Pages

16.12.13

Ek wil terug na die plek waar ek kind was (1)


Ek wil Alberton toe. Ek wou vanoggend 03:00 al, maar het gelukkig weer aan die slaap geraak.

Die naam van die hoogste gebou op die dorp kan ek wraggies nie eers onthou nie, die een wat jy sien as jy van Johannesburg se kant af dorp toe kom. 



Maar dis daar waar ek my herbesoek sal begin. Nie omdat dit so belangrik is nie, bloot omdat dit so ‘n groot en duidelike baken is, bloot omdat dit eerste is wat jy sien, vlak by die tweede robot, kom jy die dorp in.

Royal York is sy naam. Die SAL-advertensie, heel bo, heel links, is af, sien ek as ek Google maps ingespan het om die geheue aan te help. Ek was altyd so trots op daardie advertensie – SAL, in Afrikaans! En dit lank na die SAL al jare lank net SAA geword het. Ek dink nie vir een oomblik iemand by die SAA het wakker geskrik en die reliek uit die Apartheidsjare laat verwyder nie, geensins nie; ek dink hulle het bloot ophou betaal. Niemand van die Ekhuruleni Municipality sou dit natuurlik agtergekom het nie en een mooi dag het die hele kontrepsie dalk net van daar bo af losgekom en neergedonder aarde toe, vlak by die busterminus tot rus gekom het.

Die busterminus. Ek sal seker nie dadelik die dorp weer wil uit die bult op nie, maar busterminus toe, groen onthou ek dit, sal ek gaan. Van hier af het die bus jou Johannesburg toe gevat. Op ‘n slegte dag sou dit vreeslik stink, halfpad soheen toe – die abattoir. 

Iemand wat dink dat ‘n leerlooiery stink, weet nie hoe die grootste slagpale in die suidelike halfrond kan stink nie – dis soos ‘n onsigbare wolkkolom wat van daar bo teen die bult afkom en hier onder oor die dorp kom hang. Die grootste abattoir in die suidelike halfrond? Ek weet nie? Maar hoekom nie?

Op ‘n Vrydagmiddag moes jy ons mense op daardie bus sien skarrel het, sodra die abattoir nader kom. Dis Vrydagmiddag en jy gaan fliek of ysskaats. In Johannesburg. Alberton se enigste onafhanklike fliek was toe al jare lank toe, en jy sou klaar met skool en universiteit en weermag wees voor die dorp weer ‘n fliek sou kry. Maar Vrydae tjaila die abattoir se outjies vroeër en dan staan hulle in sulke lang rye by die busstop en wag. Rooi en geel oorpakke, bont reënstewels (vir die bloed), plastiek helmets (waarvoor sal ek nie weet nie) en kosblik in die hand.

Waar almal elkeen dan alleen op sy eie bank gesit het, tot daar, spring almal op en gaan sit sommer vier-vier op ‘n drie-sitplekbank – net sodat een van daardie rowwe Jacks nie langs jou moet kom sit nie. Die reuk van die abattoir was in hul ongeskeerde gesigte, hul hare, hul tande, selfs die hare op hul bors. Selfs reisigers wat mekaar glad nie geken het nie, en nog nie ‘n woord met mekaar gepraat het, het verlig langs mekaar ingeskuif.

Dit was jare voor 1994, dit was ‘n Whites Only / Slegs Blankes bus daardie gewees wat ons in Johannesburg oorkant die hof afgelaai het. Dan is dit 5 minute se stap Carlton Sentrum toe, régtig die hoogste gebou in die land, in Suid-Afrika. In die suidelike halfrond? Ek weet nie, maar so what – die hoogste gebou suid van die ewenaar. 

Daar het ons gefliek en ge-ysskaats. Met R20-00 het ons bus gery, gefliek, met leerstewels (in kontras met vandag se plastiek gemors wat jy te huur kry) op ys geskaats, ‘n hamburger en Coke geniet, én kleingeld terug gebring.

Ek wil nog een keer ‘n buskaartjie laat knip met so ‘n mooi kaartjieknipper-patroontjie. Jy het sterre en sirkels en halfmaantjies gekry.



