Pages

7.6.12

Obsessiewe kompulsiewe neuroses

Iemand kom waar ek in die skool se ops-kamer sit en werk in en sing met oorgawe, daardie liedjie waarmee twee geslagte Afrikaanse kinders grootgeword het:

Iemand het 'n lappop op 'n ashoop weggegooi,
Sy was gedaan en stukkend, verbleik en nie meer mooi nie.

Op die ashoop hoor sy stemme praat
en die verwelkom haar,
maar o, ellende, toe sy kyk, wat sien die lappop daar:

net 'n vrot pampoen en 'n stukkende skoen,
'n grammefoonplaat en 'n kous sonder maat,
net 'n leë bottel bier, ‘n verlepte angelier,
'n gelapte binneband en 'n ou koerant.

Ag, hoe droewig voel die lappop, toe sy alleen daar lê,
want sy weet dat niemand ooit vir haar, vir lappop, meer wil hê nie.
'n Traan loop oor haar lappopwang, want dit begin te reën,
en daar lê sy, sy ou lappoppie, op die ashoop so alleen.

Net 'n vrot pampoen en 'n stukkend skoen,
'n grammefoonplaat en 'n kous sonder maat,
net 'n leë bottel bier, ‘n verlepte angelier,
'n gelapte binneband en 'n ou koerant.

“Ag, nee wat,” sê die lappop, “ek soek 'n ander oord.
Wat sal die wêreld van my dink, want soort jy weet, soek soort.”
Ag, wil, almal wil vir lappop troos en soebat sy moet bly,
hulle sê dis die mooiste ashoop die, wat 'n mens nog ooit kan kry —

Net 'n vrot pampoen en 'n stukkend skoen,
'n grammefoonplaat en 'n kous sonder maat,
net 'n leë bottel bier, ‘n verlepte angelier,
'n gelapte binneband en 'n ou koerant.

Al die goeters op die ashoop hou gou vergadering
en besluit om lappop te bekroon as die ashoop koningin.
Van toe af bly die lappoppie so trots tevrede daar
en al haar onderdane bedien getrou vir haar...

Ja,  'n vrot pampoen en 'n stukkend skoen,
'n grammefoonplaat en 'n kous sonder maat,
net 'n leë bottel bier, ‘n verlepte angelier,
'n gelapte binneband en 'n ou koerant.

Ai, mense, en vat dit my nie jare der jare terug nie.



Ja, daar is die tweede, jonger, geslag wat dink dat Die Lappop een van Tannie Carike se liedjies is. En dan praat ek nie van die outjies Klaradyn se ouderdom nie, daar is selfs youngster kollegas wat nie weet van wie ek praat as ek van Doris Brasch en Dawie Couzyn praat nie.

Vir ons was dit Tannie Doris Brasch. Sy het maar eers jare later sommer net Doris Brasch geword. En dit maak verder sin, toe ek eers ontdek hierdie vrou is net ‘n jaar na my ma gebore, 1929. En almal jou ma se ouderdom was daardie jare ‘n tannie, of hulle dit nou so wou hê of nie.

Ja, Doris Brasch is op 19 September 1929 gebore. Ek sal weet, want ek het gaan soek en uitvind. Sy is vroeg vanjaar op 82 oorlede.


Want dis mos nou maar hoe dit is, na die kollega eers die saadjie van die liedjie in my kop geplant het, toe skiet hy wortel. Dis nie drie minute later nie, toe sing ek van die vrot pampoen en die stukkende skoen, en twee van die mense wat rondom my werk, laat val ook dat daardie liedjie nou in hulle koppe draai.

Die liedjie draai in my kop, terwyl my kop ‘n draai gaan maak iewers in die baie vroeë 70’s van die vorige eeu. Ek was in graad 1 of 2 en Tannie Doris Brasch het in ons skoolsaal ‘n konsert kom hou – haar kinderliedjies. Ek onthou, wat daardie aand betref, nie van die mier wat besig is, die olifant of die eskimo nie – ek onthou net my gunsteling – Die Lappop.

So daar is ek toe nou weer op laerskool. Wat ‘n onskuldige, liewe naiewe kindertyd! Op ‘n Woensdag het Pa saans van die werk gekom en vir jou ‘n Groovy-koeldrank (die eerste koeldrank ooit in Suid-Afrika om in ‘n blikkie bemark te word) huis toe gebring.

En op ‘n ander aand is ons skool toe en het ons Lappop gaan luister.

Maar miskien was dit in die dag. Want saam met Doris Brasch kom ‘n ander naam by my op:  André Boje. Hy was ‘n kragman, ‘n baie sterk man. En ons is in die donker uit die saal uit en daar het hy, in die steen vierkant langs die saal, ‘n motor met sy bobene opgelig. Of miskien het sy vrou dit gedoen... En hy het die ding met sy tande, of sy nek, getrek. Ek kan nie onthou nie, ek praat van ‘n goeie 40 jaar gelede. Maar die naam “Andre Boje” onthou ek soos gister.

