Pages

1.1.12

Die lieflike flop van 'n Oujaarsaandpoeding

  

As ek dan nou soos Janus van ouds hier vroeg in sy maand vorentoe en terug kyk, dan is die eerste waarteen ek vaskyk, kyk ek terug, ons poeding van Oujaarsaand. En kyk ek vorentoe, is dit hoogstens tot by die volgende geleentheid wanneer ons weer hierdie poeding kan maak.

En as dit dan nou nie die Oujaarsaandpoeding is nie, is dit Annieka se Klein Oujaarspoeding (soos in Klein Saterdag wat Woensdag is) van 30 Desember.

Nog voor ek mooi van die boek Kom Eet! Om die tafel met Anita en Deon Meyer geweet het, was dit in die nuus, verbeel ek my, oor die een of ander beste vrouetydskrif in Afrikaans (of in die land) gekla het oor kopieregskending of plagiaat of so iets.

Ek weet nie mooi wat nie.

En toe het iemand vir iemand omverskoning gevra of mooi broodjies gebak en ek het gedink dat die hele storie die wonderlikste bemarking denkbaar vir die boek is.

Nie dat Annieka iets hiervan geweet het, toe sy die boek as Kerspresent vir my gekoop het nie – sy het bloot by my gehoor van die bestaan van die boek en summier uitgery om dit te gaan koop.

Die eerste wat sy toe wil maak is 'n dekadente Karamelvlapoeding.

Maar daar wonder sy toe nou wat presies die 5 blokke karamellekkers is waarna die resep vra.

Gedagtig aan die afkyk-klag maak ek 'n grap en sê dat ons bloot die naam van die poeding moet Google en dan sal ons tien teen een agter die kap van die byl kom.

Google verander toe my karamelvlapoeding na karamel vla poeding, en, so waaragtig, die eerste waarop ek afkom, is, woord vir woord, die resep wat Annieka uit die boek voorlees terwyl ek dit op die webblad volg.

Daar is een uitsondering, waar die kookboek niks in hakies langs 5 blokke karamellekkers het nie, het my webwerf fudge in hakies.

Ek kan dit nou daar laat en die mense laat wonder wie by wie afgeskryf het.

Die Mat Joubert-speurtog wat ek van stapel gestuur het, het my tot die slotsom laat kom dat Deon Meyer die resep iewers in 2010 op die MNET-kosrubriekprogram, ROER, gedeel het. Vandaar het iemand dit op die internet geplaas, waar ek dit toe gekry het, en Deon het dit bloot later in sy boek opgeneem.

Die Klein Oujaarspoeding (Deon en Anita noem dit Karamelvlapoeding, iemand anders noem dit Deon se karamelpoeding) is laag af op hierdie bladsy beskikbaar.

Ons het weliswaar in 'n stadium 'n haselneut op die individuele porsies left-overs wat ons geskep het, geplak – net sodat ons kan sê dat dit 'n gesonde resep is, dit het dan neute in.

En dan, ek kan nie wag dat iemand ons oornooi en vra dat ons 'n poeding moet saambring nie, is die 2011 Oujaarsaandpoeding wat ek en Annieka by gebrek aan 'n oond Oujaarsdag by haar ouers gaan maak het.

Iemand, wat die aaklige gewoonte had om nie voor in boeke te skryf as hulle dit as presente weggee nie, het iewers in die laat tagtiger jare van die vorige eeu (dit klink altyd so dramaties, en kan selfs nóg langer terug in die verlede klink:  in die laat tagtiger jare van die vorige millennium se laaste eeu) vir Judy 'n kookboek gegee wat sy nooit, nie een enkele keer nie, gebruik het nie.

Die boek was vir haar hopeloos te groot (36.3 x 25.7 x 3.8 cm) en te swaar (2 kg) en te lomp (256 pp) en te fancy – ek dink nie eers sy het ooit in die boek rondgeblaai nie. Sy kon dit ook op geen rak van haar staanmaak nie, dis 'n folioboek en hopeloos te hoog.

Of dalk het sy, tien teen een, soos ek my ma geken het, nie van die mens gehou wat vir haar die boek present gegee het nie, die geskenk as pretensieus gesien en bloot geweier om iets daarmee te doen te hê.

As ek net kan onthou wie die boek vir haar gegee het! Ek weet dat, kom ek op die naam, dit iemand sal wees vir wie die dierbare ou moeder van my en my broer nie juis veel ooghare had nie.

Dit moes 'n bloody duur boek vir daardie jare gewees het. Jy kan hom vandag hier teen net onder die £60 van amazon.co.uk bestel, maar dan het jy hulle nog nie betaal om die ding vir jou in Suid-Afrika te kry nie.

Collectable Cookbooks - Rare, Pre-Owned, Hard to Find and Out of Print Books het teen $31 ook 'n kopie beskikbaar.

(As jy net een maal hierdie vrou se bolognese sous gemaak het, dit neem jou vier ure, slaan jy nie weer jou lippe aan enige ander bolognese nie.) 

Ewenwel, toe ek einde 1988 huis opsit, gee Judy my 'n nuwe Huisgenoot se wenresepte en sê ek sal haar 'n guns doen as ek daardie groot, swaar, simpel kookboek uit haar huis na my huis toe ook vat.

O, en ek jubel. Ek blaai en kyk en lees en kwyl deur kookboeke soos 'n tienerseun deur 'n girly-magazine.

En daar wil ek Annieka en haar gesin 6 of 8 jaar later met 'n poeding beïndruk, en ek besluit op Valerie Childs se Chruncy Chocolate Meringue Cake uit haar Favourite Food-kookboek.

Julle, ek moes regtig desperaat vrou gesoek gewees het, want as daar een ding is wat ek NIE MAAK NIE, dan is dit meringue.

