kinders verwek. Moenie nóú kom staan en vertel dit was alles net sleg nie.

Ek kón dit nooit verstaan nie, tot Vrydag toe. Maar nou verbeel ek my dat ek iets daarvan begin verstaan.

Met my en 27 Telawarren straat is dit soos met die egskeidings waar daar van voormalige eggenote en eggenotes gepraat word soos hier bo impliseer word.

Ek besef dat daar inderdaad wel goeie tye saam was, dat goeie lieflike herinneringe opgebou is, dat daar selfs meer positiewe stukke onthou as slegtes kan wees.

Die geneuk is net – al is die mooi so baie en miskien selfs  soveel veer, is dit nie so sterk, so intens, soos die negatiewe nie.

Ek het wonderlike herinneringe aan die huis, baie, maar dit is nie een naastenby so intens, so groot en voorop in die geheue soos die negatiewe, slegte, grepe onthou nie.

Ek was destyds geraak toe ek hoor hierdie baken op die dorp gaan te wyte aan gierigheid en onbevoegde, onbeholpe, inkompetente munisipale bestuur gesloop word.

Ek was ontroer en is tot trane beweeg toe ek besoek aan die bouvallige dop gebring het – tot bouval gebring deur gierigheid, nie deur tyd nie.

Maar ontstel toe die nuus Donderdag of Vrydag kom dat die dorp se erfenisvereniging nié opgewasse genoeg teen die korrupsie en stiksienige kortsigtigheid van die wanbestuur aan stuur van sake was nie, was ek nie.

Niks kan of kon my aanspoor of beweeg om vir die plek in die bresse te wil tree nie.

Saam met die hartseer is ek heimlik bly en verlig.

Die letsels wat die huis gelaat het, sal lewenslank bly.

Vir my ma is lewenslank gelukkig reeds verby.

My eie pad vorentoe is ook baie korter as die een veertig jaar terug, 1974 toe, toe ek en my ma daar uit is.

Tog is dit of die finale afbreek van die huis ʼn mens, al is dit net simbolies, ʼn stap verder aan die finale afsluit van onaangename hoofstuk het.

Die Engelse praat van closure kry.

So dáárom teken ek nie protes aan nie.

Dit sou goed wees as ek, en miskien my broer ook, eerder kaalvuis gewapen met enige iets wat ʼn baksteenmuur moer toe kan slaan, kon afsit New Redruth toe om elkeen sy eie beskeie bydrae tot die afbreek van soveel meer as net ʼn baksteenmuur te lewer.

e.      Donkerkamer

Reg voor die donkerkamerdeur was ʼn baie groot luik in die dak deur na die solder toe. Die deel van die huis met die meeste en grootste bekoring. Ek is nóóit daar toegelaat nie. Ek kon hoogstens een of twee keer met leer opklim en in die geheimenis inloer.

Die mense wat die huis in 1978 vir R23 000 op die veiling gekoop het, het nooit die Moolman-goed op die solder verwyder nie. Ek het hulle twee keer besoek, iewers in die 80’s en een keer in die 90’s en hulle het dit op beide geleenthede genoem oor hulle mý die goed wou gee.

Ek het dit elke keer van die hand gewys.

Hoe ek die verkoopprys na al die jare so goed onthou? Dis eenvoudig. My ma het in 1979 toe die huis opgeveil is nie kans gesien om R23 000 vir die huis te betaal nie. In 1980 het sy toe 'n kleiner plek, 'n meenthuis, vir presies dubbel die prys gekoop. Dis 'n stukkie wiskunde en ironie wat ek nooit sal vergeet nie. Ek het baie kinders al aan die hand hiervan verduidelik wat hulle onder ironie kan verstaan.

Die donkerkamer self is so genoem omdat my pa hier sy foto’s ontwikkel het. Die grootste pakslae wat ek in my lewe gekry het, het ek hier gekry toe ek ʼn bak van sy chemikalieë in die bad wat daar ingebou was, laat uitloop het.


Die boosste van alle bose herinneringe sentreer ook rondom hierdie vertrek. Dis ʼn geluid. Die geluid van my pa se bos sleutels as hy snags uit hulle kamer, verby my kamer, in die donker afvoeter donkerkamer toe, daar gaan stil staan en sukkel om die deur oop te kry.

Dis hier waar hy sy drank opgesluit gehou het.

Erger nog, die geluid van my pa se sleutels, en my pa self, as hy later, probeer toesluit en terugstrompel kamer toe. Verby my kamerdeur regs langs hulle sʼn.

Hy het nooit lank in die donkerkamer gebly nie.

Maar ek sou daardie sleutels tot drie of vier en meer kere ʼn nag hoor.

Ek weet presies waar ek met my hamer sou gaan staan het, as dit nie was dat die bull dozers my voorgespring het nie.

f.        Spens

ʼn Huis met ʼn spens, ʼn volwaardige outydse spens. Dit sal lewenslank my begeerte bly om ʼn huis met ʼn spens soos ons spens van destyds te kan besit. Rakke van onder tot bo.

Al is dit reg langs die hell hole van ʼn donkerkamer, het ek van hierdie deel van die huis net positiewe herinneringe.

As al die vensters toe was, en my broer nie gesorg het dat die studeerkamervenster se knip gelig is nie, was hierdie spens se toiletgrootte venster die enigste een waardeur Klein Hansie ingelaat kon word om die kombuisdeur se jail lock van binne oop te maak.

Die kombuisdeur en regs van hom die spensvenster.
Ek het verlede jaar in die kombuisdeur gestaan, gemik en gedruk


g.       Spaarkamer

My ma het oornag grys geword. Letterlik oornag. En dis nie sommer net ʼn storie soos die spoke in die studeerkamer nie. Sy het hier oornag grys geword die nag nadat my pa sy goeie vriend, Oom Kobus, gekry het om my ma in te lig dat hy haar dagvaar vir ʼn egskeiding.

h.      Badkamer

“Mamma! Kom veeee my aaaaf!”

Ek was ʼn bedorwe klein brokkie. Wat meer kan ek sê.

i.         My slaapkamer

Ek het my imaginary friend se naam vergeet! Ek kan dit glo nie. Ek sien myself op die mat sit en speel. Ek hoor ons speel. Ek hoor hom terug praat. Maar verdomp of ek sy naam onthou.

My slaapkamer

Ek onthou van my nagmerries en my drome, beddegoed en gordyne.

Ek onthou selfs my kindertydse vrae oor goddelike uitverkiesing, predestinasie, en almag, weliswaar nie in daardie groot woorde nie. Ook my wonder oor die lewe en die dood, tyd en ruimte.

j.        Hoofslaapkamer

Hierdie vertrek was selfs groter as wat hy geteken lyk.

Hoofslaapkamer

Winteraande, somtyds, is die tafel wat ver anderkant, oorkant die dubbelbed, en later twee enkelbeddens,  gestaan het, se kantflappe opgeslaan en het ons as gesin hier geëet. Nee, die borde is nie in die kombuis voorberei nie – die opskepborde en –skottels is aangedra. Hier is volwaardig aangesit en geëet.

Daar ander onthou ook, onnodig om oop te krap.

ʼn Lekker onthou is die tradisie om my verjaarsdagpresente op die vloer uit te pak. Ek kan by ma, of ma-hulle toe daar nog ʼn dubbelbed was, inkruip, en word ek die volgende oggend wakker is dit net pakkies en dinge waar jy kyk.

Siembamba, soggens  oor die radio.

Ek onthou ook ʼn skildery, miskien was dit ʼn print, bokant die trousseau kis. Ek het nounet ʼn deeglike Google-soektog na de leste Tretchikoff-afdruk uitgevoer. Nee, is ek bly om te kan sê, dit was nié ʼn Tretchi-print nie. Maar elke keer as ek MM Walters se woorde van “Tretchikoff se blougroen meid uit Java” wat “solitaire, effek berekend” teen die muur hang, dan dink ek aan dié betrokke skildery in die slaapkamer.

k.       Hoofbadkamer

Piepie saam met pappa en wonder wanneer my tollewietsie dan eendag soos syne gaan lyk.

