Pages

21.9.14

Kulinêre sinsbedrog (2)

Toe ek en ‘n kollega in drie minute moet besluit wat ons vir ‘n vriendin se verjaarsdagete by die skool gaan maak, toe praat ek my mond verby en sê dat ek ‘n bobotie-lasgane sal maak. So asóf ek dit al gemaak het, so asóf dit ‘n ou treffer uit my hand is.

Toe ek Woensdag op hom afstap en hom meedeel dat ons ete van Vrydag nie gaan werk nie – omdat die prefekte pouse vir die personeel ‘n ete gee, kry ek die antwoord: “Maar ons ete is nie Vrydag nie, Hans, dis more!”

Ons praat hier van “more”, soos in “die volgende dag”, binne 24 uur; teen hierdie tyd more, het ons al klaar geëet, het ons al vergeet ons het geëet.

Omdat ek Vrydag vir ons tafel van 13 kos moes vat én Annieka vir haar tafel vertel het dat sy Vrydag vir hulle tafel iets te ete sal vat, het ek, genadiglik, Woensdagoggend toe ons uit is skool toe, gou die vleis in die prutpot gesit.

Eintlik wou ek vroeg opstaan en dit doen, maar toe vergeet ek. Slegs omdat ek nie die tandepasteproppie laat val het en daarom laat vir skool sou wees nie, het ek toe die tyd om die vleis solank aan die gang te kry terwyl Annieka en Klaradyn aanstap kar toe dat ons kan ry.

As die Italianers ‘n Bolognese sous maak, dan is hy ‘n minimum van drie ure op die hitte, en ek wil nie sommer pasta & mince maak nie, ek wil ‘n propperse lasagne maak – my Bolognese-sous moet bloot Bobotiesous word. Die sous sal egter steeds daaraan moet herinner dat sy oerwortels op die stadige koolstoofplate van Bologne vorm gekry het.

Maar dis al wat ek gedoen het, ek het nie eers tyd gehad om gebraaide uie en knoffel in te sit nie. Ek het die maalvleis, kerriekruie en –speserye, appelkooskonfyt en ‘n grypie water in die pot gefoeter en uitgehol kar toe waar Annieka en Klaradyn al gewag het. Ek is so haastig daar uit, ek moes nog terughol om te kyk of ek in my haas wel onthou het om die pot aan te skakel.

Wat meer is, ons is met een kar by die skool en na skool moet Annieka vir die vriendin ‘n present kry terwyl ek in aller yl lasagne-velle en wat ek ook al dink ek nog nodig gaan kry, moet gaan koop.

Maar dis nog níks – Klaradyn (én Mamma en Pappa) moet 17:30 by Klaradyn se skool wees vir die jaarlikse koffiehuis-/verskeidenheidskonsert.

Ons stap 15:30 in die huis in en ek begin kos maak – al wat in plek is, danksy die prutpot, is die maalvleissous se tekstuur en die helfte van die kleur en geur.

Maar 17:30 toe klim ons in die kar, die lasagne/bobotie het kleefplastiek om en wag om oond toe te gaan sodra ons terug is.

Soos alle laerskoolaande word dit ‘n lang aand. As ek geweet het dat daar ‘n pouse is, en dat Klaradyn tweede na pouse aan die beurt kom, het ek by die huis gebly en kos gemaak en gewag vir Annieka om my pouse te bel. Maar hoe sal ek dit nou weet.

Na Klaradyn se item skiet ek toe deur huis toe. Daar sit ek toe en kyk vir die oond terwyl hy warm word. Die oomblik toe die liggie afgaan, om aan te dui dat die regte temperatuur bereik is, toe prop ek die twee bakke in die oond en jaag deur laerskool toe, terug na die girls toe.

39 minute later stap ek met die twee in die kombuis in en ek draai die oond af – rou kan die kos waaragtig nie meer wees nie, en as dit dan nou te lank in die oond was, is dit klaar te laat en kan ek onder die son niks meer daaraan doen nie. Ek gaan slaap en los die kombuis wat herinner aan tien dae voor die skepping, nie so leeg nie, maar so woes.

Of die outjies dit aan tafel as ‘n sinestetiese ervaring sou beskryf, betwyfel ek. Vir die meeste mense is dit straks maar net “so ‘n lasagne wat Hans gemaak het”, of, erger nog – “pasta en mince”! Maar dan darem ‘n “baie lekker” pasta en mince, lei ook geen twyfel nie.

Enige iemand wat van bobotie hou, sal daarvan ook hou. Probeer gerus. Hou net weg van die in-melk-gedoopte-witbrood, jy wil geen vog deur iets anders as die droë lasgane-velle laat absorbeer nie.

Ek het in my soektog na ‘n resep nie minder nie as drie verwysings na so iets op die internet opgespoor, selfs iemand wat dit êrens as bruilofsmaal gehad het – met foto’s nogal – maar nergens ‘n resep nie.

Maar ja, die mog-het-troffe bobotie-lasagne/lasagne-bobotie hét goed afgegaan. Ek sal dit met vrymoedigheid weer, en hopelik met minder haas en kortpaaie, berei.

Maar nee, daar is nie ‘n resep met hoeveelhede en mates nie. Ek moes sien-kom-klaar met wat ek in daardie twee ure in die huis, of pas aangekoop, had.

Jy het nodig vir die vleissous:

·         Ongeveer 1 kg maalvleis (bobotie is streng gesproke net bobotie as dit van skaapvleis gemaak word, maar deesdae is dit net ek, Leipoldt en Peter Veldsman wat nog só oor bobotie voel)
·         1 of 2 uie
·         ½ knoffel (dis ‘n ½ bol knoffel, nie ½ knoffelvlokkie nie)
·         ½ pakkie van Woolworths se Cape Malay Curry Spice (dis so pienk boksie – die lekkerste)
·         ‘n Groot gesonde, ruim, handvol gekapte/gebreekte/gevlokte amandels
·         ‘n Groot gesonde, ruim, handvol rosyne/korente
·         ‘n Groot gesonde, ruim, handvol gesnyde droë appelkose
·         Lekker baie, jy moet dink dis te veel en dan is dit eintlik nog maar skaars genoeg, vars gekapte koljanderblare – lag-lag drie of vier van die pakkies wat Woolies of P&P verkoop.
·         ½ kleinerige blikkie appelkooskonfyt (ek was gelukkig, ek het die laaste van my eie tuisgemaakte kooksel gehad)
·         ‘n paar suurlemoen en/of ‘n paar lourierblare

Braai die opgesnyde ui in botter of olie, gooi die kerriepoeier by en braai, gooi die fyngemaakte knoffel by en wees versigtig dat dit nie brand nie – knoffel brand gou.

Kry die vleis by en braai tot bruin. Voeg dan die appelkooskonfyt en vloeistof by en prut vir drie ure. Jy kan die drie ure seker maar oorslaan. Ek wou wyn vir die vloeistof gebruik, maar die Maleiers gebruik nie alkohol nie. As jy nie ‘n puris wil wees nie, kan jy gerus wyn gebruik. Jy moet basies nou met jou vleissous regkry wat tamatie aan ‘n rasegte Bolognese-sous sou doen. Of sommer net curry mince maak – dis net so lekker. Ek had ‘n blik klappermelk in die kas, en het dit bygevoeg – ek is spyt ek had nie twee nie, want dan het ek twee gebruik. Liqi-fruit-sap sal net so lekker werk – appelkoos miskien.

Dan kry jy die rosyne en appelkose by, ook die amandels. Proe en gooi geurmiddels by tot dit vir jou lekker genoeg is. (Ek het nog kerrie én nog appelkooskonfyt bygevoeg en Annieka elke keer geroep om te kom oordeel.)

Vir die béchamel-sous het jy nodig:

·         500ml natuurlike jogurt
·         500ml melk
·         blikkie klappermelk (ek het myne in die vleis gegooi, maar dit sal hier ook lekker wees)
·         8 eetlepels botter
·         8 eetlepels meel
·         koppie of meer klapper
·         1 ui in ringe gesny
·         2 of 3 knoffelhuisies
·         lourierblaar of wat
·         grypie borrie

Jy verhit die melk met die ui, knoffel, lourierblaar en borrie in ‘n pot. Moenie haastig wees nie, die geurmiddels moet die melk kan geur want later haal jy dit uit. (Ek moes kortpad vat, ‘n heerlike kortpad – omdat daar nie tyd was nie, het ek my ui en knoffel versap, nie in ‘n blender nie, in ‘n regte egte versapper wat heldere sap aan die kant oplewer en verpulpte groenteweefsel aan die ander. Die sap het ek by die melk gegooi en die pulp in die vleis)

Dan smelt jy die botter in ‘n pan. As die botter gesmelt is, haal jy die pan van die hitte af en roer die meel by sonder om klonte te maak. (Ek is ‘n man – dit het my tien jaar gevat voor ek so ver kon kom om nié klonte te maak nie – hou maar ‘n elektriese whisk of hand-blendertjie byderhand).

Kry jou roux terug op die hitte en gooi die gegeurde melk by. As dit lekker dik is, gooi die jogurt by. En die klapper. Geur met sout en peper. (Ek het appelkooskonfyt ook bygevoeg, maar miskien was dit slegs nodig omdat die uie-en knoffelsap te potent was, ek weet nie.)

Sorg dat jy genoeg pastavelle het vir minstens 3 lae pasta. 4 lae pasta is ook reg.

·         Verdeel jou vleissous in twee (as jy drie lae pasta gebruik), verdeel dit in drie as jy vier lae pasta gebruik.
·         Skep ‘n derde van jou witsous af en gaan steek dit in ‘n ander vertrek weg.
·         Neem nou so vier eetlepels witsous en smeer die bodem van jou bak.
·         Lagie pasta
·         Helfte (of derde) van die vleis
·         gekapte/gesnyde/gekerfte/opgebreekte koljanderblare
·         Helfte (of derde) van die witsous in die kombuis
·         Lagie pasta
·         Helfte (of derde) van die vleis
·         gekapte/gesnyde/gekerfte/opgebreekte koljanderblare
·         Helfte (of derde) van die witsous in die kombuis
·         Lagie pasta
·         (moontlike lagie vleissous, koljanderblare, witsous en pasta)
·         Die witsous wat jy in die ander vertrek gaan wegsteek het, kom nou heel bo.

Ek hou nie van die gedagte aan kaas saam met bobotie nie, maar ‘n dun lagie kaas lyk mooi as dit 40 minute later bruin gebak uit ‘n 180 grade oond kom.

Bedien saam met ‘n slaai (of twee of drie sambals van jou keuse – as jy dit Kaaps en Maleis wil hou).

Hier is die Duitse weergawe. Sonder mates en gewigte. Maar vir my het dit baie gehelp. Al het ek net in standerd 6 Duits as vak gehad (en elke oomblik daarvan gehaat).







Kulinêre sinsbedrog (1)


Snaaks hoe ‘n mens party goed, hoe klein of gering of laf en verspot dit ook al mag wees, nooit vergeet nie.

‘n Driemanskap waarin ek op universiteit was, het die einde, die aller-einde se eindste laaste, met koek en melkskommel by Philippa aan huis gevier.

Dit was die laaste keer dat ons drie, ek en Ian en Philippa, saam as studente gekuier het – ‘n dag of wat later het ons elkeen ‘n eie, ander rigting ingespat.

Die wortelkoek (in liefdevolle en tere herinnering aan die lekker wortelkoek wat ons telkemale saam in ‘n koffiewinkel tydens ‘n Grahamstad-kunstefees geniet het) het die leunende toring op Pisa na die loodregte Brixton-toring laat lyk – so krom en skeef het die ding uit die oond gekom.

Meer nog – die koek was nog nie 100% afgekoel toe Philippie die versiersuiker opgeplak het nie. Nee, kom ons wees nou maar eerlik:  die koek was nog nie 5% afgekoel toe Phlippie die koek versier het nie.

So toe sy met die koek een warm middag vroeg in November 1986 in die sitkamer aankom, toe het die versiersuiker soos stollende lawa teen die ysingwekkende skuinstes van die koek begin afkruip.

Hoe meer ek die koek, nou, 28 jaar later, oproep, hoe duideliker word dit vir my dat dit vandag as die een of ander eietydse aardrykskunde taak oor geologiese landvorme deur sou kon gaan.

Maar die koek is nie die laf en verspotte ding van ons plegtige afskeidsfunksie wat ek nog onthou en seker nooit sal vergeet nie – dis die melkskommels waarmee ons vriendin daar opgedaag het, wat ek nog so helder soos gister onthou.

Dis omdat daar iets soos sinestesie in was. Maar heeltemal sinestesie was dit ook nie. Sinestesie is immers iets wat jy in die lettere en nie op somersmiddag in ‘n glas opspoor nie.

Sinestesie, vir die wat vergeet het, of dit nooit geleer het nie (die sillabus het baie verander)  is ‘n stylfiguur in die letterkunde waarin daar ‘n vermenging van die sintuie plaasvind. ‘n Vermenging in dié sin dat iets wat gewoonlik met een betrokke sintuig waargeneem word, nou aan die hand van ‘n ander sintuig deurdring.

So het Sheila Cussons die geur van peper (iets wat jy ruik) in een van haar gedigte aan die hand van pizzicato (om klanke uit ‘n viool voort te bring deur die snare te pluk in plaas daarvan om dit te bestryk – iets wat gehoor word) beskryf.

Nou daardie middag het die twee van ons wat in die sitkamer bly wag het om te kyk hoe die versiersuiker teen die hange van Vesuvius afkruip, terwyl Phlippie die melkskommel gaan maak het, iets van ‘n sinestetiese ervaring gehad toe sy met die goed daar aankom.

In die kombuis aangekom had Philippa ‘n probleem: tussen die botteltjies in die kas was daar aarbeigeursel, maar geen pienk of rooi voedselkleursel nie; daar was groen voedselkleursel, maar geen kruisement- of lemmetjiegeursel nie.

Die gevolg is dat ons elkeen met ‘n groot glas lime milkshake in die hand staan. Dis nou  as ons na oë luister – en sien is glo, onthou.
Maar toe ons sluk, en ons leen ons ore uit aan ons tong, toe is dit die ene aarbei.

Dit was die vreemdste ervaring, die vreemdste gewaarwording. Philippa het niks vooraf gesê nie, so ons het onverhoeds daarin getrap. Jy verwag een iets, en kry dan iets gans anders.

Jare later, sowat vyf of ses jaar gelede, had ek ‘n soortgelyke kulinêre ervaring wat my ook altyd sal bybly.

Ek kuier aan huis van Judit Tamata, ‘n Portugees-Angolese oudleerling van 1988. Self kook sy lankal nie meer nie. En as sy vir baie onthaal, kook nie een van die drie huisbediendes nie – sy kry die dienste van ‘n spysenier.

Tussen die skottels en skottels vol vleis- en toekosse op die tafel dié aand, is ‘n reuselasagne. Dis asof ek hom na my hoor roep van die oorkant van die reusetafel af. Dit lyk, op die oog af, na die lekkerste dis op die tafel – en daar was vis en hoender en twee ander wit- én nog ‘n verdere drie rooivleise op die tafel.

Daar is dit, op die oog af, toe ‘n eg-Italiaanse lasagne, maar op die tong af, gans iets anders. Dis die suiwerste vorm van sinsbedrog, soos Philippa se melkskommel: jou oog vertel jou een ding, maar jou tong en neus ‘n ander.

Dis wat die ervaring so vreemd maak, daar sal mense wees wat doktorsgrade daaroor doen. As jy in die lasagne in byt en iets heeltemal anders kry, dan weet jy nie dadelik wat jy kry nie. Dis asof jou oë jou so oortuig het dat dit lasagne gaan wees, is, móét wees, dat jou brein nie die ander sintuie wil laat inskop om jou te vertel wat dit is wat jy toe op die ou einde proe en ruik nie.

Soos met Philippa se melkskommel, het dit my ‘n hele ruk geneem om te snap presies wat die heerlike dis is wat ek eet, wat ek ruik en proe. En wat ‘n deurkruisde, byna kosmopolitaanse, ervaring was dit nie: tussen ‘n stuk of dertig swart Angolese vlugtelinge uit die sewentigerjare van die vorige eeu, eet ek toe nié Angolees-Portugese hoender nie, ook nie, soos ek vermoed het, Italiaanse lasagne nie, maar iets wat proe soos Kaaps-Maleise bobotie.

En as ek sê Kaaps-Maleis, dan bedoel ek so Kaaps-Maleis as wat Kaaps-Maleis vandag kan kom. Ek het die spysenier ontmoet toe ek en Annieka so bobotie-lasgane-dis vir Annieka se verjaarsdag bestel het – die vrou was toe nog nie ‘n jaar in Pretoria vanaf Kaapstad nie, en of sy ‘n Kaapse Moslem is, sal ek nie kan sê nie, maar dat haar wortels enige dag in die Bo-Kaap kan lê, is ‘n feit.

Twee keer aan huis van Judit, het ek dit geniet, en een keer hier by ons met die verjaarsdag, maar nie weer nie. Die smaak en die geur en die lekkerte van die ervaring, bly my egter by. Soos (vandag ook al “oorléde”-) Philippa”, se melkskommel van destyds.


1.9.14

Klaars verjaar (2)

ʼn Jaarlikse hoogtepunt, naas Klaradyn se verjaarsdag,  was altyd haar verjaarsdagpartytjie. Dis nou van die eerste een op kleuterskool (waarvoor ek jaarliks ʼn dag verlof geneem het), tot die laaste een op kleuterskool (waarvoor ek steeds ʼn dag verlof geneem het). Naas die klaspartytjies, ook die huispartytjies in die tuin.

Maar ook net tot op ʼn punt, want toe kom die jaar dat hulle skielik nie meer speletjies wil speel en allerhande gestruktureerde aktiwiteite wil doen nie – ons is mos nou in graad O. Nou is dit ongestruktureerde vryspel, en die een moppie speel pop, die ander wegbreekgroep slaan ʼn gans ander rigting in, dít terwyl daar nog twee splinterfaksies op drie verskillende plekke in die huis en tuin gevaar loop om ongekontroleerde kwaad aan te vang.

Dit was ook die einde van huispartytjies met lekker baie maatjies.

Toe is dit telkens een of twee of drie (hoogstens vier) maatjies wat iewersheen gaan – een of ander dieretuin, of soos verlede jaar, die Wieg van die Mensdom en sy nabygeleë grotte.

Ons geniet haar partytjies en uitstappies. Hoeka Robin Williams wat gesê het: “Spring is nature’s way of saying ‘let’s party’”. En Klaradyn verjaar 30 Augustus. In die Moolman-huisgesin vier ons Lentedag, gevolglik nou al vir 10 jaar lank, elke jaar, twee dae voor die res van die land. En as daar ʼn partytjie kan wees, is dit nóg beter.

Om en by 30 dae later, 30 September, op die heel laatste, begin moeder en dogter dan geselsies aanknoop oor die volgende jaar se verjaarsdag. En dan psyche hulle mekaar oor maande heen, heen en weer op. Te aardig!

Einde Julie, 10 maande later, sluit ek eventueel by hulle aan.

Vanjaar, teen daardie tyd, was ʼn aandbesoek aan die dieretuin reeds bespreek, dis nou (oudergewoonte sedert daardie gewraakte kinderpartytjie met die baie vryspel waar al wat Pappa moes doen, was om die worsies te braai) vir sussie en drie of vier maatjies. Niks groot nie. Klein en intiem.

Maar toe reken Sussie sy kry nog ʼn syfertjie by, die een-syfer -9 word mos nou ʼn twee-syfer -10. En dis ʼn mooi afgeronde, ronde getal – dit verdien kwansuis, aldus mej. Moolman, ʼn groter partytjie soos van ouds.

En daar begin die twee vrouens se gesels van vooraf.

Met die dat ek die begin van die jaar al twee boksies met feitekaarte rondom tuiseksperimente van wetenskaplike aard gekoop het, met die dat ons al vir haar ʼn boek met wetenskapeksperimente (seker eerder demonstrasies, as jy vakkundig korrek wil wees) en met die dat ek self nog ʼn eksperimentboek uit my kinderdae het, word dit toe ʼn wetenskaplaboratorium-partytjie.

Ek maak ander voorstelle, Mamma maak ander voorstelle, maar Klaradyn se hart staan met ʼn punt wetenskapeksperimente toe.

En 10 maatjies word 11, word 12, word 13, word 14.

Die laboratorium sal lank nie meer die lapa kan wees nie en word ʼn regte laboratorium, weliswaar nie by die WNNR nie, maar by een van die mees gerekende opvoedkundige instansies in die land – die skool waar Mamma en Pappa werk.




Die enigste met rede tot kommer is Tannie Esme wat jaar een aangebied het om vir die verjaarsdagkoek ma te staan. Hier trek ons al by jaar tien en haar volle oorgawe het nog nie end bereik nie.

Maar watse koek skaf sy aan?

Gedagtig aan die immergewilde vulkaan wat koeksoda, voedselkleursel en asyn oplewer, besluit ons op ʼn vulkaan-koek.

Vulkane kan die tema van die partytjie wees – daar is die koeksoda-vulkaan, die lawa van olie, water, voedselkleursel met bruistablette of sout in ʼn bottel én die een of ander groot woord wat ek raak google. Dis ʼn verbinding van goeterstes op die periodieke tabel wat lieflik ontbrand en 7 keer in volume toeneem terwyl dit  ontbrand – pak jy dit in ʼn hopie en jy steek dit aan die brand, lyk dit kompleet nes ʼn brandende vulkaan.

Té lieflik op youtube.

En R700-00 in die praktyk. Toe ek uiteindelik ʼn verskaffer opspoor wat 500 gram al die pad van Johannesburg voor my deur sal kom aflaai.

Dit was óf dit, óf 2 gram teen R28-00 van ʼn laboratorium wat hom toespits op kinderpartytjies. Nodeloos om te sê dat ons vir laasgenoemde geval het.

Met alles in plek lyk die vulkaniese koek toe glo so lelik soos die nag en Tannie Esme besluit op ʼn vuurpylkoek wat sy by die seuntjieskant van die katalogus opspoor. Die vriendelike banketbakster beloof egter om ons vuurpyl nie in skakerings van die gebruiklike blou te versier nie, maar dit in ʼn dogtertjievriendelike pienk of rooi aan te bied.







Toe swaai ons maar bloot die partytjie in ʼn vuurpyl-wentelbaan in – te heerlik, met die hoogtepunt die bou van elkeen se eie waterbottelvuurpyl wat op die rugbyveld lanseer word.

Jy prakseer ʼn vuurpyl uit twee koeldrankbottels, plak vier stertvinne vas, vul die een bottel met water en kry ʼn groot en sterk man soos Pappa om die bottel met ʼn fietspomp vol lug te pomp, en siedaar – die rocket vuur soos ʼn wafferse spoetnik deur die lug.

Die geneuk is net, daar is 14 maatjies, 14 vuurpyle, genoeg water en opwinding dat elke maatjie agt keer wil sien hoe jaag Pappa sy of haar rocket die lug in. En Pappa ís groot en sterk, maar té groot, eintlik sommer dik, onfiks en én self op die vooraand van 50 (waarvan hy goed 20 omgerook het).

Dankie tog vir Peetpappas soos Oom Erik. Toe ek nie meer ʼn krieseltjie gô in my oor het nie, en die maatjies nog stringe by die kraan staan om hul bottels te hervul, roep ek Klaradyn baie floutjies nader:  “Gaan roep vir Oom Erik en sê hy moet kom kyk hoe lekker skiet ons die vuurpyle af.”

Oom Erik is besig om met oobleck te eksperimenteer. Hierdie mengsel van mielieblom en water wat een van Newton se natuurwette op sy kop keer, reageer asembenemend op klankgolwe.

Maar dan moet dit die regte klankgolwe teen die regte desibels, saam met die regte verhouding mielieblom teenoor water wees.

Ek en Klaradyn het al die hele week lank omtrent drie bokse mazeina opgeoefen, sonder veel sukses. Die bure wil al teen die mure uitklim as ons die klank elke aand teen sonsaktyd tot die maksimum oopdraai en na musiek wat as bass hunter bekend staan, luister.

En hier is dit al die partytjie en ons kry dit steeds nie 100% reg nie – Oom Erik moet oulaas gou probeer terwyl ons vuurpyle afvuur.

Dis nou tot ek hom laat roep om die skoene van peetvader nog voller te staan agter ʼn fietspomp.

Maar dit maak nie saak nie – alles is een groot vet lekkerte.

Chronologies, onthou ek ʼn dag later nog reg, het dit soos volg verloop:

Ons maak hopballtejies deur eetlepelsvol van die een of ander kristal by water uit te bring.





Boraks en iets anders sorg vir ʼn slymerige goo – waarvan die een  kind sʼn op pad terug in Mamma se kar uitloop.








Ons oefen om balletjies met strootjies in die lug te hou.





Ons steek sosatiestokkies deur ballonne sonder dat die ballonne bars. (Glo my, vir elke een wat nie gebars het nie, was daar ʼn stuk of twaalf wat wel gebars het!)





Ons bou ons eie lawalampies – eers met sout, en toe met bruistablette.








Ons skep olifanttandepasta met peroksied, kitsgis, voedselkleursel en skottelgoedseep en ʼn grypie vasbyt en geluk. Ek was letterlik by sewe apteke voor ek 40-volume peroksied, en ook net een botteltjie, kon raakloop. Swakker volumes kry jy oral, en dit werk, by die huis (as en Klaradyn vooraf oefen). Maar daar, voor die maatjies, doen die eerste bottel so te sê niks. Ek wou met die 20-volume begin, oorgaan na 30 en afeindig met die enkel botteltjie 40.

Maar toe die 20-volume nie eers een kind sy oog laat knip nie (nadat dit ons die vorige aand in vervoering had), raak ek desperaat en spring dadelik na die 40-volume. Voila – ʼn reusesukses.






Ons meng elkeen sy eie bakkie oobleck wat soos ʼn vastestof reageer as jy dit slaan, maar soos ʼn vloeistof as jy sagkens daarmee omgaan.

Ons steek die chemiese iets op die periodieke tabel aan die brand.

Ons doen wonderlike dinge met ʼn bord vol melk, druppels voedselkleursel en skottelgoedseep.







Daar is ʼn wetenskaplike verklaring vir alles, maar daarby kom ek nie uit nie. Dis trouens al lankal duidelik dat ons nie by alles wat ons beplan het, gaan uitkom nie. 7 eksperimente (of dan nou demonstrasies) moet oorstaan vir ʼn volgende keer. Ek jok, 10.

3 van die 10, na ek daarvoor gekoop en beplan het, het ons al die Donderdagaand afgeskryf, nog voor ons begin het – dit was te moeilik om aan die gang te kry.

Ek verwys hier na drie karre – die een ry met rekke, die ander met ʼn muisvalletjie en die laaste met lug. Ons sou resies jaag. Dit sal nou maar vakansiepret word. As dit nie Oktobervakansie is nie, dan Desembervakansie.

Ons het nog tyd om te sien hoe dans die oobleck op klankgolwe...

... en om elkeen ʼn skreeuende ballon te maak.

Toe is dit huistoegaantyd – vir die maatjies, én Mamma wat vier maatjies moet gaan aflaai.

Pappa bly agter om ʼn wetenskapklas wat amper lyk soos ses dae voor die skepping (net so woes, trouens woester, maar nie so leeg nie) lyk, op te ruim.

Maar ek gee nie om nie.

Mamma, geseënde vrou wat sy is, het vorentoe gedink en een van die skool se werkers gevra om 14:00 te kom help.

Ons ís weliswaar eers 16:00 klaar opgeruim.

Maar ek gee nie om nie.

Dit was een vet lekkerte.

In ʼn stadium het die kamera se e-skyf vol geraak en het Mamma ophou foto’s neem. Dit met die rekenaar in die klas waarop ons  alles kon aflaai – dit het net só dol  en lekker gegaan dat ons nie een daaraan of so ver gedink het nie.

Maar selfs dit maak nie saak nie.

Dit was een groot vet lekkerte in hoogste versnelling en oortreffende trap wat én Mamma, én Pappa én Klaars nog lank met ons sal saamdra.





31.8.14

Klaars verjaar (1)

Klaradyn het tien geword, gister, en ek wil vertel van haar partytjie.

Maar ʼn mens se kind word tien, en jy staan stil en bewonder die hier en die nou met weggeslane asem.

Dan word jy stil en jy kyk terug, jy kyk tien jaar terug. En dan loop jy eers weer die pad van mylpaal tot mylpaal – tot gister toe sy, sy maar ook óns, ons al drie, tot hiér, hier by tien stil gekom staan het.

En dan word jy nóg stiller, want skielik kyk jy vorentoe, ʼn skrale tien jaar vorentoe, en die mylpale, oorgangsrites, stopstrate, T-aansluitings en moontlike doodloopstrate is skielik soveel meer, soveel groter.

Ek vergeet sommer skoon van die partytjie – teen tienerwees, storm en drang, matriek, sweet sixteen, uitgaan, opbreek en al daardie dinge, word ʼn tienjarige se partytjie ʼn stukkie studentikoosvermakerige trivialiteit.

Dan stap ek maar eerder terug.

Die aand voor Klaradyn se geboorte was al ʼn mylpaal in my en Annieka se huwelik – dit was die eerste nag in ons getroude lewe dat ons nie saam onder die selfde dak, in dieselfde kamer, op dieselfde bed geslaap het nie.

Ek sou dit vir jare so wou hou. Veral na ek ʼn kollega en haar man leer ken het wat al twintig jaar getroud was en nog steeds nie ʼn enkele nag van mekaar geskei, deurgebring het nie.

En toe die ironie – die grootse oomblik in my en Annieka se lewens saam breek aan – ons eerste- (en toe enigste-) –ling se geboorte breek aan – en sy moet vir ʼn induksie gaan. Sy moet die nag voor die tyd hospitaal toe. Ek moet alleen agterbly.

Gelukkig net vir een nag, want ek het vir ons ʼn familiekamer by die hospitaal bespreek.

Ek was gister gereeld weer daar.

Eers toe Tannie Marieta SMS om geluk te wens. Sy het vir Pappa ʼn bier hospitaal toe gebring. En toe nooi ons haar op. Toe maak sy ons touwys met die eerste omruil van ons eie Klaradyn se heel eerste poefdoek. (Dis ʼn poefdoek met ʼn spesiale naam, ek het die naam vergeet, maar dis so swart en vernoem na die dokter/doktor wat dit die eerste keer in wetenskaplike terme beskryf het. Ja, ek was ʼn pa wat baie voorafleeswerk gedoen het.)

In daardie stadium was Klaradyn ʼn paar ure oud, maar vir my toe ook maar eers ʼn paar ure lank “Klaradyn”.

Ek het nie geweet of ons lewens met ʼn Klaradyn of ʼn Klein Hansie verryk gaan word nie. Ek wóú nie weet nie.

As die Here wou gehad het dat ons vooraf weet wat op ʼn mens wag, dan sou ons al van vroegste tye af geweet het. Hierdie gier om te weet het saam met buskruit en die splitsing van die atoom gekom – reguit uit die hand van die satan.

Toe bel Tannie Pat gister om geluk te sê, ons tweede besoekers van destyds, Tannie Pat en Tannie Ina. En ek sien weer met hoeveel liefde en vrymoedigheid Tannie Pat die bondeltjie liefde vas hou. En met dieselfde hoeveelheid liefde en vrymoedigheid waarmee Pat vashou en oplig en speel, met presies dieselfde hoeveelheid versigtigheid, amperse lugtigheid – te bang om seer te maak – staan  Ina nader, naby.

Toe sluit Oom Erik-hulle by ons aan vir die partytjie. En dadelik is ek nóg ʼn verdere nege maande terug, agtertoe, nege maande vroeër nog as die oggend in die hospitaal.

Ons het die Vrydag voor hulle troue van die volgende oggend, gehoor dat Annieka swanger is; in die woorde van die ginekoloog: “Jy is nie net swanger nie, nie eers báie swanger nie  – jy is sommer fókken swanger.” En daar wil ons nie die glorie van hul troue steel nie en moet ons wag tot hulle veilig op hul wittebrood afgesien is, voor ons die wonderlike nuus van die nuwe lewetjie met die res van die familie kan deel.

Toe kom skoonma en skoonpa inloer by die partytjie. En presies soos ek hulle sien staan het, eers toe ek in die hospitaalgang by hulle verby is teater toe vir die geboorte, toe later die aand toe hulle vir die eerste keer kom kuier het, het ek die twee oues sien staan toe hulle gister naderstaan om die verjaarsdagkoek met die tien kersies, tien jaar later. Tien jaar ouer.

En dit bring trane in my oë. Soveel om voor dankbaar te wees, soveel wat as niks anders nie as louter seën en genade beleef en beskryf kan word.

Ek onthou Ouma Nooi se eerste kuier. Ook ons laaste kuier. Hoeka tussen my en Klaradyn se verjaarsdae.

En toe ander oom en tannie, Oom Jac en Tannie Bev, spesiaal opgevlieg het van die Kaap af, om die nuweling te kom ontmoet. Tien jaar later het ʼn lieflike presentepakkie en hope liefde al die pad spesiaal van die Kaap af opgevlieg na die klein meisietjie toe.

En eintlik wil ʼn mens nie ophou om dankbaar te huil as jy eers begin tjank het nie – geen mens kan nié ontroer en tot trane beweeg wees, as tien jaar se opgehoopte stof tot dankbaarheid skielik weer oor jou spoel nie.

Na die hospitaal was dit die rit deur Pretoria se strate huis toe. 30km/uur. Niks meer nie.

Ek en Annieka was van die ou soort – ons het tot op sewe weke gewag voor ons die eerste keer met haar uit is – Dros toe, in Hatfield, onder die bome in die lieflike tuin.

Toe moet Mamma terug werk toe. Vir nege en jaar en nege maande dat Klaarskind soggens by Ouma-hulle afgelaai word – sommer so in haar pajamies, want ons stap soggens 07:00 al by die werk in.

Klaradyn was 2, op pad 3 toe, of was dit 3 op pad 4 toe, toe ons haar smiddaes by Tannie Karina begin optel het – eers twee middae ʼn week, toe meer. Wat ʼn mylpaal was dit nie vir ons gewees nie – ek en Annieka was seker by 20 kleuterskole gewees, nie net in die omgewing nie, maar in ʼn moewiese radius om die huis. En toe ons by Tannie Karina instap, toe weet ons, hier by hierdie vrou sal dit wees. En ons was nog nie een dag spyt nie.

En tussenin dit alles was daar nog die eerste probeer met vastekos, die eerste vastekos (ʼn goeie twee of drie maande later), die eerste kruip (saam met Pat en Ina by ʼn vakansieoord), die eerste treetjies (knap na die meisiekind se eerste verjaarsdag). Die eerste tand. Die eerste wisseltand.

Die ontdekking van die rooi Kersfeesvaderpak in ʼn boks.

Noodgedwonge die eerste jaar daarna toe Pappa nie meer nodig had om Kersvader se helpertjie te wees nie, maar Klaradyn nou vir hom kan instaan.

Die ontdekking van twee briefies die laaste 12 maande wat Klaradyn kleintyd vir die tandemuis geskryf het. (Grootword is nie maklik nie!)

Ek wil nie daaraan herinner word nie, maar ek onthou ook die mangeloperasie. Hoe oud was sy? Drie? Vier of vyf? Ek kan nie eers saam gaan tot waar hulle my kind narkose gee nie! Ek moet haar en haar brose gemoed vingeralleen los toe hulle haar wegstoot. Ék wat by was met haar geboorte en saam met haar ma by die hospitaal ingeboek was!

Ek onthou gelukkig ook die klein operasietjie saam met Dokter George. Hý het my saam met haar laat gaan, die narkotiseur het my selfs die maskertjie laat vashou. Dis mos hoe dit hoort met ʼn pappa se enigste dogtertjie!

Graad R. Graad 1. Graad 2. Graad 3. Die eerste eksamen, graad 4.

Die eerste seuntjie wat vir haar blomme gegee het, omdat hy wou.

Die eerste soveel baie ander.

En dan onthou ek my kind self. Klaradyn self. Nie die ander en die mylpale nie, Klaradyn en die liefde en geluk, die lekker en wonderlike voorreg wat iets soos kommer kan wees.

Wat ek onthou is te veel. En wat ek onthou, is nie wat saak maak nie, dis wat ek nié onthou nie wat saak maak:  Ek, en ek weet ek onthou en praat saam met Annieka, onthou nie een enkele teleurstelling nie. Een of twee skrikke, ja – maar nie ʼn enkele teleurstelling nie.

Dit was Hedwig wat ons destyds daarvan bewus gemaak het dat die dag op ons wag dat ons gaan agterkom ons kind is nie lelieblank nie, nie ʼn engelkind sonder foute is nie, en dat ons ook dit in die gesig sal moet staar, tromp-op, vierkantig.

Hoogstens enkele spatseltjies slightly off-white, far and in between. Ja. Miskien. Maar nie ʼn enkele teleurstelling nie. Nie in 10 jaar nie.

Mamma en Pappa is voorwaar geseën.

Ek wens ons kind, ek wens ons twee ouers self, ek wens ons al drie, Pappa-Mamma-en-Klaars, Pappa en Mamma en Klaars, nie ‘n soortgelyke 10 jaar toe nie, maar diesélfde 10 jaar as die pas afgelope 10 jaar.

Ons sê ook nie net geluk nie. Voor ons geluk sê, se ons dankie. En dankie en dankie en nogmaals dankie. Dankie.


25.8.14

Komkommertoebroodjies, ons manier

Met komkommertoebroodjies het ek die eerste keer te doen gekry op universiteit, 1984. Ons het ʼn vertaling van Oscar Wilde se drama, The Importance of being Ernest, op die planke gebring. In een van die tonele bedien Merriman (ek verbeel my dit was die karakter se naam) komkommertoebroodjies en tee.

Ag, siestog, en daar is die stomme mens wat Merriman speel (hoeka ook nie ʼn Merri-man nie, maar ʼn Merri-woman) alergies vir komkommers. Maar dit kom ons eers openingsaand agter toe die verhoogbestuurder en rekwisietemeester ons vir die eerste keer met haar tuisgemaakte komkommertoebroodjies bederf.

Onse Merriman gaan aan het nies, dis ʼn aardigheid. En toe sy eers die onbeheerbare niesings het, toe gaan sy ewe onbeheersd aan die giggel.

En dan is so ʼn giggel mos iets wat aansteeklik inwerk op al wat mens op dieselfde verhoog is.

Egter ook nie net die giggels wat in daardie produksie aansteeklik was nie – die grillings het by tye net so sterk die ronde gedoen. Veral hier teen die laaste aand van die speelvak.

Behalwe vir die komkommertoebroodjies en tee in een van die vroeë bedrywe, is daar nog koek en tee teen die einde ook. En na ons openingsaand in bedryf 1 so heerlik op komkommertoebroodjies trakteer is, kon ons nie wag om te sien, en te proe, waarmee die rekwisiete-vrou (dierbare Philippa en ook al in haar graf) in bedryf vier vorendag gaan kom nie.

O, en was dit nie aanskoulik nie – Philippa is al die pad Turkstra-bakkery toe (ja, hierdie speel alles op Potjiesdorp af) en het terug gekom met ʼn driedubbele sjokoladeroomkoek. Die ding moes ʼn fortuin gekos het. Dit móés, want ons mog nie ding opgeëet het nie.

Lady Bracknell was die enigste wat elke aand een happie kon neem – die res van ons moes sorg dat ons skyfies koek in die volgende dekorwisseling ongedeerd agtertoe gaan.

More-aand kry jy weer die vorige aand se skyfies koek.

Maar hier teen die einde van die speelvak was die room nie net al suur nie, die miere het die koek al dae gelede in die rekwisietekamertjie ontdek en hul intrek geneem.

So nou moes jy keer dat die ellendige miere vurklangs teen jou arms opklim.

Geld vir ʼn tweede koek was daar nie.

Skynbaar ook nie vir ʼn tweede bottel melk nie. Die melk wat uit die silwer melkbekertjie geskink is, het hier na die einde se kant toe in sulke kaserige dik hompe en bobbels in die porselein teekoppietjie geval.

Die plesier waarna ons aand een so uitgesien het, toe lankal nie meer ʼn plesier nie.

Selfs die komkommertoebroodjies het nie meer komkommer gehad nie, maar flou verlepte stukkies groen blaarslaai. Vir ʼn tweede nies- en giggelbui het die regisseur nie kans gesien nie en hy het sommer vroeg met die komkommer weggedoen.

Nie dat ons nie weer gegiggel het nie. Ek onthou byvoorbeeld toe die verhooglig se blou jelly (die raampie gekleurde sellofaan wat voor die ligte ingeskuif word om ʼn sekere ligeffek te verkry) een aand op my, Jack Worthing, se kop geval het.

Jack en Ernest was so van stryk gebring dat hulle letterlik in ʼn groef verval het – ons het ʼn groot gedeelte van die teks, trouens die grootste deel van een toneel, daardie aand drie keer na mekaar in ʼn sinnelose sirkel aan die gehoor voorgehou.

Verlede week se komkommertoebroodjies het hierdie stukkies onthou aan die vergetelheid ontruk. Want na 1984 se nieserige kennismaking, was verlede week die eerste keer dat komkommertoebroodjies weer my pad gekruis het.

Annieka is lief daarvoor om te sê dat ons graag 17 kinder sou wou hê, maar toe net 1 gekry het, 1 wat meisiekindalleen 17 kinders sterk is en 16 ander se skoene ook vol staan.

So kom sy die Donderdag by die huis en laat val dat Juffrou haar en twee maatjies gevra het vir ʼn item op die skool se jaarlikse English-evening.

Ons lees al van graad 0 af van hierdie English-evening in die skool se dagboek, maar wat dit is, weet ons nie – die aand is beperk vir leerders van graad 4 tot graad 7.

En Sussie is vanjaar eers in graad 4.

Dat die kind nou groot word, is duidelik – veral nadat sy vroeër by die huis gekom het met ʼn briefie wat lui:  “Sal jy saam met my English evening toe gaan?” En dit van ʼn knapie!

Juffrou se versoek is vir my aansienlik meer aanneemliker en ek stem dadelik in. Iets in Klaradyn se algehele gebrek aan dringendheid waarsku ons egter om te kyk waar vanjaar se English Evening in die dagboek aangeteken is.

Ook maar goed so want dis die eerskomende Woensdag. As hulle iets wil doen, moet dit more skool toe – die Juffrou moet goedkeur en hulle moet dit die naweek leer. Maandag kan ons werk aan bewegings, Dinsdag oefen en Woensdag die optrede.

Waar kry jy in een middag ʼn gepaste gedig vir graad 4 dogters om saam as ʼn item op ʼn English Evening te doen?

Ek gryp my eerste Engelse digbundel wat ek gekry het toe ek 7 was, maar al die gedigte is te lank. Ek gryp Klaradyn se eerste digbundel van 40 jaar later, maar almal is te kort.

Toe google ek maar, en oomblikke later hét ek ʼn werkbare gedig, te kostelik:

The Quarrel - by Maxine Kumin

Said a lightning bug to a firefly,
"Look at the lightning bugs fly by!"

"Silly dunce!" said the fly. "What bug ever flew?
Those are fireflies. And so are you."

"Bug!" cried the bug. "Fly!" cried the fly.
"Wait!" said a glow worm happening by.

"I'm a worm," squirmed the worm. "I glimmer all night.
You are worms, both of you. I know that I'm right."

"Fly!" cried the fly. "Worm!" cried the worm.
"Bug!" cried the bug. "I'm standing firm!"

Back and forth through the dark each shouted his word
Till their quarrel awakened the early bird.

"You three noisy things, you are all related,"
She said to the worm, and promptly ate it.

With a snap of her bill she finished the fly,
And the lightning bug was the last to die.

All glowers and glimmerers, there's a MORAL:
Shine if you must, but do not quarrel.

Ek verdeel dit in drie stemme en werk hier en daar ‘n stukkie koorspraak in.

Vrydag by die huis gekom, hoor ons Juffrou het klaar haar goedkeuring gegee, maar meer nog – en vandag se kinders moet nie onderskat word nie – Klaradyn ken reeds die gedig, nie net haar woorde nie, die hele gedig – hulle het dit in die twee pouses gou geleer.

Maandag-middag wil ek bewegings insit, maar dis te laat – hulle het sommer gou pouse bewegings uitgewerk. Wie is ek nou om te wil inmeng.

Dinsdag tweedepouse is dit kleedrepetisie.

En na skool moet ek hoor ek moet kos vir 10 mense maak. Hulle drie het glo ‘n tafel en tussen die drie an hulle is ons 10 gaste. Die een dek die tafel, die ander sorg vir drinkgoed en ons voed hulle. “But it has to be cucumber sandwiches.”

Die dat ek toe maar gaan oplees oor die goed. En die eerste wat ek raaklees is dat dit saam met agtermiddag se tee bedien is omdat dit geensins vullend is nie. Jy kon komkommertoebroodjies eet dat dit ʼn aardigheid is, en steeds teen vanaand se kant ʼn eetlus hê.

En dit moet botter wees, nie margarien nie. En die komkommerskyfies moet 20 minute in ʼn vergiettes asemhaal en sweet maar nie dehidreer nie. En dit mag nie ure voor die tyd gemaak word nie – dit raak soggy. En dit moet liefs dadelik voorgesit word. En... En... En!

En toe my twee komkommers op is, het ek nog twee brode oor. En ek bel Annieka om  nog twee komkommers te bring. Maar ek bly nie by die tradisionele nie, ek bestel ook roomkaas en jogurt en doen iets wat die een meesterkok ophemel, maar ʼn ander vervreem – ek maak nie komkommertoebroodjies nie, maar smeerkaas-en-jogurtbroodjies met komkommer. Maar ek het vrede – ons moet iets substansieel hê om voor te sit. Die 10 het intussen 12 geword.

Dankie tog ons het uit die staanspoor gesê dat Mamma sommer kolwyntjies gaan koop – anders het ons nog kolwyntjies ook moes bak.

Pappa, Mamma en Klaars loop al drie twee keer motor toe met eetgoed vir 12 mense.

En toe ons in die kar sit, Mamma en Klaars met skinkborde en bakke op hul skote, by hul voete en gebalanseer op hul koppe, hoor ek:  “Die ander mense bring ook elk die een of ander soet en sout.”

Wat hulle toe ook doen – hoenderboudjies en koue vleisies en kasies en hope komkommerbroodjies. Die tafel kreun, daar is nie pakplek nie. Annieka bring nie eers die kolwyntjies te voorskyn nie – daar is genoeg vir ʼn weermag. En die 10 wat 12 geword het, word 14.

Maar dit was ʼn heerlike aand. Die broodjies was inderdaad effe soggy teen die einde van die program. Maar nie die ergste nie.  (Dalk was die meel net bitter omdat die muis so vol was, ek weet nie.)

Toe ons uitstap sit elke vrou met ʼn bord broodjies op die skoot. Ek laai dit by die vulstasie af en sê vir die joggies om te eet. Daar word heerlik laataandfees gevier.

Ons elkeen kom met ʼn lied in die hart by die huis aan. Klaradyn kwetter soos 17, ek het wonderlike heimwee terug universiteit toe. En Mamma wonder watter gedig volgende jaar aangepak kan word.