Maar die poeding was heerlik, heerlik verby, trouens, so heerlik, dat die jongeling wat bietjie later my swaer sou word, verlede week Oukersaand, 'n verdere 12 of 14 jaar later, uit die bloute vra of die Moolmans tog nie asseblief daardie poeding van destyds vir oujaarsaand by hulle wil maak nie.

En daar sit ek en Annieka toe Saterdag af na 'n geleende kombuis om die ding by gebrek aan 'n werkende oond saam te slaan.

En daar kan niks fout met my swaer se smaak wees nie – toe ek 'n prentjiesoektog van die boek op Google van stapel stuur, kry ek net twee foto’s van die boek se binnekant, en een van die foto’s het ons Chruncy Chocolate Meringue Cake op.



Dis die een regs, aan die voete van die cherubs (as iemand nog enigsins kon gewonder het).

Skoonma het haar vinger in 'n bak gehad wat ons vir Klaars gegee het om skoon te eet en haar uitroep was:  “Genade, hier sal 'n mens kan agterkom hoe dit moet voel om van lekkerte dood te gaan!”

Later het ek haar die lieflike woorde “kragdadig soet” hoor besig.

Die poeding sal ons egter nóg as Chruncy Chocolate Meringue Cake, nóg as Oujaarsaandpoeding onthou, vir ons is dit Daai lekker poeding wat lekker is al flop jy hom ook hóé.

Want dit is so, jy kan die ding opbreek, rasper, in 'n voedselverwerker versap, dit maak nie saak nie – in enige vorm is dit wat jy saamgooi, ongelooflik lekker.

Ek en Annieka het Oujaarsdag die volgende foute gemaak, en die poeding was steeds 'n reuse sukses:

1.  Ons het die geklopte meringue nie op waspapier uitgeskep nie, maar probeer wegkom met Spray 'n Cook – dit het vasgebrand

2.  Ons het die meringue nie in die koekpanne gebak nie, maar slegs op die uithaalbare bodems – die taai spul het afgeloop in die oond in, en dan weet ons almal hoe kan brandende suiker stink en rook!

3.  Ons het die goed te laag in die oond gesit – toe brand dit aan en na ons die verbrande meringue van die bodems losgeskraap het, moes ons die verbrande onderste helfte afkrap en wegkrap

4.  Ons het room wat nie in die yskas was nie styf probeer klop – dit het nie styf genoeg geword nie

5.  Toe het ons die lae gepak sonder dat die sjokoladesous genoeg afgekoel was – die sawwe room het nog sawwer geword en die drie lae het nie bo op mekaar gebly nie, maar soos drie van die Olimpiese Spele se ringe langs en oor mekaar gaan lê, en tóé stokstyf in die yskas gaan staan en word.

Ek het regtig nie gedink dit kan vir twee mense moontlik wees om 'n poeding so op te foeter nie, maar ons het.

En steeds was die vorige keer wat ek so 'n lekker poeding geëet het, die vorige keer wat ek en Annieka die poeding, enige iets tussen 12 en 14 jaar gelede gemaak het.

En dis maklik – jy kan selfs die meringue maar flop, dit smaak steeds lekker:

Jy maak drie koekpangrootte meringues van 6 eierwitte, 350 g strooisuiker en ongeveer 100 g se gekapte haselneute (of okkerneute of pekanneute – enige neut behalwe grondboontjies, wat natuurlik nie eers neute nie, maar boontjies, is). Na sowat 35 minute in 'n matige oond (180 grade C) is perfek.

Dan maak jy 'n sjokoladesousie van so nagenoeg 275 g sjokolade en so min of meer 150 of 160 ml room en laat dit afkoel.

Die res van die kannetjie room, en nog so bietjie, klop jy goed styf. (Die resep vra vir 350 ml room, waarvan jy 160 ml vir die sous gebruik en die res styf klop.)

En as alles koud is, dan smeer jy sjokoladesous op die onderste twee meringues, jy werk geklopte room op, en bedek die twee lae dan met die derde meringue. Laastens rond jy alles af met nog gekapte neute vir versiering.

It is not only to die for, it is also to die from.

Om seker te maak Valerie Childs dagvaar jou nie omdat jy haar poeding maak nie, mors jy nie die ekstra room nie, nee, jy werk dit in by die blikkie gekookte kondensmelk wat oorgebly het van Klein Oujaarsaand se Karamelvlapoeding van Deon Meyer en 'n ander tannie op die internet.

En dan het jy drie lae tussen die meringues:  karamel, sjokolade, en geklopte room.

Geniet dit (met of sonder die karamel).

Hans Moolman II se annual New Year's address to the nation

('n Baie beter een is die Koningin se jaarlikse Kersfees-boodskap, dis hier beskikbaar en die moeite werd om te volg, selfs al is jy nie 'n hanskakie nie - of, soos ek, 'n hans Hans, maar nie 'n kakie nie.)

Annieka se oupa had blykbaar die gewoonte om 'n prys te wil toeken aan die een wat eerste nodig had om die nuwe jaartal in 'n datum aan te teken.

Ek vermoed die eerste een om 'n tjek of 'n brief met die datum daarby te skryf. Of straks 'n dagboekinskrywing of logboek of reënvalverslag (die man was immers 'n boer) of so iets.

Ek het maar met 'n halwe oor geluister, die een wat 100% by was, was Klaradyn, want sy het dadelik belangstellend gevra watse prys die wenner gekry het – as daar iets te wen is, neem sy deel.

Die eerste wat toe nou vanoggend, die eerste dag van Jannewarie, deur my gedagtes gaan toe ek wakker word, is: “Watter prys het ek vir Jan Opperman, my skoolhoof van 1996, omdat hy dan nou duidelik die eerste persoon is van wie ek met sekerheid kan sê dat ek die Nuwejaar in van hom gedroom het.”

Waar en hoe die man in my droom ingeval het, weet ek nie.

Daar was gisteraand 'n Nuwejaarswens van my huidige skoolhoof.

Maar dié het ek, saam met al die ander, nie eers gelees toe ek by die foon uitkom voor ons in die bed geklim het nie.

