Pages

5.3.13

Die maatjie met die praatjie

Ek sê dit weliswaar met gemengde gevoelens, maar ek sê dit:  “So baie soos ek op skool van redenaars gehou het, so min hou ek nou daarvan.”
Op skool het dit eers in standerd 6 begin; deesdae is daar al Graad O’s wat aan kompetisies deelneem.
Destyds was ons skool se kompetisie in die hande van die Junior Rapportryers. Maar van die Junior Rapportryers, die Ruiterwag en die Broederbond het ons kinders niks geweet nie. Die Junior Rapportryers was verantwoordelik gewees dat die Sondagkoerante Saterdagaande laat reeds op straat verskyn en Sondae op pad Kerk toe gekoop kan word. Dis ook hoe ek dit destyds aan Aartsbiskop Tutu en die lede van die Waarheid- en Versoeningskommissie erken en bely, kyk maar self, volume 27, subparagrawe 3 576 tot 3 579.
Hierdie omies van Rapport se redenaarskompetisie was ‘n gesellige aand in die skool se personeelkamer, regtig net die een keer ‘n jaar wat jy as kind hierdie heiligdom van die personeel betree het. As Ma of Pa tyd oopgesien het om te kom, moes hulle ‘n bordjie eetgoed vir saam met tee bring. (Ai, dit was die dae toe die ouers nog self daarvoor ingestaan het, nie die tuisnywerheid, of later Woolworths, nie!)
Daar was ‘n handjievol sprekers en luisteraars en twee ooms van die Junior Rapportryers wat beoordeel en boekpryse aan die einde van die aand uitgedeel het.
Nou se dae is dit wat die destydse ATKV vandag uitgedraai het, wat die septer swaai. En dis groot, baie groot. Nasionaal. Internasionaal as ons Namibië en Orania byreken.
Ons laerskool hou oor twee aande uitdunne, een vir die juniors en een vir die seniors, daar is telkens nagenoeg 30 sprekers en die saal is gepak van mammas en pappas en ooms en tannies en oumas en oupas en boeties en sussies; die helfte van hulle tot die tande toe met rolprent- en televisiekameras bewapen. En dié wat dit nie daar het nie laai hul digitale kameras se magasyne met telefotolense wat die plaak op die sprekers se tande vir navorsingsdoeleindes kan afneem.
Gelukkig kan die selfone nie een lui nie, elke foon in die gehoor word gebruik om, óf backup vir die televsiekamera te wees, óf om die toespraak se klankbaan te minste op te kan neem.
Maar ek het vrede, want eintlik hou ek mos van redenaars.
Ek het as student al deur Wes-Transvaal gery en saam met die dramadepartement se personeel redenaarskompetisies gaan beoordeel. En toe ek eers begin skoolhou, van krag tot krag gegaan as kranige afrigter en beoordelaar.
Dis nou tot ek na so 12 jaar van redenaars bloot  na een provinsiale sessie besluit het: tot hiertoe en nie verder nie, ek weier om ooit weer te beoordeel, of dit nou plaaslik of vriendskaplik of onder ‘n naam of sonder ‘n naam is, ek het klaar.
Die kompetisie het net eenvoudig in alle opsigte handuitgeruk.
Dit was om van siek te word. En te bly.
Ek het die laaste een van my skooltoesprake self geskryf. Ek het geweet hoe om dit te doen, en ek het geweet hoe om dit goed te doen.
Goeie toespraakskrywers (en toevallig ook beoordelaars in die kompetisie waarvoor hulle jou van ‘n toespraak voorsien) lewer al langer as 10 jaar nie net meer ‘n getikte toespraak nie, nee, die kliënt word van ‘n opname ook voorsien, sodat die kandidaat die regte infleksies kan hoor en nadoen. En dan praat ek nie van ‘n klankopname nie – ‘n video-opname met die oog op die regte houding, oogkontak en effekberekende handgebare.
Ja, dinge het drasties verander.
Die dag toe ek die laaste keer beoordeel het, was die dag waarop ouers begin verneuk het om hul kinders in die lokale van húl keuse laat meeding, daar waar die regte beoordelaars met die regte voorkennis sit. ‘n Ander moeder het weer vooraf insae gekry in watter leerders van watter skole in watter lokaal praat, en toe aspris laat met haar kind daar aangekom, dit net sodat die kind in ‘n ander lokaal kan gaan praat as die lokaal waarin haar seun saam met ‘n vorige wenner moes praat. Sy was op die punt om hom as ‘n laat inskrywing in die betrokke lokaal van haar keuse te laat praat, toe iemand al 13 lokale se lyste daar had, en die kind se naam in ‘n ander lokaal opgespoor het.
In die film Hoofmeisie  is daar ‘n grap van gemaak, maar dit was inderdaad die middag waarop twee sprekers van twee verskillende skole, trouens een op Brits en een in Pretoria, met presies dieselfde toespraak daar opgedaag het.
Maar die organiseerders kon nie briek aandraai nie, die kompetisie bring geld in. Die beoordelaars kon nie briek aandraai nie, die kompetisie bring geld in en onder die tafel met al die skryfwerk en afrigting saam, bring dit nog meer geld in. En ek as onderwyser in beheer van ‘n span of enkele individuele sprekers wóú nie briek aandraai nie – skielik het ek na jare met ‘n buitemuurse aktiwiteit gesit wat niks van my tyd in beslag neem nie. Terwyl die hoof dink ek werk, leen ek my ore uit aan kinders wat vertel:  “Moenie wharrie nie Meneer, whatch net – my ma het klaar ‘n tannie gekry om alles te doen.”
Ai, en toe, na ‘n klompie jare van redenaars doen sonder om iets hoef te doen, is Klaradyn graad 1 toe. En hulle kry selfs iemand om ‘n kursus vir die ouers te kom aanbied oor hoe om jou graad-eentjie-parrabeentjie se toespraak vir hom of haar te skryf.
Ek stap daar weg en my gesonde verstand sê vir my ons spring nou nie net op een nie, maar sommer op twee verkeerde voete weg wat elk op sy beurt verklaar hoekom hoërskoolredenaars geword het wat dit geword het:  eerstens leer die kind van dag een af dat iemand anders jou toesprake vir jou skryf, wat in graad 1 begin is, gaan nie in graad 7 verander nie. Tweedens word die kinders van graad 1 af geleer om die toesprake soos gedigte uit hulle koppe op te sê; geen graad 1 kind kan notas aflees en ‘n toespraak rondom die sleutelwoorde praat nie, dit moet uit die kop geleer en resiteer word.
Maar ek weet so seker as wat my naam Hans Moolman is dat ‘n kind wat aan so ‘n redenaarsaand deelneem, enige kind, elke kind, ‘n wenner is en lewenslank daardeur verryk word. So Pappa, Mamma (en Klaars noodgedwonge daarby ingesleep) gryp die geleentheid aan.
Ook die jaar daarna, en verlede Woensdagaand toe ek uit die hospitaal ontslaan is, weer.
Ek sluk twee pynpille, kry my seer lyf in die kar en gaan luister na my kind.
Ek lê weliswaar die eerste tweederdes  van die aand op die naat van my rug in die motor se passasiersitplek, maar pouse kom haal Annieka my.
Ek luister met oorgawe en geniet elke oomblik.
Na ‘n outjie waarvan ek een jaar nie ‘n enkele woord kon hoor nie, as graadwenner aangewys is, weet ek darem lankal om nie die kompetisiegedeelte te ernstig op te neem nie.
‘n Ander jaar was die wenner enetjie Klaradyn se ouderdom wat onder andere Reuters Associated  Press as bronverwysing aangebied het. Dit kon Agence France Presse ook gewees het, ek onthou net dat ek totaal stomgeslaan was, gedagtig veral aan my kind wie se bronverwysings ooreenkomstig haar ouderdom en onmiddellike verwysingsraamwerk ‘n episode van Barney, haar oupa Charlie, en iets uit die Afrikaanse weergawe van National Geographic Kids was.
Maar teen vanjaar is my beoordelaarsvaardighede in ieder geval so verroes van al die jare sedert ek my voet neergesit het, dat ek nie eers probeer om met die beoordelaarskaart voor my te luister nie, ek geniet die kinders eerder met volle oorgawe.
Terwyl die hoofbeoordelaar repliek op die aand se gebeure en praatjies lewer, laat val Annieka dat dit die sinvolste kommentaar in ons laerskoolloopbaan is, en ek stem nogal met haar saam.
Elke kind het wat my betref lieflik gepraat, elkeen van die 10 of wat, wat ek gehoor het,  styg uit bo die ander 90 wat nie daar is om te kom praat nie en ek maak vrede met die feit dat elke kraai van nature dink sy eier is die witste, ek móés dié vrede trouens nege jaar gelede al maak toe die verpleegsuster nie mý prinsessie kies om te bad nie. Daar is daardie dag vyf babas gebore en hulle het al die mammas en pappas bymekaar gekry vir ‘n baddemonstrasie. En toe gaan staan en kies die vrou ‘n ander kind wat gelyk het of sy vroeër die dag met tange vrygelaat is!
Ek het nege jaar later weliswaar nie ‘n idee wie sou kon deurgaan as die beste redenaartjie nie, ek troos my daaraan dat dit my werk as pappa is om te sorg dat my kind vir my die mooiste ís, en lýk, en praat, en oorkom, en opstaan, en gaan sit, en doodeenvoudig sommer álles. En ek kwyt myself deeglik van my taak.
Haai, en daar is dit toe nou nie net ek wat so van my kind dink nie, maar ten minste een van die beoordelaars ook – en daar word K vanjaar vorentoe geroep as wenner onder die graad 3’s en die juniors in geheel.
Na die algehele verbasing en oorstelptheid op haar gesig my op die punt van ontroer gehad het, is ek met ‘n bly hart en seer buikwand dadelik uit en kar toe.
En dis hoekom dit in ‘n kwessie van 10 sekondes skielik vir my moeilik geword om die proses te kritiseer, dat ek met gemengde gevoelens oor redenaars sit.
Enige iemand, nie net ma’s en pa’s nie, sal verstaan.
Ek is bly vir my kind, bly dat sy gister die vormende ervaring kon hê om haar toespraak tydens saalopening vir die hele skool te vertel.
Blyer nog, ‘n pa is ‘n pa, dat ek, vir een jaar ten minste, nie die weer ‘n keer die ref hoef te blameer vir die feit dat ons prinses nie gewen het nie.
En laat ek as nota bene en addendum, ter wille van die rekord, dit net duidelik stel dat dit nie ons is wat die foto’s hier onder geneem het nie, dit kom van die skool se saalaanbieding gisteroggend.

4.3.13

To hell and back

‘n Mens kan darem maar onnadenkend omgaan met die “share”-knoppies in die sosiale media. ‘n Week of wat gelede deel ek iets deur Koos Kombuis onder die opskrif “Daar is ‘n hel”, minwetende dat ek binne die volgende vier dae sou uitvind die hel is nié op Somerset-Wes gestasioneer soos die man aanvoer nie, maar dat dit nou verskeie takkantore dwars oor Suid-Afrika, soorts van soos ‘n franchise of so iets, het.
Koos Kombuis het hel leer ken aan die hand van ‘n nadere kennismaking met sy plaaslike munisipaliteit.
My eie beskeie huishoudinkie se  water-en-ligterekening is maande nou al elke maand sowat R2000-00 meer as enige van my bure s’n. Gelukkig het ons hierdie maand ‘n all time low van R3 500-00 beleef. Anders as Koos weet ek fool rush in where angels fear to tread, so ek raak aan die munisipaliteit nie met ‘n tang nie.
Maar so is ek toe nou genoop om Watloo toe te gaan rondom ‘n motor se registrasiepapiere wat na alle waarskynlikheid weggeraap is tot op ‘n plek of dimensie waar ek en Annieka dit na drie dae se soek nie kon opspoor nie.
En skielik begin een van die Indiese godsdienste, die Jainisme, se siening van die hel vir my soveel meer sin maak. Die aanhangers van die geloof glo nie in iets so ordinêr soos slegs maar een hel nie, nee, hulle onderskei sewe verskillendes, op sewe verskillende vlakke, en van sewe verskillende intensiteite. Iets soos Nando’s se verskillende chilliesouse, stel ek my dit voor.