By die busterminus, verbeel ek my, kon jy weekkaartjies koop, genommer van 1 tot 5 links af, en 6 tot 10 aan die regterkant.

Dis hier teen ‘n muur by die groen busterminus waar Alberton se most famous graffiti was. Iemand het iewers in ‘n onstuimige politieke OOMBLIK gaan skryf:  DIE ROOM VAN ‘N VOLK IS ALTYD VERKRAMP. Dit het so ‘n week of wat gestaan, tot ‘n ander ROOM se –R gaan deurhaal het. En ‘n stertjie bygelas het. Toe staan daar:  DIE OOM VAN ‘N VOLK IS ALTYD VERKRAMP,  en onder dit in dieselfde kleur spuitverf wat die –R deurgehaal het, MAAR DIE TANNIE IS O.K.

Maar ek was by die Royal York.



Alberton had al die jare net een restaurant, Burger Ranch



‘n Jood en sy vrou wat die plek bedryf het. Hulle het hulle seuns almal Israel toe gestuur om daar hul 5 jaar weermagopleiding te ondergaan. Al drie van hulle. Of hulle drie seuns had, weet ek nie, of Israel 5 jaar weermagopleiding het, en dit nogal vir immigrante uit Suid-Afrika, weet ek nog minder. Maar dat dit as kind vir die waarheid aan my vertel is, is die reine heilige waarheid. Teen die daardie tyd was die Burger Ranch (rooi en swart van binne) ook al lankal toe, en het die Jode-oom en –tannie lankal aan stuur van sake by die Winning Post gestaan. 



Die Winning Post, ook ‘n storie op sy eie. Dis daar waar die ryk maatjies jou heen genooi het as hulle verjaar – vir ‘n hamburger én ‘n melkskommel, of ‘n wafel met room/roomys en ‘n melkskommel. En ook nie net jy en sy nie, ‘n hele twee tafels vol (party jare drie). Die spyskaart was in Afrikaans. Afrikaans én Engels, toe ons hier teen 2007 laas daar geëet het.

Maar dis ander besoekpunt, ek hang nog by die Royal York uit. Die dorp se tweede restourant, naas Burger Ranch, was The Pancake House, ‘n bietjie laer af in Voortrekerstraat. Ja, Voortrekkerstraat, hoe dan nou anders. Ek en my ma en my pa het hier kom eet, ‘n groot aardigheid, dié nuwe eetplek op die dorp. Dit moes rondom graad 2, standerd 1 gewees het, wat einde standerd 2 was die egskeiding. ’73, ’74, ’75. Daar rond. Die plek het in elk geval nie lank gehou nie, toe kry die dorp sy eerste nuwe fancy restourant in Royal York, op die eerste vloer.

Sy naam kan ek nie onthou nie. 

Aanvanklik was dit ‘n steak house, toe ‘n Portugese eetplek en later jare, na skool, ‘n Sjinese plek. Maar toe dit nog ‘n steak house was, eet ons een aand daar saam met my peetpa, Oom Kobus, ‘n bees- en skaap- en mielieboer uit die Vrystaat. Hy het vooroor geleun, ek onthou dit soos gister, en vertel hoe duur kos gaan word – hy het voorspel dat ons een van die dae, sit jy vas in jou stoel, ek wil nie hê jy moet omval nie, vir ‘n steak in ‘n restourant so veel soos R10-00 gaan betaal. Niemand aan die tafel het hom geglo nie. As ek self nie so ordentlik groot gemaak was nie, sou ek gedink het hy praat die grootste kak onder son. Maar sulke lelike woorde sou daardie jare nie deel van my verwysingsraam gewees het nie.

Verniet of ek die naam van plek onthou.

Die Portugese plek was swart van binne en die tradisionele Portugese hoenderhaatjie was prominent op die spyskaart.

Teen die tyd dat die Sjinese restourant daar was, was my ma al sou oud en op daardie stadium van haar lewe waar sy van alle restourantkos gesê het:  “O, aarde, die porsies is te groot, ek sal nooit al hierdie kos geëet kry nie.”

Ek kom agter sinnetjies soos daai is universeel, lyk my ons almal raak dit kwyt soos ons oud raak.

In ‘n stadium was daar ‘n Duitse delikatessen op die grondvloer, skuins onder die restourant. Jy kon die lekkerste koue vleise en kase daar aankoop. Ek was nou op hoërskool en ons buurvrou ‘n Duitse oujongnooi uit Wene. Haar vriendin had die delikatessen. Hulle is eerste terug Duitsland toe. Sy ‘n hele paar jaar later. Ek het twee keer vir haar gaan kuier. Maar dis ook al lank terug.


Die gebou se kafee was al die jare nog 'n treurige plek. Ek het dit as skoolkind geboikot - die eienaar was die eerste om jou destyds net drie, in plaas van vier, Chappies vir 2 sent te gee. 'n Chappie het destyds 'n halwe sent gekos, twee vir 1 sent, vier vir 2 sent. Maar nie daar nie. Skurk!
Lekkerder nog as die delikatessen en elke restourant wat ooit daar was, is die movie hire in die Royal York-gebou. Nee, nie die video-winkel nie, die Movie Hire. Snaaks dat video-winkels steeds video-winkels is, al weet vandag se kinders nie wat VHS of Beta beteken nie. Daardie jare het iets soos ‘n videowinkel lank nog nie bestaan nie. Hier het jy flieks, in ronde leertasse uitgeneem. En ook nie net die fliek nie, die projektor ook, as jy, soos baie mense, nie self jou eie 35 mm-projektor gehad het nie. O, die opwinding, die lekkerte.



By die Van Rooyens het ons nie gebodder om ‘n wit laken oor die gordyn te hang, of die skilderye van die muur te haal nie – hulle het sommer die blou Valiant uit die garage getrek en die projektor op ‘n tafel staan gemaak. 

Heerlike aande, heerlike tye. 

Oom Hannes het toe nog geleef. Tannie Marthie ook. 

Ek wou nie netnou enige name rondom die ryk maatjies noem nie – van hulle lees partykeer hier, maar die Van Rooyens hoef wraggies nie anoniem te bly nie.

Oom Hannes het een oggend met daardie blou Valiant by die hek uitgery gekom werk toe, toe ek huilend in my Laerskool Generaal Alberts-safaripakkie daar aankom. Ek sien hom by die venster uitleun, ‘n onseker glimlag op sy gesig en hoe hy my die huis in beduie.

“My ma en pa gaan skei,” is al wat ek daardie oggend in Tannie Marthie se hoofslaapkamer, met sy troufoto en afbeelding van ‘n balerina – The Dying Swan – teen die muur, kon uitkry.

Dat my pa die oggend die ronde tafel in hulle slaapkamer op my ma omgekeer het, dat die Venus de Milo-beeldjie teen hulle hoofslaapkamermuur daardie oggend gebreek het, het ek hulle nie vertel nie, ek vertel dit vandag, ‘n goeie veertig jaar later, vir die heel eerste keer.

Tog wil ek teruggaan na die plek waar ek kind was.



Naskrif:

Op soek na 'n prentjie van die Burger Ranch, kom ek toe op die volgende af:

With its origins in South Africa, Burger Ranch made its way to Israel in the early 1970s, and by the end of that decade, it had two branches in Tel Aviv. When McDonalds entered the fast food market here in 1993, Burger Ranch had nearly 50 restaurants and was the largest restaurant chain.

Burger Ranch se Wikipedia-artikel noem nie eens die Suid-Afrikaanse konneksie nie. Ek het die stukkie inligting hier gekry.

Die eietydse logo (ek kon nie glo toe ek dit raakloop nie) is presies soos ek dit onthou, maar dit was nie geel en rooi nie, net swart en rooi.


Die bult-af Alberton toe, is 'n bult-af wat kilometers sterk. Behalwe die stank wat daar afgekom het onthou ek duidelik hoe ek snags die swaar trokke met hul ratte hoor afslek het. Ons het in 'n stadium binne hoorafstand van die bult gebly. 

Dit het gereeld gebeur dat die heel groot lorries se remme gefaal het, en dan het hulle hier, waar die sand nou se dae vir hulle gegooi is, van beheer verloor en van die pad af gegaan.