Met die dat Annieka en Klaradyn vakansietye heeltyd by my is en die ouetehuis my in elk geval nooit weer in nood sal hoef te bel om dalk iets oor Judy aan my oor te moet dra nie, leef ek en my selfoon regtig nie naby mekaar nie – ek los hom, sy battery afgeloop, in die motor, of iewers elders waar hy my nie kan pla nie.

Ek verpes die blote gedagte daaraan dat 'n telefoon nie meer aan 'n adres gekoppel is nie, aan 'n instrument iewers op 'n lessenaar in 'n studeerkamer of op 'n kassie langs 'n bed in 'n slaapkamer nie, maar aan 'n mens, 'n mens van vel en bloed en been. Ek verpes daarom ook die gedagte dat 'n sterfling nie meer van 'n ding soos 'n telefoon kan wegkom nie. Die nosie van 'n telefoon (en die werk en die buitewêreld) waarvan jy kan wegkom as jy met vakansie gaan, bestaan van 1993 nie meer nie – jy dra die donderse ding in die strandsak saam met jou af see toe as jy gaan swem.

Nie ek nie – as ek nie vrou en kind en kraai gehad het nie, dan had ek waaragtig nie iets soos 'n selfoon nie – ek het my foon hoogstens gistermiddag laat by 'n battery-opwekker uitgekry vir ingeval my broer miskien die lawwe gedagte in sy kop sou kry om sy broer te wil bel as hy daaraan herinner word dat hierdie die eerste Nuwejaar in sy lewe is wat hy, op twee of drie of vier en sestig, as weeskind instap.

Maar óf hy het nie aan sy oorlede mammie gedink nie, óf hy het, maar dit het hom nie genoeg geraak dat hy summier behoefte getoon het om met sy boetie in kontak te kom nie. (Ek kon hom ook nie bel nie – my lugtyd is verstreke, ek kan nie eers 'n dankie SMS op al die mooi boodskappe wat ek gekry het nie.)

Maar, ja, ek hét gisteraand met my selfoon, daardie onwegdoenbare ergernis, in hand, my huidige hoof vir 'n vlietende oomblik voor ons gaan slaap het, in my gedagtes gehad.

Maar in my droom het ek op 'n fiets (eintlik 'n uni-cycle of eenwielfiets soos in die sirkus) na oud-hoof, Jan Opperman, se vorige skool – die een waar hy onderhoof was, voor hy hoof by ons geword het – gery.

En dit om 'n dagboek van Annieka, wat sy by hom vergeet het, op te tel.

Speke, of spykers, of drade (ek dink die drade van die voëlhok wat my bene gekrap het toe ek Klaars se hok gebou het, en my bene Oujaarsaand vreeslik laat jeuk en rowe krap het) het my bene in my droom laat bloei, en dit was met rooi gevlekte broekspype dat ek in Joost van der Westhuizen se ou hoërskool se gange afgestap het op soek na die skoolhoof wat al meer as 20 jaar gelde uit die diens van die onderwysdepartement getree het.

Toe ek Jan Opperman uiteindelik opgespoor het – in daardie stadium het hy baie aan Jack Parrow, die seerowerkakter wat Johny Depp vir ie Pirates of the Carribean-flieks geskep het, herinner – kon hy die dagboek nie opspoor nie en ek is onverrigtersake en bebloed daar weg.

Gelukkig het goeie vriendin en kollega, Marieta, ook vroeg voor skool na dié skool gekom om Annieka se dagboek vir haar op te kom tel; toe kon ek my eenwielfiets in haar motor se kattebak laai en saam met haar werk toe ry.

Maar voor ek dit kon doen, toe word ek wakker en wonder oor Jan Opperman se prys - oor hy toe mos nou die eerste een is waarvan ek in die nuwe jaar gedroom het.

Behalwe vir die konneksie met my huidige skoolhoof (aan die hand van die selfoonboodskap) is die enigste ander raakpunt met 'n skoolhoof (weliswaar steeds nie Jan Opperman nie) die vrou met die grys hare, gister in Spar. Ek het hierdie vrou gesien, en geweet ek ken haar. Vir 'n oomblik het ek gedink dis 'n tannie van Alberton wat ek laas in 1979 gesien het, maar dit sou beteken het dat sy in 32 jaar nie 'n dag ouer geword het nie – en so iets is nie moontlik nie. As sy daardie jare 'n konserwatief geskatte 70 was, dan moet sy nou 102 wees – en daardie vrou saam met my in Spar is beslis nie 102 nie, sy lyk trouens jonger as 70.

Maar die vrou, haar hare, haar gesig en haar lyftaal het my bly pla.

Ek het my gedagtes, baie later gisteraand, toe sy my steeds pla, stil probeer maak met die slotsom dat sy Wouter Kirstein, 'n ander vorige skool se ander vorige skoolhoof se vrou kon gewees het.

Ek het duidelik nie daarin geslaag om my gedagtes rondom die vrou stil te kry nie, want toe droom ek vanoggend van nog 'n ander vorige skoolhoof.

Die ontstellendste van dit alles is die feit dat ek nie sommer uit die droom geword het nie – nee, ek is 'n baie ligte slaper, en het myself uit die droom wakker GESNORK!

Is dit nie vreeslik nie! Behalwe dat ek deesdae in die middel van die nodig het om uit die bed uit op te staan (en dan is dit nie om my sleutels te kry en huis toe te gaan nie, maar om te gaan pie-pie) snork ek myself nou die afgelope ruk van tyd tot tyd  nog wakker ook.

En dan gaan pie-pie ek maar. Want netnou is ek wel gelukkig genoeg om weer aan die slaap te kan raak, en dan slaap ek net, en dan word ek weer wakker – daardie keer om te gaan pie-pie. Daar is nie 'n manier nie. Dan slaan ek eerder twee vlieë met een klap van 'n windmeul dood.

