Pages

31.5.13

Hoffmanstraat 4

fotobron

Partykeer, net partykeer, gebeur daar dinge wat my die bonatuurlike of paranormale minder van ‘n kouse skouer sal laat gee.
Eergisternag blaf een van die honde my kwart voor drie die oggend wakker. Ek staan op en gaan loop die ellendige draai wat die aanstap van die jare my deesdae laat loop.
‘n Vriend het op ‘n dag kwyt geraak dat jy weet jy word oud as jy in die middel van die nag opstaan en dis nie om huis toe te gaan nie. En dis waar ek ek nou is, ek staan op en dis in my eie huis, my eie kamer en eie bed.
Wat dit erger maak, en ek is nou seker al ‘n maand daarvan bewus – ek kan nie meer wakker word en opstaan, of eerder “opspring” soos ek al die jare gewoond was nie. O, nee, ek moet dis nou se dae met verdrag kom, in fases en stappe. Spring ek op en hol ek badkamer toe het ek, teen die tyd dat ek halfpad na die eerste deur toe is, seer op plekke waar ek in my ganske lewe nog nooit eers van plekke bewus was nie.
Dis dan wat ek sommer net wil neerslaan en verder kruip tot by die wit troon.
So, teen die tyd dat ek deesdae wakker geblaf is, tydsaam en met verdrag opgestaan het en my draai klaar geloop het, dan is ek pikwakker teen die tyd dat ek weer langs Annieka inskuif.
En as my brein intussentyd en teen daardie tyd reeds ingeskop en aangeskakel het, dan is dit verby, ek kry hom nie weer afgeskakel en in slaapmodus voor die volgende aand teen slaaptyd nie.
Eergisternag toe is dit weer so – my gedagtes is dadelik by die aangename droom waaruit die hond my wakker geblaf het.
Ek sit met die paradoks:  ek is vies dat die hond my droom versteur het, maar weet tegelykertyd dat ek van die droom niks sou onthou of geweet het, as die dierasie nie aan die blaf gegaan het nie. Dis blykbaar ‘n feit – ‘n mens is net bewus van drome waaruit jy wakker word; word jy nie wakker nie, is daardie droom baie diep in die onderbewussyn weggebêre teen die tyd dat jy wakker word. Met my werk dit beslis so.
In my droom het ek nadat ek haar 27 jaar gelede laas gesien het, vir die eerste keer in al hierdie jare weer ‘n herontmoeting met Tannie Gertie (miskien was dit Gerty – 27 jaar het immers verloop) gehad.
Ons het in die kombuis van Hoffmanstraat (miskien was dit Hofmannstaat – 27 jaar...) 4 gestaan. Tannie Gerty was duidelik 27 jaar ouer, maar nog net so statig en soveel van ‘n dame en voorslagvrou wat sy destyds was.
Daardie jare het sy onder haar man, professor Theunis Botha, die departementshoof van PU vir CHO se Departement Spraakleer en Drama, gewerk. Die administratiewe hoofkantoor van hierdie departement dan nou ook Hofmannstraat 4.
Hoeka by die kombuis van Hoffmanstraat 4 waar Tannie Gerty my in my droom ‘n stywe, stugge drukkie gee, soos die Konining van Engeland so iets sou doen. En ek noem dit styf en stug, selfs gereserveerd, terwyl ek weet, vir Tannie Gertie, en die dame wat sy was, is dit in wese eintlik warm en hartlik verby.
Sy gee my die drukkie en laat val dat sy my nie nou herken of kan onthou nie, maar dat sy sal gaan kyk in die boek wat haar man nagelaat het.
Nee, hoe sal ek nou weet watse boek dit is wat haar man nagelaat het! Dis in my droom. Ek het dit egter beleef dat Prof. Theunis oorlede is en hy ‘n boek nagelaat het met al die oudstudente in. In hierdie boek sal sy my sien soos ek in 1986 gelyk het, en dan sal sy weet wie ek is.
Wat vreemd is, is die feit dat die Prof na die beste van my wete nog leef en dat Tannie Gerty ‘n rukkie gelede afgesterf het.
Terwyl ek toe nou wakker lê en hoop om weer te slaap, hou ek my gedagtes hiermee, en ook met allerhande lieflike Hofmannstraat 4-dinge van 27 en 30 jaar gelede besig.
Ek onthou dat die hele departement in rep en roer was oor Anneli van Rooyen by ons sou kom sing. Die plakkate was die strate vol, kaartjies is verkoop en ek sweer die houte blokkiesvloer is selfs blinker as gewoonlik politoer.
Ek stap toe om die een of ander rede as verwaande student by Tannie Gertie (ons het ván haar as Tannie Gertie, maar mét haar as Mevrou Botha) se kantoor in. Sy ontvang my stylvol en vriendelik en stel my ook voor aan die ander dame by haar in haar kantoor. “En dis nou Anneli, “ sê sy.
En ek is arrogant, verwaand, domonnosel, te-groot-vir-my-skoene-genoeg om af te haak met:  “Anneli, wie?”
Tannie Gerty het dit stylvol hanteer soos die koningin van Engeland ‘n diplomatieke  faux pas sou hanteer.
Ek onthou Hannes Muller wat rondom ‘n soortgelyke konsert waar Tannie Gerty in baie noue samewerking met Tannie Alice Sirakis die geurigste eetgoedjies berei het, rondloop en sê:  “Ek is ‘n frikkadelle-dief.” Die twee formidabele voorslagvrouens het hom betrap dat hy onder die versnaperinge van die komende aand inklim en hom ‘n deeglike oorkonkel gegee.
Iemand, lees ek later, het rondom haar afsterwe destyds genoem dat sy wat Gerty is, die Dramadepartement was, haar man was maar net die hoof of kop.
My gedagtegang stop by die laaste besoek wat ek ooit aan Hoffmannstraat 4 gedoen het. Dit moes dan nou 1993 gewees het. Die departement het toegemaak. Nee, die departement het nie toegemaak nie, die departement is toegemaak. Deur penne en handtekeninge met meer magte as die Puk self.
Ons het ‘n afskeidsreünie gehou, en toe is dit iets van die verlede, geskiedenis en ‘n herinnering.
Na my herbesoek aan die verlede staan ek toe maar op, ek wonder wat op deeske aarde dit sou kon wees wat my na 27 jaar by Tannie Gertie en Hofmanstraat 4 uitgekry het, gaan skuif agter die rekenaar in en maak my e-pos-posbus oop.
Daar het inderdaad oornag iets in beland:

"Jy en jou metgesel word hiermee uitgenooi na ʼn
REÜNIE
van oudstudente van die Dept. Spraak en Toneel (PUK) op
SATERDAG 28 SEPTEMBER 2013 (laaste dag van Aardklop 2013)

Ons hou ‘n SKAAPBRAAI van 17:00 af en kuier tot ou-nag toe.

