Pages

28.2.13

Uit en genadiglik in een stuk weer tuis

Ek is in die Unie Verpleeginrigting op Alberton gebore. Teen daardie tyd was ons darem al vir drie jaar nie meer ‘n unie maar ‘n republiek.
Einde my sesde lewensjaar is ek weer daar in om my mangels te laat uithaal. Ek onthou lieflike pynpille wat soos kougom was (en dat dit later heel omstrede van die mark onttrek is). En ek onthou die gou-gesond-word-geskenk wat ek (seker maar via my ma-hulle) van my broer gekry het – sulke plastiek mosaïek-pennetjies wat jy in ‘n wit klein plastiek skinkbordjie, met honderde klein gaatjies in, in allerlei prentjies en patrone, druk.
Na Klaradyn se geboorte het ek seker vyf jaar gesoek tot ek presies dieselfde, nagenoeg veertig jaar later, in Johannesburg raakgeloop het.
Nou spel ek daarmee terwyl sy langs my sit en televisie kyk. Ek oordryf natuurlik so effe. Maar net so effe.
Iewers tussen my geboorte en mangels in Judy ook Unie Verpleeginrigting toe vir daardie operasie waarvan daardie jare se klein seuntjies eers jare later die kloutjie so vaagweg in die omgewing van die oor kon bring.
Ons het van “Die Unie” of “Unie Verpleeginrigting” bly praat tot my ma-hulle iewers rondom 2005 uit Alberton weg is.
Toe was dit natuurlik lankal nie meer die Unie Verpleeginrigting nie, maar deel van ‘n franchise soos Steers of Wimpy – geensins meer gefokus op verpleging nie, maar die maak van wins. As die naam nie intussen verander is na ‘n toi-toiende swart stakende verpleegsuster wat gedurende die oproerige struggle-jare vir haarself in die voorste linies naam gemaak het nie, staan dit na 1994 vandag steeds bekend as iets soos Alberton Mega- ,of Medi-, of selfs Multi-Mega-Medi-City. Of so iets. In elk geval iets wat herinner aan ‘n shopping mall eerder as ‘n hospitaal.
So is ek toe nou Dinsdag, 43 jaar na my vorige narkose (ek dink hulle het daardie jare nog hamers ook ingespan) weer in hospitaal toe, ‘n ander tak van dieselfde franchise, om dit wat binne is en die laaste klompie maande wil uit, weer binne te hou en te kry.
En laat ek dit dadelik sê en van my af kry:  as die ongemak wat ek van ‘n para-umbilikale breukoperasietjie het, enigsins opweeg teen die ongemak en pyn van ‘n keisersnitoperasie (met ‘n snit enige iets tussen drie en tien keer langer as myne – ek weet nie hoe lank myne is nie, want dit is nog toegeplak) dan weet ek nie hoe en waarmee oorleef keisersnitmoeders dit nie!
As ek dink waartoe alles ek nie op die oomblik in staat is nie, as ek dink wat ek alles in die volgende twee maande nie mag doen nie, en ek dink aan Annieka se eerste twee weke en twee maande na Klaradyn se geboorte, dan is ek stom en haal ek my hoed vir haar af, salueer ek haar.
Laat ek, net om haar en die ander vrouens wat ek pas oorgewen het, weer te vervreem, byvoeg:  na my para-umbilikale breukoperasie is ek, as algehele onbetrokke buitestaander, ‘n nóg groter voorstaander van ‘n natuurlike geboorteproses as vantevore!
Ai, my bek is groot, hy is wyd. So ‘n bek kort nie jêm nie, maar ‘n klap!
Ewentwel, Vroulief neem my toe Dinsdag in en probeer ons beide gerus stel met die woorde:  “Gelukkig is dit darem ‘n goeie hospitaal.”
Ek weerhou my daarvan om haar en myself daaraan te herinner dat dit die derde keer in 20 jaar is dat ons die betrokke hospitaal besoek – die vorige twee kere het ons elke keer ‘n vriendin daar aan die dood afgestaan.
Ek maak bloot die nugter opmerking (veel nugterder as haar “Gelukkig is dit darem ‘n goeie hospitaal”) dat daar in vandag se dae in ons land nie meer goeie hospitale is nie, ongeag die naam van die franchise. Daar is steeds meesterlike artse, ja, maar meesterlike hospitale? Nie sommer nie.
En laat ek nie op te veel detail ingaan nie,maar ek word op vier of vyf maniere reg bewys:
‘n Dokter stap eerstens in sy teateruitrusting op die man langs my in die opneemsaal in met die woorde dat hy vreeslik bly is om uiteindelik sy pasiënt op te kon spoor, hospitaaladministrasie het hom verkeerd uitgeplaas en in die proses tussen een van die tientalle vleuels en vleore verloor, maar hier is hy nou gevind en hy gaan binnekort opereer word.
Tweedens:  Na jy by ontvangs opgeneem is, kry jy ‘n wit armbandjie om te sê waarheen jy moet gaan. Daar aangekom moet hulle vir jou ‘n pienk armbandjie opsit om die teaterpersoneel te herinner presies wat hulle moet doen – ek vermoed dis om seker te maak dat hulle nie persoon A afknip en plat stryk terwyl dit persoon B is waaraan geknip en gestryk moes word nie.
Toe ek uit die opneemsaal in die teaterwaglokaal is, toe is ek sonder pienk prosedure-armband wat nie net die prosedure op het nie, maar ook die naam van die sjirurg. Amper beland ek toe by die afknip-en-platstryk-man in die een teater, in plaas van my eie bloot-net-spoeg-en-plak-man in ‘n ander teater.
So toe stuur die waglokaal se tannie, die opnamesaal se tannies weer ses dagreise te perd terug, om my pienk prosure-armband te loop haal.
Toe, na die operasie, honger hulle my ten derde uit. Hulle weet goed ons mog van die vorige aand 10-uur niks eet nie. 9-uur daardie aand vra die ou omie wat voor my gedoen is, se dogter vir die nagsustertjie of haar ou pa nie maar iets te ete kan kry nie.
Toe is die suster kastig verbaas dat ons die hele nag nog nie nat of droog oor ons lippe had nie.
Dis dieselfde ou oom, by die hoeveelste punt trek ons nou al, wie se papiere hulle my, by my ontslag, in die hand stop en afstuur apteek toe om my medisyne op te tel. Gelukkig is die apteker mooi by, gee hy my een kyk, en besef hy ek kan onmoontlik nie in 1923 gebore, en daarom 90, wees nie.
‘n Uur later het ons gelukkig die regte voorskrif en medisyne.
Of hulle teen daardie tyd al die lugversorging in die opnamesaal aangekry het, weet ek nie. Glo my, ek wil nie weet hoe die verpleegters met gesofistikeerde mediese apparaat werk, as hulle nie eers die die lugversorging kan aankry om seker te maak hul pasiënte sterf nie uit van die hitte nie.
Maar dis daardie ou oom waarvoor een van die susters my aangesien het (tien teen een was sy sommer net agtelosig) waarby ek wil uitkom.
Ai, mense, ek het so jammer gekry, soos ek geen mens sedert my ma se laaste hospitalisasie jammer gekry het nie.
Net voor hulle my die teater instoot vra ‘n ou, en nie ouerige nie, teatersuster my (opvallend hoeveel ouer die susters is, hoe belangriker die werk word – wie gaan hulle vervang?) of ek wel een van hulle lawwe blou onderbroekies aan het.
En onmiddellik kry ek lag want ek het gesien die 90-jarige oubasie het nie net sy teaterjassie agterstevoor en voorste agterom aangetrek nie, maar hy het ook nagelaat om sy lawwe, verspotte, blou see-through onderbroekie aan te trek. Ek het self gedog dis ‘n stortkeps of ding, en eers toe ek die drie gate opspoor besef dis eintlik om nie so heeltemal full monty in die teatermense se gesigte te wees nie.
Die einste ou oom had my Dinsdagnag al om die uur wakker.
Eers had sy twee dogters ons almal eers uit die slaap. Ek wou in ‘n stadium vir hulle sê dat ek en hul pa presies dieselfde operasie gehad het, en as hy net 10% soos ek voel, wil hy glad nie nou om die beurt met twee besoekers konfronteer word wat die hele tyd met hom gesels en daarop aandring dat hy saampraat nie.
Toe soek hy teen 23:00sy beursie en ID. En dit help nie jy vertel ‘n 90-jarige oom dat sy 70-jarige twee dogters dit dalk saam met hulle het nie. Geensins.
Teen 24:00 had hy sy selfoon iewers opgespoor. Hy bel toe een van die dogters en word gerusgestel. Maar toe een van die nagsusters wat hy opgejaag het 10 minute later kom om te vra of hy sy beursie en ID gekry het, kon hy nie eens meer onthou dat hy dit gesoek het nie – toe soek hy dit van voor af.
Dit het mooi en baie oortuiging geneem om hom so ver te kry om my te glo, en nie weer sy dogter te wil bel nie.
Die oom het drie keer deur die loop van die nag gaan piepie – nie een keer daar waar hy moes gaan piepie het nie. Ek vermoed hy het elke keer maar net onverrigter sake teruggekeer, maar na ons toilet toe, was hy nie een keer nie.
Om die reine waarheid te praat, ek dink nie regtig hy het elke keer onverrigter sake teruggekeer nie, trouens en inteendeel. Ek is net bekommer oor watse verrassings die hospitaalpersoneel nie alles sedert Dinsdagnag op vreemde plekke in die hospitaal opgespoor het nie. My ore kon nie twee keer vir my gejok het nie.
Ek het hom teen 03:00 sien terugkom sonder sy drup waarvan hy die vorige twee kere elke keer vergeet het, en dit dan omgetrek het. Toe sit ek maar met my drup af diensstasie toe en vra hulle moet die oubaas kom help. Hy het die goed uit sy hande en are geruk gehad.
En dan is hy ‘n spoggerige, ordentlike, oubasie, soos van ouds, deel van ‘n geslag wat al bykans 100% uitgesterf is.  05:00 is hy op en gaan stort hy, eers af in die verkeerde gang, na hy weer die drup agter hom omgeruk het, maar toe darem na nog twee of drie mislukte probeerslae, by die regte deur in.
Ek het sy nagklokkie, suurstofpypie en drupbuis, wat knap voor 05:00 ‘n kraaines was, ontknoop, maar hoe hy gestort gekom het, weet ek nie.
Hy kon nie los van die drup nie, en daarom nie geskei van sy teaterjassie nie, dié  hang toe aan die drupbuis tussen hom en die drupstaander toe hy 45 minute, kaal bolyf, maar haartjies gekam en skoene en kouse by sy pajamabroek aan, by die stort uitkom.
Net soos hy nie die teaterjassie kon afkry nie, kon hy natuurlik nie sy spoggerige blink pajamahemp aankry nie – die drup is mos nou basies ‘n verlengstuk van sy arm.
My hart het vir hom gebloei, ‘n doddering old man, ‘n doddering old gentleman, as daar ooit een was.
Hy het soos ‘n ware, waardige Charlie Chaplin geskarrel en beweeg.
Toe die dokter hom ontslaan toe trek hy sy going away stel klere, wat hy kort vantevore oor sy pajamas aangetrek had, weer net so oor sy pajamas aan en gaan staan met sy tassie in die gang vir een van sy dogters en wag.
Toe ek meer as ‘n uur later met Annieka daar weg is, was hy nog daar, wagtend, sy hande om die tassie geklem.
Waar tannies van 83 en 85 wat ek skuifelend agter ‘n trollie in die Spar raakloop, my deesdae in trane het, oor ek my eie oorlede ou moedertjie in hulle herken, wil julle nie weet wat hierdie dierbare true gentleman van ‘n 90-jarige ou oom, aan my gemoed gedoen het nie.
Ek het sommer oor my ma se oorlede man, Oom Jack, ook ‘n traan wou pik.
Hoeveel presies sulke nagte het die ou vroutjie van my en my broer nie ook in haar leeftyd gehad nie? Hoeveel presies dieselfde oggende nie? Die soek na verlore beursies en brille en tande wat nie verlore beursies, brille en tande is nie? My ma se hande moes hulle, na daar nie meer are vir ‘n drup vir haar op een van haar twee hande beskikbaar was nie – omdat hulle al algar gaar gesteek is van al die uitruk en terugsit – met verbande aan die bed se kante vasbind!
Nou is ek gelukkig by die huis, baie trots op my baie bekwame dokter, die narkotiseur en die res van die span, bly dat die ander dokter sy pasiënt uiteindelik opgespoor het, verlig dat ek my pienk prosdure-etiket gekry het, dat daar gespoeg-en-geplak en afgebind-en-plat-gestryk is nie, maar die blyste van alles dat ek nooit nodig had, of sal hê, om te kraam of iets soos ‘n keisersnit te kry nie.
As Annieka deur haar 20 cm kon kom, dan kan ek my 2, of die 3, of 4, of 5 sentimeter, met manlike kleinserigheid, seerkleinlik die loef afsteek.

