Pages

7.3.12

Een vir almal en almal vir een


Ek onthou dit soos gister, Desember 1987, ek was op pad terug Caprivi toe na my pasafgelope 7-dag-pas. Ons het natuurlik beslis nie van iets soos ‘n 7-dag-pas gepraat nie – dit was sommer jou langverwagte Seven Days.

En langverwagte in my geval, as ons in ag neem ek praat van Desember 1987, dan nou duidelik bykans 12 maande lank verwag.

Toe die Flossie my die vorige week terug in die states had, is ek dadelik na my broer-hulle toe. Daar was twee tieners aan huis wat in die laat herstelfase van waterpokkies was, en ek het gehoop... ek het so gehoop. Ek meen enige iets is moontlik en die hoop beskaam nie.

Die storie wat die ronde gedoen het, was dat jy staatseiendom geword het die dag toe die SAW & Seuns jou op die bus of trein gelaai het – in my geval Sturrock Park anderkant die SAUK en die destydse Onderwyskollege.

En as jy, word jy siek, jouself nie summier aan ‘n distriksgeneesheer uitlewer nie, kan jy aangekla word van beskadiging van staatseiendom.

Ek het presies geweet waar om so ‘n man op te spoor en het my lyf as tiener en op skool nie so verken soos daardie daaropvolgende week nie. Maar helaas, alles verniet – my lyf is so glad en egaal soos ‘n pappe baba se boudjies nie kan wees nie.

En hy bly so glad en egaal soos daardie symste pappe baba se boudjies sewe dae later nie kan wees nie.

Dis natuurlik nou net tot ons bykans 2000 kilometer verder gereed maak om in kort duskant 40 grade Celius op Rundu-vliegveld uit te klim: dis mos al asof ek bewus word van ‘n jeukerige krapperigheid hier regs van my naeltjie en ek vroetel tussen die harde lappe van my browns op soek na die oorsprong van hierdie jollie jeuk.

En natuurlik is dit toe nooit anders nie – pokke, bloedfamilie van daai herpes wat jy opdoen van hopeloos te veel onverantwoordelike lekkertes.

En oor ek staatseiendom is, het die staat mooi na my gekyk en my vir twee weke gehospitaliseer:  ‘n saal met agt of so beddens. Geen ruite of vensters – dis te warm, selfs in die winter – dis gaas.

Die een ander pasiënt, vir daardie twee weke, was ‘n man met die naam Cavallo – hy het óf aan bomskok gelei, óf hy was verstandelik gedepriveerd. Moontlik was dit ‘n baie ongesonde gesonde kombinasie van die twee. En dan was daar nog hallusinasies en psigoses en ‘n hele paar ander mediese terme ook by betrokke.

Maar ‘n liewe mens, was hy gewees – almal het van hom gehou, dis net dat hy tydig en ontydig die allervreeslikste keel opgesit het. Dis hoeveel jaar later, en sy stem eggo nou weer herkenbaar deur my kop – die man het op my gegroei, daardie twee weke.

Maar behalwe om na Cavallo te luister en te wag vir pos, kon regtig net twee dinge doen – sweet en krap.

Ek het vir myself stukkend gekrap, dat die bloed loop en ek vandag nog met kraters oor my ganske gesig sit.

Dis ook hoekom ek my haarlyn so oppas en allerhande aanvullings en goeterstes gebruik – ek weet, wat daar blootgelê gaan word, verloor ek die dag my yl haardos: ‘n pankop wat lyk of die pan met hamers vol gate getimmer is.

Wat eintlik maar net ‘n omslagtige manier is om uit te kom by die hartseer feit dat ons nou by die huis met twee vrouens sit wat elk die een of ander vorm van herpes het:  Annieka met gordelroos (oppad uit) en Klaradyn met waterpokkies (oppad in).

Ons is Sondag met vyf spikkeltjies op Klaradyn se lyf Doktor toe:  een kon ‘n stukkende blasie gewees het, een het gelyk soos daai dingetjie wat ek tussen my browns se hemp deur neffens my naeltjie opgespoor het, en die ander drie kon netsowel muskietbyte gewees het.

Die doktor, gelukkig ‘n oudleerling wat ons daar raakloop (toevallig seker die slimste, skranderste, intelligentste kind wat in amper 25 jaar my pad gekruis het), wil toe nie sou oudmeneer teleurstel nie en ons is daar weg met R1 800 se antibiotika en ‘n stropie vir koors.

Ek dink ek is in my dae behandel vir die simptomatiese verligting van wat ook al waterpokkies oor jou pad bring – ek dink die mediese wetenskap het vandag ‘n moordmasjien ontwikkel wat die virus nie net verontrief nie, maar hom in die kiem smoor. (Kiem?!)

Ons het met 5 merkies begin en dit het oor een nag effe aangegroei, maar daarna nie weer nie.

Waar ons hoor het almal nou waterpokkies: ses onmiddellike kennisse, en dan vertel die tannie by die skool dat daar ‘n verwoestende vlaag deur die kinders trek.

Ek is bly ons het met so ‘n skrale kennisgewing tot aksie oorgegaan, en ek is bly die dokter het besluit om eerder aggressief as akkommoderend te behandel – van die ander outjies is lelik siek; ons is besig om lig daarvan af te kom.

Ouma wat nou week lank ‘n siekerige aan huis het, verdien die meeste simpatie.

En ek wat spekvet en gesond so uit voeling met die res van die siekes in die huisgesin is, is sommer lus en kry masels of pampoentjies.

Of verbeel my dan maar ter wille van groepsdruk ten minste net met ongekende oortuigingskrag dat ek siek is.

4.3.12

Twee of drie klein goedjies in my binneste wat wil uit



Sommer twee foto’s van my ma en pa op die strand, as ek moet raai (op grond van my broer op ander foto’s hierdie dag geneem) so agt jaar voor my geboorte.

