Pages

2.5.12

Oor Tiddalik, die rooiborsduif, 'n reier en my kind wat soos 'n blommekind lyk







Dis geen wat wafferse foto’s nie, maar dit was die wat wafferste van wat wafferste naweke ooit gewees.
Ons het by die huis gebly en die lekkerste Pappa-Mamma-en-Klaars-tydjies denkbaar gehad.
Annieka het ons in ‘n stadium, sommer so op die bank onderbreek, miskien het sy haarself in die rede geval, maar sy het ons stil gemaak en ons aandag gekry om te kan sê, iets soos: “Ek is so bang ek gaan skielik dood van die een of ander iets en dan weet julle dit nie, en julle moet dit weet – die Pappa-Mamma-en-Klaars-tye wat ons so saam het, is die lekkerste tye in my hele lewe.”
Ek en Klaradyn het ge-knoop-en-doop (soos julle kan sien): 6 langmou frokkies en 6 langonderbroeke.
Ons het dit seker so drie of vier jaar gelede ook gedoen – maar daarin sal sy nooit weer kan pas nie. Sy dra dit vir pajamas en huis-speel-sleg-wees-pakkies. In die wildtuin ry ons daarin rond.
Nou sit ons met drie pienk en pers stelletjies, en drie geel en oranje stelle.
Ek het haar soggens, nes ek haar uiteindelik soorts van wakker gewikkel en gesukkel het, irriteer met Breytenbach, en in in stadium selfs die hele gedig in die bed vir die twee dames met gevoel voorgehou:


Allerliefste, ek stuur vir jou 'n rooiborsduif
want niemand sal 'n boodskap wat rooi is skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug en ek
weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg daar skitter oseane
en bome word groen
en hy kleur my boodskap so bruin op jou vel
Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos 'n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos 'n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van die vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie
Maar eintlik was dit net om die kind wakker te speel en genoegsaam te irriteer dat sy aan die beweeg kan kom. En toe raak dit ‘n speletjie wat elke oggend herhaal het.
Ek het die fabels wat ek vertaal het, voorgelees en verduidelik. Toevallig kon ek die volgende eenvoudige enetjie, twee keer hierdie naweek inspan om iets vir Klaradyn te illustreer:

Die kat en die reier

Ons moet almal poog om soos die reier te wees wat met ‘n paling in haar bek oppad was om haar kuikens te gaan voed.

ʼn Kat het hierdie reier met haar prooi opgemerk. Dan weet ons almal ‘n kat het ‘n besonderse voorliefde vir vis, maar hou net mooi niks daarvan om selfs net sy voete nat te kry nie. So toe sê die kat vir die reier: “O, jou skoonste van skone beeldskones, het jy nie mooiste van mooi snawel en fynste van fyn vere nie. Kan dit wees dat jou snawel van binne net so mooi is soos van buite?” Maar, gedagtig aan die vis in haar bek, het die reier net geweier om op die vleitaal te reageer. Dit het die muis- en rottevanger opgeklits en hy het begin om die reier te beledig: “Maar is jy dan doof of net sommer dof en onnosel! Want vir wat antwoord jy my nie! Jy wat partykeer slange moet vreet, slange wat liederlik en vieslik vreeslik giftig is. Ordentlike diere vreet ordentlike goed, maar nie jy nie, jy hou jou op met onrein diere. Dit maak jou die onreinste van onrein diere in die ganske skepping!” Maar die reier het niks gesê nie – sy het aangehou stap met die paling in haar bek.

Dan is daar nog iets wat ek wil aanhaal wat ons elke dag hierdie naweek besig gehou het. As dit egter vir joute lank is, spring tot die einde waar die allermooiste van die naweek se allermooiste aangeteken is.

Sien, ons het die naweek ook ‘n stukkie prosa vir die kunswedstryd geleer. Ons weet nog nie eers of dit geskik is of nie... maar nou ken sy dit al. En dit is soos Langenhoven gesê het:  Die mooiweer sal jou nie beskadig omdat jy jou reënjas en sambreel verniet saamgeneem het nie.

My voorstel was dat ons Tiddalik se storie vertel. Ons het twee Afrikaanse vertellings in die huis (iewers is ‘n derde, maar ek kon dit nie opspoor nie), en toe ons nie kon besluit watter een om te neem nie, toe kombineer ons die twee.
Klaradyn sal nou moet wegval met iets soos: Ek doen vir u die storie van die sandpadda soos oorvertel deur myself, my pa, Piet Grobler en nog iemand wie se naam ek nie nou onthou nie.
Dis oorspronklik ‘n Australiese storie uit die Aborigéne-kultuur wat van mededeelsaamheid en samewerking en omgewingsbewaring vertel. Ons, en Piet Grobler en ander, het die storie Afrika toe gebring:
Sandpadda is dors. Hy gaan toe na ‘n watergat om sy dors te les. Hy gloek-gloek en hy gloek-gloek en hy gloek-gloek. En hoe meer hy gloek-gloek, hoe groter word hy. Hy gloek-gloek so baie, dat hy die hele watergat leeg gloek-gloek.
Rooikat, Renoster en Ratel kla. “Haai, Sandpadda, moenie so gulsig wees nie – ons het ook water nodig!”
Maar Sandpadda ignoreer hulle. Hy is nog dors. Hy hop weg om nog water te gaan soek.
Hy kom toe af op ‘n rivierpoel. Hy shloep-shloep en hy shloep-shloep en hy shloep-shloep. En hoe meer hy shloep-shloep, hoe groter word hy. Hy shloep-shloep so baie, dat hy die hele klein vlei leeg shloep-shloep.
Die paddas, platannas en waterskilpaaie kla. “Haai, Sandpadda, moenie so gulsig wees nie – ons het ook water nodig!”
Maar Sandpadda ignoreer hulle. Hy is nog dors. Hy hop weg om nog water te gaan soek.
Hy kom toe af op ‘n meer. En jy kan raai wat toe gebeur? Hy shloep-gloek en hy shloep-gloek en hy shloep-gloek. En hoe meer hy shloep-gloek, hoe groter word hy. Hy shloep-gloek so baie, dat hy die hele meer leeg shloep-gloek.
Die tiervisse, palings en babers bons op die klipperige bodem rond. “Haai, Sandpadda, moenie so gulsig wees nie – ons het ook water nodig! Nie vir dors nie, maar om van te leef!”
Maar Sandpadda ignoreer hulle. Hy is nog dors. Hy hop weg om nog water te gaan soek.
Riviere en mere en stroompies:  shloes-shloes, gorrel-gorrel, shlap-shlap.
Moerasse, damme en spruitjies:  shloes-shloes, gorrel-gorrel, shlap-shlap.
Sandpadda drink al die water op – totdat daar nêrens meer water oor is nie. Teen daardie tyd is hy so geweldig groot, dat die enigste plek waar hy kan gaan sit , op die kruin van ‘n groot berg is.
Die ander diere is baie kwaad.
“Ek sal hom krap met my naels,” sê Leeu, “as hy kwaak van die pyn, sal al die water uitstroom.”
Maar dit gebeur nie, al is Sandpadda nou enorm, is hy nog steeds rats, en hy duik met ‘n boog uit die pad van Leeu se krapperige kloue.
Verkleurmannetjie het ‘n vriendeliker plan: “Ek en Sandpadda is albei lief vir ‘n sappige vliegie te ete. Ek sal enetjie vang en voor sy bek rondswaai. As hy hap van die honger, sal die water uitstroom.”
Maar Sandpadda is knuppeldik. Hy is glad nie lus vir die kleinste ou happie nie, en Verkleurmannetjie moet die vliegie maar self opeet.
Krokodil se plan is slinks. “Ek sal ‘n verhaal vertel van duisende klein paddatjies wat deur ‘n kwaai krokodil opgevreet is. As hy huil van die hartseer, sal die water uitstroom.”
Maar dit alles help niks. Padda hoor niks. Hy kyk nie eers na krokodil nie.
“Ek sal hom regsien,” sê Kraai. “Ek sal hom beledig en verneder en sy naam beswadder. En as hy sy bek oopmaak om terug te skel, sal die water uitstroom.”
Kraai swets en laster, maar Sandpadda vind dit gewoon vervelig. Hy raak selfs aan die slaap.
Die palingsusters raak bekommerd. “As die modder heeltemal opdroog, sal ons doodgaan,” sê hulle. “Sandpadda kom drink gereeld by ons poele water – ons sal sy sake vir hom werk.”
Heen en weer seil die glibberige susters oor sy dikke lyf. Hulle glip en gly by sy maag op , om en om sy nek en woerts weer af by sy rug.
En dit is só kielierig. Eers rittel en wikkel hy, toe giggel en snork en proes hy – en toe hy dit glad nie meer kan hou nie, toe KWAAAAAK hy van die lag.
Die water spuit en stroom en spoel en skuim by sy keelgat uit.
So hard lag Sandpadda, en so sterk is die stroom water, dat hy sy bek nie weer toe kan kry nie voordat die laaste druppel nie ook uitgeloop het nie.
Die meer loop vol, die damme en riviere en spruite en strome loop weer vol. Daar is selfs ‘n paar druppels oor vir Sandpadda en die palingsusters se gunstelingpoel.
Die res van die diere is almal weer gelukkig en tevrede.
Net Sandpadda hop effe hartseer huis toe. Hy is weer klein en eintlik skaam dat hy so gulsig was. Hy waag dit nie weer om sy gesig voor die ander te wys nie.
En dit is hoekom, tot vandag toe nog, sandpaddas die hele dag in die sand wegkruip, en net snags in die water gaan speel en rinkink.

