Pages

20.2.15

Irritable bowel syndrome

So kies onse kleine Jasper my toe mos met volle oorgawe iewers verlede jaar as sy nuwe eienaar en baas.

En ons was nog nie één, vir een oomblik spyt nie – die bedorwe brokkie is net ʼn plesier. Hy het ʼn hart soos ʼn hotel – daar is plek vir baie:  Pappa, Mamma, Klaars, Oupa, Ouma, ons ander twee honde, Ouma-hulle se drie honde, Oom Erik en Tannie Johanette, en hulle hond.

Te dierbaar.

Hy was in sy peuterstadium net ʼn roes op onderklere, enige onderklere, en enige iemand sʼn. Met die dat my bêreplek vir bykans alles die vertroude vloer is – nog nooit het ʼn vloer my in die gesig gevat of teleurgestel nie – het ek natuurlik heelwat meer skade gelei as die twee dames.

Ons het trouens in ʼn stadium ʼn noodsituasie moet uitroep – nuwe kouse én onderbroeke moes gekoop word.

Dis nou glad nie meer so erg nie, dis net as ek kouse aantrek wat ek lanklaas aanhad, dat ek soms agterkom Jasper het dit bygekom en Martha het dit so stukkend opgerol en in my kas gepak.

Peter, van Heidi en Peter, het kousgate mos “ertappels” genoem – die ertappelkleur wat uitsteek waar die voet of hak uitloer. Nou party van my kouse was meer aartappel as wat dit nie aartappel was nie.

Ook ʼn keer of wat dat ek met ʼn klokkespel van die tydlose treffer “Swinging Safari” skool toe is.

Spoor ek die goed op, dan knoop ek dit oor en oor in ʼn spul stywe dubbelknope en gooi die kous en sy maatjie, of die gaterige onderbroek, vir Jasper om mee te speel.

Hy speel daai speelding van hom dat daar net toiings en rafels van oor is. Te lekker.

Ek het hierdie week weer ʼn stel kouse nek om gedraai en tot hondespeelding ge-“demote”.

Ag siestog, en toe is Jassie hier nie ʼn maand nie, toe sterf lief en dierbare vertroueling en vriend, Boeta, een van die twee oudstes.

Ek voel onmiddellik minder skuldig oor die impulsiewe, onbesonne aankoop van Jasper: Wat is dan nou aakliger as om ʼn nuwe hond aan te koop na ʼn oue se afsterwe? ʼn Oue kan ook mos nie sommer, soos ʼn kar, met ʼn jonger, ander, nuwe model vervang word nie!

Maar, o, wee, daar gaan Sussa, Boeta se spanjoesussie toe oornag met soveel rasse skrede agteruit. Die ogies word dof en vaal, sy hoor ons nie kom nie, sy word nie wakker as ons haar streel nie, sy gaan speel nie in die reën nie, sy swem nie elke keer as ons in die swembad is nie, sy blaf nie meer snags al om die huis nie.

Sy en Boeta was twee goeie waghonde op hul dag, maar dis duidelik dat ons nie meer van Sussa dieselfde diens kan verwag as die wat sy soveel jare so getrou gelewer het nie.

Ek sê vir Annieka:  “Dis tyd dat ons weer waghonde kry op hierdie erf.”

Annieka wil al jare niks anders as ʼn worshond hê nie, maar sy stem saam, ons het ietsie met meer om die lyf nodig.

Ons bel ʼn tannie wat rifrugbabas te koop het. Ons ry op die ingewing van die oomblik deur. Die skole gaan begin, so ons moet gou speel.

“Ons ry deur” is toe al die tyd amper Rustenburg toe. Daar aangekom, vertel ek myself daar is nie ʼn manier dat ons onverrigtersake terugry nie.

Toe die plotbewoners (want “telers” kan ek hulle nie noem nie, en noem ek hulle “puppy-mill-bestuurders” voel hulle dalk so gestamp dat ons Moolmans se lewens in die gevaar is) hoor ons soek twee, kom hulle sommer dadelik af in prys.

Afslag was dit nie regtig nie – ek het meer aan petrolgeld uitgery soheentoe en terug as wat die afslag kwansuis was.

En, buietendien – goedkoop is duurkoop. Ek het al meer aan veeartskoste betaal as wat ek sou betaal het as ek, nie net twee nie, maar die hele werpsel, by hulle opgekoop het. En glo my, ʼn mens wil dit doen – net om die honde te verlos van die omstandighede waarin hulle aan die lewe gehou word.

Ek sukkel nou twee maande met die twee se spysverteringstelsel. Nes jy dink dis reg, dan begin dit weer. Dit sal my nie verbaas as die veearts (wat kwoteer en konsulteer teen pryse wat hom eerder as ʼn “spesialis” bekend moet laat staan) ʼn spoggerige naam daarvoor het nie. Iets soos “canine irritable bowel syndrome”.

Honde met die een of ander ingewandskondisie in van nature nogal aangetrokke tot Hans en Annieka. In die besonder reuns, as ek wegdeinsend terugdink aan wat oorle’ Boeta ons nie in sy lewenstyd op aarde gekos het nie.

As daar een mens is wat spyt is dat die hond afgevrek het, dan is dit die veearts – hy kan voortaan nou nie meer drié keer ʼn jaar met sy hele gesin oorsee gaan nie!

So het ons al twee ons jongste telge, Shiva én Shavu, so ʼn week gelede, darem al vir meer as tien dae lank, in só ʼn kondisie dat ons nie meer skrik vir hul stoelgange nie.

Maar toe begin die een weer sy ou streke uithaal. Veearts toe – en my veearts se konsultasie alleen is duurder as my huisarts sʼn, dan praat ek nog nie van die behandeling, pille, poeiers, stropies, roompies, en loer deur ʼn mikroskoop opsoek na goggos en slegte goeterstes in die hond se maag nie.

Ai, en die laaste van die nuwe breë spektrum behandeling se ryke oes pille is nét op, hoogstens twee dae op, toe loop ons weer die weersinswekkende landmyne op die werf raak, word ek snags wakker van ʼn siek hondjie se konvulsies.

Ek is vanoggend by die huis uit met die wete dat ek vanmiddag nog verder oortrokke gaan raak na ek eers weer my gereelde besoek aan die veearts gebring het.

Ek glo in “samples”. So toe ek en Klaradyn vanmiddag by die huis kom, is die eerste wat ek doen, om met ʼn eierspaan onder die diarree in te klim en in ʼn polistireen-bakkie met ʼn deksel te deponeer – vir Omie Dokter, natuurlik.

Die volgende oomblik laat weet Klaradyn dat die hond gespoeg het. (Vir my skoonouers is “spoeg” ʼn eufemisme vir katte skiet of kots.)

Mense, en toe ek sien wat ek sien, toe laat ril die aard en omvang, kleur, vorm en struktuur van die dier se deposito my.

Sowat ʼn halfuur later het ek genoeg moed bymekaar geskraap om dié vreemdsoortige stoelgang of vomering van nader, en noukeuriger, te bestudeer.

En as ek sê “vreemdsoortig”, bedoel ek só vreeslik vreemd dat ek twyfel of enige dier in ganse diereryk al ooit so vreemde iets uitgeskei het.

Dis ek en my eierspaan.

Van nadere ondersoek blyk dit toe, en dit was ook die einde van my planne om veearts toe te gaan, niks anders as een van geknoopte paar kouse of opgekoude onderbroek te wees nie. Watter een van die twee dit is, is ek nie seker van nie, maar die oorsprong daarvan is duidelik die onderafklereafdeling van iets soos Woolworths.

Dan is daar nog iets by, Klaradyn noem dit ʼn panty, ek noem dit dele van die tennisbal wat ek ʼn ruk gelede opgekou in die huis raakgeloop het.

Ons sal nou maar kyk hoe gaan dit oor die naweek.

Ek sal tien teen Sondag, buite gewone werksure, wees dat ek noodveeartspryse noodveearts toe moet jaag.

Sien, Annieka se bril is nou al van verlede week net weg (herinner Annieka en Klaradyn my gisteraand toe hulle bad).

En die plastiek dingetjie wat jy nodig het om ʼn toiletrol op en in sy plek teen die toiletmuur te hou (besef ek vanoggend toe ek daar die gebruiklike draai maak).



18.12.14

'n Bietjie hond en 'n bietjie Ma met 'n knertsie Annieka en Klaradyn

Sussa word nou oud. Haar oë lyk glasig. My ouma het van “pêreloë” of iemand wat “pêrels op die oog het” gepraat.

As ek Sussa in die oog kyk, en dit gebeur elke dag ʼn paar keer – die eerste keer as ek vroegdag besoek aan die badskamer bring (nie om te gaan bad nie) – dan dink ek aan my ouma en wonder of dít is wat sy destyds bedoel het.

Ek kyk haar die laaste ruk, wanneer sy haarself soggens teen my kom aanvly en vra om getroetel te word, anders in die oog as voorheen. Dis of ons al twee weet die uurglas van die tyd loop uit. Sy kom dwing haar nie teen my af nie, sy kom dring haar nie stertswaaiend teen my op nie, sy kom “vra” eerder, dankbaar en beskeie.

Vir jare weet ek dat die honde ons motorgeluide herken, selfs nog voordat, eers die elektriese motorhek, en dan die motorhuisdeur ons aankoms verklap. Teen die tyd dat ons die kleinhekkie in die voortuin oopmaak, reageer die honde asof daar ʼn stuk wors in ʼn hondehok gegooi is.

Sonder Boeta, wat ons hierdie jaar verlaat het, is dit rustiger, maar Sussa is darem nog altyd daar om ons te verwelkom.

(Iemand noem hoeka nou die anderdag dat honde, die meeste van die tyd as ons weg van die huis en by die werk is, niks veel anders doen as om vir ons te sit en wag nie.

En toe, Maandag, is dit anders.

My motor, met die uitlaatpyp waarna ek moet laat kyk omdat dit iewers ‘n gat in het en begin raas, kom aan. Die bure se hond hoor my en begin sy gebruiklike blaf- en opspringritueel teen die heining.

Die motorhek ratel oop, so hard en duidelik dat selfs die bure oorkant die straat ons kom en gaan kan monitor.

Die motorhuisdeur se masjien skop in, weliswaar nie so hard en duidelik soos ʼn kragopwekker op die plaas nie, maar die hout en staal skuif en stamp en skuur hard genoeg om duidelik van oral op die erf hoorbaar te wees en aan te kondig as ek of Annieka tuis kom.

Meesal is Sussa se neus eerste om onder die sware dubbeldeure uit te loer en ons, nog in aanloop motorhuis toe, te kom groet.  Maar die waskamer se deur is toe en Sussa kan nie in die motorhuis inkom nie. Dis dán wanneer ʼn mens gewoonlik haar naels teen die staaldeur kan hoor krap en jy by voorbaat die pakkies in jou hande vervat en hoër lig – vir ingeval die ouvrou dit uit jou hande spring die oomblik wat julle mekaar aan die anderkant van die deur ontmoet.

Maar hierdie dag loop nóg ek, nóg Annieka deur die waskamer – ons beide gaan voor om, sy om te sien of haar plantjies opkom; ek om pos uit te haal.

Die hekkie skarnier skrilskurend oop.

Dis toe dat Annieka my saggies nader roep.

Maar saggies hoef sy nie te gewees het nie – sy kon maar geroep het, dít het gou duidelik geword.

Annieka wink en beduie my om die draai, in die binnehof in.

Ag siestog, te lekker, dáár lê Sussa in  haar binnehofmandjie in die son en slaap. Sy snork eintlik soos sy slaap.

So iets het nog nooit gebeur nie – by die geringste geluid is die honde op en wakker en aan die blaf of hol om ons te ontmoet.

Nou nie meer nie. Miskien het Sussa nou pêrels in haar ore ook en kan sy nie meer so goed hoor nie.

Ek het plat op my gat langs haar gaan sit en haar vir lank gestreel en gevryf voor sy stadig uit haar dowe diep slaap wakker begin word het. Sy het so verward wakker geword, haar oë so geknip-knip om goed wakker te word en te mooi te besef  wat besig is om te gebeur. En toe staan sy verleë op en begin haar stert in blye herkenning te swaai.

Sy volg my soos ʼn skadu. Staan ek 02:00, of 03:00, of 04:00, of 05:00 op om in die familiekuierplek agter die rekenar te gaan werk, dan is sy by my voete.

Ek noem nou die anderdag aan Annieka dat ek niemand in die lewe het wat so erg oor my is, soos my ou teefhond nie. Ek dink nie eers my ma was so konstant en knaend behoedsaam en bedag op my elke doen en late nie, om van Annieka en Klaradyn nie eers te praat nie.

Sussa is goed vir my en ek probeer om goed vir haar te wees. Maar sy raak nou oud. Ons al twee weet dit. Dis ʼn spesiale tyd wat ons nou ingaan.

Dis soos ek en Judy destyds.

Ek weet nie hoeveel jaar dit nou is dat my ma oorlede is nie – iewers is dit by my ingeprent dat ʼn mens nie boek van die kwaad moet hou nie. En of jy nou boekhou of tydhou, dis een en dieselfde.

Dis vir my onmoontlik om elke jaar rondom haar afsterwe nie aan haar te dink nie. Dis tussen my en Klaradyn se verjaarsdae, en ek verjaar ses dae na Klaradyn.

Maar watter dag presies, en watter jaar, weet ek nie.

En of dit nou nader aan drie, en of dit nou nader aan vier is, weet ek nie.

Maar gister, vir die eerste keer, het ek my ma gemis, soos ek haar na haar dood nog nooit gemis het nie.

Nie die ma bedlêend in die ouetehuis nie. Nie die verswakte bejaarde, haar brein weggekalwe deur Alzheimers soos gesonde landbougrond deur water op elke foto van gronderosie in bykans elke Aardrykskunde handboek van my hele skoolloopbaan nie. Nie dáárdie ma nie, die ma van die laaste vyf jaar nie, ek het die ma van tien jaar voor haar dood gemis.

Ek weet daar is meer mense soos ek. Maar almal is nie so nie. Ek is wel rondom gebed ook só – ek gaan makliker oor in ʼn dankgebed as in smeekbeding.

Ek vra nie sommer nie, maar sê graag dankie.

Miskien is dit ʼn ê-tôti-ding:  ons mans pak die swaarkry en sukkel onsselwers aan, ons soek nie hulp nie. Maar loop ons beker die dag oor van wyn en olie en alles wat goed en reg is, dan wil ons dit nie ons beskeie eie hou nie. So asof ons bereid is om pa te staan vir die gemors in ons lewens en dit aan te pak soos dit kom, maar gaan dit goed, dan wil ons deel.

Klaradyn het by die huis gekom met ‘n rapport wat getuig van die harde werk wat sy deur die jaar ingesit het. En dis op daardie punt dat my gedagtes al na Judy gespring het. Sy het my groot gemaak met die wete dat sy met niks anders en niks minder as my beste tevrede is nie. Of ek nou bo die gemiddeld, op die gemiddeld of onder die gemiddeld presteer het, dit maak nie saak nie, solank my prestasie net die produk van my beste was.

En dan gaan dit nie net om akademiese vordering en prestasie nie, maar enige bereiking op enige gebied. “As jy jou bes gedoen het, Oubaas, is Mamma tevrede.”

Nie dat sy die volgende nie ook gesê het nie: “As dit jou beste is, is jou beste nie goed genoeg nie, doen oor.” Maar dit nou daar gelaat.

Ek het as ouer nie ʼn rapport van die skool nodig gehad om te weet my kind het haar bes gelewer nie. Die rapport was maar net bewys van die harde werk wat ek weet my kind ingesit het.

Tog was daar ʼn skielike uitval van meer as 20% in een vak.

En ek het geweet Klaradyn het haar beste gelewer. Dit was dan nou duidelik dat haar beste nie goed genoeg is nie.

Maar toe kry ons gister nuus dat haar punt eintlik 24% hoër moet wees, daar was ʼn inleesfout.

Ag, en ek is só bly, ék is so bly, én ek is bly námens my kind. Én ek is sáám met Annieka bly! Ek loop oor van die bly. En die bly wil nie uitwoed nie.

Maar ek kan  nie na Annieka hardloop en haar vertel nie, want sy weet reeds, ons is saam bly.

Dis tóé dat ek dit met my wil deel, veral ook toe Annieka op die foon klim en haar ma bel, dat ek my ou moedertjie so mis. Ek sit met die opregte, diepe, behoefte  van die hart om net vir haar te kan sê dat ons so trots op haar kleinkind is wat só mooi presteer het in haar baie besige, anderste, moeilike, graad 4-jaar met sy eerste toetse en eksamens saam. Dít terwyl sy volstoom met al haar buitemuurse aktiwiteite aangegaan het.

Maar my ou moedertjie is nie daar dat ek my hart soos ʼn wyn- of oliekruik kan skeefhou dat ʼn bietjie van my geluk, ons geluk, ook in haar ou hartjie kan oorloop, en dit ons álmal se geluk kan word nie.

Toe loop bel ek maar my skoonsus in die Kaap en deel dit met haar. Tien jaar terug sou dit tweedebeste gewees het, maar onder huidige omstandighede is dit beste, en al wat ek oorhet.

Presies hoe Sussa en die gemis aan my ma saamhoort weet ek nie – die enigste gemene deler is seker maar die dood, die een sʼn was reeds, die ander sʼn wag nog.

Ek maak daar geen geheim van dat ek geen behae in die mense en dinge om my se afsterwe en dood het nie. Behalwe dat ek nie my eie lewe voortydig kortgeknip wil hê nie, het ek vrede met die gedagte aan my eie dood.

Dis egter die óm my, met wie se dood ek seker tot die dag van my éie dood in ernstige geding sal bly staan.

Dít is op sy beurt seker weer iets positief: dis ʼn beter wedersydse getuigskrif om deur iets of iemand se dood geraak te word, as wat dit is om daardeur koud gelaat te word.

Lief jou Mamma, lief jou Sussa.

Lief jou Annieka, lief jou Klaradyn.



                                                                                                                                                                



29.10.14

Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd, met ʼn goeie dosis somerreën

Ons het ons eerste somerreën gehad. Vir jare vermaan ons Pretorianers mekaar om nie opgewonde te wil raak of van reën as reën te praat as die eerste katspoegie stoffies opjaag nie – dit reën immers nie in Pretoria voor Paul Kruger nie verjaar nie.

Vanjaar was daar voor die oubaas se geboortedag nie eens ʼn enkele belowende wolkie in die lug nie, wat nog te sê ʼn lekseltjie genade.

Ons het ook al vergeet dat 10 Oktober lankal gekom en weer gegaan het, en steeds geen reën wat as reën kan deurgaan nie, nie óp sy gedenkdag nie, nie daarna nie – selfs nie eens ʼn enkelte druppeltjie wat nié as reën kan deurgaan nie.

Die ander volgsgeloof rondom Oom Paul en reën op sy dorp wat darem vanjaar die bygeloof gestand gehou het, is die een rondom die rigting waaruit die wolke wat reën bring, kom. “As dit nie agter Oom Paul se gat aan- en toepak nie, kom dit nie reën nie.” (En dan, het ek 25 jaar gelede toe ek in Moot aangekom het, uitgevind, verwys hulle na sy standbeeld op Kerkplein.)

Hier wás die laaste twee weke inderdaad, die tiende van vandeesmaand óók, allerhande donker wolkies, maar elke keer, gooi jy jou oë in die rigting van die plein, dan is dit duidelik: ons kan maar vergeet van reën, Paul Kruger se gat is helder oop, dié wolkies kom nie uit sy rigting nie, hulle dra straks reën, maar reën vir ons is dit nie.

Gister toe Annieka vroegmiddag weer begin praat van reën, toe praat ek haar nie teë nie – Oom Paul Kruger se standbeeld op die plein en waar die wolke begin uithang het, het my vertel om my bek maar te hou.

Toe dit gisteraand begin sous, toe gooi die drie van ons, ons arms om mekaar en vertel die een die ander die oog- en oorlopende – dit reën.

“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”/ En haar krale skud, / en haar koperringe blink…”

Skielik, oornag, ís Oktober weer die mooiste-mooiste maand en nie sommer meer net “droogtemaand” nie. Beslis nie wat die gemoed betref nie. En ons erf nie.

Elders, soos die weerman altyd te sê had, bly dit oor groot dele van die land nog “mooi weer en warm” – en in baie opsigte kom dit neer op droogte en boere wat saai in die geloof dat dit gaan kom reën.

Ek het jare gelede ʼn praatjie met iemand, wat meer van die dinge weet as ek, oor die radio gehoor. Die persoon had te vertelle dat allerhande dinge soos padwoede en selfdood nóú, ná die eerste werklike reën en al die ontlading wat daarmee saamval, dadelik drasties beginne afplat.

Nie net die boere wat wag vir die reën nie, ook die hospitale en polisie, sielkundiges en psigiaters.

Dit klink dalk bietjie dik vir ʼn daalder, tog maak dit vir my genoeg sin dat ek dit na baie jare steeds nog nie vergeet het nie.

ʼn Vriend se vol hart maak sy mond vanoggend vroeg al op Facebook oorloop met: “40 mills in die nag gereën (...) En dit val steeds en steeds, saggies...’Then sings my sole.....!!’"

Dit was douvoordag en straks het hy “soul” bedoel. Maar nie noodwendig nie – jeuk ons almal se voetsole nie, sing hulle nie en roep hulle nie uit nie!

“Want die werf is wyd en die bruilof groot... O, die dans van ons Suster!”

Myne doen. En dis nie net van die reën nie. Klaradyn het ʼn klein kinder-Kook-en-Geniet present gekry en vaar nou al om die ander dag die kombuis in. Vlakoekies, skons, heuningtert, improvisasies (met wisselende sukses) en dring saans daarop aan om te roerbraai (wanneer ons roerbraai eet).

En dan moes die skool van my versugting/dreigement te hore gekom het. Toe die nuutste Kuns-en-Kultuur-taak hier aankom, is dit genadiglik nie nóg ʼn musiekinstrument nie. In vyf jaar skool, tel jy graad O by, het ons nou al ses musiekinstrumente gemaak, en kom my kind in haar hele skoolloopbaan nog met een enkele musiekinstrumenttaak by die huis aan, gaan ek afblaas soos geen ouer in die ganse geskiedenis van uitkomsgebaseerde onderwys (hier én oorsee) nog ooit afgeblaas het nie.

Hierdie keer moet ons gelukkig ʼn droomvanger maak.

Ek is nie vreeslik lus om hart en siel in te klim nie en stel voor ons gesin moet geloofsbeswaardes wees wat nie bereid is om hierdie heidense implement van Satan en sy trawante te maak nie.

Daar sál sulke ouers wees, ek hou op hoërskool vir hul kinders skool. So waarom moet hulle alleen wees. Ons Moolmans kan ʼn verenigde front met hulle vorm.

Maar toe ek eers op die internet oor die goed gelees het, toe wil ek Klaradyn nie meer bystaan met die maak van hare nie, nee, toe wil ek my eie óók maak.

En dis presies wat ons toe doen: ons sorg dat ons genoeg van alles het om twee droomvangers te maak.

Het jy geweet:  Droomvangers het hul oorsprong by die Ojibwe, ʼn inheemse Amerikaanse Rooihuidstam. Aanvanklik is ʼn ragfyn spinnerak oor ʼn sirkel wat uit takkies gevleg is. gespan. Dit is by jou bed gehang. Hierdie net of web sou dan slegte drome vang en net die goeies deurlaat om die slaper te besoek. Vere is aan seninglinte geheg en aan die onderkant van die sirkel geheg. Hierdie vere het vir die mooi drome se sagte landing gesorg.

Natuurlik is daar ander weergawes ook: die slegte drome wat deur die slapende vrygelaat word, ontsnap deur die web, terwyl die goeies agterbly om in die toekoms bewaarheid te word.

Kraletjies en kleine tierlantyntjies en polfyntjies word ook glo ingewerk.

Toegerus met al hierdie mumbo jumbo het ek en Klaradyn toe ʼn lieflike oggend terwyl ek eintlik Daddy Day Care speel met Mamma by die skool vir werk.

Die eerste vakansie van ons getroude lewe saam, is ek en Annieka Kalahari Gemsbok Park toe. Iewers langs die pad koop ons toe ʼn bewertjie wat na bewering deur ʼn rasegte lid van die San-gemeenskap gemaak is.

Ons outentieke San-artefak herinner seker baie aan die brokkies van die muur wat Duitsland geskei het en vandag nog oral in die land te koop aangebied word. En dít herinner op hul beurt weer aan die splinters van Jesus se kruis wat in die vroeë Middeleeue die ronde gedoen het...

Maar dit het ons tóé, toe ons dit gekoop het, nie gepla nie. Wat ons gepla het, toe ons by die huis kom, is dat die ding baie effentjies en eintlik so lelik soos die nag is.

Maar dit weggooi, kon ek nie. Selfs met die tannie wat dit gemaak het se naam nog op die etiket, is dit veertien jaar later in aktiwiteitskas vol kunsvlytgoeterstes.

Toe snipper ek die bewertjie op en hang aan my droomvanger sewe verskillende glyplankies met veertjies onderaan vir daai veersagte landing – een vir elke nag van die week se soete drome.

Sodra ek my kamera opspoor, spog ek met meer as ʼn selfoonfoto. Met myne, én met Klaradyn sʼn (wat sy toe 100% op haar eie moes maak omdat haar pa so hart en siel betrokke was in die maak van sy eie.)

Pappa s'n

Die vere in die sirkel self is aan 'n kraletjie vas. Die kraletjies is van 'n -P, -M en -K (vir Pappa, Mamma en Klaars.) Heel simbolies uitgedink deur die merrieperd.

Klaars s'n

In die middel van die spinnerak is daar 'n ietsie - dit "simboliseer" die spinnekop wat die web gespin het. (Die rooihuidstam het een woord wat tegelyk na 'n spinnekop en so 'n droomvanger verwys, maar die detail ontgaan my nou.)

Somerreën en droomvangers en aandete en Kinder Kook en Geniet hoort seker nie in een inskrywing nie, maar wat die hart van vol is...

En toe kom sonsak en daar is ons al drie in die kombuis – elkeen besig met sy eie dis. Klaradyn maak ʼn yskastert, Annieka maak haar eie ander een, en ek maak aandete. Volslae chaos in ʼn kombuis waar een mens moet uitstap as hy ruimte soek om net van plan te verander.

Ons kan nie een verby die ander stap nie, ons moet dwars draai en verby mekaar skuur. En die berg skottelgoed word net al hoe hoër.

Dan is my eie oorlede mammie ook nog in die kombuis – ons maak op ʼn Saterdagaand die oondgeroosterde broodjies wat sy tradisioneel op Sondae gemaak het.

En tussen die klitser en menger en rooster en kookboeke deur, luister ons musiek. En ruik die honde die reën – hulle is al onder, en oor, en deur ons voete en bene.

Dis tóé dat ek besef, op 50 en twee maande: ek kan tegelyk tipeer word as stapelgek en disfunksioneel. Want op daardie oomblik wéét ek een ding:  Ek is op my heel gelukkigste op aande soos hierdie, omring deur my gesin.

Annieka noem dit Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd.

Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd, met ʼn goeie dosis eerste somerreënt dan.










5.10.14

Genade onbeskryflik groot

Die opskrif van hierdie gesels moet eintlik iets anders wees, maar netnou skrik dit ʼn moontlike leser af.

Die opskrif van hierdie gesels is eintlik Liedjies wat my laat huil, om presies te wees:  Liedjies wat my laat huil (1).

Daar is so baie liedjies wat my laat huil dat ons maklik van (1) – (12) sou kon gaan, en dit terwyl  ek teen 12  steeds nog nie uitgehuil sal wees nie.

My ma het altyd, en dan was sy nie vleiend nie, van my ouma gesê dat dié ou vrou maklik haar traankraantjies kon oop- en toedraai soos dit haar pas. En miskien was sy reg – Ouma het darem baie maklik, baie lekker aan die snik gegaan.

Ek het dit nooit gesê nie, maar ek het dit baie gedink, later, toe my ma ouer en my ouma dood was, dat daai vrou wat so maklik kon huil se dogter darem net so maklik ʼn traan of wat kan stort. En so maklik soos Ouma die kraan kon toedraai, so maklik doen Ma haar dit na. Maar dis goed wat ʼn mens kan dink, net nie sê nie.

En nou is ek daar, met Klaradyn wat sagkens oor my rug streel as ek die sluise oopgooi.

So lekker soos dit vir my is om lekker te lag, net so lekker is dit vir my om dan en wan lekker te kan tjank.

In byvoorbeeld ʼn erediens waar dit onvanpas is om uitbundig te lag, kan ek die lag maklik keer. Net so kan ek die trane bedwing waar dit nie gepas is vir ʼn man om te huil nie.

Dis net dat daar so min plekke, geleenthede en omstandighede is waarin ek reken mans nie mag huil nie. Daarom huil ek graag. Dis bevrydend en salwend.

Liedjies vertel seker nie vir alle mense stories nie, maar vir my vertel elke bekende liedjie die een of ander storie, dikwels sommer meer as een storie. Boekdele party kere, kronieke en epogs ander kere.

Om uit dankbaarheid van God se onbeskryflike groot genade te sing, is seker nie iets om hartseer  oor te raak nie, maar elke keer as ek “Amazing Grace” hoor, en ek sing saam, gaan ek al te lekker aan die tjank.

Toegegee, die pragtige melodie is tranetrekkerig verby. En as jy jou in die stem wat in die gedig aan die woord is, se skoene indink (wat seker die gedagte agter dit alles is – jy sing dit immers in die eerstepersoon) tree selfverwyt en diepe berou oor jou ganske lewe ook in. Kortvoorlank is vergeet jy van die dank en huil jy op die maat van Nana Moskouri, Celine Dion, Sarah Brightman of Katherine Jenkins.

Maar eintlik huil ek nie saam met hierdie vrouens  nie, ek huil saam met Tannie Flossie en omdat hulle my aan haar herinner.

Ook nie Tannie Flossie, maar Ant’ Flossy. Ook nie mý tante nie, maar ʼn tante van my ma en my tannie aan my ouma se kant. (Hoeka die een wat so maklik aan het snik kon gaan.)

Ek is nie eers heeltemal seker of hierdie Flossie in ons familie my ouma se suster of skoonsuster was nie. Haar man, Oom Hendry /Uncle Henry was dan Ouma se broer of swaer. Maar hy was al jare dood teen die tyd dat ek gebore is. Ek het van hom net gehoor.

Ek het hierdie Ant’ Flossie hoogstens vier keer in my lewe gesien. Die laaste keer iewers in die middel sewentigs. Of sy toe dood is, en of sy net bloot te oud geword het om al die pad van die Kaap af met die trein vir my ouma te kom kuier, weet ek nie. Ouma het in elk geval te word vir die treinrit Kaap toe, na Flossie en haar oudste suster, Tant Miem, toe. (Tant Miem is soos oom Henry – ek het hulle nooit gesien nie, maar net van hulle gehoor.)

Die kere wat Ant Flossie Rand toe gekom het, het sy natuurlik by haar susterskinders gebly – Ouma was eers in ʼn bacehelor’s flat en toe in ʼn eenvertrek-ouetehuiswoonstelletjie met ʼn kombuisie in die een hoek by die toilet. Ant’ Flos sou regop op die toilet moes sit en slaap as sy by haar sus/skoonsus wou slaap.

En elke keer as Ant’ Flossie kom kuier het, het sy iewers ten tye van haar besoek, op versoek van haar suster, of my ma, of Tannie Anne, vir ons haar unieke weergawe en interpretasie van “Amazing Grace” gesing.

Ouma had selfs 'n foto in haar Bybel van Flos' waar sy die lied staan en sing. Gaan krap ek in Ouma se goed in garage (en sy het al in '86 gegroet) spoor ek dit vir ons op. Die gryse tante se koppie kyk so regs, en op.

So het sy een keer reg langs my bed gestaan en sing, en nie sommer enige bed nie, maar ʼn ernstige siekbed. En ook nie sommer net griep of verkoue nie, die een of ander kindersiekte wat deesdae een van die baie is wat kinders nie sommer meer kry nie.

(Soos ʼn amperse Engel des Doods, verbeel ek my nou veertig jaar later, moes sy daar langs Klein Hansie se koorsige lyfie gestaan en sing het.)

En Ant’ Flossie het “Amazing Grace” gesing soos alle ou tannie met pers gekleurde grys hare daardie jare gesing het: met ʼn trekkerige bewing in haar hoë stem. Nee, dit het geensins herinner aan ʼn Afro-American Negro Spiritual nie, glad nie, suiwer bewerig, trekkerig in ʼn hoge, gekrypte amperse fasetto. “Gesing”, in retrospeksie, is miskien die verkeerde werkwoord, Ant’ Flos het haar unieke interpretasie van “Amazing Grace” gepleeg.

O, maar vir my ontvanklike jong gemoed was dit so mooi. Teen die einde sou én Ouma van Wyk én Ant‘ Flossie ʼn lapsakdoekie van iewers aan hul lyf te voorskyn bring. Hulle sou snik van al die mooi, en die hartseer, en oor Oorle’ Henry en sommer al die dooies en almal en alles wat ʼn traan of wat verdien.

Ek onthou nie dat Ma of Tannie Anne ʼn traan gepik het nie.

Maar deesdae, hoor ek “Amazing Grace”, soos gister toe ek luister hoe Nana Moskouri dit sing – hoe sentimenteel van my nie, gaan ek aan die huil. Oor Ant’ Flossie, oorle’ Ouma van Wyk, oorle’ Tannie Anne, oorle’ Ma, selfs sommer oorle’ Uncle Henry wat ek nooit gesien het of vandag nog selfs op ʼn foto sal herken nie.

Die lied, lees ek op die internet, het ʼn outobiografiese oorsprong. Die skrywer het vroeg in sy lewe van God en Sy gebod vervreem geraak. In plaas van tronk toe, is hy weermag toe gestuur. Maar daar het hy gedros en is hy deur ʼn slaweskip ingeneem. Toe het hy in die destydse slawehandel betrokke geraak. ʼn Paar maal het hy by die dood omgedraai. Een nag, toe die skip onder hom amper vergaan het, het hy kragtig tot bekering gekom en sy lied geskryf.

Hoe kragtig hierdie kragtige bekering was, sal ek ook nie weet nie, want hy het nog ʼn jaar of wat met die slawe deurmekaar gebly, voordat hy hom op die teologie van die laat 1700’s toegespits  het.

Maar dit en Ant’ Flossie daar gelaat:  ek huil op die wysie van “Amazing Grace” oor oorle’/wyle Hans Moolman, my pa, ook,

Net gister sê ek tussen die snik en die snot vir Klaradyn: “Ons het daardie liedjie op my pa se begrafnis gesing. Hulle het nie geweet wat om te sing nie, toe vra hulle my, toe sê ek hulle moet “Amazing Grace” sing.”

Dis natuurlik loutere kale snert.

Ja, hulle hét my pa se enigste seun gevra wat ons moet sing, en ek hét gesê, maar dit was nie “Amazing Grace” nie. Onthou ek was pas maar pas klaar met laerskool en enkele weke op hoërskool, so dit was nóg droewiger as die lied oor die ongelooflike genade, dit was niks anders nie as “Nearer my God to thee”. En Psalm 116, die ou Voortrekker-beryming (verbeel ek my).

Iewers in my brein, en wie is ek om met my brein te stry, het  “Amazing Grace” en “Nearer my God to thee” een en dieselfde geword. Miskien is dit bloot omdat dit die twee Engelse geestelike liedere is waarop almal, altyd huil.

Ek onthou hoe lekker ek by die krematorium se kapelletjie gehuil het, toe ons sing – my oë het so geswem en ek kon nie mooi deur al die water sien nie. My vingers na my oë bring en skoonvee kon ek nie, nie ʼn standerd 6-seun nie. Nie ek, tóé nie.

Miskien is dit omdat my brein ʼn lyn trek tussen Psalm 116 se verlore-en-gevind-motief en “Amazing Grace se lost-and-found-gedagte dat ek vandag daar heilig oortuig van is dat ons “Amazing Grace” gesing het. Ons het nie, ek het op die pers Avbob-begrafnisbriefie loop kyk.

En wat maak dit, after all, ook nou saak as ek amper veertig jaar later onthou hoe lekker ek as standerd sessie op Pa se begrafnis gehuil het op die wysie en woorde van “Amazing Grace” terwyl dit eintlik die woorde en wysie van die Engelse “Nader my God aan U” was.

Ek huil immers ʼn slag weer lekker. Oor alles wat was, die bietjie wat is en sommer alles wat nog moet kom. Want huil is goed en reg – dis manna vir die binneste en detoks  (ontgif?) die gemoed.



Amazing Grace

Amazing grace! (how sweet the sound)
That sav'd a wretch like me!
I once was lost, but now am found,
Was blind, but now I see.

'Twas grace that taught my heart to fear,
And grace my fears reliev'd;
How precious did that grace appear
The hour I first believ'd!

Thro' many dangers, toils, and snares,
I have already come;
'Tis grace hath brought me safe thus far,
And grace will lead me home.

The Lord has promis'd good to me,
His word my hope secures;
He will my shield and portion be
As long as life endures.

Yes, when this flesh and heart shall fail,
And mortal life shall cease;
I shall possess, within the veil,
A life of joy and peace.

The earth shall soon dissolve like snow,
The sun forbear to shine;
But God, who call'd me here below,
Will be forever mine.

Psalm 116

(Ons het die dag tydens die roudiens natuurlik nie verder as vers drie gekom nie, maar die hele berymde Psalm was aan my bekend.)

God het ek lief, want dié getroue HEER                                   
hoor na my stem uit vrye welbehae;                              
ek roep Hom aan in al my lewensdae,                          
Hy skenk my hulp, Hy red my, keer op keer.                

Om my was band‟ en strikke van die dood;                  
en angste van die hel het my laat bewe;                      
ek was benoud, vol droefheid was my lewe;               
maar „k het die HEER gesmeek in al my nood:                      

 “Ag, red my, HEER, na u beloftenis!”                           
Toe „t God gehoor; Hy is my lofsang waardig;             
Hy is die HEER wat goed is en regvaardig,                 
en vir sy volk groot van ontferming is.                           

Eenvoudiges wil God steeds gadeslaan.                     
„k Was uitgeteerd, maar Hy is vol ontferming.             
Soek dan, my siel, jou rus in sy beskerming,               
Hy „t jou verlos en aan jou welgedaan.                        

U het my siel weer van die dood bevry;                        
in droefenis droog U, o HEER, my trane;                     
U lei my voet langs nuwe lewensbane,                                   
om in u lig te wandel, lewensbly.                                              

Ek het geglo toe ek, in smart gedaal,                            
dit uit moes spreek: “Ek is terneergeboë,”
en uit moes roep, deur sware smart bewoë:
“Die mens se woord is enkel leuentaal.”

Wat kan „k die HEER vir al sy guns vergeld?
Wat kan „k Hom bring uit dank vir sy genade?
Ek sal Hom prys vir sy verlossingsdade
en by die kelk van heil sy Naam vermeld.

Al my geloftes, uitgespreek in nood,
sal ek betaal as ek voor U mag nader
en met u gunsvolk in u huis vergader.
Hoe kost‟lik, HEER, is in u oog hul dood!

Ag, HEER, ek is, o ja, ek is u kneg,
seun van u diensmaagd, in u diens gebore:
my band‟ is los; vir hoër diens verkore,
bring ek die offers, aan U toegeseg.

Ek sal u Naam met dankerkent‟nis prys
te midde van die feestelike skare.
Jerusalem, ek hoor om jou altare
die lofgeluid wat tot Gods eer verrys.










24.9.14

Erfeniskos vir erfenisdag

Ek het so lank hierna gesoek, dat ek dit vandag aan die groot klok wil hang. 

En waar wil jy nou ‘n beter dag as juis Erfenisdag kry om so iets te kan doen. 

Straks is daar ergens iemand anders wat ook daarna hunker en kom hierdie na aan dit wat jy soek of onthou.

Ek het so vyf of ses jaar gelede gedink ek het dit gekry. Dit was in die doktor se spreekkamer. Die man het twee van die goed en terwyl hy in die een besig is, maak sy ontvangsdame jou solank sit in die ander. En dan is daar vier of so tydskrifte in ‘n amperse waaier uitgepak vir jou om in te blaai.

Ek reik natuurlik altyd eerste na die buitelewe maar dit vat nooit lank nie of ek kwyl soos ‘n hond met met my neus en oë in die vrouetydskrif se kosafdeling.

Ek het seker al vier resepte van die einste dokter by die huis aangebring, en ek sal die een waarna ek hier bo verwys het, ook deel – maar dit was nie die een nie, nie vir my nie.

Toe spoor ek die lui huisvrou van die laat jare sewentig se imitasie (laasgenoemde woord in hierdie geval ‘n gepaster woordkeuse as namaaksel) op. 

Ek het dit egter een kyk gegee en geweet dis nie die real makhoya nie. Ek het dit nietemin maar afgeskryf en in dieselfde boek kom neerskryf waar ek die een uit die spreekkamer oorgedra het.

En toe kry ek vroeër vanjaar die resep wat my so lank ontwyk het by my beste skoolvriend sedert ek in standerd 1 in sy ma se klas beland het. In sy ma, Tannie Marthie, se eige handskrif.

Ek het toevallig gister van haar vertel Sy was een van my ander mammas; hy die maatjie wie se huis nou onherkenbaar in ‘n kleuterskool verander is. 

Suiwer op grond van ‘n boom in die agterplaas dat ek die regte erf kon eien. 

Die huise links en regs het net so verander – in die hele blok van Launcestonstraat waar hulle destyds gebly het, het ek miskien twee huise vaagweg herken.

Toevallig ook die maatjie saam met wie ek twee bome geplant het waaraan ek die verskil wat ek op aarde teweeg gebring het, meet.

Omdat ek weet dat hy so lief vir die imitasie was en dit gereeld in hulle huis gemaak het, bel ek hom 'n ruk terug en vra of hy nie die oorspronklike het nie. Toe die twee gesinne weer saamkuier, toe kom hy met hy met sy ma se kookboek, die een wat sy in haar eie hand sedert skooldogterdae bygehou het, hier aan.

En ek weet sommer, net by die kyk en lees, dat die resep wat hy voor my neus indruk, die een is waarna ek soek, jare nou al.

Toe my generasie (en ons almal klok nou die een na die ander op 50 in) klein was, baie klein, het jy by die ou mense ‘n slaaisous oor ertappelslaai gekry wat aan soet mosterd herinner het.

Later van tyd, in die sewentigerjare, het die vrouens kortpad begin vat met kondensmelk en mosterd.

En deesdae, as jy gelukkig is, spoor jy nog iets daarvan op as iemand vir die snaaksigheid iets wat daaraan herinner by die gekoopte mayonnaise voeg. (Dis nou ás jy gelukkig genoeg is om nie ‘n gekoopte Woollies-ertappelslaai voorgesit te kry nie.)

Maar ek het na die oer-oorspronklike gesoek, die een wat my oorlede ouma (en tien teen een haar oumagrootjie) nog gemaak het.

Toe ek vroeër vanandeesmaand 50 strike en ons voorberei vir die tradisionele Pilanesberg-verjaarsdagnaweek weg in die bos, besluit ek, deur nostalgie daartoe gedryf, om dié slaaisous in ‘n fles saam te neem.

Ek het die resep twee keer aangemaak en my fles was bietjie klein, toe beland daar ‘n lekseltjie in ‘n tupperbakkie. 

En toe ek gisteraand naarstiglik op soek na iets in die yskas gaan, wonder ek wat in dié betrokke bakkie is, toe is dit die laaste van Tannie Marthie se slaaisous wat dadelik weg vind na die halfpad klaargemaakte mengelslaai op die tafel.

Die ganse tafel smul.

In my handgeskrewe kookboek, in haar seun se eie handskrif, uit die handgeskrewe kookboek sedert haar hoërskooldae, hier dan:

Tannie Marthie se “Mayonnaise”

·         4 eiers
·         4 eetlepels suiker
·         ½ koppie water
·         ½ koppie asyn (wit)
·         1 teelepel sout
·         1 eetlepel rou uiesap
·         1 teelepel droë mostert

Metode

Klits eiers & suiker saam. Gooi water & asyn in kastrol en laat kook. Gooi die kokende water & asyn oor eier-&-suiker-mengsel terwyl jy dit vinnig roer. Gooi die mengsel dan terug in die kastrol en plaas eenkant op die stoof. Roer tot mengsel dik word en kook. (Pasop dat dit nie brand nie.) Haal van die stoof af en voeg uiesap & sout by. Los die mostert in ‘n bietjie van die vloeistof op en voeg dit by die mengsel in die kastrol. Klits goed en laat eenkant in die kastrol om af te koel. Gooi in vrugtefles en kurk toe – gebruik wanneer nodig.

Dis vir my duidelik dat hierdie resep vir ‘n koolstoof geskryf is (plaas eenkant op die stoof). Mosterd is mostert. En Tannie Marthie was ‘n onderwyseres, sy maak nie spelfoute nie, nie daardie jare se onnies nie. Sy skryf hierdie nie oor uit ‘n tydskrif nie, maar uit ‘n ouer handgeskrewe kookboek, vermoed ek. Die gebruik van”en” sowel as “&”. Daar is sprake van ‘n vrugtefles wat toe gekurk moet word.

Dís mos nou erfeniskos! Héérlike erfeniskos.

Een wat daaraan herinner (maar ek het dit nog nooit self gemaak nie) is:

·         6 eetlepels kondensmelk
·         9 eetlepels asyn
·         1 desertlepel Worcestershiresous
·         1 teelepel mosterd
·         1/8 teelepel peper

En dan is daar die een uit die spreekkamer, wat by the looks of it heerlik is:

·         125 ml room
·         15 ml suiker
·         klits tot amper styf
·         1 ml sout
·         1 ml mosterdpoeier
·         knippie peper
·         klits geleidelik 45 ml witasyn by.
·         As die asyn by is, moet die room styf wees


Van Tannie Marthie se sous, behalwe dat dit lekker is, kan ek verder getuig dat dit die gedagtes om lang en ver paaie terugneem.