Pages

5.1.14

Ek wil terug gaan na die plek waar ek kind was (II)

Op Alberton kon jy sommer net loop brood koop, of jy kon moeite doen en uitry om ordentlike bróód te koop. 

Koop jy sommer net brood, is dit by die naaste kafee. Vir my was die naaste kafee twee blokke af in Telawarrenstraat tot jy by die laerskool en die melkery kom. Behalwe vir die een of twee keer wat ek saam met die heelwat groter en ouer Eloff-tweeling (die een is nou ook al jare oorlede) sonder enige sukses daar gaan sweets steel het, hou die melkery om die hoek vir my ‘n sterker onthou as die kafee in. En dan gaan dit nie oor die melk en die melkkoepons wat jy hier kon koop nie – was dit ‘n battery-aangedrewe karretjie wat die melk kom aflewer het, of nie – maar oor die tannie agter die toonbank. Sy moes van Europa gewees het, want al sien ek haar glimlag en al hoor ek lag en praat, is dit daardie welige bos onderarmhare wat ek die duidelikste onthou. Elke keer as ek daar ingestap het, het ek gewonder of die ruie bos vandag vir my gaan loer of nie. Jackpot was as sy op die foon was. Ek onthou Jackpot die duidelikste.


Die kafee wat jare nie meer kafee is nie



Die Kafee was op die hoek. Na regs was die elektrisiën. Daardie jare, anders as vandag, het jy nie ‘n nuwe strykyster gekoop as jou strykyster die gees gegee het nie; jy het hom hierheen gebring. Ook ‘n ketel, en die broodrooster. Links agter, om die hoek was die melkery.

Ek het kafee toe gestap, ja, maar lekkerste was om op my blou skopfietsie af te trap kafee toe en terug. ‘n Pakkie Simba-tjips het 5 sent gekos. ‘n Percy-banana ook. En ‘n Caramello-beertjie, toe dit uitgekom het, was 10 sent.

By die melkery kon jy jogurt in glasbotteltjies met blikdekseltjies koop. Sulke klein botteltjies wat my altyd herinner het aan die wit botteltjie-goeters op telefoonpale se dwarsbalke. In Gauteng, nie eers by Woolworths nie, kry jy nie jogurt wat geproe het soos daardie nie. Selfs al sê hulle no preservatives, het die goed wat ons die laaste 40 jaar kry, almal iets in wat die jogurt ‘n “mak”smaak gee. In die Kaap, by my broer-hulle, loop ek van tyd tot tyd jogurt in glasbottels raak, wat nog proe soos daardie melkery se telefoonpaal-wit-botteltjie-jogurt.

Wat ‘n brood gekos het, weet ek nie. Seker 2½ sent, dit kon niks meer gewees het nie. Die brood het nie in sakkies gekom nie, dis in dun geelwit papier toegedraai. Amper soos die papier waarin die Griek (of Portugees) op ‘n Vrydagaand ander mense se fish & tjips toegedraai het, net dunner.

Ander mense se se fish & tjips? Ja, my ma het nie geglo in enige vorm van lui-huisvrou-kos en wegneemetes nie. Anna Mofokeng het vir ons gekook.

Haai, maar ek is lelik met my ma. Sy verdien dit nie. Anna Mofokeng het net vir ons gekook solank sy en my pa getroud was; na die egskeiding het ek sonder bediende grootgeword. Maar Ma het steeds nie in lui-huisvrou-kos en wegneemetes geglo nie. Die naaste aan die luukse van ‘n voorafbereide, gaar, dis wat sy haarself gegun het, was ‘n koue, gerookte hoender.

Maar waar loop my gedagtes nie! Elke blêddie woord is ‘n afdraaipad, en ek is op pad Ou-Alberton toe, Florentia toe, Van Riebeeck-laan toe.

Sien, op Alberton kon jy een van twee brode koop; kêffie-brood of ordentlike brood – ‘n Proto-brood. Van Proto, waar anders, net op in die straat van waar my pa se prokureurskantoor latere jare was.


Eers was sy kantore, hier, op die hoek van Telawarren en Fore. 


Vandag lyk dit effe anders, Voortrekkerstraat is nou Alberton Boulevard:



Op die gronvloer was nog al die jare ‘n bank, Barclays, in daardie jare, as ek my dit nie mis het nie. Pa se kantore was dan op die eerste vloer. Oorkant die pad, en ek sien dis vandag nog steeds so, sit Slabberts Bottelstoor. Ons het nie van ‘n drankwinkel gepraat nie, my ouers het die Engelse bottle store reguit verafrikaans bottelstoor toe.

Ek dink ek was in my hele lewe een keer in Slabbert se bottelstoor. Kinders is nie daar toegelaat nie. Ek weet nie of dit ‘n landswet was nie. Dit kon tog nie gewees het nie. Tog was dit soos wet, asof dit in die Bybel staan:  kinders sal nie hul voete in ‘n drankwinkel sit nie. Ek was al klaar met skool en universiteit en weermag, toe ek eendag, na al die jare, uiteindelik by Slabberts in is. Ek kry sommer weer die hol kol opwinding op my maag, om uiteindelik in die onheilsnes in te mag stap.



Langs die bank op die grondvloer was jare lank ook ‘n bloemiste. (Ek sien die gebou se naam is JS-sentrum.) My assosiasie met die bloemiste is dat my broer in ‘n stadium sy verhouding met die meisie wat hy sou trou, verbreek het, om met die bloemis se dogter uit te gaan! O, die ontsteltenis vir die res van die gesin en familie. Gelukkig het die fling nie lank gehou nie, en is my broer toe met die meisie van ons almal se keuse getroud. Ek onthou egter dat ek uit beginsel nooit van ‘n ruiker blomme wat van Alberton-bloemiste gekom het, gehou het nie – oor dáái vrou se dogter. Maar ons praat van meer as 40 jaar gelede. Dalk onthou ek verkeerd. Was die een se naam nie Anne nie? Óf die ma, óf die dogter.

Ek kan nie glo die manshaarkapper is nog daar nie.En dit nogal steeds met die rooi en wit paal om die plek aan te dui! Seuntjies het hier natuurlik nie net hare gesny nie, hierdie haarkapper het speelgoedkarretjies, Dinky-toys, verkoop. Ek is oortuig daarvan dat elke Dinky-toy wat ek ooit besit het, hier bekom is. Dis nou met die uitsondering van my broer, 16 jaar ouer as ek, se boks Dinky-toys, wat ek van hom gekry het.


Ewentwel, toe skuif Pa se kantore Van Riebeeck-laan toe. Weer op die eerste vloer. Net bokant die Fast Fix en Take Away-restaurant van vandag:



Ek hoor my ma nog:  “En kry tog vir ons ‘n Proto-brood op pad terug as jy kom.” Hulle was al lankal geskei, my pa trouens al dood, dan kry ons van tyd tot tyd nog lus vir ‘n Proto-brood, en dan ry ons Florentia toe vir ‘n Proto-brood.



Partykeer is jy te vroeg, dan moet jy wag dat die brood uit die oond kom. Ander kere weer, is jy te laat. O, wee! Later van tyd, na die egskeiding, het ons net oor naweke Proto-brood gekoop.

In dieselfde straat, langs Proto, is die Blou Meul. Ek wil amper nie sê “is die Blou Meul” nie, maar “was die Blou Meul”. Al is dit steeds daar. Wat die Blou Meul vandag is, en wat dit daardie jare was, is twee totaal verskillende goed. Die Blou Meul het in 1954 sy deure oopgemaak en is vandag een van die grootste buitelugwinkels in die land. Veertig jaar gelede was dit ‘n donker klein plekkie waarin seuntjies van alle ouderdomme kon verdwaal.


Dit was al die jare nog net “Die Blou Meul”en niks meer nie. Almal het geweet wat die Blou Meul was en wat jy daar koop. Hulle, en ons, het nie nodig gehad om te praat van die Blou Meul-kampeerwinkel, of die Blou Meul-buitelugsentrum, Blou-Meul-geweerwinkel nie. Blou Meul is Blou Meul en basta.

Ek kon nie glo, toe ek hul webwerf besoek, dat dit bruin is, en nie blou nie. Die kenmerkende blou meul is, so ver ek kon sien, nie eers op hul tuisblad nie!


