Pages

4.6.13

Wat is 'n huis...


‘n Vriendin van my het altyd as ons onsself iewers op een van die land se lieflike staproetes bevind, losgetrek en met oorgawe uit Johnny Cash se Sunday morning coming down begin sing: “...the beer I had for breakfast wasn’t bad, so I had one for dessert.”

Hierdie woorde het Saterdag-oggend deur my kop gemaal.

Nee, ek het nie in die veld wakker geword, of selfs sommer net ‘n verspotte vroegoggendbier gedrink (dat die plaak van my tande kan afspring en ek my kan verbeel dat ek my tande geborsel het) nie.

Dit het deur my kop gemaal terwyl ek twee snytjies roosterbrood met marmelade en kaas by die kombuistafel vir ontbyt staan en eet het.

Dis nou twee snytjies roosterbrood met die marmelade en kaas wat net so op die kombuistafel oorgebly het van Vrydagaand se vier snytjies roosterbrood met marmelade en kaas se laataand-aandete.

Sopper was eers om 22:00 omdat middagete se vier kaasrolletjies met botter eers rondom 15:45 genuttig is.

Met Vrydag en Saterdag se brood, marmelade en kaas toe heeltemal op, sit ek ongebad, ongeskeer, steeds in Vrydag se klere, Saterdag toe maar af Spar toe om trooskos vir Saterdag-middagete te koop:  twee lieflike stukke kruisskyf. R119-00/kg.

Daarvan eindig net een vir middagete op (ek gaan sit die keer darem aan midde die dolleeg marmeladeblik op links en die ewe leeg kaasbak na regs); die ander een braai ek Sondag in dieselfde pan vir ontbyt.

Dit was ‘n baie besige naweek en tyd vir kosmaak (of tafel opruim) was daar nie regtig nie – ek het immers 9 flieks gehad om deur te werk:

Verraaiers (nie gesien toe dit gewys het nie, dit het my lank geneem om in te koop, maar toe ek inkoop toe sleur dit my mee)
The Door (ek is gaande oor Helen Mirren, sou graag die boek wou gelees het)
The Dictator (my tipe humor en tweede keer dat ek dit kyk)
Skyfall (het nie eers geweet daar was ‘n nuwe James Bond-fliek nie)
A Passage to India (uiteindelik sien ek die fliek wat in 1984 vrygestel is, ek sal wat wil gee om op 76 te kan doen wat Dawid Lean op daardie ouderdom vermag het)
Room with a View (seker die derde of vierde keer dat ek hierdie een kyk)
Cyrano de Bergerac (1990) (ook ronde drie of vier)
Cyrano de Bergerac (1950) (bonus CD saam met vorige)
The Legend of 1900 (hierdie fliek van 1998 deur Guiseppe Tornatore, wat ook die regisseur van Cinema Paradiso was, is eers in 2000 in SA vrygestel, is ‘n fliek wat ek oor tien jaar ‘n derde keer sal wil kyk)

Kliek op die naam van elke fliek en jy word herlei na die fliek op die Internet-fliekdatabasis - dis waar ek elke keer opleeswerk oor flieks gaan doen.

Ja, die kort van die lank is:  Na hierdie naweek kan ek verstaan dat ou ooms wie se vroue hulle ontval het, sommer dadelik weer vrou vat en dikwels nie eers meer bodder om ge-kerk te kom nie.

Ek was graswewenaar, van Vrydag tot Sondag.

Waar ek altyd baie van my eie geselskap gehou het, het 13 jaar se getroude lewe, te same met amper 10 jaar se ouerskap, my saf-sawwer-safste gemaak.

Ek was na 10 April 2000 nog nooit weer alleen nie, nie vir ‘n enkele dag nie, hierdie naweek was ‘n eerste.

Ja, ek was al weg van die huis, maar dit is weg van die huis, alleen is iets heeltemal anders. Alleen is al een by die huis sonder vrou of kind of kraai.

Vrydag...  ...  ...

Saterdag...  ...  ...

Én die grootste deel van Sondag... !

En Annieka moet nie wil kom staan en vergelyk nie – as ek weggaan met werk dan bly sy én Klaradyn agter - van vingeralleen is daar geen sprake nie. 

