Dat ek toe nou amper 50 moet word voor ek vir die eerste keer in my lewe kopkool gaar maak!
Waarom tot op amper 50 wag?
Dit hou seker verband met die feit dat ek dit nooit ooit by my ma aan huis geniet het nie. Party van die goed wat sy nooit gemaak het nie, is vandag van my gunsteling gunstelinge.
Soos mieliepap byvoorbeeld.
Iewers tussen standerd 3 en standerd 8 (na ons uit die huis uit, maar voor ons in die meenthuis in was, weet ek het my ma ‘n enkele keer vir die huisbediende gevra om vir haar ‘n stywerige mieliepap aanmekaar te slaan. Daardie aand sny die mieliepap toe in dikkerige vingers en draai daar repies spek om. Toe daardie spekvleis vingertjies pap ‘n rukkie later uit die oond kom, toe sit ons met die lekkerste smulhappies denkbaar.
Dit was egter nie net die eerste keer nie; dit was ook die laaste keer.
Ons het nie eers mieliepap vir ontbyt gekry nie. Ek vermoed dis omdat mieliepap vir haar soos koshuiskos wat ‘n mens eers as jy uit matriek is, nooit weer wil eet nie, was. Dis net dat my ma haar ganse lewe nooit in ‘n koshuis was nie! Sy moes eenvoudig net te veel daarvan as kind ingekry het, en toe sny sy dit heeltemal uit haar verwysingsraamwerk uit , die oomblik toe sy groot en oud genoeg word om haar eie sê te hê.
En na ‘n kindertyd met ‘n enkele keer se pap aan moedersknie en –huis, is mieliepap vandag een van daardie goed wat ek drie keer ‘n week, drie keer ‘n dag sal eet sonder om te kla. Stywepap, slap pap, poetoepap, krummelpap... pap en melk, pap en sous, en as daar nie sous is nie, pap met botter en kruie en allerhande speserye, pap en gerasperde kaas, pap en Marmite, en in sy eenvoudigste vorm: pap met ‘n knippie Aromat. Koningskos.
Maar dan is daar ook ander goed wat jy nooit as kind leer ken nie, en dan as jy groot is, as jy self die dag jou eie sê ontwikkel het, ook nooit by uitkom nie. Onbekend maak nie onbemind nie, dit bly bloot onbekend. Soos in my geval met kopkool loop gebeur het.
Anders as met mieliepap wat darem eenmalig tegelyk ‘n debuut én swanesang in die kombuis gehad het, het ‘n kopkool, in watter vorm ook al, nie ‘n enkele keer die oond, of die yskas getref nie. Ja, nie eers die yskas in daardie moerby slaai van koolrepies, mayonnaise en ‘n rosyntjie of wat nie.
So stop jy my ‘n kopkool in die hand, sal ek nie weet wat om daarmee te maak om daarvan ‘n dis te maak nie. Kopkool is vrouens wat met pynlike rede sukkel om te borsvoed, maar wat en hoe, hoeveel en wanneer, hoeveel keer en hoeveel keer nie, weet ek nie.
En dis vir haaskos.
Dis ook hoekom ek een of twee keer ‘n week vir meer as twee jaar nou al met ‘n kopkool by die huis aankom.
Nie vir mastitis nie, vir Klaradyn se konyne. Of is dit nou haar hase? Ek weet daar is ‘n verskil, en ons het twee van die een en nie van die ander nie. Maar watter een wátter is, en wat dit is wat ons het, weet ek lankal nie meer nie.
Aan ‘n heel groot kopkool teen R8-00 by Uitkyk-slaghuis gekoop, eet die hase/konyne ‘n goeie vier keer van – ek sny die ding in kwarte en Klaradyn dra dit saans hok toe aan. Die meeste R8-00-kopkole koop ek egter by Spar, en aan hulle eet die troeteldiere net twee keer, met hoogste uitsondering miskien drie keer.
Die ding egter self gaarmaak? Nooit.
Tog moet dit iets wees wat Suid-Afrikaners baie gaar maak; daar is oralster, áltyd, báie van op die rakke. En ek laat my nie vertel dat dit alles deur sotte soos ek vir troeteldierkos aangekoop word nie.
Waarom dan amper 50 word, ‘n amperse 50 waarin jy dit ampers nooit geëet het nie, en dan skielik eendag uit die bloute met twee oorgewig kopkole by die huis aankom, een vir die wollerige wit goed in die hok buite die huis, en een vir jouself, jou vrou en jou kind.
Ek wend Maandagoggend 06:00 tot Vrydagmiddag 14:00 ‘n doelbewuste poging aan om gesond te eet. As dit nie was dat ek ‘n dieet met die afweeg en afmeet van porsies kos assosieer het nie, sou ek kon sê dat ek op ‘n baie streng dieet is.
Maar nee, ek meet of weeg niks af nie; ek sorg net dat ek gereeld en gesond eet. Vyf keer ‘n dag as jy die pouse-vrugte en agtemiddag-vrugteporsie as peuselhappies byreken.
En al sit ek nie my kos op ‘n skaal nie, sorg ek dat ek self elke oggend op een klim, met ‘n pen en papier, om die vordering (of omvang van die naweek se terugslag) aan te teken.
En na drie weke begin ek toe uit groente hardloop. Ek kan twee keer ‘n week spinasie eet, ek kan drie keer ‘n week spinasie eet. Ek kan spinasie en groenboontjies al om die beurt afwissel. Nie Annieka nie. Ook nie Klaradyn nie.
Hulle sal botterskorsie, skorsie en pampoen, al om die beurt, élke keer met kaneelsuiker, wil eet. Ek nie.
Saam met die soeke na ‘n nuwe groente vir die gesinsmaal, verdrink ek toe boonop week lank in heimwee en nostalgie.
Dit alles begin met ‘n Facebook-vriendin wat ‘n foto uit haar kinderdae op Facebook plaas. Ek en sy het seker vir ses of sewe jaar van ons lewens smiddaes na skool om dieselfde tafel broodjies vir middagete voorberei. Gesmelte kaasbroodjies, met grypie blatjang op die brood gesmeer, en katjiebotter-met-appelkooskonfyt-broodjies was my twee gunstelinge.
So nou en dan, hoogstens op ‘n Vrydag, en ook nie elke Vrydag nie, was daar ‘n geheime verbode lekkerte: ‘n broodjie met DRIE goed op – katjiebotter, appelkooskonfyt én kaas; blatjang, gebraaide skyfies polonie én gesmelte kaas.
O, dit was die lekkerste van lekkerstes, daardie rojale broodjies, met nie twee goeterstes daarop nie, maar DRIE. Dit het gewone kos, koningskos gemaak.
Haar foto neem my toe meer as 35 jaar in ons gedeelde verlede in, en oor ons die vorige naweek deur Warmbad (waar haar Ouma gebly het, en ek hoeka toe teruggedink het aan die kere wat ons daar by haar Ouma gekuier het) gery het, klim ek toe weer in my gedagtes saam met hulle in die pruimkleur Mercedes Benz en sit af Warmbad toe vir ‘n heerlike kindertyd kuier by hul Ouma.
Sy was ‘n ouma in ‘n rolstoel, en ‘n voorslag kok. En sy het die lekkerste kopkool gemaak wat ek ooit in my lewe geëet het. Behalwe vir die weermag en die enkele koshuisetes wat ek in my lewe gehad het, dink ek sy het, nie net die lekkerste kopkool in my lewe gemaak nie, maar ook die enigste kopkool ooit in my lewe gemaak.
En haar kopkool het ek ook net hoogstens drie keer in my lewe geëet. Want dis hoogstens drie keer dat ek saam met die pruimkleur Mercedes Benz deur is Warmbad toe.
Al wat ek onthou is dat dit ‘n gebakte dis in ‘n Pyrex-bak met ‘n deksel was. En dat dit anderkant heerlik verby was.
Die drie hoofbestanddele vertel my gesonde verstand en die bietjies onthou wat ek het my, was dun repies kopkool, melk en eiers. Maar in watter verhouding en met wat daarby, sal ek nie weet nie.
Ons rit verlede naweek deur Warmbad, ‘n katspoegie van waar die tannie gebly het, tesame met die foto wat my vriendin geplaas het, veral nadat ek toe weer na haar ander kindertydfoto’s op Facebook, onder andere ook van haar ouma, gaan kyk het, had my toe so kwylend agter daardie Warmbad-kopkool aan, dat ek deur nagenoeg 35 kookboeke van my eie is op soek na iets wat aan daardie tannie se kool herinner.
Onverrigtersake van my eie boekrak af weg, is ek toe die kuberruim in en loods ek die een soektog na die ander met “cabbage” en “kopkool” of “blaarkool” as trefwoord.
Die naaste wat ek kon kom was hierdie heerlike resep van Martha de Lange op wateetonsvanaand.co.za:
1 middelslag kopkool
250 ml gerasperde cheddar kaas
250 ml sagte witbroodkrummels
4 repe ontbytspek gesnipper
4 eiers geklits
125 ml melk
sout en peper na smaak
Kerf die kopkool fyn en kook in soutwater tot sag.
Dreineer die kool baie goed.
Voor die verhit oond op 180C.
Smeer vlak oondvaste bak met volume van 2 Liter.
Meng kool, kaas, broodkrummels, ontbytspek, eiers en melk.
Geur die mengsel met sout en peper.
Skep in skottel en bak vir 1 uur of totdat die eiermelk gestol het.
Sit warm voor.
Dit was heerlik, maar glad nie naby of soos dit wat ek uit my kinderdae op Warmbad onthou nie.
Een resep, tussen die baie wat ek gelees het, was ‘n ware moerby-resep. Jy pak die repies koolblare in ‘n bak, en soos jy inpak, strooi jy ook ‘n pakkie uiesop-soppoeier by. Dan moer jy ‘n kannetjie ongegeurde jogurt by en bliksem alles in die oond by 180 grade vir ongeveer ‘n halfuur.
En nóú, 1 533 woorde later, is ek uiteindelik waarby ek wil wees: die eenmalige moerby-resep wat my ma, toe ons nog in die woonstel was (iewers tussen standerd 3 en standerd 8) een aand gemaak het.
Ek was lus vir kosmaak en het vir ons die grootste tongvisse wat ek nog ooit in hul velle op ys raakgeloop het, gekoop. Daarmee saam, soos altyd, twee bygeregte, spinasie en sampioene.
In die ou dae sou dit geroomde spinasie en sampioene met ‘n room-en-sjerrie-sous gewees het; in die nuwe bedeling word dit sampioene met laevet-fetakaas bygekrummel, die sampioene kry steeds ‘n suiwelsousie, maar nie van room nie, van melk. Die sjerrie was op, toe kry dit ‘n skeut van die eerste, beste, naaste bottel waarop ek my hand kon lê.
Met die dat ek lank moes wag vir die seemonsters om van hul koppe en velle gestroop te word, loop ek toe lang en wye draaie in die winkel. Dis koud en nat en ek besluit die girls kan op poeding ook trakteer word. Ek oorweeg egter nie om iets te bak nie, dis al na 18:00 en ek moet nog huis toe en alles begin.
Dis toe dat ek my mammie se eenmalige moerby-resep uit die jare sewentig van die vorige eeu onthou. My ma was ‘n puris en sou nie eers voorafbereide vla koop nie, ‘n kortpad het sy nie geken nie. Sy sou in haar lewe nooit daardie konkoksies waar jy ‘n pak Simba-skyfies oor jou groenteskottel krummel, of ‘n hoender in ‘n bottel Coke gaar maak, oorweeg nie.
‘n Warm poeding was ‘n warm, gebakte poeding, Jan Cruywagen-poeding, Japie se gunsteling, Malvapoeding, asynpoeding, die lekkerste roly-poly denkbaar; beslis ook nooit hierdie goedjies wat jy in ‘n boksie koop met twee of drie verskillende sakkies in nie, dan kom die eier by die een, die water by die ander en ‘n bietjie melk by die derde nie.
Iemand by die werk moes haar egter van daardie aand se poeding vertel het, en die persoon moes baie oortuigingskrag had dat sy inderdaad so ver gegaan het om dit op die proef te stel.
Ek weet ook, was dit lynreg teen haar aard en beginsels nie, sou sy die poeding weer en weer bymekaar gemoer het, want dit was heerlik.
Meer as dertig jaar later, na ons tongvis en groente, was dit nog net so lekker:
Jy koop een pakkie Romany Creams en een groot blik perskeskywe. Jy week die koekies in die stroop dat dit van die sous kan begin optrek. Dan pak jy die koekies op die bodem van ‘n bak wat groot genoeg is dat die koekies die bodem bedek. Ek en Klaradyn het die koekies platgedruk met die rugkant van ‘n lepel. Toe pak my meisiekind die perskeskywe mooi oor die sjokoladekoekie-onderlaag. Ons het nog so bietjie van die stroop oorgegooi.
Toe die tongvis uit die oond kom en ons sit aan om te eet, toe sit ons die poeding in die oond.
Gelukkig was ek nie naby die houtkissie met die ouvrou se as nie, ek sweer ek sou dit hoor ritsel het, toe ek die boksie Ready made, real diary, custard oopmaak om saam met die poeding te bedien.
As die lus vir ‘n warm poeding jou ooit oorval wanneer jy nie tyd of krag of lus het om met goeters soos bakpoeier en meel en kremetart te sukkel nie, probeer gerus hierdie moerby-poeding uit die middeljare sewentig van die vorige eeu.
No comments:
Post a Comment