Pages

17.8.15

One small step vir ander miskien, vir my 'n moewiese leap

Ai, my vriende kan bly wees ek het ʼn primitiewe selfoon. Self het ek ʼn broertjie dood aan die eietydse hebbelikheid van so baie om aldag en heeldag hul ontbyt, middag- en aandetes af te neem en op al wat sosiale media-kosblad is, te deel. Maar had ek ʼn manier om sommer-sommer, met die druk van ʼn knoppie, my dis onder al wat leef of beef se neuse te kry, dan het ek dit wraggies vandag gedoen.

Toe ek dit uit die groot bak in drie kleiner bakke skep, toe weet ek, skielik – ek het die borrie vergeet. Judy het hare beslis met borrie 
kleur gegee.

Daar behoort resepte ook te wees wat om borrie vra. Myne, vandag, is helaas dan nou sonder borrie. 

Hartskos en liefdeskos is vir my twee goed.

Hartskos lê jou na aan die hart, dis jou grootwordkos, kindertyd se gesinskos. Sosatie-tjops, bobotie, souskluitjies, Judy se Boudoir-koekstruif (ʼn heerlike huwelik tussen trifle en tiramisu) is my hartskos.

Liefdeskos is daardie kos wat jou nié self so vreeslik na aan die hart lê nie (indien enigsins) maar jy maak dit uit liefde vir jou tafelgenoot – of dit nou eggenoot, ʼn kind, klein- of agterkleinkind is, selfs vir  ʼn jarelange vriend. Jy maak dit ook omdat jy lief is vir die kuns van kosmaak.

Belangrik – jy maak dit nie omdat jy verplig voel nie, omdat iemand daarna gevra het nie. Liefde en niks anders as liefde nie, is jou enigste beweegrede.

Soveel liefde, soms, dat jy selfs uitsit as dit bedien word – omdat jy self dit nie eet nie.

Aan afval (en ek praat nie van lewer nie, ek praat van hart-long-poephol-en-tong) het my ma haar mond nie geslaan nie.

ʼn Middeweg, die enigste dis waar oorlede Pa en oorlede Ma mekaar rondom afvallerige kos kon ontmoet, was Judy se bron.

Ja, dis maar nou die anderdag dat ek sien die “bron” waarmee ek gedink het ek groot word, is toe al die tyd Engelse eintlik “brawn” en ons moes eerder van “sult” gepraat het.

Ek het my ma bron nooit sién maak nie. Dit was die soort liefdeskos waarvoor sy soggens drieuur of vieruur opgestaan het. Teen die tyd dat ek opstaan vir skool, of (later jare) uiteindelik wakker word omdat ek ounag eers ingekom het, is die kombuis lankal opgeruim.

Na die egskeiding, toe ons op ons eie was, het ek Ma-se-kerriebron vir ʼn goeie 14 jaar nie geken nie. Dis ʼn liefdesdis onthou, uit iets anders as liefde maak sy dit nie. En al sy vir my hóé lief, vir my alleen maak sy dit nie. 

Dis eers na sy in 1988 weer met Oom Jack getrou het, dat sy opnuut, van tyd tot tyd vir hom, bron begin gemaak het. Kom ek, toe al lankal uit die huis uit, toevallig daar, dan is daar bron vir my ook ʼn plakkie of skyfie.

Tot knap voor hulle uiteindelik ouetehuis toe is, het sy nog bron gemaak. Daardie jare het sy dit in klein Tupper-bakkies gestol.

Maar dis ook seker al een van die dae nege of tien jaar lank iets van die verlede.

Ek koop nie die bron wat jy saam met die polonies by Pick&Pay en Checkers kan koop nie. Dis vir my lekker, ja, en ek eet dit as ek by ander mense kom, wat daarvan het. Ek is nie neusoptrekkerig nie. Maar self koop ek dit nie, bron is iets wat jy self maak, iets wat proe soos Judy se bron geproe het.

Sowat ʼn maand gelede oorval ʼn gemis aan bron my opnuut en ek skuif agter die rekenaar in. Laat ek bietjie Google en kyk hoe dit werk.