Ek het een van my André-maatjies (André Krogh) toe voortaan André Boje genoem.

Dis seker 30 jaar dat die naam nie deur my kop gegaan het nie. Maar op die maat van die has been pop wat nie die ingrypende veranderinge in haar lewe kan verwerk nie, word ek toe nou weer aan Andre Boje en sy vrou ook blootgestel. (Daar is inderdaad ‘n Andre Boje in Suid-Afrika, maar ek gaan nie die moeite doen om hom te teister en te vra of sy pa die Suid-Afrikaanse kragman van die jare sewemntig was nie.)

En so vat die Lappop my ook standerd 1 toe:  ek en Riaan en Hannelie het vir dae aaneen koerante in klein snippers geskeur, sakke en sakke vol, ek verbeel my selfs ‘n hele kamer vol. Ons het ‘n ogiesdraad-skoen gehad waarin Hannelie kon pas, en hierdie ogiesdraad-skoen, en nog etlike ander rekwisiete en stukke ogiesdraaddekor, is toe met papierpap toe ge-paper-maché. Ons het die skoen bloedrooi geverf en Hannelie was daardie jaar die bloedrooi stukkende skoen in haar jaargroep se item op daardie jaar se laerskoolkonsert. O, dit was mooi! Die grammefoonplaat was nie baie suksesvol nie – ‘n stomme kind moes homself staan maak tussen twee reuse swart geverfde Mariebeskuitjies, aan die een kant het die twee skywe ontmoet, maar aan die ander kant het dit oopgegaap sodat die kind hom- of haarself daarin kon wig..

Hannelie was toe in graad 2 en ek wou vreeslik graag ook in graad 2 wees, al was ek toe al in standerd 1, nét om iets op die ashoop te kan wees.

Ek was ongelukkig klaar 'n jaar ouer en 'n simpel boom in ons standerd 1-item.


My standerd 1-klasjuffrou was my beste maatjies, Riaan en Hannelie, se mamma. By hulle aan huis was dit ure en ure se papierpap aanplak en nog langer se verf – en in die stam was ‘n oop ogiesdraad stukkie sirkel waardeur ek met beperkte ogiesdraad-visie na buite kon loer. Maar niemand kon my sien nie, hulle kon net my stem hoor.

Ek verbeel my darem ek kon vir die amptelike foto agter die boom uitbeweeg en langs die bloody ding kom staan.

Ek sou “Veldsman” wou wees –‘n ander André-maatjie (André Taljaard) was “Veldsman” en ek was vreeslik jaloers op sy rol. Hy het oor die verhoog beweeg en mooi plaasboer-klere gehad om aan te trek, ook ‘n hoed en ‘n kierie! (Naas ‘n rolstoel, is daar vir ‘n kind niks lekkerder as ‘n kierie om op ‘n verhoog mee te speel nie.)

Ek en André het mekaar verlede jaar weer op FB raakgeloop. Miskien moet ek die feit dat ek destyds groen van jaloesie was na al hierdie jare aan hom loop bely.

En my kind? Nee, sy is ‘n sensitiewe een. Amper soos die meisietjie in een van PG du Plessis se Ko-operasie-stories, die een wat een mooi dag kan hóór hoe die boom wat die munisipaliteit in die pad afkap, huil met elke hou van ‘n byl wat hom tref.

Sy hou nie van die liedjie nie, en sy luister nie die liedjie. Ek dink nie eers haar nek was al mooi styf of haar fontanel heeltemal toegegroei nie, toe kom ons eendag in Ouma-hulle se televisiekamer op haar in die bank voor Tannie Carike se DVD af – en die trane stroom in stilte oor haar wange af, van al die baie opgehoopte hope  hartseer in hierdie liedjie van die lappop.


Fotobron op Wikimedia Commons

Ek wonder hoe sal sy eendag reageer op daardie ander lappop wat ons in Afrikaans het, Ingrid se lappop, in 1956 opgeneem in haar bundel Ontvlugting:

Lied van die lappop

Ek is die lappop wat nie praat
en maak net op jou liefde staat

Saans lê ek blind en stil en doof
en lig nie meer my semel-hoof

My hande roer nie en my lyf
word met jou weggaan koud en styf

Sonder jou hulp kan ek nie loop:
jy het my sommerso gekoop

en sal my nog een Guy Fawkes-nag
goedmoeds verbrand en daaroor lag.

Ek is die lappop sonder gees
My pyn jou luid gevierde fees.

No comments: