Ek tob naweeklank rondom ouderdom en dood, weeg gedagtes op
en woorde af, maar dan spoel die klein vreugdetjies van ouerskap oor my, die
walle breek en my beker loop oor.
Epicurus, sy siening rondom dood en my eie gevoelens oor ‘n
rype ouderdom moet dan maar eers opsy staan, anderdag miskien.
Daar is soveel lekkertes wat stoei om voorrang te geniet, ek
weet nie wat om uit te pak en wat om op die ys te hou nie.
Sy gaan slaap saans 20:00, maar vanaand 19:15 het sy haar ma
klaar saam met haar in die kamer; nie van moeg nie, maar van lus vir lekker
lees.
Seker so vyf of ses jaar gelede kyk die dokter ons in die
oog en vra iets soos: “Hoe lank gaan
julle nou nog elke vyf weke met haar hier instap – hierdie kind se mangels moet
uit.”
Ek onthou van my eie mangeloperasie niks nie, maar die
geskenkies en lekker tyd in Ma-hulle se bed is helder asof dit gister was. Ek
is immers een Saterdag meer as 40 jaar later al die pad Johannesburg toe om vir
Klaradyn dieselfde klassieke speelding te koop wat ek na my operasie destyds van
my pa-hulle of, kamma-kamma, my broer gekry het.
Die gevolg is dat ek vir my eie kind se mangeloperasie ook iets
in plek wil kry wat vir baie jare positief sal bybly.
Ek soek ‘n boek, ‘n baie spesifieke kinderboek waarvan ek ‘n
resensie in die koerant gelees het. Maar die boek is nie op ‘n enkele rak
beskikbaar nie. Die gevolg is dat ek al die pad na die hoofuitgewer van
Fantasi-boeke se huis ry om my kind se eksemplaar van Die Dierehospitaal te kry.
Is dit nie gepas nie – ‘n hospitaalstorieboek vir ‘n
dogtertjie se eerste operasie!
O, en was ek nie enkele dae later spyt oor die boek nie!
Daar word die boek al wat sy saans wil hoor – sy kan nie genoeg kry nie, partykeers vra sy glads
dieselfde storie twee keer in dieselfde week, oor dieselfde naweek.
Dis lang stories met groot en baie woorde wat sy toe ook
ontgroei het, en dis seker so drie of vier jaar nou dat ons net elke dan en wan
vir haar daaruit voorlees.
Dis nou tot verlede week, toe sy dit as
hardop-selflees-boekie aan die vergetelheid ontruk.
En dis asof sy elke storie vir die eerste keer hoor. Snaakse
stukkies lees sy meer as een keer. Sy roep my vanuit die kamer en lees dan hard
genoeg sodat ek ook die snaaksste gedeeltes kan hoor.
En dan kraai sy, ongebreideld, van die lag. Dit met ‘n joie de vivre wat ongeëwenaar is.
Groot klein vreugde nommer 1, die lag.
Vet lekkerte nommer 2:
Toe ek Juliemaand met vyf bakkievragte vol ougoed asgate toe
is, is dit kol-kol asof Klaradyn vinniger by die huis indra as wat ek by
motorhuis uitdra.
Onder andere ‘n ou blaasbalk van my ouers wat hulle gebruik
het om die kaggelvure in ons huis aan die gang te kry.
Die ding se leer het heeltemal verbrokkel van die ouderdom
en dit val basies in twee stukke uitmekaar. Ons huis se kaggel is uitgebreek,
ek sal nooit ‘n kaggel weer hê nie, en selfs al kry ‘n kaggel, sal ek die vuur
aanjaag met ‘n vuuraansteker soos Blits, beslis nie ‘n stukkende ou blaasbalk
nie. Teen my muur as ornament sal dit ook nooit kom nie. Dit staan nou 8 jaar
in die motorhuis.
Ek gooi uit.
Klaradyn dra in.
Meer as ‘n maand later kom sy Vrydag met die huis en vertel
van hul mondelingonderwerp: kry die oudste ding in julle huis waaroor jy wil praat en kom praat
daaroor.
“Mamma, ek weet waaroor ek wil praat, maar ek weet nie wat
dit is nie.”
En weg is sy om die ding te gaan haal – die blaasbalk.
Ons kry gou heelwat om te sê, maar die ding is so stukkend
dat ‘n kind wat nie weet hoe dit werk nie, geensins in ‘n mondelinge show and tell-periode ‘n idee gan kry
nie.
Gelukkig het ek baie ander werk om te doen en willig ek
dadelik in dat ons dit moet restoureer.
‘n Vodde ou sagteleerhandsak van my ma, wat nie Juliemaand
asgate toe is nie (dit is al jare lank bo in my hangkas ingeprop) kry toe ‘n
tweede en nuwe lewe as leersak tussen die twee houtbalke.
Die lekker lê egter nie in die reggerukte blaasbalk nie, dit
lê in die heerlike uur saam met my kind om die ding na haar sin te kry.
Self sien die blaasbalk sommer weer spoggerig daar uit en ek
vermoed die ding gaan straks ‘n plekkie iewers in die huis kry.
Kosbare oomblik nommer 3:
Ek sê vir die girls
om nie die badwater uit te laat loop nie – ek wil ook kom bad.
Lekker warm in die water, skree-roep-vra ek vir Klaradyn wat
elders afdroog, hoe vandag se saalopening was.
“Boring, soos
gewoonlik! Maar Juffrou Koen het die mooiste storie vertel!”
Die volgende oomblik kom sit die koningsgrootte badhanddoek
op die toilet by my in die badkamer, en daar vertel sy my, in die fynste
detail, met baie uitbreidings en aanvullings van haar eie kant af, die boeiende
storie wat Juffrou Koen vertel het. Dis ‘n Gertjie en ‘n Grietjie en Oom Gert,
en sy vra selfs of haar pa al die –g’s in die karakters se name kan hoor.
Daar neem die gees toe van haar besit en sy vertel die
vorige Maandag se opening, asof sy dit nou, oomblikke gelede oor die radio
gehoor het. Van ‘n pêrel “uit daai skulpgoed wat Mamma en Pappa so eet.”
Daar sit ek toe nou en luister na twee weke se
laerskool-saalopening-preke. Sy vertel met volle oorgawe, was dit ‘n item op ‘n
Kunswedstryd, het sy nie net met A++ weggestap nie, sy was afdelingswenner ook!
In beide gevalle vra ek haar na die storie agter die storie,
en nie een keer stel sy of haar interpretasie my teleur nie.
Die water was koud en ek had al hoendervleis toe sy klaar
het en die nat badhanddoek vir my los om af te droog.
En as daar nou een ding is wat ek haat, waaroor ek
kleinserig is, dan is dit ‘n nat badhanddoek!
Maar ek gee nie om nie – my kind het hom nat gemaak; sý mag
maar.
Sy het my dag ook gemaak, en nie net vandag nie – die so-te-sê
pasafgelope 9 maal 365 dae.
Die bad loop leeg, my beker oor.