Koos se munisipaliteit is, glo my vry, bloot die intreevlak. Was dit soos die kombuis se toaster (‘n ander manier om daarna te kyk as in terme van chillies) is dit met die verstelknoppie op 1 gedraai.
Watloo, aan die ander kant, is volsterkte, nommer 7!

Ek is vir die tweede keer soontoe, 06:00 die oggend, dieselfde oggend waarop ek om 10:00 by hospitaal moet aanmeld vir my para-umbilikale breukoperasie.
Ek was die grootste gedeelte van die vorige dag ook daar. En amper was ek die grootste gedeelte van die vorige dag verniet daar.
Daar daag mos daagliks net hopeloos te veel mense voor die Watloo-poorte op, en dan hier knap na eenuur kom die gevalle engel se handlangers uit en stuur die mense wat na hulle mening nog nie teen sluitingstyd deur die drukgang gaan wees nie, huis toe vir ‘n tweede dood tot verdere kennisgewing.
So is die twee mense agter my nog ingelaat, maar die menigteagter hulle wat met veel meer as die onuitputbare sewe visse en vyf brode gevoed sou kon word, is almal, deur die bank, weggewys.
Ons drie kon darem gelukkig nog in.
Dis eers twee ure later, toe die wat laaste was, uiteindelik eerste is, dat ek weggewys word omdat hulle die vorige dag nagelaat het om te noem ek moet ‘n bewys van residensie inlewer.
Ja, ek hét gebel, ek het trouens met die foon in die hand aan die slaap geraak, nie omdat ek skape afgetel het nie, maar die 3 689 inbellers wat voor my deurgeskakel is.  Nagenoeg 15 van hulle was nie gelukkig genoeg om soos ek aan die slaap te raak nie, hulle het sommer beswyk, en toe beset hulle ‘n stuk of 15 van die telefoonlyne wat tot verdere vertraging van enige vorm van hulp aanleiding gegee het.
Gelukkig is Watloo se werksure nóg korter as bankure, en kon ek rustig, na besoek aan die roadhouse, deurskiet bank toe om ‘n rekeningstaat met my adres op aan te vra.
Die volgende oggend is ek 06:10 daar; weliswaar nie eerste nie, maar vyfde.
Ek moet so vroeg daar wees om te verseker dat ek voor in die ry is, sodat ek, maak hulle soos gesuggereer om 08:00 oop, relatief gou geholpe kan wees. 10:00 wag die lem mos om te keer dat my binnegoed aanhou by die gat in my buikwand uitwurm.
Ek staan dan ook om die waarheid te sê van 06:10 daar, vreeslik stewig  op- en om- en in- en vasgebind met etlike inklimgordels om my lyf, om binne te hou wat binne moet bly.
Iemand het seker 20 jaar gelede in my teenwoordigheid genoem dat ‘n mens nie aan ‘n breuk moet laat sny voor dit nie absoluut nodig is nie. So het ek hierdie woorde ter harte geneem en toe ek jare later self een ontwikkel aangehang en vasgebyt tot ek knap duskant ‘n noodoperasie moes hospitaal toe.
Maar die registrasiepapiere kan nie wag tot ek weer op die been is nie, ek moet maar net vroeg genoeg op die been kom en in die tou gaan staan.
Ek het donkiesjare gelede, nog voor ek begin skool hou het, by die Blou Meul op Alberton vir my een van daardie wandelstokke wat bo oopvou om sitplek te word, gekoop. Ek het destyds voorsien ek sal dalk eendag lank in ‘n tou moet staan op rugbykaartjies te koop, en dan hoef ek nie so lank te staan nie, ek kan gerieflik sit.
Ek het die ding, letterlik, in meer as 20 jaar nie een keer gebruik nie, en dit het niks met rugby te doen nie, maar suiwer die feit dat die goed ‘n lewensrisiko vir jou asposteriori  inhou – vit al wat jy weet het jy nie eendag meer nodig om vir daai oumansoperasie te gaan nie, jy het alles sommer uitgeval die dag toe jy in die tou voor Loftus se kaartjieskantoor op jou wandelstok probeer sit het.
Ek kry die kierie teen alle verwagting in opgespoor waar ek dit 10 jaar gelede toe ons hier ingetrek het, op die heel boonste rak in die motorhuis gesit het.

Gewapen met hierdie kierie en toegerus met die dikste storieboek in die huis, val ek toe nou 06:10 vyfde in die tou wat spoedig ‘n lywige serpent  met sy stert iewers om die gebou se agterkant word.
Hier teen 07:40 is my boek ook klaar gelees en kan ek al geld as straatarties verdien – gedagtig nou aan al die balanseertoertjies wat ek op en om my sit-sit-so-kierie kan uitoefen.
Dis ook ongeveer hierdie tyd, 07:40, een uur en dertig minute later, dat daar skielik ‘n tweede ry, parallel met ons s’n begin vorm aanneem.  As ons links van die deur se linkerkosyn staan, dan staan die kop van hierdie nuwe slang net so regs van die regterkosyn. En dis nie 15 minute nie, toe het hierdie verwarde huisslangetjie aangegroei tot ‘n basilisk van gigantiese afmetings.
Ek tree versig so effe uit my ry, net om seker te maak daar is nie ‘n straks twee bordjies, een links en een regs, by die deur waar ons tou nie. Netnou ís daar en dan staan daar op die anderkant se bordjie dat dit is waar jy moet staan vir motorvoertuie se herregistrasievorms.
Maar gelukkig is daar nie.
Plek-plek begin links en regs na mekaar hap en gif spoeg. En ek kan dit verstaan.
Maar ek weerhou my daarvan om hierdie nuwe tweede ry reg te help deur beleef te noem dat die einde van die ry af met die tou waarin ek staan, is. Ja, jy kan die einde weliswaar nie meer sien nie, dit kronkel nou al twee en ‘n half keer om die gebou, deur die parkade en af in die straat waar hulle ingekom het, enige mens met gesonde verstand wat 07:40 hier aangekom het, sou dit agtergekom het toe hulle netnou by die hek ingekom het, onder die indruk dis weer 27 April 1994, die dag van die eerste demokratiese verkiesing in die mooi Reënboogland van ons.
Ek wonder in die stilligheid hoe dit moontlik is dat daar soveel breindooies op een oggend by Watloo kan aanmeld.
Die res is geskiedenis, en voorspelbaar.
Al wat die leser seker nie verwag nie is dat die deur nie 08:00 oopgemaak het nie, maar 07:55 – kan jy meer! Wonderwerke gebeur nog! Dis darem nie net die gerugte van iets soos ‘n hel wat waar blyk te wees nie.
Maar dis gou duidelik dat die mense aan die binnekant van die deur al van baie vroeg af daar besig is, want dis omreeds hul eerste smoke break vir die oggend te kom neem, dat hulle die deur so vroeg oopmaak.
En so waar as wat ek nie ‘n koronêr geskiet het nie, maar oorleef het om die storie, vandag, amper ‘n week later te kan vertel, druk die twee tannies hulle sigarette op die grond dood, skiet die stompies eenkant toe, en laat die 30 mense aan die regterkant van die deur eerste inbeweeg.
Vir die volgende 40 minute gebeur daar niks nie – behalwe nou vir die feit dat ons waaraan die spinnekoppe al hul spinnerakke begin weef, al hoe warmder om die kraag begin raak. Ek bly, soos van 06:10 af, vyfde in die ry.
Toe kom daai een Beëlsebub van ‘n tannie uit vir haar volgende sigaret, en na sy haar stompie weggeskiet het, stap sy met die ry af en kyk na ons papiere – dit was soos op laerskool as ons almal ons hande moes wys dat Juffrou kan sien of ons ons hande mooi gewas het, net, hierdie vrou het nie na ons hande of naels gekyk nie, sy het  ons papiere uitgekyk.
Party mense stuur sy toe so waar as waaragtig na regs om ‘n nuwe tweede tou te begin vorm.
En ek, nommer 5 van 06:10 af, was die eerste een van hulle.
Maar ek sluit af, ek kan voel, aanvoel, dat ek na die operasie duidelik nog nie geestelik en vleestelik  sterk genoeg is om nou al met al hierdie gevoelens en stukkies onthou om te kan gaan nie.