KOSTE (per persoon): R150

Jy reël jou eie verblyf en daar sal 'n kontantkroeg by die skaapbraai wees.
Kyk aangeheg 'n lys van gastehuise. Onthou dis Aardklop en verblyf is skaars. So, bespreek maar so gou moontlik.
Dis vanjaar presies 20 jaar vandat die departement gesluit is. Dis hoogtyd vir ‘n goeie kuier deur al die oudstudente van 1965 af.

Bevestig asseblief
 
bywoning VOOR  30 JUNIE
Natuurlik word NIEMAND verskoon nie.

Jy sorg dat jy daar is! Slegs ‘n dokter- of doodsertifikaat word as verskoning aanvaar!
"

Ek het gaan kyk hoe laat die e-pos gestuur is. Gelukkig was dit nie kwart voor drie nie.
Ek wonder daarom steeds waarom die hond aan die blaf gegaan het.
Dit was beslis darem nie die posman gewees het wat my e-pos kom aflaai het nie.

22.4.13

Elke liédjie vertel ‘n storie?

Iewers is die woorde “elke liedjie vertel ‘n storie” in my ingeprent. Ek vermoed dit moes die naam van ‘n program op die Afrikaanse diens van die SAUK, lank voor dit RSG geword het, gewees het.
Die woorde het in my bewussyn vasgesteek en maal nou al donkiesjare lank gereeld deur my kop, elke keer as ‘n sekere liedjie ‘n spesifieke herinnering by my oproep.
Dis ‘n algemene ding, die neiging om onmiddellik na iewers in die verlede verplaas te word, die oomblik dat jy ‘n deuentjie hoor.
Daarom ook dat jy my nie moet vra wat my gunstelingliedjie is nie. Dit hang alles af van my gemoedstoestand op daardie betrokke oomblik, waar ek is, tussen wie, en hoe die weer daar buite lyk. Hierdie dinge bepaal watter herinnering op daardie oomblik die naaste aan my hart lê, en daardie herinnering roep dan die liedjie op.
Vanoggend  vroeg se gunstelingliedjie, is daarom nie nou, ure later terug van die werk,  se gunstelingliedjie nie, en nog minder netnou, tydens ‘n kuier met ou skoolvriende, se gunstelingliedjie.
Ek, en ek vermoed ten sterkste dis eerder maar ons almal wat so is,  hou van ‘n betrokkie liedjie, nie oor die liedjie nie, maar oor die storie wat dit oproep en vertel.
Hier by die skool moes ons verlede jaar ons gunstelingliedjie opgee. Die gedagte was om ‘n CD se saam te stel met die personeel se gunstelinge op, en verjaar ons die dag, is dit die CD wat die skool jou saam met die verjaarsdagkaartjie en mooi wense gee.
Dit was die tweede keer dat ons dit doen; die eerste keer was sowat nege of tien jaar gelede.
Wat my gunsteling tóé was, weet ek nie.  Annieka s’n was destyds Steve Hofmeyer se gewilde Pampoen-liedjie.
Wat net weer eens my teorie bewys:
“Pampoen” is daardie jare gereeld oor die radio gespeel. Sy was swanger met Klaradyn en die liedjie het die wonderlikste herinneringe rondom die swangerskap ingehou, onder andere hoe lekker en ongebreidel sy met op die maat van hierdie musiek met ons een patryshond, Boeta, maar indirek eintlik met haar ongebore babadogtertjie, gedans het.
Klaradyn self het na haar geboorte, as pappe baba, gereeld duidelik gewys dat daardie “Pampoen” –liedjie herinneringe by haar opwek, wat uit die aard van die saak dan nou baarmoederlike herinneringe moet wees.
Ons is steeds, natuurlik nie vreeslik wetenskaplik nie, van mening dat haar liefde musiek en dans, sy oorsprong in Steve se liedjie het.
Sy het aan die skop gegaan, elke keer as die liedjie gespeel het. Of dit nou in die baarnoeder was, of, as suigeling, daar buite.
Ag siestog, en dalk was dit nog uit pure trauma en niks anders nie, omdat haar ouers selfs voor haar geboorte elke keer die klank opgestel het as hulle die liedjie gehoor het. En as hulle nie boonop spontaan saam begin dans het nie, het haar ma die hond nader gepluk en met dié ruk-en-pluk- en hop-en-skop-bewegings begin uitvoer.
Maar wat my gunstelingliedjie op daardie CD was, weet ek regtig nie. Ek sal moet gaan kyk.
Ronde twee, het ek die een of ander man wie se naam my nou ontgaan se “Piano man” opgegee.
Ek sou seker in tien jaar nie daardie liedjie opgegee het nie.
Ek sal tien teen een in die volgende tien jaar ook nie weer daardie liedjie opgee nie.
Maar op daardie oomblik, daardie dag, toe ek my gunsteling gunsteling moes opgee, was die storie wat “Piano man” tóé vertel het, die storie wat ek die graagste vertel wou hoor. Die ergste is, ek weet vandag nie eers wat daardie storie is.
As jy moet vra wat my gunsteling liedjie is, kan jy enige van die volgende, en nog onnoembaar baie ander, kry:  enige oorbekende iets van James Last en sy orkes, enige een van seker sowat vyftien Laurika Rauch / Anneli van Rooyen-treffers, “Once upon a time there was a tavern, where we used to raise a glass or two, we used to laugh away the hours, and think of all the great things we would do – those were the days my friend, we thought they’d never end…”
Ook Words, maar nie die een van die words that don’t come easy nie, die een wat wegval met smile an everlasting smile.
En dan is daar nog die melodie en woorde wat vertel van die dae toe ons klein en kersfeesbome groot was, die naam het my weereens ontgaan.
En ook tie a yellow ribbon round the old oak tree if you still love me. Hierdie liedjie het kleintyd altyd op troues en danse gespeel – en waar hol en jol klein kindertjies dan ooit so sorgeloos en lekker rond soos op ‘n troue of by ‘n mandjiedans. Ja, dit was die wonderlike tye toe daar nog so iets soos ‘n mandjiedans was, toe kinders nog by troues toegelaat is.
Ek het dit al omgeswaai om by ‘n antwoord uit te kom:  wat is die mooiste of lekkerste herinnering wat deur ‘n spesifieke liedjie opgeroep word. Hiérdie vraag bring my keer op keer by dieselfde antwoord uit.
Maar ons moet versigtig wees om die antwoord op dié betrokke vraag as my gunsteling te etiketteer. Want verander ons die woorde “mooiste” en “lekkerste” in die vraag na iets soos “kosbaarste” of “gemoedelikste,” dan kom daar weer twee ander antwoorde by my op.
Hoogstens daarom dan ‘n gunsteling tussen baie ander gunstelinge, Alphaville se Forever Young. Oor die lieflike, lekker, mooi herinnering wat dit oproep.
In die vier jaar wat ek studeer het, het ons klomp baie partytjie gehou en gedans, maar nooit by die groot en bekende dans- en uithangplekke nie. Nee, ons het aan huis van vriende en vriende se vriende gedans, dikwels in die garage.
Van die allerlaaste partytjie wat ons ooit as ‘n studentegroep vriende so in ‘n garage gehou het, onthou ek hierdie liedjie. Onthou ek die liedjie, die malende lywe, die atmosfeer, die gras, die sementpad motorhuis toe, die lag, die wat al dood is, die wat nog in die lewe is, en belangrikste van alles, watter lieflike aand en oomblik dit was.
Na vier jaar studie was ons gróót, gereed om die grootmenswêreld te betree. Daarom miskien dat die melancholis in my met heimwee vasgegryp het aan die gedagte van I want to be forever young.
Ag, en op die ou einde was dit maar soos die rite de passage wat jou van die huis, laerskool toe; van die laerskool, hoërskool toe; en van die hoërskool, universiteit toe gestuur het – jy het die volgende jaar daar aangekom, en jou gat gesien.
Vir myself en die ander soos ek, wat nie begin werk het nie, maar vir twee jaar army toe gestuur is, was die val en die terug kom aarde toe, natuurlik net soveel groter.
Maar toe ek uit die army kom en begin werk, 1989, toe ek my heel eerste CD-speler ooit, koop, is die eerste CD wat ek koop, niks anders nie as Alphaville se Forever Young nie.
En ek kyk nou al seker vyf jaar weer daarvoor uit; die eerste een het iewers in 1994 voete gekry, en van die tweede een is dit nou al jare dat ek nie die kassie het – wat van die CD geword het, weet ek nie.
Maar, en dis eintlik hoekom ek agter die rekenaar kom inskuif het, dis deesdae al hoe meer en meer vir my asof dit nie net liedjies is wat elkeen ‘n eie storie vertel nie, maar ook kosdisse.
En noudat ek uiteindelik hierby is, besef ek die lang relaas rondom liedjies was eintlik net omdat ek weggehol het van elkeen van hierdie disse, en in besonder die laaste en nuutste een, wat elkeen ook sy eie storie vertel.
Ek het al vertel van my pa en groen- of geelmielies. Ons het die laaste twee weke op twee geleenthede geelmielies geniet. Ek kan nie aansit by mielies, sonder om nie dadelik weer ‘n klein seuntjie aan tafel saam met my ma en pa te word nie. Hans Moolman senior het nie ‘n mielie geëet soos ‘n mens ‘n mielie eet nie; hy het die mielie met sorg (en wit damask servet) aan die kop beetgekry en met sy eie mes van die pitte gestroop. Soos ek dit onthou, het dit reggekry om nie heelwat van die pitte buite die bord oor die tafel te laat dans nie. Miskien onthou ek verkeerd. Maar ek kry dit not-‘n-wielie reg. Sien, Hans Moolman junior kan vandag nie anders as om sy mielies so te eet soos ‘n mens nie veronderstel is om dit te eet nie.
En dan is daar tongvis wat ook sy eie storie het. Vroeër hierdie week was ek dapper, braaf, te groot vir my skoene en het ek aangekondig dat ons vandag, 21 April, tongvis met spinasie en roomsampioene gaan eet. Maar ek het kleinkoppie getrek – tamatieroomsop met mieliekoekies. Die ding met tongvis het kleintyd begin en sy einde gekry in die laaste jaar of wat dat Judy Sondae by ons kom eet het. Ek het van die boksies bevrore tongvis by Woolies gekoop en twee groentes gemaak. Dit was dan vir Judy só spesiaal. Sy het regtig soos ‘n voëltjie geëet, maar eet ons die dag tongvis, dan kan jy maar weet – sy eet met daardie ete meer as die hele vorige week saam.
Ek sal miskien eendag weer tongvis maak, dis my gunsteling visdis en ek is nogal goed met ander tongvis as net Woolies se bevrore pakkies. Maar beslis nie vandag nie – Judy sou vandag 85 gewees het.
Maar dis ‘n man se ouers, en ‘n man se ouers se kos, dié goed kan nie anders as om stories te wil vertel nie.
Die geneuk is net, dié kosstories brei deesdae uit, kring uit en word meer.
Baie vroeër hierdie week, toe ek die gesels begin aanknoop het, maak ek lasagne. En hoewel ek dol is oor kosmaak betrap ek my self dié betrokke ronde dat ek teësinnig is. Toe dit trouens reeds te laat is en ek nie kan omkeer, terugdraai of ophou nie, is ek sommer lelik spyt dat ek ooit begin het.
Die vorige keer dat ek lasagne gemaak het, was dit omtrent ‘n hele dag of naweek se maak. Ek verbeel my dit was ses of agt van hierdie blink tinfoeliebakke wat jy in die supermarkte koop. Dit was in elk geval hopeloos te veel om alles vir my vriende te gee, en ons het twee of drie hier by ons gevries.
En ek kan my ook nie indink dat hulle alles al opgeëet het teen die tyd wat ons al begrafnis gehou het nie.
Ek het toe maar ‘n groot glas rooiwyn geskink, besef dat nie net elke liedjie meer ‘n storie vertel nie, ook elke dis. En terwyl  ek die lasagne klaarmaak, het ek in my kop die storie van Lentelie Bosman, wat later Lentelie van Helsdingen geword het, laat uitspeel. Teen die tyd dat ek die bechamel –sous oor had, was dit 29 jaar later.
Ek wou my vriend bel, maar oor ek hom aan die ander kant nie wou konfronteer met lasagne waarmee ek hom sou moes konfronteer nie, het ek dit daar gelaat.
En waaragtig, toe bel hy my.
Soveel liedjies, soveel disse – soveel stories.

15.4.13

Wyk, Somer, wyk

As die somer dan nou verjaag is, is dit my skuld. Dit was geensins my bedoeling nie, maar dit sal my nie verbaas as Demeter vir Persephone vanjaar voortydig terugstuur onderwêreld toe, na Pluto toe nie.
Ja, Demeter, Persephone en Pluto! En was dit nie heerlik nie: na ek vir jare net van die twee boeke bewus is, loop ek toe, binne twee weke na mekaar, die enigste twee uitgebreide, ordentlike, Afrikaanse oorvertellings van die Griekse legendes en mites, waarvan ek bewus is, raak.
Wat laaste was, kom toe eerste, want die eerste wat ek raakloop is L C de Jager se Griekse Legendes, in 1967 deur Voortrekkerpers uitgegee. En toe, om die kersie op die kroon te span (!?) kom ek af op P J Conradie se Avonture van die Griekse helde en gode wat in 1964 deur Human en Rousseau op die rak geplaas is.
Naas die eerste twee Afrikaanse Asterix-boeke wat ek net móés koop die oomblik toe Protea-uitgewers dit loslaat, is die Griekse legendes toe ál waaruit ek die hele vakansie voorlees. Soggens in die tent, soggens op die strand, smiddaes as ons skuinslê, én saans voor ons gaan slaap.
Klaradyn is na die vakansie ‘n lopende ensiklopedie oor die Griekse kultuurskat.
De Jager se skrywe, lei ek af, was ‘n poging om ‘n meer kindervriendelike weergawe van Conradie se hardebaard vertelling te wees. Maar ons is Conradie dwarsdeur, van voor tot agter. Van die bandelose seks toe die Argonoute op die eiland Lemnos op die spul vroue afkom wat ‘n rukkie van te vore elke man waarop hul hul oog kon lê, vermoor en toe in talle opsigte ‘n groot gemis aan hul mans ontwikkel het, tot Tantalos wat sy eie seun, Pelops, opgesny, gaar gekook en vir die gode voorgesit het.
1964 se oorvertelling van al die ongebreidelde seks, veral Zeus wat ‘n vrou nie kon uitlos of laat verby gaan nie, is egter so eufemisties aangebied dat vandag se jong lesers dit op 22 nie eers sal herken nie.
Maar waar die vier seisoene volgens die ou Grieke vandaan kom en hoe Pluto (toe nie ‘n planeet wat na ‘n Disney-karakter vernoem is nie) daarby inpas, sal Klaradyn jou kan vertel.
En dat ek die somer wegjaag ook.
Ek sal die somer nooit verby wens nie. Maar ek sal altyd na die winter uitsien, reikhalsend en halsreikend.
Vrydag is ons hier in Pretoria vir die eerste keer daaraan herinner dat dit nie verniet elke oggend later lig word nie – ons gaan oor drie maande koue hê.
En die eerste wat ek met kinderlike opwinding rondloop en vertel, is dat ons, solank die koue net hou, hierdie naweek gaan sop eet.
Vrydagaand is egter uit. Ek het Donderdagaand reeds Vrydagaand se kos gemaak. Nie omdat ek wou nie, maar omdat Annieka toe, na ek alles aangekoop het, herinner dat sy nie daar is vir aandete nie, sy het ‘n vergadering.
Donderdagaand, terwyl die heerlikste geure van die een stoofplaat opstyg, braai ek toe vir my en Klaradyn visvingers wat ons met geelmielies en die oorskiet van Mamma se verjaarsdagete-slaai geniet.
Ek was só reg vir die lekkerste aandete, maar dit sou moes oorstaan vir na Vrydag.
Na skool gaan laai ek ‘n graad 11-seun wat saam met my ry, by sy huis af. In my agterkop is altyd daardie “wat eet ons vanaand” en ek klop by hom aan vir inspirasie: “As jy vanaand se aandete kon kies, wat sal dit wees?”
“Spaghetti bolognaise,” antwoord hy sonder om twee keer te dink.
En ek weet, spaghetti bolognaise sal dit dan wees, nie spaghetti en mince nie (dis ook lekker) maar spaghetti met ‘n lieflike maalvleissous soos die Italianers dit maak.
Na ‘n dramatiese pouse, voeg hy egter by: “...met witsous!”
Spaghetti bolognaise en witsous?
Ek het in my lewe nog nie daarvan gehoor nie! Weet die stomme kind ooit wat spaghetti bolognaise is?
Maar ek vra nie uit nie, dis duidelik dat dit presies is wat hy wil hê, en dat dit vir hom die lekkerste van lekkerstes is.
Ek maak my bolognaise-sous, maar die hele tyd maal daardie witsous in my gedagtes. En teen Vrydag kan ek my niks lekkerder as spaghetti bolognaise met witsous voorstel nie – el het ek dit nog nooit geproe nie. Ek het die seun se lyftaal gelees toe hy dit noem, daar was ‘n iets in sy stemtoon, ‘n veraf, verlangende kyk in sy oë. Dit móét héérlik wees!
Vrydag toe kan ek dit nie meer hou nie, ek bel sy ma en vind alles van die witsous uit. En hoe meer sy vertel, hoe meer weet ek, dit gaan vanaand spaghetti bolognaise met witsous vir die Moolmans wees.
Sy ma laat val toe ook dat hulle inderdaad die vorige aand op Boeta se versoek spaghetti bolognaise met witsous gehad het.
Presies wat ons toe Vrydag het, presies soos hy daarvan hou.
Die kou bly, maar Saterdagaand kan ons nie sop nie, ons het verjaarsdagete by Ouma en Oupa-hulle.
En toe vandag, toe is dit warm, snikwarm, ek sit op die oomblik kaalbolyf en tik, so warm is dit.
Daar is egter nie ‘n manier, nadat ek Vrydag al my kop en hart en siel daarop gesit het, dat ons nié hierdie naweek sop eet nie.
Ek is mal oor my eie Portugese hoendersop, maar by die skool het ek nou al drie keer ‘n ander vrou se hoendersop geproe; ek het al in Desember besluit dat ek 2013 se winter met daardie vrou se sop gaan inlei.
Na ek Vrydag alles uitgevra het, wat daar uit te vra is, het ek toe inderdaad, hoogsomerhitte of te not, vanoggend al my hoendersop a’la Nadia begin.
Dis ‘n hoenderroomsop met hoenderdraadjies in, soos daardie draadjies hoender in ordentlike Sjinese sop. Ek het mielies en sampioene bygegooi, én die room wat van die verjaarsdagete se poeding oorgebly het. Ui en knoffel ook. Foelie en naeltjies en alles wat die sop na my mening goed kon doen.
Dit was die eerste keer dat ek daardie pad met ‘n hoendersop loop.
Ek hou van daardie waterige hoendersop wat jy aanvul met rys. My ma wou nie haar mond daaraan sit nie, sy het vertel dat dit die kos was wat hulle kleintyd moes eet as hulle siek was. “En ek is nie meer lank nie meer ‘n kind nie, en nog minder siek,” sou sy haar teësin afsluit.
Ek sal Nadia se pad met hoendersop weer loop, hierdie eerste keer was ‘n sukses, ‘n groot sukses.
Al wat skort en skeel is natuurlik die gebrek aan koue, maar hopelik het die somer haar moer nou so vir my gepluk dat sy haar goed vat en loop.
Klaradyn het hoeka verlede week al vir Annieka vertel dat sy só uitsien na die wintervakansie wanneer ons gereeld saans haar gunsteling tamatiesop by ‘n klein tafeltjie in die hoofslaapkamer, wat ons met ‘n gasverwarmer knus en gesellig kry, eet.
Tamatiesop, hoendersop, bonesop, beesstertsop, groentesop, vleissop, broodsop, pampoensop, klipsop, noem-maar-op-sop... kry julle reg, want – HIER KÓM ONS!

Naskrif:
Daardie witsous van lasgane, bietjie dunner miskien, roer die kind eers by die spaghetti in om dit goed aan te klam. Dan die bolgnaise en as jy rojaal wil wees, kan jy nog ‘n katpoegie witsous bo-op ook om af te rond.
Waar my bolgnaise-sous wegtrek met 3 blikkies tamaties en kleinerige pakkie maalvleis en ewe kleinerige pakkie spekvleis, het die witsous weggeneem uit die tamaties wat die grypie suiker nie kon doen nie.
Die 8 hoenderfilette het ek blokkies gesny en met die geurmiddels eers stoompot toe gestuur voor ek dit met die groente en room in die prutpot laat staan het. Waar dit nou nog staan.
Maar ek sluit af, want ons gaan nou eet.

7.4.13

Toe ek nog gedog het ons het internettoegang



‘n Gekoopte gaar hoender, kaasrolletjies en mayonnaise. Wat kan dan nou lekkerder wees!

Jaar een, vier jaar gelede, was ‘n aansit-restaurantete, tongvis en die tradisionele bygeregte, as ek my dit nie mis het nie.

Maar toe het ons in die reën hier aangekom. En laat. Pappa en Mamma was nat tot teen die been, Klaars droog en knus in die motor se binneruim, teen die dat daglig ons lankal gegroet het en ons uiteindelik die tente soorts van staan gekry het.

Letterlik net soorts van, want die een tent het toe twee weke sonder sy dakseil bly staan. Sonder dat óf ons, óf die tent iéts daarvan oorgekom het!

Ons is bibberend na die restaurant toe, want ek het geweet, as ek die bietjie van my vrou wat behoue gebly het na die nagmerrie van die laat agtermiddag en vroegaand, dan moet ek haar nou weer soos ‘n dame laat voel, en die naaste wat ek daaraan kan kom, is nié Two minute noodles nie, maar iets soos Sole minieurre (sommer ‘n meneer van ‘n vis, onthou ek, het ek destyds die Frans wat ek vanoggend nie kan spel nie, vir Klaradyn verduidelik) en witwyn in langsteelglasies.

Jaar twee het ons hierdie ete iets van ‘n tradisie probeer maak. Maar die eetplek is regtig niks om oor huis toe skryf nie, en as jy wel iets daaroor móét skryf, sal dit wees om te kla oor die simpel dikwandkombuisglase waaruit jy jou wyn moet drink, en die bevrore vis wat proe asof dit met die melktrein al die pad van Johannesburg af tot hier vlak langs die see geboemel het.

So deesdae ry ons ‘n paar kilometer in dorp toe en gaan eet daar, maar dis op die laaste aand as letterlik nog net die dop van een tent staan. Die res, met die uitsondering van die beddegoed en die volgende oggend se klere is alles gepak.

Die laaste jaar toe ons opgepak het, moes ons weliswaar eers winkels toe voor ons kon restaurant toe – ons het in erge reën (Klaars, kom weer en wind en oseaan, warm en droog en veilig en dig in haar tentjie by die see) moes oppak. Daar bly toe vir ons niks anders om te doen as om maar die volgende oggend se going away-pakkies aan trek en vir elkeen van ons twee ‘n piksplinternuwe stelletjie klere te gaan koop nie. Te heerlik, so teen die einde van ‘n vakansie wat in sy eerste week al jou bankrekening in ongekende donkerrooi dieptes en laagtepunte gehad het.

Iets van al hierdie ervarings moes in Annieka se kop vasgesteek het, ook die feit dat ons vanjaar vier vertrekke op plekke wil opslaan:  slaapkamer, speelkamer, kombuis én lapa (of te wel die gazebo). Van laasgenoemde is dit seker nou al vyf jaar dat ons elke leer sê dis die allerlaaste jaar dat ons hierdie getroue ding opslaan, hy kán net nie meer nie. Hy is spierwit grys gebleik deur son en reën, net in die diepste van enkele nate dat hy jou nog daaraan herinner dat hy een of ander tyd in die verre verlede koningsblou was. Daar is nie ‘n paal of lit of gewrig wat nie krom en skeef trek van rumatiek nie. En dan sak haar seil ook uit soos ‘n baie ou teef wat al donkiesjare lank lewe geskenk het se tieties.

Gevolglkik het Annieka vroeg reeds lat blyk dat sy vanjaar ‘n ertjie het – ons gaan nié vanjaar gewone tyd vertrek nie, ons gaan vróég in die pad val. Sy praat van drie-uur opstaan.

Maar dan is ek en sy mos ook nou darem nie van vanjaar af vir die eerste keer saam nie, ons het al vergeet van hoe die huwelikklokke destyds geklink het. So ek kén haar.

Die drie-uur word toe later drie-uur ás ons agtuur in die bed is.

Ek het die lig nege-uur afgesit, en sy was nog met skoolgoed agter die rekenaar besig.

Maar daar leer my lief en dierbare vrou my toe nou na al hierdie jare van getroude lewe en saamwees ‘n nuwe ding of twee, en 03:32 toe is die honde klaar oulaas oor die snoete gevryf en Pappa, Mamma en Klaars in die motor, slaggereed vir die lang pad see toe!

12:00 toe stop ons hier.

En ook maar goed so, want dit neem ons toe meer as vier ure om op te slaan. En dit reën nie, maar dis warm. My oë brand van die sout salpetersweet wat daarin loop. Ek kap manalleen, een of meer hierdie kant of daardie kan toe, nie minder nie as 84 tentpenne van verskillende lengtes in – die langstes daarvan langer as kniehoogte want ons staan op sand.

Annieka speel huisvrou-huisvrou en maak die binnekante mooi leefbaar, Klaradyn maak maatjies met elkeen van die 495 ander kinders in die woonwapark.

En nadat ons amper vyf ure by die see is sonder dat ons in die sand en ons voete in die water was, sit ek daardie twee vuile voete van my dwars neer – ons gaan nié vanaand uiteet nie, ons gaan piekniekete op die strand hê. Ons verdien dit deur en deur.

Daar hop ons doodmoeg winkel toe en kom terug met ‘n gare hoender, kaasbroodjies in so blink pannetjie en ‘n potjie Hellman’s mayonnaise.

Op die strand gekom was daar ‘n ligte misverstand rondom die mes en ek moet die broodjies noodgedwonge met lang repies witvleis smeer.

Maar toe ons elkeen, veilig van die wind, agter ‘n rots, met wonderlike uitsig oor die see,  ‘n drinkdingetjie in die een hand en ‘n hoendermayonnaise-broodjie in die ander hand het, is daar in die ganse Suid-Afrika nie nóg ‘n gesin wat so lekker kan eet soos Pappa, Mamma en Klaars nie.

6.4.13

Met ompaaie see toe en terug

So is die vier van ons toe nou twee weke af see toe en, uit en tuis, ook al weer gister terug. Die internet is saam, maar sonder seinopvangs het daar van al die geselsies wat ek in die vooruitsig had, niks gekom nie.

Ja, jy het reg gelees, die vier van ons, want Ouma Nooi is saam: Pappa, Mamma, Klaars én Oorle’ Judy.

En die feit dat sy nie te water gelaat is nie, maar hoog en droog terug in Pretoria is, het sy suiwer aan haarself, en niemand anders nie, te danke.

Haar oorlede suster, my Tannie Anne, beland toe mos destyds na die verassing in haar AVBOB-houtkissie by my ma en Oom Jack op.

Hoe dit gekom het, weet ek nie, maar my ma had daarmee geen probleem nie, om die waarheid te sê, ek dink sy het dit so verkies.

En toe hulle uit die huis, ouetehuis toe is, toe trek Tannie Anne saam.

Die spasie was beperk, dit was nie ‘n ouetehuiswoonstel nie, dit was ‘n ouetehuiskamer, eintlik ‘n siekeboeg-siekekamer met genadiglik darem ‘n eie privaatbadkamer. Oom Jack het mos in die huis vasgebyt, seker ‘n goeie tien jaar langer as wat nodig was, so die skuif, toe hy uiteindelik kom, was groot en ingrypend.

Ewentwel, met die gebrek aan spasie, beland Tannie Anne toe onder in die televisiekas, saam met al die snoepgoed op ‘n rakkie gepak. Tussen die beskuit, die koekies, die sjokolade, en Kersfees-, verjaarsdag-, moeders- en vadersdag-eetgoedpresentjies kon jy nooit jou hand net insteek en uithaal nie, jy moes afbuk en mik en mooi kyk. Jy dink nog jy het jou hand op die boksie Salticrax of Bacon Kips, dan is dit al die tyd Tannie Anne wat jy te voorskyn bring.

Dis ook nie asof ons hierdie kas twee keer ‘n jaar oopgemaak het nie. Élke keer as ons met Klaradyn daar aankom, dan wink Oom Jack haar met die hand na hom toe, en moet ek of Annieka dan eers vir die kleinkind ‘n snoeperytjie neffens Tannie Anne uitdelf.

My neef is jare na haar dood in ‘n stadium met Tannie Anne daar weg, om haar iewers te gaan strooi, maar hy het geweet om die kissie waarin die as gestoor is, weer terug te besorg dat dit kan staan waar dit hoort, tussen die eetgoed by Judy in die ouetehuis.

Na Oom Jack se dood is Anne se kissie saam enkelkamer toe.

Die kissie is nou by ons in die garage tussen Ouma Nooi se ander goedjies.

Ek weet nie hoe lank dit nou is dat my ma dood is nie, ek wil nie weet nie, maar ek weet dat ek nog nie opgewasse genoeg is om deur haar goedjies te gaan en in die proses op Tannie Anne se kissie af te kom en dit dan saam met so baie ander van haar hartsgoedjies weg te moet gooi nie.

Met ‘n rolmodel soos Judy, wat haar dierbare oorle sus met die wêreldse gemoedsrus in haar leefruimte ingenooi het, is dit te verstane dat ek ook nie griesels en geite rondom my ma se eie as het nie.

Dis immers so gewoon soos Tannie Anne se as, net in ‘n ander kissie.

My ma se wens was destyds dat ons haar as by die see sal strooi.

Sy sou seker met enige see tevrede wees, maar ek en my broer weet beide sy het haar gelukkigste vakansietye aan die Natalse suidkus gehad, Uvongo en die laaste 20 jaar van lewe, Ramsgate.

So toe laai ons haar in toe ons twee weke gelede met vakansie afgaan Scottburgh toe.

Die gedagte was dat my broer-hulle by ons aansluit en dan sluit ons die hoofstuk rondom die teraardebestelling af.

Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.

Maar daar gebeur dit toe nou dat my broer-hulle nie kan afkom nie.

Ek het geen dringende behoefte om op my eie af te storm rotse toe en van my ma ontslae te raak nie, sy pla my nie in die huis nie en die geleentheid sal wel weer voordoen dat ek en Jac saam as gesin bymekaar kan kom om haar wens op gepaste wyse te betoon.

So Judy is veilig uit en ook weer tuis.

Dis egter ‘n heel ander rit, Kaapse kus toe hierdie keer, saam met die ou vrou in die motor, waarby ek wil uitkom.

Watter jaar dit was, weet ek nie, seker so 20 jaar gelede.

Ek was nog net een maal vantevore (standerd 3) in die Kaap en dis tyd dat die jong onderwyser daardie deel van die land leer ken. ‘n Vriendin gaan my die Kaap deur haar oë wys.

