Pages

16.8.13

Stukkende skoene tussen vrot pampoene



Ek verbeel my dis die Russe wat die spreekwoord het:  uiteindelik word jy wat jy was.

Hoeveel spreuke het ek nie al in my leeftyd gelees nie! Ek lees die goed soos ek Kuifie en Asterix lees – asof dit soetkoek is. Ek koop spreekwoorde-boeke en wissel dit tussen die boeke langs my bed af.

Daar is letterlik honderde spreuke en uitdrukkings wat ek al vergeet het, wat ek nie eers sal herken as ek dit weer moet raakloop nie.

Tog bly hierdie een van die Russe my nou al jare lank by.

Miskien is dit die skynbare teenstrydigheid daarin.

Aan die ander kant weet ek dis ook meer as suiwer die paradoks – eerder ook omdat ek die strekking van die spreekwoord so dikwels in myself en my eie lewe herken.

Hoe gereeld gebeur dit nie dat ek myself in my gedagtes aanspreek en sê:  Uiteindelik word jy wat jy was, Hans Moolman.

So het my Tannie Anne van my nefie (wat goed 16 of 17 jaar ouer as ek is) ‘n paar leerskoentjies gehad wat sy lank voor my geboorte laat verbrons het.

Nou as jy Tannie Anne geken het, sal jy weet dat daar uit haar kombuis en spens vir ‘n klein seuntjie soos Klein Hansie nooit iets wonderliks sou kom nie – die vrou kon rys kook en vleis verbrand, dis al.

Troeteldiere het sy en haar man, Uncle Chappie, ook nooit gehad nie.

Die wonderlikste ding vir my, kuier ons by hulle (iets wat sommer baie gebeur het) was daarom my nefie (wat al ‘n groot man en uit die huis uit was toe ek my verstand gekry het) se reeds genoemde verbronsde paar kinderskoentjies.

Teen die tyd dat ek klaar met die grade was, en meer as een standerd agter die rug had, het ek daardie skoentjies al stukkend gespeel.

Moet my nie nou vra wat ek alles gespeel het nie, ek weet net dat ek die goed nie uit kon los nie. Ek sou van hierdie plastiek oorlogsmannetjies daar indruk, en dan word die skoene tenks en pantserwaens vir die troepe.

In die hande van ‘n verveelde seuntjie by sy mamma se suster en swaer kon dit twee vegvliegtuie word, koeie, renmotors, noem maar op.

Met die voorpunte van die sole wat so effe opgelig het, ook die gladde oppervlak van die onderkant, was daar min dinge wat só lekker op en af en heen en weer oor bedspreie en tapyte kon gly, soos daardie twee ystersandale.

Boonop was dit sommer net lekker om na te kyk ook; maar kyk soos ‘n kind kyk – met die handjies kyk, beslis allermins nie nét met die ogies kyk nie.

Die goed was later van jare skoon voos gekyk van al Klein Hansie se gevat.

Dit was ‘n paar sandaaltjies, met gespes, die soort met die tradisionele geweefde leerstroke oor die tone en brug – op hoërskool het ons van flat boy sandals gepraat.

My nefie se skoene het amper soos
die paar daar links bo gelyk.

Hier teen die latere jare se kant het die oorspronklike leer al weer plek-plek uitgesteek, sou jy selfs die een, styf-styf,  by die gespe rond kon losmaak.

Vir my het dit egter die mooiste en spesiaalste in die hele huis gebly.

Uncle Chappy was ‘n Jood, en dis heel moontlik dat ons vandag van die spreekwoordelike wandelende Jood praat, suiwer op grond van Uncle Chappy wat die oorsprong en rolmodel van die uitdrukking was. Hy het in ‘n stadium vreeslik van werk verander, en daarmee saam van huis. In hierdie tyd het Tannie Anne-hulle op ‘n kol binne die bestek van 18 maande op 6 verskillende plekke gebly.

As ek mooi dink sal ek presies kan sê op watter tafeltjie en waar in watter kamer van elkeen van daardie blyplekke het dié skoentjies waarvan ek so baie gehou het, gestaan. Op van die plekke was dit in die sitkamer, by ander het dit staanplek in ‘n studeerkamer gekry, die hoofslaapkamer, en selfs die spaarkamer.

En toe word ek, soos die Russe, wat ek was:

Klaradyn het skaars haar babaskoentjies ontgroei, toe sit ek daarmee af na die mense wat te koop loop met die feit dat hulle hierdie klas van dinge uit my kinderdae van meer as veertig jaar gelede, in vandag se dae kan lewer.

En nee, ek neem nie een paar nie, ek vat sommer twee. Ietsie piouter en ietsie brons.

As rooi- en geelkoper verdere opsies was, sou ek seker vier paar skoentjies geneem het.

Naaste aan my váderhart is die mokassins wat ons in die Baai gekoop het toe Klaradyn 18 maande oud was en ons by Van Stadensriviermond vakansie gehou het. Ek sê ook nou mokassins, maar dit staan bekend as shooshoos, sulke lief en dierbare goedjies vir lief en dierbare dogtertjietoontjies.


Naaste aan my kínderhart is die skoentjies/sandaaltjies wat ons ‘n paar maande later aangekoop het. Omdat dit suiwer ‘n dogtertjie-weergawe is van die seuntjieskoentjies wat my nefie sowat 50 jaar tevore gedra het. Ek dink nie Klaradyn het die skoene drie maal in haar lewe gedra nie. Dis gekoop op ‘n ouderdom wat hulle vinnig groei en dit eintlik geldmors is om enige duur leerskoene te koop, maar ek móés dit net koop, omdat dit my so baie aan daardie verbronsde goedjies uit my kinderdae herinner het.


