Pages

26.10.12

Woensdagmiddag toe dit hier by ons na reën gelyk het

In 25 jaar van onderwyser speel (eintlik is dit 37 jaar onderwys, tel jy die 12 jaar agter die banke by) het ek darem al baie maal gehoop en bid die atletiek reën uit.
Vanoggend weer.
Maar dit was die eerste keer dat ek gehoop het ‘n byeenkoms van Klardyn, en nie my eie skool s'n nie, spoel in stormwaterstrome en –slote weg.
En dis nie dat ek nie wil hê hulle moet hol nie, hulle moet; dis net dat ek daar wil kan wees as my eie kind hol.
En dit kon ek nie vanmiddag nie:  drie ander verpligtinge,en nog 'n een of ander daarby ook.
Toe dit egter hier teen 12:00 steeds by blote beloftes en vae gerugte van reën bly, toe klim ek met my onbeholpe vingers op die foon se alfabet en SMS my uit twee en ‘n half van die drie afsprake uit. (Ons het die een in topversnelling teen vinnige spoed so in die hardloop afgehandel; vandaar die verlore halwe.)
En dan is dit nou nie dat ek en Annieka ‘n wunderkind, ‘n Jesse Budd of Zola Owens (ja, my sportverwysingsraamwerk is kleiner as my jaarlikse verhoging) in ons midde het nie; dis net dat sy vir haar kleurspan gaan hol, drie keer, en Pappa wil daar wees om dit te sien.
Sy was vierde in haar kleurspan, die Berghane (nogal Mamma se gunsteling roofvoël) maar ek is seker daar is in elkeen van die ander twee kleurspanne seker 8 kinders vinniger as sy.
Maar nie een so gewillig, en dan nog met soveel oorgawe gewillig, soos sy nie.
Die lewe is mos vir Klaradyn ‘n lied, en as drie interhuisitems toevallig drie akkoorde in daardie lied is, dan sing sy uit vollebors saam.
Die helfte van die eerste vergadering na skool het my, ten spyte van ons haas, uit haar eerste item uit.
Ek verneem by Mamma, via selfoon, dat sy nie ‘n goeie wedloop gehad het nie;  sy was glo nie deeglik opgewarm nie.
Voor die tweede item verbeel ek my inderdaad ek sien iets wat lyk soos iemand wat iets aan het wat kan herinner aan Klaradyn se t-hemp, besig om strekoefeninge te doen. Maar in daardie stadium is ek meer bekommerd die kind gaan oorkook van al die roomys en koeldrank wat ons tussen die twee items ingepas het, as dat sy enigsins gevaar kan loop van ‘n  koue spier wat verstuit.
Ons Moolman het teen daardie stadium in elk geval genoeg spiere vir een dag verstuit – Ma het, nie dat ek kan getuig nie, ek leen my ore aan haar uit, effe onvleiend iewers agter die pawiljoene  neergeslaan en haar enkel staan soos ‘n ballon wat enige oomblik kan bars.
Maar dit gaan in die tweede item, gemeet aan die hoor-sê van die eerste, nie te sleg nie; ek oortuig haar sy was sewende en wys by herhaling daarop dat sy meer as een kind in die wedloop  verby gevat het.
Dit (sal diegene wat verlede jaar ook hier gelees het, weet) is al ‘n reuse verbetering op 2011 se prestasie; verlede jaar het sy, nogal in die aflos, gewag dat haar maatjies haar eers inhaal voor sy verder saam met hulle gehol het.
Sy het verlede jaar die eerste been van die aflos gehardloop en in die buitebaan weggespring. Om voorsiening te maak vir die kromming van die baan, het sy toe natuurlik etlike meters voor haar ander maatjies afgesak vir die wegspring. En toe haar maatjies eers langs haar is en hulle kan saam hardloop, beteken dit toe dat hulle teoreties (onthou die kromming en die buitebaan) meters voor haar is.
Vanjaar, toe dit weer aflostyd is, sien ek die spanbestuurder het darem geleer uit vorige jaar se fout en sy is nou op die eerste oorgee.
Voor die aflos is daar sprake van nog ‘n roomys en ek ontdek die kerrie-en-rys in die kombuis onder die pawiljoen. Daar is darem maar min dinge so sleg soos slegte, afskeep kerrie-en-rys, by enige skoolfunksie of kerkbasaar. Aan die ander kant is daar min dinge so lekker soos ‘n lekker bakkie kerrie-en-rys op so ‘n geleentheid.
Met die gerugte van reën steeds in die lug, dis lekker bewolk en eerder koud as warm, is dit net die feit dat ek weet hulle gaan my snaaks aankyk as ek nóg ‘n bakkie koop, wat my daarvan weerhou om ‘n derde bakkie te koop.
Toegegee, ek wil ook nie my aandete bederf nie – die oomblik toe ek my verbeel dis nie meer hoogsomer se hitte nie, en almal beplan om ‘n pannekoekie deur te werk, het my kop ook op kaneelsuiker besluit, maar nie saam met pannekoek nie, saam met melkkos.
Ewenwel, ek (dik gevreet) en Ma (haar voet dik geswel van die neersloeg) val toe iewers tussen ‘n spul oudleerlinge van my, wat nou almal saam met hul 1991-onnie kinders in die skool het, langs haar trek van die baan in. Wat takties gesproke natuurlik ‘n moerawiese fout was, want toe sy ons sien en hoor aanmoedig, toe kyk sy vir ons, glimlag vir ons, en vergeet geheel en al dat sy eintlik met ‘n wedloop besig is. (Gelukkig was dit nie ‘n skoolkonsert en die ban ‘n verhoog nie, want dan het sy nog vir ons gewaai en halo gesê ook.)
Met die oorgee van die stokkie (maar dis ‘n eufemisme – toe sy die kind wat by haar moet oorneem se onderarm met die stok stukkend kap en haar pols boonop in die proses ook ontwrig) verloor hulle nog kosbare sekondes/meters, wat soos minute/kilometers gevoel het.
Maar, ag, dis so lekker! En die dogtertjie op tweede oorgee het dit in elk geval nie eers gevoel nie!
Ek het my aansporing met die “baie maatjies verby gesteek” op die reguit-snol-wenpaal-toe, probeer ewenaar met ‘n verduideliking van hoe sy die afstand tussen laaste en tweede drasties laat krimp het, maar die konsep is vir haar nog onmoontlik om te snap. Ek het probeer.
Nie dat dit nodig was nie. Sy het lekker gehol. Ons het huis toe gery en langs die pad gestop vir koeldrank. Ons moes selfs terugry om die warm ding wat sy aan die oorkant van die veld onder ‘n boom vergeet het, te kom optel.
Maar die belangrikste van alles, die spesiaalste en kosbaarste, spontaan, sonder dat ek dit vra of haar daarna pols, is haar opmerking (die belangrikste van alles, die spesiaalste en kosbaarste, spontaanste, sonder dat ek dit vra of haar pols) toe sy langs my in die motor klim en uit haar eie sê:  “Baie dankie Pappa dat jy vir my kom kyk het.”
Ek is nie so nie, en ek het haar nie so afgerig nie. Sy het nie nodig om dit te sê nie, nie vir my nie, vir ‘n ander tannie beslis, maar nie vir haar pa nie...
En tog:  :  “Baie dankie Pappa dat vir my kom kyk het.”
Vir daardie paar woordjies sit ek volgende jaar weer daar, ry ek trouens skelmpies ‘n periode of wat voor die tyd by die skool weg en hoop die hoof vang my nie uit nie.

14.10.12

Oor Pettson, Fielies en ‘n sielsvriendin

Protea-boekehuis, so lyk dit my, is besig om Sven Nordqvist se hele reeks rondom Pettson en sy kletsende kat in Afrikaans te vertaal.

Verlede jaar, ‘n dag of wat voor my ma se siekbed en dood is ek inderhaas boekwinkel toe om ‘n Vir-Klaradyn-met-liefde-van-Ouma-Nooi-geskenkie te koop.

Dis toe dat ek op die eerste, en in daardie stadium enigste, twee besluit.

In Klaradyn se eerste boekies het my ma nog met haar mooi sierskrif-handskrif kon skryf, maar die laaste jaar of wat skryf ons maar self: Aan Klaradyn, met baie liefde van Ouma Nooi.

My oë val die laaste jaar op meer as een geleentheid op daardie woorde want ek en Klaradyn raak dadelik verlief op die eksentrieke karakter van ou Pettson; Fielies, sy kat, kom kruip onder ons vel in.

Die verteller in die Afrikaanse vertelling vertel die stories ook so lekker, ‘n mens kan nie anders as om pens en pootjies in die gebeure in te klim nie.

Maar dan luister en lees ‘n mens nie net lekker nie – jy kýk so lekker daarby ook. Sven is immers skrywer én illustreerder tegelyk, daarom miskien dat die storie en die beeld, die verteltrant en tekenstyl so lieflik ontmoet.

Deur die loop van die jaar kom ons agter ‘n vriendin, haar man en die ganse gesin is soos ons net sulke sterk aanhangers van die eensame ou man en sy pratende kat.

Terwyl die kinders buite speel, lag ons grootmense te heerlik (ek hoor weer ons gas en jarelange universiteitsvriendin van onder, diep en laag uit maag en keel lag) om die etenstafel vir die omie en die kat se streke.

En so bring hulle vir my en Klaradyn ook by Pettson op Youtube uit.

Ja, hierdie is kinderboekmense, nog mense wat soos ek die boeke en outeurs en illustreerders gaan google om meer te ontdek, en inderdaad meer ontdek.

En toe, verlede Sondag, loop ek nóg twee in die reeks raak. Fielies raak weg en Pettson gaan kampeer.

Klaradyn klouter saam met Mamma en Pappa op die dubbelbed en voor ons, ons Sondagagtermiddagslapie geniet, het ons ons eerste ontmoeting met twee nuwe stories.

Ek moet die voorlees by herhaling op grond van een van twee redes onderbreek: óf ek, óf Klaradyn kraai te veel van die lag, of ons al twee wil eers net die lieflike illustrasies “lees”, voor ons verder aan die woorde lees.

Die wonderlike samesyn in die geselskap van Pettson en Fielies en die hoenders en die twee husse, ontaard in een van die lekkerste momente wat ons tweetjies in ‘n lang tyd het.

Maandag jaag ek eers Graffiti-boekwinkel, toe reguit na Protea-boekwinkel toe, om vir my boekvriendin ook ‘n eksemplaar van die boeke te kry. Nie vir die kinders nie, nie vir Pa nie, vir háár, spesiaal.

Ek wil haar gee, ek wil haar skenk, gun, presies dieselfde wondermoment wat ek en my kind gehad het, saam met elkeen van haar drie kinders en haar man.

Ek verwoord daarom ook my kaartjie iets soos:  Ek wil jou drie geskenke in een gee. Die minste daarvan is die twee boeke. Groter is die genot en leeservaring om die boeke, die storie en die prentjies self te leer ken; en nog groter as dit, die genieting om jou kinders se genot te beleef as jy dit vir hulle voorlees.

Dit word my hart se wens om dit met my haar te kan deel.

Woensdag maak ek my oë groot toe ek in my vriend en kollega se kantoor sien dat sy vrou se pakkie van die vorige dag nog net so in die kantoor lê.

Maar dit gaan dol in hul huishouding en ek verstaan.

Vrydag bel hy my net na nege die aand.

Ek skrik.

Ons was nie een van die twee die dag by die skool nie.

Hy bel spesiaal om te laat weet dat my geskenk wel, so wil dit voorkom, reaksie ontlok het – die enigste reaksie ontlok het.

Pappa is met al drie kinders hospitaal toe, maar Mamma is onder omstandighede nie tot veel reaksie in staat nie.
En so red Pettson en Fielies gelukkig toe die aand – dis toe hulle haar van die boeke vertel, dat sy inderdaad ‘n glimlag oor haar lippe en in haar gesig kry.

En as sy kon, weet ek dit sou daardie lekker, diep, lank en uitgeregte, kenmerkende lag van haar, die een wat sy lag as sy die dag lekker lag, van onder uit haar keel en maag wees.

Maar nie Vrydagaand nie.

Gister pluk ons blomme in ‘n vriend se tuin om te sê dat ons lief is, blomme om teenwoordig te wees waar dit te privaat en intiem is vir ons om self in die persoon te wees, die onkologiese Mary Potter-vleuel van die Little Company of Mary-hospitaal.

Of sy ooit die lieflike Lemon Verbena en Roosmaryn wat ek saam met die pronk-ertjies, en letterlik die laaste papawer en kamelia van die lente ingewerk het, geruik het, sal ek nie weet nie.

Die SMS het vanoggend deurgekom net voor ek hier bo begin tik het.

Woorde soos vreedsaam en genade en in haar slaap kom daarin voor.

Is dit dan hoe dit is om, nie ‘n boekvriendin nie, nie sommer net ‘n vriendin van 28 jaar nie, maar ‘n sielsvriendin te verloor?

Dit is dan hoe dit is om ‘n sielsvriendin te verloor.

Ja, dit is.