Judy, ‘n gebore Kapenaar, is saam met ons af en het ruk lank saam getoer, verder vakansie gehou en toe terug gevlieg.

So soek ons op George my ma-hulle se huis op. Ek sal dit tot die dag van my dood vergeet nie. Vir twintig jaar, tot gister, het ek ook niks daarvan verstaan nie.

Ons het Stockenströmstraat, waar hulle gebly het, gou opgespoor. Eers ook die perseel waar my oupa-hulle se skoenfabriek was voor dit een nag afgebrand het. En toe die huis. Stockenströmstraat 20, verbeel ek my.

Die huis het nog gestaan, maar die erf moes handelsreg op hê want die plek is ‘n motorfietswinkel omskep. Die dop staan destyds nog presies soos sestig jaar tevore, maar dis ‘n besigheid.

My ma wil nie ingaan nie, maar sy wys waar haar kamer was en lig ook die ander vertrekke uit.

Toe vra sy dat ons ry.

En in stilte, sonder om iets te sê sit sy toe vir goed twintig minute en huil.

Ek het nie uitgevra nie, al wou ek – ek het haar gemoed te veel respekteer.

Maar ek was te jonk om te verstaan hoekom sy huil, miskien nie te jonk nie, maar te onvolwasse.

Bloot die feit dat ek haar wou uitvra oor die trane, is bewys gewees van my jeugdigheid.

En toe twintig jaar later, gister, beide my ouers ook al in die graf, op pad terug van die see, is ons verby my geboortedorp.

Ek vra of ons gou kan indraai sodat ek ’n herbesoek aan my geboortehuis kan bring.

Toe ons twintig minute later terugry, toe verstaan ek Judy se stilte destyds ten volle.

Annieka het agter by Klaradyn gesit en ek het gereken ek is stil genoeg, maar net buite die dorp het ek Klaradyn se handjie op my rug voel klop, lank voel klop.

Ek het foto’s geneem om vir my broer te wys.

‘n Foto speek ook meer as wat ‘n duisend woorde kan oordra.

Vooraangesig

Buitegeboue


My kamer


Uit die
hoofslaapkamer
af in die gang
tot in die
kombuis

Sitkamer


Uit die eetkamer

Hoofslaapkamer

?!

5.3.13

Die maatjie met die praatjie

Ek sê dit weliswaar met gemengde gevoelens, maar ek sê dit:  “So baie soos ek op skool van redenaars gehou het, so min hou ek nou daarvan.”
Op skool het dit eers in standerd 6 begin; deesdae is daar al Graad O’s wat aan kompetisies deelneem.
Destyds was ons skool se kompetisie in die hande van die Junior Rapportryers. Maar van die Junior Rapportryers, die Ruiterwag en die Broederbond het ons kinders niks geweet nie. Die Junior Rapportryers was verantwoordelik gewees dat die Sondagkoerante Saterdagaande laat reeds op straat verskyn en Sondae op pad Kerk toe gekoop kan word. Dis ook hoe ek dit destyds aan Aartsbiskop Tutu en die lede van die Waarheid- en Versoeningskommissie erken en bely, kyk maar self, volume 27, subparagrawe 3 576 tot 3 579.
Hierdie omies van Rapport se redenaarskompetisie was ‘n gesellige aand in die skool se personeelkamer, regtig net die een keer ‘n jaar wat jy as kind hierdie heiligdom van die personeel betree het. As Ma of Pa tyd oopgesien het om te kom, moes hulle ‘n bordjie eetgoed vir saam met tee bring. (Ai, dit was die dae toe die ouers nog self daarvoor ingestaan het, nie die tuisnywerheid, of later Woolworths, nie!)
Daar was ‘n handjievol sprekers en luisteraars en twee ooms van die Junior Rapportryers wat beoordeel en boekpryse aan die einde van die aand uitgedeel het.
Nou se dae is dit wat die destydse ATKV vandag uitgedraai het, wat die septer swaai. En dis groot, baie groot. Nasionaal. Internasionaal as ons Namibië en Orania byreken.
Ons laerskool hou oor twee aande uitdunne, een vir die juniors en een vir die seniors, daar is telkens nagenoeg 30 sprekers en die saal is gepak van mammas en pappas en ooms en tannies en oumas en oupas en boeties en sussies; die helfte van hulle tot die tande toe met rolprent- en televisiekameras bewapen. En dié wat dit nie daar het nie laai hul digitale kameras se magasyne met telefotolense wat die plaak op die sprekers se tande vir navorsingsdoeleindes kan afneem.
Gelukkig kan die selfone nie een lui nie, elke foon in die gehoor word gebruik om, óf backup vir die televsiekamera te wees, óf om die toespraak se klankbaan te minste op te kan neem.
Maar ek het vrede, want eintlik hou ek mos van redenaars.
Ek het as student al deur Wes-Transvaal gery en saam met die dramadepartement se personeel redenaarskompetisies gaan beoordeel. En toe ek eers begin skoolhou, van krag tot krag gegaan as kranige afrigter en beoordelaar.
Dis nou tot ek na so 12 jaar van redenaars bloot  na een provinsiale sessie besluit het: tot hiertoe en nie verder nie, ek weier om ooit weer te beoordeel, of dit nou plaaslik of vriendskaplik of onder ‘n naam of sonder ‘n naam is, ek het klaar.
Die kompetisie het net eenvoudig in alle opsigte handuitgeruk.
Dit was om van siek te word. En te bly.
Ek het die laaste een van my skooltoesprake self geskryf. Ek het geweet hoe om dit te doen, en ek het geweet hoe om dit goed te doen.
Goeie toespraakskrywers (en toevallig ook beoordelaars in die kompetisie waarvoor hulle jou van ‘n toespraak voorsien) lewer al langer as 10 jaar nie net meer ‘n getikte toespraak nie, nee, die kliënt word van ‘n opname ook voorsien, sodat die kandidaat die regte infleksies kan hoor en nadoen. En dan praat ek nie van ‘n klankopname nie – ‘n video-opname met die oog op die regte houding, oogkontak en effekberekende handgebare.
Ja, dinge het drasties verander.
Die dag toe ek die laaste keer beoordeel het, was die dag waarop ouers begin verneuk het om hul kinders in die lokale van húl keuse laat meeding, daar waar die regte beoordelaars met die regte voorkennis sit. ‘n Ander moeder het weer vooraf insae gekry in watter leerders van watter skole in watter lokaal praat, en toe aspris laat met haar kind daar aangekom, dit net sodat die kind in ‘n ander lokaal kan gaan praat as die lokaal waarin haar seun saam met ‘n vorige wenner moes praat. Sy was op die punt om hom as ‘n laat inskrywing in die betrokke lokaal van haar keuse te laat praat, toe iemand al 13 lokale se lyste daar had, en die kind se naam in ‘n ander lokaal opgespoor het.
In die film Hoofmeisie  is daar ‘n grap van gemaak, maar dit was inderdaad die middag waarop twee sprekers van twee verskillende skole, trouens een op Brits en een in Pretoria, met presies dieselfde toespraak daar opgedaag het.
Maar die organiseerders kon nie briek aandraai nie, die kompetisie bring geld in. Die beoordelaars kon nie briek aandraai nie, die kompetisie bring geld in en onder die tafel met al die skryfwerk en afrigting saam, bring dit nog meer geld in. En ek as onderwyser in beheer van ‘n span of enkele individuele sprekers wóú nie briek aandraai nie – skielik het ek na jare met ‘n buitemuurse aktiwiteit gesit wat niks van my tyd in beslag neem nie. Terwyl die hoof dink ek werk, leen ek my ore uit aan kinders wat vertel:  “Moenie wharrie nie Meneer, whatch net – my ma het klaar ‘n tannie gekry om alles te doen.”
Ai, en toe, na ‘n klompie jare van redenaars doen sonder om iets hoef te doen, is Klaradyn graad 1 toe. En hulle kry selfs iemand om ‘n kursus vir die ouers te kom aanbied oor hoe om jou graad-eentjie-parrabeentjie se toespraak vir hom of haar te skryf.
Ek stap daar weg en my gesonde verstand sê vir my ons spring nou nie net op een nie, maar sommer op twee verkeerde voete weg wat elk op sy beurt verklaar hoekom hoërskoolredenaars geword het wat dit geword het:  eerstens leer die kind van dag een af dat iemand anders jou toesprake vir jou skryf, wat in graad 1 begin is, gaan nie in graad 7 verander nie. Tweedens word die kinders van graad 1 af geleer om die toesprake soos gedigte uit hulle koppe op te sê; geen graad 1 kind kan notas aflees en ‘n toespraak rondom die sleutelwoorde praat nie, dit moet uit die kop geleer en resiteer word.
Maar ek weet so seker as wat my naam Hans Moolman is dat ‘n kind wat aan so ‘n redenaarsaand deelneem, enige kind, elke kind, ‘n wenner is en lewenslank daardeur verryk word. So Pappa, Mamma (en Klaars noodgedwonge daarby ingesleep) gryp die geleentheid aan.
Ook die jaar daarna, en verlede Woensdagaand toe ek uit die hospitaal ontslaan is, weer.
Ek sluk twee pynpille, kry my seer lyf in die kar en gaan luister na my kind.
Ek lê weliswaar die eerste tweederdes  van die aand op die naat van my rug in die motor se passasiersitplek, maar pouse kom haal Annieka my.
Ek luister met oorgawe en geniet elke oomblik.
Na ‘n outjie waarvan ek een jaar nie ‘n enkele woord kon hoor nie, as graadwenner aangewys is, weet ek darem lankal om nie die kompetisiegedeelte te ernstig op te neem nie.
‘n Ander jaar was die wenner enetjie Klaradyn se ouderdom wat onder andere Reuters Associated  Press as bronverwysing aangebied het. Dit kon Agence France Presse ook gewees het, ek onthou net dat ek totaal stomgeslaan was, gedagtig veral aan my kind wie se bronverwysings ooreenkomstig haar ouderdom en onmiddellike verwysingsraamwerk ‘n episode van Barney, haar oupa Charlie, en iets uit die Afrikaanse weergawe van National Geographic Kids was.
Maar teen vanjaar is my beoordelaarsvaardighede in ieder geval so verroes van al die jare sedert ek my voet neergesit het, dat ek nie eers probeer om met die beoordelaarskaart voor my te luister nie, ek geniet die kinders eerder met volle oorgawe.
Terwyl die hoofbeoordelaar repliek op die aand se gebeure en praatjies lewer, laat val Annieka dat dit die sinvolste kommentaar in ons laerskoolloopbaan is, en ek stem nogal met haar saam.
Elke kind het wat my betref lieflik gepraat, elkeen van die 10 of wat, wat ek gehoor het,  styg uit bo die ander 90 wat nie daar is om te kom praat nie en ek maak vrede met die feit dat elke kraai van nature dink sy eier is die witste, ek móés dié vrede trouens nege jaar gelede al maak toe die verpleegsuster nie mý prinsessie kies om te bad nie. Daar is daardie dag vyf babas gebore en hulle het al die mammas en pappas bymekaar gekry vir ‘n baddemonstrasie. En toe gaan staan en kies die vrou ‘n ander kind wat gelyk het of sy vroeër die dag met tange vrygelaat is!
Ek het nege jaar later weliswaar nie ‘n idee wie sou kon deurgaan as die beste redenaartjie nie, ek troos my daaraan dat dit my werk as pappa is om te sorg dat my kind vir my die mooiste ís, en lýk, en praat, en oorkom, en opstaan, en gaan sit, en doodeenvoudig sommer álles. En ek kwyt myself deeglik van my taak.
Haai, en daar is dit toe nou nie net ek wat so van my kind dink nie, maar ten minste een van die beoordelaars ook – en daar word K vanjaar vorentoe geroep as wenner onder die graad 3’s en die juniors in geheel.
Na die algehele verbasing en oorstelptheid op haar gesig my op die punt van ontroer gehad het, is ek met ‘n bly hart en seer buikwand dadelik uit en kar toe.
En dis hoekom dit in ‘n kwessie van 10 sekondes skielik vir my moeilik geword om die proses te kritiseer, dat ek met gemengde gevoelens oor redenaars sit.
Enige iemand, nie net ma’s en pa’s nie, sal verstaan.
Ek is bly vir my kind, bly dat sy gister die vormende ervaring kon hê om haar toespraak tydens saalopening vir die hele skool te vertel.
Blyer nog, ‘n pa is ‘n pa, dat ek, vir een jaar ten minste, nie die weer ‘n keer die ref hoef te blameer vir die feit dat ons prinses nie gewen het nie.
En laat ek as nota bene en addendum, ter wille van die rekord, dit net duidelik stel dat dit nie ons is wat die foto’s hier onder geneem het nie, dit kom van die skool se saalaanbieding gisteroggend.