Ek was op twee geleenthede die afgelope naweek weer vir
sowat vyftien minute lank 18 en in my eerstejaar op universiteit gewees.
Met gemengde gevoelens is ek daar in en rukkie later weer
daar uit.
Ek het soos Saul Barnard terug in myself geloop, voor ek weer
by die huis gestop het.
Party eerstejaars is mos gelukkig, hulle maak pelle met
outjies wat op die kampus se voorstoep bly. En as hulle klas wil afgee, stap
hulle net oor die pad en wees sleg in die een of ander studentekommune.
Nie ek nie, my eerste maatjie bly toe op die anderkantste
uithoek van die dorp – het jy by hulle agterdeur uit- en oor die heining gekyk,
was dit rooibokke en mielielande waarop jy uitgekyk het. (By wyse van spreke.)
Soos die noodlot dit wil hê, was haar motor, Chrusotemis (so
genoem na ‘n tragiese karakter uit die Griekse mitologie) meer kere en langer
tye onpadvaardig, as nié, en dan moes ek met haar tussen die kampus en die buitepost wat sy
huis genome het, pendel.
Hier teen die einde van die jaar toe voer ons eerstejaar
dramastudente self ‘n Griekse tragedie, Die Vroue van Troje, op. Ek verbeel my
my naam was Thalthubios, herout van die Griekse gode.
In die wroegende tragedie wat homself oor vyf bedrywe en so
knertsie meer as twee ure uitgewoed het, het Thalthubios, herout van die
Griekse gode, net ‘n skamele drie sinnetjies gehad om te sê.
En met die middelste een van die drie, “nie almal saam nie”,
het ek gesukkel, so baie gesukkel dat ek die woorde tydens een repetisie seker 40 keer na mekaar
op 40 verskillende maniere en met 40 verskillende intonasies moes sê.
As Thalthubios klaar sy enkele woorde op die verhoog des
levens gesê het, moes hy summier een van die vroue van Troje word.
Vir ‘n man om ‘n Griekse vrou te word, en elke manlike student móés op meer as een geleentheid ‘n wenende vrou word, moes hy allerhande lappe en doeke oor sy gesig drapeer.
Vir ‘n man om ‘n Griekse vrou te word, en elke manlike student móés op meer as een geleentheid ‘n wenende vrou word, moes hy allerhande lappe en doeke oor sy gesig drapeer.
Gelukkig is daar nie veel van die stomme vroue verwag nie,
ons moes bloot wenend en met baie gevoel om
en aan mekaar hang terwyl ‘n vyandelike mag se soldate ons wegdryf na
‘n vreemde land toe.
So beland die gesigdoek een aand oor my oë en hoe meer ek my
kop wil ontset, hoe meer raak ek verstrengel, die ding wurg my laterhand, maar
verniet of ek kan loskom. Ek gryp in my blindheid na die eerste beste naaste
suster in die verdrukking. En toe ek haar wenend aangryp, is dit dadelik
duidelik dat hierdie suster my nie wil hê
nie.
Maar ek laat my nie onder kry nie – hierdie tannie wat Hans is, sal huil en ruk, tot die ganse gehoor in trane is. En hoe meer my suster van my ontslae wil raak, hoe meer klou ek verbete aan haar vas.
Maar ek laat my nie onder kry nie – hierdie tannie wat Hans is, sal huil en ruk, tot die ganse gehoor in trane is. En hoe meer my suster van my ontslae wil raak, hoe meer klou ek verbete aan haar vas.
Dis eers toe ons van die verhoog af is, dat ‘n diep mansstem
vra: “Wat de fok dink jy doen jy?”
O, aarde, ek het my toe nie om ‘n Trojaanse suster des doods
gerank nie, maar teen ‘n butch vyandelike soldaat aangevlei – een van die outjies wat ons met
alle geweld kom losskeur het uit ons veilige bestaan in Troje.
Selfs al was die doek nie oor my ganse gesig gekoek nie, had ek steeds die volle potensiaal om dit in elk geval te doen. Sonder my bril is ek mos nou al jare so blind soos ‘n mol.
Die gevolg is dat ek onder my Griekse Fabula Togata (sommer toga, of pleinweg, laken) ‘n LO-broekie aan het – ons is immers Griekse tannies en nie Skotse omies nie.
Met my bril gaan ek dan tot op ‘n punt, maar dan gaan hy eers weer sak toe, terwyl ek Thalthubios of een van die hartseer tannies is.
Die gevolg is dat ek onder my Griekse Fabula Togata (sommer toga, of pleinweg, laken) ‘n LO-broekie aan het – ons is immers Griekse tannies en nie Skotse omies nie.
Met my bril gaan ek dan tot op ‘n punt, maar dan gaan hy eers weer sak toe, terwyl ek Thalthubios of een van die hartseer tannies is.
Wee jou as jy as Griek verskyn en dit met ‘n horlosie, bril
of enige iets buite periode.
O, aarde, en Menelaos, die boef in ons drama, se manne is
nie sagkens met ons vroue nie – hulle gooi ons in ‘n stadium dat ons soos ‘n wafferse
skrum op mekaar insak!
Nie net op mekaar nie, maar een aand ook op my bril wat aan
skerwe breek en Hansie so amper die status van ‘n hamel gee.
Daar sit ons toe nou twee weke lank met twee stukkende
goed: Hans se bril, en
vriendin-daar-ver, Philippa, se skedonk, Chrusothemis.
Tienuur, elfuur, dan ry ons om Philippa na afloop van die
repetisie of optrede te gaan aflaai, ses dagreise te perd aan die oorkant van
die dorp.
Ek, galante heer, bestuur en Philippa navigeer.
Maar sodra ons begin gesels dan gesels ons so lekker dat ek
elke tweede, derde stopstraat mis, en een aand glads ‘n hond rakelings amper
hondehemel toe stuur.
Ek sal daardie vorm van Russiese Roulette met my en Philippa
in die motor nooit vergeet nie.
Jy ry op gevoel. Niks meer nie. Behalwe Philippa se hoor-sê.
Philippa self is nou al agt maande lank net ‘n herinnering
en ‘n begrafnisbrief in die kassie langs my bed, maar saam met haar is hierdie kamikaze van ons deur Potch se
laatnagstrate herinneringe wat nooit sal sterf nie.
Ten minste nie tot ek eendag self die emmer skop en tot stof
terugkeer nie.
So stap ek Saterdagoggend 01:00 na ‘n skoolfunksie by die
huis in.
En ek is die gelukkige wenner van nie net een nie, maar sommer
twee vrouens in my bed.
Ek het ‘n poncho wat in die laat sestiger jare van die
vorige eeu aan my broer behoort het oor my skouers en ek sukkel om die ding oor
my kop en af te kry – my bril is in die pad en my neus te groot.
Maar ek val op die bed neer en klou net so verbete soos
destyds toe ek ‘n Griekse tannie was, maar hierdie keer aan die rand van die
bed, vas – Klaradyn lê getrou aan haar aard nie skuins of skeef nie, sy lê
dwars. Lynreg dwars.
Enkele ure later, moet ek weer vroeg op en uit om te gaan
help opruim aan die graad 10’s se gefuif van die vorige aand.
Die twee girls slaap vas toe ek opstaan.
En daar is my bril weg.
Goed weg.
Propperlies weg.
En ek wil hulle nie wakker maak om te help soek nie.
Maar ek kan ook nie laat wees nie, ek moet die saal gaan
oopsluit dat die mammas kan begin skoonmaak.
Toe ry ek maar, 30 jaar later, soos in 1983, sonder ‘n bril oor my oë, óf ‘n
Philippa langs my, skool toe.
En was dit nou lekker! Want skielik is ek nie 3 dae van 49
af nie, ek is weer 19 of 20 en ry met Gloudina langs my in die kar. (Gloudina
was Philippa se ander naam, ook my troetelnaam vir haar.)
Bekende strate in Pretoria kry skielik ander name, die name
van bekende en groot strate in Potjiesdorp.
Hoe lekker om op 49 weer jonk te kan wees! Al is dit net vir
15 minute skool toe en weer vir 15 minute terug huis toe.
Ek wens net mense en vriende was soos herinneringe en het
nooit weggegaan of afgesterf nie.