Die storie waarmee ons wegval, eindig met die padda wat met spiese raakgegooi word en dan hop hy seer weg huis toe. Daarvoor het ek nie kan gesien nie.
Die storie waarop die tweede helfte grotendeels berus, is meer getrou aan die oorspronklike waar die palings die padda laat lag. Sy begin was egter nie so patroonmatig (en gevolglik maklik om te memoriseer) nie.
Nou volg ons die een met dieselfde gedagte wat drie keer vertel word en het ons die uitdaging dat dit elke keer dieselfde moet klink. (Dis nou as die tannie sê die storie is reg.)
Na so ‘n literêre naweek is dit te verstane dat die kind ook literêr sal wil raak. En toe ek in ‘n stadium in die kamer kom, toe kry ek die volgende, wat my seker nog eendag in trane sal hê, op my bed aan:



Waar die Protea vandaan kom, weet ek nie. Annieka sê dis die oggend geteken. En toe vind sy dit die aand goed genoeg om ons woorde van die naweek te deel.

En toe gaan sy aan en skep haar eie gedig, uit my mond, aan haar. Dis haar eie vergelykings en gedagtes:



27.4.12

Tandarts toe en terug

Op wie, of waarop, ek die trotsste is, weet ek nie:  my kind, my oordeelsvermoë, of die oudleerling van 1991.
Van die drie het George seker die meeste bekendstelling nodig. Dis my tandarts nie, maar nie sommer net my tandarts nie – een van die oulikste, slimste en kreatiefste kinders vir wie ek nog ooit skool gehou het.
So oulik, slim en kreatief, dat toe die jong man homself klaar as tandarts bekwaam het, ek die vrymoedigheid en volslae vertroue gehad het om by sy spreekkamer in te stap en my bek wyd oop te rek.
Ek kan my vir al die geld in die wêreld nie indink dat ‘n onderwyser na ‘n oudleerling van hom sal gaan dat dié in sy smoel loer nie, maar met my is dit anders, of met George.
Annieka was ook al daar, maar toe sy een jaar krisis had, was George se stoel beset en sy moes en sy moes noodgedwonge op die vennoot se stoel plaas neem – en daar kliek sy en dié man so goed dat sy skoon spyt was toe haar behandeling wat oor etlike afsprake gestrek het, ten einde loop. Sindsdien was sy nog nooit weer by George nie, maar elke keer by dieselfde praktyk.
Klaradyn het ek vroeg-vroeg al saam met my geneem, net sodat sy kan agterkom dat omie-tandartse eintlik nie sulke slegte ervarings gaan wees soos sy later op skool gaan leer nie.
Klaradyn se melktande is baie jonger as enige van haar portuur s’n. Ek wou laterhand plate van die kind se mond laat neem om te kyk of daar wel enigsins melktande op pad is, so lank moes ons wag vir die eerste een om te sny.
Waarom die wit jong mieliepitjies so lank op hulle laat wag het, sal ek nie weet nie, maar so traag soos wat hulle was, so voor-op-die-wa en haastig is die permanente stel. En nou is daar botsende belange – want die melktandjies is nog stewig in hul setels, dan is daar klaar nuwe aanspraakmakers op hul staanplek en troontjies.
Haasbek, was my kind dan ook eintlik omtrent nog nooit – want waar ‘n tand uiteindelik loskom en uitval, is die ander een lankal reeds in plek.
So toe die woord monster deur ‘n pa se gedagtes begin flits, elke keer as hy in sy kind se mond kyk, toe is dit ek wat saam met haar saamsleep tandarts toe.
En sy ken Oom George, en sy is hoogstens skrikkerig oor die nuwe ervaring van self in die stoel sit, maar geensins bang nie. Sy is natuurlik toe ook al in graad R en in kontak met talle bangmaakstories gewees.
Vriendelike, kindervriendelike, dierbare Oom George se uitgangspunt was dat ons een van twee dinge kan doen – ons kan inspring en tande trek en haar in die proses lewenslank van tandartse vervreem, of ons kan dat haar mond sy eie gang gaan en ingryp wanneer dit noodsaaklik is, maar sy ook effe ouer. As ortodonsie nodig gaan wees, gaan dit nodig wees, of hy nou trek, of later, of nooit nie. Van die permanente tande wat van koers af opgeskiet het oor die melktande in hul plek was, sal in plek beweeg, maar nie noodwendig 100% nie.
So vat ons haar ‘n tweede keer, Mamma gaan natuurlik elke keer saam, Oom George werk lieflik met haar en Klaradyn werk nog liefliker saam. Maar Oom George hou voet by stuk – geen aktiewe bemoeienis is in daardie stadium nodig nie, ons moet 6 maande wag en weer kom kuier.
En toe gebeur twee goed, ek leer die graad 11’s wat nie verlede jaar by my in graad 10 was nie, hoe ek wil hê dat hulle ‘n opstel moet benader, en Klaradyn sit met ‘n tand wat voortydig wil sny waar daar onder die son geen maar geen plek vir hom is nie – waar hy moet uit, kan hy nie – daar sit ‘n melktand in sy plek en dié klou vir die lewe; na links of regs kan hy ook nie, want links en regs sit hulle klaar twee-twee agter mekaar in gelid. (Ek oordryf ‘n bietjie, dis net na links, maar oor die tand op ‘n draai in die mond wil uit is daar eintlik nergens plek vir hom om deur te druk nie.)
Alle kinders vind baat daarby om nie stories uit hul duim te suig nie, maar te vertel van iets wat van binne kom, iets wat hulle self beleef het. Sodoende is hul opstelle oortuigend en geloofwaardiger, en is hul beskrywing en inkleur van die gebeure ook soveel raker – juis omdat hulle van dit wat hulle aan eie bas gevoel en beleef het, vertel.
