Pages

20.7.14

Vakansiepraatjies

As daar nou een ding is waaroor hierdie Boetman nog nooit die bliksem in was nie, dan is dit die balsak waarmee die SAW & Seuns hom in 1987 uitgereik het. Teen die tyd dat my min dae al minder en minder begin word het, as het ware uitgeloop het en ek einde 1988 uitklaar, het ek al so baie goed om aan te vlieg states toe, dat ek skoon ʼn tweede een pasella kry.

bron

Dis hoeveel jaar later, en ek het steeds die twee kit bags, of dan troepesakke. 

Nie net hét ek dit nog steeds nie – ek gebrúik dit steeds. Ek het netnou in die donker oor die een getrap toe ek opgestaan het om te kom tik aan die gedagtes wat in my kop maal.

Ek en Annieka het al reistasse en –sakke en allerhande fancy dinge gehad. Die helfte daarvan is weggegooi, die ander helfte is stukkend in die motorhuis. 

Ek voorsien nie dat ek ooit in ʼn vyfster hotel sal inboek vir vakansieverblyf nie, maar sou dit wel gebeur, voorsien ek dat ek met my balsak oor die skouer in die foyer sal aanmeld.

Ek stop myne soos ʼn wors, en Annieka, wat áltyd te veel klere inpak, het geleer om haar wors selfs nog stywer te stop.

So kon ek die twee al selfs in Botswana of Zambië langs mekaar lê-maak om op hulle te kan slaap.

Dis miskien ook die enigste nadeel – ons gaan nou elke keer met te veel klere op vakansie. Disomdat ons al die ander sakke opweeg, elkeen te lig bevind, en op die ou einde op ons ou vertroude balsakke besluit. 

Ek dink baie keer dat dit darem soveel makliker sal wees om, in plaas van die twee sakke, net een sak te neem, én dan een boksie Koue Water Omo daarby, maar verniet of ek Annieka kan oortuig om in te koop.

Die voordeel van die stywe wors is dat jou klere nie kreukel nie. Soos ek dag veertien se pakkie twee weke gelede heel onder ingepak het, so haal ek dag veertien se pakkie twee weke later heel onder uit. Uit die tas, aan die bas.

Partykeer, hang net af hoeveel keer ons kamp opslaan en verskuif, konsolideer ek en Annieka ons vuil wasgoed in die een, en skoon klere in die ander – dan leef ons uit net die een. Kom ons by die huis, dan bly die een in die waskamer agter, die ander gaan verder kamer toe.

Dis hoeka waar die een vandaan kom waaroor ek van effe gestruikel het toe ek opgestaan het. Teen daardie tyd het Sussa, die spanjoel, al die warmte van haar slaapplek verruil vir die sagtheid van die balsak, en is dit eintlik oor haar én die balsak dat ek gestrompel het.

Nou as jy dink ék pak te veel klere in, het jy nog nie vir Annieka gesien nie – ons kan in die middel van nêrens en êrens karprobleme optel, vir twee weke gestrand op parte moet wag, en sy sal steeds ʼn skoon pakkie vir elke dag hê, ongeag die weer. Want dis mos ekstra somersgoedjies, ekstra goedjies vir as daar ʼn byt in die lug is, en ekstra goed vir ingeval dit in die middel van die somer in die Nasionale Kruger Wildtuin begin sneeu.

En nés jy dink dís nou erg wat sy vir haarself inpak, dan het jy nog nie gesien wat sy vir Klaradyn inpak nie – vir tien jaar nou al. 

Klaradyn was nog in die doeke, dan lyk haar bagasie net soveel soos ons sʼn. 

Noudat die kind 10 se kant toe staan, is dit nog erger.

Ek sal myself jare se sukkel spaar as ek army surplus store toe ry en kyk of ek nie dan maar ʼn derde balsak vir die gesin kan aanskaf nie. 

Vir Klaradyn word elke vakansie voorsiening gemaak vir drie seisoene in een dag, met die moontlikheid dat sy in elke seisoen roomys op haar sal mors – dit kom neer op twee pakkies vir elkeen van die drie seisoene per dag.

ʼn Derde balsak is ons voorland.

***

Ons kan darem nie van ʼn heerlike vakansie in die wildtuin kom, en al waaroor ek praat, is ou bruin balsakke nie.

Dit was hemel op aarde. Nie net die wildtuin nie, maar ons drie, saam, van die oggend tot die aand, net ons drie. Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd in die oortreffende trap.

Klaradyn, onthou ek reg, is in die wildtuin van die bottel gespeen – ons het hom vir die apies gegee. Darem nie letterlik nie, die bottel wag in een van die kaste om ontdek te word. Soos ʼn jaar of wat gelede met die rooi Kersvaderpak gebeur het.

Maar omdat die kind haar melktande, by wyse van spreke, in die wildtuin gesny het, is sy natuurlik net ʼn plesier en koop sy een honderd persent in op ʼn outentieke wildtuinervaring: vroeg na bed, maar net so vroeg om weer op te staan.

Ons hou nie van krag in die wildtuin nie, dis kerskrag en paraffien. Elke aand, nes ons hier teen 19:00 klaar geëet het, dan vou sy haar bene oorkruis en trek los met:  “Kom ons gaan slaap nou julle.” Elke aand. En elke aand wys ons haar op die opruimwerk, skottelgoed en alles in gereedheid kry vir more se koffie-en-beskuit iewers langs die pad waar dit mooi genoeg is om 'n koffie-breek te neem. Elke aand maak sy dan of sy ons nie gehoor het nie, sy kom rank dan bloot oor een van ons twee en herhaal:  “Kom nou julle, kom ons gaan slaap.”

Sy is dalk moeg, maar haar verstand skakel lank nie af nie.

So vra sy een aand, klokhelder, in haar slaap:  “Is dit ʼn basterhartbees, Mamma.”

Annieka antwoord, dik deur die slaap, instemmend.

Maar my gewete pla my, of die kind nou slaap of nie, ons kan nie sommer so goedsmoeds, soos met Kersvader, die tandemuis en wat van haar bottel geword het, vir haar lieg nie, toe voeg ek maar by, “of dalk eerder ʼn tsessebe, skat.”

Ek lees op die oomblik Chris Barnard se Boela van die Blouwater vir haar.

Dit het alles begin toe hulle my een middag hardop onder die bome hoor snik het oor twee hartroerende stories in die man se mees onlangse bundel kortverhale.

Die aand stuur ons haar solank bed toe, maar ek en Annieka bly sit, ek skink nog ʼn dop en begin vir haar by lamplig voorlees aan die stories wat my die middag so aan die hart gegryp het. Daar gaan Annieka ook aan die tjanke. En toe ons ingaan, laat val die merrieperd vanuit die slaapsak waar net haar gesig uisteek:  “Dit was nou twee mooi maar hartseer stories.”

My gehoor was toe groter as wat ek vermoed het. En van toe wil niemand gaan slaap voor Pappa nie storie gelees het nie. Gevolg is toe dat ek elke oggend, terwyl ek wag vir die dag om te breek, twee of drie stories by die lig van 'n toorts lees, net sodat ek een of twee kan kies vir vanaand se slaaptyd. Chris Barnard se teikenmark is immers nie tienjariges nie en nie alles daarom vir ʼn tienjarige toeganklik nie.

Op pad terug, loop ek deur ʼn tweedehandse boekwinkel op Haenetsburg, en hier spring Chris Barnard se Boela van die blouwater, voor my in. ʼn Storie sonder selfone, i-pads en selfs elektrisiteit, ‘n storie wat afspeel op ʼn vissersdorpie, geskryf in 1962. Maar ʼn tydlose storie, met tydlose temas vir die jeug.

Klaradyn koop in op Boela en Oukoos, Patrys en Vlooi, Boeliepens, Janneman en Sollie, presies soos sy inkoop op tsessebes, gompoue, bergarende en bosbokke.

As dit nie vir ander dinge was nie, sou ons dit in een sitting kon kafdraf, maar dis toe nie moontlik nie. Met moeite en selfbeheersing dat ek daarin slaag om die laaste twee hoofstukke, vir die laaste oggend van die vakansie te spaar.

Dit was lekker om weg te wees.

Dis net so lekker om terug te wees.

Naskrif:

Die verwysing na Chris Louw se Boetman wat die bliksem is (ook al 14 jaar gelede) het my die brief laat soek. Dis op meer as een plek op die internet beskikbaar. Ek het dit opgespoor, waar dit oorspronklik publiseer is, in Die Burger, 8 Mei 2000.

Dit bly die moeite werd om te lees. Ek hoop nie dis ʼn eerste keer nie.







1.7.14

Wat 'n voorreg

Patroon en Patat het sommer gou-gou Boeta en Sussa geword.

Boeta het met verloop van tyd ook Boets geword. Maar met ʼn lang en liefdevolle –oe, soos in die Engelse “boots”.

En Pa-se-seun, of Pa-se-groot-seun. (En dan het ek my stem so diep, bas en laag as moontlik gemaak – dié liefdesnaampie is immers net in oomblikke van onbevange male bonding gebruik.)

Ook Ouman, Ou-man en Ou man.

Nie dat hy ooit soos ʼn ou man begin lyk het nie. Sussa het vroeg tekens van ouderdom begin toon – fyn grys strepies al om die bek. En op die voete om die tone langs.

Tog was Boeta al Ouman, lank voor ek Sussa smiddae met ʼn hoezit Ou Girl begin groet het. Want sien,  hy het hom op relatiewe jong leeftyd al soos ʼn befoeterde ou man begin gedra – een wat altyd van beter geweet het, sy eie kop gevolg het, sy eie rigting ingeslaan het. Obsternaat. Dik, dom en difficult.

Vir lank het hy soggens voor ons uitgehardloop motorhuis toe. En dan het hy daar gaan sit. Tussen die twee karre. Vasgeslaan soos ʼn vasgesteekte donkie. Dat ons oor hom klim om verby te kom. Hy weet ons kan mos nie ry met hom in die motorhuis nie – hulle bly agter in die agterste deel van die erf, ons ry voor uit.

Boeta het sulke oggende sommer vinnig-vinnig net HÓNT geword. O, en dan het hy probeer om jou met sulke puppy eyes te laat swymel.  Verbeel jou – ʼn groot volgroeide brak wat jou met die hemelwaarts slaan van sy oë wil vermurwe.

Én dit reg sou kon gekry het, ás dit nie was dat ʼn skoolklok nie op hom laat wag het nie.

Toe ek en Annieka destyds uitgery het om na die patryshondbabas waarvan iemand ons vertel het, te gaan kyk, het ons op ʼn spesiale bendetaal besluit. Praat ek voor die verkopers met haar en ek spreek haar aan as “Ankie”, is ek positief oor die honde; noem ek haar “Annieka”, moet sy weet dis ʼn nee-nee. Dieselfde van haar kant af met die gebruik van onderskeidelik “Hans” of “Hansie”.

En daar neem die ganse werpsel en hul ouers die wind so uit ons seile, dat ons skoon van allerhande bende- en kodenaampies vergeet. Ons sou met vier honde daar uitgestap het, sou ons net kon.

Ek het daardie middag huis toe bestuur soos ʼn pa wat sy eersgeborene van die kraaminrigting huis toe neem.

Presies soos ek minder as ʼn jaar later bestuur het, toe ons met Klaradyn uit die Moedersbond of Mary Font (of wat ook al dit was) se parkade wegry.

Ek is vroeër die oggend eers huis toe met ʼn poefdoek, ʼn baby-grow, babapoeier en nog wat – vir Boeta en Sussa om aan te ruik, en gewoond te raak, vóór die nuwe baba huis toe kom. Baba-Klaradyn het dan ook ʼn deegliker bekendstelling aan die honde by die huis gehad, as aan enige van die vriende en familie wat ons in die hospitaal kom besoek het.

O, en die honde het op die pienkvoet ingekoop. Boeta meer as Sussa. Miskien was dit omdat Annieka en Boeta voor Klaradyn se geboorte so lekker op Steve Hoffmeyer se “Papmpoen”-liedjie gedans het. Ek sien Annieka weer voor my – hoogswanger en met ʼn lieflike boepie , aan die dans met Boeta.

Boeta en Annieka was saam op kraamverlof. Waar Mamma en baba gaan, daar was Boeta saam.

Later, met Annieka terug in die tuig, ook. Dis waar Boeta maar altyd was – by Klaradyn. Swaai Klaradyn, dan gaan lê hy onder die swaai. Slaap sy, dan gaan lê hy by haar. Kom eet sy, dan is hy by haar voete.

In ons kamer is, lewensgroot opgeblaas op doek, ʼn foto van Klaradyn en Boeta saam op die bed toe Klaradyn ʼn kleuter was. Annieka het dit die een jaar vir my gemaak vir Vadersdag. En die volgende jaar, toe vergroot ons die ander foto, die een wat enkele sekondes ná die ander een geneem is, óók. En ons hang die twee langs mekaar. Nie agter ons, waar ons hulle nie kan sien nie, ons hang dit waar ons dit, die laaste ding in die aand, die eerste ding in die oggend, kan sien.

Annieka weet ook, gaan ons twee die dag ouetehuis toe, kan die Dykmans en Claerhouts en Buchells en ander skilderye en dinge maar bly – ék trek met Klaradyn en Boeta se twee Vadersdag-fotovergrotings. Die res kan maar gaan.

Ek en Boeta het ʼn onsigbare Eybersiaanse naelstring wat nooit breek nie, gekry, dié oujaarsnag toe ek enkele minute voor twaalf met hom deurgejaag het noodveearts toe. Hy was sterwend, bulkend soos ʼn bees. Maar die mediese wetenskap ʼn bedrewe noodveearts en meer as ʼn maand se salaris het sy lewe gered. 

Danksy ʼn slim chirurgiese prosedure is hy toe ook ʼn lang en gelukkige lewe gewaarborg.

Hy was natuurlik aanvanklik  ʼn bang hond. Dis hý wat ágteruit in die gang kon afhardloop, tot in die hoofslaapkamer. Dan spring hy (dit sal my nie verbaas hy dít óók in reverse gear gedoen het nie) by ons op die bed, en blaf aggressief vir die tuindienstemense wat by die voorhek inkom.

En omdat hy bangerig was, was hy ook gouer op die aanval en verdedig. Maar onder “aanval en verdedig” bedoel ek bloot net “grommend” – niks meer nie.

Met die jare het hy dit egter ontgroei. Grotendeels.

Behalwe sy vrees vir die vrou wat hulle kom was en dip het.

Ek het kleintyd al gedink hy kan gedagtes lees. Ek sou opstaan om koffie te gaan maak, dan sal Boeta op die bank bly lê. Ek sal opstaan om badkamer toe te gaan, dan sal Boeta op die bank bly lê. Maar laat ek nou net opstaan om die honde-haarborsel te gaan haal, om hom uit te borsel, dan is hy ʼn breukdeel van ʼn sekonde vóór my al op en onder die bank in, of weg. Ek het nog nie eers die borsel in my hand nie, ek dínk nog net aan uitborsel, dan weet Boeta dit al!

As daardie bakkie en sleepwa van die hondewas-vrou stop, dan is Boeta weg en iewers in die tuin in. Ek jok- as die vrou se SMS deurkom om te laat weet sy kom die volgende dag, dan is Boeta op en uit en weg – nog vóór ek die boodskap gelees het. Ek het later trouens al geweet – kom daar ʼn SMS deur en Boeta maak hom uit die voete, dan is dit Michelle wat wil weet of sy kan kom was-en-dip.

Kruis jy jou bene op ʼn bank of ʼn stoel, dan kom skuif Boeta voor jou in, plaas hy sy kop op jou voet en moet jy die onderkant van sy gevreet met die bokant van jou voet streel en speel. Stop jy, dan laat rus hy bloot sy kop op jou voet, en sou hy net kon, dan sal hy so aan die slaap geraak het ook.

Boeta en Sussa het twee uiteenlopende geaardhede. In al hierdie jare had ons nog nooit nodig om Boeta kaal te skeer nie. Met Sussa is dit anders, sy moet liefs drie keer ʼn jaar gestroop word. Van in die modder en reën speel. Nie Boeta nie. Hy is die stil, besadigde een wat nooit sy hare koek nie – die ore uitgesluit natuurlik. Maar dis ook bykans ál wat ons skeer, die ore en hier en daar ʼn koek, onder die maag of om die bene.

Ons is babatyd met hulle "hondeskool" toe. Nie hondeskool-hondeskool nie, maar oom-veearts se puppy school. Sussa was die modelleerling. En Boeta. Hy is nie oor 'n enkele hindernis nie, maar onder de leste een deur, reguit na die "doekesak" met treats, om daar te gaan sit en slaap.

Boeta is ook die een vir roetine. As hy soggens mooi stil gesit het om sy beskuitjie te kry, dan gaan maak hy homself lê voor sy kosbak, en dan eet hy ontbyt. En jy moet hom nie pla nie – hy éét. vanaand is dit weer so.

Ons honde kon van die tafel af, en met oorskiet, met niks anders nie as vleis bederf word nie. Boeta se maag het aanvanklik keer op keer opgeblaas as hy stysel en ander koolhidrate inkry. En as die maag opblaas, dan druk dit teen die ingewande. Die ander ingewande draai dan die maag, en met verloop van tyd knoop die dermkanaal waar die by die maag in en uit beweeg. Dan blaas hy op soos ʼn bees wat te veel lusern gevreet het.

Die veearts moes twee keer deur die buikwand ʼn snit in die maag maak, dat die gasse kan ontsnap en die stomme dier afblaas. Doen jy dit nie, sterf hulle.

Die derde keer, die Oujaarsnag, die aand toe ek Boeta die eerste keer Pa-se-seun genoem het, het die dokter bloot sy maag aan sy buikwand vasgewerk. Boeta het nog opgeblaas, maar soos hy opgeblaas het, het hy dan dadelik weer afgeblaas, sy ingewande kon nie meer knoop of soos ʼn ballon opgerol word om te keer dat die lug en gasse ontsnap nie.

Gevolglik was Boeta ʼn vreeslike poeper, ʼn onbeheersde poeper. En elke keer as hy so wind afblaas, dan is ons heimlik bly, want dan weet ons hy sou nou opgeblaas het, en ons sou met hom veearts toe moes jaag, ás dit nie vir Doktor Peck se slim operasie was nie.

Dis wat ons gister aanvanklik gedink het toe hy nie sy goeie selwers was nie – hy moes iewers iets verkeerds geëet het.

Maar na ons ʼn uur of wat terug was van die veaarts, en die fout eerder by water om die hart of op die longe gevind het, was dit duidelik, Boeta is sommer goed siek. En die gewone opblaasmaag is dit beslis nie. Allermins.

Ek kon sy roggelende asemhaling, gisteraand, met net een uur in my lewe verbind – die uur waarin my ma, in my arms, in haar eie liggaamsvog en -water verdrink het.

Ek en Annieka, en Klaradyn het geweet ons neem van Boeta afskeid. Daar in die kombuis waar ons ʼn spul van ons die lekkerste tye saam gehad het.

Ek het hom in ʼn stadium ingedra van buite. Ons het saam met hom op die vloer gesit waar ons saam op die vloer gesit het toe Klaradyn nog nie eers kon loop nie.

Ek het gewag vir die laaste roggel. Soos met Judy. Maar dit het nie gekom nie. Wou nie kom nie, kón nie kom nie. Nié met ons teenwoordig nie. Boeta is te veel van ʼn gentleman gewees om ʼn spektakel van sy heengaan te maak.

Ons al drie het ons uitgehuil, saam met hom in die kombuis. Of altans, só het ek gedink.

Na ek hom vanoggend op die plekkie wat hy vir homself gaan uitsoek het, gekry het, het ek Annieka egter beide besef dat ons in 11 jaar baie meer kosbare oomblikke en herinneringe opgebou het om oor te huil, as wat ons gisteraand ooit kon vermoed het.

Dit was ʼn voorreg om vir 11 jaar ʼn huis met Boeta te kon deel.

ʼn Huis, ʼn erf, ʼn lapa, ʼn stoep. Én ʼn swembad.

Ja, dis inderdaad wanneer ek hom seker die meeste sal mis. Boeta, my swem-en speelmaat wanneer ek en Klaradyn en Sussa en Snuffels Oktober gaan begin swem.

ʼn Voorreg, ja. ʼn Voorreg.



Ai, die honde darem

Ek het die volgende ʼn rapsie meer as ʼn maand gelede geskryf:

En dan is daar nou Jasper ook.

Die naam, Jasper, is gekies uit ʼn kortlys van seker sowat 30 seunsname wat Klaradyn maande gelede in een van haar notaboekies neergepen het.

Ook nie seunsname nie, eerder reunsname. Sy het gedink aan name vir mannetjieshonde.

Maar ek sit my voet neer. Elke keer. Lag-lag vyf jaar lank nou al.

“Ons het klaar drie honde op die erf!”

“Die jongste een gaan jaloers raak as Klaradyn ʼn skoothond in die kamer by haar het, terwyl hulle ander in die kombuis moet slaap.”

“Klaradyn hét haar eie hond.”

Klaradyn het inderdaad haar eie hond. Snuffels. Die jongste, die jaloerse, een. Die een waarmee ek en Annieka sewe jaar gelede die fout mee gemaak het . Om vir ʼn driejarige haar eie hond te koop.

Klaradyn was hopeloos te jonk. 

En die hond het binne die eerste maand uitgedraai om ʼn monster te wees. 

Sewe jaar later is sy niks minder van ʼn monster as destyds nie.

Toe kry ons drie jaar later vir Klaars ʼn kat.

Groter fout as hond.

Klaradyn het ʼn allergiese reaksie op die kat. Ses maande in graad R in, stel die juffrou dit duidelik:  “Klaradyn is nie die helfte van wat sy maand 1 was nie, sy is trouens nie eers ʼn skaduwee van wat sy was toe sy die begin van die jaar haar skoolloopbaan afgeskop het nie.”

Ons was teen daardie tyd elke vier weke by Dr. Smit met die kind. En ons het geweet (maar wou nie weet nie) dis die kat. Die kat moet gaan.

En Sokkies (drie witte pootjies aan ʼn swarte lyfie) was nie drie dae by die nuwe mense nie, toe gaan sy in kraam.

Vandag weet ek dat ek en sy reageer op ʼn ensiem in die kat se speeksel. Die ensiem bly agter as die katte hulself poets. 

Selfs die haarlose katte het daardie ensiem.

Maar die Siberiese kat nie.

Siberiese katte, lieflike goed, het destyds vir R5 000-00 gegaan. En dan moet hulle nog van die Kaap afvlieg Johannesburg toe. Dit was in graad R. Ons is nou in graad 4. 

Ek wil nie weet hoeveel kos hulle nou nie.

Ek het groot geword met Happies, Annieka met Ogies.

Happies was my beste maatjie. Ook gedurende die egskeiding. Hy het saam met my en Ma uit die huis getrek woonstel toe.

Annieka kry nog trane in haar oë as sy net aan Ogies dink.

Moet my kind dan nou sonder ʼn kleintjie van haar eie van haar kinderdae afskeid neem.

Sonder dat sy ooit die tere gevoel van ʼn hond se hartjie leer ken het, verdrink het in  ʼn welpie se asempie?

Ek het nie ʼn hond gesoek nie. Ek het nie.

Ek is weer daaraan herinner dat ʼn kat ongelukkig buite die kwessie is.

Toe gaan koop ek voëlsaad. In die uur wat Klaradyn dramaklas het.

En toe stap ek uit met voëlsaad en ʼn hond.

Ek het nie die hond gekies nie. Die hond het my gekies.

En hy het lank gewag voor hy sy keuse gemaak het.

Die laaste van sy drie sussies is al vier weke gelede verkoop.

Hy het agtergebly. Alleen.

Die odd one out. Ek verbeel die Engelse praat van ʼn runt.

Die uitskot-welpie. Die afvlerkspreeu. Die swakkeling. Loser!

En toe kom ek verby met R90-00 se voëlsaad.

Ek stel my voor dat hy geweet het, nog voor ek geweet het – daardie man gaan my koop. Daardie man en sy gesin gaan ʼn groot verskil in my lewe maak.
Hy het op sy agterpote teen die tralies gaan staan en bewe van opwinding.

Ek het in sy jakkalsgesiggie vasgekyk en met eerste oogopslag verlief geraak.

Toe breek my hart:  hy is afgemerk! Hulle het die hond op ʼn uitverkoping gesit. Sale Price.

Hoe min moet jy ʼn hond wil hê, hoe graag moet jy van ʼn hond ontslae wil raak as jy hom afmerk!

Dit kan nie! Dit mag nie!

Ek het Annieka gebel. Sy was te oorbluf om weerstand te bied. Terwyl ek met die een hand aflui, het ek die debietkaart met die ander hand in gereedheid gebring.

Klaradyn is soos haar ma en pa, lief vir honde. Dis ʼn week en haar oorgawe het nog geensins begin taan nie. Dit sal ook nie.

Sit jy die hond langs ʼn groot vet rietrot, dink ek die rietrot staan hoër en groter. Maar die dingetjie is destyds juis geteel om rotte te vang.

Die hondmalles praat van Min Pin, of “The king of the toys” (dalk is dit “prince” ek kan nie onthou nie.)

Leke praat sommer van Miniatuur Doberman Pinchers. Maar dis totaal verkeerd. Doberman Pinchers (Magnum PI se honde) is eers in 1880 geteel. Teen daardie tyd was die Miniatuur Pinchers al ʼn lank gevestigde ras in Europa wat gedoen het wat die rottevanger van Hamelyn hulle nie kon nadoen nie.

Gewone outjies soos ek praat, miskien verkeerdelik, sommer van tant Mien se hondjie, die swart keffertjie wat tant Mien van Ben, Babsie en familie hier in die vyftigerjare so onder die arm vasgeklem het.

Tot hier het ek ʼn maand gelede gekom, maar dit nie gepos nie. Ek het skuldig gevoel oor vier honde op die werf, die onverantwoordelikheid, die impulsiwiteit.

Miskien was dit nie onverantwoordelikheid of impulsiwiteit nie, eerder ʼn onbewuste gereedmaak vir wat in die nabye toekoms voorlê. Want ons is vanoggend, bietjie meer as ʼn maand later,  weer net drie hondeasems op die werf. Boeta, gebore en gedoop as Patat, is gisternag na 11 mooi jare en ʼn baie kort siekbed van minder as 24 uur oorlede.

18.5.14

Moedersdag 2014

Ek hang onlangs my frustrasie rondom Klaradyn wat nie noodwendig altyd die toebroodjies wat ek vir haar vir skool maak, eet nie, aan die groot klok. 

Die reaksie was heelwat, en uiteenlopend.

ʼn Pa van vier oudleerlinge vertel dat die oplossing meer kinders is:  "Ons  4, het altyd mekaar s'n vasgelê en - oud of vars - verorber, soos ‘n honger kat ‘ n vars muis - want ons het altyd NET 3 pakkies gemaak... "

ʼn Ander mamma vertel dat die manne in haar huis (en ek vermoed amper sy bedoel nie net die twee seuns nie, maar Pappa ook)  weet as hulle nie hul brood by die skool eet of weggee nie, hulle dit na skool by die huis sal moet eet. ʼn Sessie waartydens sy hulle met kwaai oog sal dophou want mors sal hulle nie en die honde-uitweg is daar nie.

Ek dink onwillekeurig aan ʼn oudmatrikulant, jare gelede toe ek nog ʼn beginneronderwyser was, wat elke dag die broodjies wat haar ma vir haar gemaak het, by die skool weggegee het. Nie onder haar maats nie, maar vir haar meneer. Dit was later nie eers meer ʼn geheim nie, selfs die ma (ʼn kollega van my by ʼn buurskool) het geweet ek kry elke dag haar stukkie liefdesdiens van elke oggend. En tog het sy aangehou. Ek vermoed as jy oor soveel jare heen (sy het meer as een kind groot gemaak, en die eerste was al klaar met skool) soggens broodjies maak, dit iets is wat jy sommer maklik afsterf nie. Straks het haar moedersinstink (nie om mý te mother nie, maar die hoop en wete dat sóú haar dogter wel die dag honger  hê, sy as ma darem vir haar kind gesorg het) haar gedryf.

Van oorkant die water vertel ʼn ander vriendin iets wat perfekte sin maak. Sy het nooit vir enige van haar drie kinders kospakkies gemaak nie. Nes jy oud genoeg is om ʼn mes en vurk vas te kan hou, is jy oud genoeg om brood te kan smeer. Sy noem dat seker wreed is, maar getuig dat hulle elkeen se oorlewingsvaardighede merkwaardig ontwikkel is.

Ek is dit onmiddellik met haar eens, en weet sommer dadelik dat haar drie maters soggens voor skool hul eie beddens ook opgemaak het.

Maar al is ek dit ook hóé met haar eens, kán ek my dit nie self sien doen nie. Nie oor my dooie liggaam nie. Selfs al weet ek dis uit en uit in die kind se belang.

En toe, ʼn uur of wat later, kom ‘n opmerking van ʼn skoolvriendin, en sy sluit aan by ek wat genoem het dat ek kinders wat op skool by my om ʼn broodjie geskimp het, afgeskrik het met die woorde dat hulle nie van my broodjie sal hou nie – dit het kwansuis knoffelvis op. Sy noem:  “Ek vermoed ek weet wie dit was wat jou broodjies ge-aas het... Ek onthou spesifiek die maaskaas en pynappel wonders! dit was die hoogtepunt van haute cuisine...”

En toe onthou ek, vir die eerste keer in meer as 30 jaar, weer my ma se “maaskaas en pynappel wonders” en sommer baie van haar ander daaglikse haute cuisine wonders.

Toe wéét ek, en verstáán ek ook, eensklaps, waarom ek nie sommer nié vir Klaradyn sal broodjies maak vir skool nie.

Toe weet ook presies wat ek bedoel het, destyds met Judy se afsterwe, toe ek genoem het dat ons ma nie dood is nie, sy leef voort in haar kinders, én in haar kleinkinders, in elkeen wat die voorreg had om van naby deur haar aangeraak te wees.

Dis nie ek wat toebroodjies vir skool maak nie, dis Judy wat in my ʼn verlengstuk gekry en soggens met soveel liefde Klaradyn se broodjies maak.

Ek is so gemaak en gelaat staan.

Maar ook in haar kleinkinders dat sy voortleef.

Verlede Sondag toe ek en Klaradyn Mamma se skinkbord in gereedheid bring, kruip my kind op haar knieë deur die honde se deurtjie in die kombuisdeur na buite. 

Ek weet dadelik waarom.

Sy kom minder as ʼn minuut later terug met blomme uit die tuin vir Mamma se skinkbord.

Dis die tweede jaar dat sy dit self doen, en ek weet klaar ek sal dit nooit weer vir Klaradyn voor hoef te doen nie – Judy se reikwydte strek nou, deur my, tot by Klaradyn.

Ja, ek weet, duisende kinders het verlede Sondag vir hul ma’s blomme in die tuin gepluk en op die Moedersdagskinkbord staan gemaak.

Maar Klaradyn sou dit nie so verbete gedoen het as ek dit nie haar eerste sewe lewensjare so getrou gedoen het nie, en ék sou dit nie gedoen het, as dit nie was hoe Judy ons geleer het nie.

Ander kere weer sal Klaradyn skielik tafel dek, sommer net vir ons drie, met kerslig.

Ek het as laerskoolkind, en Judy het my daaroor gespot, gesê ons moet “romanties” eet. Een keer, baie klein nog, het ek dit glo ge-moranties, en dit het sy my, glimlaggend, nooit laat vergeet nie.

Judy, op haar beurt weer, het nooit gaste saans om die tafel gehad, sonder die atmosfeer van kerslig nie.

En so is dit nie net die sondes van die vaders en die moeders wat die kinders besoek tot in die hoeveelste en soveelste geslag nie, maar ook die deugde en liefde en navolgenswaardige.

Gelukkige Moedersdag, Ma.

En nee, ek is nie laat nie. Ek het ook nie vergeet nie.

Ek weet jy sou wou terugstaan, verlede Sondag, dat Klaradyn en Annieka, die kalklig van die dag kan geniet. En hulle het.

Seker in elk geval ook nie “Gelukkige Moedersdag nie, Ma” maar “Dankie, Ma.”

Dankie, Ma. Dankie dat jy daar wás om vandag steeds hier te kan wéés.

Naskrif/Aanhangsel

Hierdie gedagtes het eers ʼn ander pad, ʼn ompad, ingeslaan. Maar die ompad het doodgeloop. Ek las dit hier aan, ter wille van die foto’s waarby ek ter verduideliking en bewys wil uitkom. Én ter wille van die skakel na dit wat ek 2008 kwytgeraak het toe ons begin het om vir Klaradyn broodjies vir skool, toe nog kleuterskool, te maak.

Die knapie in die rooi moes tot Standerd 8 wag voor hy ‘n boetie, ekke, gekry het.

Die rooi blik met wit strepe
se maatjie is steeds in ons
huis.

Dit lyk dalk nie soos stop vir padkos nie, maar dit is.

Waar is die dae! Beslis nie 'n middagete-stop, 10:00 of
agtermiddag straks

Die eerste poging, dan:

Ek is ‘n skoolbroodjie-mens. En ek het al daarby uitgekom. Hier. Maar vandag wil ek ‘n ander invalshoek, met ‘n ander doel voor oë, met ‘n ompad daarby uitkom.

Miskien oor dit Moedersdag was en ons Moedersdag rondom Klaradyn en Annieka gevier het en die dooies met rus gelaat het.

Miskien omdat Klaradyn nie haar broodjie vir skool geëet het nie. (Die vissmeer wat sý wou gehad het.) En toe die volgende dag weer eerste ding, dadelik, toe ek haar optel, opgemerk het hoe heerlik haar broodjie was. (Baie bros gebraaide – nie so baie  nie, maar so bros – spekvleissnippers met kaas.)

Miskien omdat Sondagoggend, die tweede een in Mei, vroeg iewers weer Judy se begrafnisbrief gelees het.

Sien ek is nie net ʼn skoolbroodjiemens nie, ek is eerder ʼn padkosmens – en wat is skoolbroodjie nou anders as kos vir die lang pad skool toe en terug.

Hoekom ʼn padkosmens? Dis eenvoudig – die antwoord lê opgesluit in die foto’s wat elk voor my geboorte geneem is.

Dis hoe ek groot geword het, ek is opgevoed, letterlik – soos Klaradyn sal sê,  op-ge-vóéd – om van padkos te hou. Dis wat ek ken, Dis hoe ek gevorm is.

Ek het nie een enkele herinnering aan ʼn gekookte eier of koue wors langs die pad nie – nie uit Judy se hand nie. Maar toebroodjies, heerlike toebroodjies – daarvan onthou ek baie.

Ek was al groot, het al skoolgehou, dan sit ons af Kaap toe – twee motors – dan ry ons ʼn draai Alberton toe. Om by Ma te stop vir padkos – ʼn keurige padpiekniekpakkie vir elkeen wat afskiet Kaap toe.

En volgende jaar maak ons weer so.

Ons gaan Bloemfontein toe, vyf ure, dan maak ek padkos.

Net die gedagte aan Kaap toe, maak my deliries – drie vleise, minstens. Peperwortelsous by die een bief, soet Duitse mosterd by die ham, blatjang, uie, blaarslaai, twee kase, tamatie, dun skyfies agurkie, blaarslaai, noem maar op.

Warm flesse koffie. Genoeg warm flesse met koffie.

En as ons die eerste tolhek deur is, dis nog na en lank na sonop toe, dan kan jy maar my eerste broodjie aangee. Nie omdat ek honger is nie, omdat ons op die langpad is, Kaap toe en deel van die lekker padkos is.

Het ek nagelaat om te noem dat die eerste tolhek, soos die kraai vlieg, nie ʼn kilometer van die huis is nie?

En dan is ons nog nie eens oor die Jukskeirivier tussen Pretoria en Johannesburg nie, dan vra ek ʼn volgende broodjie.

Om van padkos, by skoolpadkos uit te kom, om uiteindelik by Judy wat nie dood is nie maar elke dag voortleef, uit te kom, was net te lank.

Dankie ook aan Pa, wat my soveel Moedersdae Springbok-apteek toe geneem het dat ek vir Ma 'n ietsie kon uitsoek vir Moedersdag. Ek doen dieselfde met Klaradyn. Soos jy my geleer het.

23.4.14

Pappa-en-dogtertjie oomblikke

William Rowland het ʼn gedig, geskryf “Pappa en seuntjie stap”. Dit was jare lank ʼn voorgeskrewe gedig vir matrieks. Doen ek en Klaradyn dinge saam, dan spring dié gedig se titel gereeld in my bewussyn rond. Soos die afgelope Paasnaweek weer.

Ons Pappa-en-dogter bonding, Donderdagmiddag, het eintlik Donderdagoggend al begin.

Die wortels daarvan lê egter in ʼn kragonderbreking van die vorige oggend, Woensdag, met die tandarts wat laat weet dit help nie ek kom, soos afgespreek, om 15:00 daar aan nie – hulle krag is al die hele voordag af en die terugvoer wat húlle kry, is dat dit tot agtermiddag laat nog gaan duur.

Ek jubel. Dis ʼn baie uitdagende fotodag 1 by die skool en ek moet soos altyd pa staan daarvoor.

Dis seker die vierde jaar in ʼn ry dat iemand doelbewus kies om eerder deel van die probleem as deel van die oplossing te wees deur klastoetse vir die betrokke dag te skeduleer. Dit laat my, weer eens, met twee wagtende fotograwe wat, nie eens soos Barry Roux en Gerrie Nel per dág nie, maar per uur, eintlik per minuut, betaal word. Hulle sit met dolleë koorbankies voor hulle en staar na die portrette van die skool se Springbokke en Proteas wat in ry al om die saal se binnemure gehang is.

Want buite die saal staan ons met sowat 300 kinders in ʼn graad, elkeen in een van tien registerklasrye aangetree (van kortste voor tot langste agter, klasleiers voor na lank agter) en nie ʼn enkele een van die klasse kan inbeweeg vir hul foto nie.

“Ons is nog nie almal hier nie, Meneer!”

“Nou vir wat nie, ek het al tien minute gelede afgekondig dat julle moet kom aantree?”

“Die kinders skryf nog toets in Juffrou (So-en-so) se klas, Meneer.”

Dan had ons self ook al ʼn kragonderbreking wat verdere druk op onse fotodag geplaas het.

So ek jubel en klim met seer keel en nog seerder voete knap voor 15:00 in die kar. ʼn Middag wat ek in die tandarts se stoel sou deurbring, lê nou oop voor my.

En dis Woensdag.

Woensdag is Annieka se middag met Klaradyn.

En op ʼn Woensdag het Klaradyn kunsklas van drie tot vier.

Ek bel in die ry:  “Wat doen jy?”

“Ek laai Klaradyn by die kuns af. Maar ek is bly jy bel. Ek het my rekenaar se koord in die kantoor gelos, kan jy dit vir my bring as ...”

“Ek is al myle van die skool af. Laai vir Klaars af en dan ontmoet jy my by Pure.”

Dis by hoogste uitsondering dat ons ingewikkelde middagskedules so klandestiene iets toelaat. Maar ek vroegoggend al, op een van my 342 keer se hardloop tussen die saal en die kantoor om kinders oor die interkom te gaan roep, verby die personeelkamer se kombuis gehol, toe die lekkerste geur van KFC my tref.

Van toe af, en dis teen die tyd dat ek huis toe ry ook al meer as vyf ure later, is ek belustig vir iets lekkers. En Pure is lieflike, trendy, pretensieuse, totally over priced eetplekkie, en selfs al sou Annieka nie by my kon aansluit nie, is ek na my helse skooldag bereid om manalleen met my sawwe, moeë lyf, seer keel en voete daar te gaan sit om liggaamlik en emosioneel vertroos te word.

Annieka had self ʼn dol dag en sewe minute later trek sy skreeuende bande en stof wat dóér trek voor die eetplek in.

Ek bestel ʼn drie-dubbel-van-iets sny koek. Drie soorte neute, of drie soorte sjokolade – ek kan nie onthou nie. En dit maak nie saak nie. Wat saak maak, is dat die lekkerste stuk koek is wat ek in my ganse lewe nog geëet het. As ek my sin kon kry (en ʼn banklening daarby) was ek die laaste drie dae al sewe keer terug om plek vir nog ʼn snytjie in my deursnit-Wit-Afrikaanse-Afrikaner-man-boepens in te ruim.

Die ander ding wat saak maak, is dat die eerste happie wat ek vat ʼn donderse (en dis kláár sagkens gestel) harde stukkie neut in het. So hard, trouens, dat ek dit geensins kan stukkend byt nie. Só hard, dat dit sommer sulke vreemde harde krap- en kraak- en knakgeluide in my mond maak en ek bloot maar oë moet toeknyp en afsluk.

Om ʼn lang storie kort te maak, teen die tyd dat ek via telefoonbankdiens klaar aansoek gedoen het vir ʼn oortrokke fasiliteit om my rekening te kan vereffen, weet ek en Annieka albei dat die eerste happie se stukkie neut nie ʼn stukkie neut was nie, maar die kiestand se tydelike kroondoppie wat ek sou vervang het vir die regte een, ás dit nie vir die kragonderbreking en die daaropvolgende stukkie koek was nie.

Twee ure later het ek die volgende oggend 07:25 ʼn noodafspraak by my tandarts.

Dit beteken ek moet Donderdagoggend ʼn volle uur later eers by die huis uit.

Die wekker gaan normale tyd af – vrou en kind moet gewone tyd in ma se motor spring. Maar Klaradyn se toebroodjies klaar gemaak en die voëls se kos klaar gegee, ook klaar geskeer en gesjampoe, klim ek suutjies by Klaradyn in die bed.

Dit kan mos nét lekker wees om, op ʼn gewone skóóloggend, in die arms van jou vader te kan ontwaak, in plaas daarvan om van die gang af wakker geroep te moet word.

Daar begín ons pappa-en-dogtertjie oomblik.

Tien minute later word dit voortgesit toe haar japon nêrens te vinde is nie, en Pappa sý japon vir haar aantrek om in te verdrink op pad na ouma toe. Hoe lekker dit vir haar in Paps se japon is, staan sommer oor haar hele gesig geskryf, toe sy tatta soen en in die motor klim.

Ja, die kind gaan soggens in haar pajamas by die huis uit. Ek én Annieka klok O7:00 in by die werk en daar is nie ʼn manier dat ons ons kind 06:20 by ʼn skool aflaai om betyds by ons eie te wees nie; ons laai haar daardie tyd by Ouma-hulle af waar sy was, aantrek en ontbyt. (Oumas en oupas is wonderlike goed!)

Donderdag is amptelik die eerste dag, nie van herfs nie, sommer van winter – dis die ganse skooldag properlies en góéd koud.

Toe ek Klaradyn na drie weer by Ouma-hulle optel (Donderdag is my middag met haar, Annieka bly aan om tot laat in stilte en vrede te werk) sien ek die merrieperd het mooitjies na skool nie haar gewone klere aangetrek nie, maar terug geklim in haar winterslapies en pappa se oorgroot japon.

En vir wat nie! Dis lekker koud én die begin van ʼn langnaweek – daar is geen huiswerkroetine nie. Sy en ouma sit snoesig onder ʼn kombers ingenestel en kyk iets op televisie.

Toe ons oomblikke later by Ouma wegry – Klaradyn steeds knus in haar element in Pappa se japon – weet ek daar is nie ʼn manier dat ek sy nou, in hiérdie koue, in die tuin gaan speel nie, ons gaan een van net drie dinge doen – ons gaan in die sitkamer voor die televisie onder ʼn duvet inspring en ʼn video kyk, ons gaan in die sitkamer voor die televisie onder ʼn duvet inspring en ʼn video kyk, of ons gaan in die sitkamer voor die televisie onder ʼn duvet inspring en ʼn video kyk.

Wat ons toe ook doen.

Ek het Desember-vakansie al ʼn Richard Gere-video gekoop waarby ons nie uitgekom het nie. Ook nie in die April-vakansie nie, die ding roep nou al vyf maande uit die kas om asseblief tog net vertoon te word.

En ek weet nie of dit met alle kinders so is nie, en of dit net met Klaradyn so is nie – sy kan nie lángs ʼn mens sit en televisie kyk nie, sy móét tegelyk ónder jou vlerk en so te sê óp jou skoot, vóór jou gesigsveld inwurm om televisie te kyk. Of dit nou so warm is, jy gril al om net aan jouself te moet raak; en of dit nou, soos Donderdagmiddag, lekker koud, selfs onder ʼn duvet, is.

En dis hoekom hierdie stuk, gedagtig aan destyds se “Pappa en seuntjie stap” nie “Pappa en dogtertjie stap” gaan wees nie, maar “Pappa en dogtertjie huil.”

Klaradyn het, alles mooi bymekaar getel, in haar eerste lewensjaar heelwat minder en korter gehuil en geskree as wat sy Donderdagmiddag gehuil het. Ek het laas amper so gehuil toe my ma dood is, maar nie naastenby so verskriklik vreeslik erg, en intens, en hard, en aanhoudend nie. Onbeheersd. Onbevange. Ongekontroleerd. Onge-alles.

Dis ʼn dierefliek. En kinders soos ek en Klaradyn huil in alle diereflieks. Dis omdat daar altyd iets met die diere gebeur – hulle gaan dood en dis hartseer.

Maar in hierdie fliek huil jy nie omdat dit hartseer nie, jy huil omdat dit so vreeslik hartroerend en aangrypend móói is.

Om die waarheid te sê, die kyker is eintlik bly en verlig as die blêddie hond 40 minute (verteltyd) en 9 jaar (vertelde tyd) later uiteindelik sterf, want dán eers, kan jy dit begin oorweeg om op te hou huil.

Ek en Klaradyn het beide 20 minute ná die fliek al lankal verby, en die televisie ook al afgesit, was, nog steeds gehuil toe ons die storie vir Mamma vertel het. Om die waarheid te sê, Mamma, wat glad nie die fliek gekyk het nie, het ook begin huil. Of dit nou is oor die storie, of net om na ons te kyk wat so aansteeklik tjank, sal ek nie weet nie.

My oë was ure later nog heel week en eintlik sommer lekker rou, asof iemand nie komkommerskyfies, soos by ʼn spa, op hulle gesit het nie, maar deurgesnyde uie in hulle gevryf het.

Ek is dankbaar dat ek die fliek in die privaatheid van my eie binnekamer gesien het, het ons dit op die grootskerm gekyk, sou ons mos uitstap. Want as ons nie self uitgestap het nie, sou die ander ons uitgejaag het.

Op ʼn tranetrekker-skaal van 0 – 10, ken ek ʼn 10 toe. En ek plaas “The Champ” (onthou julle nog die fliek – die vrouens is met ekstra sneesdoekies in hul handsakke teaters toe!) en “Dirkie” op ʼn skamele 2.75. Dan haal “Terms of Endearment”, “Lelik is my offer”, selfs “Titanic” (waarin ek hardop geruk het soos ek tjank) nie eers die skaal nie.

Die fliek wil geensins ʼn historiese weergawe van die werklikheid wees nie, maar is geïnspireer deur werklike gebeure jare gelede. Ek gaan nie oorvertel nie, ek haal uit Wikipedia aan:

In 1924, Hidesaburō Ueno, a professor in the agriculture department at the University of Tokyo, took in Hachikō, a golden brown Akita, as a pet. During his owner's life, Hachikō greeted him at the end of each day at the nearby Shibuya Station. The pair continued their daily routine until May 1925, when Professor Ueno did not return. The professor had suffered a cerebral hemorrhage and died, never returning to the train station where Hachikō was waiting. Each day for the next nine years Hachikō awaited Ueno's return, appearing precisely when the train was due at the station.

Hachikō attracted the attention of other commuters. Many of the people who frequented the Shibuya train station had seen Hachikō and Professor Ueno together each day. Initial reactions from the people, especially from those working at the station, were not necessarily friendly. However, after the first appearance of the article about him on October 4, 1932 in Asahi Shimbun, people started to bring Hachikō treats and food to nourish him during his wait.

In 1932 one of Ueno's students (who developed expertise on the Akita breed) saw the dog at the station and followed him to the Kobayashi home (the home of the former gardener of Professor Ueno—Kikuzaboro Kobayashi[5]) where he learned the history of Hachikō's life. Shortly after this meeting, the former student published a documented census of Akitas in Japan. His research found only 30 purebred Akitas remaining, including Hachikō from Shibuya Station.

He returned frequently to visit Hachikō and over the years published several articles about the dog's remarkable loyalty. In 1932 one of these articles, published in the Tokyo Asahi Shimbun, placed the dog in the national spotlight. Hachikō became a national sensation. His faithfulness to his master's memory impressed the people of Japan as a spirit of family loyalty all should strive to achieve. Teachers and parents used Hachikō's vigil as an example for children to follow. A well-known Japanese artist rendered a sculpture of the dog, and throughout the country a new awareness of the Akita breed grew.

Eventually, Hachikō's legendary faithfulness became a national symbol of loyalty, particularly to the person and institution of the Emperor

Ek en Annieka was ʼn ruk gelede bekommerd toe Klaradyn die enigste een van ons drie was wat nie getjank het toe ons as gesin Spielberg se ET gekyk het nie. Ons was bang sy word emosioneel afgestomp deur die goed wat sy kyk. Nadese kan ons ontspan: Klaradyn klim beslis nog met hart én siel in ʼn fliek in en kan dit onbevange met volle oorgawe geniet.

Wat haar pa betref – hy is duidelik steeds dieselfde pissie en verleentheid wat hy nog al die jare was.



5.4.14

Judy se "Rooi Hoender" deur Hans

Ek het minute gelede ʼn dis in die oond gesit wat ek nog nooit vantevore self voorberei het nie. 

Dit terwyl ons die bure oor het vir ete. 

Dit terwyl my ma ons groot gemaak het om nooit iets vir die eerste keer te probeer as jy onthaal nie. 

Ek het ook nie ʼn resep wat ek kan volg nie, al het ek seker dertig resepte geraadpleeg.

Gelukkig het ek die dis al baie keer geëet. Maar dit was voor 1975 laas.

Dis my en my broer se gunsteling dis, in ons huis het ons dit “Rooi Hoender” genoem.

Ek het “rooi hoender” ge-google en 375 trefslae gekry. Toe google ek “red chicken recipe” en kry sowat 115 000 adresse.

Ek het moedig probeer, maar het helaas niks gevind wat my aan my en my broer se geliefde “Rooi Hoender” van onse mamma herinner nie.

Ek het selfs mense gekry wat vermoedelik na dieselfde resep as ek op soek is. 


ʼn Naamlose iemand het op Yahoo-answers.com gevra:  “What's the recipe for campells soup red chicken?”

 

Drie jaar gelede het ‘n sekere Blue Hills Granny geantwoord:

 

“Maybe this is the one you are looking for 1/2 stick butter 4 chicken breasts salt and pepper Season chicken and brown on both sides in butter Mix together 1 can tomato soup 1/2 can water 1 Tablespoon vinegar 1 Tablespoon brown sugar pour over cover and simmer on low about 40 minutes until chicken is tender serve over hot cooked rice .You can also ad some garlic powder if you like and you can flour the breasts before you brown them.”

 

Maar in dié betrokke resep is al wat reg is die hoender en die “1 can tomato soup”.

 

Die res is spekulasie. En dan ontbreek daar baie.

 

Ek weet nie of ‘n mens ooit Campbell’s sop in die ou RSA gekry het nie. 


Cambell’s se sop lui vir my maar net klokkie omdat Andy Warholl dit in so baie mense se onderbewuste verewig het met sy reeks kunswerke.



 

Ek (en my skoonsus, so ver ek weet) onthou dat dit OXO-tomato soup was. Half and half, het ons daarvan gepraat, want jy moes een blikkie sop met een blikkie water verdun. (Ek vermoed my ma sou melk gebruik het as sy die sop gemaak het.) 


OXO is egter al die jare sinoniem met blokkies en pakkies en nie met blikkies roomsop nie.



 

Ek weet nie watter soort sop dit was nie, ek was te klein, dis te lank terug. Maar hoekom my ma-hulle, en my skoonsus, opgehou het om die dis te maak, is eenvoudig: die betrokke blikkie sop is oornag van die mark af, en die dis het net nooit so lekker uitgekom met die ander blikkies tamatiesop wat daar daardie jare op die mark was nie.

 

So dis nou meer as dertig jaar dat ek lus het vir “rooi hoender”.

 

Ek so twintig jaar gelede een Sondag aan huis van Carel en Hetta Potgieter ‘n baie lekker rooi hoender geëet. Dit was nie my ma se resep nie, maar het sterk daaraan herinner.

 

Sien, ek onthou dat daar rooi soetrissies in was, dalk selfs groenes.

 

ʼn Mens het daardie jare sulke groot vierkantige can fruit bottels gekry – out size as jy my vra. In Paljas en Die storie van Klara Viljee het die agtergrondinkleding-, dekor- en rekwisiete-mense presies sulke glasflesse met deksels op die stel gebring. Elke keer as ek die flieks kyk, dan vang die bottels my oog en raak ek so lus vir my ma se “Rooi Hoender”.



 

In hierdie bottels het my ma-hulle by Makro ingelegde green en red peppers gekoop. En as dit opgebruik is, is die etiket afgewas en die bottel spensrak toe gevat.

 

Ons het in my tyd in ‘n ouerhuis vier keer getrek. En elke keer is hierdie stel bottels saam. Na een trek moes ek al die deksels vir Mamma oranje spuitverf. Met die volgende trek het ek hulle weer groen moes spuitverf.

 

Ek het daardie bottels gehaat.

 

Vandag sal ek wat wil gee om net een van daardie bottels in my huis te kan hê. Ek sal selfs die deksels spuitverf.

 

Maar ek dwaal af. Ín hierdie bottels was die lekkerste soetrissies en ek onthou so duidelik soos daglig dat Judy se hoender van tyd tot tyd van hierdie soetrissies ingekry het.

 

Dis natuurlik die geneuk nè – daar is nie ʼn resep gewees nie, sy het kos gemaak soos die gees haar gelei het. Dis nie te sê daar was áltyd ingelede soetrissies by nie.

 

Toe neem die gees van my besit met die laaste tuisgemaakte tamatiesop wat ek vroeër die week gemaak het. Die sop waarvan daar, skat ek dit met die oog, so twee blikkiesvol oorgebly het. Annieka vra of sy die oorskiet sop vir Martha kan weggee huis toe. Ek sê kortaf, “nee”.

 

Selfs die beste blikkiesop moes daardie jare mos tweedebeste gewees het om rooi hoender te maak. Hierdie tamatiesop van ons móét mos lekker rooi hoender kan maak, al is dit nie Judy se “Rooi Hoender” nie. En ek begin my soektog na dié rooihoenderresep van alle rooihoenderresepte. Maar een met soetrissies.

 

Ek spoor inderdaad ʼn rooihoenderresep met soetrissies en ʼn blikkie Campbell’s sop op Campbell’s se webwerf op, maar die foto gee alles weg – dis beslis nie na aan my oorle’ mammie se dis nie.



 

En toe sit ek ʼn paar dae later, netnou, net voor ek hier kom sit het, my eie rooihoender in die oond.

 

Ek het 18 hoenderdye verbruin (omdat ek gelees het dat baie van die resepte daarmee wegspring)

 

Vooraf het ek 6 rooirissies vel-af gemaak (deur dit onder die oondrooster swart te skroei en in ʼn sak te laat stoom – daarna trek jy die skil af soos dié van ʼn tamatie wat in kookwater gelê het.)

 

Toe die laaste hoenderdy mooi bruin is, het ek drie uie (want dis al wat ek had) in die bietjie olie gebraai.

 

Toe dit reg is, het ek drie gerasperde wortels bygegooi (en vergeet van die knoffel – doelbewus vergeet omdat ek bietjie lui was om knoffel te skil.)

 

My ma het beslis nie wortels ingegooi nie, maar synde ek nie weet wát sy gedoen het nie, kan ek nou doen wat ék wil.

 

Dit het by die oorskiet tamatiesop ingeroer. Saam met die soetrissies wat ek in dik repe gesny het.

 

ʼn Lourierblaar of twee, drie, vier...vyf. En lekker baie regte, egte, Hongaarse paprika. Sout en peper.

 

Oor die gebruinde dye en vir ʼn uur oond toe op 180.

 

Ek het my neus al so teen die oonddeur gehou – dit ruik heerlik.

 



Gedagtig aan Judy en my broer en die 70’s en heimwee en terugverlang huis toe, sal dit Kook en Geniet se sponskluitjies (nie die souskluitjies nie – sponskluitjies) vir nagereg wees.

 

Retrospeksie:

 

Ál wat fout was, is dat die sous te waterig was. Daardie sop was destyds ingedamp, condenced soos die Engelse sê, (half en half, soos ek onthou). Die groente en hoedersappe het my sop te veel verdun.

 

Ek moes na die tyd afkook tot dit lekker dik was, en ek het nie, ek het kortpad gevat met mielieblom.  En toe verloor die mielieblom sy fut terwyl ons hopeloos te lekker om die kombuistafel kuier en die kinders iewers buite in die tuin speel.

 

Of ek dit weer sal maak? Ja, en ja en nogmaals, ja.