Gisteraand was toe nou, wat die aandete betref, ‘n perfekte 50/50: daar was my gunsteling sop vir hoofgereg, Portugese hoendersop, en Annieka kon vir poeding in haar gunsteling, melkkos, weglê. Klaradyn was egter al een wat hierdie vreemde trefferkombinasie van ‘n ete 50/50, al om die helfte, geëet het.
Ek en Annieka het dit in die verhouding 70:30 baasgeraak. Selfs 80:20.
Die versoeking was groot om amptelik aan te kondig dat elkeen aan die tafel ‘n maaltyd van sy keuse kan saamstel. Maar toe weet ek, wat Klaradyn betref, sal dit wees soos om ‘n eerstespanrugbyspeler te laat kies tussen rugby en koor. Daar is mos nie ‘n manier nie, nie ‘n geringe kans, dat sy nie haar gunsteling sop sal prysgee vir melkkos nie!
En ons het immers gaste gehad – Sondagaand én Maandagaand, oorslaapgaste.
En dis waar die vreemde kombinasie van sop en melkkos vandaan kom – van ons gaste af; die sop was beplan vir Sondagaand, die melkkos in die pyplyn vir Maandagaand.
En terwyl ek Sondagmiddag met liefdevolle ywer en toewyding my hele self in die maak van die sop gooi, oorval ‘n ongekende nostalgie my.
Dan natuurlik ook nie die nostalgie opsigself wat ongekend is nie, maar die onberekenbare diepte, omvang en reikwydte daarvan.
‘n Vriendskap wat 30 jaar gelede sy oorsprong had, is immers wat ons huis in die gereedheidshouding vir gaste gehad het. (En ja, dis nie heeltemal 30 jaar nie, 29 om presies en meer as net polities korrek te wees, maar 30 klink net soveel langer as iets so beuselagtig soos 29.)
So terwyl ek ‘n opgekookte hoender se vleis en bene in twee duidelike hopies kry, loop my gedagtes ver en lieflike paaie terug. Te veel, te ver, en die spore te diep om hier te noem.
Maar elke keer, alle paaie lei mos maar Rome toe, eindig ek op in ‘n kombuis in Potjiesdorp. Tannie Joe se kombuis. Louise se ma se kombuis.
Dis ‘n studiegroepbyeenkoms, ‘n baie ernstige studiegroep se baie ernstiger studiebyeenkoms.
Daar word more Toneelkunde geskryf. Of Drama.
Party van ons is voor die boeke aan opsommings maak. Iewers sal ook ‘n tikmasjien wees, tien teen een ‘n eietydse Olympus, of so iets; beslis nie ‘n romantiese Underwood Portable nie. Dit was die dae voor persoonlike rekenaars, maar die Bib is oop tot laat en wat ons nie vanaand fotostateer nie, kan nog altyd more gedoen word.
Want eintlik skryf ons eers more aand.
En die dag is nog lank.
Sien, eintlik is ons hier vir Louise se plaatkoekies. Plaatkoekies met stroop en kaas, Marmite, konfyt, noem maar op.
Dit was beslis nie ‘n geheime, geslagte lange resep nie.
Tien teen een die tradisionele Kook en Geniet.
Dit was ook nie ‘n spesiale pan, gasstoof of iets soortgelyks nie.
Ek dink dit was suiwer Louise wat een aand voorgestel het om by hulle huis te gaan plaatkoekies bak.
En toe is dit ‘n lekker aand.
En toe doen ons dit weer.
En weer.
En nog ‘n keer.
Toe raak dit soorts van ‘n tradisie, ‘n ritueel. ‘n Lieflike, heerlike slegte gewoonte.
En nou kan ek 30 jaar later steeds nie aan Konstantin Stanislavski, Laban, of enige groot gees van die verhoog of syverhoog dink, sonder om nie aan Louise se plaatkoekies, die stemme, die musiek, die gemeensaamheid, die algemene white noise in die kombuis en om die tafel te dink nie.
Ook toe nou mooi op daardie punt toe ek myself so oor die hoender staan en verbeel ek ruik nie net die plaatkoekies nie, ek hoor en sien selfs vir Spyker, Lettie, Ian, Antoinette en wie ook al saam kom leer het, dat ek die pot sop amptelik moerland toe stuur en wonder of ons alles het vir ‘n ordentlike baksel plaatkoekies.
Ek het ‘n pan wat my ma seker 60 jaar gelede spesiaal deur ‘n ystersmid vir haar laat maak het – spesiaal vir plaatkoekies. In my ganse lewe het ek my ma niks anders op daardie plaat sien maak nie.
Tussen my pan, Louise se know how en Annieka en Klaradyn se voorliefde vir enige iets met stroop, kan dit mos net ‘n genoeglike aandjie uitdraai.
Daar wil ek toe sommer ‘n traan pik toe ek Louise vra of sy dan nie vir ons plaatkoekies wil bak nie.
Stomme vrou – sy het nou net amper 4 ure gery om hier te kom, sy wat net rustige plattelandse kronkelpaaie deur lowergroen woude ken, en hier steek ek haar, knap na sy met Gauteng se verkeersnetwerke en ander roekelose opeenhopings gekonfronteer is, in die werk om vir ons plaatkoekies te maak.
Ons moet natuurlik ook eers weer uit om die “kondimente” uit te brei: Bovril, appelkooskonfyt, kaas, stroop, regte botter. (As ek die Engelse no way sopas hier bo kon nie ‘n manier nie kan ek seker maar iets soos kondimente ook skep.)
Maar Louise het in geen jare plaatkoekies gebak nie. Dis al ‘n hele klompie jare dat sy vra of die kinders dan nie lus is vir plaatkoekies nie. En as hulle “ja” sê, dan stuur sy een van hulle om te gaan bak.
Maar, ai, mense, daar bak die vrou vir ons die allerkoninklikste van koninklike plaatkoekies. Elkeen ‘n kunswerk op sy eie, ‘n meesterstuk, nie net wat kleur en geur betref nie, maar ook tekstuur, en vorm, en elke denkbare kullinêre kwaliteit betref.
En daar stel die vrou ons toe bekend aan iets wat nooit in my lewe sou oorweeg het nie – ‘n ongewone, trefferkombinasie van Bovril en Appelkooskonfyt. Ek het die kaas-en-heuning-goedjies ingeryg asof dit uit die mode gaan gaan. En toe ek net mooi knuppel-trommel-dik is, toe dog ek laat ek dan maar een van die vrou se lawwe konkoksies probeer, net sodat sy nie in die gesig gevat voel nie. Ai, en daar vreet ek my ‘n tweede keer, trommel-knuppel-dikker nog as ronde een.
Louise is hier weg met ‘n laaste herinnering dat ons tog nie moet vergeet die kombinasie is van plaatkoekies afhanklik nie; dit werk glo net so goed op roosterbrood.
En roosterbrood is hoeka net ‘n kortkoppie agter plaatkoekies.
Danksy on trip down memory lane en die verbreding van my verwysingsraamwerk om nou ‘n nuwe soet-en-sout-kombinasie in te sluit, is ek nou eintlik spyt ons is straks nie eerskomende Sondag by die huis nie, want hier in Petoorsdorp sit drie Moolmantjies slaggereed om ‘n nuwe Sondagaand-plaatkoekie-tradisie van stapel te stuur.
No comments:
Post a Comment