Pages

5.8.13

'n "Moederhart," soos Ouma van Wyk dit genoem het



Klaradyn sal dan nou lewenslank net Klaradyn bly.

Ek en my broer is lewenslank net ek en my broer.

Maar benewens nou vir ‘n miskraam of wat, was ons twee, was dit nie vir die stil geboorte ‘n klompie jare voor my geboorte nie, so ampertjies drie, en het ons ‘n sussie gehad.

Ek weet van hierdie sussie bitter min; nie eers wat haar naam sou wees nie.

Sy is die somtotaal van enkele telegramme en kaartjies toegedraai in pers lint in my ma se kas, en ‘n speelding of twee waarmee ek groot geword het (en toevallig steeds het) wat ek van die begin af weet vir my doodgebore sussie bestem was.

Daar is seker ‘n mediese naam daarvoor, maar ek het grootgeword met die verstaan dat die naelstring om haar nekkie gebind was toe sy in die geboortekanaal afbeweeg het en verwurg het voor sy die eerste lewenslig kon aanskou.

En dan weet ek ook dat dit vir my ma verskriklik was, sy het die baba nooit gesien nie, en toe sy uit die hospitaal ontslaan is, toe is die mondeltjie lankal klaar begrawe.

Hoe ek aan die storie gekom het? Die sny op Ma se maag, hoe anders?

Ja, na hierdie tragedie, toe ek na een of twee miskrame later my ma-hulle se jongste word, was dit ‘n keisersnee.

En kinders het mos die geneigdheid om oor sulke snye uit te vra.

My ma het my vertel en hoe hulle nie die gevaar van ‘n herhaling met my geboorte wou loop nie.

Ook dat dit, soos met my sussie, Koos Koekies was wat gehelp het met die bevalling.

Waar Koos Koekies aan sy naam gekom het, het ek nooit gevra nie. Ek het al die jare maar gedog sy naam is Koos Koekies, soos ek Hans Moolman en jy byvoorbeeld Riaan Poggenpoel is.

My ma het my ook nooit vertel nie; ek het maar soos die jare aangestap het en my woordeskat en verwysingsraamwerk uitgebrei het, een en een bymekaar gesit en begin verstaan waarom my ma altyd so effe gelag het as sy van haar ginekoloog, Koos Koekies, gepraat het.

Dat my ma nooit “closure” gekry het oor die stil gebore sussie van my nie, is te verstane. Sy het genoem dat sy nooit eers die graf kon gaan besoek nie. Die een oomblik het sy nog nege maande saam met die gehad, en die volgende oomblik was daar niks, nie eers ‘n gesig of ‘n kreet en enige beeld van welke aard ook al nie.

Ek het destyds gewonder of sulke babetjies ooit begrawe is.

Hoe sal ek ooit weet.

En toe lees ek nou die anderdag die volgende opmerking op ‘n vriendin se tuisblad:

18 Julie om 09:57 NM op BlackBerry ·

Akward moment- Wanneer jou kind se maatjie se ma regtig nie van jou hou nie. En jy moet haar bel vir 'n oorslaap-aand. Ek ondersteun my kind se keuse in maats. En aan die ander kant, dis eintlik snaaks hoe hard die ma's probeer hoflik wees met mekaar. Sy kon net nie help om 'n mismoedige "O dis jy" sê toe sy hoor dis ek wat haar skakel nie. Ek moes keer om nie te lag nie.

En dit het my gedagtes ver terug laat gaan.

Soos enige iemand wat die opmerking gelees het, kan voorspel, begin my vertelling met iets soos:  “Ek het ‘n maatjie gehad.”

Maar dis die vertelling, my vertelling; die stórie begin egter ‘n hele klompie jare vroeër, selfs nog voor óf ek, óf die maatjie se geboortes iewers in 1964, die nag toe my ma letterlik oornag grys geword het.

Die storie begin selfs enkele maande voor die naelstring om die sussie wat ek toe nooit gehad het nie, se nekkie gestrik het.

My broer was op die punt om laerskool klaar te maak, of het hoërskool pas begin; ek sal nie weet nie; in al hierdie jare was daardie stukkie van sy geskiedenis, my voorgeskiedenis, nog nooit deel van ‘n enkele van ons gesprekke nie.

Miskien moet ek hom vra of daar ‘n begrafnis was.

En al het ek my verstand gekry met die storie van Ma wat oornag grys geword het (of dit waar is sal ek nie weet nie, dit het voor my geboorte gebeur) het ek die res van die storie stuk-stuk, en ook maar net ten dele, gehoor teen die tyd dat ek self klaar met hoërskool is; ek dink trouens ek was al klaar studeer en uit die weermag passeer voor my ma my agter die kap van die byl ingelaat het.

Die maatjie het ek egter op laerskool al leer ken, ons was twaalf jaar saam op skool, so dis heel moontlik dat ons nog saam in dieselfde graad 1-klas was.

Hy het sowat ‘n minuut se stadige stap van die laerskool se een hek gewoon.

Beste maatjies was ons nooit, goeie laerskoolmaats wel. Ons het oor en weer gespeel, verjaarsdagpartytjie gehou en ek onthou veral hoe lekker dit was om by hom aan huis te gaan swem.

Sy pa kan ek glad nie onthou nie. Ons het nie Saterdae gespeel nie; kuier was tot smiddags na skool beperk. En dan het die Tannie by ons kom tee drink as sy hom kom optel het, of my ma het daar by die Tannie tee gedrink as sy my kom optel het.

Later jare, toe my ma en haar suster ‘n rokwinkel gehad het om ‘n inkomste te genereer, het die tannie, onthou ek reg, ook van tyds tot tyd by ma klere gekoop.

Maar dat dit hierdie tannie was, my maatjie se ma, wat my grys hare gegee het, het ek daardie nooit geweet nie.

Ook seker nie tannie nie, maar eerder dan my my peetpa, Oom Kobus, wat haar die grys hare gegee het.

Want dis my peetpa, Oom Kobus, wat by hulle gekuier het, wat my pa ingestuur het na my ma toe, ingestuur het na my ma toe terwyl sy reeds hoog swanger was met my sussie, met die nuus dat hy van my ma gaan skei sodra die kind gebore is – hy het ‘n verhouding met een van sy sekretaresses en sy gaan ook haar man los sodat hulle twee die toekoms wat hulle vir hulle begin het, kan voortsit.

Kinders weet mos nie van letterlik en figuurlik nie – die beeld wat kleintyd in my kop gevorm is, is dat ma oornag grys geword het, sy het met haar hare nog bruin die aand kamer toe gegaan en die volgende oggend, na oom Kobus se gesprekvan die vorige aand, grys, spierwitgrys, wakker geword.

Miskien was dit nie die geval nie, maar feit bly staan dat sy in hierdie tyd spierwit grys geword het en ons gesin dit lewenslank gehad het dat dit van skok was.

My pa self het nooit eers ‘n wederwoord gespreek as sy laat val het dat sy mos oornag grys geword het nie.

Sy wou die ongebore kind wat in haar groei natuurlik nie meer gehad het nie. (En dis toe sy by hierdie deel van haar storie kom, die een enkele keer wat sy my dit vertel het, ek was al groot en uit die huis uit, dat sy begin huil het, grote, uitgegroeide, volwasse vrou wat sy was. Seker twintig of vyf en twintig jaar na die gebeure.)

Nie net wou sy die kind nie gehad het nie, sy wou sélf nie eers meer lewe nie.

Sy het met ‘n huisvriend, Oom Kobie Moller, gaan reël om na haar enigste kind, my broer (ek sou mos eers later kom) te kyk.

Die selfmoordgedagtes klink dalk melodramaties, ek weet, maar my was ‘n mens, was sy vandag ‘n tiener, wat vroeg met depressie gediagnoseer sou gewees het en miskien nog lewenslank medikasie daarvoor sou ontvang het.

Maar in die jare toe sy ‘n tiener en jong vrou was, was daar nie goed soos depressie en gemoedsversteuring nie. Sy was trouens al sestig, op pad sewentig toe, toe sy een dag ‘n tydskrifartikel oor die toestand onder my neus druk, met haar vinger wys en sê:  “As dit wat daar staan, waar is, dan lei ek my lewe lank aan die ding wat hulle daar beskryf.”

Ek het afgekyk en gesien hulle lys ‘n spul simptome van die ding waarvan my ma altyd gesê het ”daar is nie so ‘n ding soos dit nie.”

Ek kon geantwoord het dat ek haar al twintig jaar vantevore kon gesê het sy lei aan depressie, maar ek het nie.

Twintig jaar later het gedink sy móés net sê dat daar nie so iets soos depressie is nie. Dis immers beter om die blote bestaan daarvan te negeer, as om te moet erken dat jy al vir jare daarvan las het.

Na die stil geboorte het daar van die egskeidings niks gekom nie, nóg van haar en my pa se egskeiding, nóg van my pa se een sekretaresse en dié se man.

‘n Jaar of wat later het elke gesin besoek van die reier gehad en sewe jaar later is die twee seuntjies skool toe gestuur.

En daar wil die noodlot dit hê dat die twee maatjies word, nie beste maatjies nie, maar goeie maatjies wat oor en weer kuier.

En in die vyf of ses jaar wat ons oor en weer gekuier het, in die vyf hoërskooljare wat ons uit mekaar gegroei en elkeen sy eie rigting ingegaan het, het my ma niks, maar niks laat blyk dat dit hierdie maatjie van my se mamma is wat die derde party in haar huwelik met my pa was nie...

Met watter herinneringe moes my ma nie die vrou by ons in die huis innooi as sy haar seun kom optel het nie? Hoe moes my ma nie voel, elke keer as sy daar gestop het om my op te tel nie? As ek gevra het om by hierdie maatjie wie se mamma ‘n ruk gelede by my pa op kantoor gewerk het (dit het ek darem van die begin geweet) te gaan speel?

Wat ‘n ma se liefde vir haar kind, in besonder ons ma, Judith Jacoba Moolman, se liefde vir my en my broer, nie alles moes akkommodeer nie, gaan op amper 50 steeds dikwels my verstand te bowe.

Ek het seker ‘n goeie dertig jaar gelede al in my kop ‘n metafoor daarvoor gekry: ek het gesê, en sê dit steeds, my ma sal (of dan nou sóú) die klere wat sy aan haar lyf het, op straat van haar lyf af, verkoop, solank sy net weet dat die handeling van haar in belang van my of my broer is.

Dan het ek die prentjie van my ma en ons gesin as ‘n Europese slagoffer van die Tweede Wêreldoorlog gesien. Ek het gesien hoe sy, altyd in beelde van ‘n swart-en-wit fliek, deur die puin loop op soek na kos vir haar twee kinders. Dan is daar iemand wat haar ertappels te koop aanbied. Omdat sy egter nie geld het om te koop nie, is dit dan wat sy die klere onder haar verslete jas, helder oordag en ten aanskoue van almal, uittrek en vir die een met die ertappels gee.

Sodat Hansie en Jacie kos kan hê om te eet.

Daardie selfde liefde herken ek vandag, noudat Judy al amper twee jaar nie meer met ons is nie, dikwels ook in Annieka.

Ek was, en Klaradyn is, twee baie gelukkige kinders, geseën met wonderlike mammas.

 

No comments: