Ek wil Alberton toe. Ek wou vanoggend 03:00 al, maar het
gelukkig weer aan die slaap geraak.
Die naam van die hoogste gebou op die dorp kan ek wraggies
nie eers onthou nie, die een wat jy sien as jy van Johannesburg se kant af dorp
toe kom.
Maar dis daar waar ek my herbesoek sal begin. Nie omdat dit so
belangrik is nie, bloot omdat dit so ‘n groot en duidelike baken is, bloot
omdat dit eerste is wat jy sien, vlak by die tweede robot, kom jy die dorp in.
Royal York is sy naam. Die SAL-advertensie, heel bo, heel
links, is af, sien ek as ek Google maps ingespan
het om die geheue aan te help. Ek was altyd so trots op daardie advertensie – SAL,
in Afrikaans! En dit lank na die SAL al jare lank net SAA geword het. Ek dink
nie vir een oomblik iemand by die SAA het wakker geskrik en die reliek uit die
Apartheidsjare laat verwyder nie, geensins nie; ek dink hulle het bloot ophou
betaal. Niemand van die Ekhuruleni Municipality sou dit natuurlik agtergekom
het nie en een mooi dag het die hele kontrepsie dalk net van daar bo af
losgekom en neergedonder aarde toe, vlak by die busterminus tot rus gekom het.
Die busterminus. Ek sal seker nie dadelik die dorp weer wil
uit die bult op nie, maar busterminus toe, groen onthou ek dit, sal ek gaan.
Van hier af het die bus jou Johannesburg toe gevat. Op ‘n slegte dag sou dit
vreeslik stink, halfpad soheen toe – die abattoir.
Iemand wat dink dat ‘n
leerlooiery stink, weet nie hoe die grootste slagpale in die suidelike halfrond
kan stink nie – dis soos ‘n onsigbare wolkkolom wat van daar bo teen die bult
afkom en hier onder oor die dorp kom hang. Die grootste abattoir in die
suidelike halfrond? Ek weet nie? Maar hoekom nie?
Op ‘n Vrydagmiddag moes jy ons mense op daardie bus sien
skarrel het, sodra die abattoir nader kom. Dis Vrydagmiddag en jy gaan fliek of
ysskaats. In Johannesburg. Alberton se enigste onafhanklike fliek was toe al
jare lank toe, en jy sou klaar met skool en universiteit en weermag wees voor
die dorp weer ‘n fliek sou kry. Maar Vrydae tjaila die abattoir se outjies vroeër
en dan staan hulle in sulke lang rye by die busstop en wag. Rooi en geel
oorpakke, bont reënstewels (vir die bloed), plastiek helmets (waarvoor sal ek
nie weet nie) en kosblik in die hand.
Waar almal elkeen dan alleen op sy eie bank gesit het, tot
daar, spring almal op en gaan sit sommer vier-vier op ‘n drie-sitplekbank – net
sodat een van daardie rowwe Jacks nie langs jou moet kom sit nie. Die reuk van
die abattoir was in hul ongeskeerde gesigte, hul hare, hul tande, selfs die
hare op hul bors. Selfs reisigers wat mekaar glad nie geken het nie, en nog nie
‘n woord met mekaar gepraat het, het verlig langs mekaar ingeskuif.
Dit was jare voor 1994, dit was ‘n Whites Only / Slegs
Blankes bus daardie gewees wat ons in Johannesburg oorkant die hof afgelaai
het. Dan is dit 5 minute se stap Carlton Sentrum toe, régtig die hoogste gebou
in die land, in Suid-Afrika. In die suidelike halfrond? Ek weet nie, maar so what – die hoogste gebou suid van die
ewenaar.
Daar het ons gefliek en ge-ysskaats. Met R20-00 het ons bus gery, gefliek,
met leerstewels (in kontras met vandag se plastiek gemors wat jy te huur kry) op
ys geskaats, ‘n hamburger en Coke geniet, én kleingeld terug gebring.
Ek wil nog een keer ‘n buskaartjie laat knip met so ‘n mooi
kaartjieknipper-patroontjie. Jy het sterre en sirkels en halfmaantjies gekry.
By die busterminus, verbeel ek my, kon jy weekkaartjies
koop, genommer van 1 tot 5 links af, en 6 tot 10 aan die regterkant.
Dis hier teen ‘n muur by die groen busterminus waar Alberton
se most famous graffiti was. Iemand
het iewers in ‘n onstuimige politieke OOMBLIK gaan skryf: DIE ROOM VAN ‘N VOLK IS ALTYD VERKRAMP. Dit
het so ‘n week of wat gestaan, tot ‘n ander ROOM se –R gaan deurhaal het. En ‘n
stertjie bygelas het. Toe staan daar:
DIE OOM VAN ‘N VOLK IS ALTYD VERKRAMP, en onder dit in dieselfde kleur spuitverf wat
die –R deurgehaal het, MAAR DIE TANNIE IS O.K.
Maar ek was by die Royal York.
Alberton had al die jare net een restaurant, Burger Ranch.
‘n Jood en sy vrou wat
die plek bedryf het. Hulle het hulle seuns almal Israel toe gestuur om daar hul
5 jaar weermagopleiding te ondergaan. Al drie van hulle. Of hulle drie seuns
had, weet ek nie, of Israel 5 jaar weermagopleiding het, en dit nogal vir immigrante
uit Suid-Afrika, weet ek nog minder. Maar dat dit as kind vir die waarheid aan
my vertel is, is die reine heilige waarheid. Teen die daardie tyd was die Burger Ranch (rooi en swart van binne)
ook al lankal toe, en het die Jode-oom en –tannie lankal aan stuur van sake by
die Winning Post gestaan.
Die Winning Post, ook ‘n storie op sy eie.
Dis daar waar die ryk maatjies jou heen genooi het as hulle verjaar – vir ‘n
hamburger én ‘n melkskommel, of ‘n wafel met room/roomys en ‘n melkskommel. En
ook nie net jy en sy nie, ‘n hele twee tafels vol (party jare drie). Die
spyskaart was in Afrikaans. Afrikaans én Engels, toe ons hier teen 2007 laas
daar geëet het.
Maar dis ander besoekpunt, ek hang nog by die Royal York
uit. Die dorp se tweede restourant, naas Burger
Ranch, was The Pancake House, ‘n
bietjie laer af in Voortrekerstraat. Ja, Voortrekkerstraat, hoe dan nou anders.
Ek en my ma en my pa het hier kom eet, ‘n groot aardigheid, dié nuwe eetplek op
die dorp. Dit moes rondom graad 2, standerd 1 gewees het, wat einde standerd 2
was die egskeiding. ’73, ’74, ’75. Daar rond. Die plek het in elk geval nie
lank gehou nie, toe kry die dorp sy eerste nuwe fancy restourant in Royal York, op die eerste vloer.
Sy naam kan ek nie onthou nie.
Aanvanklik was dit ‘n steak house, toe ‘n Portugese eetplek en
later jare, na skool, ‘n Sjinese plek. Maar toe dit nog ‘n steak house was, eet ons een aand daar saam met my peetpa, Oom
Kobus, ‘n bees- en skaap- en mielieboer uit die Vrystaat. Hy het vooroor
geleun, ek onthou dit soos gister, en vertel hoe duur kos gaan word – hy het
voorspel dat ons een van die dae, sit jy vas in jou stoel, ek wil nie hê jy
moet omval nie, vir ‘n steak in ‘n
restourant so veel soos R10-00 gaan betaal. Niemand aan die tafel het hom geglo
nie. As ek self nie so ordentlik groot gemaak was nie, sou ek gedink het hy
praat die grootste kak onder son. Maar sulke lelike woorde sou daardie jare nie
deel van my verwysingsraam gewees het nie.
Verniet of ek die naam van plek onthou.
Die Portugese plek was swart van binne en die tradisionele
Portugese hoenderhaatjie was prominent op die spyskaart.
Teen die tyd dat die Sjinese restourant daar was, was my ma
al sou oud en op daardie stadium van haar lewe waar sy van alle restourantkos
gesê het: “O, aarde, die porsies is te
groot, ek sal nooit al hierdie kos geëet kry nie.”
Ek kom agter sinnetjies soos daai is universeel, lyk my ons
almal raak dit kwyt soos ons oud raak.
In ‘n stadium was daar ‘n Duitse delikatessen op die
grondvloer, skuins onder die restourant. Jy kon die lekkerste koue vleise en
kase daar aankoop. Ek was nou op hoërskool en ons buurvrou ‘n Duitse oujongnooi
uit Wene. Haar vriendin had die delikatessen. Hulle is eerste terug Duitsland
toe. Sy ‘n hele paar jaar later. Ek het twee keer vir haar gaan kuier. Maar dis ook al lank terug.
Die gebou se kafee was al die jare nog 'n treurige plek. Ek het dit as skoolkind geboikot - die eienaar was die eerste om jou destyds net drie, in plaas van vier, Chappies vir 2 sent te gee. 'n Chappie het destyds 'n halwe sent gekos, twee vir 1 sent, vier vir 2 sent. Maar nie daar nie. Skurk!
Lekkerder nog as die delikatessen en elke restourant
wat ooit daar was, is die movie hire in
die Royal York-gebou. Nee, nie die video-winkel nie, die Movie Hire. Snaaks dat video-winkels steeds video-winkels is, al
weet vandag se kinders nie wat VHS of Beta beteken nie. Daardie jare het iets
soos ‘n videowinkel lank nog nie bestaan nie. Hier het jy flieks, in ronde leertasse
uitgeneem. En ook nie net die fliek nie, die projektor ook, as jy, soos baie
mense, nie self jou eie 35 mm-projektor gehad het nie. O, die opwinding, die
lekkerte.
By die Van Rooyens het ons nie gebodder om ‘n wit laken oor
die gordyn te hang, of die skilderye van die muur te haal nie – hulle het
sommer die blou Valiant uit die garage getrek
en die projektor op ‘n tafel staan gemaak.
Heerlike aande, heerlike tye.
Oom
Hannes het toe nog geleef. Tannie Marthie ook.
Ek wou nie netnou enige name rondom
die ryk maatjies noem nie – van hulle lees partykeer hier, maar die Van Rooyens
hoef wraggies nie anoniem te bly nie.
Oom Hannes het een oggend met daardie blou Valiant by die
hek uitgery gekom werk toe, toe ek huilend in my Laerskool Generaal
Alberts-safaripakkie daar aankom. Ek sien hom by die venster uitleun, ‘n
onseker glimlag op sy gesig en hoe hy my die huis in beduie.
“My ma en pa gaan skei,” is al wat ek daardie oggend in
Tannie Marthie se hoofslaapkamer, met sy troufoto en afbeelding van ‘n balerina
– The Dying Swan – teen die muur,
kon uitkry.
Dat my pa die oggend die ronde tafel in hulle slaapkamer op
my ma omgekeer het, dat die Venus de Milo-beeldjie
teen hulle hoofslaapkamermuur daardie oggend gebreek het, het ek hulle nie
vertel nie, ek vertel dit vandag, ‘n goeie veertig jaar later, vir die heel
eerste keer.
Tog wil ek teruggaan na die plek waar ek kind was.
Naskrif:
Op soek na 'n prentjie van die Burger Ranch, kom ek toe op die volgende af:
With its origins in South Africa, Burger Ranch made its
way to Israel in the early 1970s, and by the end of that decade, it had two
branches in Tel Aviv. When McDonalds entered the fast food market here in 1993,
Burger Ranch had nearly 50 restaurants and was the largest restaurant chain.
Burger Ranch se Wikipedia-artikel noem nie eens die Suid-Afrikaanse konneksie nie. Ek het die stukkie inligting hier gekry.
Die eietydse logo (ek kon nie glo toe ek dit raakloop nie) is presies soos ek dit onthou, maar dit was nie geel en rooi nie, net swart en rooi.
Die eietydse logo (ek kon nie glo toe ek dit raakloop nie) is presies soos ek dit onthou, maar dit was nie geel en rooi nie, net swart en rooi.
Die bult-af Alberton toe, is 'n bult-af wat kilometers sterk. Behalwe die stank wat daar afgekom het onthou ek duidelik hoe ek snags die swaar trokke met hul ratte hoor afslek het. Ons het in 'n stadium binne hoorafstand van die bult gebly.
Dit het gereeld gebeur dat die heel groot lorries se remme gefaal het, en dan het hulle hier, waar die sand nou se dae vir hulle gegooi is, van beheer verloor en van die pad af gegaan.
2 comments:
Die storie lees soos n lekker duur tjoklit. Nostalgie is een van daai dinge wat lekker is en wat stilletjies seermaak ook. Maar so lekker, duur seer wat mens jouself soms mee bederf as niemand weet nie.
Ons moet tog nie vergeet van Springbok apteek en elke ma wat Mr. Gene soos 'n goeie vriend geken het as ons kinders siek was...
Ek bly steeds in Alberton en wil soms nog die Griekse Kerk se klok in die nag gaan lui, en gaan vry by die Hervormde kerk om die hoekie. By die minusipale swembad se muur oorspring om kaalgat te gaan swem, nadat jou beste pal jou met 'n Checkers trollie tot by die brug stoot!
So lekker gelees!!! Dankie!!!
Amanda Louwrens Geyer
Post a Comment