Pages

28.7.13

In liefdevolle herinnering aan Tannie Susan


Op ons 20 jaar re-unie het ek iets wat die meeste van ons wat nie meer nat agter die ore is nie weet, besef: jy kan mense vir die eerste keer in meer as 20 jaar sien, en dit sal wees soos gister, asof daar nie ‘n halwe leeftyd tussen gister en vandag lê nie.

Ek het dit beleef met iemand wat voor matriek verhuis het, ons het mekaar in meer as 22 jaar nie gesien nie; tog was lyftaal, steminfleksie en die klas van ding letterlik só bekend, dat dit was asof ons mekaar nie na ‘n halwe leeftyd weer vir die eerste keer sien nie, maar na die April- of Julie-vakansie.

Ek het al soortgelyke ervarings met musiek ook gehad.

Met die dat ek ‘n ’64-baba is, sal my musiek altyd die musiek van die tagtigs wees – tot net voor High Energy die musiekfront begin oorheers het.

Dit gebeur dikwels dat ek ‘n liedjie vir die eerste of tweede keer sedert my universiteitsdae hoor, en dadelik is dit asof die musiek die verlede opvreet soos ‘n voetganger sprinkaan als wat groen is opvreet – die jare verdwyn net, die afstand krimp tot niks nie.

Ek het agtergekom dit werk nie so met klere nie. Ek het twee weke gelede my troupak weggegee. Ek het hom een keer aangehad, maar dit was na net meer as ‘n jaar, en hoeveel jaar gelede is dit nie al nie, duidelik dat ek nooit weer daarin sal pas nie.

En tog het die hoop beskaam, vir soveel jaar.

Maar ook net tot twee weke gelede, toe is dit ook verby.

Selfs met party van verlede seisoen se klere is dit so – dis asof daar oornag 17 jaar tussen jou en jou broek kom uitstrek het.

Wat dit natuurlik nie is nie; dis 17 kilogram wat ongenooid tussen jou en jou broek kom inwurm het!

Maar dit daargelaat.

Dat dit met smake is, presies soos dit met vriende en musiek is, sou ek egter nooit kon sê nie.

Vandag kan ek inderdaad daarvan getuig.

Ek het tot ek nou die dag van my troupak ontslae geraak het, hier teen standerd 9 laas (maar dis tien teen een nader aan standerd 6 of 7) van Tannie Susan se tamboesietert geëet.

Ek weet nie wie ken tamboesietert uit die jare sewentig van die vorige eeu nie, in die besonder Tannie Susan se tamboesietert nie.

Ja, die naam lui dalk ‘n klokkie – lui huisvrouens koop deesdae via ander huisvrouens en hul tuisnywerhede sulke langwerpige plakkies gekoopte skilferkorsdeeg met so ‘n flouerige lekseltjie custard (met water aangemaak, wat anders) tussen die twee plakkies gelaatstaan. Dan kom daar bo op so katspoegie wit soet icing sugar, amper soos dit wat ‘n mens partykeer op oliebolringe kry.
 

En dan het hulle die vermetelheid om hierdie kortpad commin custard slices van hulle tamboesietertjies te wil noem. Dis soos om voetskimmel, Gorgonzola te wil noem, net omdat jy jou verbeel iemand het eenkeer genoem dat die skimmel wat in beide aangetref word, moontlik verlangs van mekaar familie is!

Dis ‘n klap in die gesig van ‘n rasegte opreggeteelde tamboesietert uit die jare sewentig, ‘n klap in die gesig van Tannie Susan, haar ganse nageslag, en elke Suid-Afrikaanse baasbakster van formaat wat ooit ‘n tamboesietert gebak het!
 

Tannie Susan kon kosmaak, van speenvark tot sponserige souskluitjies, poetoepap, polenta, afval en eend, noem maar op.

Annieka het geen begrip vir my hebbelikheid om een maal elke jaar of wat twee sakke pere te koop en dit alles sagkens in rooiwyn, suiker en kruie gaar te stowe nie. Maar dit kom van Tannie Susan af. En dan sal sy by jou aankom met twee of drie van haar pere in ‘n Tupperware-bakkie. Koningskos.

Koningskos, alles wat sy gemaak het. Daardie jare is Tastic rys nog wyd en syd adverteer as ‘n bykos teen “minder as 3 sent ‘n porsie. Ek sweer dat selfs Tannie Susan se rys op ‘n Sondag by haar en Oom Servaas aan tafel het anders en lekkerder geproe as uit een van Ma se potte.

Oom Servaas het nog die voorsnywerk, of dit nou wildsbraad, lamsboud, kalkoen, hoender of eend was, self aan tafel gedoen. Nie net het die voorsnymes en –vurk gereed gestaan nie, maar selfs die ronde slypstaaf waaroor Oom Servaas die voorsnymes ‘n keer of wat behendig laat glip het, voor hy sy kerkhemp, met mansjetknope nog, so aks teen sy arm opgeskuif het, en begin voorsny het.

Ek kan boekdele skryf!

En so leer ken ek, uit Tannie Susan se oond, as jong laer- en hoërskoollat, haar tamboesietert. Die voorreg was my ook maar net seker so hoogstens vier of vyf keer beskore. Dis nie of Tannie Susan vir die tuisnywerheid gebak het nie, dis maar as jy daar kom vir ‘n verjaarsdag of tee, of as sy ‘n tert as present aanbring. Laasgenoemde het sy gereeld gedoen – maar daar was soveel verskillende lekkernye wat sy aangedra het, dat sy nooit ‘n tweede keer met dieselfde dis by jou sou opdaag nie.

En toe word ek groot – standerd 8 miskien, nou loop kuier ‘n seun nie meer saam vir koek en tee by ouers se vriende nie, jy het ander belangriker grootmensdinge om te doen. En dit was die laaste van Tannie Susan se tamboesietert.

Tannie Susan, my ma se heel beste vriendin, sou eers baie jare later, maar nou ook al jare gelede, haar stryd teen die kanker in haar liggaam gewonne gee, maar nooit weer sou ek taboesietert proe nie. Ek is matriek uit, universiteit toe, weermag toe, my eie rigting in.

Ek het gereeld by die oues se yskas gekom en dan was daar ‘n ietsie van Tannie Susan, maar tamboeietert? Nooit.

As jong onderwyser het ek gereeld tuisnywerhede besoek en geloer of ek nie tamboesietert raakloop nie. Ek het selfs van tyd tot tyd en plek tot plek gevra, maar niks raakgeloop nie. Dis hoe ek agtergekom het dat sleghuisvrou kortpad Danish custard slices wat van water en gekoopte skilferkorsdeeg aanmekaar geplak word, kwansuis tamboesies genoem word.

Toe ek na haar dood ‘n hele paar van Tannie Susan se kookboeke present kry, het ek eerste deur almal gegaan om te kyk of ek nie êrens ‘n tamboesietert opspoor nie, maar verniet. Die vrou se Kook en Geniet, wat deur die jare met reseppies op elke oop plekkie aangevul is, die kookboek met die talle los velletjies in haar eie en baie ander se handskrifte, is natuurlik familie-erfstuk, waardevoller nog as die Britse koningshuis se kroonjuwele.

Die vorige keer dat ek tamboesie ge-google het, het dit ook niks opgelewer nie. Ek kon nie eers taalkundig agter die oorsprong van die woord kom nie!

Om ‘n lang storie kort te maak: by iemand wat ek laas gesien het toe ek nog op skool was, se Facebook-blad spoor ek die gesig en naam van Tannie Susan se dogter op. Nou Tannie Susan se dogter het ek nooit eers in haar hoërskoolklere gesien nie – sy was al groot en uit die huis uit van ek my verstand het.

Maar hier het ‘n skoolvriend, self ‘n goeie jaar of wat jonger as ek, Tannie Susan se dogter in sy vriendekring.

Ek dink nie, ek kwyl. Ek skryf:

15 Junie 04:53 NM

Halo, Elma Ek het nie vir een oomblik gedink ek gaan jou hier opspoor nie. Jou ma het 'n tert gebak wat sy Tamboesietert genoem het. Ek soek al jare na daardie resep, maar niks wat ander Tannies "Tamboesie" noem, is jou ma se ronde pienk tert nie. Wat is die kanse dat jy hom het? Ek het enkele van jou ma se kookboeke, een of twee wat ek gereeld gebruik, maar haar Tamboesietert, vermoed ek, sal in haar handskrif iewers neergeskryf wees. Beste wense Hans Moolman

My vriendskapsversoek word aanvaar. Maar ek hoor niks rondom my skrywe wat die vriendskapsversoek vergesel het nie.

Ek vergeet nie, ek werk daaraan om te vergeet, ek onthou om te onthou om nie te onthou, maar kan nie vergeet nie.

En toe, twee, drie weke later, toe kry ek, een middag toe ek agter die rekenaar vasgeval sit, die volgende verblydende boodskap:

24 Junie 03:23 NM

Hallo Hansie, Jy het gevra vir Ouma San se Tamboesietert resep?! Ja, ek het hom, maar ek sou dit eerder per e-pos wou aanstuur - sodra jy die adres vir my gee, sal ek so gou moontlik die resep pos. Laat dit verder goed gaan met julle - hier by ons is dit maar lekker koud en nat!! Groetnis, Elma

24 Junie 05:04 NM

Ek kan nie glo wat ek lees nie, ek kan nie glo wat ek lees nie, ek kan nie glo wat ek lees nie! hans.moolman@wonderpark.co.za Jy is 'n ster. Baie dankie. Alles wat mooi is. Ons wag nog vir winter, maar ons kla nie.

Beste wense

Hans

Ek sien nou, toe ek die gesprek oopmaak, dat dit nie twee of drie weke later was nie, maar dis beslis hoe lank dit gevioel het.
 
En so gaan dit toe aan, nie via Facebook nie, maar my e-pos-posbus:

Hansie,

Hierdie Tamboesietert was en is nog altyd ook my grootste gunsteling van al haar resepte.

Dit was vir my die lekkerste, lekkerste tert op aarde!!

Ek hoop jy kan dit mooi lees. Ek sien die heel laaste sin is bietjie onduidelik. Daar staan:

Voeg geursel en botter by. Gooi uit in gevoerde bak (dis nou met ¾ van die deeg).

Die pienk versiersuiker wat sy van praat is ‘n bietjie rooi kleursel by die versiersuiker (dit moet net ligpienk wees).

Geniet dit en laat weet asb. of dit soos hare gesmaak het!!

Groetnis,

Elma

Ek antwoord dadelik:

Ek is mos maar ‘n sissie, nog altyd gewees, dis met blink in my oog dat ek dankie sê.

Weet jy hoeveel jare ek wonder en vra en soek!

Ek sal laat weet.

Dis skoolvakansie, ek gee op die oomblik onderwysopleiding tot Woensdag, maar ek voorsien die gesin eet Donderdag hierdie tert.

Dit is werklik spesiaal. Uit my hart baie dankie.

Hans

En ‘n dag of wat later:

Elma

Die room, pienk en versiersuiker moet ek nou eers uitklaar.

Die vulsel kry ‘n koppie en ‘n half room of idealmelk, saam met dieselfde hoeveelheid melk.

Dit maak dat ek minimum twee kannetjies room (250 ml elk) moet koop om 375 ml vir die vulsel te kry.

Nou bly daar 125 ml room oor, vir bo. Of moet ek drie kannetjies koop 750 ml in plaas van 500 ml koop, dan het ek 375 ml vir vulsel en 375 ml vir versiersuiker en pienk?

Onthou, en jy moet nie lag nie, maar al wat ek van die tert onthou, is:  sy naam, dat daar pienk bo was, dat daar ‘n vulsel tussen twee lae was en dat dit die lekkerste lekker was. As jy vir my sou vra of daar caramel essens ingekom het, sou ek nie kon sê nie, ek het hierdie tert, op die laatste, laas in 1982 geproe, ek dink  egter dit was nader aan 1978 of 1979.

So ek kan nie die pienk room se vorm onthou nie, die resep, vra dat die room geklop moet word, so ek wil dit pienk en soet en geklop bo op ‘n koue tert sit.

Of is dit op ‘n warm tert gesit, en het dit in die boonste laag van die kors/deeg ingetrek. (Verwar ek dit met daardie appeltert wat daardie jare so gewild was, met die warm room en suiker en botter wat jy bo oor gooi as die tert uit die oond kom?)

So ek het twee vrae:  hoeveel room vir bo, en hoe gaan dit op (op iets warms of iets kouds)?

Terwyl ek Maandag so met jou gesels, SMS my vrou dat sy in SPAR is en of sy iets moes kry; toe SMS ek:  karamel essens, room en pienk voedselkleursel.

So, ja, ons het Maandagaand tamboesietert gebak en ek het Dinsdagoggend 05:30 voor ek werk toe gaan met ‘n moewiese stuk tamboesietert in die bad geklim – geklopte room bo op, op ‘n koue tert geplaas.

Selfs al was dit miskien verkeerd, was dit steeds heerlik.

My bord was te klein, maar gelukkig hoog; wanneer ons hom weer maak, sal ons die regte tertbord gebruik.

Die geur en die smaak, is presies wat ek onthou, dit was ‘n terugruk tot in die baarmoeder wat New Redruth in die jare 70 was – onbeskryflik en iets wat my gesin niks van sal verstaan nie.

(Annieka, my vrou, het toe Dinsdag vir die eerste keer sedert skooldae haar ouma se vlakoekies gebak en ‘n soortgelyke ervaring gehad... wat ek toe nie 100% nie en net “soorts van” kon verstaan.)

Vanoggend is ek weer bad toe met die laaste van my eerste, maar beslis nie laaste nie, tamboesietert.

Nogmaals, en ad infinitum, baie baie dankie.

 

Hans

Elma antwoord:

Naand Hansie, julle probeerslag klink so lekker - sjoe, jy maak my skoon jaloers!! Ek sal ook bietjie moet uithaal en wys!!
Wat die room aanbetref, ek sou in totaal net 2x 250ml gebruik, waarvan 125ml saam met die versiersuiker gebruik word. Ek onthou dat die tert afgekoel was voordat die pienk versiersel oorgegooi is, anders kan hy dalk skif (ek is nie so heeltemal seker nie!).
Ek het vanaand ook vreeslik na 'ou Suzie' (dis net 'n liefdesnaam in ons huis) verlang, want ek het haar Kerrieafval en Stampmielies gemaak! Aai, ek wens Oumas en Ma's kon langer geleef het - ek het so baie om te vra en te vertel (veral noudat ek self kleinkinders het!!).
Julle moet 'n lekker rustige aand he! Groetnis, Elma

 
En dis hoe ek agtergekom het dat vriende, gesigte, liedjies, die reuk van ‘n Volswagen-kewer se binnekant én selfs sekere smake, soos die van Tannie Susan se tamboesietert, almal een en dieselfde is: dertig jaar en meer kan hom tussen julle kom uitstrek, maar een enkele eerste herontmoeting daarna, en dis of daardie dertig jaar hoogstens ‘n oogknip lank geduur het.

Ek het die tert al ‘n tweede keer gemaak.

Ronde twee het ek nie versoete pienk geklopte room bo op gesit nie, maar versiersuiker, aangemaak van die room wat oorbly as jy twee 250 ml-kannetjies aankoop. Annieka en Klaradyn was hierdie keer gaande.

Dis nie maklik nie, verwysende na die deeglaag wat bo op moet kom – ek kan verstaan waarom lui en slegte huisvrouens vir klaar bereide blaardeeg gaan.

Iemand soos ek wat nie eintlik koeke en terte bak nie sal Tannie Susan dit nooit kan nadoen nie, maar selfs my floppies is hoogstens verbeterlik wat aansien betref, wat smaak en tekstuur en geur betref, kan ‘n mens nie beter as om haar resep te volg nie.

In herinnering aan Tannie Susan, ter ere aan die milde, gul hand waarmee sy allerhande lekkernye gedeel het, deel ek, sonder toestemming van haar dogter, Tannie Susan se tamboesietert-resep.

En geniet dit. Selfs al kan dit nie heimwee na die jare 70 by jou oproep nie, beloof ek dit sal steeds ‘n heerlike smaakervaring wees.