22.2.13

Daar vloei vandag 'n stroom Blou Bul-blou-bloed so dik as my duim

Ons Moolmans deel nie noodwendig die hart en gees van ons volk nie. Ek het dit van Ma en Pa se kant oorgeërf, Annieka het met verloop van jare nie anders gekon as om daarby in te koop nie, om die waarheid te sê sy was maar al te gewillig om haarself te kon bevry, en Klaradyn kon dan nou ook nie juis anders as om haar are met talle voorsate se bloed gevul te kry nie.
Die gees van ons volk, dan soos Lina Spies dit destyds met die afsterwe van NP van Wyk Louw gedefinieer het:
Die land se grootste digter sterf
en op die koerant se voorblad staan:
All Blacks is giftig
maar Bokke self nie sleg nie.
My volk se gees is ‘n voetbal.
Ek sal dit in my lewe nooit vergeet nie – Klaradyn het destyds nog nie heeltemal ontgroei om ‘n peuter te wees nie, toe soek ons vir haar ‘n kleuterskool. Ons loop ‘n dierbare – die beste – kleuterskooljuffrou en –skooltjie raak, en skryf haar in. Die verbintenis sou tot einde graad 2 duur, toe die uitkomtyd van die groter kinders verander en die juffrou nie meer daar kon wees om haar na skool op te tel nie. Ek en die juffrou sien mekaar steeds bykans daagliks as ek haar dogter soggens optel om saam met my skool toe te ry.
Wat ek egter nooit sal vergeet nie, is wat die juffrou, én haar ma, aangehad het, dié dag toe ek die juffrou (en dan nou haar ma) vir die eerste keer buite skoolverband, in ‘n apteek, raakgeloop het – daar was hierdie twee vrouens in Blou Bul-kleure uitgevat, en toe ek hulle van voor aantref, toe is die een my stomme kind se juffrou. (As dit nie was dat die juffrou nog self van tyd tot tyd hier lees nie, het ek aangedik en vertel dat die twee dames helmets met horings op hul koppe had, dat hul gesigte blou geverf was; só loop ek egter gevaar om uitgevang te word dat ek jok.)
Toe ek die twee die middag egter groet, toe wonder ek in watter subkultuur ek nie nou my kind ingeskryf het, haar aan uitgelewer het nie.
Net om vyf jaar later, in graad R, tot die skokbesef te kom dat die kleuterskool nie ‘n patch op die laerskool is nie.
By die kleuterskool was daar elke jaar ‘n Blou Bul-dag. Wat ‘n heerlikte – die kinders moes dan blou aantrek en ek lei af hulle het dan lekker rugby gesels en gees gebou.
Oupa is na jare noord van die Vaal- en Jukskeiriviere steeds nie ‘n Blou Bul nie, hy sal tot en met die dag van sy dood ‘n Cheetah bly. So die eerste rugby-hempie wat ons kind toe een Saterdag na die grootouers gaan inkopies doen het, is ‘n oranje een. En so is Klaradyn toe van tyd tot tyd met hierdie hempie kleuterskool toe, ons trek hom ook aan as ons op ‘n Saterdagmiddag by Oupa-hulle gaan rugby kyk en biltong eet voor ons na die tyd ‘n vleisie op die kole gooi.
Later van tyd had Klaradyn ‘n lieflike pienk Bull’s Babe-hempie, ook 'n ewe pienk soet en sappige sweetpakbaadjie, en op die skooltjie se Blou Bul-dag is sy dan in die lieflikste pienk as Blou Bul skool toe.
O, aarde, en toe tref ons laerskool. En al wat ‘n laerskool in plaas daarvan om ons kinders te leer, doen, is om fondsinsameling te hou. Dit sal my nie verbaas as ons eendag ‘n papier kry met plek vir baie name om teen R5-00 per naam te laat raai hoeveel dit op die Richeterskaal sal meet as die hele Springbok- of Noord-Transvaalspan, na elkeen drie blikkies sousboontjies weggeslaan het, gelyktydig ‘n buikwind passeer nie.
Tot dan sal ons egter getrou een of ander blooming eindtelling moet raai, soos nou iewers om die draai weer. Daar het hoeka gister of eergister weer ‘n e-pos van daardie kant gekom om te herinner dat daar nog net soveel dae of ure oor is vir die kinders om hul lyste rondom die een of ander wedstryd in te handig.
Die laerskole weet goed ons ouers stuur nie meer kinders van deur tot deur met lysies papiere nie, hulle weet goed die ouers skryf self verskillende mense se name op die lys en betaal dan alles op die lys.
My en Annieka se grootste probleem is om 10 verskillende rugbytellings uit te dink wat steeds volgens die nuutste puntetellings vir die verskillende baltruuks aangeteken word. Vir my is ‘n drie nog drie en ‘n vervyfskop niks anders as ‘n vervyfskop nie. In graad 1 was elkeen van ons tellings verkeerd want Pappa het die tellings gaan google en toe ongelukkig die een of ander Amerikaanse voetballiga se klubtellings afgeskryf.
Vanjaar is ons darem al in graad 3, ons het punte uit die duim gesuig tot die kind ‘n blikkie koeldrank by die skool kon kry. Ek was meer as bereid om sommer ‘n blikkie koeldrank van die huis af saam te stuur, ek sou hom selfs koud gehou het, maar Annieka wou nie inkoop nie.
Ons is vanjaar in graad 3 en het die laaste sewe dae, vandag ingereken, nie minder nie as vier interhoërs waarby ons eie skool betrokke was en is, een vir atletiek en drie vir swem. Dis ook dieselfde week wat die laerskool om die een of ander onbekende rede besluit het om hul Blou-Bul dag te hou.
Ai, en laerskole is nie onder kalkoene uitgebroei nie, hulle dink bloot hulle kinders en ouers is:  om die dag spesiaal te maak, kan kinders hul Blou Bul hempies aantrek. Maar ook nie sommer net aantrek nie, o, nee, dis ‘n fondsinsameling, onthou jy nou weer!
Ons sou iets moes betaal vir die voorreg, of nog 999 name op ons Blou-Bul-rugbyraailys moes voeg voor die kind haar Blou-Bul hempie kan aantrek?
“Watter Blou Bul-hempie? Hy is al vir jare pienk en in elk geval nou al te klein.”
“Stuur haar in daai blou hempie wat ons met haar verjaarsdaggeld van Ouma gekoop het. Dis ook blou en sy hou nogal van hom.”
Maar dit kan nie, dit moet ‘n Blou-Bul hemp wees, niks anders nie. Die juffrou het gesê. Die meneer het gesê.
Gedagtig aan die moewiese interhoër-week wat voorlê, ek en Annieka is beide pro-aktiewe ouers, ry ons toe nou verlede naweek ‘n hele tenk petrol uit agter al wat onwettige immigrant in Suid-Afrika is wat op die hoeke van die strate smokkelhandel dryf met onwettige goedkoop rugbytruie – nie dat dit meer truie genoem kan word nie, behalwe nou as jy nog van ‘n vervyfskop praat, natuurlik.
Maar niks, daar is in hierdie Pretoria nie ‘n enkelte Blou-Bul-hempie langs ‘n enkele straat op ‘n enkele hoek onder ‘n enkele bos uit te skop nie. Ons hoor van ‘n ou in Bronkhorstspruit, maar toe is die petrol op.
Dinsdag neem hulle my af, dis nou die padverkeeroutjies, toe ek teen 80 kilometer per uur in ‘n 60 sone in die 45 minute wat Klaradyn drama het, Kollonade-winkelsentrum toe jaag om te kyk of ek nie daar ‘n bloody hemp opspoor nie.
Die R700-00 se tenk petrol van die vorige naweek en die R200-00 verkeersboete van laer af in die straat kry toe (maar miskien jou eers seker maak jy sit, vir ingeval jy flou val) ‘n verdere R500-00 vir die stukkie lap by. Nee, wag, ek oordryf, ek lieg, ek dik aan, dis nie R500-00 nie, dit was R499-99!
Ek laat my nie vertel dat elke kind vandag in ‘n ontwerpershemp daar gaan opdaag nie.
Maar dis wat my kind my vrou wysmaak, en dis wat my vrou my aan die verstand probeer bring.
Wat kan ek doen?

