Pages

26.10.12

Woensdagmiddag toe dit hier by ons na reën gelyk het

In 25 jaar van onderwyser speel (eintlik is dit 37 jaar onderwys, tel jy die 12 jaar agter die banke by) het ek darem al baie maal gehoop en bid die atletiek reën uit.
Vanoggend weer.
Maar dit was die eerste keer dat ek gehoop het ‘n byeenkoms van Klardyn, en nie my eie skool s'n nie, spoel in stormwaterstrome en –slote weg.
En dis nie dat ek nie wil hê hulle moet hol nie, hulle moet; dis net dat ek daar wil kan wees as my eie kind hol.
En dit kon ek nie vanmiddag nie:  drie ander verpligtinge,en nog 'n een of ander daarby ook.
Toe dit egter hier teen 12:00 steeds by blote beloftes en vae gerugte van reën bly, toe klim ek met my onbeholpe vingers op die foon se alfabet en SMS my uit twee en ‘n half van die drie afsprake uit. (Ons het die een in topversnelling teen vinnige spoed so in die hardloop afgehandel; vandaar die verlore halwe.)
En dan is dit nou nie dat ek en Annieka ‘n wunderkind, ‘n Jesse Budd of Zola Owens (ja, my sportverwysingsraamwerk is kleiner as my jaarlikse verhoging) in ons midde het nie; dis net dat sy vir haar kleurspan gaan hol, drie keer, en Pappa wil daar wees om dit te sien.
Sy was vierde in haar kleurspan, die Berghane (nogal Mamma se gunsteling roofvoël) maar ek is seker daar is in elkeen van die ander twee kleurspanne seker 8 kinders vinniger as sy.
Maar nie een so gewillig, en dan nog met soveel oorgawe gewillig, soos sy nie.
Die lewe is mos vir Klaradyn ‘n lied, en as drie interhuisitems toevallig drie akkoorde in daardie lied is, dan sing sy uit vollebors saam.
Die helfte van die eerste vergadering na skool het my, ten spyte van ons haas, uit haar eerste item uit.
Ek verneem by Mamma, via selfoon, dat sy nie ‘n goeie wedloop gehad het nie;  sy was glo nie deeglik opgewarm nie.
Voor die tweede item verbeel ek my inderdaad ek sien iets wat lyk soos iemand wat iets aan het wat kan herinner aan Klaradyn se t-hemp, besig om strekoefeninge te doen. Maar in daardie stadium is ek meer bekommerd die kind gaan oorkook van al die roomys en koeldrank wat ons tussen die twee items ingepas het, as dat sy enigsins gevaar kan loop van ‘n  koue spier wat verstuit.
Ons Moolman het teen daardie stadium in elk geval genoeg spiere vir een dag verstuit – Ma het, nie dat ek kan getuig nie, ek leen my ore aan haar uit, effe onvleiend iewers agter die pawiljoene  neergeslaan en haar enkel staan soos ‘n ballon wat enige oomblik kan bars.
Maar dit gaan in die tweede item, gemeet aan die hoor-sê van die eerste, nie te sleg nie; ek oortuig haar sy was sewende en wys by herhaling daarop dat sy meer as een kind in die wedloop  verby gevat het.
Dit (sal diegene wat verlede jaar ook hier gelees het, weet) is al ‘n reuse verbetering op 2011 se prestasie; verlede jaar het sy, nogal in die aflos, gewag dat haar maatjies haar eers inhaal voor sy verder saam met hulle gehol het.
Sy het verlede jaar die eerste been van die aflos gehardloop en in die buitebaan weggespring. Om voorsiening te maak vir die kromming van die baan, het sy toe natuurlik etlike meters voor haar ander maatjies afgesak vir die wegspring. En toe haar maatjies eers langs haar is en hulle kan saam hardloop, beteken dit toe dat hulle teoreties (onthou die kromming en die buitebaan) meters voor haar is.
Vanjaar, toe dit weer aflostyd is, sien ek die spanbestuurder het darem geleer uit vorige jaar se fout en sy is nou op die eerste oorgee.
Voor die aflos is daar sprake van nog ‘n roomys en ek ontdek die kerrie-en-rys in die kombuis onder die pawiljoen. Daar is darem maar min dinge so sleg soos slegte, afskeep kerrie-en-rys, by enige skoolfunksie of kerkbasaar. Aan die ander kant is daar min dinge so lekker soos ‘n lekker bakkie kerrie-en-rys op so ‘n geleentheid.
Met die gerugte van reën steeds in die lug, dis lekker bewolk en eerder koud as warm, is dit net die feit dat ek weet hulle gaan my snaaks aankyk as ek nóg ‘n bakkie koop, wat my daarvan weerhou om ‘n derde bakkie te koop.
Toegegee, ek wil ook nie my aandete bederf nie – die oomblik toe ek my verbeel dis nie meer hoogsomer se hitte nie, en almal beplan om ‘n pannekoekie deur te werk, het my kop ook op kaneelsuiker besluit, maar nie saam met pannekoek nie, saam met melkkos.
Ewenwel, ek (dik gevreet) en Ma (haar voet dik geswel van die neersloeg) val toe iewers tussen ‘n spul oudleerlinge van my, wat nou almal saam met hul 1991-onnie kinders in die skool het, langs haar trek van die baan in. Wat takties gesproke natuurlik ‘n moerawiese fout was, want toe sy ons sien en hoor aanmoedig, toe kyk sy vir ons, glimlag vir ons, en vergeet geheel en al dat sy eintlik met ‘n wedloop besig is. (Gelukkig was dit nie ‘n skoolkonsert en die ban ‘n verhoog nie, want dan het sy nog vir ons gewaai en halo gesê ook.)
Met die oorgee van die stokkie (maar dis ‘n eufemisme – toe sy die kind wat by haar moet oorneem se onderarm met die stok stukkend kap en haar pols boonop in die proses ook ontwrig) verloor hulle nog kosbare sekondes/meters, wat soos minute/kilometers gevoel het.
Maar, ag, dis so lekker! En die dogtertjie op tweede oorgee het dit in elk geval nie eers gevoel nie!
Ek het my aansporing met die “baie maatjies verby gesteek” op die reguit-snol-wenpaal-toe, probeer ewenaar met ‘n verduideliking van hoe sy die afstand tussen laaste en tweede drasties laat krimp het, maar die konsep is vir haar nog onmoontlik om te snap. Ek het probeer.
Nie dat dit nodig was nie. Sy het lekker gehol. Ons het huis toe gery en langs die pad gestop vir koeldrank. Ons moes selfs terugry om die warm ding wat sy aan die oorkant van die veld onder ‘n boom vergeet het, te kom optel.
Maar die belangrikste van alles, die spesiaalste en kosbaarste, spontaan, sonder dat ek dit vra of haar daarna pols, is haar opmerking (die belangrikste van alles, die spesiaalste en kosbaarste, spontaanste, sonder dat ek dit vra of haar pols) toe sy langs my in die motor klim en uit haar eie sê:  “Baie dankie Pappa dat jy vir my kom kyk het.”
Ek is nie so nie, en ek het haar nie so afgerig nie. Sy het nie nodig om dit te sê nie, nie vir my nie, vir ‘n ander tannie beslis, maar nie vir haar pa nie...
En tog:  :  “Baie dankie Pappa dat vir my kom kyk het.”
Vir daardie paar woordjies sit ek volgende jaar weer daar, ry ek trouens skelmpies ‘n periode of wat voor die tyd by die skool weg en hoop die hoof vang my nie uit nie.

14.10.12

Oor Pettson, Fielies en ‘n sielsvriendin

Protea-boekehuis, so lyk dit my, is besig om Sven Nordqvist se hele reeks rondom Pettson en sy kletsende kat in Afrikaans te vertaal.

Verlede jaar, ‘n dag of wat voor my ma se siekbed en dood is ek inderhaas boekwinkel toe om ‘n Vir-Klaradyn-met-liefde-van-Ouma-Nooi-geskenkie te koop.

Dis toe dat ek op die eerste, en in daardie stadium enigste, twee besluit.

In Klaradyn se eerste boekies het my ma nog met haar mooi sierskrif-handskrif kon skryf, maar die laaste jaar of wat skryf ons maar self: Aan Klaradyn, met baie liefde van Ouma Nooi.

My oë val die laaste jaar op meer as een geleentheid op daardie woorde want ek en Klaradyn raak dadelik verlief op die eksentrieke karakter van ou Pettson; Fielies, sy kat, kom kruip onder ons vel in.

Die verteller in die Afrikaanse vertelling vertel die stories ook so lekker, ‘n mens kan nie anders as om pens en pootjies in die gebeure in te klim nie.

Maar dan luister en lees ‘n mens nie net lekker nie – jy kýk so lekker daarby ook. Sven is immers skrywer én illustreerder tegelyk, daarom miskien dat die storie en die beeld, die verteltrant en tekenstyl so lieflik ontmoet.

Deur die loop van die jaar kom ons agter ‘n vriendin, haar man en die ganse gesin is soos ons net sulke sterk aanhangers van die eensame ou man en sy pratende kat.

Terwyl die kinders buite speel, lag ons grootmense te heerlik (ek hoor weer ons gas en jarelange universiteitsvriendin van onder, diep en laag uit maag en keel lag) om die etenstafel vir die omie en die kat se streke.

En so bring hulle vir my en Klaradyn ook by Pettson op Youtube uit.

Ja, hierdie is kinderboekmense, nog mense wat soos ek die boeke en outeurs en illustreerders gaan google om meer te ontdek, en inderdaad meer ontdek.

En toe, verlede Sondag, loop ek nóg twee in die reeks raak. Fielies raak weg en Pettson gaan kampeer.

Klaradyn klouter saam met Mamma en Pappa op die dubbelbed en voor ons, ons Sondagagtermiddagslapie geniet, het ons ons eerste ontmoeting met twee nuwe stories.

Ek moet die voorlees by herhaling op grond van een van twee redes onderbreek: óf ek, óf Klaradyn kraai te veel van die lag, of ons al twee wil eers net die lieflike illustrasies “lees”, voor ons verder aan die woorde lees.

Die wonderlike samesyn in die geselskap van Pettson en Fielies en die hoenders en die twee husse, ontaard in een van die lekkerste momente wat ons tweetjies in ‘n lang tyd het.

Maandag jaag ek eers Graffiti-boekwinkel, toe reguit na Protea-boekwinkel toe, om vir my boekvriendin ook ‘n eksemplaar van die boeke te kry. Nie vir die kinders nie, nie vir Pa nie, vir háár, spesiaal.

Ek wil haar gee, ek wil haar skenk, gun, presies dieselfde wondermoment wat ek en my kind gehad het, saam met elkeen van haar drie kinders en haar man.

Ek verwoord daarom ook my kaartjie iets soos:  Ek wil jou drie geskenke in een gee. Die minste daarvan is die twee boeke. Groter is die genot en leeservaring om die boeke, die storie en die prentjies self te leer ken; en nog groter as dit, die genieting om jou kinders se genot te beleef as jy dit vir hulle voorlees.

Dit word my hart se wens om dit met my haar te kan deel.

Woensdag maak ek my oë groot toe ek in my vriend en kollega se kantoor sien dat sy vrou se pakkie van die vorige dag nog net so in die kantoor lê.

Maar dit gaan dol in hul huishouding en ek verstaan.

Vrydag bel hy my net na nege die aand.

Ek skrik.

Ons was nie een van die twee die dag by die skool nie.

Hy bel spesiaal om te laat weet dat my geskenk wel, so wil dit voorkom, reaksie ontlok het – die enigste reaksie ontlok het.

Pappa is met al drie kinders hospitaal toe, maar Mamma is onder omstandighede nie tot veel reaksie in staat nie.
En so red Pettson en Fielies gelukkig toe die aand – dis toe hulle haar van die boeke vertel, dat sy inderdaad ‘n glimlag oor haar lippe en in haar gesig kry.

En as sy kon, weet ek dit sou daardie lekker, diep, lank en uitgeregte, kenmerkende lag van haar, die een wat sy lag as sy die dag lekker lag, van onder uit haar keel en maag wees.

Maar nie Vrydagaand nie.

Gister pluk ons blomme in ‘n vriend se tuin om te sê dat ons lief is, blomme om teenwoordig te wees waar dit te privaat en intiem is vir ons om self in die persoon te wees, die onkologiese Mary Potter-vleuel van die Little Company of Mary-hospitaal.

Of sy ooit die lieflike Lemon Verbena en Roosmaryn wat ek saam met die pronk-ertjies, en letterlik die laaste papawer en kamelia van die lente ingewerk het, geruik het, sal ek nie weet nie.

Die SMS het vanoggend deurgekom net voor ek hier bo begin tik het.

Woorde soos vreedsaam en genade en in haar slaap kom daarin voor.

Is dit dan hoe dit is om, nie ‘n boekvriendin nie, nie sommer net ‘n vriendin van 28 jaar nie, maar ‘n sielsvriendin te verloor?

Dit is dan hoe dit is om ‘n sielsvriendin te verloor.

Ja, dit is.

1.10.12

1982 - 2012


Ek is ook al een wat
nie 'n dag ouer word
nie, en jaar na jaar
net al hoe aantrekliker.
Óf jy is een, óf jy is nie een nie; jy kan ook nie soorts van een wees of nie wees nie – jy is dit met oorgawe, of jy is dit met oorgawe nie.
Ek hou met oorgawe van ‘n reünie; of dit nou ‘n skoolreünie of ‘n universiteitsreünie is, die saam kuier van ‘n spul oudkollegas, of saam gesels met die ouens wat saam met jou in die peloton was.
Daarom hou ek ook van begrafnisse – dit is immers die naaste wat families deesdae aan ‘n reünie kom.
Ek hou van familietroues ook, hoewel ‘n mens deesdae op grond van die koste en versteekte onkostes nog die troue by jou verby sal laat gaan.
Ek sal saamkuier met my eerste paar jaar se matrieks, hou hulle die dag ‘n reünie; maar enige iets van na 1995 of 1996 ook nie sommer nie.
Miskien is dit omdat ek graag kuier met die mense wat saam met my oud geword het en nie noodwendig saam met die wat na my oud geword het nie, ek weet nie.
Natuurlik sien ek nog baie van my universiteitsvriende, maar ons het nog net so twee of drie keer ‘n poging aangewend om so vyf of ses van ons tegelyk saam te kuier. Een vet lekkerte.
Die skool het sover ek weet nie op 10 jaar bymekaar gekom nie.
Op 20 wel. En, o, dit was lekker!
Die afgelope naweek het ‘n paar van ons mekaar weer, party vir die eerste keer in 30 jaar, gesien.
En die slotsom:  Ek het lekker gekuier op 20 jaar, maar op 30 is dit beslis, wat my betref, lekkerder.
20 jaar na skool is jy nog nie oud genoeg om nie om te gee nie, op 30 jaar is daar niks wat jy meer kan verloor nie. Op 20 jaar is die egskeidings nog te vars, die ongetroudes te veel van ‘n bedreiging vir die getroudes, en verbeel jy jou jy is nog op pad na ‘n kruin toe.
Maar 10 jaar later het elkeen al op die een of ander manier sy gat gesien en geleer om daarmee saam te leef; of dit nou as mens, eggenoot, werker, pa of ma is, dit maak nie saak nie – jy het, as jy gelukkig is, nie meer nodig om voor te gee nie.
En dan kuier ‘n mens net soveel lekkerder.
Ons het nou nie ‘n 10-jaarreünie gehad nie, maar ek stel my voor dat jy jou op 10 jaar seker bykans dood skinder (en te wonder of jy wel die regte vrou getrou het en nie maar tog eerder met daardie seksbom wat tien jaar later steeds nie ‘n dag ouer lyk nie, moes getrou het nie.)
Op 10 jaar is daar seker matriekafskeidbabas, aborsies, opgeskopte universiteitsloopbane, fiskale teleurstellings en ander goed waaroor ‘n mens sou kon skinder.
Ek kan nie juis onthou dat daar vreeslik op 20 geskinder is nie, so hier en daar is iets dalk met ‘n tikkie venyn of lekkerkry gedeel, maar oor die algemeen het die gesprekke om onsself, en om die wat nie daar is nie, gedraai.
Wat het geword van en Wie hoor nog van en Waar is, is inleidings tot bykans elke gesprek.
Die outjies wat nie van reünies hou nie, hou nie van sulke vrae nie en stel ook nie in hul antwoorde belang nie. Maar vir my is dit lekker om te hoor dat sus toe wel met so getrou het, of dat sus en so in Pakistan of op Hotazel sit, of gesit het.
Ek wil ook weet wie is dood en wie nie.
En moenie vir my sê jy het niks om vir die mense te sê nie, jy gesels met jou beste vriende nie 5 of 6, of 7 of 8 ure, só eenstryk deur om nie!