Nee, wag, hier is my broer (die onderste een):

Nou daardie seun was 16 toe ek gebore is.

Ons kan seker die model van die motor agter my broer-hulle in die pad gebruik om met redelike sekerheid uit te werk min of meer wanneer hierdie drie foto's geneem is.

Nie dat dit nodig is nie, die presiese ouderdom is nie ter sprake nie – dit gaan om daardie rooi vierkantige blikkie regs van my pa in die sand. (Regs van my pa, maar links van die mandjie.)



Kom ons veronderstel dat die foto’s in 1956 geneem is (8 jaar voor my geboorte) dan is daardie blik vanjaar, minstens 55 jaar reeds in Moolman-hande.

Ja, ek bêre Klaradyn se speelklei  daarin, seker 6 jaar nou al.

Ek het een keer die blik uit die asblik moes haal, sewe jaar gelede.

Alleen maar geluk of deur die genade dat ek daarop afgekom het toe ek kos of iets in dier voege gaan uitkrap het.

Maar so iets sal nie sommer weer gebeur  nie.

Nie met daardie blikkie of enige ander soortgelyke blikkie nie.

Ek vermoed soortgelyke dinge gebeur van tyd tot tyd nog met sommige van my klere. Maar daaraan is ek al jare gewoond - my ma moes op skool al, en daarna, van my klere laat verdwyn, bloot omdat ek nie van gunsteling klere ontslae raak nie.

Wie kan byvoorbeeld spog dat hy steeds die T-hemde en sweaters waarmee hy in 1994 oorsee was, in sy kas het, EN dit steeds dra?

Maar ek dwaal af; el was by die blikkie wat ek gelukkig genoeg was om vir Klaradyn se kleinkinders te red (Klaradyn is ongelukkig, wat dit betref, haar pa uitgeknip.)

Oor hoe die blikkie in die asblik beland het, en wie hom daar gegooi het, gaan ek nie nou uitwei nie. Dis 'n lang storie, en nie sommer vir die openbare oor in die publieke domein nie.

Die punt wat ek wil illustreer is egter hopelik duidelik tuisgebring:  ek raak nie sommer van iets ontslae nie, veral nie as ek sentimentele waarde daaraan heg nie.

En dan is ek twee maande seker nou al bewus van twee goed wat onherstelbaar, onvervangbaar, onmisbaar, op pad uit is.

Ek kan daar niks aan doen nie. En dit maak my hartseer.

Ek kan dit ook nie probeer red soos ons met Ouma van Wyk se donskomberse gedoen het nie:

Die oomblik toe lakens en komberse uit gaan (iewers rondom standerd 5 of 6) en duvets die in-ding word, toe word Ouma van Wyk se donskombers my duvet. En hy het my duvet gebly tot ek die dag getrou het. (Wintermaande het ek sommer onder twee van hulle geslaap.)

Toe soek ons, seker so 5 jaar in die huwelik in,  vir maklik 3 jaar na iemand wat Ouma van Wyk se twee donskomberse en al 8 Ouma Moolman se dons-kussings (op die familieplaas gepluk) in een mega-donskombers kan stop.

Die down-proofing materiaal het van jare se gebruik sommer begin stukkend val.

Ons kry toe iemand, iewers ‘n dagreis uit Pretoria uit. Ons maak daarvan ‘n uitstappie en drie weke later lewer hulle die donskombers by ons by die huis af.

Die goeie nuus, wat ons slegte nuus is, is dat hulle 90% van die dons verby hul tyd geag het – hulle het sowat 10% behou en die res is piksplinternuwe gansdons van hul plaas. Ek skuld hulle 'n aardige bedraggie, KBA asseblief.

Dis nie wat ons wou gehad het nie – daar was selfs dons uit Annieka se familieverlede – ons wou ‘n hartskombers met jare se opgegaarde herinneringe hê, en nou sit ons met ‘n volksvreemde donskombers wat almal skielik hooikoors gee.

Nou is dit twee kampeerstoele – die raamwerk is nog so stewig soos die dag toe ons hulle in 1997 gekoop het. En dit sal oor 14 jaar nog net so stewig wees. Maar die lap, die seil, is lank verby hul fleur, trouens aan flarde en hoogstens Klaradyn wat miskien nog daarop sal kan sit.

Ek en Annieka het nog op die grond geslaap – geen opblaasmatras of kampbedjie nie – toe het ons al die twee kampstoele. Ons het nie by kerslig opgesit nie, ek en my vrou nie, ons het by sterlig opgesit, die twee van ons. Kruger Wildtuin. Pilanesberg. Nie een keer ‘n jaar wilduin toe nie, twee keer. Jy moet die veld nie net asvaal in die winter sien nie, maar grasgroen hoogsomer ook.

Vir minstens 14 jaar pak ek hierdie twee stoele elke keer in as ons gaan kamp.

Ons was een keer dislojaal en het twee ander stoele saamgevat. Dag vier toe sit ek die eerste een stukkend. Die tweede een het ook stukkend agtergebly toe ons opgepak het.

Moenie vir my sê ek moet afsit Jeka toe, of Tentatoria toe (die twee plekke in Pretoria wat my sal kan help) nie – dit sal tweede beste wees, nie meer dieselfde wees nie.

Ai,  en dan is daar my bruin gordel – ek het op 36 getrou met my matriekafskeid-gordel om my middel – wat ek en Annieka gekies het, en my ma teen haar sin betaal het.

My gordel van destyds was aan flarde – soos die kampstoele se seil deesdae.

Judy het haar voet neergesit, wat moet die kinders van my dink.

Net so moeilik soos dit vir my is om van ou klere ontslae te raak, net so haat ek dit om nuwe klere te koop.

Maar my ma was sommer propperlie omgekrap toe sy in Pretoria kom en sien hoe slordig ek skool toe gaan. Dit was nog voor ek en Annieka getroud was en sy na die beste van haar vermoë na my probeer begin omsien het. En ons het afgesit dorp toe en vir my (Oubaas) die mooiste gordel denkbaar uitgekies.

My ma was haar lewe lank spaarsamig, nooit suinig nie, maar ek het geweet, destyds, dat ‘n buitensporige R80-00 (miskien was dit ‘n meer buitensporige R120-00) buite haar verwysingsraamwerk (maar gelukkig en soos altyd steeds binne haar liefdesreikwydte) is.

Maar daar, om die gespe, waar geen leerwerker of skoenmaker iets aan sal kan doen nie, skeur die leer los. Ek weet dit al 'n hele rukkie.

Die gespe doktor ek lankal reg. Waar die leer om die gespe gerek het en maak dat die hakie losskiet, het ek ‘n 2”-bout in om alles om my lyf te hou waar dit moet wees.

Maar aan dit wat, op grond van ouderdom, nou besig is om te gebeur, kan ek niks doen nie.

En soos met die seilstoele, en die donskombers, is en bly dit nie aangenaam nie, weet ek dat ek eintlik lank en uitgerek afskeid neem.

Grootword, so lyk dit my, op 47 , is steeds nie lekker en iets waaraan ‘n mens gewoond raak nie.

Maar eendag, as ek eers die dag groot is, sal dit makliker gaan, ek weet.

Dan gaan ons nie meer kampeer nie maar in gastehuise en hotelle tuisgaan. (Pa se skip het ingekom!)

En teen daardie tyd het ek nog ‘n verdere 15 kilogram afgeskud en het ek in elk geval ‘n nuwe gordel nodig.

Tot dan moet ek miskien maar die geskeurde seil  van die stoele met die leer van die geskeurde gordel lap.

Dink net hoe trots my vrou nie op my sal wees nie!

Voor ek vergeet

Waarom ek blog het ek laas in 2009 kwyt geraak. Ek sal kyk of ek dit kan opspoor en dit weer pos.

Een van die saadjies lê egter in my skoonma (maar saam met haar dan dadelik, net nie in soveel woorde uitgespreek soos deur my skoonma nie, ook in my eie ma, my pa, my ooms en tannies, grootouers en selfs my broer, Jac).

My skoonma het al by herhaling te kenne gegee dat sy die stories en stukkies onthou wat sy in haar saamdra gaan neerskryf, opteken, bewaar vir die kinders en kleinkinders, voor dit te laat is en in die vergetelheid versink.

Ek het ander mense dit ook al baie hoor sê.

Baie.

Baie maal én baie mense.

Maar soos met al die baie ander, is dit 17 jaar later en my skoonma het nog nie begin nie.

Elke storie wat ek van my pa het en onthou is vaagweg, halfpad en ten dele:  hoe hy gemaak het of hy speel in die blaasorkes en toe uitgevang is...  die turksvye... die perde wat bang is vir skilpaaie...

Met my ma gaan dit nie veel anders nie.

Toe ek wou begin het om die stories uit haar te kry, sou ek haar moes begin wurg het, want toe was dit al te laat – haar onthou het vroeg die gees gegee.

As ek nie reeds het nie, sal ek die een wat my helder voor die oog staan, die een van die arm gesin in die Knysna bos waarby jy net te perd of te voet kon uitkom, vertel. Maar dis ook al storie wat dan sal oorbly, al een van die baie...

Haar suster, Tannie Anne, het altyd makliker en meer stories vertel – maar hulle is ook almal verlore en saam met haar in haar graf in.

Daar is die een waar sy en my oupa my ma die Sondag uit die kerk gaan roep het. Daar is nog meer, baie meer, ‘n leeftyd se onthou, en ook vergeet, meer – maar hulle is almal flentertjies en eintlik net stukkies bewys dat daar eendag jare gelede meer was.

Ek dink nie my broer se kinders, en hulle is al groot en in hul dertigs, weet dat hy histeries van opgewondenheid ge-jakka-jysa het nie. Miskien was dit eerder jaka-jysa, met een –k gespel, omdat die –a lank en nie kort uitgespreek word nie.  Maar hy is nie nou hier nie (my ma nog minder) om dit uit te spreek – en sal hy dit nog enigsins onthou?  Ewenwel, ‘n jakka-jysa vind my ma-hulle toe na ‘n ruk uit, is die risckshaw iewers op Durban se goue myl tydens sy eerste besoek aan die see.

Van hom het ek darem ook nog die hele aanloop tot daardie seevakansie – hoe hy nie vooraf sy see-kleertjies wou dra nie, en in die middel van die somer met ‘n duffel-coat kleuterskool toe is – sodat die ander nie sy see-kleertjies sien nie.

En toe hy eers by die see is, toe mog sy swembroek nie nat word nie. Die ander mense dink hy skree histeries van vrees vir die branders; hy en my ma weet egter dis suiwer oor hy nie sy swembroek, die spesiaalste van spesiale see-broekies, wil nat hê nie.

Van my oupas het ek niks, net mooi niks – hulle is beide al dood gewees nog voor my geboorte. By my pa se broer het ek so tien jaar gelede, die laaste keer toe ek hom gaan opsoek het, op die stoep waar ons gesit het, toe wel die storie van Oupa as Kaapse rebel gehoor. Maar dit was die eerste en laaste keer sedert laerskool dat ek my oom gesien het – hy is vandag ook al meer as agt jaar oorlede.

Hoeveel stories is daar nie wat verby, verlore gegaan het nie!

Dit sal almal nie pla nie.

Maar vir my pla dit – ek is lief vir stories, meer nog vir gister en voorste jare se stories.

En dis hoekom ek toe begin blog het – die stories en onthou waarna my kind my eendag miskien sal vra, sal opgeteken en nie in die vergetelheid versink wees nie.

Ek sê ook miskien sal uitvra – want dis geen uitgemaakte saak dat sy soos haar pa, met ‘n voorliefde vir die klein geskiedenis, gaan uitdraai nie.

Maar dis hoekom ek blog, en dit onder die naam Pappa-Mamma-en-Klaars, met die onderskrif lest Pappa forget daarby.

Ek kan daarom nie my vrou en kind van my blog afhou nie – Klaradyn is die begin en die einde van die blog, sonder haar, sonder haar op die blog, was daar geen inskrywing, aantekening of optekening nie.

En as ons drie, soos gisteraand weer, een van die allerheerlikste, allerspesiaalste, allergesinste Pappa-Mamma-en-Klaars-tydjies om die die braaivleisvuur het, dan onthou ek dikwels iets wat ek en Annieka en Klaradyn gevaar loop om te vergeet, en dan wil ek dit in die logboek kom aanteken.

‘n Logboek is immers waar die woord blog sy naam aan te danke het, maar nie enige logboek nie – ‘n web log. Maar omdat web log so moeilik op die tong val, is van prokopee gebruik gemaak om dit te verkort tot blog.

So onthou ek gisteraand toe weer van skollelade/skottelade en glô-die-da-foo, en ek weet ek gaan dit vergeet, ek moet dit op skrif kry.

En toe die swembad se pomp my vanoggend net na 01:00 in net my onderbroek in die buitelug langs hom het, weet ek, toe ek eers weer terug in die huis is, dat alle slaap nou eers vir ‘n rukkie iets van die verlede is – ek kan skollelade/skottelade en glô-die-da-foo netsowel nou kom vasmaak.

Al twee dateer uit min of meer dieselfde tyd – rondom 3 verbeel ek my. Miskien later; miskien vroeër.

Ons is met Klaradyn wildtuin toe, Pilanesberg toe.

En daar, vanuit die agterste sitplek, begin sy sing en vertel van glô-die-da-foo. Die –gl van die glô is nie sterk glutteraal soos die Afrikaanse glo nie, dis eerder soos die Engelse globe – nie [xlɔ:] nie, maar [glɔ:].

En sy is adamant, daar is so liedjie, ons het die video by die huis ons het hom al gekyk, ons het hom al baie gekyk. Maar, die kind is sekerlik nog nie drie nie, sy ken nie die naam van die fliek nie.

En sy sê nie net die woorde nie – sy sing dit vir ons.

Vir vyf dae in die Pilanesberg. En ons weet nie wat of waarvan sy sing nie.

Ons was al by die huis, meer as ‘n week lank, voor ons agter die kap van die byl gekom het –  glô-die-da-foo is niks anders as glorious food nie. Dit kom uit ‘n toneeltjie in Ice Age waar die aasvoëls in afwagting sit vir die trekkende diere om te vrek en solank begin sing van al die glorious food wat op hulle wag.

Ons is seker by aasvoëls verby, of wat ook al, iets moes Klaradyn, waar sy op die agtersitplek in haar karstoeltjie gesit het, by daardie woorde en beelde uitgebring het, en dís hoe sy dit in daardie baie vroeë stadium van haar lewe onthou het.

Skollelade en skottelade is ‘n ander een, wat ‘n skrale vyf jaar later al ‘n traan in my oog bring. Seker vier jaar nou al dat ek wat saal gee, dat ek sal betaal, om te hoor hoe my kind die woorde sê, nie soos sy dit op ses sê nie, maar soos sy destyds geklink het, toe sy net begin praat het.

Die uitspraak van die woord sjokolade was vir haar te kompleks en het oor maande heen verskillende vorme aangeneem:  skollelade, skollolade, skottelade, skottolade (en dan nog ‘n paar ander wisselvorme wat ek elkeen ook al klaar vergeet het).

Ai siestog, grootword is ook nie maklik nie – noudat sy lankal darem al die uitspraak onder die knie het, lê die spelling nog voor. Sjokolade is een van daardie woorde wat skoolkinders op hoërskool nog op dertien verskillende maniere verkeerd spel.

En nou het uitgekom by glô-die-da-foo en skollolade/skottolade maar gisteraand, en so baie aande soos gisteraand, Pappa, Mamma en Klaars, eers in die kombuis aan het kosmaak, toe onder die lapa langs die braaivleisvuur, loop steeds gevaar om in die vergetelheid te versink.

Die wortelslaai het seker 30 minute geneem. Jy het al vyf wortels self geskil, meer behendig as ‘n maand of wat vantevore, elke keer meer behendig. Toe het jy dit gerasper – ma wou help en ek wou oorneem. Maar ons het nie. Dit het 30 minute gevat. Jy het in die proses amper die helfte van die wortels self opgeëet, net deur die genade alleen nie jou vingers in die bord gerasper nie en daar was op die ou einde darem iets om met ‘n bietjie lemoensap oor, uit te dra.

Toe jy vir Mamma ‘n nat lappie moes kom haal om die tafel af te vee, spoor ek jou pens en pootjies op die kombuiskas op – op soek na ‘n bakkie:  want ‘n mens vat ‘n nat waslap in ‘n bakkie tafel toe. Uit jou eie.

Jy het langs my gestaan en gesê jy wil die vleis omdraai “want ek wil eendag kos kan maak soos Pappa.”

Wat die hart van vol is, loop die mond van oor.

My beker loop ook oor.

28.2.12

Kom ons sing saam


Ek moes op my dag saam met my Pa na Caruso, Mario Lanza, Richard Tauber, Fritz Wunderlich en ‘n hele spul ander ooms wie se name ek nie meer onthou nie, luister. Party van hulle se name lê op die punt van my tong, maar verniet of hulle wil vorentoe skiet en hulself openbaar.

Klaradyn is hierdie klas van outjies gespaar, maar word geteister met treffers van die 80’s (en meermale die 70’s).
En dan sê ek ook nou “treffers”; eintlik bedoel ek “hits”.

Ek was in standerd 4 of 5, beslis nog op laerskool, toe iemand die hartseer storie van Angelo gesing het:

Long ago, high on a mountain in Mexico, lived a young shepherd boy, Angelo, who met a young girl and he loved her so. Rich was she, came from a very high family. Angelo knew it could never be – they ran away to their destiny. Running away together, running away for ever – Angelo! Running away from danger, hiding from every stranger, Angelo! They knew it wasn’t wrong, they found their love so strong...

Ek het regtig net drie laerskoolherinneringe rondom die verhoog. In graad 1 was ek ‘n week laat vir skool omdat ek plat met pampoentjies was, en toe ek ‘n week later instap, toe is dit mooi die dag wat ons hele klas op die verhoog moet gaan om vir die res van die skool te sing.

Hansie moes op en maak of hy sing.

Iewers, heelwat later, standerd 3 of 4, moes Hansie regtig sing, iets van ‘n pampoen – boerpampoen wat swart en wit en rond is.

En dan was daar Angelo. Ek praat onder korreksie (nie dat ek dink daar is iemand wat my met veel gesag meer sal kan korrigeer nie – ons almal word immers nou oud) maar ek verbeel my daar was ‘n Standerd 5-afskeidskonsert of ‘n ding. En ‘n spul meisies (Karin en Lynette en Elize, straks Susan -  en dalk ‘n spul seuns ook) het Angelo gesing – of gemaak of hulle sing terwyl die liedjie oor die luidsprekers gespeel het.

Ek weet nie, ek is nie seker, daar is beweging regs voor op die verhoog – dis beslis Angelo. Ek sien Lynette in swart.

En ek verbeel my die program, wat destyds op wasvel getik en afgerol is, is die program wat ek so 25 jaar later iewers opgespoor het en toe met groot heimwee teruggedink het aan ons Standerd 5-Angelo-moment.

Ek is nie goed met somme nie, maar kom ons probeer:  ’87 en ’88 – army, ’83 tot ’86 – varsity. ’82 – matriek, 1977 – standerd 5 (?).

Ek het die onbekende kunstenaars (wie sing die liedjie, ek weet nie) se Angelo na 1977 miskien drie keer in my lewe gehoor – en dan sê ek ook nou drie keer, dit kan twee keer of vyf keer ook wees, ek weet nie, ek kan nie onthou nie. Maar dis heel waarskynlik dat ek hom na standerd 5 weer ‘n keer of wat moes gehoor het.

En toe hoor ek hom weer, vyf en derig jaar later, Vrydag vir die eerste keer.

Dit was heerlik, dit was ongelooflik om oombliklik laerskool toe, skoolsaal toe, getransponeer te word. En ek sal dit nie sommer vergeet nie, want toe ek, wat my geheue betref vir die eerste keer in 35 jaar weer die liedjie hoor en luidkeels saamsing, toe ry ‘n haastige student van agter in my gat in. Ja, met my kop in die gebergtes van Meksiko, word ek toe hard afgebring aarde toe, skade toe, paneelkloppers toe.

Dit was Vrydag. Is dit al te laat om die saak by die polisie aan te gee?

Maar dit daar gelaat – dis aardse goed.

‘n Vriend het my musiek geleen om te luister, net ‘n spul CD’s in ‘n CD-houer, ek het nie ‘n idee wat om te verwag nie. Dan prop ek iets in en dan slaan die herinneringe my so die een na die ander ‘n vuishou met 'n voorhamer tussen die oë.

Soos met Angelo, Vrydag.

(Ons vergeet maar van die voorhamer wat van agter in my in is, vir eers.)

Vanoggend wou ek dat die kind wat saam met my skool toe ry, luister na Meneer se groot hit uit die 70’s, maar toe spoor ek die ding nie op voor ons by die skool is nie – toe kom daar dadels van.

Maar vanmiddag, op pad om Klaradyn te gaan optel, kraak die vrouens se Spaans-Amerikaanse heserige stemme oor die luidsprekers:  Long ago, high on a mountain in Mexico, lived a young shepherd boy, Angelo, who met a young girl and he loved her so...

Man ons luister hom sommer twee keer, en omdat daar regtig so min woorde is, sing Klaradyn teen die einde van die eerste ronde al lekker saam.

Haai en daar, as ou man, registreer ek toe nou ook vir die eerste keer die woorde van die liedjie, deur die ore van ‘n grootmens, nie met die ore van ‘n kind nie.

Wat ‘n teleurstelling – ek dog nog al die jare hulle het in die woestyn omgekom, maar ek was verkeerd, dis duidelik – hulle het hulle eie lewens geneem.

Ek het nou weer geluister:  they took their lives that night, and in the morning light they found them on the sand, they found them lying there, hand in hand.

Ek het nog altyd geweet dis ‘n hartseer liedjie op ‘n opgewekte wysie, ek het nog altyd geweet die geliefdes sterf, maar ek het nog nooit ‘n selfmoordpakt vermoed nie.

Hierdie liedjie was nog altyd vir my die grootymensweergawe van die Engelse gediggie wat ek op 7 in ‘n digbundel by my Tannie Anne present gekry het, en met die dat Klaradyn en ek nog gereeld uit die betrokke digbundel lees, het sy ook dadelik die ooreenkomste ingesien:

My dear, do you know how, a long time ago,
Two poor little children, whose names I don’t know,
Were stolen away on a bright summer day
And lost in the woods, I’ve heard people say.

And when it was night, how sad was their plight.
The sun, it went down, and the moon gave no light.
They sobbed and they sighed, together they cried,
‘Til the poor little things, they lay down and died.

And when they were dead, the robin so red
Brought strawberry leaves and over them spread,
And all the day long, he sang them this song:
“Poor babes in the wood, poor babes in the wood.”

En toe 35 jaar later die wrede ontnugtering! Angelo se liedjie was toe al die tyd nie die bekende Engelse kindergediggie en -liedjie, net vir grootmense se ore hierdie keer nie – ‘n tragedie, letterlik in die tradisie van Romeo en Juliet kon hom hier in die sand/berge afgespeel het.

Te vreeslik!

Haai, en hoe kan ek my kind nou na liedjies laat luister waar die hoofrolspelers selfmoord pleeg – ek word sweerlik by die Christelik Maatskaplike Raad aangegee, my kind word iewers in veilige bewaring, waar haar pa haar nie kan besoedel nie, gebêre.

Ongelukkig/gelukkig het ek toe klaar vir haar my naïewe interpretasie van die gebeure vertel: hulle kom die nag in die woestyn om, maar word in mekaar se arms aangetref.

So, ek byt toe maar vas – moord verstaan my kind nie eers so lekker nie, wat nog te sê selfmoord.

Aan die ander kant is daar groter leuens wat aan ons kinders voorgehou word, minder wit maar donkerder leuens met verreikender gevolge.

En buitendien - ek kon my kind laat sing het van kinders waarvan die nekke omgedraai moet word, hulle lyke in die sloot gegooi, en op hulle koppe getrap word.

Angelo en sy geliefde is ‘n vulletjie – ek worry verniet.

Klaradyn sing heerlik saam, Mamma ook.

As daar ‘n oorlog kom, sing ons, soos die Von Trapp-gesin, al die pad vir ons 'n weg oop, op tot in Europa of Amerika.



Naskrif: 

Intussen het ek my huiswerk gaan doen.

Angelo het 16 September 1977 op Springbokradio se  treffersparade verskyn, dit het 17 weke op die parade gebly en wel posisie 1 behaal. Dit maak sin dat ons einde standerd 5 met so ‘n treffer afskeid sou neem.

Dis Brotherhood of Man wat die liedjie vrygestel het – hulle vorige treffer in SA was Save all your kisses for me (en as ek my dit nie mis het nie, is dit nog vertaal ook en in Afrikaans gesing.) Die vertrekpunt was nie Babes in the Wood nie, maar Romeo & Juliet.

En toe ek eers die video opgespoor het, toe is dit duidelik, my husky Spaans-Amerikaanse stemme is in my kop, in Mexico, die girls wat sing, is alledaagse poppe uit die 70's - dream on cowboy.


18.2.12

Ons is dan nou twee wat nie omgee om nie te wen nie


Aristoteles was heel eerste om die mens, by geboorte, met ‘n leë kleitablet waarop nog niks geskryf staan nie, te vergelyk. Meer as 1000 jaar later sou dit bekend word as die tabula rasa waarop elke gebeurtenis, belewenis en ervaring sy merk laat.

Diego Velazquez (1599 -b 1660) se Sybil met tabula rasa

Klaradyn was sommer nog baba toe ‘n vriend van my my opnuut van hierdie nosie in die opvoedkunde en psigologie bewus gemaak het.

Dit was spottendergewys, maar daarna het ek myself al telkemale in Klaarsie se grootwordproses hieraan herinner.

Destyds het dit gegaan rondom Klaradyn wat ons nie aan die slaap kon kry nie – daar moes met haar gery word, somtyds om die blok, somtyds Timboektoe toe en weer terug.

Nee ‘n pretrit in die stootwaentjie het dit glad nie vir haar gedoen nie – ek sou doodmoeg en ontwater ses dagreise te perd by ‘n vriendin in ‘n gans ander tydsone as Pretoria aangestap kom, dan sit onse juffertjie steeds pikwakker en kiertsregop en kraai van die lag vir die verbygangers...

Vir goed drie jaar van ons lewens het ons petrolverbruik en die slytasie op ons motors die hoogte ingeskiet. En so sou dit seker vir nog twee jaar kon aangaan, as dit nie was dat ons op drie vir die eerste keer met die kind Kruger Wildtuin toe is nie – daar leer sy toe oornag om nie in ‘n motor weg te dommel nie, maar met akute konsentrasie en afwagting diertjies en tekens van lewe buite die kar te soek.

En dit was die einde van ons aan-die-slaap-ry van Sussie.

Maar voor dié hartseer dag uiteindelik aangebreek het, spog ek by die skool op ons relatief maklike (weliswaar petrolrowende) manier om die kind in ‘n oggend- of middagslapie in te kry.

En dis op daardie punt dat my vriend my daarop wys dat die sielkunde al by herhaling bewys het dat sulke klas van goed nou maar een maal die geneigdheid het om jare later, wanneer dit die minste verwag word, in die vorm van ‘n letsel sy kop uitsteek. Ek moet byvoorbeeld nie verbaas wees as my kind strakkies eendag haar wittebrood, nie op ‘n plesierboot nie, maar op die agtersitplek van ‘n Cadilac, wil deurbring nie. Of skielik eendag net weier om self motor te bestuur nie.

Ek is hierdie week weer daaraan herinner – nie ‘n irrasionele kwessie rondom motors nie, maar die idee dat alles sy merk laat, partykeer ‘n letsel.

Klaradyn is nou maar een maal die produk van haar ma en pa, en die idee dat teenoorgestelde pole mekaar aantrek, was nog nooit so waar soos in die geval van Johanna Catherina en Hans Jurgens nie.

So is ek versot op bordspeletjies (van Krabbel tot Monopoly), kaartspeletjies (al is die 37 variasies van Solitaire die enigste waarby ek die afgelope 12 jaar uitkom) en dobbelstene wat uit bekertjies gegooi word (Poker en Yachtzee).

Annieka doen nie nie een van dit nie, en die rede is eenvoudig – kompetisiegees laat ‘n monster van ongekende proporsies in my andersins vredeliewende vrou opstaan. Winning is not an option, it is the only thing. Dis óf alles óf niks.

‘n Gemoedelike aand van speletjies is net ‘n gemoedelike aand van speletjies solank Annieka of haar span, aan die wenkant is.

Ek is lynreg die teenoorgestelde, ‘n speletjie is speletjie, dis vermaaklike tydverwyl, niks meer nie – ek kan maar wen of verloor, dit maak nie saak nie – die proses, en nie die eindresultaat nie, is waarin die geniet lê.

En daar gaan Klaradyn mos vir vir sewe uur en dertien minute in ‘n histeriese tranedal in, die tweede keer dat ons destyds Slangetjies en Leertjies speel.

En daar moet toe agtien maande en twaalf dae verloop alvorens sy dit weer oorweeg het om Slangetjies en Leertjies te speel, en nog ‘n verdere drie maande, enkele dae alvorens sy uiteindelik so ver gekom het om inderdaad aan die speel te kom en dit nie net te oorweeg nie.

Die rede? Sy het een en twintig maande van te vore, ronde twee verlóór, nie gewen nie!

Sy was histeries. (Oor sy verloor het.)

Ek was histeries. (Oor haar heftige reaksie en die monster wat in haar opgestaan het.)

En van toe af werk ek nou al vyf jaar daaraan om haar te leer dat ‘n mens maar kan verloor, dis dooddollies om uit te val, wen is nie alles nie – jy moenie omgee om te verloor nie.

As haar tablet nie van klei is nie, maar van marmer, dan beitel ek die gedagte in die klip uit en giet gesmelte goud in die voortjies dat dit helder en duidelik afgeëts staan in haar hele siel en wese.

Dis okey om te verloor. Jy hoef nie altyd te wen nie. Geniet net die speletjie enduit, selfs al is dit van die kantlyn af.

Ag liewe hemel – gró-ó-ó-ó-ót fout!

En ons het nie nodig om te wag tot die storm- en drangjare van tienderskap om slegte vrugte daarvan te pluk nie – die eerste oes kom maand twee van graad twee.

Hulle speel ‘n lawwe speletjie in die klas. ‘n Lawwe speletjie wat ek baie bly is hulle in my kind se klas speel, want dit getuig uit en uit dat die Juffrou presies weet wat sy doen, en dat sy dit dit wat sy doen, baie goed doen.

Juffrou roep lukraak getalle uit – is dit ‘n ewe getal doen jy niks, is dit ‘n onewe getal spring jy op. Of klap jy. (Is dit nie wonderlik nie – die kindertjies is 110% gefokus, hulle konsentreer so dat die rookwolke by hulle ore en neusgate uitkom, én hulle dril en leer en oefen nie net in die proses nie – hulle geniet elke oomblik daarvan!)

Ag, hemel, en daar hop of spring of klap my kind, toe sy nie moes hop, spring of klap nie, óf sy vries toe sy die ritteltits moet kry. En sy val uit.

En wat sê my kind, presies soos haar pa haar ingedril het? “Ag, ek gee buitendien nie om om te verloor of uit te val nie.”

En omdat haar reaksie op ronde twee van Slangetjies en Leertjies bewys het sy is haar ma se kind, is dit eintlik, natuurlik, glad nie vir haar lekker om aan die kortste ent te trek nie, so ek kan my net voorstel hoe snotty en vermakerig sy klink terwyl sy dit sê.

En toe is die gort gaar, want nou moet die juffrou (en ek sou dieselfde gedoen het) ‘n kind wat so ‘n traak-my-nie-agtige houding teenoor haar skoolwerk inneem, en dit nogal op so ‘n uitdagende wyse, teregwys. En omdat die kind, vanuit die juffrou se beperkte perspektief, haar uitgedaag het om iets te sê wat sy liefs nie moes gesê het nie, is dit tit for tat, butter for fat en moet die een woord op die ander nóg ‘n ander troef.

En teen die middag toe het die muisie van klap (of nie klap nie) toe jy nie moes geklap het nie (of moes geklap het) ‘n berg gebaar.

En na ons (Mamma, Pappa, Ouma, Klaradyn en Juffrou) die berg tree vir tree uitgeklim en na die beste van ons gebrekkige vermoë glad probeer stryk het, bly die lááste wat ek vir my kind kan sê, presiés dit wat ek vir haar wíl sê (maar nie mág nie):  “Pappa is bly dat jy geleer het dat dit okey is om te verloor. Hou dit asseblief net volgende keer vir jouself en moet dit nie so helder en duidelik aan die groot klok hang nie.”

16.2.12

Die mooiste ding van gister



Nie net die mooiste nie, maar miskien selfs die enigste mooi ding wat gister oor my pad gekom het.



15.2.12

Vaaltyn se ete en soete naspysie


Ek het vanaand twee goed gemaak wat ek nog nooit gemaak het nie. Ek kan nie wag om elkeen weer te maak nie – hoe gouer hoe beter.

Die een was ‘n ongeëwenaarde sukses, die ander ‘n volslae mislukking.

Enige vrou sal vir jou sê dat ‘n man nie kruideniersware-inkopies moet gaan doen nie. Ek is daarvan sprekende bewys. Ek koop wat ek nie moet koop nie en laat na om te koop wat ek moes koop.

‘n Inkopielys is nie iets wat ek in die motor los nie – ek los hom vanuit die staanspoor op die kombuis- of eetkamertafel voor ek nog vertrek.

Ek sigsag ook nie in aller yl van produk tot produk nie, nee, ek slenter op ‘n drentelgang van die gangetjie heel links, tot die een heel regs.

Ja, ek weet ek soek nie nou glase of wasgoedversagmiddel nie, maar netnou vra iemand my oor die prys van wynglase of die nuutste geure in wasgoedversagmiddels – en dan sit ek met ‘n bek vol tande! Daar is mos nie ‘n manier nie! ‘n Man moet op hoogte bly van wat om hom aangaan.

Dis hoe ek ‘n ruk op hierdie vreemde botteltjies tussen die toebroodjiesmere afgekom het en summier een van elkeen van die vier soorte gekoop het. Nogal ingevoer uit Argentinië. Die goed se rakleeftyd het al gekom en verby gegaan toe ek dit gekoop het, maar dit was heerlik. So lekker dat ek die volgende dag terug is vir nog, maar toe is daar niks. Ek het gevra, tot agter in die stoor in, en die boodskap gekry dis die vorige dag, enkele ure na my aankoop, van die rak gehaal, nie net oor die vervaldatum nie, maar oor die produk nou maar een maal net nie verkoop het nie.

Dulce de Leche. Dis eintlik nie veel anders as ‘n blikkie kondensmelk wat jy tot karamel kook nie, maar dit voel vir my al te veel na verneuk.

Toe volg ek die outentieke resep: 2 liter melk, 500 gram suiker, teelepel sout. Kook dit vir drie ure af tot daar so 500 milliliter oorbly.

Myne het na 2 uur en 47 minute gaan staan en brand.

Ook nie gaan staan en verbrand soos in galbitterpikswart verbrand nie – die aanbrand was eintlik net baie dik en donker raak teen die bodem van die pot. Dit het aan die smaak onder die son niks gedoen nie, die tekstuur is ongelukkig nou net korrelrig in plaas van romerig.

En al hoekom dit gebeur het is omdat ek vir te lank agter die werk ingeskuif het, en twee of drie keer se roer by die pot laat verbygaan het.

Maar dis heerlik – as ek nie so sleg was nie, was ek nou op straat op soek na nog 2 liter melk sodat ons weer kan probeer.

Die ander eerste hou ook verband met staan en rondkyk in winkels. Want by die slaghuis doem daar toe hierdie kookboek vlak onder my neus by die kasregister op. Ek kyk, en terwyl die bank my per SMS kontak om te laat weet dat ek nog ‘n verdere R345-00 in die rooi in is, jaag ek summier die kaartjie ‘n tweede keer, hierdie keer vir R160-00 van die kookboek, deur die kaartmasjien se gleufie.

Dis ‘n lieflike kookboek wat regtig bykans geen moeite met hoeveelhede doen nie. Dis soos om party van Leipoldt se resepte te lees – neem ‘n handjievol of wat van dít en dan gooi jy ‘n grypie van dát by nadat jy so bietjie hiérvan ingeroer en ‘n bietjie dáárvan oorgerasper het...

Daarin erken hulle toe dat dit ook vir hulle jare lank heiligskennis was om iets anders as knoffel, suurlemoen en botter by garnale uit te bring. Maar toe bring ‘n vriend hulle met ‘n ander pad by Rome uit en dís dan nou die resep wat hulle met my deel.

Van voor ons troue eet ek en Annieka (deesdae ek en Annieka en Klaradyn, wat van garnale as krewe praat) op Valentynsdag so veel as moontlik garnale, met so min as moontlik bykosse. Die laaste klompie jare doen ons nie eers moeite met rys nie – ons smeer sommer hompe brood deur die sappe en medisynerekeninge-vir-cholesterolbeheer wat in die pan agterbly.

Maar ek kan nie ‘n oopkop kookboek aankoop en met ‘n kop so toe soos ‘n kleios se sweetgate sit nie – ek besluit daarom om die oopte van kop te toets aan my bereidwilligheid om hulle nuwe gaarnaalresep op die proef te stel.

My beursie was by die huis vergeet, en die viswinkel is in Groenkloof – toe leen ek Maandag geld om ‘n heen en weer reis huis toe en terug uit te skakel. Ek het koningingrootte Maputo-garnale bestel. (Ek kan nie dink dat ek Pietersburg nie meer Pietersburg mag noem nie, maar Polokwane, en dit terwyl ons na al die jare steeds vasklou aan die koloniale Lourenço Marques, vir ‘n plek wat donkiesjare gelede al ‘n polities korrekte naam gekry het nie.)

Die kannetjie room en brandsous had ek in die huis.

Gister, terwyl Klaradyn dramaklas het, skiet ek toe gou deur Checkers toe om grondboontjiebotter en van die gewone soort te loop kry. En ‘n botteltjie bier daar langsaan, want hiervan sou ek ‘n gesonde skeut by my pan moes gooi. (Ek, wat gewoond is aan ‘n ‘n paar druppels witwyn by my garnale!).

En toe is dit maklik – 6 minute en ons kon eet.

Ek het vooraf my sou berei – en nie met verdrag in die pan, soos hulle voorgestel het nie.

Ek het vier (eerder opgehoopte as gelykgemaakte) eetlepels gladde gronboontjiebotter by die kannetjie room ingeroer. Toe so vier eetlepels chillie-sous – hulle vra die warm soort, maar gedagtig aan Klaradyn het ek gehou by die ligter kindertjievriendelike weergawe. En dan ‘n skeut goeie bier.

Ek het 300 gram botter gesmelt en aan die borrel gekry – daarby is die garnale ingegooi. Die oomblik toe hulle alkante pienk was, het ek my oë toegeknyp, en die ondenkbare sous daarby ingeroer.

Die meisies het al aangesit en die oomblik toe die sous lekker dik en deurgeroer was (so 15 sekondes) later, toe stap ek met die pan, net so tafel toe.

Hierdie keer was daar Basmati rys. Volgende keer, wat beslis sommer net om die draai is, sal daar weer wees.

Hulle sê niks van sout nie – ek sal die prawntjies vooraf insout, daar by die gleufie in die dop waar die poefenjersdermpie uitgehaal word.

Dit was ongelooflik lekker.

Dis ‘n wilde sprong, ek weet, baie wild, maar elke millimeter van daardie sprong is die risiko werd.