Maar toe ek vanoggend eers klaar gesnork en klaar gepie-pie en klaar droompryse as oudskoolhoofde uitgedeel het, toe was daar van weer aan die slaap raak, geen sprake nie.

Lees kan ek nie lees nie – daarvoor moet ek lig aansit – en van al my snork slaap Annieka klaar onrustig, ek wil haar nie verder pla nie. Die lig sal my vrou dadelik pikwakker hê – en ek wil nie die nuwe jaar ingaan met 'n bemoerde vroulief nie.

Dit was erg genoeg om die ou jaar met 'n bemoerde vroulief uit te moes gaan (stukkende oonde en sulke goed, maar dis ou koeie en ek hou in elk geval nie boek van die kwaad nie).

In die bed bly kan ek ook nie – dan skarrel en vroetel ek haar binne 10 minute pikwakker, en ek sal dalk gewild wees as ek dit 08:00 met 'n warm koppie koffie langs die bed neergesit, doen – maar nié as ek dit met koue voete en skuwe hakskene om 03:55 doen nie.

Veral nie na ons gisternag vir ure lê en luister het na drie histeriese patryshonde wat in sirkels al om die huis hardloop op soek na die oorsprong van al die vuurwerke, sis-, klap-, kunsmatige donderweer- en weerliggeluide om en oor die huis nie.

Ja, ons gebede vir 'n drie-uur-lange deurdringende Hoëveldse donderstorm rondom middernag is toe nie hierdie jaar bewaarheid nie.

Die vorige twee jaar is wel deeglik ag op daardie gebede van ons geslaan – maar om almal rondom Nuwejaar gelukkig te hou was die aand van 1 Januarie toe windstil en lieflik – toe klap en skiet en steek almal alles wat hulle nie die vorige aand kon skiet en klap en aan die brand steek nie.

Toe kom lees ek maar die koerant op die internet – net om agter te kom dis Sondag en daar is geen nuwe nuus by Beeld nie – nie eers nuwe lesersbriewe nie.

Toe knoop ek maar hierdie geselsie met my aanlyndagboek aan.

Behalwe vir die wakker snork, en die middernag-pie-pie, en die oujaarsaand-21:00-al-aan-die-slaap-val-voor-die-TV, was ek gister op grond van 'n gans ander rede ook heeldag bewus van ouer word, oudword, jare wat aanstap.

Hier in standerd 6 of 7 of 8 was ek by 'n maatjie se ouer boetie se tienerpartytjie en die allervreeslikste, allerwildste, aller-rock-&-roll-ste, aller-van-die-duiwelste (alias my ouma wat toe nog geleef het – en vir haar was alles wat jy nie in 'n kerk gekry of in 'n kerk kon doen nie, van die duiwel) liedjie waarop ons hierdie aan gedans het, was Great Balls of Fire.

Ek onthou hoe nat gesweet ons ons ledemate rondgeswaai en rondgeruk en uit lit uit rondgerol het – te allervreeslik, dit het aan 'n Middeleeuse St Vitus-dans, die soort waarvoor jy daarna op die brandstapel sou sterf, herinner.

En as ek die liedjie vandag luister, dan klink dit nie eers na iets waarop 'n mens los dans nie, eerder iets vir 'n lekker rustige binneboud-langarm-skoffel.

Ons kuier eergister by 'n universiteitsvriend van my – en die fout wat ons nou al vir jare maak, is om net een keer 'n jaar, rondom Nuwejaar, saam te kuier; elke keer, die enigste kere wat ons mekaar sien, is wanneer ons mekaar vir 'n jaar lank nie gesien het nie... en gevolglik 'n hele jaar ouer geword het.

Die eerste wat toe deur my gedagtes gaan, die oomblik toe ek my vriend wat ek twee maande na ons matriekeksamen leer ken het, sien, is:  “O, my magtig, dan het jy nie net oud geword nie, maar nog gewig ook opgetel.”

Die tweede wat deur my gedagtes gaan, is dat ek eintlik in 'n spieël kyk – hy sien dieselfde (en erger en meer) in my raak en dink tien teen dieselfde.

Ek vermoed dan nou ook dat ons vriendskap na 29 jaar die punt bereik het waar ons nooit ooit weer, nie eers een keer 'n jaar, of selfs vyf jaar, by mekaar gaan kuier nie – dis te erg om op so 'n wrede wyse aan jou eie sterflikheid herinner te word.

Ons sal hoogstens een maal elke twee jaar missed calls op mekaar se selfone registreer – want oor die telefoon kommunikeer sal ons ook nie kan nie – daar is min dinge wat ouderdom, ek lieg, nie ouderdom nie, maar oud word, oud en der dagen sat oud word, so vinnig verklap soos bloot 'n tweejaarlikse gesprek met 'n baie goeie en getroue vriend of vriendin.

So vir solank ons rekenaars voortaan nog mekaar se e-posadresse wedersyds in hul rekenaargeheues gaan stoor (ons eie geheues lankal nie meer daartoe in staat om iets so kompleks soos 'n e-posadres te onthou nie) sal ons, vermoed ek, hoogstens elke dan en wan aan die hand van die rekenaar se in-bus met mekaar kommunikeer.

Ewenwel, die man gee ons toe huis toe, musiek om na te luister – ure se musiek uit die 80’s.

Nog 'n dead give away, nè – jy raak nostalgies oor twee en drie dekades gelede se musiek!

En ek luister na hierdie dekadente wilde popmusiek van destyds, en al wat ek wil doen is om my vrou, iewers onder die maanlig op 'n stoep, in die arms te neem en op die maat van die musiek rustig met haar te close dance.

Close dance soos in die laaste uur of wat van skooldae se garage partytjies.

Nou is ons net groot en oud en volwasse – ons sal eintlik maar net in mekaar se arms wieg, haar kop op my skouer, maanlig op die water.

Die wyse waarop onrustige musiek met verloop van tyd rustig word, was nog altyd vir my 'n barometer van oud word. Great Balls of Fire het dit eerste vir my gedoen. Toe die musiek wat ek as regisseur in studenteproduksie gebruik het om die hoofkarakter in die drama tot die hel te verdoem. Toe ek die teks 10 jaar later met skoolkinders opvoer, toe doen ek vreeslik baie moeite om dieselfde musiek weer op te spoor het. En toe ek die musiek uiteindelik weer in die hande het, toe klink dit rustiger as die tipe liedjies wat ons in daardie tyd op begrafnis-eredienste gesing het.

En toe nou weer die afgelope naweek se herkennismaking met die wonderlike musiek uit die eighties.

Dis wat oud word en ouer word is – her-ervarings van die verlede is nie bloot meer 'n her-ervaring nie, maar 'n totaal en gans en al piksplinternuwe ervaring – die musiek het dieselfde gebly – dis immers geblikte klank – maar jý ervaar dit anders omdat jy die een is wat nie stilgestaan het nie.

Ons is na al die jare weer terug op Ouma Pollie se plaas (in aansluiting by 'n Pappa-Mamma-en-Klaars-inskrywing van vroeër verlede week) en Kersfees is nie meer dieselfde nie – Kersfees, én óns, is nie meer dieselfde nie.

Dit alles bring my uit by die boodskap wat Klaradyn se graad O-onderwyseres gisteraand vir ons stuur:

From all of us here @ Sterkfontein mental hospital – we wish you a very happy Easter & a prosperous 1983. We miss u all.

En dan is dit ook nie net julle almal of u all wat ons mis nie, maar al meer en meer ons goeie ou selwerse ook daarby.

Die meeste van alles en almal wat ek vanoggend mis, nie my mammie nie – sy is, saliger gedagtenis, doodveilig in 'n kissie in die kassie langs my bed – maar my en Annieka se liefiekind.

Die twee oues, en Annieka wat by die sameswering aan moes gesluit het, het dit toe in die kop gekry dat ons kind die Oujaar by hulle moet uitsien en dan brunch ons vandag by hulle.

Ek het lus en verander daardie brunch in 'n dou-voor-dag-hanekraai-vroegoggend-ontbyt.

Ek heg hoegenaamd geen maar geen emosionele of simboliese betekenis aan Ou- en Nuwejaar nie, maar tog voel ek, heel paganisties, dat dit nou moeilikheid soek is om 'n gesin op so 'n nag soos Oujaarsnag in twee te wil skeur.

En dís éintlik die rede hoekom ek die selfoon gistermiddag aan die dood ontruk het – netnou wil my kind knap na middernag bel om haar te kom haal en na veiligheid te bring, en dan antwoord ek nie die foon nie omdat ek die ding nie terug in die lewe gekry het nie.

Maar dis verniet – die merrieperd het weer, soos altyd, haar gate uit by Ouma en Oupa geniet, en nie eers een keer aan ons gedink nie, wat nog te sê behoefte getoon om ons te wil bel.

Maar wag, ek moet afsluit, kyk net waar stap die tyd met ons – dis ook al amper 06:00, al amper 2 Januarie, en tyd vir 'n ligte Nuwejaars-brunch by my skoonouers aan huis.

Mag elkeen wat oor wederhelf of kind beskik, of, soos ek, gelukkig genoeg is om én oor wederhelf én oor kind te beskik, vanjaar by hul wederhelf en/of kind(ers) uitkom.

En as jy besonders gelukkig is om, anders as ek en my broer wat vanjaar wees gelaat is, nog 'n ouer ook te hê – sorg dat jy by hom of haar, of hulle, ook uitkom – dis alles voorreg en goed wat ons nie gegee is nie, maar geleen is.

Onthou, en ek is so geneig om dit te vergeet, skoonouers is ook ouers, daar is niks vuil aan hulle nie. (Dankie Ma, dankie Pa.)

Pas jou geliefdes mooi op, kyk goed na hulle en versorg met liefde – dan sál 2012 'n verruklike jaar wees, maak nie saak wát ons tref nie – nie eens 'n ander planeet wat uit sy baan geruk is, of die een of ander Mayan- (Majaanse, Maiaanse, Maja-die-By-se?) kalender nie.

29.12.11

Die Kuifie-fliek


Die puriste sal van my verskil, en hulle is welkom.

Maar die puriste het nie sewejarige dogtertjies wat hulle graag aan Kuifie bekend wil stel nie.

Ek het.

Klaradyn het Die Avonture van Kuifie:  Die Farao se Sigare geniet.

Ek wil my verstout om te sê dat sy dit baie geniet het.

Maar sy is en bly 'n kind van die 2000’s.

Haar huidige vermaak is 3D Nintendo en Wii, nie Europese strokies van 60 jaar gelede nie.

Daarom het ek nie geskroom om haar fliek toe sleep nie – as dit gaan help dat sy van Kuifie hou, dan is dit goed en reg.

Hierdie benadering het beslis gehelp wat Asterix en Obelix betref. Ek het nog lank voor sy 'n woord Engels kon verstaan elke Asterix-fliek wat ooit gemaak is, aangekoop. Ons het dit verslind, en al is sy nog te klein om die strokiesboeke ten volle te geniet – wanneer hulle die goed eendag weer in Afrikaans gaan uitgee, weet ek nie – volg sy die stories en raak sy vasgevang as ek dit al vertalende vir haar voorlees.

Een van haar Kerspresente vanjaar was 'n Where is Asterix-boek, geskoei op die beginsel van Waar is Willie.

Ek wou gisteroggend 09:25 al saam met die meisies in die fliek gesit het, maar iemand het iewers jare gelede van 'n boom se vrugte geneem en ons leef van toe af in 'n gebroke werklikheid.

Toe die oorlosie egter 16:00 sê, toe voed ek die hase en prop die motor (seker vir die tweede keer vanjaar nuut gewas en skitterblink) vol met én die gesin én die span van twee arbeiders wat Annieka vir die dag aangelê het.

Met 'n effense detour verby die busloods, skiet ons toe reguit deur flieks toe.

Annieka wil nie gaan nie, is onder protes saamgesleep en dreig ons af met die woorde dat ons beter moet toesien dat sy die grootste verpakking springmielies denkbaar kry – dis immers al rede hoekom sy saamkom, die springmielies.

(Ek vertel dit nie om haar in 'n slegte lig te plaas nie, maar juis omdat haar reaksie aan die einde, toe ons twee ure later by die fliek uitstap, so 'n 180 grade u-draai en wending gemaak het.)

Die derde keer toe ek vir ons gesinnetjie 3D-brille moes koop, was die laaste keer. Van toe af bêre ek dit na afloop van die fliek voor in die motor se mossienes.

Maar die fliekbase het slim geword, jy spaar deesdae net R5-00 om jou eie brille te bring – verby is die dae toe jou bril die fliekkaartjie 3D-fliek toe duur gemaak het. Jy betaal nou bloot duurder om in 'n teater in te stap waarin 'n film in 3D vertoon word. (En die wat weet, sal vir jou sê, dis dieselfde skerm, dieselfde projektor – die spoel of rol kos die teater nie 'n sent meer as die film in die teater langsaan waar dieselfde fliek, nou net in 2 dimensies, en nie 3 nie, vertoon word.

En, ja, ek kon kies, 3D of nie, maar 2D was nooit eers 'n opsie nie.

Ek, Hans Moolman, wil net drie goed sê:

Spielberg het 3D geensins as foefie gebruik nie – dis suiwer ingespan om die fliek te ondersteun en te bou. Nie een keer is dit tot 'n uiterste gevoer nie, nie een keer is jy daarvan bewus gemaak, of het jy teruggedeins in jou stoel en voor jou gegryp of gekoes en gekeer nie. Dit kon maklik gebeur het, geleentheid was daar baie. Maar nee, die man doen dit in styl en maak nie sy fliek goedkoop met asembenemende 3D-effekte nie.

Ek het gewonder oor 'n ronde Kuifie en Spokie. Ek was bang dat die Kuifie-ikoon so sterk in my gevestig is dat ek nooit sal kan inkoop op 'n Kuifie wat soos 'n mens lyk nie. Ek het 2 minute in die fliek in, teruggesit en ontspan – daar bestaan by my geen twyfel dat as enige kunstenaar 'n 2D-tekening van die karakter wat Spielberg geskep het, sal maak, dit op 'n druppel water presies soos Hergé se karaktertjie sal lyk nie.

Die kind in Spielberg wat hom aangespoor het om die aksie destyds in Indiana Jones in te werk, is dieselfde kind wat werksaam was in die daarstel van die aksie in sy Kuifie-fliek. Ek kyk elke Indiana Jones elke jaar van vooraf – ek het gister gedink die man het sommige van sy Jones-tonele net in 'n ander karakter en omgewing getransponeer. Maar dit pla nie, en ek bedoel dit geensins negatief nie. Wat ek wil oordra is die volgende:  Dit wat maak dat jy Indy se flieks geniet (as jy dit geniet) is presies wat gaan maak dat jy van Kuifie se fliek (en hopelik flieks) gaan hou. Dis dieselfde kunstenaar aan die werk.

Ek sê ek het begin ontspan toe ek besef Spielberg se karakter is bloot die 3D van Hegré se 2D-weergawe, maar ek jok, ek het vroeër al begin ontspan, nog voor die storie begin het. Die opening van die fliek, die musiek en die titels, daardie lieflike paar oomblikke voor die aanvangstoneel van 'n fliek, het my klaar gerus gestel – dit het my dadelik vertel dat hierdie uit en uit 'n periode-fliek wees. Ek kan maar ontspan, hier gaan nie lastige anachronismes wees nie, die tydsgees is behou. Dis trouens suiwer die middel-twintigste-eeuse storie van ouds, bloot met een-en-twintigste-eeuse tegnologie oorvertel.

En daar is my drie goed wat ek wou sê, gesê.

Kom ons maak dit vyf, nee ses:

Ek weet nie eers wat die fliek se naam is nie – dis vir my bloot die Kuifie-fliek. Wel, weet ek watter drie boeke in meerdere en mindere mates in die fliek betrek is.

Thompson en Thompson geniet nie dieselfde prominensie as in die gemiddelde strokiesboek nie – hulle kon meer uitgebou wees – en ek mis Professor Cuthbert Calculus. Of laat ek eerder sê dat ek daarna uitsien dat hy ook 'n buiging in die opvolgflieks kom maak.

Gaan kyk die fliek, daar wag 'n aangename verrassing op jou.

Klaradyn wil ook iets sê:

Sy het uitgestap en by herhaling gesê dat dit die beste fliek is wat sy nog ooit gesien het. 'n Sewejarige kan dit van elke fliek wat sy sien, sê. Klaradyn het so iets in sewe jaar nog nooit gesê nie. Hierdie was vir haar 'n eerste, so ek verstaan wat sy probeer kommunikeer.

(O, dit was lekker om langs haar te sit en haar totaal en al onbevange te hoor kraai en lag en geniet. In 'n stadium het ek gewonder wie van ons twee dit die meeste geniet.)

En Annieka? Ek vermoed sy is 'n bekeerling. Sy het uitgekom en begin BBM om die fliek te bemark! Sy kon nie glo dat sy wat nie 'n Kuifie-aanhanger is, die fliek so intens kon geniet nie.

Ek lees ons kyk na uitreiking teen ongeveer Desember 2015.

Ek kan nie wag vir nommer 2 nie.

Wonder wanneer kom die DVD op die rakke.

Tot dan moet ek miskien werk aan my eie vertaling van Haddock se uitroepe, tussenwerpsels, vloeke en swetse wat ek mooi alfabeties byeengebring op tintinologist.org opgespoor het:

Aardvark! Abecedarians! Aborigine! Addle-pated lumps of anthracite! (old) Alcoholic ! Anachronisms! Anacoluthons! Antediluvian bulldozer!

Anthracite! Anthropithecus! Anthropophagus! Arabian Nightmare! Artichokes! Autocrats! Aztecs!

Baboons! Baby-snatchers! Bagpipers! Bald-headed budgerigar! Bandits! Bashi-bazouks! Bath-tub Admiral! Beast! Belemnite! Big-head!

Billions of blue blistering boiled and barbecued barnacles!

Billions of billious barbecued blue blistering barnacles! Billions of Bilious Blue Blistering Barnacles! Billions of bilious blue blistering barnacles in a thundering typhoon!

Billions of Blue Blistering Barnacles! Black beetles! Black Marketers! Blackamoor! Blackbird! Blackguards! Blistering Barnacles! Blistereing blundering bird-brain!

Bloodsuckers! Blue blistering barnacles! Blue Blistering Bell-Bottomed Balderdash! Blunderbuss! Bodysnatcher! Bootlegger! Borgia! Bougainvillea! Brat! Breathalyser! Brigands! Brutes! Bucaneers! Bully! Butcher!

Cachinnating cockatoo! Cannibals! Carpetsellers! Caterpillars! Centipede! Cercopithecus! Coconut!

Coelcanth! Colocynths! Corsair! Cowards! Crabapples! Cro-Magnon! Crooks! Cushion footed quadrupeds! Cyclotron!

Diplodocus! Dogs! Doryphore! Doryphores! Duck-billed platypus! Dunderheaded coconuts! Dynamiter!

Ectoplasms! Egoists!

Fancy-dress Facist! Fancy-dress Fatima! Fancy-dress freebooter!

Fatfaces! Filibuster(s)! Fourlegged Cyrano! Freshwater pirate!

Freshwater swabs! Fuzzy wuzzy!

Gallows-fodder! Gangof Theives! Gangsters! Gibbering anthropoids! Great flat-footed grizzly bear! Gobbledgook! Gogglers! Goosecaps! Guano-gatherers!

Gyroscope!

Harlequin! Heretic! Highwayman! Hydrocarbon!

Iconoclasts! Idiots! ... you, Imitation Incas, you!

You, interplantary goat, you!

Jellied eel! Jellyfish! Jobbernowl!

Kleptomaniacs! Koua Kouakouin Kouinkouin Koua Kouin Koua!

Lily-livered landlubbers! Liquorice!

Loathsome brute! Logarithim! Lubberscum!

Macrocephalic baboon! Megacycle!

Megacycle Pyromaniac! Mameluke! Miserable blundering barbecued blister! Miserable earth worms! Miserable miser! Miserable molecule of mildew! Misguided missles! MisterMule! Monopolizers! Monster! Morons! Moujiks! Mountebanks! Musical morons!

Nanny Goat! Nitwits! Nitwitted ninepins! Nyctalops!

Odd-toed ungulate! Ophicleides! Orangoutang! Ostrogoth!

Pachyrhizus! Parasites! Patagonians! Pestilential Pachyderm! Phylloxera! Pickled herrings! Pirates! Pithecanthropic montebanks! Pithecanthropic pickpocket!

Pithecanthropus!

Pockmarks! Politican! Poltroons! Polygraphs! Polynesian! Profiteers! Psychopath! Purple profiteering jellyfish! Pyrographers! Pyromaniac!

Raggle taggle ruminants! Rapscallion! Rats! Revenge!

Rhizopods! RKRPXZKRMTFRZ! Road roller!

Roadhogs!

Saucy tramp! Savages! Scorpion! Sea-gherkin(s)! Sea-lice! Sea lion!

Shipwreckers! Slavertrader! Slubberdegullions! Sparrows! Spitfire! Steamroller! Stoolpigeon! Subtropical sea-louse! Swine!

Squawking popinjay

Technocrat! Ten thousand thundering typhoons! Terrapins! Terrorists! Thundering typhoons! Tin hatted tyrants! Toads! Toffee-noses! Traitors! Tramps! Tribe of Polynesians!

Troglodytes! Turncoats! Twister! Two-timing Troglodytes!  

Ungulate

Vandal! Vegetarian! Vermicellis! Viper! Visigoths! Vulture!

Weevils! Whippersnapper! Wildcat! Woodlice!

Young monkey!

Zapotecs!

28.12.11

Jock of the Bushveld – die movie(s)

Ek frustreer Klaradyn partykeer grensloos as ek koppig weier dat sy in die motor bly wanneer ek vir 2 minute by die Spar om die hoek van ons inhardloop.

Of sy nou gaan nat reën en of die warm teer haar voete gaan brand, dit maak nie saak nie – ek los haar nie in die kar nie.

Ek vertel haar ek is bang hulle steel haar.

Ek het Annieka eendag gebel, toe antwoord iemand sonder om te antwoord. Toe hoor ek later Klaradyn was in die motor, Mamma vir twee minute in Spar, en ek het gebel met Mamma se foon in die motor; Sussie het probeer antwoord.

Ek was moeilik genoeg om ongelukkig daaroor te wees.

My pa het dit gedoen; my in die motor gelos en vir twee minute ingehardloop – kroeg toe.

Enige kroeg, die naaste kroeg.

Ek het al daarvan vertel in Kersfees se kenwysie.

Maar eendag, dit sou 'n Saterdagoggend, of in die vakansie gewees het, het hy weer die motor parkeer en gevra dat ek moet sit, hy kom nou.

Dit was in Alberton, Voortrekkerstraat.

Ek was jonk en het nog nie geweet van kroegtye nie – ek het om my gekyk en geweet ons is gelukkig ver van 'n kroeg, Alberton se hotelle was heelwat hoër op in die straat.

Ek verbeel my ook die Sjinese restourant wat tot lank na matriek op die eerste vloer van die gebou skuins van oorkant waar hy gestop het, besigheid gedoen het, sou eers baie later kom.

My pa is vir twee minute in die CNA in.

Hy het my nooit lank in die motor gelos nie, ook nie as hy as iets in die kroeg gaan wegslaan het nie – ek was vir hom te kosbaar, hy was vir my te lief.

Hy het ook nie gaan drink om dronk te word nie, ek vermoed hy het net 'n enkele brandewyn of so iets weggeslaan, en dan is ons verder Buitendien, as Pa wou suip, het hy dit by die huis vanuit sy bed gedoen, vir 'n week of twee wat hy nie kantoor toe gegaan het nie, die drank laat aflewer het,. Tot hy uiteindelik na die een of ander inrigting geneem is en sober teruggekom het.

My pa moes geweet het wat in CNA wag, hy het nie in die rakke gaan snuffel nie – hy het ingestap, 'n boek geneem, by die toonbank 'n kort boodskappie op die binneblad geskryf, en by my in die motor aangesluit met die woorde dat ek die boek moet lees, dis 'n goeie boek waarvan hy gehou het, en hy is seker ek sal ook van die boek hou.

Dit was 'n Afrikaanse vertaling van Sir Percy Fitzpatrick se Jock of the Bushveld, maar met die illustrasies van die oorspronklike Engelse uitgawe wat klassiek en bekend is.

Daardie twee minute, daardie dag, daardie bekommerd wees oor wat Pappa nou gaan doen, en toe kom hy uit die CNA met 'n boek in sy hand – vir my, en binne, in is sy kenmerkende handskrif, is daar 'n boodskap - vir mý... dit is die kosbaarste herinnering wat ek vandag 37 jaar later van my pa het.

Daar is baie herinneringe, nie almal mooi nie, baie is wel, maar die mooiste van hulle almal, die kosbaarste, is daardie oomblik.

Ek sien hom aangestap kom, ek hoor hom selfs praat.

Ek was tog nog nie 10 jaar oud nie – dit was 15 Mei 1974 gewees.

Saam met die datum, voor in die boek, ook die woorde:  Aan Oubaas Van Pappa.

Ek het my pa se naam, 'n skryftafel en koper konfoor van die familieplaas, ek het die gedigte wat my pa geskryf het, die foto’s wat hy geneem het, maar nie net hou die boek vir my die kosbaarste herinnering aan my pa in nie, dit is die kosbaarste besitting wat ek van my pa het.

Want ek sien hom stap, ek hoor hom praat.

Ek verbeel my selfs ek weet watter baadjie hy aangehad het, ek sien die stukkie spoeg in die hoek van pa sy mond wat die gewoonte gehad het om daar 'n draderigheid te trek as hy praat.

Ek ruik hom selfs.

Of is dit sy haarolie – dit was immers die sewentigs.

Ek het die boek oor en oor gelees.

En weer 'n keer oor en nog 'n keer oor.

Later, as ek wou huil, het ek net die slothoofstuk gelees.

Of sommer net die tweede laaste bladsy. Weer 'n keer, en dadelik nog 'n keer.

Later, baie jare later, dertig en sewe en dertig jaar later, het ek nie meer nodig om die slothoofstuk, of hier vanaf die tweede laaste bladsy te lees, om aan die tjank te gaan nie.

Lankal ook nie meer oor die storie nie.

Die boodskap op die binneblad is al genoeg.

En selfs nog minder – net die onthou, die herinnering, die in-my-geestesoog-oproep van daardie oggend in Mei.

Gisteraand toe kyk ons die animasiefilm wat hierdie jaar vrygestel is.

Ek het al vir my en Klaradyn die ouer fliek uitgeneem, maar sy het binne die eerste 10 minute snuf in die neus gekry en gevra of die hond gaan doodgaan.

Ek kan nie oor sulke goed vir my kind lieg nie, oor baie ander goed, ja, maar nie oor sulke goed nie.

Toe weier sy om verder te kyk.

Hulle het in ’92 twee eindes verfilm, maar ek was nie seker of ek die een met die hond wat oor die bult en in die sonsondergang in verdwyn, of die een waar hy in die hoenderhok geskiet word, in die DVD-speler had nie.

Toe gaan slaap ons maar.

Klaradyn doen nie doodgaan in stories en flieks nie. Ek wil haar so graag weer na Charlotte se Web laat kyk, maar verniet.

Dis ook hoekom ons die 2011-animasieprent nie op die groot skerm gaan kyk het nie – sy wil die fliek nie sien nie, diere gaan dood.

Gisteraand het ek haar uiteindelik so ver gekry, met die kindertjie-animasiefliek, wat, soos ek haar verseker, natuurlik altyd 'n gelukkige einde sal hê; anders is dit nie 'n kindertjiefliek nie.

Maar met Jess se afsterwe, nog nie eers halfpad die fliek in nie, toe tjank die drie van ons heerlik op 'n streep waar ons op die bank voor die televisie sit.

Ek was baie bly, want toe is daar vanuit my kind se perspektief uiteindelik 'n rede vir 'n Pappa wat hartseer is - Pappa het seker geweet Jess gaan doodgaan.

Ek het mense hoor kla, destyds toe die fliek vrygestel is, oor die Amerikaanse aksente en verkragting van die storielyn.

Dit het my geensins gepla nie.

Niks, maar absoluut niks, kan die wonderlike kindertyd-herinneringe wat Jock van die Bosveld by my oproep, ooit bederf nie, nie eers Duncan MacNeilie se tweede poging in 20 jaar om hierdie storie op die silwerdoek oor te vertel nie.

Miskien moet ek maar eendag begin oefen – dan los ek Klaradyn in die kar, hardloop in Spar in, en kom uit met 'n groot wollerige speelding in my hand.

Die kere wat ek in 'n kroeg was, kan ek op 47, letterlik op drie vingers van my een hand aftel.