En dan bly hulle ook nie agter in ‘n leë huis sonder ‘n vader nie, hulle trek by Ouma en Oupa in, daar word vir hulle gekook, of lekkerder nog, soos laasjaar toe ek ‘n week lank weg was – hulle vlieg af Kaap en rits tussen die wynplase rond!

Dit was voorwaar vir my ‘n vreemde ervaring. Hierdie naweek.

Annieka, Klaradyn, my skoonma en swaer is Vrydag deur Kaap toe om baie nodige besoek aan Annieka se ouma (iets soos 96) te bring.

Ja, ek het nie nodig gehad om alleen te wees nie, ek kon gaan kuier het, ek kon selfs mense oorgenooi het, maar het dit, vooraf, nie vir een oomblik oorweeg nie.

En toe ek eers daar in is, die blou hond en dood op my hakke is en in  my nek blaas, toe oorweeg ek ook nie om weg te hol en geselskap op te soek nie.

Toe kry ek myself net met volle oorgawe en uit volle bors vreeslik jammer en kry dit klaar en oor en verby.

Ek het nie my lippe aan drank gesit nie.

En Leonard Cohen nie een keer in die eietydse draaitafel gesit nie.

Tussen die vrot voor die TV het ek positief probeer bly en darem heerlike spek-en-bone-sop gekook, dis nou vir toe die dames weer tuis kom:

1 gerookte varkskenkel, 1 pakkie spekvleis, 2 uie, 2 wortels, 500 g boontjies, rooipeper, lourierblare, naeltjies, 1 blikkie tamatiepasta – daglank in prutpot en bedien met knertsie asyn (of suurroom, soos een van die resepte wat ek vir inspirasie geraadpleeg het, genoem het.)

Hier het ek intussen op ‘n resep afgekom wat basies, met ‘n uitsondering hier en daar, neerkom op dit wat ek opgekook het.

Ek week ook nie die boontjies oornag nie. Ek het gehoor dis die sout wat die skille in taai doppe verander. So nou gooi ek bloot die sout by as alles klaar murgsag gekook is.

Ter wille van die rekord:  Ek het darem ook nie net TV gekyk en sop gemaak nie, ek het selfs my klere van die grond opgetel en in die wasbalie gegooi.

Twee keer!

Die badhanddoek ook!

Én ek het die borde en glase wat oor die loop van die naweek wat soos ‘n week gevoel het, voor die TV rusplek gekry het, in die opwasbak gepak.

Ek het inderdaad ook die toiletsitplek wat maande los is, met grootse grootste  moeite (en vermoedelik, gemengde sukses) weer vasgedraai.

Ek het om die waarheid te sê, só fluks gevoel dat ek in ‘n stadium gedink het, as Annieka en Klaradyn vir ‘n hele week weg moet gaan, hulle sal terugkom en instap in ‘n huis wat van binne nuut uitgeverf is. 

Of dalk het ek die lapa oorgebou waar ons hom nou al 10 jaar lank graag sal wil hê. 

Die bougainvillea sal afgekap en weggery wees.

Ag siestog, en toe kom die meisies hongerig by die huis aan.

Pappa se aandete word toe ‘n laat middagete om die kombuistafel waar ons gesels en op datum kom met wat in elkeen se lewe gebeur het.

Dis nou die einste tafel waar ek vir twee etes sommer gestaan en roosterbrood eet het.

Klaradyn speel te heerlik saam aan die speletjie wat ek Donderdagaand met die girls begin het:  “Annieka, jy moet sorg dat hierdie huis aan die kant is as jy more jou voete hier uitsit. Ek het Vrydagaand ‘n huis vol mense en spyseniers wat intrek om ‘n skaap oor die spit te braai.”

Klaradyn wil weet hoeveel gaste, en wie, toe opgedaag het, wat ons geëet het, en wie in haar kamer geslaap het. (Ek het Sondag, die hoeveelste keer toe ons per SMS en selfoon kommunikeer het, laat weet dat 14:00 darem baie vroeg vir hulle is om terug te kom, al my gaste is nog nie eers wakker nie en as hulle so vroeg kom, weet ek nie of ek die huis opgeruim gaan kry nie. Daar was ook iets rondom die eetkamertafel se poot wat herstel moet word omdat dit gebreek het toe iemand kwansuis daarop gedans het.)

Met my aandete wat toe ‘n laat middagete geword het, het die uiteindelike aandete toe ekstra spesiaal uitgedraai, uit móés draai:  ons aandete was gebakte poeding met room en tuisgemaakte vla.

En as iemand nou vir my gaan sê dat ‘n mens nie gebakte poeding met room en tuisgemaakte vla vir aandete kan eet nie, dan gaan ek lynreg verskil – ‘n mens kán, verál as jy die gesin se blye weersiens vier.

Ek wou Klaradyn nou al die vorige twee naweke aan die poeding waarvoor ek as klein kind so lief was, bekend stel, maar verniet of die naweekprogram dit toegelaat het. Nie dat dit moeilik of moeite is nie, ek het net nie daarby uitgekom nie.

Die vorige keer dat ek die betrokke poeding gemaak het, was iewers tussen 1983 en 1985 op universiteit. Toe kon jy dit kits in ‘n boksie koop. Daar was twee papiersakkies in elke boksie, een vir die sous en een vir die beslag.

Dis die klassieke sjokoladepoeding waar die beslag onder in die bak kom en die sous bo-oor. Maar kom dit uit die oond, dan is die beslag bó en die souserigheid lekker dik en glad ónder dit alles.

So toe dek ons tafel met die ekwivalent van dit wat in ander huise die Noritake of Royal Doullton is, en die room en die tuisgemaakte vla word in opdienbekers gegooi.

En ons sit aan.

Annieka leer ken die poeding vir die eerste keer, ek word weer kind in my kleintydhuis, en Klaradyn smul te lekker; sy herinner my aan haar kompliment van vroeër die week: “Ek sal Pappa vertrou om vir die koningin van Engeland kos te maak!”

Maar waarom sal ek wil, ek maak dan klaar kos vir die koningin en kroonprinses van Witstinkhoutstraat 13.

Veral nádat hulle ‘n dag of wat weg was, en Pappa tyd had om sy seëninge te tel.


Naskrif:  

Hier is die hele liedjie rondom die bier vir ontbyt:

"Sunday Morning Coming Down"

Well, I woke up Sunday morning 
With no way to hold my head that didn't hurt. 
And the beer I had for breakfast wasn't bad, 
So I had one more for dessert. 
Then I fumbled in my closet through my clothes 
And found my cleanest dirty shirt. 
Then I washed my face and combed my hair 
And stumbled down the stairs to meet the day. 

I'd smoked my mind the night before 
With cigarettes and songs I'd been picking. 
But I lit my first and watched a small kid 
Playing with a can that he was kicking. 
Then I walked across the street 
And caught the Sunday smell of someone frying chicken. 
And Lord, it took me back to something that I'd lost 
Somewhere, somehow along the way. 

On a Sunday morning sidewalk, 
I'm wishing, Lord, that I was stoned. 
'Cause there's something in a Sunday 
That makes a body feel alone. 
And there's nothing short a' dying 
That's half as lonesome as the sound 
Of the sleeping city sidewalk 
And Sunday morning coming down. 

In the park I saw a daddy 
With a laughing little girl that he was swinging. 
And I stopped beside a Sunday school 
And listened to the songs they were singing. 
Then I headed down the street, 
And somewhere far away a lonely bell was ringing, 
And it echoed through the canyon 
Like the disappearing dreams of yesterday. 

On a Sunday morning sidewalk, 
I'm wishing, Lord, that I was stoned. 
'Cause there's something in a Sunday 
That makes a body feel alone. 
And there's nothing short a' dying 
That's half as lonesome as the sound 
Of the sleeping city sidewalk 
And Sunday morning coming down.




3.6.13

Die verwagte minimum- en maksimumtemperature, Pretoria

Op een van die sosiale netwerke plak ‘n vriend die komende week se weervoorspelling en dié woorde daarby:  Winter in PTA??? Met maksimums van 26. Lekker dorpie dié!!!!


Ja, die een tyd van die jaar wat ek nog nooit uit enige bors, wat nog te sê volle bors, kon besing nie, wil vanjaar net nie end kry sodat ‘n tyd van die jaar waarín my hart en mond, en waarván my beker oorloop, winter, kan aanbreek nie.

Die tyd van die jaar wat my nog nooit liries had nie, die een wat vanjaar so voortsleep, kan duidelik op my vriend se spoeg-en-plakwerk opgemerk word – daardie kort tydjie van die jaar (die meeste ander jare is dit kort) wanneer die daaglikse minimum- en maksimumtemperature die meeste van mekaar verskil, wanneer die oggende koud is en jy met truie en baadjies aan jou lyf by die deur uit sit, net om hier teen 10:00 weer ter wille oorlewing van alles ontslae te moet raak.

Dis die tyd van die jaar wanneer ek in drie werksweke daarin slaag om bykans elke denkbare trui in my kas in my klas oor my stoel, op die kas, oor die grond, tussen die goed op my rak, en selfs ín my kas te kry.

Dan breek daar so vier of vyf dae aan waarop ek met, sê maar, ‘n groen trui by ‘n swart broek wat geensins daarby pas nie, of ‘n bruin trui by nog minder by die betrokke blou broek pas, skool toe gaan. By die skool gekom, skiet ek dan nie reguit deur kombuis toe, waar dit warm is en daar koffie is nie, nee, die warm asem maak sulke wit wolkies voor my mond soos ek deurskiet klaskamer toe om tog net ‘n trui op te spoor wat by die dag se skoene, kouse, hemp en broek, pas.

Hierdie fase in die jaar se verloop, en ek hou vanjaar 26 jaar lank skool, ek ken dit 26 jaar, word dan opgevolg deur die laaste, baie korter fase – hoogstens ‘n dag of wat – waarop ek blou van die koue by die skool uitkom – álles wat warm is, is by die skool, truie, serpe, baadjies, musse, noem maar op.

Dis dan wanneer ek drie of vier fris jong skoolseuns nader hark met die woorde dat hulle tog hulle meneer moet help om al hierdie truie en dinge en wollerige warmmaakgoeterstes in sy kar te kry.

Dan is ek soggens net tot die einde van die week koud slegs tussen die kombuisdeur en die motorhuis semi verkluim en halfkaal – ek kom langs die motor, uit die agterste helfte en kattebak klaar aangetrek.

Teen Sondag is alles oor en verby. Teen daardie tyd het Annieka iewers oor die naweek al geweier om saam met my in die kar te klim, voor ek nie alles uit die kar het nie. Dis ook nie net ‘n geval dat sy weier nie, daar is bloot net nie plek vir haar én Klaradyn, én ek, in een kar saam met die vrag wolgoed nie.

Party jare begin alles dan weer van voor af, maar dis uitsonderings, want teen die einde van siklus 1 is dit gewoonlik al so koud, dat ons nie meer nodig het om iewers deur die loop van die oggend af te moet skil nie.

Wat dán lekker is, is die feit dat daar dan altyd net drie of vier ekstra lagies warm goed in my klas is. Die dae waarop ek my dan met die weer (of my warm dingetjie[s] vir die dag) misreken het, dan het ek ‘n tweede, ekstra, ietsie reg en gereed in die klas om my teen die koue te pantser.

As ek uitreken, sou ons met vanjaar se uitsonderlike maksimumtemperature, teen hierdie tyd al na aan die einde van ‘n tweede siklus gewees het, indien nie reeds diep in ‘n derde een in nie.

Maar daarvan het ons vanjaar, vir die heel eerste keer in 27 jaar, net mooi niks nie.

En dis ook hoekom ek vanjaar nog minder van hierdie tyd van die jaar hou.

Sien, die ding staan so – ek trek nie teen 10:00 my truie uit nie, ook nie teen 12:00, 13:00 of 14:00 nie.

En dis nie omdat ek nie wil nie, EK KAN NIE!

Ek het in die laaste soveel gewig opgetel dat ek letterlik nie ‘n enkele langmouhemp het wat gemaklik, gerieflik, om my middellyf hang nie. Rondom die ewenaar is daar met élke langmouhemp deesdae raakplekke, kontak, wrywing, friksie, tussen middellyf en hemp. Die goed gaap nog oop van knoop tot knoop, soos ‘n mens partykeer sien nie, behoed my van dit, maar daar is daardie ongemaklike kontak.

Die gevolg is dat ek vanjaar goed voel tot 10:00 en van dan af verder bloot net uitsterf van die hitte tot dit huistoegaan tyd is. En teen daardie tyd is ek van binne al so verwelk in my trui, dat ek beswaarlik die krag oor het om die motor by die huis te kry, wat nog te sê om my natgeswete warm en moeg arms bo my kop te kry, om my trui uitgetrek te kry voor ek huis toe ry.

