Pages

21.6.12

Wednesdays with Klarie

Dis wraggies ook darem maar nie maklik om 'n pa te wil wees nie.
Maar ai, dis so lekker!
Neem nou maar vanmiddag.
Ek was op die punt om te begin lees aan al die geykte uitlatings wat daar al rondom die belangrikheid en/of lekkerte van die klein dingetjies gemaak is. toe drie dinge gelyk gebeur:
(1)  Ek kyk hoe mooi my dogter lyk in die klere wat sy na ons huiswerk gedoen het,
      gaan aantrek het.
(2)  Sy sê:  “Dis Woensdag. Ek het kuns. Drieuur.”
(3)  Die koekoek koek luidkeels dat dit sopas drieuur is.
En hier sit ek, my skoene nog onder die tafel waar ons gewerk het, in my kouse, gedas en geserp voor die kunsklas in die motor en tik.
Kunsdag was twee jaar my dag, en daar was nooit probleme nie, maar vanjaar is dit Annieka se dag, meer as die helfte van die jaar nou al.
Maar vroulief is toe onder die werk en ek is nie net die gelukkige wenner van kunsdag nie, ek het elke dag hierdie week pasella gekry.
Nie dat ek omgee nie.
Dis net dat ek glad nie sal omgee as dinge soos kunsklas ons net so klein knertsie vroeër kan byval.
Maar dan moet ek seker ook nie kla nie – gelukkig het dit ons bygeval. Die een ander Woensdag hierdie jaar wat ek Klaradyn buite die gewone roetine op ‘n kunsdag onder my vlerk had, het die twee van ons eers 17:30 die agtermiddag onthou, en dit eers toe Mamma huis toe kom en vra hoe kunsklas was.
So ek kla nie – die adrenalien en hol op soek na motorsleutels was trouens net nog ‘n ekstra lekkerte van ons middag saam.
Ja, ek weet die meeste ouers ontwikkel gou ‘n probleem daarmee, maar ek is een van die ouers (daar is beslis nog ouers in dieselfde situasie as ek en Annieka) wat ‘n probleem daarmee het dat my kind vir die eerste sewe skooljare, nooit, nooit-ooit, nie eers een elke skooldagoggend, in ons huis, aan die tafel wat ek vir haar gedek het, ontbyt wat ek vir haar voorberei het, sal eet nie.
Waar sommige ouers teen middel graad 2 al effe keelvol is vir roereiers maak, krapperig raak oor kinders wat hul neus optrek vir ‘n sekere soort ontbytpap, of nie meer kan wag dat die kinders groot genoeg word om hul eie ontbyt te maak nie, is ek die teenmoorgestelde:  daardie wonderlike voorreg om ‘n beker melk oor die tafel vir jou kind aan te gee, om agter haar te staan en ‘n perfekte eier in haar bord te skep, was my nog nooit beskore nie.
En ek voorsien ook nie dat dit sommer voor graad 8 die geval sal wees nie.
By die skool het ek haar nog net twee keer gaan aflaai.
En die kere wat ek haar in drie jaar na skool by die klas gaan optel, tel ek steeds op een hand.
En dis hoekom ek op soek was na die verskillende maniere waarop ons mense al die gedagte kwyt geraak het dat die grootste lekkerte in die kleinste van klein dingetjies lê.
Iewers het iemand besluit dat die skool vandag en more (knap voor die skool vir die wintervakansie sluit) nie 13:00, soos in eksamen die geval is, uitkom nie, maar 12:00.
En tradisioneel  ek nou nie ‘n arbeider wat opgewonde raak oor ‘n uurtjie hierdie kant of daardie kant toe nie.
Die meeste mense was vanmiddag teen 12:10 al in die motors en weg, toe ek teen 12:30 skielik een en een bymekaar sit en besef:  Dis my middag om Klaradyn te neem, dis 12:30 en ek kan betyds wees om haar by die skool op te tel.
Ek bel Ouma summier en sê haar om tog asseblief nie gestamp te voel omdat sy nie vanmiddag haar kleinkind kan gaan optel nie, maar haar skoonseun gaan vandag sy eie kind by die skool op tel. En basta met die res.
En toe wag ek saam met die ander oumas, oupas, mammas en pappas van 12:40 af vir die skool se sekuriteitswag om die tennishek (waar ons ingaan) oop te sluit.
Die vorige, en ook maar net derde keer in twee jaar, wat ek haar gaan optel het, was twee weke gelede. Maar dit was nie so lekker soos vandag nie – ek het aan die gesels raak met verlede jaar se juffrou toe sien my kind my sonder dat ek haar sien; vandag het ek haar dopgehou toe sy en haar maatjie by die klas uitkom, kon ek die  verrassing en blydskap oor haar gedig sien sprei toe sy my gewaar – en was ek beter daarop voorberei toe sy haar tas neergooi, op my afstorm en in my arms spring!
(Dis hoekom ek niks na Vadersdag geskryf het nie – ek het elke dag Vadersdag!)
Geen keiser kon so goed gevoel het om in ‘n straat af te ry, soos ek vanmiddag met Klaradyn saam met my in die kar nie.
