Die dag voor ons weg is, tref my – ek het geen, maar géén,
leesstof ingepak nie. Die sleepwa staan al van die naweek af gepak, net reg vir
aanhaak en wegsleep. Die res is alles so goed soos gepak – as Annieka dit
skielik in haar sou kry dat ons direk as die skool uitkom, in die pad moet val,
dan kan ons.
Maar nie sonder iets vir om te lees nie. Hoe kon ek so nalatig wees. Selfs die motor én die sleepwa se lisensieskyfies is hernu. (Vandat dinge in ons land my al hoe meer en meer aan ʼn polisiestaat begin herinner, wil ek nie sonder ʼn enkele lisensieskyf betrap word nie.)
Ek sal ook nie sommer sonder ʼn boek op die strand betrap word nie. Dis nog nie 05:00 nie, maar ek bel ʼn kollega en na haar “sjoe-maar-jy-bel-vroeg,” gevolg deur my, “maar-ek-het-geweet-jy-gaan-al-wakker-wees,” kan ek haar vra om asseblief vir my ʼn boek wat saam te bring skool toe, sodat ek die vakansie iets kan hê om te lees.
Drie lieflike boeke – elkeen so reg in my kraal. Ek gaan maak ook ʼn draai in die skool se mediasentrum, daar is ʼn wonderlike kas met grootmensboeke in die juffrou se kantoor. Dis vir personeel en sekere uitgelese, en baie belese, skoolleerders. Ons is ʼn lesende personeelkorps en die meeste van die boeke is skenkings en donasies.
Tussen my vroegoggend telefoonoproep en blitsbesoek aan die biblioteek moet ek plek maak vir nie minder nie as nege lekkerlees-leesboeke. Net om seker te maak ek word nie droëbek gevang nie, versteek ek op nommer honderd nege en negentig my luukse, ryklik geïllustreerde, hardebanduitgawe van Bill Bryson se The Illustrated At Home onder die bestuurdersitplek weg.
Maar nie sonder iets vir om te lees nie. Hoe kon ek so nalatig wees. Selfs die motor én die sleepwa se lisensieskyfies is hernu. (Vandat dinge in ons land my al hoe meer en meer aan ʼn polisiestaat begin herinner, wil ek nie sonder ʼn enkele lisensieskyf betrap word nie.)
Ek sal ook nie sommer sonder ʼn boek op die strand betrap word nie. Dis nog nie 05:00 nie, maar ek bel ʼn kollega en na haar “sjoe-maar-jy-bel-vroeg,” gevolg deur my, “maar-ek-het-geweet-jy-gaan-al-wakker-wees,” kan ek haar vra om asseblief vir my ʼn boek wat saam te bring skool toe, sodat ek die vakansie iets kan hê om te lees.
Drie lieflike boeke – elkeen so reg in my kraal. Ek gaan maak ook ʼn draai in die skool se mediasentrum, daar is ʼn wonderlike kas met grootmensboeke in die juffrou se kantoor. Dis vir personeel en sekere uitgelese, en baie belese, skoolleerders. Ons is ʼn lesende personeelkorps en die meeste van die boeke is skenkings en donasies.
Tussen my vroegoggend telefoonoproep en blitsbesoek aan die biblioteek moet ek plek maak vir nie minder nie as nege lekkerlees-leesboeke. Net om seker te maak ek word nie droëbek gevang nie, versteek ek op nommer honderd nege en negentig my luukse, ryklik geïllustreerde, hardebanduitgawe van Bill Bryson se The Illustrated At Home onder die bestuurdersitplek weg.
Ek het die boek al twee keer gelees, en elke keer weggegee vir iemand wat ek reken die boek sal geniet. Toe ek die boek ʼn tweede keer lees, weet ek, die volgende keer wat ek dit doen, doen ek dit met die internet langs my aangeskakel – ek wil elke stukkie ding en plekkie waarvan die man skryf, op die skerm langs my kan sién. Ek het selfs die internet deurkruis in ʼn soektog na ʼn webwerf of blog wat nie reeds gedoen het wat ek sal wil begin nie – ʼn blog toegewei aan elke streek, plek, gebou, dorpie, mens, museum, waarneembare feit, op elke bladsy van Bill Bryson se boek wat in breë trekke handel oor die geskiedenis van die mensdom en sy huis.