1.10.12

1982 - 2012


Ek is ook al een wat
nie 'n dag ouer word
nie, en jaar na jaar
net al hoe aantrekliker.
Óf jy is een, óf jy is nie een nie; jy kan ook nie soorts van een wees of nie wees nie – jy is dit met oorgawe, of jy is dit met oorgawe nie.
Ek hou met oorgawe van ‘n reünie; of dit nou ‘n skoolreünie of ‘n universiteitsreünie is, die saam kuier van ‘n spul oudkollegas, of saam gesels met die ouens wat saam met jou in die peloton was.
Daarom hou ek ook van begrafnisse – dit is immers die naaste wat families deesdae aan ‘n reünie kom.
Ek hou van familietroues ook, hoewel ‘n mens deesdae op grond van die koste en versteekte onkostes nog die troue by jou verby sal laat gaan.
Ek sal saamkuier met my eerste paar jaar se matrieks, hou hulle die dag ‘n reünie; maar enige iets van na 1995 of 1996 ook nie sommer nie.
Miskien is dit omdat ek graag kuier met die mense wat saam met my oud geword het en nie noodwendig saam met die wat na my oud geword het nie, ek weet nie.
Natuurlik sien ek nog baie van my universiteitsvriende, maar ons het nog net so twee of drie keer ‘n poging aangewend om so vyf of ses van ons tegelyk saam te kuier. Een vet lekkerte.
Die skool het sover ek weet nie op 10 jaar bymekaar gekom nie.
Op 20 wel. En, o, dit was lekker!
Die afgelope naweek het ‘n paar van ons mekaar weer, party vir die eerste keer in 30 jaar, gesien.
En die slotsom:  Ek het lekker gekuier op 20 jaar, maar op 30 is dit beslis, wat my betref, lekkerder.
20 jaar na skool is jy nog nie oud genoeg om nie om te gee nie, op 30 jaar is daar niks wat jy meer kan verloor nie. Op 20 jaar is die egskeidings nog te vars, die ongetroudes te veel van ‘n bedreiging vir die getroudes, en verbeel jy jou jy is nog op pad na ‘n kruin toe.
Maar 10 jaar later het elkeen al op die een of ander manier sy gat gesien en geleer om daarmee saam te leef; of dit nou as mens, eggenoot, werker, pa of ma is, dit maak nie saak nie – jy het, as jy gelukkig is, nie meer nodig om voor te gee nie.
En dan kuier ‘n mens net soveel lekkerder.
Ons het nou nie ‘n 10-jaarreünie gehad nie, maar ek stel my voor dat jy jou op 10 jaar seker bykans dood skinder (en te wonder of jy wel die regte vrou getrou het en nie maar tog eerder met daardie seksbom wat tien jaar later steeds nie ‘n dag ouer lyk nie, moes getrou het nie.)
Op 10 jaar is daar seker matriekafskeidbabas, aborsies, opgeskopte universiteitsloopbane, fiskale teleurstellings en ander goed waaroor ‘n mens sou kon skinder.
Ek kan nie juis onthou dat daar vreeslik op 20 geskinder is nie, so hier en daar is iets dalk met ‘n tikkie venyn of lekkerkry gedeel, maar oor die algemeen het die gesprekke om onsself, en om die wat nie daar is nie, gedraai.
Wat het geword van en Wie hoor nog van en Waar is, is inleidings tot bykans elke gesprek.
Die outjies wat nie van reünies hou nie, hou nie van sulke vrae nie en stel ook nie in hul antwoorde belang nie. Maar vir my is dit lekker om te hoor dat sus toe wel met so getrou het, of dat sus en so in Pakistan of op Hotazel sit, of gesit het.
Ek wil ook weet wie is dood en wie nie.
En moenie vir my sê jy het niks om vir die mense te sê nie, jy gesels met jou beste vriende nie 5 of 6, of 7 of 8 ure, só eenstryk deur om nie!
Ek het een skoolvriend oor, en dan is dit streng gesproke nie eers ‘n skoolvriend nie, dis eerder ‘n vriend sedert skooldae – ons was in twee verskillende grade en van hoërskool af, in twee verskillende hoërskole.
Maar dis soos dit is en soos dit hoort – die groot gemene deler tussen skoolvriende en –maats is die feit dat julle in dieselfde skool of klas of rugbyspan is, in dieselfde straat bly, julle ma’s en pa’s vriende is.
Op universiteit brei die groot gemene deler uit – julle deel dieselfde belangstellings en passie, en op die oue einde loop jy die pad enduit met heelwat meer universiteitsvriende as skoolvriende.
En soos party op universiteit vriende maak, kry ander weer daardie gemene en gedeelde belangstelling by die werk.
Kom die kinders die dag, het hulle maatjies weer invloed op jou vriendekring en word enkele van daardie nuwe vriendskappe straks lewenslange vriendskappe.
So terwyl jy nog op skool is, wag daar 20 en 30 jaar later ‘n lieflike verassing op jou – jy gaan lekkerder as lekker en geselliger as gesellig kuier saam met skoolkennise langs wie in twaalf jaar op skool nie eers een enkele keer om dieselfde vuur gesit het nie.
Ja, mense wat geensins op skool maats is nie, kuier 30 jaar later ongelooflik gemaklik en lekker saam – vir daardie naweek of paar uur is die enkele groot gemene deler – ons was saam in die selfde graad in dieselfde skool – só sterk dat dit alle verskille ophef, hetsy nou die verskillende kringe waarin julle op skool beweeg het, of die verskillende rigtings waarin die afgelope 30 jaar julle elk geneem het.
‘n Paar van ons het Saterdag heerlik gekuier, dit terwyl ek in die geselskap van mense was waarvan ek hoogstens die naam vaagweg onthou. En dan verbeel ek my eintlik ook maar net ek onthou die naam.
Op tien jaar vertel jy nie van jou weghol een aand van ‘n ding soos ‘n ouer seun tong wat in die styl van Pinocchio se neus op jou neerdaal nie. Op tien jaar, op twintig jaar, laat blyk jy nie jou vrese en trane en ouers se egskeidings nie. Op twintig bely jy nie dat jy toe maar met C probeer uitgaan het maar eintlik agter B aan was nie. (Toe B nie wou val vir die attensies nie, maar C, haar beste maatjie, wel, toe settle jy wat A is maar vir tweedebeste.) Op 20 is jy nog nie lank genoeg getroud en die kinders nog te klein vir jou om, soos tien jaar later die geval is, te erken dat jy weet jy nooit moes getrou het nie. Straks weet jy dit al, maar jy kan dit nie erken nie.
Dit waaroor jy tien en twintig jaar tevore oor sou geskinder het, het jy nou geen sin in om oor te skinder nie, jy het simpatie, empatie, jammerte, begrip, of ‘n stille onbegrip. Ons het  na wat beweer word‘n lief en dierbare mens verhoorafwagtend vir aandadigheid aan ‘n huurmoord. Maar ek ken nie die detail nie; tien en twintig jaar gelede sou ek al die detail gehad het. Dertig jaar later bly jy stil, jy vra nie uit nie, jy is net bly die lewe het ander paaie met jou geloop.
Ek het Saterdag eers gesukkel om geld te trek – die vervoermense staak en 6 kitsbanke was leeg. Toe reeds amper ‘n half uur later as beplan op die hoofweg, sit ek 40 minute in die verkeer vas. ‘n Vassit waaruit ek baie maklik kon omdraai en huis toe gaan – na my vrou en kind toe, na Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd toe.En as dit nie was dat ek bang is ek self byt nie vas tot ons oor tien jaar weer so maak nie, en as ek nie seker was dat almal wat Saterdag daar gaan wees, dit beslis nie almal vir nog ‘n ronde gaan maak nie, het ek waaragtig omgedraai.
Ek is baie bly ek het nie.
Ek sal die volgende 10 jaar nie om wens nie, maar weet drie dinge: ek sien uit na die volgende keer, ek hoop nie my draad word voor dan geknip, of iemand rol ‘n klip in my pad om daar te kan wees nie.

27.9.12

Iets onaangenaams in die skubliesroos se drinkwater

By my eerste skool het ek altyd te vertelle gehad dat ek, stap ek die dag daar weg, die olieverfskildery van die bloekombome teen die oorkantste muur van waar ek pouses in die personeelkamer gesit en tee drink het, met my saamneem.
Ek is nou 15 jaar weg, en nog elke keer as ek weer daar kom, gemiddeld so een keer elke drie of vier jaar, dan gaan soek ek my paintingtjie op.
Hy was vroeër vanjaar nog op sy plek.
Ek sien hom voor my, soos ek tik, en hoor die wind in sy takke en deur sy blare.
Iewers verbeel ek my ruik ek selfs eukaliptusolie.
In die agt jaar wat ek daar skoolgehou het, het ek dit op my geneem om hom glads op die skool se onkoste laat herraam – ek wil mos nie met die ding in ‘n goedkoop raam daar wegstap nie, wil ek? ‘n Man het mos darem sy trots.
By my tweede skool, nogal een vir die kunste, was daar midde die honderde lieflike skilderye en beelde, onder die son niks wat ek wou saamneem nie.
Om die waarheid te sê, ek sou van my skilderye skenk, net om daar weg te kon kom.
En toe stap ek 21 April 2000 by my huidige skool in.
Ja, 21 April, ek sal die presiese datum nooit vergeet nie – ek en Ankie het 20 April 2000 van wittebrood afgekom, en om die datum nog verder in die brein geknoop te hou was 21 April 84 jaar lank die dag waarop Judy haar geboortedag herdenk het. Deesdae herdenk ons dit sonder haar.
En toe ek daar by die nuwe plek instap toe stap ek in Zakkie Eloff vas, my Zakkie Eloff, die een waarmee ek aanvanklik gereken het ek eendag gaan wegraak, gaan ek die dag daar weg.
Dis ‘n tipiese Zakkie Eloff, ‘n rooibok, maar nie eers ‘n diknekrammetjie nie; sommer net ‘n beskeie, maar lieflike, ooitjie.
Ek twyfel of iemand ooit sal agterkom as ek met die ding wegraak – party dae wonder ek selfs of hulle mý voor die einde van die jaar sal mis as ek en die bok hier iewers in April sommer net weg sou raak.
Nie dat ek meer met die impala-ooitjie onder die arms sal wegraak nie – dis dinge van ‘n kind daardie.
‘n Mens word groot, groter, wyser, slimmer – noem dit wat jy wil, en jaag hulle my more daar weg, is dit ongelukkig beslis nie meer met Zakkie onder die arm dat ek van hulle afskeid neem nie.
En is dit nie vreeslik nie!
Grootword is nie lekker nie.
Ook nie lekker om die dinge van ‘n kind agter te laat nie, maar as groot man bestaan daar by my ongelukkig helaas geen twyfel meer nie – Zakkie se bokkie kan rustig voortwei waar sy die laaste twaalf jaar van my teenwoordigheid al in die een adjunkhoof se kantoor wei.
Ek, Hans Moolman, gaan veel eerder een van die terreinwerkers oor die kop slaan, en nie sommer enige een nie, die een wat die stoorkamertjie, onder by Nico-se-klas, se sleutels met hom saamdra.
Wat daar gebêre word, sal ek wat voor gee. Wat daar gestoor word, offer ek die bietjie wildsvleisies voor op.
Dis nou se dae doodeenvoudig net hopeloos te duur om ‘n stel daarvan vir myself te kry – ek sal dit moet steel.
En presies soos met die ooitjie, is dit nie of die skool dit sal mis nie, hulle het seker ‘n stuk of dertig van die goed, so vier stelle van agt elk.
Ek praat van hierdie lang, stewige, staalstawe wat jy met so ‘n varkstertjie (of watter deel ook al van ‘n vark dit jou aan herinner) vooraan, in ‘n drein afstuur as daar iewers ‘n ietserigheid in die afvoerwaterpyp is.
Dis nou, seker so drie weke al, weer sulke tyd hier by ons. Geen verstopping nie, maar beslis ‘n “spoedkalmering” wat die watervlak gevaarlik hoog in toiletbak laat opstoot en van tyd tot tyd tot senutergende verkeersopeenhopings lei.
En ek weet wat dit is – dis die Pride of India agter die lapa. Dis altyd hierdie skubliesroos wat so welig agter die lapa groei.
Die ding (miskien is dit die wilde een van die twee, ‘n transvaalliguster, ek sal nie weet nie)  groei so geil want hy staan met sy tone in die suiwerste bron van bemesting denkbaar – die rioolafvoerpyp.
Elke lente, en as dit nie elke lente is nie, dan elke tweede lente, dan oorspeel die wortels hul hand en sit ons met ‘n waterwerkprobleem in die huis.
En elke jaar, elke twee jaar as ek gelukkig is, word ek opnuut daaraan herinner dat ons Klaradyn tog nie moet groot maak om eendag met ‘n dokter of prokureur te wil gaan staan en trou nie – sy moet veel eerder leer hoe om ‘n loodgieter in haar visier te kry. (En as dit nie ‘n loodgieter is nie, dan ‘n elektrisiën.)
Trouens, as daar ooit iewers ‘n vakleerlingskap vir vroueloodgieters beskikbaar is, kan sy maar vergeet van au pair in die buiteland as matriek eers agter die rug is – teen daardie tyd het ek haar lankal ingeskryf en stewig op pad na rykdom en ongekende weelde.
Ek het julle al vertel dat die elektrisiën toe een mooi dag met sy ander kar hier by ons stop – ‘n piksplinternuwe Mercedes Benz, wat ek in my wildste drome nie eers aan kan dink om te droom nie.
En teen die tyd wat ons net weer herstel het van óns terugslag rondom die gulsige Pride of India (en ons terugslag op sy beurt weer die loodgieter se oorsese reis) is dit weer sulke tyd.
Deesdae leen ek darem sommer die skool se dreinstawe – dis letterlik ‘n dubbel-k-middel-a-joppie maar my en my bankbalans se behoud. Teen die huidige tempo van verstoppings en dinge spaar ek soveel op hierdie manier dat ek en Mamma en Klaradyn eendag met Klaradyn se matriekvakansie al drie saam Europa toe sal kan gaan.
En daarom, as ek kan kies, laat gaan ek Zakkie se bokkie in ‘n koeltekolletjie iewers buite Satara en storm halsreikend op Louis die Loodgieter se stewige stel ysterstawe af.
Dit sal my ‘n fortuin spaar en ek sal stinkryk (skatryk is onder omstandighede seker ‘n beter woordkeuse) aftree.
Maar teen daardie tyd is ek tien teen een al so konfyt in die vaardigheid van die dreinstawe dat ek sommer my eie besigheidjie in die verband oopmaak; en nie aftree nie, maar aantree.
Hef aan Hans!


Nie almal weet miskien waarvan ek praat nie. Hierdie is die eietydse ontwerpersweergawe van die goed. Die skool s'n is ouer en daarom noodwendig baie beter.


19.9.12

Hartskos (2)

Naas my oorlede mammie dan, die vrou wat die lekkerste kos kon maak, niemand anders nie as, loshande, sonder twyfel – Tannie Lenie; Tannie Lenie van Oom Piet en Tannie. Dis nou Oom Piet en Tannie Lenie Coetzer van Alberton.
En Tannie Lenie is ook al seker amper 35 jaar gelede, as dit nie meer is nie, lang boompies toe. So ek gaan haal my onthou baie jare gelede, toe ek sommer nog kind was.
Daardie jare het jy op ‘n Sondag hoender geëet. Nie ‘n winkelhoender nie, ook nie ‘n plaashoender nie, maar een van Oom Piet-hulle se slaghoenders wat in die dorp op die werf aangehou is. En soos die groot mense gehoop het vir die stuitjie (ons het van die Pope’s nose gepraat), die kinders uitgesien het na die wensbeentjie, het ek op my beurt gehoop ek kry een van die eiertjies wat binne die hennetjie was toe sy geslag is.
Nee, ek is nie ‘n hoenderboer nie, ek weet nie. Ek het in my ganske lewe nog nooit ‘n hoender geslag nie (en mog ek nooit nodig hê om dit te doen nie), maar saam met Tannie Lenie se Sondaghoender is van tyd tot tyd ‘n klein ronde eiergeel of twee bedien, partykeer tussen dit waarmee die hen gestop is – tussen die stuffing (soos die groot mense dit genoem het.)
Haai, ja, dit was nog hoenders wat voorgesny is, nie omdat dit Cornish hens was nie, bloot omdat dit van Oom Piet se free-est van alle free range slaghoenders was.
En ons het wyn gedrink, lank voor Valley-wyne geredelik en algemeen in Transvaalse huise geword het, lank voor enige ander vorm van wyntradisie hier in die noorde posgevat het – wyn wat Oom Piet self van sy eie druiwe gemaak het.
Nodeloos dan ook seker om te sê dat Tannie Lenie geen elektriese stoof had nie, tot en met haar dood nie. En dit op die dorp. Daardie jare.
Ons het gereeld daar geëet. Ook omdat Judy nog bron (ander mense praat van sult) sou gemaak het, maar aan tradisionele afval en skaapkoppe en sulke disse het sy haar hande nie geslaan nie. Ag, en my pa was so lief vir afval en ‘n lekker bereide skaapkoppie. Maar dit het ons weeksaande, miskien op ‘n Saterdag, geniet; nooit op ‘n Sondag nie – Sondag was hoender.
Judy het nie altyd met lof van Tannie Lenie se kosmaak gepraat nie, en met jaloesie het dit onder die son niks te doen gehad nie; dis die tannie se groente waarteen my ma dit had. Tannie Lenie het by al wat groente is (met die uitsondering miskien van die pampoenfamilie) ertappels en uie bygevoeg en dit dan fyn gestamp.
Ons noem dit Boereboontjies, en ek weet my aangetroude Engelse familie praat van Dutch beans. Maar by Tannie Lenie het jy Boereboontjies, Boerwortels, Boerespinasie, Boerekool, Boere-noem-maar-op gekry.
O, en dít is wat vir my so lekker was.
Judy het my soetwortels wou voer – ek hou tot vandag toe nog nie van soetwortels nie; ek verkies selfs skorsies en pampoen met sout en peper – tog net nie soet nie. Ook eers later dat ek lief geword het vir die witsous by alles wat Judy nie soet kon maak nie. Nie dat ek dit teen die sous had nie, maar teen die kleine knypie neutmuskaat wat altyd die sous vergesel het. (En vandag is dit ek wat Klaradyn met die neutmuskaat van my heerlike bord gekookte kos vervreem!)
My gunsteling groente, danksy Juds en Tannie Lenie, vandag steeds Boereboontjies. Ek sal net dit ook eet, jy hoef my nie ander kos te gee nie.
En dan hoef dit nie eers warm te wees nie.
En daar is min dinge so lekker soos koue boereboontjies op brood.
Die laaste ruk maak ek dit soos Neil Stemmet daarvan in sout en peper vertel: een deel boontjies, halwe deel uie, halwe deel ertappel, sout, peper, tikkie neutmuskaat, botter en vars suurlemoensap.
Ek het begin met 500 g boontjies, dit toe opgestoot na die 750 g-pakkies. Die laaste ruk is ek vieds as daar nie 1 kg pakke is nie en ek twee 500 g-pakkies moet koop.
Mense, dis lekker. Moenie stamp nie, dis nie stamppot nie. Maar as jy daarvan gestamp hou, stamp na hartelus.
Maar as jy soos ek van stamppot (die oermoeder van Tannie Lenie se groente, ‘n mag der menigte nefies en niggies van die tradisionele Boereboontjies) hou, moet jy dit gerus google – die Nederlanders het talle resepte op die internet. Voor die wonders van Google-translate het ek al ‘n paar unieke misvertalings gehad; deesdae maak ek aan die hand van die vertaalenjin seker ek maak nie droog nie. Probeer gerus die met die sampioene.
Maar ek dwaal af.
Van skaap wat saam met die boontjies opgekook is, weet ek g’n niks, maar ek mis die tamatie wat my ma en Tannie Lenie ook ingewerk het.
Ek soek maar al wat ek kry is ‘n middelslag ui, middelslag tamatie en middelslag ertappel saam met ‘n halwe kilogram groenboontjies.
En toe kom ek op die Griekse weergawe af:  Fasolakia me patates. Maar moenie dat die naam jou verlei nie, dis sommer gewoonweg groenboontjies en ertappel.
Wat my opgewonde het, is dat die Grieke hieroor voel soos ek – dis ‘n vegetariese dis, ‘n eenskottelgereg, ‘n bredie. Dis jou kós en nie ‘n toe- of bykossie nie. Brood en fetakaas gaan daarmee saam. En ja, die bestanddele is dieselfde (die skaapvet van die Boeretannies en die Boeretannies se kombuishulpe is bloot met olyfolie vervang) maar die metode verskil drasties.
Oor hoeveelhede is daar soos te verwagte geen instemmigheid nie. Bietjie hierdie kant toe, bietjie anderkant toe, is nie ‘n treinsmêsh nie; dit lyk vir my soos:
Sowat 1 kg boontjies (gekerf of  2 duim stukkies, halveer – dis jóú boontjies, maak soos jy lus het)
2 of 3 ertappels gesny
2 of 3 uie gekap
3 of 4 ryp tamaties
1 of 2 knoffelhuisies
(party outjies gooi pietersielie, kruisement en dille by, maar dit gaan my beslis verby – ek wil geen mens beïndruk nie, ek wil lekker boontjies en ertappels eet – miskien later.)
Enige iets tussen ‘n halwe en ‘n volle een ‘n halwe koppie olyfolie. (Daar is resepte wat so veel as 1½ koppie olie op 1 lb – nie kg – boontjies vra.)
‘n Kelkie of wat witwyn wat die vorige aand oorgebly het (of ‘n glasie of wat water)
Eers braai jy die uie (sowat 5 minute, of tot sag – wat langer sal wees) in die olyfolie.
Nou gooi jy die boontjies in (5 na 10 minute) bedek, maar onthou om kort-kort te roer. ‘n Dierbare ou tannie wat die dis op youtube maak (toevallig werk sy ook soos Oom Piet met haar eie huiswyn)  het te vertelle dat die boontjies op hierdie wyse veel sagter kom en dan bied sy ‘n kwasiwetenskaplike verklaring aan. Hoeveel waarheid daarin steek, weet ek nie; ek glo egter in die krag van geloof, so ek weet nou al my boontjies gaan vir my lekkerder smaak, maak ek dit op hierdie wyse gaar.
Nou gooi jy die ertappels, tamatie, knoffel (kruie, as jy wil) en die klein bietjie wyn by. Die goed moenie ‘n groot doop onderdompeling ondergaan nie – dit moet in die tamaties en dit se eige natuurlike sappe, saam met die witwyn, gaar stowe (of stoom, of wat ook al).
Die gedagte is dat daar na enige iets tussen 20 en 30 minute se lae hittegraad hoegenaamd geen vloeistof meer in die pot is nie.
Bietjie suurlemoensap om mee af te sluit.
Die tamatie kan met ‘n eetlepel of wat tamatiesmeer of –pasta vervang word, selfs ‘n blikkie tamatiesmoor of ‘n glasie of so tamatiesap. (Ek sal beslis ‘n blikkie Italiaanse pruimtamaties bo die bleek harde groenerige goed wat ons meestal te koop kry, verkies.)
Dis nie naastenby Tannie Lenie se boontjies nie, ook nie die heerlike repies tamaties wat oorle’ Judy hier vlak voor die einde ingewerk het nie, maar ek gaan dit beslis volgende probeer.
Om mee af te sluit, iets heel anders:  Judy het almelewe  (of is dit altoos waaraan ek dink, miskien selfs beide) die lekkerste varktjops in die oondpan gemaak.
Met skaap- en beeslvleis die prys wat dit is, en ‘n gesin wat dink daar is nie kos op die tafel as daar nie vleis is nie, loop koop ek toe varktjops vir die braai. Maar dit word laat en die braai staan oor.
En toe ek die tjoppies so kyk, toe verlang ek na my ma.
Maar wat sy gedoen het, weet ek nie.
Ek onthou wel die eindresultaat, toe skep ek my eie resep:
Die middag se oorskiet wortelslaai – Annieka hou daarvan net so droog sonder iets, so dis nie pap of verlep nie, ek het dit goed versorg toe ek dit gebêre het.
Die pynappel en geel soetrissie wat in die yskas oorgebly het (gekap)
Bietjie gerasperde gemmer.
Braai dit in bietjie olie tot saggerig.
Gooi die oorskiet van Vrydagaand se vars tamatiesop daarby, sodat ‘n dik souserigheid vorm.
Verdun met bruinasyn.
Versoet die suursoet na smaak met bruin suiker.
Seël die tjoppies gou-gou (ek het dit nie gedoen nie, te veel skottelgoed, maar dit klink na die regte ding om te sê) in ‘n warm pan. (Olyfolie, natuurlik! Wat anders?)
Pak die tjoppies in die oondpan en bedek met sous. Oond toe met dit alles.
Geniet.

17.9.12

Cardo en Leeana

Nadat 'n vriendin my gister op hierdie gedig van Ronelda Kamfer gewys het:

 
KLEIN CARDO
vir Alfonso Cloete en Velencia Farmer
They say it’s the whiteman I should fear, but it’s my own kind
doing all the killing here.
- Tupac Amaru Shakur -
 
Cardo was gebore
maar niemand het hom verwag nie
sy ma was sestien
en sy pa gemeenskapsbouer vannie jaar
sy ouma was ’n cashier
en sy stiefoupa het gedrink virrie pyn

Cardo was ’n mooi klong
met ’n donker vel en ligte oë
mooi genoeg om Engels te praat
hy’t gehou van drie stokkies
en vrottie eier innie pad speel
Tietie Gawa vannie mobile het gesê
Cardo was ’n engelkind

Die aand voor Cardo se eerste dag
op grootskool
het die schoolboys klappers innie pad geskiet
Cardo het by die venster uitgeloer
die koeël het in sy keel gaan sit
sy ma hettie gehuil nie
die politicians het ’n boompie geplant
en die Kaapse Dokter het hom uitgepluk
en gegooi waar die res
vannie Kaap se drome lê

oppie vlaktes
 
hoor ek toe vanoggend oor die radio van die gebeure waaroor Burger vandag soos volg berig het:
 
Sesjarige sterf ná bendes losbrand

HANOVER PARK. – Haar laaste woorde Saterdag aan haar ma was om 50c vir ’n pakkie Spookies-tjips te vra.
Minute later het Leeana van Wyk (6) met ’n skietwond in haar kop in John Down-steeg, Hanoverpark, gelê.
Leeana is gister in die Rooi Kruis-kinderhospitaal breindood verklaar.
Een van haar maatjies, Liam Davids (7) wat saam met haar in die straat gespeel het, is ook raakgeskiet – vermoedelik deur strydende bendelede. Hy het net ’n vleeswond opgedoen.
Leeana se gebroke ma, Louise van Wyk (41), het gister gesê Leeana en Liam het buite in die straat met haar bal gespeel.
“Dit was haar geliefde speelding,” het Louise gesê. “Sy het vir my kom vra vir 50c om tjips te koop.”
Louise het gesê sy het buite by die hek gestaan toe sy sien hoe ’n man wat vroeër in hegtenis geneem is, ’n vuurwapen uithaal en straat-af begin skiet.
“Ek ken hom, ek ken hom. Ek kon nie glo toe ek sien hy het my kind geskiet nie.”
Die man (19) is Saterdagaand weer in hegtenis geneem.
Lt.kol. André Traut, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.
Hy het gesê daar het omstreeks 18:36 ’n skietgeveg tussen vermeende bendelede uitgebreek. Die twee kinders is in die kruisvuur gewond.
Traut het gesê ’n tweede man (34) is kort ná die voorval in hegtenis geneem. Hy is gewond, maar die polisie kon nie sê deur wie hy raakgeskiet is nie. Traut het gesê die polisie het ’n 9mm-pistool en ’n .357Magnum-rewolwer by die mans gekry.
Albei verskyn binnekort in die hof.
Inwoners het gister gesê dis lede van die Mongrels-bende wat op mekaar geskiet het. Daar was glo ’n stryery tussen lede van die bende, waarna hulle op mekaar begin skiet het.
Daar was gister ’n sterk polisieteenwoordigheid in Hanoverpark.
Traut het gesê die polisie gaan nie toelaat dat bendes die lewe van onskuldige mense neem nie.
 

Siek kind(ers)

So bring ons toe teoreties gesproke die dag siek in die bed deur. Weliswaar seker nie siek nie, en ook nie in die bed nie.
In ons pajamas dan. En ek en Annieka makeer niks.
Niks anders as groepsdruk dan waarvoor ons swig nie.
Vrydagaand is Goggabie (vra sy toe mos vandag vir my waarom noem ek haar nooit meer Goggabie nie) knieserig en huilerig oor ‘n seer keel en steek in die ore.
Nou is sy ongelukkig nie alombekend vir ‘n vreeslike hoë pyndrempel nie, die toleransie is maar laag. Tog is ‘n seer keel nie iets wat haar al vantevore in trane had nie.
Saterdagoggend is sy, wat op ‘n Saterdagoggend lag-lag kan deurdruk tot 09:00, voor 06:00 al op. “En waarvan is jy so vroeg al op, Meisekind?” “Seer keel en ore, Pappa.”
Ek moet 08:00 uit vir ‘n skoolding, Annieka moet knap na 08:00 uit vir ‘n skoolding. Dis elke tweede naweek in September se ding – ons is dit al gewoond. In die verlede het een van ons gebly, die ander gegaan, maar vanjaar was daar nie ‘n kans dat een van ons twee kan uitdraai nie – ons het al verlede week gevra of ons dogtertjie die oggend by Ouma- en Oupa-hulle kan deurbring.
Ons wil nie Ouma of Oupa dokter toe stuur met ons kind nie, maar vir ons eie dokter wag, kan ons ook nie. Ek verbeel my hy sluit sy spreekkamer eers 10:00 oop.
Toe maar Pedimed, wat ook al jare nie meer Pedimed is nie, toe.
Dis 06:45 toe ons daar instap.
Daar is min plekke waar ek my ongeskikte self in die oortreffende trap uitleef; daar is trouens net een – die ontvangslokaal van Pedimed se afdeling waar jy die dokters aan diens kan sien.
Ons registreer voor 07:00 (R550-00 vir ‘n oudiënsie) maar sien die dokter eers na 07:00 (R450-00 vir ‘n oudiënsie by dieselfde dokter).
Ons mediese fonds is leeggetap en ek weet ek gaan betaal; ek is nogtans die bliksem in toe ek R550-00 moet betaal (sommer uit beginsel en gewoonte uit – omdat dit my aard is).
Ons is vroeg daar, nie omdat ons aan hul voortreflike diens uitgelewer wil wees nie, maar omdat ons nie later na ons eie dokter toe kan gaan nie, en ons kommunikeer dit ook so aan hulle.
En toe laat weet die vroutjie wat ons in die eenkant kamertjie moet uitvra, dat sy ons binnekort gaan kom ondervra – sy drink net gou haar laaste Milo!
Dit moes ‘n moerse beker Milo gewees het, want dit het haar meer as 10 minute geneem om die laaste bietjie te drink!
En toe ek my gevolgtrekking rondom die grootte van die bekers waarmee die mediese staf hulle moet besig , helder en luid met Annieka deel, toe rol my vrou haar oë vir my – en toe is ek sommer nog meer die bliksem in.
Ek wil opstaan en uitloop.
Maar ek kan nie, my kind is siek.
En hulle weet dit.
Toe die vrou ons uiteindelik te woord staan, maak sy allerhande flou grappies met ons siek kind, grappies wat die kind geensins opbeur nie. In belang van Annieka  se oogspiere weerhou ek my daarvan om my eerlike opinie in die verband te deel.
Die dokter aan diens boesem darem vertroue in, ‘n ouerige man wat nog ‘n ordentlike matriek en graad agter sy naam het, nie een van die outjies van wie die tasse gepak staan om Kanada se koue weer op te gaan soek nie. Hy val amper flou toe hy in die kind se keel kyk en die kliere agter haar ore voel.
Ons is bly ons het maar gekom.
Ek betaal die R550-00, nie met ‘n plesier nie, my eie dokter sou soveel goedkoper gewees het, maar voel tog goed oor onsself oor ons die regte ding in belang van ons kind gedoen het.
En toe is dit ons wat amper flou val, ek wat weer van vooraf befoeterd raak, Pa wat wil begin huil:  die medisyne is ‘n verdere R600-00.
Nee, o, aarde – R1 100-00 vir ‘n kind wat ‘n kiem of ‘n ding in haar keel het!
Wat het geword? Wat het gebeur?
Teen R1 100-00 is ons toe vroeg Saterdagmiddag al in ons pajamas, trek ons Sondag heeldag nie aan nie en bad ons almal eers teen die aand se kant.
Teen R1 100-00 het ons seker genoeg betaal om more skool toe te kan gaan (dis die einde van die kwartaal en daar sal assesserings wees).
Maar teen daardie bedrag gaan ons beslis nie swemlesse toe nie.
Ons is bevoorreg, ons kan darem ‘n verdere R1 100-00 in ‘n oortrokke rekening ingaan as dit moet. Saam met Klaradyn was daar hierdie naweek, in ons stad, talle ander agtjariges, net so siek soos sy, en veel sieker ook, wat by ‘n ordentlike dokter in hul ganske lewens nog nie uitgekom het nie.
Klaradyn het Saterdagmiddag laas gekerm, nee – gehuil,  van pyn. Hoeveel is daar nie wat Vrydag saam met haar begin het nie, en nog die hele week gaan huil nie.
En dan is daar die wat saam met haar ophou huil het. Nie van R5 50-00-dokters en R600-00 se medisyne nie, maar by die gebrek aan enige dokters en medisyne.
Laat ek daarom nie kla nie, ek kon vir my kind iets doen, al was dit soorts van op skuld.
En buitendien – in Klaars se wakker tydjies het ons heerlik geteken, ge-DVD, boek gelees, gevrot, gepamperlang, en ge-alles wat ‘n mens doen as jou kind die dag siek is.

13.9.12

Hasie, hoekom is jou stert so kort

Nkosi sikelel' iAfrika
Maluphakanyisw' uphondo lwayo,
Yizwa imithandazo yethu,
Nkosi sikelela
Thina lusapho lwayo.
Morena boloka setjhaba sa heso,
O fedise dintwa le matshwenyeho,
O se boloke, O se boloke setjhaba sa heso,
Setjhaba sa, South Afrika — South Afrika.
Uit die blou van onse hemel,
Uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes,
Waar die kranse antwoord gee,
Sounds the call to come together,
And united we shall stand,
Let us live and strive for freedom
In South Africa our land.
Ek het dit ook gedoen – die dag se liedjie oor en oor uit volle bors gesing en tien teen een die wit waks uit my ouers irriteer.
Nie dat sy my vanaand irriteer nie; ek is relatief rustig en identifiseer in elk geval so sterk met haar, dat ek onmoontlik nie ‘n enkele slegte gedagte rondom haar en haar gedrag kan bedink nie – wat nog te sê, uitspreek.
Trouens, dis arme Annieka wat op ‘n gereëlde basis, al om die beurt, óf vir my, óf vir Klaradyn moet stil maak as ons soos ‘n eertydse plaat wat vasgehaak het, lostrek en begin sing. En net nie ophou nie.
En dan is ek boonop vanaand nog jaloers op die kind – sy ken die land se nasionale lied beslis beter as haar pa.
En as sy dit nie noodwendig beter ken nie (wie is ek om te wil oordeel oor die Xhosa en Zoeloe?) sing sy dit met veel meer oorgawe as wat ek ooit in staat toe sal wees. Oorgawe én selfvertroue.
Miskien moet ek ook nie so haastig wees om haar vaardigheid te besing nie, daar is immers ‘n lastige foutjie wat my opval – die enigste fout wat my ooit sal opval: iewers in Langenhoven se strofe gebruik sy ‘n verkeerde voorsetsel. En dan help ek haar reg. En as ons oomblikke later weer daar kom, dan help ek haar weer reg.
Ag, siestog – en dan begin my hart sommer vir haar bloei, en was ek ‘n vrou sou ek selfs kon begin huil ook! Vra sy nie vanaand, na ons nou al ge-nkosi het dat kranse antwoord gee, vir haar ma nie:  “Dink Mamma nie ook ek sing nou al goed om volgende jaar koor te sing nie?”
(Onthou, sy het laas jaar drie keer vir ‘n oudisie gegaan, en hierdie jaar is dit nie veel minder nie – ás dit nie meer is nie.)
Maar gelukkig het ons nou al genoeg trane vir een huis in een aand gehad, ek dink trouens ons het genoeg trane vir die hele woonbuurt, indien nie die hele Pretoria nie, vir ‘n volle jaar gehad.
En saam met die trane deur is ek so trots op my kind. Maar dis ‘n lang storie wat ek agter die bult moet loop haal:
Sien, ek is mos die afgelope paar maande so teleurgesteld in die klassieke Grieke. Ek het vir hulle en hul beskawing nog altyd ‘n effense agting gehad – oor wat hulle bereik het, en wat hulle besef het, die insigte waartoe hulle gekom het.
Seker ook maar daarom dat ek so gaande oor hul fabels en die oeroue wysheid daarin opgesluit, is. En vertel ek dit oor, weet ek dikwels nie wat my die meeste opval nie – hoe goed hulle mense geken het, of hoe goed hulle dieregedrag het nie.
Maar deesdae is ek nie meer so seker nie.
Kyk, in die fabels is die diere mos nou maar sterk in boksies geplaas:  vos is geslepe, leeu is koning, esel is dom, pou is trots, en so aan, en so aan, af al die pad tot by die haas.
So is daar 'n storie oor die hase wat ten doel het om hartseer mense beter te laat voel.
Die storie sal maklik in plek val as ons weet dat, soos ons soms van 'n hondelewe praat om te verwys na iemand wat 'n ongelukkige lewe lei, het die antieke Grieke van “haselewe” gepraat om na iemand te verwys wat in 'n staat van konstante vrees gelewe het – vir die ou Grieke was hase die spreekwoordelike lafhartigstes onder die lafhartiges.
Die hase besluit toe unaniem om selfmoord te pleeg en met die besluit eers geneem, is al wat oorbly die wáár en die hóé. Na deeglike oorweging word op 'n diep poel in die onmiddellike omgewing as eindbestemming besluit. Die paddas wat aan die kante en op die wal die poel gesit en sonbak het, skrik toe vir die spul hase se voetval, en skarrel almal terug na hul wegkruipplekke onder die water. Waarop een van die ouer hase, in die voorste linie en voor genoeg om die petalje met die paddas te aanskou, uitroep: “Nee, o, hel, stop onmiddellik – ons moet ons eenparige besluit herroep: kyk, daar is inderdaad banger, lugtiger en meer lafhatrtige skepsels as ons hase!”
Met die storie agter die storie: Hartseer mense vind dikwels troos in die veel groter hartseer wat ander moet verduur.
Ek verbeel my tog ek sal nog van tyd tot tyd in Afrikaans die vergelyking “so bang soos hase” of “soos verskrikte hase” hoor. En ek verbeel my ook Lina Spies het in die baie bekende “Lied van die kinders” die groep skoolkinders wat by Mahalot aangeval en doodgeskiet is met verskrikte hasies vergelyk.

Ja, sy het: 
Laat die kindertjies van Isreal na My kom,
Gevang in die kruisvuur by Ma’a lot –

Bang hasies in ‘n bos wat brand.
Maar kyk, Lina Spies was verkeerd, en voor haar elke Griek wat ooit te vertelle had hase is versigtig, bang, skugter, skaam, lafhartig... noem maar op.
Hulle is nie, hulle is monsters, wrede monsters. En as ek hul dierlike gedrag minder menslik moet betrag, sal ek sê dat hulle dierlike diere soos al alle diere is, dier tot teen die been, in murg ook.
En die mannetjies is soos al ons mans maar is, varke wat aldag en heeldag net die drie v’s op die brein het:  voortplant, vreet, vernietig.
Maar nou kyk al weer menslik na hul gedrag.
Maak ook nie saak nie, want dit is die reine heilige waarheid – onder daardie sagte pelsies en bewerige geaardheid, skuil daar monsters wat net deur homo sapiens geëwenaar kan word.
So kry ‘n oudleerling van 1989 mos ‘n optelhaas uit die berg hier oorkant ons. Maar so moes die haas ook besoek ontvang het, of reeds in die ander tyd gewees het toe my oudleerling haar oor die dierasietjie ontferm het. Want voor my oudleerling iets soos hasie doekvoet kon sê, toe sit sy met 54 hase op haar erf. Die mooiste gesig denkbaar – hulle hop die hele agterplaas vol, een van daardie lieflike groot burgererwe van ouds.
Maar so word haar pa oud, hulle is op dieselfde erf en die tonnelnetwerk tussen hom en sy flottielje wedvlugduiwe word ‘n lewensrisiko. Sy moet van haar hase ontslae raak.
Ek kry die laaste 3. Daar was 4, maar die laaste was blind en baie ouer as die ander; so ek neem hom nie.
Nou met hase werk dit omtrent soos volg – jy moet basies wag tot jy sien wie woeker bolangs en wie gedra haar stiller, voor jy weet wie sit as sy piepie en wie staan.
En so kry ons toe, maande voordat puberteit aanbreek, twee mannetjies en een wyfie. En toe begin dinge by die mannetjies uitsak wat by mannetjies uitsak, maar al waaraan ons dit agterkom is die feit dat die een die ander se lewe hel begin maak: hy jaag die ander een, letterlik van die more tot die aand, en dan deurnag, al in die hok rond.
Die geteikende het geen rus hoegenaamd nie, vanuit die mens se perspektief word hy van die more tot die aand geboelie; dierlik gesproke gaan dit tien teen een oor paringsreg en die klas van ding.
Die ander twee floreer – hulle het vrye toegang tot die kos, die gejaagde word selfs by die kos verjaag.
‘n Tweede hok vir een haas, bou ek nie.
Maar ek is hopeloos te veel van ‘n sissie om die ding nek om te draai as Klaradyn oorkant die pad speel, ek sien nie eers kans om die ding soos ‘n sleg versorger in die berg of onder ‘n brug te gaan stort nie.
En toe kom die lente, die eerste babaduifies in die hok vlieg al, en die hase se hormone skop in hoogste rat en versnelling in.
Vanoggend is daar ‘n gat so groot soos ‘n R5 uit die slagoffer se sy gebyt – jy sien die tandmerke.
En toe ek vanmiddag tuis kom, toe is daar ‘n tweede gat.
En ek kan dit nie toelaat nie.
Ek kan nie.
Ek gaan klop toe by die oudleerling aan om te hoor wie dit is wat destyds meer as dertig van haar hase oorgeneem het, ek moet van die een ontslae raak.
Klaradyn natuurlik in trane, stukkend, rou (heeltemal irrasioneel soos haar pa sal sê).
Sy weet sy moet, maar sy wil nie.
Toe kom die SMS, nadat ons daar was, die oudleerling sal die haas neem.
En wat doen my kind, tussen die trane en histerie deur, sy klim self in die hok en gaan red die haas uit die knaagtande van die ander een. Sy kry die haas in die drahok en gee hom vir my.
Tóé wil ék tjank – so dapper, soveel byt op tande, soveel bewende lip, maar, al is dit nie ‘n lekker ding om te doen nie, dis die regte ding, en sy besef dit al wil sy dit nie besef nie.
Nee, wat, hierdie pa se hart is eintlik te klein of te sag om dit alles te beleef.
Ek is trots.
En ek is weer eens aan die belangrikheid van groot word saam met troeteldiere herinner: dit maak jou groot, help jou en lei jou groot word.
Nou moet sy nog net leer en groot genoeg word om te onthou om die donderse goed kos te gee ook.

Naskrif:
Nie dat dit is dat sy dit nie doen nie, sy doen – sy gee hulle kos. Dis net dat sy dit nog nie vanself onthou om dit te doen nie. Is dit te veel gevra van ‘n agtjarige?
Ek weet nie. Ek het net een, en geen vorige ondervinding nie. Maar dat sy die lieflikste, kosbaarste skat op hierdie erf van ons is, is ‘n feit – vanaand het dit weer eens bewys.
Naskrif (2)
Ja, daar is nog ‘n stertjie – die kind is haar pa se kind. Wat doen sy toe ek wegry? Sy gaan sonder haar af, skryf en teken. ‘n Liefdesbrief vir die haas wat sy bêre. ‘n Prentjie om haar hart stil te maak.
Ek het nou nog teen ons mure die reste van wat ek geteken het toe my gunsteling juffrou, Juffrou Mosterd, in my standerd 9-jaar in ‘n vliegtuigfratsongeluk oorlede is.