Hoogsverbeeldingryke en hoogskreatiewe kinders kan nog waag om uit die duim te suig, hulle doen goed met of sonder my raad; maar die gemiddelde en ondergemiddelde skrywers presteer deur die bank almal beter, as wat die geval sou wees as hulle hul verbeelding, in plaas van hul ervaring, ingespan het om hul stories te skryf.
George homself is een van die top-vyf skrywers wat in 25 jaar my pad gekruis het. Ek onthou hoe spyt ek destyds was dat die kind so sterk in die eksakte vakke soos Wiskunde, Wetenskap en Biologie was, want ek het geweet hy gaan sy aanvoeling vir taal (sy sesde vak was Latyn) laat taan die oomblik as hy nie meer verplig word om te skryf nie. In daardie stadium het hy nie net geskryf en aangedra wat ek hom in die klas verplig het om te skryf nie, ek het enkele stories wat hy vir die lekker geskryf het, ook gekry om te lees.
En dan weet elke taalonderwyser dit, kinders wat oorhoops is met woorde skryf versies en gedigte, hulle span nie sommer hul aanvoeling en vaardigheid in prosa in nie. George het.
Ewenwel, ek merk toe einde verlede kwartaal of iewers in die vakansie die graad 11’s se opstelle. Een van die onderwerpe was Eendag nié so lank gelede nie. Ek het nie die opdrag uitgedink nie, ‘n kollega het, maar vir my outjies wat ek geleer het om in hul binneste te gaan krap, was so ‘n onderwerp manna uit die hemel.
En daar lees ek hierdie lieflike vertelling van ‘n kind se eerste kinderervaring met haar tandarts en die lieflike pad wat sy die laaste tien of wat jaar met die man gestap het.
Nou kyk, die ervaring moet regtig vir jou positief wees as jy dít in graad 11, onder die onderwerp Eendag nié so lank gelede nie, kies om oor te skryf.
En die kind, juis oor sy dit beleef het, skryf en vertel lieflik, en in die laaste paragraaf noem sy die man by die naam, en ek lees dis ‘n Doktor George. En ek weet toe sommer dadelik, uit dit wat ek lees en dit wat ek rondom Klaradyn saam met die man beleef het, dat dit my oudleerling van 1991 en tandarts van die laaste hele aantal jare is.
Annieka lees die opstel en geniet dit net soveel.
Terug in die klas gekom, was ek reg, dis einste George, by wie Klaradyn die daaropvolgende week (die kind toevallig ook) ‘n afspraak het.
Daar aangekom, is Klaradyn, soos laas, opgewonde om weer by Oom George uit te kom. Ek laat val dat “Oom George sal weet om te doen as iets gedoen moet word” (waarmee ek eintlik toestemming probeer gee dat die mannetjie moet trek as hy reken ons moet trek – ons is nie hier om onverrigtersake huis toe te gaan nie.)
Dit help met vandag se kinders en televisie ook van baie vroeër af nie meer om oor te wil skakel Engels toe nie – die kinders is op 6 vaardiger in Engels as wat ons op 10 was, maar ek laat val ook die woorde “desperate measures”.
George gee die bekkie ook net so een kyk (eintlik die bekkie se x-straal om te sien wat onder die bodem aan die gang is) net so een kyk, en laat val iets van ‘n tand se “vervaldatum wat nou aangebreek het.” En ons verstaan mekaar.
Met ‘n tand wat skoon gespoel moet word, kaboutersalf wat straks ‘n bietjie sleg voel, kry hy haar ingespuit en praat ons tjol om die rukkie wat dit neem vir die verdowing om in te skop om te kry.
Ons leer dat dit nie die ergste is, as jy iewers ‘n wisseltandjie langs die pad verloor nie – Klaradyn het moes ‘n tand in die water op ‘n binneband by U’Shaka Marine World afgeskryf – jy het net ‘n verduidelikende briefie met twee, nie net een handtekening nie, nodig, en jy kry jou geldjie terwyl die muise weet waar om te gaan soek.
Mamma, wat laat van die werk daar aankom, stap etlike minute voor Oom George die krombektang moet vasklem om die tand uit te pluk.
Klaradyn, behalwe vir die lip wat ‘n vreemde gevoel kry, weet van geen sout of water nie, en verdink ook niks nie.
Dis eers toe oom George haar, met ‘n knipoog in ons rigting, vertel dat hy hierdie tandjie van haar, wat al drie jaar terug vanself moes uit, vandag moes uittrek, dat sy besef die man het ‘n tand getrek.
Hy prys haar ook dat sy die beste pasiënt is wat tot op daardie stadium vandag gehad het.
En daar kan sy dit nie glo nie, want dit was geensins, geheel en al, glad nie, maar soos in glad nie, soos sy haar dit voorgestel, en gehoor het, nie.
Ons is daar weg met sy wat die man ‘n drukkie om sy bene gee.
By die motor gekom, wil sy weet wanneer ons kom om die gaatjie waarvan Oom George vertel het, toe te maak.
Ons kon maar netsowel dadelik die afspraak gemaak het – Annieka dog ons sal meer eers die trauma-barometer toets en lees, voor ons bel en afspraak maak.
Dit was nie nodig nie – Klaradyn is sonder enige trauma daar uit en weg.
Ag, en het sy nie die skoen mooi versier nie – as ek ‘n tandemuis was, sou dit vir my heerlik wees om daardie tandjie op te kon spoor waar hy hom opgespoor het.
Klaradyn het selfs ‘n blokkie kaas uitgesit. Annieka het die kaas gevat (ek verbeel my ek het die vorige rondte daarvan vergeet en die kind was diep teleurgesteld oordat die muis nie haar kaas geneem het nie) en ek terug gekom en drie kaaskrummeltjies gestrooi wat ons toe ook ter bevestiging van die feit dat die muis dit wel geëet het, dienooreenkomstig opgespoor.
Ja, ons kan seker gekritiseer word, maar én ek én Annieka is van mening dat nie eens van ons permanente skade opgedoen het omdat ons ‘n ruk lank, nie so nie so lank gelede nie, in dinge soos tandemuise, paashase, feetjies, kabouters en Kersfeesvaders geglo het nie.

22.4.12

Estelle se kalfie; Hans se kleim toe feim



 

Toe ek ‘n week of wat gelede die quiche-resep soek wat Annieka vir haar verjaarsdagete bestel het, gaan soek ek dit op die rekenaar in die lêer waar ek my blogs stoor...

 

En ek kry dit nie daar nie!

 

Is dit moontlik dat ek dit nog nooit gedeel het nie?


Moet wees.

Miskien is dit omdat ek nog altyd gereken het ek sal eendag ‘n kompetisieprys of ding daarmee kan losslaan – so maklik en smaaklik is die familiegunsteling.

Maar dan is dit nie ek wat die prys sal verdien nie, dis vriendin Estelle van wie ek die resep gekry het, jare gelede al.

Ek het die quiche nog nooit voorgesit, en iemand vra nie vir die resep nie.

Na Ankie se verjaarsdagete weer.

So kom ek hang dit maar aan die groot klok.

Maar wees gewaarsku – Annieka koop die Rooi Rose EN Sarie – as jy met my (seker Estelle?) se kallers ‘n eersteprys in een of ander kompetisie wil losploeg, is dit neusie verby met jou.

Hans se Quiche van Estelle


Jy sal saam met ‘n slaai, lag-lag ses mense hiermee iets kan gee wat hulle sal bybly.

Benodigdhede


Kors


  • 400ml meel
  • 400ml fyn gerasperde kaas (geurig)
  • 250g botter (mens kom agter as dit maragrien is — kors is geensins bros, maar hard soos die crakling van Kersfees se varkboud)
  • knippie rooipeper (gooi elke keer wat jy dit maak ‘n bietjie meer in, tot jy uitkom by die smaak waarvan jy hou.)

Wat hierdie kaas in milliliters betref:  dit hang af hoeveel wyn jy drink terwyl jy die resep aanpak. Jy kan jou maatbeker halfpad vol water maak en dan kaas ingooi totdat die meniskus met 400 ml gestyg het... of jy kan fyn rasper en in die maatbeker gooi, tot by 400 ml. (Maar pak dan maar die kaas vas.)

Dieselfde geld vir netnou se kaas – die vulsel kry 750 ml kaas. As die kaas beleë is, sterk en geurig, dan rasper ek en stop vol tot 750 ml; is dit goedkoper kaas en nie so geurig nie, dan meet ek af in water. Na my mening is dit beter om duurder, ryper, geuriger, meer beleë kaas te koop, maar minder te gebruik.

Vulsel


  • medium ui fyn gekap (‘n groot ui werk ook en gras- of slaaiuie lyk weer mooi)
  • halwe pakkie spek (125g) Dis hoekom ek die ding eerder twee keer aanmaak. Gooi dan maar die hele pakkie in, as jy wil, dit doen nie kwaad nie. Probeer om nie speksnippers te kry nie, dit kan swaar wees en afsak, koop reepspek en snipper self. (Dit werk lieflik as jy dit vries en bevrore lekker klein opsny, sommer met ‘n skêr.
  • knoffelhuisie (of so)
  • roosmaryn en/of kruisement en/of marjolien (na gedagte) (ek gooi nege uit tien kere ‘n grypie mixed herbs in, maar die vars kruie is baie lekker en moenie skrik vir die kruisement nie.)
  • 500g groente soos spinasie, sampioene, broccoli, blomkool of dis ook lekker, neen heerlik, met forel of selfs dun gekerfte natterige beesbiltong. Ek het al 500g van hierdie bevrore pakkies geroomde spinasie en sampioene gebruik. As jy die resep al ‘n paar keer gemaak het, kan jy die groente push tot so 750g en selfs ‘n hele pakkie spek probeer, maar begin konserwatief tot jy die resep leer ken.)
  • 750ml gerasperde kaas (hou dit ook maar fyn) (Hoe geuriger hoe beter)
  • 8 eiers
  • 1l room (of 50/50 room en melk, maar dan moet jy maar liewers Zuckerbacker se quiche gaan koop) (of net melk as dit moet, maar in daai geval kan jy netsowel rooibostee of ou flat appletizer gebruik, dit proe op die ou einde dieselfde. Of tel iets by Spar oppad huis toe op).)
  • sout en peper (na gedagte)

Metode


Kors


  • Meng meel, rooipeper en gerasperde kaas
  • Vryf die botter daarby in (Mans haal mos nie trouringe af nie. Dis hier waar ek altyd te laat is om myne af te haal. Dan doen ek dit en sit die ring iewers, soos die speseryerak, neer. So was hy al op twee geleenthede, een keer vir weke, net weg.)
  • Voer groot tertbord daarmee uit. Of twee quiche-panne.
  • Ek het gevind, as ek die resep dubbeld aanmaak, dan maak ek die kors slegs een en ‘n halwe keer aan.

Vulsel


In ‘n pan


  • Braai ui en spekvleis wat jy gesnipper het en knoffel in bietjie olyfolie
  • Geur met kruie ens.
  • Ag, en as dit nou nie olyfolie is nie, maar botter – maak dit nie saak nie, hierdie ding is klaar so ryk en onheilig dat dit sommer preutse vroomgeit is om olyfolie te wil gebruik.

In ‘n mengbak


  • Klits die eiers
  • Meng eiers met room en kaas
  • Voeg die kaas en die goed in die pan by
  • Roer jou groente/vis of wat ookal by

In die terbord (of groot los-boom-ringpan as jy flambojant wil wees)


  • Gooi beslag in terbord en bak sowat 1 uur (of tot gestol) by 18O grade (As jy blikkies asparagus gebruik, moet jy bereid wees om ‘n goeie 45 minute langer te wag — selfs al dreineer jy die asparagus oornag, het dit steeds baie sap. Ek kook die asparagus se water af tot ½ of ¼ van die oorspronklike en verminder die room dienooreenkomstig — vir ekstra geur. Moet net nie aan daai afgekookte sap proe nie, dis soos vanilla essence: bloody sterk en sleg. Onthou ook om sampioene se sap te behou, dis mega geur en kleur)
  • Begin die oond op 240 en draai af na 180 as jy dit insit
  • Moenie skrik as die tert platval nadat jy dit uitgehaal het nie, dit gebeur maar ongelukkig as jy dit nie dadelik eet nie. (Die ding gedra hom regtig soos ‘n soufflé, maar sak redelik gou uit
  • En geniet.
Ek sal nog die sop en poeding se resepte ook gee, daar is gaste gewees wat gevra het, maar nou gaan ek eers slaap.

Peer- en bloukaassop

Creme Brulee

(Ja, daar moet diakrietiese strepies en goed op wees, maar ek weet nie van hoe nie - kom ons noem dit dan maar Gebakte vla met krakerige karamel-bolaag.)

Die foto's is met dank aan Ilze Loots.

Lukraak gekies, 84 momente op 21 April in die ou dae

753 vC:  Hierdie dag word tradisioneel gesien as die dag waarop Romulus en Remus die nuutgevonde Rome gevestig het.
43 vC:  Die Slag van Mutina vind plaas, Markus Antonius word weer eens deur Aulus Hirtius, wat gedood is, verslaan. Hoewel Antony versuim om Mutina te vang, is Decimus Brutus is kort daarna vermoor. "
953:  Otto I die Grote gee visvangregte aan Utrecht.
1073:  Alexander II, wat voor hy in 1061 Pous geword het niemand anders as Anselmo da Baggio was, sterf.
1109: Die filosoof, Anselmus, wat ook die aartsbiskop van Kantelberg was, sterf
1142 Pierre Abélard, Franse filosoof en na bewering die seun van Abélard en Heloïse was, sterf op 62.
1420: Die Verdrag van Saint Maartens Dike word gesluit.
1453:  Die Turkse vloot sink die skip “Golden Receiver” in Konstantinopel.
1477:  Maximilian van Habsburg trou met Maria van Bourgondië.
1509:  Henry VII, Tudor koning van Engeland sterf op 52 en Henry VIII word die Koning van Engeland.
1526: Die Mongoolse keiser, Babur, wis die Indiese weermag van sultan Ibrahim Lodi tydens die Slag van Panipat uit.
1572:  Frankryk en Engeland teken ‘n anti-Spaanse militêre verbond.
1574:  Cosimo de Medici, Italiaanse hertog van Toskane, sterf op ongeveer 54
1600:  Eerste datum in James Clavell se roman Shogun.
1619:  Geboortedag van Jan van Riebeeck, koloniale direkteur en stigter van die Kaapkolonie.
1649:  Die Maryland Verdraagsaamheidwet word in die Amerikaanse Maryland aangeneem. Dit gun alle mense vryheid van aanbidding en is die eerste wet wat van haatspraak melding maak.
1654:  Engeland en Swede teken handelsooreenkoms
1689:  Willem III en Maria II is as gesamentlike koning en koningin van Engeland, Skotland en Ierland aangewys.
1699:  Jean Racine, bekende Franse dramaturg sterf op 59
1729:  Sophia Augusta Frederica van Anhalt-Zerbst word gebore. Sy het later onder die naam Catharina II oor Rusland geheers.
1774:  Jean-Baptiste Biot, Franse fisikus, sterrekundige en bekend as groot ballonvaarder sterf.
1782:  Friedrich Froebel, stigter van dit wat ons vandag as ‘n kleuterskool ken, word gebore.
1785:  Die Russiese Tsarina Catharina II bring ‘n einde aan alle edele voorregte wat sy mag geniet.
1789:  John Adams word ingesweer as eerste Amerikaanse vispresident (9 dae voordat George Washington president sou word).
1792: Tiradentes, 'n Brasiliaanse vryheidsvegter wat hom beywer het vir die bevryding van Brasilië word opgehang en gevierendeel.
1816:  Charlotte Bronte, romanskrywer van onder andere Jane Eyre sterf.
1828:  Noah Webster publiseer die eerste Amerikaanse woordeboek.
1849:  Oskar Hertwig, Duitse embrioloog ontdek bevrugting
1857:  A Douglas patenteer die boesel wat jare hoogmode sou wees.
1861:  Die USS Saratoga verower die slaweskip, Nightingale."
1862:  Die Amerikaanse Kongres stel die Amerikaanse Munt vas.
1865:  Abraham Lincoln se begrafnistrein verlaat Washington.
1878:  Die Eerste Dame, Lucy Hayes, begin ‘n eierrolwedstryd op die Wit Huis-grasperk
1894:  George Bernard Shaw se "Arms and the man," open in Londen.
1895:  Woodville Latham demonstreer vir die eerste keer die projeksie van 'n bewegende beeld  op 'n skerm in New York City.
1898:  Die Spaans-Amerikaanse Oorlog begin.
1906:  Kommandeur Robert Peary ontdek dat die veronderstelde Arktiese vasteland nie bestaan nie.
1908:  Frederick A Cook beweer dat hy die Noordpool bereik het, maar hy het nie.
1910:  Samuel Langhorne Clemens, beter bekend as die skrywer Mark Twain, sterf in Redding Conn.
1913:  Die dramaturg, George Bernard Shaw, sterf.
1913:  Gideon Sundback van Swede patenteer die ritssluiter.
1915:  Anthony Quinn Chihuahua Mexico, akteur van Zorba The Greek en Lawrence of Arabia word gebore.
1916:  Bill Carlisle, die berugte treinrower, beroof 'n trein in Hanna, Wyoming.
1917:  Die stigting van die Imperial War Graves Commission, later Commonwealth War Graves Commission. Die doel van die kommissie was om oorloggedenktekens en -begraafplase op te rig en in stand te hou
1918  Die Duitse vegter uit die Eerste Wêreldoorlog, Manfred von Richthofen, beter bekend as "Die Rooi Baron", word oor Vaux sur Somme in Frankryk afgeskiet en gedood.
1924:  Die bekende Italiaanse aktrise Eleanora Duse (La Gioconda, La Locandiera), sterf op 64.
1926:  Alexandra Mary Windsor II, beter bekend as Koningin Elizabeth van Engeland word gebore.
1935:  Koning Boris van Bulgarye verbied alle politieke partye in sy land.
1941:  Griekeland gee oor aan Nazi-Duitsland
1944:  Vroue in Frankryk ontvang die reg om te stem.
1945:  He Shima Okinawa word in 5 dae verower, 5000 sterf.
 1945 :  Rusland seweermag arriveer by die buitewyke van Berlyn.
1948:  Die eerste Polaroid kamera word in die VSA verkoop.
1951:  Tony Danza Brooklyn, die  Tony Micelli van Whose the Boss word gebore.
1952:   Sekretaressedag word vir die eerste keer gevier.
1959:  Die grootste vis wat ooit met 'n stok en katrol uitgehaal is, word deur Alf Dean aan land gebring. Dis 16-voet, 10-duim wit haai wat 2664 pond geweeg.
1962:  Frederick Handley Page, ontwerper van die eerste groot vliegtuig (40 setels), sterf.
1963:  Die Beatles en die Rolling Stones ontmoet vir die eerste keer saam op die verhoog by die Crawdaddy Club in Richmond, Engeland. Die Stones open konsert.
1966:  Keiser Haile Selassie (Ethiopië) besoek Kingston Jamaika. Vandag herdenk die Rastafariërs hierdie dag as “Groundation Day”.
1967:  Josef Stalin se dogter, Svetlana Alliluyeva, loop oor (defekteer?) na die VSA.
1967:  Kolonel George Papadopoulos lei 'n paar dae voor die algemene verkiesing in Griekeland 'n coup d'tat en stig 'n militêre regime wat vir sewe jaar duur.
1971:  Papa Doc,  François "Doc" Duvalier, diktator van Haïti, sterf op 64.
1971:  Samantha Druce word jongste vrou wat die Engelse kanaal swem.
1972:  Kaptein John W. Young, word die negende man om op die maan te loop, Hy samel tydens die missie van 11 dae, 1 uur en 51 minute, 213 pond maanmateriaal in.
1973:  “Tie a yellow ribbon round the old oak tree” is die nommer een treffer op Britse trefferlyste.
1976:  Toetsing vir ‘n entstof teen varkgriep begin.
1977:  Die musiekblyspel "Annie" open met 2377 optredes tot 2 Januarie 1983.
1977:  Gummo Marx, lid van die Amerikaanse komiese Marx Brothers, sterf op 84
1980:  Amerika se oudste langafstand-wedloop, die Boston-marathon, word hierdie dag deur skandaal geraak. Rosie Ruiz, 'n 26-jaar-oue kantoorwerker, het die sportwêreld verstom toe sy in 'n rekord tyd van 2 uur, 31 minute en 56 sekondes oor die eindstreep beweeg. Later, na 'n ondersoek, is sy gestroop van die eer omdat getuienis getoon het dat sy nie die hele wedloop gehardloop het nie.
1981:  Die VSA voorsien $ 1 miljard se wapens in Saoedi-Arabië.
1982:  Dr. Michael E Bakey voer die eerste suksesvolle hart inplanting uit.
1983:  ‘n £ 1-munt word in die Verenigde Koninkryk bekendgestel.
1984:  ‘n Sentrum vir mediese navorsing in Frankryk kondig aan dat hulle die virus wat VIGS veroorsaak, ontdek het.
1984:  Franz Weber van Oostenryk ski afdraande teen 'n rekordspoed van 209,8 km per uur.
1984:  Na ‘n rekord van37 weke in die nommer 1 posisie, gly Michael Jackson se Thriller-album 'n paar kerwe van nommer 1 tot nommer 3 op die popalbum-speellyste.
1985:  Rudi Gernreich Amerikaanse ontwerper van die miniromp sterf op 62.
1986:  Geraldo Rivera open met ‘n kameraspan en ‘n rekord getal televisiekykers'n kluis in die Lexington Hotel in Chicago wat aan die rampokker Al Capone behoort het, en vind niks van belang daar binne nie. 
1987:  Die Dow Jones skiet die hoogte in met 664,7 punte. Dis die tweede grootste een-dag-wins in die geskiedenis.
1989:  George W. Bush en Edward W Rose word hoof uitvoerende beamptes van die Texas Rangers.
1989:  Sowat 100.000 studente vergader in Tiananmen Plein in Beijing om die Chinese hervormingleier Hu Yaobang te herdenk."
1992:  Groothertog Vladimir K Romanof en groootste aanspraakmaker op die Russiese troon sterf op 74.
1993:  Brasilië hou referendum en stem teen 'n monargie.
2000:  Navorsers van Noord-Carolina kondig aan dat die hart van 'n 66 miljoen-jaar-oue dinosourus meer soos die van 'n soogdier of voël as dié van 'n reptiel was.
2009:  UNESCO loods die World Digital Library, 'n internasionale digitale biblioteek wat vanuit die Amerikaanse Library of Congress bedryf word.
En dan volstaan ek by hierdie 84 uit die sowat 500 historiese brokkies wat ek kon opspoor en vertaal.
84, omdat Judith Jacoba van Wyk (later ook Müller, Moolman en Steyl) twee jaar na Koningin Elizabeth op 21 April 1928 op George gebore is en op 21 April 2012 haar vier en tagtigste verjaarsdag sou gevier het.
Ons het haar geboortedag toe nou maar stil en sonder haar teenwoordigheid herdenk.
Vir haar twee seuns, Hans en Jac (maar eerder dan Hansie en Jacie omdat ons lewenslank haar kinders sal bly) en in hul harte en onthou, oorskadu hierdie dag in 1928 natuurlik alles wat hier genoem is – selfs die baie belangrike stigting van Rome deur die moederlose Romulus en Romus in 753 voor die geboorte van Christus.