Dis toe dat ek sien “bron” is eintlik “sult” en “brawn” is wat die Britte dit noem. Ek kry resepte mét afval, resepte sónder afval, en ek weet – dis nie meer lank nie, eersdaags maak ek my eie bron.

Drie weke gelede is ek op die Boeremark en by die varkstalletjie waar ek die week se spekvleis en braaiworsies aanskaf. Iemand vra of hulle bron verkoop. Die die boervrou noem dat sy dit selde mark toe bring omdat die stedelinge dit nie juis ken nie.

Ek weet weer: dis amper sulke tyd. Dis selfs nader as wat ek vermoed.

Toe kom die Beeld met: 

“Eet lewer en afval – soos leeus, sê Tim Noakes”

“Mense kan leeus se voorbeeld volg vir ’n gesonde dieet, meen prof. Tim Noakes.

“Wat eet die leeu eerste? Die binnegoed en lewer. Ons behoort dit ook te eet.

“Diere se voedingswaarde is in die binnegoed, nie die vleis nie.”

Saterdagoggend wat nou verby is,  ís dit toe sulke tyd – tyd om my lyf leeu te hou en by die binnegoed te begin.

Ek het in my lewe nie gedink ek sal ooit ʼn skaappens koop en gaarmaak nie.

One small step, ja, maar een moewiese sprong...

En:
  • een spierwitte skaappens, 
  • vyf skapenspootjies, 
  • twee varkkloutjies 
  • en ʼn allemintige stuk skenkel, 
  • ook ʼn dik skyf ”chuck” in blokke gesny, 
  • ʼn paar lourierblare, 
  • kerriepoeier, 
  • knoffel en 
  • twee uie verder, 
groet ek teen sonop die prutpot in die kombuis en begin my dag.

By ʼn resep het ek nie uitgekom nie, dis maar mog het troffe uit wat ek ruk gelede raak ge-Google het.

Ek weet nie eers of die bene genoeg gelatien opgelewer het nie, want by geproe, soos ek nou hier tik, het ek nog lank nie uitgekom nie.

Die stalletjie het lieflike, spierwit gewaste skaapkoppe ook gehad.  “Klaar oopgekap en die snotbeen uitgehaal,” vertel die vrou by die boeremark my.  Dis tóé dat ek myself vertel die kop is mos eintlik iets wat leeus meestal vir die hiënas en ander aasdiere los. Toe bly ek maar by pens en pootjies – dis afval genoeg vir hierdie simba.

Ons sal more eers weet of dit enigsins ʼn noemenswaardige sukses was. Die goed is pas, so sonder borrie, in die drie bakkies geskep.

Wat ek wel weet, is dat dit wat ek vanmiddag van die bene afgehaal en met twee vurke fyn gemaak het, heerlik geruik en geproe het.

Behalwe vir die gebrek aan die kleur wat borrie bring, dink ek trouens, kan dit enige dag Judy se bron wees.

Alles het tot op hede saamgewerk om my goed oor hierdie bron te laat voel.

Die afvalagent by die Boeremark het byvoorbeeld ook ʼn eetlepel of wat appelkooskonfyt genoem. En ek het net verlede week ʼn botteltjie appelkooskonfyt wat ek ʼn goeie twee jaar gelede self gemaak het, opgespoor.

Selfs die kerriepoeier wat ek ingespan het, is handgemaak – uit die bekwame hand van die speseryehandelaar wat Saterdae by die Boeremark handeldryf.  Jy vertel hom wat jy soek, hoe sterk, hoe geurig, met welke botone en hoeveel ondertone. Voor jou klim hy dan met mening onder die hope speserye om hom uitgestal, in. Skeppie, hier, skeppie daar, terug vir nog ʼn skeppie, knippie, knypie en selfs ʼn skeutjie (omdat daar vloeistof ook bykom). Dis soos om ʼn kunstenaar dop te hou. ʼn Kort rukkie later weeg hy jou mengsel af.

Nou hou ek maar duim vas.

“The proof of the pudding is in the eating,” sê die Ingelsman.