Onthou – ek sien nie eers my kind skoolklere nie. Ons laai haar soggens in pajamas by ouma af; vanmiddag is sy in speelklere as ek haar weer sien. So selfs om my dogter in haar winterskooldrag te sien, is ‘n belewenis wat hom slegs met hoogste uitsondering voordoen.
En daar beweeg ons deur die middag in perfekte sinchronisasie, asof ons op dieselfde golflengte ingestel is. In ‘n stadium, toe iets uitsonderliks vir ‘n oomblik in die apteek voor ons afspeel, het ek, toe ons eers weer buite is, net nodig om te vra,
“het jy...” en sy antwoord, “ja, ek het.” En ons altwee kry lag by die besef van hoe ons kommunikasie verloop.
My magtig – dis soos om verlief te wees: ons hoef nie eers in volsinne te praat nie, ons ken mekaar se gedagtes!
Ek voel ‘n rukkie later weliswaar soos ‘n propperse Dragon Daddy as ek 100 somme in Excel vir haar voorberei, maar swel darem as sy 97% uitmerk. Mamma sal trots op ons wees.
En so vergeet ons amper van die kuns en ek begin hierdie skrywe in die motor sonder skoene aan my gekouse voete.
Selfs die terugry, na kuns, is spesiaal. Die kunsjuffrou deel propperse borrelgom aan die einde van bykans elke les uit. Dis iets wat Klaradyn nooit by my of Annieka kry nie; daarom koester sy dit des te meer.
En daar raak ek op 47 na afloop van die les skoon jaloers op my 7-jarige dogter:  die kind blaas so waar as waaragtig groter en stewiger borrelgomborrels as wat haar pa in sy ganse lewe ooit gedroom het om te kon geblaas het!
Maar ek dink nie die fout lê by my nie – tegnologie en voedselwetenskap het so vooruitgegaan sedert ek so oud soos sy was, dat ek seker is vandag se borrelgom is net soveel meer elasties as die goed wat ons destyds geken het.
Intussen, na die silwer randjie van die agtermiddag ‘n reuse donker wolk rondom aandete gekry het en ek besluit het dat haar ouma haar maar more kan optel – ek gaan fliek, kom ek agter dat ek dit wat ek wou oordra, al in die verlede by herhaling aansienlik korter tuis gebring is.
En ek wou vertaal, maar daai wolk is so donker dat die lus nou uitgedoof is.
As we become curators of our own contentment on the Simple Abundance path... we learn to savor the small with a grateful heart.
Breathnach, Sarah Ban
Once I planned to write a book of poems entirely about the things in my pocket. But I found it would be too long; and the age of the great epics is past.
Chesterton, Gilbert
The happiness of life is made up of minute fractions -- the little soon forgotten charities of a kiss or smile, a kind look, a heartfelt compliment, and the countless infinitesimal of pleasurable and genial feeling.
Samuel Taylor
It has long been an axiom of mine that the little things are infinitely the most important.
Doyle, Sir Arthur Conan
For the person for whom small things do not exist, the great is not great.
Gasset, Jose Ortega Y
Life is made up of small pleasures. Happiness is made up of those tiny successes. The big ones come too infrequently. And if you don't collect all these tiny successes, the big ones don't really mean anything.
Lear, Norman
We can not do great things. We can only do little things with great love.
Mother Teresa
The thing that goes the farthest towards making life worth while, That costs the least, and does the most, is just a pleasant smile.
Nesbit, Wilbur D.
It isn't the big pleasures that count the most; it's making a great deal out of the little ones.
Webster, Jean
In plaas van vertaal, moet ek eerder aanhalings gaan soek wat klippe kan word om daai donderwolk rondom die aandete mee te bestook.
Hulle sê moes van ‘n huweliksverhouding:  Love is blind, but marriage soon restores the sight.
Nou van die liefde tussen ‘n ouer en sy kind wil en kan ek uit ervaring sê:  Ouerliefde mag blind wees, maar gelukkig is aandete gewaarborg om die gebrek aan sig baie gou, 100%, te genees.
Wat genadiglik darem daarby ook waar is, is:  aandete vat straks die blindheid weg, maar los darem gelukkig die liefde heeltemal uit, dit bly net so sterk staan.
Lief jou my skat. En jou ook, Mamma
Lekker slaap, girls.

PS: Toe ons haar vanoggend wakker sing met "more sluit die skole, Juffrou word gebore, in 'n blikkie bonde, sonder kop en tone, onder die peisangbome," toe vermurme my hart en verdwyn al wat wolk nog is of was natuurlik soos mis voor die son en ek herinner haar daaraan om vanmiddag op die uitkyk te wees vir my.

No comments: