Pages

28.7.13

In liefdevolle herinnering aan Tannie Susan


Op ons 20 jaar re-unie het ek iets wat die meeste van ons wat nie meer nat agter die ore is nie weet, besef: jy kan mense vir die eerste keer in meer as 20 jaar sien, en dit sal wees soos gister, asof daar nie ‘n halwe leeftyd tussen gister en vandag lê nie.

Ek het dit beleef met iemand wat voor matriek verhuis het, ons het mekaar in meer as 22 jaar nie gesien nie; tog was lyftaal, steminfleksie en die klas van ding letterlik só bekend, dat dit was asof ons mekaar nie na ‘n halwe leeftyd weer vir die eerste keer sien nie, maar na die April- of Julie-vakansie.

Ek het al soortgelyke ervarings met musiek ook gehad.

Met die dat ek ‘n ’64-baba is, sal my musiek altyd die musiek van die tagtigs wees – tot net voor High Energy die musiekfront begin oorheers het.

Dit gebeur dikwels dat ek ‘n liedjie vir die eerste of tweede keer sedert my universiteitsdae hoor, en dadelik is dit asof die musiek die verlede opvreet soos ‘n voetganger sprinkaan als wat groen is opvreet – die jare verdwyn net, die afstand krimp tot niks nie.

Ek het agtergekom dit werk nie so met klere nie. Ek het twee weke gelede my troupak weggegee. Ek het hom een keer aangehad, maar dit was na net meer as ‘n jaar, en hoeveel jaar gelede is dit nie al nie, duidelik dat ek nooit weer daarin sal pas nie.

En tog het die hoop beskaam, vir soveel jaar.

Maar ook net tot twee weke gelede, toe is dit ook verby.

Selfs met party van verlede seisoen se klere is dit so – dis asof daar oornag 17 jaar tussen jou en jou broek kom uitstrek het.

Wat dit natuurlik nie is nie; dis 17 kilogram wat ongenooid tussen jou en jou broek kom inwurm het!

Maar dit daargelaat.

Dat dit met smake is, presies soos dit met vriende en musiek is, sou ek egter nooit kon sê nie.

Vandag kan ek inderdaad daarvan getuig.

Ek het tot ek nou die dag van my troupak ontslae geraak het, hier teen standerd 9 laas (maar dis tien teen een nader aan standerd 6 of 7) van Tannie Susan se tamboesietert geëet.

Ek weet nie wie ken tamboesietert uit die jare sewentig van die vorige eeu nie, in die besonder Tannie Susan se tamboesietert nie.

Ja, die naam lui dalk ‘n klokkie – lui huisvrouens koop deesdae via ander huisvrouens en hul tuisnywerhede sulke langwerpige plakkies gekoopte skilferkorsdeeg met so ‘n flouerige lekseltjie custard (met water aangemaak, wat anders) tussen die twee plakkies gelaatstaan. Dan kom daar bo op so katspoegie wit soet icing sugar, amper soos dit wat ‘n mens partykeer op oliebolringe kry.
 

En dan het hulle die vermetelheid om hierdie kortpad commin custard slices van hulle tamboesietertjies te wil noem. Dis soos om voetskimmel, Gorgonzola te wil noem, net omdat jy jou verbeel iemand het eenkeer genoem dat die skimmel wat in beide aangetref word, moontlik verlangs van mekaar familie is!

Dis ‘n klap in die gesig van ‘n rasegte opreggeteelde tamboesietert uit die jare sewentig, ‘n klap in die gesig van Tannie Susan, haar ganse nageslag, en elke Suid-Afrikaanse baasbakster van formaat wat ooit ‘n tamboesietert gebak het!
 

Tannie Susan kon kosmaak, van speenvark tot sponserige souskluitjies, poetoepap, polenta, afval en eend, noem maar op.

Annieka het geen begrip vir my hebbelikheid om een maal elke jaar of wat twee sakke pere te koop en dit alles sagkens in rooiwyn, suiker en kruie gaar te stowe nie. Maar dit kom van Tannie Susan af. En dan sal sy by jou aankom met twee of drie van haar pere in ‘n Tupperware-bakkie. Koningskos.

Koningskos, alles wat sy gemaak het. Daardie jare is Tastic rys nog wyd en syd adverteer as ‘n bykos teen “minder as 3 sent ‘n porsie. Ek sweer dat selfs Tannie Susan se rys op ‘n Sondag by haar en Oom Servaas aan tafel het anders en lekkerder geproe as uit een van Ma se potte.

Oom Servaas het nog die voorsnywerk, of dit nou wildsbraad, lamsboud, kalkoen, hoender of eend was, self aan tafel gedoen. Nie net het die voorsnymes en –vurk gereed gestaan nie, maar selfs die ronde slypstaaf waaroor Oom Servaas die voorsnymes ‘n keer of wat behendig laat glip het, voor hy sy kerkhemp, met mansjetknope nog, so aks teen sy arm opgeskuif het, en begin voorsny het.

Ek kan boekdele skryf!

En so leer ken ek, uit Tannie Susan se oond, as jong laer- en hoërskoollat, haar tamboesietert. Die voorreg was my ook maar net seker so hoogstens vier of vyf keer beskore. Dis nie of Tannie Susan vir die tuisnywerheid gebak het nie, dis maar as jy daar kom vir ‘n verjaarsdag of tee, of as sy ‘n tert as present aanbring. Laasgenoemde het sy gereeld gedoen – maar daar was soveel verskillende lekkernye wat sy aangedra het, dat sy nooit ‘n tweede keer met dieselfde dis by jou sou opdaag nie.

En toe word ek groot – standerd 8 miskien, nou loop kuier ‘n seun nie meer saam vir koek en tee by ouers se vriende nie, jy het ander belangriker grootmensdinge om te doen. En dit was die laaste van Tannie Susan se tamboesietert.

Tannie Susan, my ma se heel beste vriendin, sou eers baie jare later, maar nou ook al jare gelede, haar stryd teen die kanker in haar liggaam gewonne gee, maar nooit weer sou ek taboesietert proe nie. Ek is matriek uit, universiteit toe, weermag toe, my eie rigting in.

Ek het gereeld by die oues se yskas gekom en dan was daar ‘n ietsie van Tannie Susan, maar tamboeietert? Nooit.

As jong onderwyser het ek gereeld tuisnywerhede besoek en geloer of ek nie tamboesietert raakloop nie. Ek het selfs van tyd tot tyd en plek tot plek gevra, maar niks raakgeloop nie. Dis hoe ek agtergekom het dat sleghuisvrou kortpad Danish custard slices wat van water en gekoopte skilferkorsdeeg aanmekaar geplak word, kwansuis tamboesies genoem word.

Toe ek na haar dood ‘n hele paar van Tannie Susan se kookboeke present kry, het ek eerste deur almal gegaan om te kyk of ek nie êrens ‘n tamboesietert opspoor nie, maar verniet. Die vrou se Kook en Geniet, wat deur die jare met reseppies op elke oop plekkie aangevul is, die kookboek met die talle los velletjies in haar eie en baie ander se handskrifte, is natuurlik familie-erfstuk, waardevoller nog as die Britse koningshuis se kroonjuwele.

Die vorige keer dat ek tamboesie ge-google het, het dit ook niks opgelewer nie. Ek kon nie eers taalkundig agter die oorsprong van die woord kom nie!

Om ‘n lang storie kort te maak: by iemand wat ek laas gesien het toe ek nog op skool was, se Facebook-blad spoor ek die gesig en naam van Tannie Susan se dogter op. Nou Tannie Susan se dogter het ek nooit eers in haar hoërskoolklere gesien nie – sy was al groot en uit die huis uit van ek my verstand het.

Maar hier het ‘n skoolvriend, self ‘n goeie jaar of wat jonger as ek, Tannie Susan se dogter in sy vriendekring.

Ek dink nie, ek kwyl. Ek skryf:

15 Junie 04:53 NM

Halo, Elma Ek het nie vir een oomblik gedink ek gaan jou hier opspoor nie. Jou ma het 'n tert gebak wat sy Tamboesietert genoem het. Ek soek al jare na daardie resep, maar niks wat ander Tannies "Tamboesie" noem, is jou ma se ronde pienk tert nie. Wat is die kanse dat jy hom het? Ek het enkele van jou ma se kookboeke, een of twee wat ek gereeld gebruik, maar haar Tamboesietert, vermoed ek, sal in haar handskrif iewers neergeskryf wees. Beste wense Hans Moolman

My vriendskapsversoek word aanvaar. Maar ek hoor niks rondom my skrywe wat die vriendskapsversoek vergesel het nie.

Ek vergeet nie, ek werk daaraan om te vergeet, ek onthou om te onthou om nie te onthou, maar kan nie vergeet nie.

En toe, twee, drie weke later, toe kry ek, een middag toe ek agter die rekenaar vasgeval sit, die volgende verblydende boodskap:

24 Junie 03:23 NM

Hallo Hansie, Jy het gevra vir Ouma San se Tamboesietert resep?! Ja, ek het hom, maar ek sou dit eerder per e-pos wou aanstuur - sodra jy die adres vir my gee, sal ek so gou moontlik die resep pos. Laat dit verder goed gaan met julle - hier by ons is dit maar lekker koud en nat!! Groetnis, Elma

24 Junie 05:04 NM

Ek kan nie glo wat ek lees nie, ek kan nie glo wat ek lees nie, ek kan nie glo wat ek lees nie! hans.moolman@wonderpark.co.za Jy is 'n ster. Baie dankie. Alles wat mooi is. Ons wag nog vir winter, maar ons kla nie.

Beste wense

Hans

Ek sien nou, toe ek die gesprek oopmaak, dat dit nie twee of drie weke later was nie, maar dis beslis hoe lank dit gevioel het.
 
En so gaan dit toe aan, nie via Facebook nie, maar my e-pos-posbus:

Hansie,

Hierdie Tamboesietert was en is nog altyd ook my grootste gunsteling van al haar resepte.

Dit was vir my die lekkerste, lekkerste tert op aarde!!

Ek hoop jy kan dit mooi lees. Ek sien die heel laaste sin is bietjie onduidelik. Daar staan:

Voeg geursel en botter by. Gooi uit in gevoerde bak (dis nou met ¾ van die deeg).

Die pienk versiersuiker wat sy van praat is ‘n bietjie rooi kleursel by die versiersuiker (dit moet net ligpienk wees).

Geniet dit en laat weet asb. of dit soos hare gesmaak het!!

Groetnis,

Elma

Ek antwoord dadelik:

Ek is mos maar ‘n sissie, nog altyd gewees, dis met blink in my oog dat ek dankie sê.

Weet jy hoeveel jare ek wonder en vra en soek!

Ek sal laat weet.

Dis skoolvakansie, ek gee op die oomblik onderwysopleiding tot Woensdag, maar ek voorsien die gesin eet Donderdag hierdie tert.

Dit is werklik spesiaal. Uit my hart baie dankie.

Hans

En ‘n dag of wat later:

Elma

Die room, pienk en versiersuiker moet ek nou eers uitklaar.

Die vulsel kry ‘n koppie en ‘n half room of idealmelk, saam met dieselfde hoeveelheid melk.

Dit maak dat ek minimum twee kannetjies room (250 ml elk) moet koop om 375 ml vir die vulsel te kry.

Nou bly daar 125 ml room oor, vir bo. Of moet ek drie kannetjies koop 750 ml in plaas van 500 ml koop, dan het ek 375 ml vir vulsel en 375 ml vir versiersuiker en pienk?

Onthou, en jy moet nie lag nie, maar al wat ek van die tert onthou, is:  sy naam, dat daar pienk bo was, dat daar ‘n vulsel tussen twee lae was en dat dit die lekkerste lekker was. As jy vir my sou vra of daar caramel essens ingekom het, sou ek nie kon sê nie, ek het hierdie tert, op die laatste, laas in 1982 geproe, ek dink  egter dit was nader aan 1978 of 1979.

So ek kan nie die pienk room se vorm onthou nie, die resep, vra dat die room geklop moet word, so ek wil dit pienk en soet en geklop bo op ‘n koue tert sit.

Of is dit op ‘n warm tert gesit, en het dit in die boonste laag van die kors/deeg ingetrek. (Verwar ek dit met daardie appeltert wat daardie jare so gewild was, met die warm room en suiker en botter wat jy bo oor gooi as die tert uit die oond kom?)

So ek het twee vrae:  hoeveel room vir bo, en hoe gaan dit op (op iets warms of iets kouds)?

Terwyl ek Maandag so met jou gesels, SMS my vrou dat sy in SPAR is en of sy iets moes kry; toe SMS ek:  karamel essens, room en pienk voedselkleursel.

So, ja, ons het Maandagaand tamboesietert gebak en ek het Dinsdagoggend 05:30 voor ek werk toe gaan met ‘n moewiese stuk tamboesietert in die bad geklim – geklopte room bo op, op ‘n koue tert geplaas.

Selfs al was dit miskien verkeerd, was dit steeds heerlik.

My bord was te klein, maar gelukkig hoog; wanneer ons hom weer maak, sal ons die regte tertbord gebruik.

Die geur en die smaak, is presies wat ek onthou, dit was ‘n terugruk tot in die baarmoeder wat New Redruth in die jare 70 was – onbeskryflik en iets wat my gesin niks van sal verstaan nie.

(Annieka, my vrou, het toe Dinsdag vir die eerste keer sedert skooldae haar ouma se vlakoekies gebak en ‘n soortgelyke ervaring gehad... wat ek toe nie 100% nie en net “soorts van” kon verstaan.)

Vanoggend is ek weer bad toe met die laaste van my eerste, maar beslis nie laaste nie, tamboesietert.

Nogmaals, en ad infinitum, baie baie dankie.

 

Hans

Elma antwoord:

Naand Hansie, julle probeerslag klink so lekker - sjoe, jy maak my skoon jaloers!! Ek sal ook bietjie moet uithaal en wys!!
Wat die room aanbetref, ek sou in totaal net 2x 250ml gebruik, waarvan 125ml saam met die versiersuiker gebruik word. Ek onthou dat die tert afgekoel was voordat die pienk versiersel oorgegooi is, anders kan hy dalk skif (ek is nie so heeltemal seker nie!).
Ek het vanaand ook vreeslik na 'ou Suzie' (dis net 'n liefdesnaam in ons huis) verlang, want ek het haar Kerrieafval en Stampmielies gemaak! Aai, ek wens Oumas en Ma's kon langer geleef het - ek het so baie om te vra en te vertel (veral noudat ek self kleinkinders het!!).
Julle moet 'n lekker rustige aand he! Groetnis, Elma

 
En dis hoe ek agtergekom het dat vriende, gesigte, liedjies, die reuk van ‘n Volswagen-kewer se binnekant én selfs sekere smake, soos die van Tannie Susan se tamboesietert, almal een en dieselfde is: dertig jaar en meer kan hom tussen julle kom uitstrek, maar een enkele eerste herontmoeting daarna, en dis of daardie dertig jaar hoogstens ‘n oogknip lank geduur het.

Ek het die tert al ‘n tweede keer gemaak.

Ronde twee het ek nie versoete pienk geklopte room bo op gesit nie, maar versiersuiker, aangemaak van die room wat oorbly as jy twee 250 ml-kannetjies aankoop. Annieka en Klaradyn was hierdie keer gaande.

Dis nie maklik nie, verwysende na die deeglaag wat bo op moet kom – ek kan verstaan waarom lui en slegte huisvrouens vir klaar bereide blaardeeg gaan.

Iemand soos ek wat nie eintlik koeke en terte bak nie sal Tannie Susan dit nooit kan nadoen nie, maar selfs my floppies is hoogstens verbeterlik wat aansien betref, wat smaak en tekstuur en geur betref, kan ‘n mens nie beter as om haar resep te volg nie.

In herinnering aan Tannie Susan, ter ere aan die milde, gul hand waarmee sy allerhande lekkernye gedeel het, deel ek, sonder toestemming van haar dogter, Tannie Susan se tamboesietert-resep.

En geniet dit. Selfs al kan dit nie heimwee na die jare 70 by jou oproep nie, beloof ek dit sal steeds ‘n heerlike smaakervaring wees.


 

 
 

4.6.13

Wat is 'n huis...


‘n Vriendin van my het altyd as ons onsself iewers op een van die land se lieflike staproetes bevind, losgetrek en met oorgawe uit Johnny Cash se Sunday morning coming down begin sing: “...the beer I had for breakfast wasn’t bad, so I had one for dessert.”

Hierdie woorde het Saterdag-oggend deur my kop gemaal.

Nee, ek het nie in die veld wakker geword, of selfs sommer net ‘n verspotte vroegoggendbier gedrink (dat die plaak van my tande kan afspring en ek my kan verbeel dat ek my tande geborsel het) nie.

Dit het deur my kop gemaal terwyl ek twee snytjies roosterbrood met marmelade en kaas by die kombuistafel vir ontbyt staan en eet het.

Dis nou twee snytjies roosterbrood met die marmelade en kaas wat net so op die kombuistafel oorgebly het van Vrydagaand se vier snytjies roosterbrood met marmelade en kaas se laataand-aandete.

Sopper was eers om 22:00 omdat middagete se vier kaasrolletjies met botter eers rondom 15:45 genuttig is.

Met Vrydag en Saterdag se brood, marmelade en kaas toe heeltemal op, sit ek ongebad, ongeskeer, steeds in Vrydag se klere, Saterdag toe maar af Spar toe om trooskos vir Saterdag-middagete te koop:  twee lieflike stukke kruisskyf. R119-00/kg.

Daarvan eindig net een vir middagete op (ek gaan sit die keer darem aan midde die dolleeg marmeladeblik op links en die ewe leeg kaasbak na regs); die ander een braai ek Sondag in dieselfde pan vir ontbyt.

Dit was ‘n baie besige naweek en tyd vir kosmaak (of tafel opruim) was daar nie regtig nie – ek het immers 9 flieks gehad om deur te werk:

Verraaiers (nie gesien toe dit gewys het nie, dit het my lank geneem om in te koop, maar toe ek inkoop toe sleur dit my mee)
The Door (ek is gaande oor Helen Mirren, sou graag die boek wou gelees het)
The Dictator (my tipe humor en tweede keer dat ek dit kyk)
Skyfall (het nie eers geweet daar was ‘n nuwe James Bond-fliek nie)
A Passage to India (uiteindelik sien ek die fliek wat in 1984 vrygestel is, ek sal wat wil gee om op 76 te kan doen wat Dawid Lean op daardie ouderdom vermag het)
Room with a View (seker die derde of vierde keer dat ek hierdie een kyk)
Cyrano de Bergerac (1990) (ook ronde drie of vier)
Cyrano de Bergerac (1950) (bonus CD saam met vorige)
The Legend of 1900 (hierdie fliek van 1998 deur Guiseppe Tornatore, wat ook die regisseur van Cinema Paradiso was, is eers in 2000 in SA vrygestel, is ‘n fliek wat ek oor tien jaar ‘n derde keer sal wil kyk)

Kliek op die naam van elke fliek en jy word herlei na die fliek op die Internet-fliekdatabasis - dis waar ek elke keer opleeswerk oor flieks gaan doen.

Ja, die kort van die lank is:  Na hierdie naweek kan ek verstaan dat ou ooms wie se vroue hulle ontval het, sommer dadelik weer vrou vat en dikwels nie eers meer bodder om ge-kerk te kom nie.

Ek was graswewenaar, van Vrydag tot Sondag.

Waar ek altyd baie van my eie geselskap gehou het, het 13 jaar se getroude lewe, te same met amper 10 jaar se ouerskap, my saf-sawwer-safste gemaak.

Ek was na 10 April 2000 nog nooit weer alleen nie, nie vir ‘n enkele dag nie, hierdie naweek was ‘n eerste.

Ja, ek was al weg van die huis, maar dit is weg van die huis, alleen is iets heeltemal anders. Alleen is al een by die huis sonder vrou of kind of kraai.

Vrydag...  ...  ...

Saterdag...  ...  ...

Én die grootste deel van Sondag... !

En Annieka moet nie wil kom staan en vergelyk nie – as ek weggaan met werk dan bly sy én Klaradyn agter - van vingeralleen is daar geen sprake nie. 

En dan bly hulle ook nie agter in ‘n leë huis sonder ‘n vader nie, hulle trek by Ouma en Oupa in, daar word vir hulle gekook, of lekkerder nog, soos laasjaar toe ek ‘n week lank weg was – hulle vlieg af Kaap en rits tussen die wynplase rond!

Dit was voorwaar vir my ‘n vreemde ervaring. Hierdie naweek.

Annieka, Klaradyn, my skoonma en swaer is Vrydag deur Kaap toe om baie nodige besoek aan Annieka se ouma (iets soos 96) te bring.

Ja, ek het nie nodig gehad om alleen te wees nie, ek kon gaan kuier het, ek kon selfs mense oorgenooi het, maar het dit, vooraf, nie vir een oomblik oorweeg nie.

En toe ek eers daar in is, die blou hond en dood op my hakke is en in  my nek blaas, toe oorweeg ek ook nie om weg te hol en geselskap op te soek nie.

Toe kry ek myself net met volle oorgawe en uit volle bors vreeslik jammer en kry dit klaar en oor en verby.

Ek het nie my lippe aan drank gesit nie.

En Leonard Cohen nie een keer in die eietydse draaitafel gesit nie.

Tussen die vrot voor die TV het ek positief probeer bly en darem heerlike spek-en-bone-sop gekook, dis nou vir toe die dames weer tuis kom:

1 gerookte varkskenkel, 1 pakkie spekvleis, 2 uie, 2 wortels, 500 g boontjies, rooipeper, lourierblare, naeltjies, 1 blikkie tamatiepasta – daglank in prutpot en bedien met knertsie asyn (of suurroom, soos een van die resepte wat ek vir inspirasie geraadpleeg het, genoem het.)

Hier het ek intussen op ‘n resep afgekom wat basies, met ‘n uitsondering hier en daar, neerkom op dit wat ek opgekook het.

Ek week ook nie die boontjies oornag nie. Ek het gehoor dis die sout wat die skille in taai doppe verander. So nou gooi ek bloot die sout by as alles klaar murgsag gekook is.

Ter wille van die rekord:  Ek het darem ook nie net TV gekyk en sop gemaak nie, ek het selfs my klere van die grond opgetel en in die wasbalie gegooi.

Twee keer!

Die badhanddoek ook!

Én ek het die borde en glase wat oor die loop van die naweek wat soos ‘n week gevoel het, voor die TV rusplek gekry het, in die opwasbak gepak.

Ek het inderdaad ook die toiletsitplek wat maande los is, met grootse grootste  moeite (en vermoedelik, gemengde sukses) weer vasgedraai.

Ek het om die waarheid te sê, só fluks gevoel dat ek in ‘n stadium gedink het, as Annieka en Klaradyn vir ‘n hele week weg moet gaan, hulle sal terugkom en instap in ‘n huis wat van binne nuut uitgeverf is. 

Of dalk het ek die lapa oorgebou waar ons hom nou al 10 jaar lank graag sal wil hê. 

Die bougainvillea sal afgekap en weggery wees.

Ag siestog, en toe kom die meisies hongerig by die huis aan.

Pappa se aandete word toe ‘n laat middagete om die kombuistafel waar ons gesels en op datum kom met wat in elkeen se lewe gebeur het.

Dis nou die einste tafel waar ek vir twee etes sommer gestaan en roosterbrood eet het.

Klaradyn speel te heerlik saam aan die speletjie wat ek Donderdagaand met die girls begin het:  “Annieka, jy moet sorg dat hierdie huis aan die kant is as jy more jou voete hier uitsit. Ek het Vrydagaand ‘n huis vol mense en spyseniers wat intrek om ‘n skaap oor die spit te braai.”

Klaradyn wil weet hoeveel gaste, en wie, toe opgedaag het, wat ons geëet het, en wie in haar kamer geslaap het. (Ek het Sondag, die hoeveelste keer toe ons per SMS en selfoon kommunikeer het, laat weet dat 14:00 darem baie vroeg vir hulle is om terug te kom, al my gaste is nog nie eers wakker nie en as hulle so vroeg kom, weet ek nie of ek die huis opgeruim gaan kry nie. Daar was ook iets rondom die eetkamertafel se poot wat herstel moet word omdat dit gebreek het toe iemand kwansuis daarop gedans het.)

Met my aandete wat toe ‘n laat middagete geword het, het die uiteindelike aandete toe ekstra spesiaal uitgedraai, uit móés draai:  ons aandete was gebakte poeding met room en tuisgemaakte vla.

En as iemand nou vir my gaan sê dat ‘n mens nie gebakte poeding met room en tuisgemaakte vla vir aandete kan eet nie, dan gaan ek lynreg verskil – ‘n mens kán, verál as jy die gesin se blye weersiens vier.

Ek wou Klaradyn nou al die vorige twee naweke aan die poeding waarvoor ek as klein kind so lief was, bekend stel, maar verniet of die naweekprogram dit toegelaat het. Nie dat dit moeilik of moeite is nie, ek het net nie daarby uitgekom nie.

Die vorige keer dat ek die betrokke poeding gemaak het, was iewers tussen 1983 en 1985 op universiteit. Toe kon jy dit kits in ‘n boksie koop. Daar was twee papiersakkies in elke boksie, een vir die sous en een vir die beslag.

Dis die klassieke sjokoladepoeding waar die beslag onder in die bak kom en die sous bo-oor. Maar kom dit uit die oond, dan is die beslag bó en die souserigheid lekker dik en glad ónder dit alles.

So toe dek ons tafel met die ekwivalent van dit wat in ander huise die Noritake of Royal Doullton is, en die room en die tuisgemaakte vla word in opdienbekers gegooi.

En ons sit aan.

Annieka leer ken die poeding vir die eerste keer, ek word weer kind in my kleintydhuis, en Klaradyn smul te lekker; sy herinner my aan haar kompliment van vroeër die week: “Ek sal Pappa vertrou om vir die koningin van Engeland kos te maak!”

Maar waarom sal ek wil, ek maak dan klaar kos vir die koningin en kroonprinses van Witstinkhoutstraat 13.

Veral nádat hulle ‘n dag of wat weg was, en Pappa tyd had om sy seëninge te tel.


Naskrif:  

Hier is die hele liedjie rondom die bier vir ontbyt:

"Sunday Morning Coming Down"

Well, I woke up Sunday morning 
With no way to hold my head that didn't hurt. 
And the beer I had for breakfast wasn't bad, 
So I had one more for dessert. 
Then I fumbled in my closet through my clothes 
And found my cleanest dirty shirt. 
Then I washed my face and combed my hair 
And stumbled down the stairs to meet the day. 

I'd smoked my mind the night before 
With cigarettes and songs I'd been picking. 
But I lit my first and watched a small kid 
Playing with a can that he was kicking. 
Then I walked across the street 
And caught the Sunday smell of someone frying chicken. 
And Lord, it took me back to something that I'd lost 
Somewhere, somehow along the way. 

On a Sunday morning sidewalk, 
I'm wishing, Lord, that I was stoned. 
'Cause there's something in a Sunday 
That makes a body feel alone. 
And there's nothing short a' dying 
That's half as lonesome as the sound 
Of the sleeping city sidewalk 
And Sunday morning coming down. 

In the park I saw a daddy 
With a laughing little girl that he was swinging. 
And I stopped beside a Sunday school 
And listened to the songs they were singing. 
Then I headed down the street, 
And somewhere far away a lonely bell was ringing, 
And it echoed through the canyon 
Like the disappearing dreams of yesterday. 

On a Sunday morning sidewalk, 
I'm wishing, Lord, that I was stoned. 
'Cause there's something in a Sunday 
That makes a body feel alone. 
And there's nothing short a' dying 
That's half as lonesome as the sound 
Of the sleeping city sidewalk 
And Sunday morning coming down.




3.6.13

Die verwagte minimum- en maksimumtemperature, Pretoria

Op een van die sosiale netwerke plak ‘n vriend die komende week se weervoorspelling en dié woorde daarby:  Winter in PTA??? Met maksimums van 26. Lekker dorpie dié!!!!


Ja, die een tyd van die jaar wat ek nog nooit uit enige bors, wat nog te sê volle bors, kon besing nie, wil vanjaar net nie end kry sodat ‘n tyd van die jaar waarín my hart en mond, en waarván my beker oorloop, winter, kan aanbreek nie.

Die tyd van die jaar wat my nog nooit liries had nie, die een wat vanjaar so voortsleep, kan duidelik op my vriend se spoeg-en-plakwerk opgemerk word – daardie kort tydjie van die jaar (die meeste ander jare is dit kort) wanneer die daaglikse minimum- en maksimumtemperature die meeste van mekaar verskil, wanneer die oggende koud is en jy met truie en baadjies aan jou lyf by die deur uit sit, net om hier teen 10:00 weer ter wille oorlewing van alles ontslae te moet raak.

Dis die tyd van die jaar wanneer ek in drie werksweke daarin slaag om bykans elke denkbare trui in my kas in my klas oor my stoel, op die kas, oor die grond, tussen die goed op my rak, en selfs ín my kas te kry.

Dan breek daar so vier of vyf dae aan waarop ek met, sê maar, ‘n groen trui by ‘n swart broek wat geensins daarby pas nie, of ‘n bruin trui by nog minder by die betrokke blou broek pas, skool toe gaan. By die skool gekom, skiet ek dan nie reguit deur kombuis toe, waar dit warm is en daar koffie is nie, nee, die warm asem maak sulke wit wolkies voor my mond soos ek deurskiet klaskamer toe om tog net ‘n trui op te spoor wat by die dag se skoene, kouse, hemp en broek, pas.

Hierdie fase in die jaar se verloop, en ek hou vanjaar 26 jaar lank skool, ek ken dit 26 jaar, word dan opgevolg deur die laaste, baie korter fase – hoogstens ‘n dag of wat – waarop ek blou van die koue by die skool uitkom – álles wat warm is, is by die skool, truie, serpe, baadjies, musse, noem maar op.

Dis dan wanneer ek drie of vier fris jong skoolseuns nader hark met die woorde dat hulle tog hulle meneer moet help om al hierdie truie en dinge en wollerige warmmaakgoeterstes in sy kar te kry.

Dan is ek soggens net tot die einde van die week koud slegs tussen die kombuisdeur en die motorhuis semi verkluim en halfkaal – ek kom langs die motor, uit die agterste helfte en kattebak klaar aangetrek.

Teen Sondag is alles oor en verby. Teen daardie tyd het Annieka iewers oor die naweek al geweier om saam met my in die kar te klim, voor ek nie alles uit die kar het nie. Dis ook nie net ‘n geval dat sy weier nie, daar is bloot net nie plek vir haar én Klaradyn, én ek, in een kar saam met die vrag wolgoed nie.

Party jare begin alles dan weer van voor af, maar dis uitsonderings, want teen die einde van siklus 1 is dit gewoonlik al so koud, dat ons nie meer nodig het om iewers deur die loop van die oggend af te moet skil nie.

Wat dán lekker is, is die feit dat daar dan altyd net drie of vier ekstra lagies warm goed in my klas is. Die dae waarop ek my dan met die weer (of my warm dingetjie[s] vir die dag) misreken het, dan het ek ‘n tweede, ekstra, ietsie reg en gereed in die klas om my teen die koue te pantser.

As ek uitreken, sou ons met vanjaar se uitsonderlike maksimumtemperature, teen hierdie tyd al na aan die einde van ‘n tweede siklus gewees het, indien nie reeds diep in ‘n derde een in nie.

Maar daarvan het ons vanjaar, vir die heel eerste keer in 27 jaar, net mooi niks nie.

En dis ook hoekom ek vanjaar nog minder van hierdie tyd van die jaar hou.

Sien, die ding staan so – ek trek nie teen 10:00 my truie uit nie, ook nie teen 12:00, 13:00 of 14:00 nie.

En dis nie omdat ek nie wil nie, EK KAN NIE!

Ek het in die laaste soveel gewig opgetel dat ek letterlik nie ‘n enkele langmouhemp het wat gemaklik, gerieflik, om my middellyf hang nie. Rondom die ewenaar is daar met élke langmouhemp deesdae raakplekke, kontak, wrywing, friksie, tussen middellyf en hemp. Die goed gaap nog oop van knoop tot knoop, soos ‘n mens partykeer sien nie, behoed my van dit, maar daar is daardie ongemaklike kontak.

Die gevolg is dat ek vanjaar goed voel tot 10:00 en van dan af verder bloot net uitsterf van die hitte tot dit huistoegaan tyd is. En teen daardie tyd is ek van binne al so verwelk in my trui, dat ek beswaarlik die krag oor het om die motor by die huis te kry, wat nog te sê om my natgeswete warm en moeg arms bo my kop te kry, om my trui uitgetrek te kry voor ek huis toe ry.

Party smiddaes voel dit my ek gaan by een van die verkeerligte sommer net uitpaas (ja, dis hoe in 27 jaar by baie skoolkinders en hul opstelle geleer het, hoe daardie Engelse woord in Afrikaans gespel word).

En as ek nie op die hoek van Duncan en Lynwood uitpaas terwyl ek wag vir die robot om oor te slaan nie, dan voel dit my ek beswyk sommer net daar op die plek van die dag se trui en knappe hemp.

Waarom nie bloot net groter langmouhemde gaan koop nie, verbeel ek my hoor ek iemand vra.

Ek het vanjaar reeds meer op wintersklere uitgegee as die vorige vyf jaar saam! Ek kan nie nog ‘n sent op klere uitgee nie, nie op ‘n enkele kous of sakdoek eers nie! Doen ek dit en die motor bars ‘n band, kan ek nie die band vervang nie – daardie ekstra kouse het my oortrokke bankrekening teen daardie tyd lankal by sy limiet gebring.

So 15 jaar gelede het ek ‘n spul liggewig polonektruie gehad wat ek soggens skool toe aangetrek het.

O, dit was lekker! Ek haat mos ‘n das om my nek. Dan het ek hierdie polonektruie sonder langmouhemp en das aangetrek, dit was my hemp vir die dag. Dan is ek met ‘n baadjie of ‘n ding daarby werk toe. 

Maar dit was 15 jaar gelede, ek het vyf jaar later soos ‘n oorryp piesang in ‘n te klein skil begin lyk! En had ek die goed vandag steeds, sou ons van ‘n waatlemoen in ‘n granadilla se dop, moes gepraat het.

Dis nou jare dat ek uitkyk vir nuwe polonektrui-hemde, maar verniet, dis of die goed net nooit bestaan het nie. Die vrouens se rakke en rye staan en vol van die goed. Woolworths alleen het vanjaar nie minder nie as NEGE kleure vir tannies om uit te kies!

Nie die ooms nie!

Nee, ek jok, daar was een Woolworths in Gauteng, vra my, ek was by almal, wat twee beigerige liggewig polonektruie vir mans gehad het – ‘n small en ‘n extra small!

Ek het die gawe man wat my te woord gestaan het, tot oorkant die Vaalrivier na Woolworths-takke laat bel, maar nie een kon help nie.

En toe, wonders bo wonders, na ek selfs in koffiewinkels begin vra het of hulle nie iewers tussen die lieflike koeke wat daar oorkant in sulke glas yskaste staan en/of ronddraai, vir my een of twee liggewig mans polonektruie het nie, spoor ek ‘n plek soos Stuttafords of Greatermans op wat die allerlieflikste reeks liggewig polonektruie vir mans aanhou. Nie een nie, nie twee nie, nie drie nie, maar vier verskillende kleure!

Daar kos een van die goedjies toe meer as troupak, hemp, skoene en kouse saam. En dis nie of ek vorige runderpes getrou het nie, ek en Annieka het sommer nou-die-ander-dag die knoop deurgehaak.

Ek het net gou eers ‘n reëling by die bak gaan tref. Hulle is ook so gretig om jou geld te gee wat jy nie het of joune is nie, dat dit nie eers tien minute was nie, toe stap ek vyf minute later met vier liggewig polonektruie vir mans by die winkel uit.

So, nee, langmouhemde koop ek nie – daardie vier truie is die ekwivalent van vier troupakke klere, agt leerskoene, sestien kouse en vier satynhemde, daar is nie ‘n manier nie.

En nou is die goed al amper ‘n maand in my kas, sonder dat ek dit nog ooit aangehad het – dis nie koud genoeg nie! Ek trek dit twee of drie keer elke week aan, party soggens kom ek self tot in die kombuis met een, maar dan wéét ek, ek gaan te warm kry, ek moet die ding gaan uittrek.

Soos dit nou vir my lyk pak ek die vakansie die kar en sit met die gesin af Golden Gate toe, of na daardie dam in die middel van Betlehem, en kampeer daar – net om te kan voel hoe dit voel om my polonektruie te dra.

31.5.13

Hoffmanstraat 4

fotobron

Partykeer, net partykeer, gebeur daar dinge wat my die bonatuurlike of paranormale minder van ‘n kouse skouer sal laat gee.
Eergisternag blaf een van die honde my kwart voor drie die oggend wakker. Ek staan op en gaan loop die ellendige draai wat die aanstap van die jare my deesdae laat loop.
‘n Vriend het op ‘n dag kwyt geraak dat jy weet jy word oud as jy in die middel van die nag opstaan en dis nie om huis toe te gaan nie. En dis waar ek ek nou is, ek staan op en dis in my eie huis, my eie kamer en eie bed.
Wat dit erger maak, en ek is nou seker al ‘n maand daarvan bewus – ek kan nie meer wakker word en opstaan, of eerder “opspring” soos ek al die jare gewoond was nie. O, nee, ek moet dis nou se dae met verdrag kom, in fases en stappe. Spring ek op en hol ek badkamer toe het ek, teen die tyd dat ek halfpad na die eerste deur toe is, seer op plekke waar ek in my ganske lewe nog nooit eers van plekke bewus was nie.
Dis dan wat ek sommer net wil neerslaan en verder kruip tot by die wit troon.
So, teen die tyd dat ek deesdae wakker geblaf is, tydsaam en met verdrag opgestaan het en my draai klaar geloop het, dan is ek pikwakker teen die tyd dat ek weer langs Annieka inskuif.
En as my brein intussentyd en teen daardie tyd reeds ingeskop en aangeskakel het, dan is dit verby, ek kry hom nie weer afgeskakel en in slaapmodus voor die volgende aand teen slaaptyd nie.
Eergisternag toe is dit weer so – my gedagtes is dadelik by die aangename droom waaruit die hond my wakker geblaf het.
Ek sit met die paradoks:  ek is vies dat die hond my droom versteur het, maar weet tegelykertyd dat ek van die droom niks sou onthou of geweet het, as die dierasie nie aan die blaf gegaan het nie. Dis blykbaar ‘n feit – ‘n mens is net bewus van drome waaruit jy wakker word; word jy nie wakker nie, is daardie droom baie diep in die onderbewussyn weggebêre teen die tyd dat jy wakker word. Met my werk dit beslis so.
In my droom het ek nadat ek haar 27 jaar gelede laas gesien het, vir die eerste keer in al hierdie jare weer ‘n herontmoeting met Tannie Gertie (miskien was dit Gerty – 27 jaar het immers verloop) gehad.
Ons het in die kombuis van Hoffmanstraat (miskien was dit Hofmannstaat – 27 jaar...) 4 gestaan. Tannie Gerty was duidelik 27 jaar ouer, maar nog net so statig en soveel van ‘n dame en voorslagvrou wat sy destyds was.
Daardie jare het sy onder haar man, professor Theunis Botha, die departementshoof van PU vir CHO se Departement Spraakleer en Drama, gewerk. Die administratiewe hoofkantoor van hierdie departement dan nou ook Hofmannstraat 4.
Hoeka by die kombuis van Hoffmanstraat 4 waar Tannie Gerty my in my droom ‘n stywe, stugge drukkie gee, soos die Konining van Engeland so iets sou doen. En ek noem dit styf en stug, selfs gereserveerd, terwyl ek weet, vir Tannie Gertie, en die dame wat sy was, is dit in wese eintlik warm en hartlik verby.
Sy gee my die drukkie en laat val dat sy my nie nou herken of kan onthou nie, maar dat sy sal gaan kyk in die boek wat haar man nagelaat het.
Nee, hoe sal ek nou weet watse boek dit is wat haar man nagelaat het! Dis in my droom. Ek het dit egter beleef dat Prof. Theunis oorlede is en hy ‘n boek nagelaat het met al die oudstudente in. In hierdie boek sal sy my sien soos ek in 1986 gelyk het, en dan sal sy weet wie ek is.
Wat vreemd is, is die feit dat die Prof na die beste van my wete nog leef en dat Tannie Gerty ‘n rukkie gelede afgesterf het.
Terwyl ek toe nou wakker lê en hoop om weer te slaap, hou ek my gedagtes hiermee, en ook met allerhande lieflike Hofmannstraat 4-dinge van 27 en 30 jaar gelede besig.
Ek onthou dat die hele departement in rep en roer was oor Anneli van Rooyen by ons sou kom sing. Die plakkate was die strate vol, kaartjies is verkoop en ek sweer die houte blokkiesvloer is selfs blinker as gewoonlik politoer.
Ek stap toe om die een of ander rede as verwaande student by Tannie Gertie (ons het ván haar as Tannie Gertie, maar mét haar as Mevrou Botha) se kantoor in. Sy ontvang my stylvol en vriendelik en stel my ook voor aan die ander dame by haar in haar kantoor. “En dis nou Anneli, “ sê sy.
En ek is arrogant, verwaand, domonnosel, te-groot-vir-my-skoene-genoeg om af te haak met:  “Anneli, wie?”
Tannie Gerty het dit stylvol hanteer soos die koningin van Engeland ‘n diplomatieke  faux pas sou hanteer.
Ek onthou Hannes Muller wat rondom ‘n soortgelyke konsert waar Tannie Gerty in baie noue samewerking met Tannie Alice Sirakis die geurigste eetgoedjies berei het, rondloop en sê:  “Ek is ‘n frikkadelle-dief.” Die twee formidabele voorslagvrouens het hom betrap dat hy onder die versnaperinge van die komende aand inklim en hom ‘n deeglike oorkonkel gegee.
Iemand, lees ek later, het rondom haar afsterwe destyds genoem dat sy wat Gerty is, die Dramadepartement was, haar man was maar net die hoof of kop.
My gedagtegang stop by die laaste besoek wat ek ooit aan Hoffmannstraat 4 gedoen het. Dit moes dan nou 1993 gewees het. Die departement het toegemaak. Nee, die departement het nie toegemaak nie, die departement is toegemaak. Deur penne en handtekeninge met meer magte as die Puk self.
Ons het ‘n afskeidsreünie gehou, en toe is dit iets van die verlede, geskiedenis en ‘n herinnering.
Na my herbesoek aan die verlede staan ek toe maar op, ek wonder wat op deeske aarde dit sou kon wees wat my na 27 jaar by Tannie Gertie en Hofmanstraat 4 uitgekry het, gaan skuif agter die rekenaar in en maak my e-pos-posbus oop.
Daar het inderdaad oornag iets in beland:

"Jy en jou metgesel word hiermee uitgenooi na ʼn
REÜNIE
van oudstudente van die Dept. Spraak en Toneel (PUK) op
SATERDAG 28 SEPTEMBER 2013 (laaste dag van Aardklop 2013)

Ons hou ‘n SKAAPBRAAI van 17:00 af en kuier tot ou-nag toe.

KOSTE (per persoon): R150

Jy reël jou eie verblyf en daar sal 'n kontantkroeg by die skaapbraai wees.
Kyk aangeheg 'n lys van gastehuise. Onthou dis Aardklop en verblyf is skaars. So, bespreek maar so gou moontlik.
Dis vanjaar presies 20 jaar vandat die departement gesluit is. Dis hoogtyd vir ‘n goeie kuier deur al die oudstudente van 1965 af.

Bevestig asseblief
 
bywoning VOOR  30 JUNIE
Natuurlik word NIEMAND verskoon nie.

Jy sorg dat jy daar is! Slegs ‘n dokter- of doodsertifikaat word as verskoning aanvaar!
"

Ek het gaan kyk hoe laat die e-pos gestuur is. Gelukkig was dit nie kwart voor drie nie.
Ek wonder daarom steeds waarom die hond aan die blaf gegaan het.
Dit was beslis darem nie die posman gewees het wat my e-pos kom aflaai het nie.