Ek het Saterdag wel voorafbereide kerriebron op die boeremark raakgeloop, én gekoop. Ná ek my pens en pootjies gekoop het. Vir ʼn aptytwekker, ʼn poedinkie vooraf, het ek myself vertel. Maar my aptytwekker is na een skyfie, net so onder die honde verdeel:  hopeloos te veel kunsmatige gelatienpoeier, nie sag genoeg gekook nie en taai. En buitendien – ek het dit nie self gemaak nie en ken die mense net van sien.

Daarom wei ek self ook maar vooraf uit en hang ek my skepping voortydig aan die groot klok. Kom more is ek dalk so teleurgestel, ek sluk sommer my eie tong in en sprak geen sprook meer oor die kouevleisie wat ek met soveel liefde, en  liefdevolle herinnering, voorberei het nie.

Naskrif:  Ja, naskrif want ek het toe maar gewag om eers te proe voor ek my woorde pos. Met die eersteprys wegstap by die tuisnywerheidafdeling van die Bloemfonteinse Landbouskou, sal ek nie. Maar presies soos ek dit wou hê, is dit wel. Volgende keer dalk bietjie meer sout, dis al. Miskien kon ek ʼn swaarder hand met die kerrie ook gehad het. Lekker was nog nooit sleg nie.



Net jammer ook ek het nie spoggerige foon dat ek kan afneem en wys nie.

16.8.15

Donderdag se los gedagtes in die motor, effe gestruktureer

Vir die wat nog nie weet nie – ek het Saterdag (gister ʼn week gelede) oupa geword.

Dwars deur die nag ook, tot Sondag toe nog.

En nee, ek praat nie van ʼn liefdeskind iewers na skool, op universiteit of te wyte aan ʼn sewedagpas op Civviestraat tydens my dienspligjare nie. Geen jarelange klein geheimpie wat 29 jaar later self ma of pa geword het nie; ek praat van myself en Klaradyn – ek het haar oupa geword. Sy my kleinkind.

Of Annieka die ouma geword het, weet ek nie. Is dit wel die geval, dan moet my skoonsus, so vier of vyf jaar jonger as Annieka, ons kind wees. En my swaer haar man.

Of dalk het die saalsuster gereken my swaer is my en sy sussie se kind, sy vrou die ma, en Klaradyn die kind.

Bottomline – ek is die oupa!

Dat die vrou rede had om nie te weet wie presies die kind se ma is nie, is te verstane – ek en Annieka én Erik en Johanett het Klaradyn vergesel, beide pare ewe verskrik en duidelik gespanne.

Maar om mý darem die oupa te maak, en my die oupa te hóú, grens aan die belaglike.

Ek het al gedink om my baard swart te kleur, ek het dit trouens al ernstig oorweeg. Vrou-alleen kon Annieka my nie grys hare gee nie, maar toe Klaradyn die linie versterk en die twee vroue onder een dak ʼn verenigde front vorm, toe is dit neusie verby. Deur net deur die laaste 10 jaar se Kersfeesfoto’s te blaai, kan jy die agteruitgang, wat met die woorde “rasse skrede” uitgebrei kan word, duidelik volg.

Ek dink helaas dis nou ook al te laat. Toe hierdie Oupa Sondag in die motor klim en ek bekyk my witte baard in die truspieëltjie, toe sien ek dis nie meer net my gesig wat grys is nie, my kop ook.

En vir soveel haarkleur, hare kleur en haarkleursel sien ek nie kans nie.

Om van die sout-en-peper-baardjie (baie meer sout as peper) ontslae te raak deur hom af te skeer nie, kan ek ook nie – die baard dien al jare net een doel – om die hangende tuine van Babilon (i.e. die ingerygde ry op ry dubbelkenne) te versteek.

Annieka maak Saterdagoggend, toe sy Klaradyn in haar boetie-hulle se hande laat, die grappie dat sy nie ʼn oproep van die Wilgers-hospitaal wil kry nie. Verwysende, nie vir een oomblik na Klaradyn nie, maar na haar broer. Hy was in geen jare op die skaatsbaan nie en Klaradyn en haar oom en tannie gaan skaats. Hulle gaan nie net skaats nie, hulle gaan fliek ook, ten pin bowling inpas en elke Ripley’s-
Believe-
it-or-not-uitstalling wat op die oomblik in Pretoria kuier, deeglik bestudeer.