Party smiddaes voel dit my ek gaan by een van die verkeerligte sommer net uitpaas (ja, dis hoe in 27 jaar by baie skoolkinders en hul opstelle geleer het, hoe daardie Engelse woord in Afrikaans gespel word).

En as ek nie op die hoek van Duncan en Lynwood uitpaas terwyl ek wag vir die robot om oor te slaan nie, dan voel dit my ek beswyk sommer net daar op die plek van die dag se trui en knappe hemp.

Waarom nie bloot net groter langmouhemde gaan koop nie, verbeel ek my hoor ek iemand vra.

Ek het vanjaar reeds meer op wintersklere uitgegee as die vorige vyf jaar saam! Ek kan nie nog ‘n sent op klere uitgee nie, nie op ‘n enkele kous of sakdoek eers nie! Doen ek dit en die motor bars ‘n band, kan ek nie die band vervang nie – daardie ekstra kouse het my oortrokke bankrekening teen daardie tyd lankal by sy limiet gebring.

So 15 jaar gelede het ek ‘n spul liggewig polonektruie gehad wat ek soggens skool toe aangetrek het.

O, dit was lekker! Ek haat mos ‘n das om my nek. Dan het ek hierdie polonektruie sonder langmouhemp en das aangetrek, dit was my hemp vir die dag. Dan is ek met ‘n baadjie of ‘n ding daarby werk toe. 

Maar dit was 15 jaar gelede, ek het vyf jaar later soos ‘n oorryp piesang in ‘n te klein skil begin lyk! En had ek die goed vandag steeds, sou ons van ‘n waatlemoen in ‘n granadilla se dop, moes gepraat het.

Dis nou jare dat ek uitkyk vir nuwe polonektrui-hemde, maar verniet, dis of die goed net nooit bestaan het nie. Die vrouens se rakke en rye staan en vol van die goed. Woolworths alleen het vanjaar nie minder nie as NEGE kleure vir tannies om uit te kies!

Nie die ooms nie!

Nee, ek jok, daar was een Woolworths in Gauteng, vra my, ek was by almal, wat twee beigerige liggewig polonektruie vir mans gehad het – ‘n small en ‘n extra small!

Ek het die gawe man wat my te woord gestaan het, tot oorkant die Vaalrivier na Woolworths-takke laat bel, maar nie een kon help nie.

En toe, wonders bo wonders, na ek selfs in koffiewinkels begin vra het of hulle nie iewers tussen die lieflike koeke wat daar oorkant in sulke glas yskaste staan en/of ronddraai, vir my een of twee liggewig mans polonektruie het nie, spoor ek ‘n plek soos Stuttafords of Greatermans op wat die allerlieflikste reeks liggewig polonektruie vir mans aanhou. Nie een nie, nie twee nie, nie drie nie, maar vier verskillende kleure!

Daar kos een van die goedjies toe meer as troupak, hemp, skoene en kouse saam. En dis nie of ek vorige runderpes getrou het nie, ek en Annieka het sommer nou-die-ander-dag die knoop deurgehaak.

Ek het net gou eers ‘n reëling by die bak gaan tref. Hulle is ook so gretig om jou geld te gee wat jy nie het of joune is nie, dat dit nie eers tien minute was nie, toe stap ek vyf minute later met vier liggewig polonektruie vir mans by die winkel uit.

So, nee, langmouhemde koop ek nie – daardie vier truie is die ekwivalent van vier troupakke klere, agt leerskoene, sestien kouse en vier satynhemde, daar is nie ‘n manier nie.

En nou is die goed al amper ‘n maand in my kas, sonder dat ek dit nog ooit aangehad het – dis nie koud genoeg nie! Ek trek dit twee of drie keer elke week aan, party soggens kom ek self tot in die kombuis met een, maar dan wéét ek, ek gaan te warm kry, ek moet die ding gaan uittrek.

Soos dit nou vir my lyk pak ek die vakansie die kar en sit met die gesin af Golden Gate toe, of na daardie dam in die middel van Betlehem, en kampeer daar – net om te kan voel hoe dit voel om my polonektruie te dra.