Langs Blou Meul, langs Proto, oorkant van Pa, waar vandag net pawn shops, ‘n porn shop en ‘n quick cash loan-besigheid is, was daardie jare Oom Morris en Tannie Faye se Apteek. Oom Morris was die gentle-ste, waardigste oom onder die son – hy is met ‘n hoed soggens werk toe. Sy vrou, wat hom in die apteek gehelp het, was rond en had ‘n warm, diep stem. Hulle was Engels, twee Jode gewees, maar het lieflike Engelse Afrikaans gepraat.

Hulle huis was die wonderlikste in die hele Alberton. Nie die grootste of grêndste nie, allemins. Maar die wonderlikste. Nie net oor die ongelooflike lekker Europese disse wat tannie Faye opgekook het nie, maar oor die mure – regte, egte Picasso’s, Dali’s, De Chirico, Miró... die ander drie sien ek voor my, maar die name ontgaan my nou. Groot name. Groot skilderye.

Hulle het nie kinders gehad nie. Ek het altyd gewonder wat van al die kunsskatte sou word, as hulle te sterwe sou kom. Ek wonder wat toe wel daarvan geword het. Vir iemand wat opgewonde geword het oor die Johannesburg se Kunsmuseum se enkele Picasso, was ek ek heel koorsig, elke keer as ons by die Hershins gaan kuier het.

Ek was eintlik op pad stadsaal toe gewees. Die lekkerste troues wat die mense daar gehou het.



En van daar af Burgersentrum toe. Om by die Biblioteek uit te kom.



Maar dit sal moet wag tot ‘n ander keer.

Ek is eintlik op soek na die oudste winkel op Alberton. Ek het dit leer ken as ‘n slaghuis. Venter se slaghuis. Dit was naby die ou Squeeze In waaraan iemand my die anderdag herinner het. Ons het op laerskool daarvan geleer. En toe later van tyd leer ken ons die mense wat toe die slaghuis in die gebou besit het. Maar of dit Venter se slaghuis was, weet ek nie. Dit kon ‘n ander van ook gewees het.

Die ou Squeeze In


Nes ek my ma hoor vra vir 'n Proto-brood, hoor ek haar aankondig dat sy gou Squeeze In toe wil gaan. Daardie jare was dit 'n onafhanklike groot (-erige?) handelaar. Toe word dit 'n Spar. Vandag is dit 'n baie groot, groot Squeeze In Super Spar, nie te ver van waar dit eers was nie.)

Dan is daar nog die ou Poskantoor oorkant die stadsaal. Ons was Posbus 7, Alberton. Sien dis nou prokureurskantore.


En die ou Kerk. NG-Moedergemeente. 


Ek weet nie of dit nog ‘n kerk is nie. Hier by ons in Pretoria is daar al kerke wat veeartse geword het. Ek onthou toe daardie kerk nodig had om sy paarkeergrond en tuin te verkoop om ‘n bestaan te maak. Dit was te vreemd om een jaar daar te kom en te sien die kerk staan nou op ‘n posseël en sy tuin is geteer om openbare parkeerplek al om die kerk te wees.

Dan is daar nog die Mark Joodjie in Florentia waar jy alles wat jy nêrens anders kon raakloop nie, kon loop koop het. En Tannie Tosca se haarkapper. Die woonstelle bokant haar haarkapper was die woonstel waar my ma-hulle glo gebly het, toe hulle net in Alberton ingekom het. Ek kan verkeerd onthou, ek weet nie.

In die ou Immelman se apteek. Ek en Sarie Immelman is ‘n half uur uit mekaar in dieselfde hospitaal gebore.

En dan is daar die straat waar een keer ‘n jaar kaskarresies gehou is. 14’e Laan? Ek weet nie!.Ek onthou net ‘n moerse afdraande, moerse baie mense op die sypaadjies, moerse baie kaskarre en moer baie opwinding. Een keer ‘n jaar.

En dan is daar die straat, dis een van die lane, miskien is dít 14’e laan, ek weet nie, waar die Indiër-winkels is. My ma het gepraat van Koelielaan. Wat jy nie by die Blou Meul of die Mark Joodjie kon kry nie, kon jy in Koelielaan raakloop. Daar was dress makers en seamstress –es ook. Dit is Pieter Uys-Laan, sien ek. En ek is bly om te sien daar is steeds iemand wat handel dryf onder die naam van Bombay Tailors.



Iewers was ook die kliniek waar die klinieksusters jou ingespuit en –geënt het. 

Maar dit moet oorstaan.