Pages

3.6.13

Die verwagte minimum- en maksimumtemperature, Pretoria

Op een van die sosiale netwerke plak ‘n vriend die komende week se weervoorspelling en dié woorde daarby:  Winter in PTA??? Met maksimums van 26. Lekker dorpie dié!!!!


Ja, die een tyd van die jaar wat ek nog nooit uit enige bors, wat nog te sê volle bors, kon besing nie, wil vanjaar net nie end kry sodat ‘n tyd van die jaar waarín my hart en mond, en waarván my beker oorloop, winter, kan aanbreek nie.

Die tyd van die jaar wat my nog nooit liries had nie, die een wat vanjaar so voortsleep, kan duidelik op my vriend se spoeg-en-plakwerk opgemerk word – daardie kort tydjie van die jaar (die meeste ander jare is dit kort) wanneer die daaglikse minimum- en maksimumtemperature die meeste van mekaar verskil, wanneer die oggende koud is en jy met truie en baadjies aan jou lyf by die deur uit sit, net om hier teen 10:00 weer ter wille oorlewing van alles ontslae te moet raak.

Dis die tyd van die jaar wanneer ek in drie werksweke daarin slaag om bykans elke denkbare trui in my kas in my klas oor my stoel, op die kas, oor die grond, tussen die goed op my rak, en selfs ín my kas te kry.

Dan breek daar so vier of vyf dae aan waarop ek met, sê maar, ‘n groen trui by ‘n swart broek wat geensins daarby pas nie, of ‘n bruin trui by nog minder by die betrokke blou broek pas, skool toe gaan. By die skool gekom, skiet ek dan nie reguit deur kombuis toe, waar dit warm is en daar koffie is nie, nee, die warm asem maak sulke wit wolkies voor my mond soos ek deurskiet klaskamer toe om tog net ‘n trui op te spoor wat by die dag se skoene, kouse, hemp en broek, pas.

Hierdie fase in die jaar se verloop, en ek hou vanjaar 26 jaar lank skool, ek ken dit 26 jaar, word dan opgevolg deur die laaste, baie korter fase – hoogstens ‘n dag of wat – waarop ek blou van die koue by die skool uitkom – álles wat warm is, is by die skool, truie, serpe, baadjies, musse, noem maar op.

Dis dan wanneer ek drie of vier fris jong skoolseuns nader hark met die woorde dat hulle tog hulle meneer moet help om al hierdie truie en dinge en wollerige warmmaakgoeterstes in sy kar te kry.

Dan is ek soggens net tot die einde van die week koud slegs tussen die kombuisdeur en die motorhuis semi verkluim en halfkaal – ek kom langs die motor, uit die agterste helfte en kattebak klaar aangetrek.

Teen Sondag is alles oor en verby. Teen daardie tyd het Annieka iewers oor die naweek al geweier om saam met my in die kar te klim, voor ek nie alles uit die kar het nie. Dis ook nie net ‘n geval dat sy weier nie, daar is bloot net nie plek vir haar én Klaradyn, én ek, in een kar saam met die vrag wolgoed nie.

Party jare begin alles dan weer van voor af, maar dis uitsonderings, want teen die einde van siklus 1 is dit gewoonlik al so koud, dat ons nie meer nodig het om iewers deur die loop van die oggend af te moet skil nie.

Wat dán lekker is, is die feit dat daar dan altyd net drie of vier ekstra lagies warm goed in my klas is. Die dae waarop ek my dan met die weer (of my warm dingetjie[s] vir die dag) misreken het, dan het ek ‘n tweede, ekstra, ietsie reg en gereed in die klas om my teen die koue te pantser.

As ek uitreken, sou ons met vanjaar se uitsonderlike maksimumtemperature, teen hierdie tyd al na aan die einde van ‘n tweede siklus gewees het, indien nie reeds diep in ‘n derde een in nie.

Maar daarvan het ons vanjaar, vir die heel eerste keer in 27 jaar, net mooi niks nie.

En dis ook hoekom ek vanjaar nog minder van hierdie tyd van die jaar hou.

Sien, die ding staan so – ek trek nie teen 10:00 my truie uit nie, ook nie teen 12:00, 13:00 of 14:00 nie.

En dis nie omdat ek nie wil nie, EK KAN NIE!

Ek het in die laaste soveel gewig opgetel dat ek letterlik nie ‘n enkele langmouhemp het wat gemaklik, gerieflik, om my middellyf hang nie. Rondom die ewenaar is daar met élke langmouhemp deesdae raakplekke, kontak, wrywing, friksie, tussen middellyf en hemp. Die goed gaap nog oop van knoop tot knoop, soos ‘n mens partykeer sien nie, behoed my van dit, maar daar is daardie ongemaklike kontak.

Die gevolg is dat ek vanjaar goed voel tot 10:00 en van dan af verder bloot net uitsterf van die hitte tot dit huistoegaan tyd is. En teen daardie tyd is ek van binne al so verwelk in my trui, dat ek beswaarlik die krag oor het om die motor by die huis te kry, wat nog te sê om my natgeswete warm en moeg arms bo my kop te kry, om my trui uitgetrek te kry voor ek huis toe ry.

Party smiddaes voel dit my ek gaan by een van die verkeerligte sommer net uitpaas (ja, dis hoe in 27 jaar by baie skoolkinders en hul opstelle geleer het, hoe daardie Engelse woord in Afrikaans gespel word).

En as ek nie op die hoek van Duncan en Lynwood uitpaas terwyl ek wag vir die robot om oor te slaan nie, dan voel dit my ek beswyk sommer net daar op die plek van die dag se trui en knappe hemp.

Waarom nie bloot net groter langmouhemde gaan koop nie, verbeel ek my hoor ek iemand vra.

Ek het vanjaar reeds meer op wintersklere uitgegee as die vorige vyf jaar saam! Ek kan nie nog ‘n sent op klere uitgee nie, nie op ‘n enkele kous of sakdoek eers nie! Doen ek dit en die motor bars ‘n band, kan ek nie die band vervang nie – daardie ekstra kouse het my oortrokke bankrekening teen daardie tyd lankal by sy limiet gebring.

So 15 jaar gelede het ek ‘n spul liggewig polonektruie gehad wat ek soggens skool toe aangetrek het.

O, dit was lekker! Ek haat mos ‘n das om my nek. Dan het ek hierdie polonektruie sonder langmouhemp en das aangetrek, dit was my hemp vir die dag. Dan is ek met ‘n baadjie of ‘n ding daarby werk toe. 

Maar dit was 15 jaar gelede, ek het vyf jaar later soos ‘n oorryp piesang in ‘n te klein skil begin lyk! En had ek die goed vandag steeds, sou ons van ‘n waatlemoen in ‘n granadilla se dop, moes gepraat het.

Dis nou jare dat ek uitkyk vir nuwe polonektrui-hemde, maar verniet, dis of die goed net nooit bestaan het nie. Die vrouens se rakke en rye staan en vol van die goed. Woolworths alleen het vanjaar nie minder nie as NEGE kleure vir tannies om uit te kies!

Nie die ooms nie!

Nee, ek jok, daar was een Woolworths in Gauteng, vra my, ek was by almal, wat twee beigerige liggewig polonektruie vir mans gehad het – ‘n small en ‘n extra small!

Ek het die gawe man wat my te woord gestaan het, tot oorkant die Vaalrivier na Woolworths-takke laat bel, maar nie een kon help nie.

En toe, wonders bo wonders, na ek selfs in koffiewinkels begin vra het of hulle nie iewers tussen die lieflike koeke wat daar oorkant in sulke glas yskaste staan en/of ronddraai, vir my een of twee liggewig mans polonektruie het nie, spoor ek ‘n plek soos Stuttafords of Greatermans op wat die allerlieflikste reeks liggewig polonektruie vir mans aanhou. Nie een nie, nie twee nie, nie drie nie, maar vier verskillende kleure!

Daar kos een van die goedjies toe meer as troupak, hemp, skoene en kouse saam. En dis nie of ek vorige runderpes getrou het nie, ek en Annieka het sommer nou-die-ander-dag die knoop deurgehaak.

Ek het net gou eers ‘n reëling by die bak gaan tref. Hulle is ook so gretig om jou geld te gee wat jy nie het of joune is nie, dat dit nie eers tien minute was nie, toe stap ek vyf minute later met vier liggewig polonektruie vir mans by die winkel uit.

So, nee, langmouhemde koop ek nie – daardie vier truie is die ekwivalent van vier troupakke klere, agt leerskoene, sestien kouse en vier satynhemde, daar is nie ‘n manier nie.

En nou is die goed al amper ‘n maand in my kas, sonder dat ek dit nog ooit aangehad het – dis nie koud genoeg nie! Ek trek dit twee of drie keer elke week aan, party soggens kom ek self tot in die kombuis met een, maar dan wéét ek, ek gaan te warm kry, ek moet die ding gaan uittrek.

Soos dit nou vir my lyk pak ek die vakansie die kar en sit met die gesin af Golden Gate toe, of na daardie dam in die middel van Betlehem, en kampeer daar – net om te kan voel hoe dit voel om my polonektruie te dra.

No comments: