Pages

31.5.13

Hoffmanstraat 4

fotobron

Partykeer, net partykeer, gebeur daar dinge wat my die bonatuurlike of paranormale minder van ‘n kouse skouer sal laat gee.
Eergisternag blaf een van die honde my kwart voor drie die oggend wakker. Ek staan op en gaan loop die ellendige draai wat die aanstap van die jare my deesdae laat loop.
‘n Vriend het op ‘n dag kwyt geraak dat jy weet jy word oud as jy in die middel van die nag opstaan en dis nie om huis toe te gaan nie. En dis waar ek ek nou is, ek staan op en dis in my eie huis, my eie kamer en eie bed.
Wat dit erger maak, en ek is nou seker al ‘n maand daarvan bewus – ek kan nie meer wakker word en opstaan, of eerder “opspring” soos ek al die jare gewoond was nie. O, nee, ek moet dis nou se dae met verdrag kom, in fases en stappe. Spring ek op en hol ek badkamer toe het ek, teen die tyd dat ek halfpad na die eerste deur toe is, seer op plekke waar ek in my ganske lewe nog nooit eers van plekke bewus was nie.
Dis dan wat ek sommer net wil neerslaan en verder kruip tot by die wit troon.
So, teen die tyd dat ek deesdae wakker geblaf is, tydsaam en met verdrag opgestaan het en my draai klaar geloop het, dan is ek pikwakker teen die tyd dat ek weer langs Annieka inskuif.
En as my brein intussentyd en teen daardie tyd reeds ingeskop en aangeskakel het, dan is dit verby, ek kry hom nie weer afgeskakel en in slaapmodus voor die volgende aand teen slaaptyd nie.
Eergisternag toe is dit weer so – my gedagtes is dadelik by die aangename droom waaruit die hond my wakker geblaf het.
Ek sit met die paradoks:  ek is vies dat die hond my droom versteur het, maar weet tegelykertyd dat ek van die droom niks sou onthou of geweet het, as die dierasie nie aan die blaf gegaan het nie. Dis blykbaar ‘n feit – ‘n mens is net bewus van drome waaruit jy wakker word; word jy nie wakker nie, is daardie droom baie diep in die onderbewussyn weggebêre teen die tyd dat jy wakker word. Met my werk dit beslis so.
In my droom het ek nadat ek haar 27 jaar gelede laas gesien het, vir die eerste keer in al hierdie jare weer ‘n herontmoeting met Tannie Gertie (miskien was dit Gerty – 27 jaar het immers verloop) gehad.
Ons het in die kombuis van Hoffmanstraat (miskien was dit Hofmannstaat – 27 jaar...) 4 gestaan. Tannie Gerty was duidelik 27 jaar ouer, maar nog net so statig en soveel van ‘n dame en voorslagvrou wat sy destyds was.
Daardie jare het sy onder haar man, professor Theunis Botha, die departementshoof van PU vir CHO se Departement Spraakleer en Drama, gewerk. Die administratiewe hoofkantoor van hierdie departement dan nou ook Hofmannstraat 4.
Hoeka by die kombuis van Hoffmanstraat 4 waar Tannie Gerty my in my droom ‘n stywe, stugge drukkie gee, soos die Konining van Engeland so iets sou doen. En ek noem dit styf en stug, selfs gereserveerd, terwyl ek weet, vir Tannie Gertie, en die dame wat sy was, is dit in wese eintlik warm en hartlik verby.
Sy gee my die drukkie en laat val dat sy my nie nou herken of kan onthou nie, maar dat sy sal gaan kyk in die boek wat haar man nagelaat het.
Nee, hoe sal ek nou weet watse boek dit is wat haar man nagelaat het! Dis in my droom. Ek het dit egter beleef dat Prof. Theunis oorlede is en hy ‘n boek nagelaat het met al die oudstudente in. In hierdie boek sal sy my sien soos ek in 1986 gelyk het, en dan sal sy weet wie ek is.
Wat vreemd is, is die feit dat die Prof na die beste van my wete nog leef en dat Tannie Gerty ‘n rukkie gelede afgesterf het.
Terwyl ek toe nou wakker lê en hoop om weer te slaap, hou ek my gedagtes hiermee, en ook met allerhande lieflike Hofmannstraat 4-dinge van 27 en 30 jaar gelede besig.
Ek onthou dat die hele departement in rep en roer was oor Anneli van Rooyen by ons sou kom sing. Die plakkate was die strate vol, kaartjies is verkoop en ek sweer die houte blokkiesvloer is selfs blinker as gewoonlik politoer.
Ek stap toe om die een of ander rede as verwaande student by Tannie Gertie (ons het ván haar as Tannie Gertie, maar mét haar as Mevrou Botha) se kantoor in. Sy ontvang my stylvol en vriendelik en stel my ook voor aan die ander dame by haar in haar kantoor. “En dis nou Anneli, “ sê sy.
En ek is arrogant, verwaand, domonnosel, te-groot-vir-my-skoene-genoeg om af te haak met:  “Anneli, wie?”
Tannie Gerty het dit stylvol hanteer soos die koningin van Engeland ‘n diplomatieke  faux pas sou hanteer.
Ek onthou Hannes Muller wat rondom ‘n soortgelyke konsert waar Tannie Gerty in baie noue samewerking met Tannie Alice Sirakis die geurigste eetgoedjies berei het, rondloop en sê:  “Ek is ‘n frikkadelle-dief.” Die twee formidabele voorslagvrouens het hom betrap dat hy onder die versnaperinge van die komende aand inklim en hom ‘n deeglike oorkonkel gegee.
Iemand, lees ek later, het rondom haar afsterwe destyds genoem dat sy wat Gerty is, die Dramadepartement was, haar man was maar net die hoof of kop.
My gedagtegang stop by die laaste besoek wat ek ooit aan Hoffmannstraat 4 gedoen het. Dit moes dan nou 1993 gewees het. Die departement het toegemaak. Nee, die departement het nie toegemaak nie, die departement is toegemaak. Deur penne en handtekeninge met meer magte as die Puk self.
Ons het ‘n afskeidsreünie gehou, en toe is dit iets van die verlede, geskiedenis en ‘n herinnering.
Na my herbesoek aan die verlede staan ek toe maar op, ek wonder wat op deeske aarde dit sou kon wees wat my na 27 jaar by Tannie Gertie en Hofmanstraat 4 uitgekry het, gaan skuif agter die rekenaar in en maak my e-pos-posbus oop.
Daar het inderdaad oornag iets in beland:

"Jy en jou metgesel word hiermee uitgenooi na ʼn
REÜNIE
van oudstudente van die Dept. Spraak en Toneel (PUK) op
SATERDAG 28 SEPTEMBER 2013 (laaste dag van Aardklop 2013)

Ons hou ‘n SKAAPBRAAI van 17:00 af en kuier tot ou-nag toe.

KOSTE (per persoon): R150

Jy reël jou eie verblyf en daar sal 'n kontantkroeg by die skaapbraai wees.
Kyk aangeheg 'n lys van gastehuise. Onthou dis Aardklop en verblyf is skaars. So, bespreek maar so gou moontlik.
Dis vanjaar presies 20 jaar vandat die departement gesluit is. Dis hoogtyd vir ‘n goeie kuier deur al die oudstudente van 1965 af.

Bevestig asseblief
 
bywoning VOOR  30 JUNIE
Natuurlik word NIEMAND verskoon nie.

Jy sorg dat jy daar is! Slegs ‘n dokter- of doodsertifikaat word as verskoning aanvaar!
"

Ek het gaan kyk hoe laat die e-pos gestuur is. Gelukkig was dit nie kwart voor drie nie.
Ek wonder daarom steeds waarom die hond aan die blaf gegaan het.
Dit was beslis darem nie die posman gewees het wat my e-pos kom aflaai het nie.