So toe ek Annieka knap na 11:00 bel om te sê Johanet het my gebel om te laat weet hulle is by Wilgers se ongevalle-afdeling, is haar eerste reaksie:  “Maar is dit nou regtig, of nie.”

Maar twee minute en agtien sekondes later bel sy my terug:  “Dis ernstig, jy moet kom, hulle maak reg vir ʼn noodoperasie.”

Hierdie noodoperasie moes toe uitgestel word tot 16:00 omdat hulle 10:00 ontbyt geëet het en die dokters nie op ʼn vol maag met narkose wil kom nie.

Sussie het wou val, en oom het wou help keer. Tussen die een se “wil val”, en die ander se “help keer”, beland hulle toe al twee plat op die ys – die oudste se regterysskaatslem, na alle waarskynlikheid, in die jongste se regterhand in. Duimpie tot Fielafooi is in takt, maar van arme Piepie-in-die-kooi kan dieselfde nie gesê word nie, trouens nie eens iets soortgelyks nie. Al die pinkie-tendons is morsaf, en onder operasie kom hulle agter die lem is in die een pinkie-vingerbeen ook in.

Baie skrik, baie bloed, baie trane, baie hardloop, baie dra, baie bloed demp later, stap ek ʼn rukkie na Annieka by die oorspronklike drie in ongevalle in. 

Wat ek aantref is baie genade.

Sowat ʼn uur later stap ons al vyf die pediatriese saal in gelid in – die een meer besorg en gespanne as die ander.

Die enigste sin wat die suster hieruit kon maak, is dat dit Ouma en Oupa, Mamma, Pappa en dogter/kleinkind is.

En daar word ek toe oupa.

Sondag-agtermiddag toe is ons tuis. Maandag is Vrouedag en ons in die bed (vir die lekker). Dinsdag kry ons ʼn spalk en Woensdag is sussie skool toe.

Ek en Annieka wil nie dat sy gaan nie– dis nie gips nie, dis net ʼn spalk. Die palm van die hand is gestut, die bokant geniet die beskerming van ʼn stukkie lap. Maar sussie is adamant – dis entrepreneursdag en sy wil niks mis nie (selfs nie eens klasse nie).

Ek waarsku haar om asseblief nie tussen ʼn spul kinders in bondels en toue by enige stalletjies vas te val nie – haar hand kan seerkry.

Die hoof bel my deur die loop van die dag, om te laat weet die kind is klopdisselboom, maar hy laat nie na om te laat val nie:  “Ek het haar pouse iewers tussen kinders in ʼn losgemaal raakgesien. Maar haar hand was veilig bo haar kop.”

En sy moes dit geniet het. Sy het by die huis gekom met ʼn prys wat sy gewen het. Met pea-shooter skiet, nogal! Bid jou dit aan!

Nou’s dit Donderdag, ek sit by die kunsklasse waar sy les het in die motor vir haar en wag.

Ons is steeds dankbaar vir die goeie hande waarin ons kind was:  Erik, Johanett, die mediese span, die verpleegpersoneel en almal wat so ontsettend mooi na ons kind gekyk het.

Dinge kon so anders uitgedraai het. Nie alle ongelukke word so maklik, so deeglik en met soveel liefde en omgee beredder nie.

"'n Ongeluk is nooit 'n aspris nie," het my ma my geleer. Ons leer Klaradyn dieselfde, veral 'n ongeluk soos die. Partykeer las ek by:  "As dit 'n aspris was, het ons dit 'n aspris en nie 'n ongeluk nie, genoem."

More is dit kunswedstryd – poppeteater hand van alle dinge. Maar die hoofkarakter, die wolf, se hand is nou buite aksie én die kwessie. Sy gaan wolf nou met die linkerhand doen en dan gaan ek maar my pokkelkloue in die varkie en die verteller-karaktertjie se lappelyfies inwurm ek kyk wat gebeur.

ʼn Wonderlike, hupse oupa, ek, wat nie skrik vir afgaan grond toe op my kleinkind se verhoog nie!

Status update:  Sondagoggend.  A++ vir poppekas, A++ vir gedramatiseerde poësie (waar ons ook moes improviseer omdat sy nie meer met die houtblokke kon doen wat sy altyd kon nie.)