Daar vloei in my are 'n stroompie Blou Bul blou bloed so dik as my duim se nael.
Met Transvaal wat nou Gauteng geword het, en Noord-Transvaal wat heeltemal verdwyn het, kan ek seker maar patentreg op sy ou leuse uitneem en dit so effe aanpas:  Dis kak en betaal as jou kind die paal wil haal.

18.2.13

Voor ons vergeet (?)

Fotobron
Party goed is darem nou maar een maal vir eens en vir altyd verlore as dit eers oor en verby en in die verlede verskiet het.
Ja, ek weet dis nie juis wat ‘n mens die mees oorspronklike insig waartoe die mensdom tot op hede gekom het, kan noem nie, ek weet trouens die gedagte is seker so oud soos die mensdom self en dat daar min mense op aarde is wat nog nie die een of ander tyd tot hierdie gevolgtrekking gekom het nie.
Hoekom ek dit egter weer ophaal, is omdat ons deesdae, nou dat ons die laaste ruk so slim en volleerd en tegnologies gevorderd raak, partykeer die grootheidswaan ontwikkel om te wil dink dat dinge nie meer noodwendig verlore gaan of bly nie.
Wat my agter die rekenaar het, is nie groot en serieuse dinge wat vir altyd verby gegaan het nie, ‘n vader-en-seun-gesprek met my pa, of die geleentheid om vir my ma ‘n goeie more toe te wens nie; eerder iets kleins en nietigs, eintlik sommer beuselagtig.
Maar tog groot genoeg om ertjie te wees en my vir jare op 217 en nog meer matrasse wakker te hou:
Die eerste fliek wat ek gesien het, was ‘n Shirley Temple-fliek.
Al wat ek daarvan onthou, is dat ek en einste ma wat ek hierbo so graag nog ‘n keer ‘n goeie more sal wil toewens, saam met haar suster ingery het Johannesburg toe vir wat daardie jare bekend gestaan het as ‘n matinee-vertoning.
Ek onthou verder bloot dat dit ‘n swart-en-wit fliek was waarin daar ‘n dogtertjie met krul hare gespeel het, en dat dit my eerste en laaste Shirley Temple fliek was.
Die irriterende, skril hoë stemmetjie, spreek vanself. Maar ek dink nie dit het hoegenaamd iets met Shirley Temple te doen nie, dit was maar ‘n algemene probleem met ‘n sekere era se flieks.
Ek onthou in daardie tyd (en nou praat ons van meer as 40 jaar gelede) ook nie enige ander flieks in Johannesburg nie. Ons moes eers weer Johannesburg toe vir fliek, toe Libertas, Alberton se onafhanklike filmteater, toegemaak het en ‘n moewiese meubelwinkel, Lubners, verbeel ek my, in die plek daarvan oopgemaak het.
Libertas, o die wonderlike Libertas!
Ek sou eers baie jare later uitvind dat Libertas die godin van vryheid is, dat antieke tempels in haar naam opgerig en in plek gehou is.
Maar vir ons klomp kinders, destyds, is dit presies wat Alberton se Libertas was:  ‘n tempel wat deurgang gebied het tot wonderwêrelde waarin enige iets moontlik was.
Libertas het my die eerste keer saam met my Pa in die fliek gebring, sommer twee keer. Ek was 7, dit was die jaar 1971, en my pa het soveel van Jans Rautenbach se Pappa Lap gehou, dat ons gesin dit inderdaad twee keer in een week gaan kyk het.
En soos wat Pa van Pappa Lap gehou het, was Zorro weer mý gunsteling.
Die bloed begin sommer in my are tintel , net by die tik van die vorige sin en die uitspel van die naam: Z O R R O – ZORRO!
Maar met Pappalap/Pappa Lap was dit maklik.
Sien, alles is mos deesdae moontlik:  ek het bloot net “pappalap” in Google se navraagboksie getik, en oomblikke later toe het ek alles aan my vingerpunte:
Die film is 28 Junie 1971 vrygestel.
Gordon Vorster en Katinka Heyns se name onthou ek natuurlik van toe af, maar Marga van Rooy en Hermien Dommisse het ek vergeet.
Ek weet ook nou dat die fliek R105 000-00 gekos het om te vervaardig en dat Koos Roets se debuut as kameraman was. Ook Trix Pienaar debuteer met hierdie fliek as aktrise.
En dit is presies wat ek met Zorro wou doen – ek wou weet wanneer en hoe oud ek was toe ek kindertyd se silwerdoekhoogtepunt beleef het, ek wou kyk watter Shiley Temple fliek dit was waarvoor daar met klein Hansie al die pad ingery is Johannesburg toe.
Nie so maklik nie. Nie heeltemal so maklik nie.
Shirley Temple het in 58 flieks gespeel, die laaste een waarin sy gespeel het, was voor my geboorte. 
Sy is twee dae na my ma gebore, 23 April 1928! 
Die fliek wat ons in Johannesburg gaan kyk het, moes iets uit die 1930’s gewees het.
Dit laat my met 43 flieks. En elkeen van hulle is swart en wit, soos ek onthou, en Shirley Temple het in elkeen van hulle lieflike krul haartjies (ek sal dit nooit vergeet nie).
Ek moet vrede maak met die feit dat ek nooit sal weet watter fliek die eerste fliek van my hele lewe was nie. Ek sal al 43 moet kyk en spoor ek een op waar sy met haar krul haartjies vir die kamera kyk, blinkerige swart skoentjies mooi teen mekaar, ‘n swart handsakkie wat sy in beide hande voor haar waterlyn vashou, dán eers sal ek weet dis my fliek.
En dieselfde met Zorro!
My Libertas-dae dateer uit die dae voor jy óf na ‘n Ster Kinekor of Nu Metro teater gegaan het om die nuutste vrystelling te sien. Die man het gewys wat hy wou wys, waarop hy ook al sy hande kon lê. Wanneer hy wou.
Dit moet voor 1978 wees, want teen standerd 6 was Libertas al ‘n meubelwinkel en moes ons met die bus Johannesburg toe om in die middestad te gaan fliek.
Dit laat my met 9 flieks uit die sewentigs. Maar soos ek met Shirley Temple agter gekom het, kon dit ‘n ou fliek, sommer ‘n baie ou fliek, gewees het wat die eienaar opgespoor  het om die dorp se jong seuntjies op hol te jaag! Dit kon gevolglik een van 38 moontlike titels gewees het.
Ek onthou iets van ‘n kers. Kry hy die kerse vlam met die punt van sy sambok dood? Of zwiep hy met die punt van sy swaard so drie maal deur die kers, dan is daar ‘n –z deur die kers gesny, maar dit het alles so vinnig gebeur dat die kers nie uitmekaar val nie? Maar is dit nie ‘n ander fliek nie?
Ek kan, en het, “Zorro” en “candle” en “sword” saam in die Google-soektogkoevertjie getik.
Soos Google dit mooi in Afrikaans my stel, het my soektog “ongeveer 19 500 000” skakels opgelewer.
‘n Ertjie gaan dit dan maar bly.
Ek moet aanvaar dat party goed nou maar een maal vir eens en vir altyd verby is, ek sal dit nooit weer uitvind nie.
Soos die naam van die oom en die tannie in Durban, moontlik ‘n neef van my pa, by wie ons kleintyd ‘n hele paar keer gaan kuier het. My broer het nie ‘n idee van wie ek praat nie. Hulle het elke jaar vreeslik baie storieboeke vir my gegee. Ek en Klaradyn het nou nog van daardie boeke wat ek so drie jaar gelede nog vir haar voorgelees het.  Ek dink die tannie se naam was Anne (soos my ma se suster). Ek sien die huis voor my. Hulle het love birds in ‘n baie mooi hok gehad.
Hulle is vermoedelik al jare lank oorlede.
Klaradyn, as jy ooit hier lees, jou eerste fliek was Happy Feet. Jy was twee jaar en ‘n paar maande oud, beslis nog nie drie nie, toe ons jou bioskoop toe geneem het. Jy kon nie ‘n snars Engels verstaan nie, maar die byklanke en beelde het jou so op hoogte gehou dat jy in aanloop op die klimaks aangedring het om te loop. Mamma het buite met jou gewag. Jou pa, die vark, het julle laat wag terwyl hy die fliek klaar gekyk het.
Wanneer Pappa sy eerste Zorro gesien het, sal hy nie weet nie, maar jy het jou kennismaking met Zorro die naweek van 16 en 17 Februarie 2013 gehad. Eers die een van Banderas en Jones met Anthony Hopkins in, en toe die opvolg sonder Hopkins.
Mamma het langs jou gelê en slaap tot die einde. Pappa was so moeg, hy het na ‘n uur gaan slaap en die fliek die volgende oggend klaar gekyk.
Jy het die Sondag met ‘n Zorro-masker gespeel en na jouself as Esperanza verwys.
Jy was in graad 3 en so wakker soos ‘n akker toe jy moes gaan slaap – jy wil soos die heldin wees.
Moenie as jy eendag oud is, sê ek het jou nie gehelp nie.
As jy enigsins na my aard, gaan dié klas van ding  ook dalk eendag aan jou knaag. Wees gewaarsku.
Gelukkig is dit ook mos eintlik waarom Pappa hierdie blog byhou, lest we forget.
Mý Zorro sal egter ‘n ertjie bly.
Behalwe nou as my beste vriend sedert standerd 1 (en ek weet hy het die fliek gesien, ek onthou ons het daaroor gepraat, selfs so laat as matriek nog) dalk lig kan werp. Maar wat is die kanse?
Gelukkig is dit dan darem alles ook nie net ertjies nie; ek sien daar is ‘n nuwe Zorro in die pyplyn wat in 2014 vrygestel word.
Aan die anderkant is dit nie noodwendig iets om na uit te sien nie, die wedergeboorte speel nie in die 1800’s af nie, maar iewers in die apokaliptiese toekoms, 2110 of daar iewers.
Dis hartseer dat sommige goed vir altyd verby is en jy dit nooit weer sal hê nie.
En dan is daar ander goed waarvan dit beter is as dit liefs nooit jou pad kruis nie.


SOMMER VIR SOMMER

Fotobron

Shirley Temple se kindertyd-flieks:
1939 The Little Princess
1938 Just Around the Corner
1938 Little Miss Broadway
1938 Rebecca of Sunnybrook Farm
1937 Heidi
1937 Wee Willie Winkie
1936 Stowaway
1936 Dimples
1936 Poor Little Rich Girl
1936 Captain January
1935 The Littlest Rebel
1935 Curly Top
1935 Our Little Girl
1935 The Little Colonel
1934 Bright Eyes
1934 Now and Forever
1934 Baby Take a Bow
1934 Now I'll Tell
1934 Little Miss Marker
1934 Change of Heart
1934 Stand Up and Cheer!
1934 Managed Money 
1934 As the Earth Turns
1934 Mandalay
1934 Carolina
1934 Pardon My Pups 
1933 What's to Do? 
1933 Merrily Yours 
1933 Kid 'in' Africa 
1933 To the Last Man
1933 Dora's Dunking Doughnuts 
1933 Polly Tix in Washington 
1933 The Kid's Last Fight 
1933 Out All Night
1933 Kid in Hollywood 
1933 Glad Rags to Riches 
1933 New Deal Rhythm 
1932 The Pie-Covered Wagon 
1932 Red Haired Alibi
1932 War Babies 
1932 Runt Page 
1932 Kid's Last Stand

Fotobron
Flieks (net die flieks en in Engels, daar is meer as 200 titels met die woord “Zorro” in, op die Internet Filmdatabasis geregistreer)
Zorro Reborn (2014)
Zorro (I) (1975)
Mark of Zorro (1975)
Zorro (II) (1975)
Red Hot Zorro (1972)
Zorro the Fox (1968)
Son of Zorro (1947)


24.1.13

Voor in die koor

So kry ons toe mos nou hier knap voor Kersfees skotteltelevisie. Dis nou drie weke dat die ding nie eers aan was nie. Vir al wat ek weet, is ons al twee weke gelede afgesny.
Moet ook nie sê ons moet naweke kyk nie – daar is soveel ander en lekkerder dinge om te doen, dat ons daarby ook nie uitkom nie.
Iewers in die vakansie was daar wel iewers op KYKNET ‘n insetsel oor hierdie een of ander koor in die Kaap wat glo so goed is, tien teen een die Stellenbosch Universiteitskoor (dis beslis nie die Acapella koor nie).
In elk geval, die koormeester laat val toe in die onderhoud dat hy dikwels ‘n minder goeie stem kies as hy aflei die stem se baas is passievol begeester en het potensiaal.
Ek het soveel waardering vir die man gehad; juis omdat ek nog altyd van dieselfde uitgangspunt uitgegaan het. Ek gaan nog verder en sê gereeld dat ek veel eerder werk met iemand wat wíl, maar nie noodwendig so goed kán nie, as wat ek sit met een wat kán, maar nie wíl nie.
En toe nie hier, op nasionale televisie, ‘n man wat praat asof dit ek persoonlik was wat hom voorgesê het. Nogal ‘n koormeester daarby.
As alle koorleiers maar so was – in die besonder die juffrou in beheer van Klaradyn se junior laerskoolkoor!
Ek moes op universiteit 100 uur lank na gefiltreerde klassieke klanke luister in die hoop dat ek daardie 100 ure later minder toon doof daar sal uitstap.
Helaas!
En dan het ek nog altyd van sing gehou.
Ek onthou nog goed hoe my beste vriend se ma, ook my standerd 1-onderwyseres, een oggend terwyl ons in haar klas gesing het, van agter uit haar stoortjie gekom het, teen die deur gaan staan het, vir my gekyk het, en gesê het:  “Jy hóéf nie heeltemal so hard te sing nie, Hansie.” En ek haal aan, ek haal verbatim aan – ek onthou dit 40 jaar later steeds woord vir woord.
Ek sou dit tot in die hiernamaals kon onthou. Maar was daar iets soos ‘n koor, weet ek nie wat hulle met my sou aangevang het nie.
Annieka sing self nie soos ‘n engel nie.
Ons altwee glo egter dat ‘n mens nie mooi hoef te kan sing nie, jy moet net lekker kan sing.
En dit doen ek en sy uit volle bors – ons sing lekker.
Ook nie ek en sy nie, maar ek en sy en Klaradyn.
So het ons Klaradyn dan ook groot gemaak; dit het immers gou geblyk dat sy, wat sang betref, 100% na haar ma aard, 100%na haar pa aard en gevolglik 200% toondoof/vals is.
Maar net so is sy ook 200% lief vir lekker sing – lekker sing tot op die punt dat jy jou ore met pluisies wil toestop.
En as daar nou een mens is wat dit selfs nog beter as haar ma en haar pa, haar ouma en oupa (selfs haar oorlede ouma en oupa) weet, dan is dit haar skool se juniorkoor-juffrou.
Ek weet nie wie sy is of hoe sy lyk nie, maar toe ek sommer met die eerste skrywe van die laerskool se kant af, vroeg vanjaar hoor sy begin eersdaags met kooroudisies, het my hart na haar uitgereik – die stomme juffrou.
Dit gebeur seker nie sommer dat ‘n laerskooljuffrou gronde het om op te staan as sy ‘n laerskool kind van teistering aankla en aandring op ‘n hofinterdik dat die kind nie binne 500 kubieke meter van haar mag kom nie; so sy en Klaradyn sou geskiedenis kon maak.
Ek het in graad 1 by die vierde of vyfde keer wat Klaradyn vir kooroudisies gegaan het, ophou tel. Ek het skaam gekry.
Onthou, die juffrou vra net een keer – dis Klaradyn wat al om die ander maand of week vanself aanmeld.
Die arme vrou kan nie eens terreindiens doen nie, dan corner Klaradyn haar en kry the hills alvie with the sound of music.
Sy moet ook nie sê dat hulle ‘n volgende keer weer sal luister en kyk nie; want dan besluit Klaradyn ‘n maand of wat later dat volgende keer se tyd nou aangebreek het.
Toe kom graad 2, en dit gaan niks anders nie.
Intussen is daar van haar ander maatjies wat kla en ophou en wil ophou en dreig om op te hou, maar Klaradyn meld aan vir luisterryke oudiënsie na luisterryke oudiënsie.
En toe die juffrou nou net mooi genoeg gehad het, toe reken sy, sy het nou lank genoeg ge-suffer, dis nou die ouers se beurt om te suffer, en hier teen die agste of negende probeerslag stuur sy die kind huis toe met: “Jy moet nog ‘n bietjie meer oefen om te kan sing. Gaan oefen hard en dan probeer is volgende jaar weer.”
En Klaradyn het met volle oorgawe, uit volle bors ‘n volle repertorium gaan aanleer en oefen.
Ek en my vrou het kilogramme in die proses verloor, so erg was dit om net daarna te luister.
Intussen het Klaradyn iewers gehoor dat jy nie so mooi hoef te kan sing vir die senior koor nie, daar is baie meer kinders in die en jou stem kan in die massa verdwyn.
Dis presies wat hulle vir my pa gesê het toe hy op skool in die koor was:  maak maar net of jy kan sing.
Dis presies wat hulle in graad 1 vir my gesê het toe ons graad-eentjie-parrabeentjies die eerste keer op die verhoog gesing het. Ek het destyds gedog dis omdat ek pampoentjies gekry het en twee weke skool gemis het.
Maar in graad 2 en standerd 1 toe gebeur dit weer.
En weer.
Teen die tyd dat dit ‘n derde keer gebeur, toe kon ek al een en een by mekaar tel.
Nie Klaradyn nie – as ‘n mens ministers sonder portefeuljes kan kry, dan kan ‘n mens koorlede sonder stemme ook kry, is blykbaar haar vertrekpunt.
So toe trek sy met die eerste afkondiging van die jaar los en begin sing.
Vir die hoeveelste keer.
Met oorgawe.
Volle oorgawe.
En dis dan toe ook net mooi op daardie punt dat die juffrou moes geknak het, want toe ons weer hoor, toe kom die kind in ekstase by die huis aan met die nuus dat drie jaar se volgehoue oefening, vrugte afgewerp het – sy het haar kooroudisie, wys jou net  aanhouer wen, geslaag.
Die arme koor, die arme juffrou, my arme kind!
Wie eerste gaan wees om die koor te verlaat, sy of die juffrou weet ek nie.
Tot dan koester ek maar die seepbel dat hy nie bars nie.
Dis op die ou einde dalk nie die juffrou of my kind nie, maar sommer die hele koor wat nie opgewasse is vir alles wat die begin van die nuwe jaar vir hulle inhou nie.
Ons leef in opwindende tye, my joie de vivre-kind die meeste van ons almal.
As dit aangaan soos dit nou aangaan, sing sy eersdaags in die Kaap in daardie ander mannetjie se koor vol jong ontluikende kunstenaars.

5.1.13

Nuwejaar op Zwartkloof

Ook genoem, Voor ek afklok, lepel in die dak steek en die emmer skop,  want hierdie en ander goed, die wat is en die wat was, het mos nou maar een maal die geneigdheid om rondom Ou- en Nuwejaar deur die gedagtes te wil maal.
En so is daar op my afkloklysie (maak dit dan maar emmerlysie, gedagtig aan Norman Freeman en Jack Nicholson se fliek, Bucket List) is eintlik net een iets.
En dan is dit nie ‘n item soos wat die outjies in die fliek ‘n aantekening sou definieer nie. Sien, ek moet eers self lepel in die dak steek voor hierdie lewensambisie en  -aspirasie van my, hoogs postuum, miskien, afgetik sal kan word – en dan ook net deur Klaradyn, sonder dat ek dit ooit weet.
Maar dis eenvoudig: Dis vir my ‘n behoefte van die hart dat Klaradyn, nadat ek en Annieka weer tot die stof waaruit ons kom,  teruggekeer het, van ons sal dink, en oor ons sal voel, presies soos ek en my broer na haar dood oor my oorle’ mammie voel en dink: een eindelose, grenselose bondel liefde, niks meer, niks minder, as net dit nie; lewenslange liefde, tot oorlopens toe, vir haar kinders.
Ja, ek praat van “Oorle’ Mammie” en ek praat met deernisvolle liefde en ‘n ewe deernisvolle glimlag van my oorle’mammie, want dis hoe my oorle’ mammie se eie oorle’ mammie (my ouma) altoos van  haar oorle’ mammie (my oumagrootjie, Vroutjie, wat ek net van foto’s ken) gepraat het.
Ek kan nie anders nie, dis die voorbeeld van my ouma waarmee ek groot geword het, ‘n voorbeeld wat ek nie skaam is om te volg nie.
Soos ook die voorbeeld wat my ma vir 46 van my lewensjare voorgeleef het. Want dink ek deesdae aan haar, dink ek regtig net liefde en niks anders nie.
En as ek my lewe so kan leef dat my kind eendag dieselfde dink, dan was dit nie onnodig dat ek die eerste lewenslig aanskou het nie.
Tog gebeur dit dat ek van tyd sekere wonderlike ervarings het en dit dan, in retrospeksie, gou op my afkloklysie neerskryf en summier ‘n regmerkie daarnaas maak.
Een so ‘n inskrywing wat ek gister gemaak en afgetiek het, het op die koop toe vanoggend ‘n tweede regmerkie agter hom gekry. En verloop alles moreoggend voor ons huis toe gaan volgens plan, dan tiek ek more ‘n derde regmerkie agter die inskrywing.
Dit alles het in 1987 of 1988 in ‘n bad onder die bome op die walle van die Okavangorivier begin.
Ja, ‘n bad, letterlik in die kale oopte onder die bome, met ‘n uitsig op die rivier.
Kyk, ek het nog altyd ‘n ding met ‘n longdrop waarvan jy die deur nie toemaak nie en dan afskakel met ‘n uitsig op alles wat mooi is.
Om dieselfde ervaring te hê, nie vanaf die troon nie, maar van binne ‘n bad, met ‘n uitsig van 360 grade as jy jou kop soos ‘n uil wil draai, is mos nie net koninklik nie – dis hemels.
Die naaste wat ek na 1988 op die Okavango-oewer daaraan kon kom, was aan die hand van een van hierdie storte wat rykes buite hul seevakansiehuise aanbring, die stortkoppe om die sout en die sand van jou af te spoel voor jy die huis ingaan.
Maar dis glad nie dieselfde nie, geensins nie.
Nie eens amper nie.
Maar toe tref privaat wild- en natuurreservate die Suid-Afrikaanse bosveld. En blaai jy van tyd tot tyd deur glanstydskrifte of koffietafelpublikasies oor Afrika-interieurs, dan vang jou oog ‘n soortgelyke baddens.
Prentjiemooi, idillies, arkadies, nirvana.
Partykeer is daar ook prentjies van ‘n huisie by die see wat onbekostigbaar hoog op rots gebou is, en dan kyk jy oor die Atlantiese of Indiese oseaan uit terwyl jy seker maak die water se temperatuur is na jou wense.
Maar ‘n plekkie by die see het my nog nooit getrek nie, gee my liewer ‘n droom (maak dit liewer dan ‘n fantasievlug) na die een of ander bosveldwegbreekoasetjie.
En daar word my droom toe werklikheid toe vriende ons saamnooi na presies so ‘n wildsplaas waarvan gewone mense net in tydskrifte lees of op televisie sien.
Ons betrek die luuksueuse tentkamp.
Alles is vreeslik mooi en weelderig en pamperlang, uit die boek, uit die beste, mooiste, dikste, glansste boek. Dis Top Billing en Pasella en ek weet nie watter plaaslike en oorsese programme alles nie.
Maar ek, wat gewoonlik ‘n oog vir ‘n keurige ding het, sien daar niks van raak nie; ek staar my blind teen die bad in die badkamer van nagenoeg 16 vierkante meter.
Maar dis ook nie die bad en die feit dat ek en my vrou en my kind daarin kan wegkruip en nie raakgesien word nie, so groot is hy nie; dis drie van die vier “mure” om die bad; nie die bad nie – die uitsig!
Met die dat alles tent is (en dan praat ek nie van tweeman-plastiekgoedjies waarmee jy op Voortrekkerkampe of staptoere gaan nie, nie eens die tente waarin krygshoofde in antieke, of latere, tye hulself afgesonder het om strategies te kan dink nie; ek praat van die goed wat jy in koffietafelboeke raaksien) is daar mos nou hoeka nie “mure” nie, dis seilwande, met binne die seilwande, direk teenaan, niks anders nie as gaaswande.
En dis toe net daar dat ek die natuur in die badkamer innooi en elkeen van die drie buitemure se buitenste seile gaan oprol tot bo die dak en nie kan wag om te gaan slaap dat ek kan wakker word en gaan bad nie.
Ag, en dan kan ek nou adjektiewe gaan soek en dit inryg om te wil beskryf wat ek beleef het, hoe ek gevoel het, wat ek gehoor het, wat ek gesien het, in die afgelope twee oggende se ongeveer ‘n uur wat ek daar in die bad deurgebring het, maar ek gaan nie eers probeer nie, ek weet maar al te goed woorde skiet te kort.
Kom ons volstaan daarby dat ek in die sierste van sierskrif (soos selfs my oorlede mammie my op haar beste nie sou kon nadoen nie – en sy was goed) op my afskoplysie skryf:  opelugste van alle opelugbadervarings denkbaar, en dan ‘n mooi regmerkie daarnaas maak, nie een regmerkie nie, maar drie. Sien, ek gee mos nie om om vuil te gaan slaap nie, dis die vuil opstaan waarmee ek nie kan saamleef nie.
En as ek hierdie gesels stop afknip, dan is dit omdat ek haastig is en nou in die bad gaan lê en lees en luister na die geluid van die natuur wat om my leef.
Hier sak die son
en die flappe is af,
maar die idee is daar.

Ja, ek kon gaan stort,
maar selfs met 'n
waterdigte Kindle hou ek
nie van staan en lees nie.

In retrospeksie hoort die
hele ervaring op 'n
afklok-lepel-emmerlysie

Steeds jammer die
flappe is af


Ook maar goed ek is
nie 'n krygshoof nie -
ek sal sukkel om
strategies te dink

Die hele Zwartkloof-ervaring is opsigselwers iets wat die verwesenliking van 'n lewensambisie of -ervaring kan wees. Besoek gerus die webwerf deur hier te kliek.