Annieka is nie noodwendig gaande oor die goed nie, en hoe meer sy dit in ons kamer wil onderspeel, hoe meer sorg ek dat dit prominent uitstaan. Skuif sy dit agtertoe, bring ek dit vorentoe; vat sy dit af, bring ek dit op. So hou dit nou jare aan.

Noem my maar kommin met ‘n k, ek gee nie om nie.

Dieselfde mense wat skoentjies vir my verbrons het, verbrons ook gips afgietsels van baba se hande en voete. En ek dink dis kommin verby, ek ril en deins weg by die aanskoue daarvan.

Maar nie my skoentjies nie, nee, dis nie common nie – ek het bloot uiteindelik maar net geword wat ek was.

Na my ma seker so 15 minute dood was, het die ouetehuispersoneel saggies geklop en heel bedees kom vra of ek ‘n oomblik sal uitgaan, hulle wil die lyk “voorberei”.

Ek is toe maar uit en het gewonder wat dit nou alles kan wees wat hulle wil doen.

O, wee, en toe ek terug kom toe het hulle ‘n waslap onder haar ken opgerol dat haar mond nie oopval nie. En daar lê die dierbare moeder van my met ‘n ken en onderkaak wat in plek gehou word deur ‘n waslap in ‘n ronde drol gerol. Maar dis niks nie, ek kon dit bloot wegvat, hulle het egter verder gegaan en die lyk versier deur drie of vier plastiek blomme in haar hande (wat hulle op haar bors saamgevou het) in te druk. Daar lê my ma, wat haar lewe nie juis vat kon kry aan ‘n plastic imitation flower of any kind nie,  toe nou met hier monsteragtige oranje gedrogte op haar bors.

Natuurlik het ek haar en myself daarvan verlos.

En al het onse mense nou al vir donkiesjare nie meer ‘n kis op die solder waarin ons elke dan en wan kan gaan lê nie, het ek myself darem al male sonder tal in die verbeelding self so dood op die bed sien lê. Die prentjie van myself in my kop, laat natuurlik nie ruimte vir ‘n bossie plastiek blomme nie, nee, ek het in my hand, niks anders nie as ‘n paar van Klaradyn se skoentjies!

Annieka weet ook: ek word met die goed begrawe. Nie vir stof en roes en mot om dit by te kom nie – miskien word daar eendag vir my die uitsondering gemaak dat ek dit met my kan saamneem.

Wat egter nie ‘n miskien is nie, maar ‘n feit, is dat ek, sou ek eendag die geld en voorreg hê om ouetehuis toe te gaan, die drie skoentjies, so seker soos ek leef, saam met my sal neem.

Drie?

Ja, ongelukkig net drie.

Die een moes ‘n maand of wat gelede van die kassie langs my bed afgeval het.

Ek het dit dadelik gemis, maar gereken dat Klaradyn seker met die een gespeel het – ‘n drawiegie vir ‘n poppie of iets, byvoorbeeld.

Toe ek teen gister darem nou ook al lank genoeg reken dat lank genoeg nou lank genoeg is en dat sy my skoen gerus op sy plek kan kom terugsit, moes ek hoor sy het hom nooit gehad nie.

Dis duidelik soos daglig wat gebeur het – die kamer se snippermandjie staan direk teen die kassie, aan die teenoorgestelde kant van waar die bed staan. Die skoen het ongetwyfeld van die kassie af, reguit in die mandjie geval en sy weg vullishoop toe gevind.

Hoe sleg dit vir my is, kan en wil ek nie in woorde omsit nie.

Dis aardse goed ek weet, maar my brose hart is nie aards nie, dis vlees en bloed, van gevoel en emosie en liefde en onthou aanmekaargesit.

Vir die res van my lewe is daar, onder andere langs my bed,  nou ‘n gat wat met geen pleister toegeplak kan word nie.

Ek het geen probleem daarmee om uiteindelik te word wat ek was nie, maar as daardie voorreg en geleentheid om ordentlik en voluit te word wat ek was, my ontneem word, is dit nie vir my lekker nie. Ek het daar geen behae áán of ín nie.

 

1 comment:

Anonymous said...

“Werde der Du bist” het Friedrich Nietsche (1844-1900) meen ek, in sy boek: „Also sprach Zarathustra“, geskryf. En my liewe ou man het altyd die kerk waaraan ons behoort en alle Christengelowiges in die Apartheid-era toegeroep: „Wees dit wat julle bely om te wees!“
Nou die dag het Fouché de Wet van ons kansel af `n preek gelewer waarvan ek glo nie baie wat dit gehoor het, dit sal vergeet nie.... Hy het `n bekende sjokolade saamgebring kerk toe en gesê hy gaan dit nou self eet.... wat hy toe doen. En terwyl hy dit so stadig in sy mond laat smelt, maak hy al die tyd sulke smullekker-geluide en beskryf deurentyd wat hy proe.... Vra toe wie het lus geword – natuurlik, almal. En sy toepassing was, Leef SO, sodat andere lus word om soos jy te leef!
Dankie vir jou stuk. En hou so aan! Baaizewy – ek het nog my eie verbronsde skoentjies – en ek is 78 jaar oud!! Annemie