Ek het een skoolvriend oor, en dan is dit streng gesproke nie eers ‘n skoolvriend nie, dis eerder ‘n vriend sedert skooldae – ons was in twee verskillende grade en van hoërskool af, in twee verskillende hoërskole.
Maar dis soos dit is en soos dit hoort – die groot gemene deler tussen skoolvriende en –maats is die feit dat julle in dieselfde skool of klas of rugbyspan is, in dieselfde straat bly, julle ma’s en pa’s vriende is.
Op universiteit brei die groot gemene deler uit – julle deel dieselfde belangstellings en passie, en op die oue einde loop jy die pad enduit met heelwat meer universiteitsvriende as skoolvriende.
En soos party op universiteit vriende maak, kry ander weer daardie gemene en gedeelde belangstelling by die werk.
Kom die kinders die dag, het hulle maatjies weer invloed op jou vriendekring en word enkele van daardie nuwe vriendskappe straks lewenslange vriendskappe.
So terwyl jy nog op skool is, wag daar 20 en 30 jaar later ‘n lieflike verassing op jou – jy gaan lekkerder as lekker en geselliger as gesellig kuier saam met skoolkennise langs wie in twaalf jaar op skool nie eers een enkele keer om dieselfde vuur gesit het nie.
Ja, mense wat geensins op skool maats is nie, kuier 30 jaar later ongelooflik gemaklik en lekker saam – vir daardie naweek of paar uur is die enkele groot gemene deler – ons was saam in die selfde graad in dieselfde skool – só sterk dat dit alle verskille ophef, hetsy nou die verskillende kringe waarin julle op skool beweeg het, of die verskillende rigtings waarin die afgelope 30 jaar julle elk geneem het.
‘n Paar van ons het Saterdag heerlik gekuier, dit terwyl ek in die geselskap van mense was waarvan ek hoogstens die naam vaagweg onthou. En dan verbeel ek my eintlik ook maar net ek onthou die naam.
Op tien jaar vertel jy nie van jou weghol een aand van ‘n ding soos ‘n ouer seun tong wat in die styl van Pinocchio se neus op jou neerdaal nie. Op tien jaar, op twintig jaar, laat blyk jy nie jou vrese en trane en ouers se egskeidings nie. Op twintig bely jy nie dat jy toe maar met C probeer uitgaan het maar eintlik agter B aan was nie. (Toe B nie wou val vir die attensies nie, maar C, haar beste maatjie, wel, toe settle jy wat A is maar vir tweedebeste.) Op 20 is jy nog nie lank genoeg getroud en die kinders nog te klein vir jou om, soos tien jaar later die geval is, te erken dat jy weet jy nooit moes getrou het nie. Straks weet jy dit al, maar jy kan dit nie erken nie.
Dit waaroor jy tien en twintig jaar tevore oor sou geskinder het, het jy nou geen sin in om oor te skinder nie, jy het simpatie, empatie, jammerte, begrip, of ‘n stille onbegrip. Ons het  na wat beweer word‘n lief en dierbare mens verhoorafwagtend vir aandadigheid aan ‘n huurmoord. Maar ek ken nie die detail nie; tien en twintig jaar gelede sou ek al die detail gehad het. Dertig jaar later bly jy stil, jy vra nie uit nie, jy is net bly die lewe het ander paaie met jou geloop.
Ek het Saterdag eers gesukkel om geld te trek – die vervoermense staak en 6 kitsbanke was leeg. Toe reeds amper ‘n half uur later as beplan op die hoofweg, sit ek 40 minute in die verkeer vas. ‘n Vassit waaruit ek baie maklik kon omdraai en huis toe gaan – na my vrou en kind toe, na Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd toe.En as dit nie was dat ek bang is ek self byt nie vas tot ons oor tien jaar weer so maak nie, en as ek nie seker was dat almal wat Saterdag daar gaan wees, dit beslis nie almal vir nog ‘n ronde gaan maak nie, het ek waaragtig omgedraai.
Ek is baie bly ek het nie.
Ek sal die volgende 10 jaar nie om wens nie, maar weet drie dinge: ek sien uit na die volgende keer, ek hoop nie my draad word voor dan geknip, of iemand rol ‘n klip in my pad om daar te kan wees nie.