En daar, net toe ek gereed is om weer ʼn keer deur At Home te kan beweeg, toe is daar hierdie baie ryklik geïllustreerde uitgawe op die boekwinkelrak beskikbaar. Die buiteband is beskadig, ek gaan vra hoeveel afslag hulle bereid is om te gee ʼn boek wat só vreeslik verrinneweer is dat hulle gelukkig sal wees as hul ooit iemand kry wat so laf sal wees om dit te wil koop.
En daar kry ek toe my Vadersdagpresent al vroeg in Januarie. En ek lees die boek soos ʼn mens ʼn baie lekker suiglekker geniet – baie stadig, ek drink elke oomblik met oorgawe in.
So dié boek, moet saam – net vir ingeval.
Ek is die eerste dag, heel plegtig en met begerige vingers en oë, strand toe met die eerste van my agt boeke – een wat ek al in Pretoria, terwyl ek, na die skool 11:00 uitgekom het, iewers in die kar vir Annieka gewag het, begin lees het.
Skielik het die branders, na die volgende paar paragrawe, vir my baie aanlokliker gelyk. Ook toe ek ʼn paar paragrawe later moes kies tussen die volgende hoofstuk en ʼn sandkasteel saam met Klaradyn, toe wen die sandkasteel.
Dag twee, strand toe, is ons toe (benewens drie stoele, een sonsambreel, een piekniekmandjie, drie sonhoede en strandhanddoeke) af met twéé rugsakke, die een vir die ander nodigheidjies soos snorkels, sonbrandroom en duikbrille, die ander vir Pa se grote, dikke, vette Illustrated At Home.
Steek ons die oggend ons neuse by die tent uit en dit reën al die heelnag, of lyk na reën, dan is ons nie een ontsteld nie. Dan is dit ʼn tentspeeldag (en ons het meer speletjies en handvlytgoed aangery as storieboeke vir Pappa en Mamma sáám), óf ons kruie met die kar teen die suidkus af en gaan doen second-hand-bookshop-crawling of book-exchange-hopping tot kort voor TO-strand en MacBanana voor ons omdraai en terugkeer tent toe.
My lekkerste kleintydherinneringe aan die suidkus, oor jare heen, hou verband met die wonders opgesluit in die skatkamers van ʼn propperse suid-kus-book-exchange.
Waar ek groot geword het, was daar nie dinge soos book-exchanges nie. Daar was ʼn biblioteek, en as ʼn week twee Saterdae in had, dan sou ek twee keer ʼn week biblioteek gestap het. Maar toe is daar nou net een en moes ek elke week sewe dae wag voor ek weer ʼn draai tussen die boeke kon gaan maak.
En toe, iewers laag af op laerskool (ek was nog op Enid Blyton), met vakansie op Margate of Ramsgate, ontdek ek ʼn ding wat die Engelse ʼn Book Exchange noem. Dit ruik heerlik muf aan duisende grys en geel “paper back” of “soft cover” leesboeke wat ry op ry ingeryg staan, soos by ʼn biblioteek.
Jy kan vir jou koop soveel soos jy wil (of jou sakgeld toelaat) en as jy klaar gelees het, koop hulle dit weer by jou terug (of ruil jy dit in op nog ander). En as jy baie van die boek hou, kan jy hom hou. Die naam van die book-exchange is iewers in pers ink, in die boek gestempel, of daar is ʼn plakkertjie met die naam van die stukkie hemel op aarde waar jy die boek gekoop het, in – maar dis al!
Die suid-kus-book-exchange-mark het my by Blyton verby na die Hardy Boys begelei, my teen standerd vyf deur die ganse Afrikaanse skat van Heinz G Konsalik geneem. En toe, op hoërskool, die poorte vir my oopgegooi.
ʼn Tweedehandse boekwinkel in die binneland en op die Hoëveld trek my, maar nie naastenby so baie soos aan die kus nie – van Natal tot in die Kaap (waar ek ook al wonderlike kopies raakgeloop en verslind het).
Die woorde “second hand bookshop” lok my ook nie die helfte so veel soos “book exchange” nie – die inhoud, die reuk, die aard en toestand van die boeke, selfs die plakkers of stempels, verskil net te veel.
Dis met leedwese dat ek moet aankondig dat die suid-kus twee van sy book-exchanges, die een bo by Scottburgh, die ander laer af kort duskant Port Shepstone, verloor het. Die een het oor vyf verskillende winkels gestrek – jy sou my daar teen toemaaktyd kon toesluit en ek sou dit nie eers agtergekom het as ek teen die volgende oggend kasregister toe gestap het om uiteindelik vir my seleksie te gaan betaal nie.
En daar vat ek die vrouens deur Margate se hoofstraat. Die plekkie waar ek een jaar op my eie vir my ʼn swembroek gekoop het, is nou ʼn kostuumjuwelierplekkie. Die apteek waar ek vir Judy ʼn botteltjie A Rose is a Rose-reukwater vir Kersfees aangeskaf het, bemark nou erwe en huise. Die hotel waar ek een standerd-drie-vakansie pampoentjies gekry het, herken ek net aan naam en adres.
Tussen die wonderlike herinneringe en onthou van winkeltjies wat jare nie meer bestaan nie, vang die hoek van my oog, in die hoofstraat, die woorde: BOOK EXCHANGE. Dis nuut!
Drie straatblokke verder is daar uiteindelik parkering. Die meisies dink ek is nie ernstig nie, maar ek is! Ons gaan terugstap, al die pad. Dis Margate! Dis “Book Exchange” en nie “Secondhand Bookshop”. Al wat teen dit tel, is die feit dat dit die hoofstraat is – stowwerige boekwinkeltjies van die regte soort hang nie in hoofstrate uit nie, maar skuil in systraatjies om niksvermoedende reisigers onverhoeds met hul sjarme te oorval.
Iets van die plek se naam, en die manier waarop dit daar staan, het my egter oortuig dat hierdie die outentieke Real Makhaya kon wees.
O, en was dit nie! Die eerste wat my oortuig het, was my neus – die regte seelug-drukkersink-en-grys-papier-muf, soos dit hoort.
Agter die toonbank – ʼn krom Engelse tannie met pers/grys/persgrys hare. Wat meer wil jy hê!
Die laaste toets vir egtheid lê opgesluit in die manier waarop die verskillende afdelings (War/Western/Romance/Barbara Cartland/Mills&Boon) aangedui is. Dit móét met koki-pen op maskeerband of die een of ander sticky tape geskryf staan en dan plek-plek op die rakke se sykante vasgeplak wees.
Hierdie boekwinkel, was ek besig met gradering, sou bykans volpunte gekry het! (Dis net die kwessie van sy ligging – die hoofstraat van alle plekke, bid jou dit aan!)
Dis knap voor toemaaktyd – sy het klaar die geld opgemaak en afgesluit vir die dag. My kontanttransaksie wat tot op die sent uitgetel word en geen kleingeld noop nie, word in potlood op papier aangeteken om moreoggend deurgesit te word.
Na my At Home einde se kant toe staan, het ek oral begin vra en uitkyk vir een van sy ander boeke wat ek al by herhaling uitgeleen het sonder om dit ooit terug te verwag: A short history of allmost everything (of so iets).
Ek het net nodig gehad om te vra: “Does the name Bill Bryson ring a bell.” Toe helder die tannie se hele gesig op en sy sit met af in een van die baie gangetjies.
Die versoeking was groot om enkeles te koop, net omdat ek nie weet of ek dit weer gaan raakloop nie!
Ek is daar uit met my geskiedenis van bykans alles onder die son en Neither here nor there.
Ek het Neither here nor there aangeskaf omdat ek dit nog nie gelees het nie. Maar noudat hy ook einde se kant toe staan, begin ek my verbeel dat ek dit al kon gelees het, maar dan kan ek grepe verwar met een van die baie ander plekke wat die man al besoek en waarvan hy al geskryf het.
Nodeloos om te sê – ek gaan huis toe met nege boeke wat ek verniet aangery het.
Jy foeter nie suid-kus toe met ʼn spul boeke nie – jy soek die eerste book exchange op sodat jou vakansie uiteindelik kan begin.