Hoofbadkamer

Hier het ek ook ʼn diamant weggebliksem wat my ma-hulle in ʼn poeierkwas weggesteek het. Dit was die jare van Reeva-cosmetics. En hierdie cosmetic-kwas kon soos ʼn vrou se lipstiffie in en uit draai. Pa het ʼn kwassie gehad waarmee hy sy kameras en lense skoon gekwas het. Ek het gereeld skelm my skylectric-motortjies met Ma se kwas skoongekwas, soos Pa sy kameras se binnekante. En so van die diamant ontslae geraak.

l.         Voorstoep

Hier het die lekkerste swaai, wat Pa self gemaak het, gehang. ʼn Lang ystertafel is hier staan gemaak en daai verjaarsdagpartytjie-koeke waarvoor ek op die kombuis se blad kon sit, is hier, onder die beaugenvilla voorgesit.

Voorstoep

m.    Slaapkamerstoep

Veselperskes had daardie jare nog vesels. Jy kon die pitte uitwas en droog, dan het die goed soos glug-poppies, waarvan die hare so wild gestaan het, gelyk. Hier was lekker son. Hier is veselperskepitte gedroog, modderkoekies en kleiosse.

n.      Buitekamers

Buitegeboue

Jac, my broer, het hier geslaap. Pa se draaibanke en ander houtwerkgereedskap het ook hier gestaan toe Jac eers uit is. Lekker male bonding tye met my pa hier gehad.

o.      Stoorkamer

Hier is 25-kg mieliemeel, suiker en broodmeel in sulke groot blikke met skewe deksels gestoor.

Buitegeboue vanuit kombuis

p.      Bediendekamer

Anna Mofokeng had hier ʼn bed op verfblikke.

q.      Bediendekamer-binnehof

In die binnehof het ek bolletjies pap met my hand kon rol en dit dan eet soos Anna.

r.        Hoenderhok

In my dae was dit in geen jare meer ʼn hoenderhok nie. Grassnyers en goed is daar staan gemaak.

s.       Vrugteboord

Pruime, appelkose, perskes.

t.        Klip

Langs die kraan was ʼn onmenslike groot en swaar klip. Dit is as verhoog gebruik toe Jac en Bev getrou het en twee groot markiestente in die tuin opgeslaan is vir die resepsie. (Resepsie? Het in jare nie die woord gehoor nie. Maar dis beslis die woord wat in 1973 gebruik is om na die onthaal, na afloop van die huweliksbevestiging, te verwys.

u.      Motorhuis

Dit was eintlik ʼn moerse Kaaps-Hollandse gewelhuis-afdak. Hier het die biltong en droë wors elke jaar inlieflike lang rye en reekse gehang. Hier is skaap geslag teen R25-00 ʼn skaap. Hier is hoender en vis oor geurige skaafsels in ʼn stukkende ou yskas gerook.

Hier is ook bier gestook. Ek weet wat dit 40 jaar gelede genoem is. Ek weet nie wat hulle dit vandag noem nie.

Motorhuis en bediendekwartiere

Happies en Boela en Lady, en al die baie ander honde, se hondehokke wat Groot Hans Moolman self aanmekaar geskryn en –timmer het, het ook hier staanplek gehad.

v.       Akkerboom

Onder die akkerboom, by die klip, op die stoep en in die vrugtebome het ek my maats baie gespeel.

Ek wou baie keer nie binne in die huis speel nie, het om die waarheid te sê in vrees geleef dat my maats wil in, kamer toe.

Pa het nooit vir weke aaneen snags met sy sleutels gangaf gestap, voor hy gaan lê het nie, vir lank gaan lê het nie. Dan het Slabberts-bottelstoor se afleweringswa daagliks voor die huis gestop, soos Springbok-apteek se motorfiets by ander mense se huise medisyne aflewer.

Jacques, Riaan, Andre, Marius, Alwyn, Pieter, Casjohan, Sean, dis hoekom ons altyd buite moes speel – my ma-hulle se kamerdeur was reg langs my kamerdeur.

Net ek en my verbeeldingsmaatjie, DIRKIE was sy naam! wat altyd en enige tyd hier kon kom speel.

Sien, dié huis wat vandeesweek platgestoot is, is jare gelde al gelyk met die grond gesloop.



Naskrif:

Ek lees hier hulle noem dat  my pa die huis in die vyftigerjare van die vorige eeu gebou het. Dit is nie die geval nie. Toe hulle in 1955 daar ingetrek het, was dit reeds een van die oudste, indien nie die oudste, huis in New Redruth.

Hier is hoe hy eers daar uitgesien het: