Pages

23.12.11

Krismis-melankolieklikheid


Die Desembervakansie voor ek skool toe is, 1970 – as my somme reg is, het ons Kersfees en Nuwejaar by vriende van my pa-hulle op 'n plaas in die Douglas-omgewing deurgebring.

Hierdie vakansie hou meer as 40 jaar later steeds enkele baie helder en kosbare herinneringe in.

Maar dit hang ook af hoe jy kosbaar interpreteer – die een is kosbaar omdat ek baie en hoë waarde daaraan heg; die ander is kosbaar omdat dit 'n duur gekogte herinnering is.

Nou klink dit of daar net twee herinneringe is, en dis verkeerd – daar is baie.

Kom ek sê dan maar eerder dat die Desembervakansie voor ek skool toe is, een is wat ek nooit sal vergeet nie. Dis die eerste en enigste keer dat ek met Oujaarsaand vuurwerke buite op die werf beleef het. Die stoepstoele is van onder die stoep uitgedra en op die kweek staan gemaak. Daar het ons gaan sit – die grootmense op die stoele, ons op die gras – en die oom het die goed en die lonte gemaak brand.

Toe kry ek masels en is in 'n kamer waarvan die gordyne om die een of ander rede dig gehou is, opgesluit. Dit was so 'n siekbed dat ek 'n week of wat laat vir graad 1 was. Pa-hulle het die vakansie verleng en ons is nie terug Rand toe, voor ek nie gesond was nie.

Die les waarvoor ek duur betaal het, hou verband met my Kerspresente.

Voor ek siek geword en in die donker siekekamer afgesonder is, het ons gesin in ons karavaan wat langs die huis getrek was, geslaap – daar was ander familie en vriende ook op die plaas saamgetrek, 'n fees van kleuters en kleintjies my ouderdom.

Wat ek daardie jaar vir Kersfees gekry het, kan ek nie onthou nie. Ek weet wel dat my ma dit, nog nie toegedraai nie, op die boonste bed in die karavaan onder haar kniekombersie met blou en groen blokkies weggesit het om toe te draai.

En sy het vir my gesê om die middag nie in die karavaan te gaan krap nie, my geskenk is uitgehaal en sy moet skêr en selotape in die huis kry, om dit nog toe te draai.

Sy het natuurlik nie gesê dat dit op die boonste bed onder die blokkieskombers weggesteek is nie – dis bloot net waar klein Hansie sy geskenkpakkie opgespoor het, die oomblik toe die grootmense hul gatte in die een of ander rigting gedraai het.

Dit was net nie dieselfde nie.

Ek kan my voorstel dat ek baie hard gemaak het of ek verras was toe ek uiteindelik daardie aand die pakkie kry, tien teen een té hard, want ek onthou soos gister dat my ma en pa my daardie aand aangepraat het en gevra het of ek nou my les geleer het om nie doelbewus 'n geskenk se verrassing te bederf deur vooraf te loer nie.

En ek het, baie deeglik.

Dis nou veertig jaar later en nog nooit weer, al is die geleentheid daar – soos vanjaar weer met die feit dat ek presies weet waar Annieka my pakkie wegsteek – het ek aan die versoeking toegegee nie. Ek wil amper so ver gaan om te sê dat die geleentheid nie eers meer enige versoeking vir my inhou nie = vir veertig jaar nou al nie meer nie. In Afrikaans sê ons geleentheid gee geneentheid; maar dis geensins waar wat Hans, met die baie en groot dele Klein Hansie wat nog in opgesluit is, betref nie.

Omdat ons die karavaan eintlik net slaapkamer was – ons het in die huis, op die stoep, op die werf en langs die rivier gekuier – is die tent natuurlik nie opgeslaan nie; dit was net die karavaan met sy afdakkie van seil wat voor aangeheg was. Onder hierdie afdakkie of “stoepie” is twee kampeerstoele en 'n klein opvoutafeltjie staangemaak.

En op daardie opvoutafeltjie het daardie jaar, vir die eerste keer, uitgepak gestaan, die einste klein Kersboompie waarna ek nou kyk as ek my oë van die skerm en toetse op die sleutelbord lig.

Oor ons nooit 'n Kersfees by die huis deurgebring het nie – ek onthou letterlik nie 'n enkele Kersfees in my geboortehuis waar ons tot einde standerd 2 gebly het nie – en my ouers nie 'n Kersboomtradisie vir my as kind kon begin nie, het my ma daardie jaar begin om elke jaar 'n Kersboompie wat nie eers 'n liniaal se lengte hoog is nie, saam te neem in die karavaan.

Vir die boompie is ons al die pad Johannesburg toe, Jacoby’s toe. Jacoby’s – die naam sê vandag vir my dat dit 'n Joodse onderneming moes gewees het – was 'n lieflike geskenke- en breekwarewinkel waar ons elke jaar rondom Kersfees 'n draai gemaak het.

Eintlik was die winkel, met 'n stel trappe op, op die eerste vloer. Onder was 'n ander deel, miskien gans 'n ander besigheid, waar jy die lekkerste sjokolade, lekkergoed en ander lekkernye kon koop.

Hierdie jaar het ons dan ook nie net met die Kersfeesboombie teruggekom nie – my ma sou onder by die lekkergoed ook 'n draai gemaak het en vir die mense op die plaas 'n gekenkeboks sjokolade (dit was nog die jare van sjokoladebokse met die mooiste chocolate box-prentjies van hondjies of katjies of buitelandse natuurtonele op) of geskenkeblik pepermente of humbugs gekoop het.

En ek het sedertdien nog nooit 'n enkele Kersfees sonder daardie Kersboompie gehad nie.

Dis 'n music box-Kersboompie (ek is somehow te min van 'n taalpuris om van 'n speeldoos-/musiekdoos-Kersboom te praat) daarby, en wen jy hom op, dan vermaak hy jou met Jingle Bells.

Dit het my as kind baie keer, baie lank besig gehou – en daardie deel van kindwees wat deur dié boompie en sy klank vermaak kon word, het ek veertig jaar later, gelukkig, steeds nie afgesterf nie.

Maar ek is 40 jaar ouer en my belewenis van die boompie het baie verander – dis nou al jare dat hy saam met die vreugde ook die lekkerste, warmste trane saam met die lekkerste, warmste, mooiste herinneringe bring.

Saam met die kindwees wat ek nie afgesterf het, bring die boompie ook alles wat afgesterf het, alles wat ek afgesterf het, alles wat my afgesterf het, alles wat ek afgesterf het maar ook nie volledig afgesterf het of wil afsterf nie, alles wat my afgesterf het maar ek nie afgestorwe van wil wees nie, terug. En in 40 jaar is dit vir 'n nostalgiese melankool soos ek, nogal baie.

Nee, daar is natuurlik nie 'n persoonsnaam soos melankool/melanchool nie, maar ek kan nie aan 'n beter een dink om my te beskryf nie. Ek hou ook van die kontaminasie van mankoliek en melankolies om melankoliek te vorm – ag, ek is vandag sommer net skoon melankoliek.

Ander jare is ek vroeg om die boompie uit te bring – sitkamer toe, eetkamer toe, of sommer op die kassie langs my bed.

Ek is ook nie haastig om hom te bêre nie.

Verlede jaar moes ek hom 'n facelift, 'n revamp en amperse total makeover gee.

Vanjaar het ek moes wag tot ek sterk genoeg gevoel het om hom uit te bring. Ek het hom lankal uit die kas gehaal, hy het vir my gestaan en kyk vir seker twee weke, maar ek moes krag kry om hom en die lieflike gedagtes en herinneringe wat hy bring af te kan stof.

Gister het ek besef, as ek moet wag tot ek die innerlike krag en sterkte daarvoor het, gaan ek nie vanjaar, vir die eerste keer in veertig jaar, Kersfees saam met my boompie hê nie – en daarvoor sien ek ook nie kans nie. So toe kry ek dit gisteraand in 'n gemoedelike tydjie saam met Annieka in plek.

Ek het nog nie kans gesien nie om hom op te wen en uit luister nie.

Maar dan hoef ek ook nie – Rome is nie in een dag gebou nie.

Ek weet in elk geval hoe hy klink.

En op Lief-klein Klaradyn kan altyd gereken word – sy sal hom wel iewers tussen nou en oppaktyd vir ons aan die speel kry, dan blink ons altwee se oë alte lekker – op twee verskillende en trouens wyduiteenlopende maniere.

22.12.11

Los gedagtes opgebind, toegebind en afgebind


Annieka en Klaradyn totter vanmiddag met die Kersboom en Klaradyn verwoord met effense ongedurigheid 'n ietsie wat haar opreg pla, 'n effense ongelukkigheid, iets wat krap:  “Die Kersboom was nog nooit so kort nie, wat het dan nou skielik met hom gebeur?”

As jy vir my gesê het dat so iets moontlik is, het ek jou nie geglo nie. As jy my dit vir die waarheid oorvertel het, sou ek dit miskien nie hardop gesê het nie, maar ek sou beslis gedink het dat jy lieg.

En hier, vanmiddag, kom dit uit my eie kind se mond!

Ek is onmiddellik na my kindertyd verplaas en in die gedagtes 1969 toe, Bee Gees toe:

When I was small and Christmas trees were tall
We used to love while others used to play
Don't ask me why, but time has passed us by
Someone else moved in from far away

Now we are tall and Christmas trees are small
And you don't ask the time of day
But you and I, our love will never die
But guess we'll cry come first of May

The apple tree that grew for you and me
I watched the apples falling one by one
And I recall the moment of them all
The day I kissed your cheek and you were gone

Now we are tall and Christmas trees are small
And you don't ask the time of day
But you and I, our love will never die
But guess we'll cry come first of May

When I was small and Christmas trees were tall
Do, do, do, do, do, do, do, do, do
Don't ask me why, but time has passed us by
Someone else moved in from far away.

Ek soek nou al jare na 'n gedig van Stephan Bouwer wat ek in 1984 of ’85 laas gehoor het. Dit verwoord iets soortgelyks, op 'n eie oorspronklike manier die dilemma van dit wat Klaradyn verwoord het, iets wat die Bee Gees ook destyds aangeraak het.

Die gedig, wat nie in een van Bouwer se twee bundels opgeneem is nie, maar iewers in 'n Tydskrif vir Letterkunde, of iets soortgelyks, verskyn het, het die titel:  Weer op Ouma Pollie se plaas. Die stem in die gedig spandeer weer 'n Kersfees op sy Ouma Pollie se plaas. Elke strofe sluit af met die woorde:  Kersfees is nie meer dieselfde nie. In die slotstrofe kom die stem egter tot insig, en verbreek die patroon van die vorige strofes met 'n veelseggende variasie:  Kersfees, én ek, is nie meer dieselfde nie.

Dit is 'n gedig wat ek graag oor my leerders se pad wil bring, maar verniet of ek dit kan opspoor.

Ek google gereeld, soos vanaand weer die grepe uit die teks wat ek onthou, maar verniet, geen mens wil dit plaas nie.

In my internet-speurtogte na die gedig het ek selfs al uitgevind dat dit einste Stephan Bouwer was wat in die tagtiger jare, en hoe baie keer het ek nie daar verby gery nie, teen 'n muur teenoor die destydse SAUK die volgende bekende graffiti aangebring het:  Hezkiël 2:13: God weet, so kan dit nie aangaan nie!

Daar is trouens min wat ek jou nie van Stephan Bouwer kan vertel nie – ek het byvoorbeeld in 'n stadium Afrikaans gegee in dieselfde klas waar hy in matriek Afrikaans gekry het – maar presies hoe hy sy grootword en die krimp van Kersbome in sy gedig oor Ouma Pollie se plaas, verwoord het, kan ek jou nie sê nie.

En kyk waar loop my gedagtes nie met my nie! Ek was laas by my kind wat onder my oë, en die honderde klippe wat ons al op haar kop geplaas het om dit te keer, groot word.

Nadat my oë wou-wou trane begin skiet (sommer oor my kind groot word, oor die tyd van die jaar, oor alles en alles wat hierdie jaar gebeur het, oor Kersbome ook eentyd vir my groot was) sit ek toe dadelik af om te kyk of ek nie oor die internet 'n opname van die liedjie waarvan ek Klaradyn sopas met groot opgewondenheid vertel het, kan opspoor nie.

Dit het die rekenaar 0.26 van 'n sekonde geneem om my te oortuig dat ek wel iets vir Klaradyn sal kry om na te luister, ongeveer 121 000 om presies te wees.

Die treffer is wat my betref klassiek – Klaradyn se reaksie het van die melodie se tydloosheid getuig. Sy het summier daarvan gehou.

Ek onthou ook dat ek van die deuntjie gehou het, lank voordat ek die vaagste idee gehad het waaroor die liriek gaan.

En dan is ek iemand wat nie sterk gefokus op enige liriek nie – ek het op universiteit nog steeds nie geweet waaroor die liedjie gaan nie, ek het, om die waarheid te sê, vandag eers agter die kap van die liedjie se byl gekom, toe ek twee karaoke-video’s op Youtube opspoor en ek en Klaradyn dit met oorgawe saam begin sing.

(Sy klim pens en pootjies op my skoot en sê verskonend:  “Ek kan nou maar een maal nie van 'n mens se skoot afbly nie, jammer Pappa. En ek wens stilweg die Kersbome wil reusagtig groot bly.)

Ons kyk en luister seker na drie Bee Gee-opnames van die liedjie. Die interessantste was om die broers dit in 1969 te sien sing, en dan weer dertig jaar later, tydens 'n opname wat hier in Suid-Afrika gemaak is.

Die klanke (en beelde by 'n video-opname) spreek toe so tot my kind, dat sy self skoon bewoë raak.

Wat is dit, so al asof die oë se wassers hierdie tyd van die jaar uitgewerk is.

Ons ry vanmiddag verkeerd en moet verby die ouetehuis waar ek my ma gegroet het verby ry.

En niemand kom iets agter nie, dis nou tot Engelbert Humperdinck oor die motorradio, asof vooraf bestem en met onnabootsbare tydsberekening, Blue Spanish eyes, (Judy se gunsteling, naas Somewhere my Love, uit Dr. Chivago) begin sing.

Dit laat my opnuut wens dat ek nog uit die dae toe Kersfeesbome so groot soos lewensgetroue en –grootte dennebome was, die gedagtebeeld van afgestorwenes wat van bo uit die hemel op ons neerkyk, kon huisves. Die vertroostende kinderbeeld wat ek gehad het van die dooies wat van bo op ons afkyk, byvoorbeeld Judy wat liefdevol oor my toesig hou en, belangrikste van alles, steeds van my liefde en ons almal se gemis aan haar bewus is, bring helaas nie meer troos nie, ek sukkels selfs om dit in die geestesoog op te roep.

Maar dis hoe my pa, na sy dood destyds, op my afgekyk het.

En ek het daarin troos gevind.

Maar toe het ek gewonder of my pa eendag by ons, my, my ma en my broer en ons gesinne gaan aansluit, en of hy by sy eerste vrou in die koor gaan inval.

Toe het ek ook dieselfde oor my ma gewonder – in die hemel luier (en kuier) sy dalk saam met haar eerste man.

Hierna, nog voor die patertjies my ander dinge in die kop kon praat, het ek besef dat ek nie hoef te worry nie – my pa sal die hemelpoorte, as alles wat hulle te vertelle het, waar is, nooit sien nie.

En as my ma aanhou soos sy aanhou, sal sy ook nooit by Petrus met die sleutel ingenooi en verwelkom word nie.

Tog sou dit vir my lieflik wees as sy vanuit die hemel wat ons as kind iewers daar bo, ver, gesien het, stille getuie kon wees van die entjie pad wat ons vandag verby haar sterfhuis gery het.

Dit sou vir my soveel lekkerder gewees het as die spieël waardeur ons nou kyk, die een waarvan Paulus die Korintiërs vertel het, effens minder dof was.

Die gedig wat ek graag met leerders deel wat hierby aanklank vind, ken ek so goed, dat ek dit uit die kop kan opsê (maar my kommas en hoofletters val dalk op ander plekke as waar Lina Spies dit oorspronklik had):

Die kind en die wolf

God was in die begin ‘n wegkruipplek:
tasbaar soos die beertjie in my arms,
naby en seker soos die baksteenmuur
en ek die wyse varkie klein en veilig binne
terwyl die wolf vergeefs sy asem
deur die skoorsteen blaas.

Maar later was my huis van klei en
eindelik heeltemal van strooi:
die mense met hul ou gesigte
het ges
ê daar is geen wolf nie
en kinders wat aan wolwe glo,
is nie vir Jesus lief nie.

En nou, Here, het ek wys geword soos hulle
en in die donker is ek nooit meer bang nie.
Laat tog die wolf weer deur die skoorsteen blaas.

Ek kyk vandag met ander oë na die gedig, as toe ek 'n kind was en die gedig tóé reeds tot my gespreek het.

Gedagtes in die gedig verwoord, gedagtes uit een van haar eerste digbundels (indien nie haar eerste digbundel nie – maar ek is nie 'n kenner nie) is steeds in haar latere (en miskien selfs laaste, tot op datum) digbundels.

Die ander gedagte van vandag wat moet uitkom, terwyl ek dit dan nou so oor gedigte en lirieke het, hou dan verband met 'n baie ou volksliedjie:

Saai die waatlemoen,
saai die waatlemoen,
saai die waatlemoen,
saai die waatlemoen!
My mamma roei die skuitjie,
my pappa blaas die fluitjie,
my boetie draai die orreltjie,
saai die waatlemoen!

Almal het seker nie 'n ding met 'n waatlemoen nie, maar ek het.

En uit wat Klaradyn vandag kwytgeraak het, en die manier waarop sy dit kwytgeraak het, vermoed ek sy gaan ook eendag 'n ding met 'n waatlemoen hê, as sy dit nie reeds lankal het nie.

Dis seker nou al drie jaar, as dit nie vier is nie, dat sy, elke keer as sy dit in die winkels begin gewaar, vra dat ons weer waatlemoen sal koop. In die begin kons sy nie eers die woord van die vorige jaar toe dit in die winkels was, onthou nie; dan vra sy bloot of ons dan nie maar weer een van daai (dan wys sy na die waatlemoen) kan kry nie.

Baie dinge vul met my met nostalgie, maar min dinge doen dit so goed soos 'n waatlemoen.

'n Waatlemoen hou vir my die lekkerste kindertydherinneringe in.

'n Waatlemoen sê vir my dit gaan goed, Pa, en ooms soos Oom Giel, die NG-kerk en die Nasionale Party, Pretoria, is in beheer. (Ek sê weer, kindertydherinneringe, uit en deur die oë van 'n kind.)

Wat Nagmaal, brood en wyn, vir party doen om die Christus-gesin te bind, doen die deel en sny van 'n waatlemoen vir my, om vriende, familie en 'n gesin te bind.

Ons het waatlemoen op Sondagagtermiddag aangesny. By die huis as ons vriende oor had, by Ma-hulle se vriende op Pretoria, by die familie op Brits op die plaas, by my peetouers op hulle plaas buite Bultfontein.

Dis op hoogsomer Sondagagtermiddae, wanneer jy nie na ete kon gaan slaap het nie (daar is mense wat kom kuier het, of ons is die mense wat kom kuier het) lank na etenstyd, as die kos al gaan lê, net voor vertrek, gesny.

En soos wat die man van die huis die voorsnywerk met die skaapboud of die hoender, tydens die middagmaal gedoen het, doen hy ook nou die voorsnywerk met die waatlemoen. Dis hoe dit hoort.

Vriend Riaan het later jare gesê dat ons 'n speenvarkie gaan slag, as ons by hulle kuier en die tyd van die Sondagmiddag waarop ons oorbeweeg na die ritueel van die waatlemoen het aangebreek.

En nou is daar mos twee maniere van 'n waatlemoen sny: in ringe wat halwe sirkels word, en almal kry van alles; of in halfmaanskywe (vir die kinders) met die grootmense wat die kroon kry.

Vandag noem ek laasgenoemde manier, die manier van die ooms, van my pa, die NG-kerk en die Nasionale Party.

Dit was ongelukkig die manier waarop 'n waatlemoen destyds gesny is.

Dis by my beginselsaak om dit nie so te doen nie.

Daardie jare het kinders altyd laaste kos gekry, behalwe as dit by waatlemoen gekom het – dan moes ons eerste in die tou kom val om die tweederangse skywe uit die pad te kry sodat die grootmense (as daar min was), die mans (as daar baie mense was) die stroopsoet kroon met sy lieflike tekstuur kon kry. Dis nou ons, en die wat soos ons was:  die swartes, die van ander politieke partye en kerkverbande, die andersdenkendes en sommer enige een wat nie reg in die regte boksie gepas het nie.

Ek koop hoogstens een keer 'n jaar 'n hele waatlemoen – ons is net nie meer so gereeld soveel mense saam dat meer as 'n helfte nie terug yskas toe moet gaan nie.

Vanmiddag het ek met 'n kwart by die huis aangekom.

Toe ons klaar ge-oe en ge-aa het (“dis die lekkerste waatlemoen nog hierdie seisoen” komende van my én Klaradyn – en dit terwyl dit ons eerste waatlemoen vir die seisoen was) vra Klaradyn wanneer ek dan nou weer 'n hele waatlemoen gaan koop.

Nee, blyk dit op navraag, sy wil weer waatlemoen hê wat sulke halfmaanskywe gesny word.

En toe kry ek lag – ons is nooit so baie om ons waatlemoen nie – en ek weet my kind wat kleintyd (anders as ek wat moes wag tot ek al geskeer het) al geproe het hoe proe 'n waatlemoen se kroon, het hierdie versoek na halfmaanskywe, suiwer om ook die stukkie kroon, wat agterbly as die skyf uitgebreek word, te kry.

En saam met die binneste lag, toe ook weer die binnetoe huil: my ma en Oom Jack het waatlemoen tog so geniet, in die ou huis, die nuwe huis, die ouetehuis en later selfs die Altzheimer-versorginsgeenheid waarnatoe ek vir my ma stukkies waatlemoen aangedra het en haar gevoer het.

Soos hulle opgewonde kon raak oor 'n skyfie Kerskoek, hierdie tyd van die jaar, presies so, het hulle opgewonde geraak oor 'n stukkie koue waatlemoen.

Ek onthou nog toe my ma nie omgegee het om waatlemoenpitte te eet nie.

Ek onthou toe sy begin het om dit versigtig, een vir een, uit te krap. Soos ook Oom Jack.

En dan onthou ek ook die dae wat ek dit vir haar gedoen het.

Soos ek sê, sommer oor my kind groot word, oor die tyd van die jaar, oor alles en alles wat hierdie jaar gebeur het, oor Kersbome ook eentyd vir my groot was. Oor die NG- en NP-afkortings wat genadiglik nie meer in beheer is nie. Oor waatlemoen en oor Kersfeeskoek ook.

Naskrif: 

Ek weet ek het al oor waatlemoen en hoe ek daaroor voel gesels. Ek kon amper nie glo hoe ek dit meer as 'n jaar gelede verwoord het, toe ek dit weer opgespoor het nie. Ek het my gedagtes van destyds summier onder Tweedepouse gaan spoeg en plak. Lees gerus hier.

20.12.11

Bietjie baie bogtery


Elke kraai dink mos nou maar eenmaal dat sy eier die witste is.

Maande, soos in maande gelede, ek kan nie meer onthou hoekom nie, vertel ek vir Klaradyn wat die woord verguldbeteken. Ek verduidelik dat dit van goudaf kom, dat die geldeenheid gulden was en bla-bla-bla. Ek vind aansluiting by twee pare skoene wat sy rondom 18 maande gedra het wat ons, nie verguld het nie, maar verbrons het, en wys haar ook iets van haar ouma wat versilwer is.

Gister hardloop sy rond en vertel sy gaan haar geldjie verwas. Die nuutskepping van haar val my op. Ook vir haar ma. Maar toe ek sien wat sy doen, toe weet ek waar sy, maande na ons gesprek van destyds, aan die woord kom. Ek het potjies met kerswas in kookwater gegooi. Van die gesmelte was het bo op die water gaan dryf, en steek jy jou vinger (darem toe al effe afgekoel) in die water, dan bly daar 'n dun warm waslagie op jou vinger agter, 'n waslagie wat natuurlik dadelik verhard. Klaradyn is toe besig om talle goedjies van hierdie waslagie te voorsien – en gedagtig aan wat jy doen as jy iets verguld, verbrons of versilwer, dan is dit tog duidelik dat sy besig is om iets te verwas.

Sy het in haar leeftyd miskien drie keer Bernoldus Niemand se “Snor City” gehoor:

Dagsê liewe mense, ek is vandag jou gids, in Pretoria,
Ons is op soek vir net een skoon bolip, in Pretoria
Want dit is die stad met geen bolip glad dis Pretoria.

Bernoldus se opname het ek net op plaat, maar Johannes Kerkorrel het dit ook opgeneem, en dis via hom dat sy kontak met die liedjie gemaak het.

En terwyl ons gister Pretoria se strate op die maat van Anneli van Rooyen invaar sodat sy vir Mamma 'n Kerspakkie kan kies, laat val sy skielik dat Oom Johannes Kerkorrel nou maar Pretoria toe kan kom, hy sal 'n skoon bolip kry.

Ek het my baard gisteroggend vir die eerste keer in seker meer as 15 jaar afgeskeer.

Ek het vir lank gespot dat ek lus het om my baard af te skeer, maar nie kan waag om dit te doen nie, want netnou herken my dierbare ou moedertjie my nie as ek daar by haar instap nie.

Sy sou my natuurlik herken het, maar die moontlikheid was tog daar dat dit die bietjie brein wat sy teen die einde, te wyte aan Altzheimer se aftakelende siekte, oor had, net sou kon verwar het – en dit wou ek nie doen nie.

Toe die vrou ons ontval, was die laaste ding waaraan ek kon dink nou om my dreigement van 'n skoon ken en bolip uit te voer.

Toe dog ek hierdie vakansie (ons het 'n lang vakansie – so ek sal 'n ietsie weer in plek kan hê teen die tyd wat die skool weer begin) sal die ideale geleentheid wees om die verbasing op Klaradyn se gesig waar te neem as sy vir die eerste keer in haar lewe sien hoe haar pa sonder sy baard lyk.

Sy is Sondagaand na Oupa-hulle om daar oor te slaap. Ons is daar weg met my laaste woorde: “Ek sal opwag langs die foon – die oomblik as jy my wil bel om jou te kom haal omdat jy nie meer lekker kuier nie, moet jy net vir Ouma vra, dan bel jy my gou, en dan kom red ek jou.”

Daar het natuurlik niks van gekom nie.

En Maandagoggend, in die bad, toe besluit ek om die kind te verras.

Ek wou nie regtig nie. En ek wou regtig.

Dis soos om met 'n shatterproof-liniaal te speel. My generasie het die koms van shatterproof-liniale gesien. Vir eers het jy net bros plastiek liniale gekry wat baie gou gebreek het. En toe kom die wonder van die nuwe shatterproof– jy kon met hom speel, jy kon hom vou en buig en 'n amperse snaarinstrument van hom maak as jy hom met sy een helfte op die tafel vashou, en hard tik aan die ander helfte wat oor die tafelblad uitgesteek het. Die houttafel het dan soos 'n kitaar se klankkas gewerk en tril- en vibreergeluide die lug ingestuur.

Maar ook net tot op 'n punt. Dan hét die liniaal gebreek.

En so het ons dan nou al te onverskillig met hierdie goed gespeel om te kyk tot waar ons dit kan vat. En dan was ons elke keer vreeslik spyt as ons dit daardie knertsie te ver gevat het, en die ding eindig skielik stukkend in ons hande op.

So het ek toe ook in die bad gesit en net begin om my baard te trim en in 'n nuwe vorm in te kry –in 'n stadium had ek amper iets soos 'n bokkerige Jan Smuts-baardjie.

Maar toe “gly” my hand – en die snor moes af.

En kort voor lank was dit 'n uitgemaakte saak: die strepie wat nou hier oor my ken lê, kan lankal nie meer deurgaan as 'n baard nie. Toe groet ek dit ook maar.

Ek het destyds die baard gegroei omdat ek 'n dubbelken had wat ek wou verbloem.

Ek kan amptelik aankondig dat ek 15 jaar later nie meer 'n dubbelken het nie.

Daar hang nou drie of vier kenne, wat herinner aan die lelle van 'n kalkoen, teen my onderkaak af.

Maar erger as dit, is wat met my wange gebeur het – hulle het uitgesak en ek herinner eerder aan 'n boerboelerige Winston Churchill as 'n Griekse god met 'n blokkies ken.

Hierdie uitgesakte wange was 'n verrassing. Dis 'n sterk familietrek van my ma se kant. Uiteindelik kan 'n mens sien dat ek en my broer, wat 16 jaar ouer as ek is, inderdaad broers is. Sy wange het begin ontspan, en dis duidelik dat myne ook nie meer die stamina het om bo te bly nie – my baard het dit bloot net die laaste klompie jare weggesteek.

Annieka wat my nog net een keer, en vir 'n baie kort rukkie, selfs nog voor ons begin uitgaan het, sonder baard gesien het, is natuurlik geensins opgetrek met die kale kaak en ken nie – dis soos om met 'n vreemde man langs jou in die bed wakker te word.

Ek reken nou weer dat sy nou weet hoe dit van tyd tot tyd vir my moet voel om saans saam met 'n vreemde vrou in die bed te klim – vrouens kry mos soms die gier om iets aan hul hare se kleur, en hul kapsel se styl te doen. Dis elke keer vir my 'n skok op my gestel. Nou kry sy bloot net 'n bietjie van haar eie medisyne.

Die skoonouers wil spottenderwys weet of ek deur 'n middeljarekrisis of identiteitskrisis gaan.

Maar dit was die moeite werd.

Ek het Klaradyn by Ouma-hulle in die hoofslaapkamer vasgenael voor die televisie opgespoor.

Sy het vlugtig gegroet en toe weer dadelik op die televisie gefokus.

En toe iets vreemd geregistreer en vir 'n tweede keer moes kyk – 'n perfekte double take wat die beste komedieakteur haar dit nie na sal kan doen nie.

Behalwe om Bernoldus se liedjie oor die gebrek aan skoon bolippe in Pretoria in die herinnering te roep, is al wat sy kort-kort, tot laat gistermiddag nog, kwytraak: “Ek kan nie glo dat Pappa dit toe regtig gedoen het nie.”

Dit was lekker. Maar dis nou verby.

Ek het aan die agterkant van die ry gestaan toe haargroei-hormone uitgedeel is; op my kop, arms en bene sit ek met die sagste, dunste babadonsies denkbaar, en op my gesig kan ek nie eers 'n volbaard oorweeg nie – dit word al hoe yler hier na my ore toe – ek sou nooit met 'n lieflike stel lamb’s tjops bakkebaarde kon spog nie.

As dit van my afgehang het, het ek nooit in my lewe geskeer nie, maar oor ek net met sulke opslag-kolletjies hier teen die wange bene op sit, moet ek daar skeer.

Maar tussen nou en wanneer die skole begin, gaan ek met 'n lieflike vuil gevreet bly sit.

Te lekker.





Ek sou wou uitwei oor hoeke sterk opinies my kind het, kom dit by die keuse van 'n Kersgeskenk vir Mamma, ek sou wou vertel van die lieflike dag wat ons gister rondom die aankoop van die present had, maar dis mos nou maar hoe dit met jou vrou is – die dag as jy wil hê sy moet jou aanlyn dagboek lees, dan kom sy in geen weke daarby uit nie; die oomblik wat jy wil dat sy nie 'n oog gooi nie, trek sy 'n beker koffie nader en klim agter die rekenaarskerm in.

Snorcity se woorde kon ek hier opspoor.

James Phillips sing sy Bernoldus Niemand-liedjie op Youtube maar meer aanskoulik, omdat dit 'n hele video is, is Thys Nywerheid se opname, baie jare later, van die man se gespot met die Pretoria van 1986.

18.12.11

Sondag 18 Desember

'n Mens doen dit nie sommer nie, en as jy dit doen, bly jy tjoepstil daaroor.

Maar ek het dit nou gedoen, dit was heerlik, en dan is dit met my nou maar een maal hoe dit met my is: wat die hart van vol is, loop die mond van oor.

Miskien moet ek hierdie uitdrukking eerder aanpas om my soos 'n handskoen te pas:  wat die maag van vol is, loop die mond van oor.

Ek maak miskien een keer 'n jaar 'n skaapboud gaar, en dit is om Kersdag koue skyfies skaapboud met korreltjies sout op te kan eet.

En toe breek die oond Saterdagaand.

Ek het hom op 220 grade aangehad om ons vis gaar te maak – sommer 'n boksie bevrore vis. Ek het vars spinasie en murgpampoentjies in die yskas gereed gehad, omdat ek uitgehonger is vir lekker kookkos. Maar toe beland ek Klaradyn agtermiddag in die swembad en swem so lekker dat ek hier teen sesuur uit die swembad vir Annieka in die huis roep om die oond op 220 grade stel, ons gaan vis eet, daar is nie 'n manier dat ek nou uit die swembad gaan klim om te kook nie.

Sy murmureer – ons het seker al drie keer vis gehad vandat ons Donderdag uit die Kaap hier aangekom het, en nou wil ek weer vis gaarmaak. Maar die vis is in en ek slaan gou vir ons 'n slaaitjie saam. Dis die allermooiste mengelslaai wat ek in 'n platterige bord uitpak – groen blare, groen en wit komkommer, spierwit soet skyfies uie, bloedrooi kersietamaties, liggroen avokado en die helderste, mooiste geelste, soeter as soetste geel soetrissie.

Maar toe ek die vis uit die oond kry om dit na 15 minute om te draai, is dit nie goudbruin gebak soos ek verwag nie. Ek draai dit maar om en plaas dit terug vir die laaste 5 minute.

Ons kom dan toe ook 5 minute later agter dat die oond dood soos 'n mossie is. Ek dog eers dit het iets met die sekerings te doen, ek verwissel die goed, maar die oond bly dood. ('n Sekering, vir die van ons wat dit vergeet het, of nog nooit geweet het nie, is die eintlike Afrikaanse naam vir fuse.)

Ek maak my partykeer skuldig aan sulke goed. Soos vandag in die winkel toe ek Klaradyn vra om op die uitkyk te wees vir die kruisementsous. 'n Wildvreemde vrou wys toe daarna op die rak en sê dat ek seker die mint jelly bedoel en dat sy dit ook nie as kruisementsous op sal kan spoor nie.

Want ja, selfs 'n stukkende oond kon my nie van stryk bring nie – terwyl ek gisteraand ons vissie in 'n pan gaar kry (wat Annieka, wat nooit met die oond werk nie en my al moes bel om te vra hoe om die ding aan te kry, met die oond gedoen het, hoe sy hom aan, en toe weer af, gekry het, weet ek nie, en wil ek ook nie weet nie) noem ek dat ons dan maar skaapboud buite in die braaier gaar gaan kry. Kom wat wil, breek wat wil, skaapboud gaan ons eet.

En ook nie my skuld nie, my broer en skoonsus se skuld. Ek en Boeta is een laat agtermiddag winkels toe en met twee lamsboude in die hand terug huis toe. Hy en sy vrou is meesterkokke en ons aandete daardie aand het my inspireer om sommer net vir sommer, in plaas van 'n spesiale geleentheid, lamsboud gaar te maak.

Ek het geweet ons kan nie Sondagaand gesinsete hê nie, want Klaarskind gaan by Ouma-hulle oorslaap. So toe Annieka geluide maak van strate toe gaan, toe hou ek my doof. Foeter ons eers saam met haar winkels toe, kom ons nooit betyds terug om kos te kan maak nie.

Sy is toe ook skaars hier weg, toe spring Pappa en Klaars in die ander motor en gaan koop kos.

Ek onthou dat my pa 'n hele skaap vir R20-00 gekoop het.

Daar is ek toe nou vanoggend uit en betaal meer as 11 maal daardie R20-00 van destyds, en dit net vir 'n lammetjie boudjie.

Maar ek doen dit met 'n oop gemoed, dit gebeur nie aldag en heeldag nie.

Daarmee saam sit ek ongeskilde aartappeltjies en die lekkerste maar lekkerste salotte wat Woolworths volgens die sakkie al die pad van Frankryk die land ingebring het.

By die spinasie het ek net fetakaas in klein blokkies ingesit – Klaradyn se spinasie was skelmpies uit die bord opgeëet nog voor ek my bord kos opgeskep had.

As murgpampoentjies nie bedoel was om murgsag bedien te word nie, sou hulle dit nie murgpampoentjies nie, maar iets soos knars- of kraakpampoentjies genoem het. Ons s'n was murgsag sonder om papsag te wees. Daarby het ek 'n baie ligte witsousie gemaak – geen kaas, net vetvrye melk en poeier wat Ina Paarman en haar span saamgeslaan het.

Met die lamsboud wat nog net 15 minute moet gaan, en daarby die bietjie rustyd en asemskep wat die ding gegun moet word, begin my gewete my pla dat ons al hierdie kos vir net ons drie gemaak het. Maar dis ook nou al oor 12:00 op 'n Sondagmiddag. Ons bel, maar almal antwoord vanuit ander provinsies. Skoonpa-hulle, wat om die draai inkopies doen, het ongelukkig pas van die ontbyttafel opgestaan en wys die uitnodiging ook van die hand.

Met die dat die gasbraaier na die boudjie kon omsien, en nie ek nie, het ek en Klaradyn ons gebesig met dit wat Klaradyn as “'n aktiwiteit” aan haar Ma beskryf het. Ons het neffens die braaier begin met 'n verwerasie maar opgeëindig met 'n morserige beeldhousessie van lieflik boetseerbare sagte kerswas.

Mamma het die limiet wat die bank op een dag se gelduitgee plaas, spoedig bereik en haar by ons aangesluit. En toe “wees” of “is” ons ou gesinnetjie net lekker saam tot opskeptyd.

Dit was een van daardie tydjies onder lapa wat Annieka my sal bederf met die lieflike woorde soos:  “Ek is lief vir jou my man.” Een van daardie dae wat ons net weer eens en opnuut besef dat daar niks so lekker soos 'n vakansie by ons huis, hierdie tyd van die jaar, in Pretoria, is nie.

Ander tye vat ek graag die pad, maar nie Desember nie.

Kookkos in die somer onder die lapa is lekker as jy dit geensins stomend warm bedien nie – en dis wat ons gedoen het, teen kamertemperatuur, of dan nou eerder Pretoria-se-hoogsomer-Desembermaand-lapa-temperatuur.

Gewoonlik is ek gaande oor kruisement – ek het die jellie gehad én 'n sousie van vars kruisement saamgeslaan. Maar hierdie boudjie van ons het so geurig uit die Jetmaster-gasbraaier gekom dat ek nie eers haastig was om die kruisement nader te trek nie.

Klaradyn het naas haar groente ook die salotuie geniet, en selfs Annieka het 'n tweede porsie daarvan met die woorde jy weet ek doen nie juis uie nie maar gee tog maar daar vir my nog 'n skeppie asseblief, aangevra.

Ek weet 'n mens maak nie sommer 'n lamsboud vir twee en 'n halwe volwassenes gaar nie, maar ek het dit gedoen, en ek sal dit weer doen.

Poeding moes natuurlik wag vir later, baie later – na 'n middagslapie en langer as 'n uur en 'n half se balpret en speletjies in die swembad:  daar is darem maar onder hierdie son niks so lekker soos 'n lekker spanspek nie. Saam met dit was daar prima lietsjies en 'n net-so-prima veselperske.

Dis 'n voorreg en lankal nie meer 'n reg van almal om sulke lekker gesinstyd en kos te kan geniet.

Geleenthede en dae soos hierdie maak my dankbaar.

Wat die maag, maar veral die hart, van vol is, mag die mond maar van oorloop.

'n Vakansie is daar om in te werk

Iewers, ek weet nie wanneer, waar of hoe nie, het hase ter sprake gekom.

Miskien was dit iewers in Januarie toe ons die kat moes weggee omdat Klaradyn se allergiese reaksie op die dierbare dierasie haar hele menswees negatief affekteer het, haar wakker, haar slaap, haar speel en haar skoolwerk.

My gesonde verstand sê vir my 'n kind wat allergies op katte reageer, tien teen een ook allergies op konyne gaan reageer.

Maar ek is bereid om dit te probeer.

Ek sou hoenders, eende, makoue, poue en 'n swaan of twee ook op die werf wou hê.

En as hase blyk om 'n nee-nee te wees, sal ek hierdie ander groterige knaagdiere ook probeer – marmotte.

Al wat ek ooit gehad het was 'n foksterriër en twee Indiese ringnekparakiete.

Annieka het 'n hele ark (met uitsondering van miskien rotte en muise, verbeel ek my) gehad.

Klaradyn moet dieselfde as haar Ma kan geniet. (En alles wat haar pa nie kon geniet nie – en nog meer.) Dit terwyl sy nou vanuit die staanspoor op katte uit moet mis!

Daar was die vakansie op die een of ander televisiekanaal wat op diere fokus, 'n insetsel oor 'n haarlose kat. Hierdie program het die kind wys gemaak dat mense met 'n allergiese reaksie op katte minder sensitief vir hierdie katte is.

Ek het gaan loer en miskien is my teorie oor 'n reaksie op konyne wat soortgelyk aan die van katte gaan wees, verkeerd. Dit blyk dat die mens nie 'n reaksie op die fisiese haar het nie, maar 'n ensiem wat op die haar agterbly as die kat hom- of haarself skoongelek het dit word op die haar droog en val as vlokkie af, of saam met die haar as die kat sy hare verloor.

Die Siberiese kat, ten spyte van 'n digte pels, soos ook die Balinese ras, het lae vlakke van hierdie ensiem. Ander rasse, soos die Rexe, het weer korter hare – met minder vlokkies wat gedroog agterbly. Dan is daar ook die, soos die Orientals en Javaanse katte, met langer hare, maar soveel minder daarvan, dié sonder 'n dubbellaag pels, dat die probleem van 'n allergiese reaksie aansienlik krimp. En dan die haarlose Sphynx.

Maar sodra 'n kat se ras 'n naam aan hom gekoppel het en nie in 'n boks onder 'n snelwegoorbrug opgetel word nie, kos hy die helfte van my maand se salaris. Die helfte wat ek bereid is om te betaal, al kan ek dit nie bekostig nie, omdat 'n kat in die huis vir my 'n onnoembare waardetoevoeging tot enige huis en lewenstyl is, omdat Annieka 'n kat mis, en omdat Klaradyn 'n kat so vreeslik mis.

Ek het nou twee telers opgespoor wat ons genooi het om te kom kuier, dat ons kan sien hoe die kind reageer.

Die enkele teler van die Siberiese kat in Suid-Afrika sit egter in die Kaap.

Ons sal maar sien.

Maar intussen is dit ons en die hase.

Iewers, ek sê dit weer, het dit gekom dat Pappa die einde van die jaar 'n haashok sal bou. Dit het sommer net deel van die gegewe geword – hoewel my vrou dit natuurlik nou ten sterkste ontken en te kenne wil gee ek is die een wat die gedagte inisieer het.

Ons het in 'n stadium wel 'n effense gedragsprobleempie opgetel, niks om oor huis toe te skryf nie, en ek het gereken vir wat moet die kind sommer net 'n haashok kry – sy kan mos vir die ding moet wérk. Dis toe dat ek die gedagte aan 'n wollerige knaagdier as wortel voor die neus gehou het – verbeter jou gedrag en jy kry die haashok (wat jy in elk geval sou kry, omdat ek nou al van Julie-maand moet hoor dat ek vir jou een gaan bou.)

Nou kyk, 'n hok sal ek bou – vir wat weet ek ook nie, konyne word deesdae as huisdiere aangehou soos katte – maar om 'n hok aan te lê, en dit net vir konyne, daarvoor sien ek nie kans nie! Die hok moet groot genoeg wees dat ek nie skuldig sal voel om 'n konyn of twee daarin te huisves nie, maar dit moet ook ruim genoeg wees om voëltjies in te hou.

Toe ons die vakansie op Knysna by World of Birds 'n draai maak, toe weet ek presies op welke wyse ek my hok aanmekaar gaan timmer. Om een teen R3 000 te koop, is buite die kwessie – ek sukkel eerder self 'n week lank en kry hom eiehandig teen R3 700 mankoliek op die been.

Die hok is halfpad gebou. Daar lê nog groot werk voor, maar ons is amper oor die hond se stert.

Hase sal sy kry.

Ons moet dan nou net wag tot Septembermaand wanneer Pappa miskien weer 'n geldjie het, dan sit hy vir hom 'n paar voëltjies ook in.

Dis nou as ons nie dan af ry Kaap toe om 'n ou Siberiese klein katjie op te gaan tel nie.

Maar dis nog lank, en my werk ver van klaar. Laat ek die mymer en speel met woorde laat en teruglim in die tuig.

16.12.11

Arm was ek gister, en nou is ek ryk, nou skatryk


En om te dink dat ek vanjaar my derde wynplaas sou kon gekoop het, as ek net die geld wat ek die laaste vyf of ses aan restaurantkos op Klaradyn gemors het, eerder vas belê en toe in eiendom omgesit het.

Die eerste keer toe  ek en Annieka met haar by 'n eetplek ingestap het, het ons met die uitstap vir mekaar gesê dat dit regtig 'n  vermorsing van geld is om vir haar iets te bestel – ons gaan in die toekoms beslis nie vir haar afsonderlik iets uit die kombuis aanvra nie.

Ons het dit die tweede en derde en vierde keer ook vir mekaar gesê.

En as ons dit nie vir mekaar gesê het nie, het ons dit vir onsself gesê.

So ook, vyf of ses jaar later, die tweede, derde en vierde keer die pasafgelope vakansie wat ons met haar by 'n eetplek ingestap het.

En tussenin?

Te veel keer om op te noem, óf om te onthou.

Die eerste keer is ons met haar Wimpy toe, die een in Hatfield.

Dit was vir my so 'n volwasse, verantwoordelike, grootmens-ding om te doen – jy neem jou kind saam met jou in 'n restourant in, jy bestel vir haar wat sy wil hê.

En omdat jy dit haat om kos te mors en dan maar eerder 'n asblik van jou maag maak, eet jy vyftien minute later die oorgrootte meerderheid van die kos waaraan sy nie geraak het nie, op; speel Mamma Russiese roulette met haar bloedsuikervlakke deur die groot glas sjokolademelkskommel, waaraan die kind skaars haar mond geslaan het, in haar slukpyp af te jaag.

Die eerste keer wat ons met haar gaan uiteet het, lank voordat sy self kon eet, was die dag waarop sy presies sewe weke oud was. O, dit was 'n mylpaal in onse lewens! Ons het die outydse, amper ouwêreldse nosie gehandhaaf dat 'n kind nie sy of haar voorkop of voet by die huis mag uitsit voor die eerste sewe weke nie verby is nie.

Dis met groot onwilligheid dat ons haar vir haar weeklikse nageboorte-ondersoeke na die tannie van die voorgeboortelike klasse geneem het. Toe dié vrou op vyf weke voorstel ons gaan trakteer onsself op 'n koppie koffie en koek in die een of ander winkelsentrum, kon ek en Annieka (veilig terug in die motor) nie uitgepraat raak oor hoe onverantwoordelik hierdie vrou is nie.

Die een of ander kultuur waarvan ek op die hoogste gesag verneem het, het die wonderlike gebruik om hul pasgebore babas vir die eerste 49 nie een keer met moederaarde kennis te laat maak nie. Vir die eerste 49 dae word die kind letterlik op die arms gedra – en dan nie noodwendig suiwer die arms van die ma nie, maar die arms en hande van die moeders en vrouens in die gemeenskap.

Ek dink dit moet baie gelukkige babas wees wat so opgelewer, en van die een hand na die ander oorgelewer, word.

Dag 49 ken ons Klaradyn toe lankal die aarde, maar nie juis die buitekant van die huis en 'n tuin nie. Toe trek haar ma en pa die stoute skoene aan om haar mooi aan te trek en hulself te bederf deur saam met haar by Die Dros in Hatfield te gaan eet.

Natuurlik moes die kamera saam – ek verbeel my ons het selfs die kelner ingespan om 'n gesinsfoto of twee te neem. Kyk en vandag na daardie foto’s, val nie net ons trots (dis of die knope oor my bors steeds van my hemp afspring) my op nie, maar eerstens, en die meeste, hoe jeugdig ek en my vrou gelyk het. Ek het nog nie enkele grys baardhaartjie nie – vandag soek ons 'n ietsie swart en kan ek nie eers meer praat van 'n sout-en-peper-baardjie nie, dis suiwer sout – Annieka is soveel anders mooi en gelukkig as wat sy vandag se dae mooi en gelukkig is.

Ek het vroeërvanjaar, in die wintervakansie nogal, bygestaan hoe 'n jong mamma haar vyf weke oue baba in 'n skottel in 'n karavaan bad, 'n haardroër wat eenkant op sy eie blaas sorg vir bietjie hitte, omdat sy en haar kind saam met haar ma gaan kamp het – Pappa ry naweke deur van die huis en die werk af.

Ek het besef ons het ons kind beslis nie skade aangedoen nie, ons het dinge bloot vir onsself baie moeilik gemaak.

Maar kyk net waar trek ek al – ek was by die wynplaas wat ek kon koop, en hier is ek op die punt om te vertel van die sonkolletjie in die huis waar ons die kind se vitamine –k-tellings opgejaag het. Is dit vitamine –k, ek kan nie eers onthou nie? Daardie vitamien wat optel as die kind in die son kom, die een wat keer dat 'n baba geelsug word.

Aan speelgoed het ons ook gemors. Ek dink hier aan 'n plastiek swaai en glyplankie wat ons ten duurste met Ouma Nooi se eerste verjaarsdag se verjaarsdag-geldjies gekoop het. Ek het vandag 'n lieflike foto waar my ma op sewe of agt of nege en sewentig Klaradyn in die ding swaai, maar dis ook al. Ek twyfel of Klaradyn in haar leeftyd vir vier ure op die ding was, toe staan hy stof  en vergader teen 'n muur op die werf.

Ons vervang hom toe, twee jaar later, met 'n volwaardige klimraam van staal, vyftien keer duurder. Ek twyfel of dit 'n gemis sou gewees het, as ons hom nie in ons kind se lewe en in ons tuin gehad het nie.

En dan is daar 'n hele paar Kers- en verjaarsdagpresente waaraan ek kan dink wat eerder in 'n paar morg wingerdlote belê kon word.

Die enigste speelgoed wat uit en uit en deur en deur die moeite en die geld werd was en is, was en is die fluweel- en streelsagte, wollerige, pelserige, speelgoed, waarvan Klaradyn só baie het.

Hier waar ek nou sit en werk, kyk ek af op 'n hele werpsel van die goed wat sy gister, dadelik, toe ons terug van die Kaap hier aangekom het, bymekaar gekry en mee begin speel het.

Ander kinders het miskien een gunsteling soft toy (soos die Engelsman hierdie opgestopte speelgoed noem). Nie Klaradyn nie – elkeen is spesiaal, elkeen is 'n gunsteling. Wat opgestopte speelgoed betref, het Klaradyn regtig 'n hart soos 'n hotel – daar is plek vir baie.

As dit nie was dat sy om die beurt met elkeen gespeel het nie, het ek lankal dat sy en haar ma (ek weet nie watter een van die twee die ergste is nie) briek aandraai.

Ek jok so bietjie, noudat ek mooi daaroor nadink – daar was miskien tog wel so iets van 'n gunsteling-gunsteling-sagte-speelding. Tiertjie was sy naam, Tiertjie het met 'n moerse ompad van Duitsland hier aangekom. Tiertjie was my kind se hart se punt. Tiertjie het baie weggeraak, maar dit was altyd tydelik. Dan is hy by Ouma vergeet, dan onder 'n passasiersitplek iewers, dan kom hy uit 'n skoenboks of blik waar hy lê-gemaak en vergeet is.

Maar nou is Tiertjie al meer as twee jaar weg, sommer propperlies en goed en ordentlik weg, skoonveldweg.

Ons vermoed een van die honde het die ding gaan begrawe. Die oudste teef dra die geringste sagte speelding van Klaradyn wat sy dalk mag opspoor, na haar slaapplek toe (en as sy nie 'n speelding kry wat rondlê nie, dan 'n kledingstuk of selfs 'n skoen). Sy kou nie die ding nie, sy hou die ding, seker maar suiwer vir vertroosting, net by haar, tussen haar voete of by haar neus. Sussa sou hom beslis nie begrawe het nie. Maar Sussa se boeta, Boeta, sou hom by Sussa af kon geneem het, en hý hét die hebbelikheid om die speelgoed en skoene te gaan begrawe.

Ongelukkig/gelukkig is Boeta nie vreeslik oorspronklik in sy keuse van plekke in die tuin waar hy sy loot gaan begrawe nie – hy kies regtig net een baie klein plekkie uit. Baie keer begrawe hy dit ook nie, hy laat dit net sagkens daar lê. En as hy dit begrawe, is dit ook nooit diep en toe nie – daar steek altyd 'n arm of 'n been of 'n sool uit.

Ons het al Boeta se lappie aarde omgespit en oopgeskoffel, maar niks gekry nie.

Ons beplan al van Julie af aan die moeder van alle opruimings in die motorhuis – een waarvoor ons 'n vullisverwyderingshouer, die grootste wat daar is, spesiaal deur die munisipaliteit laat aflaai. Miskien, net miskien, krap ons die ding dan iewers uit 'n boks of sak uit. Maar die prognose lyk nie te goed nie. Miskien sal ons Tiertjie, sonder dat ons ooit sy liggaamlike oorskot gekry het, na dese amptelik dood moet verklaar.

Die R200 waarmee Ouma en Oupa die meisiekind toe Kaap toe gestuur het, die R200 waarvoor ons toe die laaste dag inpiekel Waterfront toe, word toe amper na vyf minute by die eerste speelgoedwinkel geblaas. En toe, tien minute later, weer amper by die tweede winkel. En die derde. En die vierde.

Maar toe loop ons 'n Build-a-Bear-winkel raak. Ons is later, net om seker te maak, terug na die eerste vier plekke, maar Klaradyn se kop was opgemaak – sy gaan haar geldjie op 'n sagte speelding uitgee.

'n Kollega by die skool het my twee jaar gelede van die winkel vertel, en ek en Klaradyn is die eerste dag van die Kersvakansie vir 'n Pappa-en-dogtertjie-uitstappie soheentoe. Jy kies die vel (die dop, die buitenste) teen 'n aardige onaardse bedrag natuurlik. Dan kies jy vir 'n ding 'n hart, en stembande, en dan stop jy hom self op, so styf of troetelsag soos jy hom wil hê.

Ander bedorwe rykgatdogterjies kies dan nog 'n paar uitrustings en modebykomstighede vir hul poppe (skoene, brille, duikbrille, rolskaatse, branderplanke, baaikostuums, slaapklere, balrokke, krone, pels- en ander jasse) maar Klaradyn is altyd tevrede met hoogstens een, miskien twee, ekstras.

Ek sê ook nou altyd, want ons het die volgende Kersfees weer gegaan. Daardie keer het Mamma saamgegaan om in die opwinding te deel. Toe was dit 'n wit hond met pienk harte, soos 'n foksterriër se kolle, oor sy lyf gespasieer – bid jou dit aan:  'n wit hond oortrek met pienk harte! Die vorige keer was dit 'n apie.

Ons probeer ons bes om die kind self te laat kies, en nie namens haar nie. Dit raak moeilik as die kind haar hart op 'n wit hond met pienk harte vir kolle sit, maar ons byt vas. Want dan het ons al op die harde, en duur, manier geleer dat Klaradyn klere wat óns, en nie sy nie, kies, bloot net weier om te dra. En die kind moet leer om haar eie besluite neem en die gevolge daarvan te dra. Ons sal nie willens en wetens toelaat dat sy haar kop stamp nie, ons sal rig en stuur, sonder om noodwendig ons roete af te dwing, en raad gee, voor- en nadele uitwys. Maar die keuse is hare.

Vanjaar het die kind se keuse toevallig geval op iets wat haar ma en haar pa welgeval.

Ek was so verlig oor die kind se keuse dat ek summier sou pa-staan vir 'n bykomstigheid, maar Ma het toe klaar haar beursie aangebied. En ek wou nie inmeng nie, toe staan ek maar terug.

En ek het teen daardie tyd al op drie geleenthede, vroeër die dag, my beursie baie diep, en wyd, en groot oopgegaap in belang van die kind.

Want, ja, dit is 'n feit – ons sou soveel ryker kon gewees het, sonder ons kinders, maar tegelykertyd ook soveel ontelbaar, onhaalbaar, onbetaalbaar armder.