Pages

14.11.11

Nie die kat nie, maar die tandemuis

Ja, dis hierdie keer nie die kat, Wilson se kat, wat weer kom nie, dis die tandmuis.

Toe ek Klaradyn gisteraand aan die slaap lees en Annieka kom verby, toe spreek ek haar, by herhaling, as Violetta Muis aan.

Violetta Muis is geen bekende troetelnaampie wat ek vir Annieka het nie, dis ongewoon.

Voorts beklemtoon ek die Muis-gedeelte van die woorde, én ek wys so met my oog na af in die gang.

En was Annieka nie so moeg nie, sou sy beslis geregistreer het, maar behalwe dat sy oormoeg was, het sy nog die heeldag olik ook gevoel.

Die gevolg is dat sy nie snap nie.

Sy snap nie dat ek haar pas die tandmuis gemaak het en haar eintlik maar net vriendelik en baie subtiel herinner om tog 'n geldjie in Klaradyn se skoen te sit nie, nee, sy gaan val op die bed neer en slaap.

En intussen lyk dis soos sirkus in die gang, en het ons al gehuil ook oor dit wat in die gang aangaan.

Daar is 'n pajamatoppie oopgesprei, 'n kussing, 'n bakkie met water, twee briefies om die knaagdier om te koop, ‘n blokkie kaas, 'n verhogie met die tand op, en, om alles af te rond, ‘n geurige klein flessie salf.

Teen daardie tyd, en dit was wat die trane veroorsaak het, het ek reeds die flitsie waarby mens snags boek kan lees sonder om jou vrou te pla, opgetel en gebêre waar dit hoort. Hierdie flitsie se battery was besig om pap te word, want dit was aangeskakel, hoe lank nie nou al nie, “sodat die muis kan sien waarheen om te kom, Pappa.”

Ek kon haar oortuig dat die muis bang sal wees die honde sien hom in die flitsie se lig, hulle is mos nou maar een maal meer soos kabouters wat dit verkies om in die donker te beweeg.

Dit was maar 'n stryd om die kind rustig te kry.

Na die gebed, lig sy eens weer die kop:  “Ek wens ons kon hom in die hamsterhok vang en dan vat ek hom skool toe.”

Ek kom omtrent iets oor en maan haar om tog nóg sagter te praat en te hoop dat die mannetjie haar nie nou gehoor het nie, want hét hy haar gehoor, sien sy, of een van haar tande, die mannetjie nooit weer nie.

Ag, en toe is die kind van vooraf wakker en bekommerd.

Ek is self ook sommer redelik bedonderd – die vorige keer dat 'n tand die hasepad (muis se pad?) gekies het, was ek uitstedig en Mamma en Klaars by Ouma-hulle. En dan weet julle hoe gedra Oumas en Oupas hulle – dis mos asof hulle betaal word om 'n kind die afgrond in te bederf, en daar is Ouma en Oupa se tandmuise die soort wat nie 'n blink muntjie in ruil vir 'n blink tandjie aanbied nie, nee, Ouma en Oupa se tandrot is 'n geldrot wat met R20-00-note betaal, nie een nie – TWEE.

Stel jou so bloody rot voor!

En nóg ek, nóg Annieka het 'n sent se kontant aan ons – en dit help nie ons gaan trek nie, ons het die agtermiddag tot op die laaste limiet loop staan en geld uitgee aan vliegtuigkaartjies Kaap toe.

Die enigste R20-00 (hoe sal dit nou lyk as ons huismuis nou skielik met niks beters as R5-00 vorendag kan kom nie?) waarop ons ons hande kan lê, is die R20-00 wat sy Vrydag van 'n skooluitstappie teruggebring het. En hierdie R20-00 is met selotape geplak en ek is bang Klaradyn herken dit.

(Stel jou die stomme kind se uitroep voor:  “Maar ek ken daardie R20-00! Dis die R20-00 kleingeld wat ek Vrydag van die diereplaas af gebring het!)

So van al die gestoei met die kind wat nie tot rus kan kom nie, en my eie gestoei in my kop met die voortvarende muise wat my skoonouers bevriend, is ek toe een wat langs my wakker kind aan die slaap val.

Ek word lyfseer en deur die weer wakker van in die hitte op 'n te klein enkelbedjie lê – ek en Annieka lê deesdae met ons een voet uit by die bed en op die grond – so klein raak die bed.

Ek strompel op en kombuis toe na waar ek weet die R20-00 lê en wag.

By die installasie in die gang, gryp ek die briefies wat sy uitgesit het. Ek sal dit nooit oor my kry om dit weg te gooi nie, maar ek is te bang sy spoor dit iewers op, toe gaan steek ek dit in die plastiek oortreksel van my Kook en Geniet deur S J A de Villiers weg.

Ek het dit nou weer daar gaan opdiep om dit met Annieka te deel. Dis die ene harte en soene en glimlagte.

Na sy geteken het, toe dikteer sy en ek moet skryf:  “Pappa moet mooi skryf en Pappa moet klein skryf:  ‘Liewe Tandmuis, dankie vir al jou hulp met die tande. Ek hoop julle bou goed. Julle is mos die beste. Kom asseblief saam met ons Kaap toe. Bring warm klere en bring koel klere. Kry ons 8 Desember 05:00 op die Gautrein-stasie. Klaradyn, Hans en Annieka Moolman.”

Maar ek vermoed sy het gereken die feit dat sy nie self geskryf nie, kan dalk teen haar tel, want toe maak sy 'n tweede kaartjie, ook met hartjies en glimlaggies en soentjies, op die patroon van die eerste een:  “dankie vir al jou hulp / dankie soo dankie / Gautrei en vliegtuig”

Die rekwisietemeester in my kom na vore as ek die kasie so kyk. (Ek sou rekwisiete wou maak vir die marionette in kindertelevisiereekse soos Redding Internasionaal en Liewe Heksie.)

Ek knaag met my tande deur die blink papier wat die wiggie omvou. Ek eet bykans die helfte van die kaas op. Ek spoor 'n koki-pen op waarvan die agterste doppie, na my mening dun genoeg is om 'n tandmuis se tandmerke te kan eggo. Met die agterkant van die koki knaag ek toe twee of drie baie realistiese bytmerke uit, en posisioneer dit, effekberekend, naby die opgerolde R20-00 in haar silwer skoentjie. (Ja, dis nie sommer enige skoen nie – dis die kerkskoentjies!)

En ek gaan slaap.

Die donderse hond moes toe ingekom het, en die kaas opgevreet het, want van hierdie baie realistiese rekwisiet was daar vanoggend niks oor nie.

(Ek verkies dit om nie die opsie dat 'n rot dit in die middel van die nag kom wegdra het, te oorweeg nie.)

Ek word vroegdag wakker, nog voor die voëltjies begin sing. Die eerste wat my tref is dat ek nie weet waar my selfoon is nie. My selfoon is ons wekker. Ek is toe so bang ons verslaap, en ek is toe so pikwakker geskrik by die blote gedagte aan verslaap, dat ek na 'n halfuur se rusteloos rondrol, maar opstaan en agter die rekenaar inskuif om te sien dis enkele minute na 04:00.

Hier van 20 voor 5 af, hoor ek my kind snuif – daar is omtrent nie 'n ding onder son waarop sy en ek nie 'n allergiese reaksie in die vorm van 'n chronies-akute snotneus het nie.

Ek hoor haar 'n rukkie later opstaan en badkamer toe gaan. Dit word stil, baie stil.

Ek besef die opwinding van die tandmuis se besoek gaan haar nou wawydwakker hê, ek moet kyk of ek haar nie weer terug in droomland kan kry nie – dis nog 'n goeie uur voor haar normale wakkerwordtyd.

Ek tref haar in ekstase en euforie op die toilet aan:  “Pappa, hy was hier! Hy het die briefies gevat. Hy het die kaas geneem. Hy het van sy water gedrink en vir my 'n volle R20-00 gelos, kyk hier! Maar, Pappa, daar is een iets wat ek nie verstaan nie – hy het nie die tandjie gevat nie! Hier is dit nog steeds!”

Ek kan dit nie glo nie, maar sy is reg, ek het nie die tand gevat nie – ek het nie eers die tand gesien nie. Om die waarheid te sê, ek was in my deur-die-slaap-wees so gefokus op die R20-00, die briefies en die kaas, dat ek nie eers vir 'n enkele oomblik aan die donderse tand gedink het nie.

Gelukkig was ek toe darem al meer as 'n uur wakker en ek het dadelik 'n antwoord gereed:  “Hy het seker vir die honde geskrik en 'n rigting ingeslaan. Ons sit net vanaand weer die tandjie uit, miskien kom hy terug daarvoor – en, wie weet, miskien bring hy nog 'n geldjie saam.”

Die skoen is weer uitgesit, die tafel (spreekwoordelik) gedek – die verhoog is gereed.

En wat doen Annieka, terwyl ek hier tik? Sy flap haar skootrekenaar toe en kondig aan dat sy gaan slaap.

Ek gaan nou hier moet afsluit, my beursie soek en hoop daar 'n R10-00-noot in.

Sê nou daar is net 'n R50-00 in! Skuif ons dan Ouma en Oupa se going rate vir wisseltande op tot R70-00? Dit kan tog nie!

En wat maak ek nou met die tand?

Waar het Annieka al die ander gebêre?



Naskrif:  As ek so na my kind se opregte kinderlike geloof kyk, begin ek natuurlik wonder oor die wenslikheid van al die leuens wat ons rondom die Paashaas, Sinterklaas, Kersvader en die Tandmuis opdis. Moet mens doelbewus mors met ‘n ander mens se geloof, hulle om die bos lei, welwetende dat hulle later wreed ontnugter gaan word? Is dit onskuldige grootmens pret?

Op die onderwerp, maar ook daarvan af, en miskien daarom eerder rondom, of in die omgewing van, die onderwerp:  Klaradyn het hierdie maatjie gehad wat grootgeword het in 'n godlose huis. Met Kersfees wat die geboorte van Jesus Christus herdenk, kon die ouers hulle uit die aard van die saak nie versoen nie. Maar om op te maak vir die kinders wat rondom Kersfees droëbek sit en nie eers na die kleuterskool se Kerspartytjie kon gaan nie, het hulle toe dat Sinterklaas (Sint Nikolaus) vroeg in Desember presente bring. In Christus mog die kinders toe nie glo nie, maar in Sinterklaas wat om die aarde reis en geskenkies los vir outjies wat heeljaar baie soet was, wel?

Ek kon hierdie twee gedagtes nooit mooi met mekaar versoen nie.

En dan moes ek myself afvra of dit nie presies is waarom die geboorte van Christus juis herdenk word waneer dit herdenk word nie – om as teenfoeter te dien vir die een of ander lekker jollie-patrollie heidense fees wat in die omgewing van die einde van die jaar geval het nie.

Daarvan weet ek egter gelukkig/ongelukkig te min.

Ek wonder wel, na aanleiding van gisteraand, of  dit my kind se verbeelding, en of dit my kind se geloof is wat so sterk is. (Party gaan vir wil vertel dat dit een en dieselfde ding is!)

Wat Kersvader betref, weet ek van verlede jaar af dat sy rondom die ongeskrewe reëls van die speletjie begin saamspeel het – en elke oomblik daarvan nie net geniet nie, maar tot haar voordeel inspan ook.

Wat Sinterklaas, die tandmuis en die belaglikste van hulle almal – die paashaas – betref, is ek egter steeds nie 100% seker nie.

Onskuldige pret, maar op die lange duur dalk ook glad nie so onskuldig nie.

Ons sal nie weet nie.

Of miskien wil ek geriefshalwe bloot net nie weet nie.

Maar wag, laat ek my beursie gaan soek om nie die bubble vir my kind te bars nie.

Nie nou al nie.

Naskrif:  Ek was verkeerd. Toe ek nou in die gang kom, toe is die tand weg en Annieka het R20-00 ingesit.

Maar sy het hom nie klein opgerol soos elke keer met die R10-00 en gisteraand se R20-00 gebeur het nie.

Hoe moet die stomme kind nou kan glo dis dieselfde muis as hy een aand met die geldjie in 'n kokertjie gerol hier aankom, en die volgende aand nie!

13.11.11

Judy se lekker somerpoeding


Almarie van die skool het gevra dat ons vir haar van ons gunstelingresepte sal gee. Wat presies sy daarmee wil doen, het sy nie gekommunikeer nie, maar te oordeel aan die glimlag op haar mond en die glinsterblink vonkel in haar oë, weet ons hier kom iets opwindends.

Wat sy wel duidelik kommunikeer het, is dat dit ons persoonlike gunstelingresepte moet wees, nie ons gunstelingresepte van Sarie, Rooi Rose, Huisgenoot Wenresepte 9½ of die immergroen Kook & Geniet nie – dit moet onse eie resepte wees.

Hierdie poeding is so sterk onse eie resep, dat daar (soos vir die meeste van Judy se resepte) nie eers 'n enkelte voorskrif, hoeveelheid of spesifieke metodiek voor bestaan nie – jy maak dit na gedagte en wat in die kas is, en dan smaak dit elke keer bietjie anders, maar nooit minder lekker nie, as die vorige keer wat jy dit saamgeslaan het.

Toe Tiramisu, en elke denkbare variasie op hierdie Italiaanse tema, die Suid-Afrikaanse huisvrou, restourant, kostydskrif, winkelrak en kookboek 35 jaar later tref (en het dit ons nie destyds met 'n slag getref en al wat lekkerbek kombuis is ,oorrompel nie!) was die eerste waaraan ek gedink het die gedagte dat my ma haar eie lekkerder Boere-tiramisu 'n goeie 35 jaar vantevore al voorgesit het.

Maar nee, hierdie resep van Judy is geen tiramisu nie, dis 'n lieflike Suid-Afrikaanse konkoksie uit die laat jare sestig, vroeë jare sewentig van die vorige eeu, waarmee Hans Moolman en sy broer, Jac, grootgeword het.

Ek maak hom vandag nog, soms uit nood gebore, soms met weke voor-die-tyd se beplanning en aankope; ek het dit al vir konings voorgesit, en ons het dit al op die trappie by die agterdeur gesit en eet. My ma het dit by tye in 'n karavaan langs die see berei en ek het dit al vir toergroep skoolkinders voorgesit.

Dis 'n poeding vir die somer, en jy moet lus wees vir lekker kosmaak voor jy oorweeg om die gereg aan te pak. Onder lekker kosmaak bedoel ek presies dit – die kosmaakproses moet iets wees waarna jy uitsien, die kos wat lekker smaak, is 'n bonus.

Jy begin dan ook by die kies van 'n geskikte en mooi genoeg bak, groot genoeg vir die hoeveelheid mense wat jy wil bedien. Ek hou van 'n bak wat kleiner in omtrek, maar diep is, maar 'n groter plat bak is ook net so goed.

Jy moet ongelukkig winkels toe gaan om drie of vier pakkies boudoir-beskuitjies aan te koop. En 'n kannetjie room of twee, as jy nie in die yskas het nie. Maar die res van die bestanddele is in die kombuis of elders in die huis.

Kry in die gereedheidshouding op die kosmaakoppervlakte die volgende:

'n Groot kooksel lekker stywe custard (custard klink net soveel lekkerder as vla; ­ die dominee se kinders kry vla, die res van ons gewone mense kry custard – kastirt – saam met ons poering, ekskuus, nagereg.)

Hierdie poeding van jou gaan yskas toe, liefs oornag, dit moet daarom stywe vla wees sodat dit lekker stol, maar tog nou nie so styf dat dit kraak en kraters val soos 'n koshuistannie se beste poging om 'n goedkoop blanc mange saam te flans nie.

Nee, gekoopte custard gaan nie werk nie – ek het gesê jy moet van kosmaak hou as jy hierdie poeding wil maak – slegte lui huisvrouens wat gekoopte custard gebruik, is nie net slegte lui huisvrouens nie, hulle hou ook nie van kosmaak nie.

En as jy die dam onder die eend wil uitruk, is jy welkom om 'n verhewe, lywige, gewigtige, substansiële   creme anglais met vanillapeule en allerhande gegeurde suikers op te tower, maar dis nie nodig nie – gewone custard, daardie soort wat elke keer flop as jy 'n man is en dit nie presies maak soos hulle op die pakkie sê nie (MOENIE DIE VLAMENGSEL BY DIE KOOKMELK VOEG NIE – VOEG DIE KOOKMELK BY DIE VLAMENGSEL) werk net so goed.

Behalwe vir die boudoir-beskuitjies, die custard en die room (wat jy seker lankal aangevoel het, teen die tyd redelik styf geklop moet wees) het jy nou behoefte aan tekstuur vir jou poeding – goetertjies om in te byt en aan te kou terwyl jy jou poeding geniet.

Dit moet iets knarserig wees, soos neute, enige neute behalwe grondboontjies (wat natuurlik glad nie neute is nie, maar boontjies). Kry die neute kleiner gekap, maar hou miskien twee of drie (of vyf of ses) heel, vir die versiering op die ou einde.

Krap nou in die kas agter kersies aan, glanskersies of marachino. Kyk of daar nie stukkies gepreserveerde gemmer van laas jaar oorgebly het nie, en sny dit ook kleiner. Of watter verglansde vrugte jy ook al in die huis het.

Moontlik het jy van hierdie rosyntjiegrootte sjokoladedruppels in die kas, kry dit uit.

Maar moenie gaan koop nie, nie ander vrugte en ook nie sjokolade nie – die neute en die kersies is die belangrikste. Die res is bonus en interessante variasie.

Volgende moet jy nou daardie boudoir-beskuitjies so kry dat 'n grootmens dit ook in sy keel kan afkry. (En ek het 'n resep vir ladies fingers as jy wil hê, maar glo my, dis nie nodig nie – Woolies se duur ingevoerde Italiaanse boudoir biscuits , smaak op die ou einde niks anders as die Spar om die draai se Beauman’s of Baker’s nie.)

Om die goedjies na iets te laat proe, kan jy jou tot die kombuis beperk – niks verkeerd daarmee nie – maar ek het nie verniet hierbo gesê dat die res van die bestanddele in die kombuis of elders in die huis is nie. Dis daarom op hierdie punt wat jy uitbeweeg drankkabinet toe. Miskien is daar 'n koffielikeur, Tia Maria of iets soortgelyks, wat jy kan inspan om die boudoir-beskuitjies in 'n ander bloedgroep te kry. (As jy vaneffe marachino kersies in die kas had, dan het jy tien teen een Amaretto in die drankkabinet – oorweeg gerus  volgende keer wat jy die poeding maak en meer vrymoedigheid het om buite die boksie te beweeg 'n knertsie daarvan ook.)

Welke toepaslike alkoholasempie jy ook al in die kas opspoor, gebruik jy nou om ruggraat te gee aan 'n groot treksel lekker sterk koffie wat jy intussen gebrou en laat afkoel het. (Ja, poeierkoffie sal werk, maar enige sjef het darem sy trots – maar as dit moet, moet dit seker maar. Maak net seker dat dit nie uitlek en die gaste agterkom nie.)

Jy kan die koffie versoet, as jy wil.

Jy hoef nie die koffie te versoet, as jy nie wil nie.

Ek versoet nie die koffie nie.

Jy doop nou jou beskuitjie in die koffie (koffie-met-skop as die drankkabinet wel iets opgelewer het) en lê hom dan te ruste in die bak.

En nou moet jy jou nie soos 'n NG-predikant uit die jare sestig wil staan en gedra nie - sukke effense katspoegies voggies teen die kind se slape nie, nee, jy gaan groot, jy doop groot, jy druk daai boudoir-koekie se neus toe en jy onderdompel deeglik - daar moet by hom geen twyfel bestaan dat hy behoorlik en sommer baie groot gedoop is nie.

So pak jy nou 'n hele laag beskonke soldate sy aan sy op die bodem van die bak.

Natuurlik is dit trial and error – jy gaan party troepe te lank doop en hulle gaan nek omdraai voor jy hulle in die bak het, ander gaan weer horingdroog en stokstyf hulle koppe neerlê. Maar jy sal spoedig agterkom hoe lank die beste werk.

En as jou koffie nog warm is, gaan drink 'n glas witwyn op die stoep en kyk vir die wolke.

My wenk is dat jy egter ook die boudoir-beskuitjie sal uitkyk – hulle het elkeen 'n voor- en agterkant, 'n bo- en onderkant; die een kant het 'n kwaslagie suiker oor, die ander kant nie. Lê hulle so neer dat die suiker na onder is. As jy hulle nou ingeryg het, en daar is een of twee wat droëbek lyk, kom jy hom met 'n teelepel van jou koffie by – hy pass vinnig uit (soos die kinders sal sê).

Nou strooi jy jou tekstuur – die gekapte neute en gesnipperde kersies en wat jy ook al nog kan afstaan uit die kas.

Kry die korreltjies kou dan toe onder 'n laag custard.

Herhaal nou elkeen van hierdie drie lae (koekies, kougoed en custard) en eindig met die geklopte room.

Jy kan die room ook seker bykom met iets. Ek het nog nooit en sal ook nooit. Maar proe-beer gerus, en laat weet.

Jy kan jou poeding nou mooi maak deur dit leliewit te hou, jy kan basaar toe gaan met thousands & thousands of sjokolade vermicelli , jy kan dit keurig versier met neute en kersies – wat ook al jou oog en hart verbly. As jy die room wil spuit uit 'n sak met versiertuit, is jy welkom. Elke diertjie sy plesiertjie. Geniet dit net.

Onthou, jy hoef natuurlik nie al die boudoir-soldate in 'n massagraf ter aarde te bestel nie, jy kan 'n hele ring van hulle op aandag al in die rondte teen die rand van die bak staan maak ook. Dit werk lekker in 'n dieperige bak. Die off-cuts lê jy dan plat saam met die ander. Die peloton kersregoppes laat jy vir die effek kop en skouers bo die rand van die bak uitstaan. Pasop om hulle nie te veel aan te klam nie – jy wil nie dat hulle knak, omkap en koploos tafel toe gaan nie.

(Jy kan natuurlik verneuk ook – jy stel nie van die begin af jou erewag op nie, jy wag tot die bak amper vol is en maak die kort stompies op die tweede laag vla staan, die eindresultaat proe en lyk dieselfde.)

As julle 6 tafelgenote gaan wees en jy die nagereg nog dieselfde dag gaan bedien, moet jy toesien dat jy genoeg vir 10 mense maak. As jy gelukkig is bly daar oor en dan kan jy die res die volgende dag geniet. Hierdie poeding, maar dis te verstane, is elke slag, klokslag, die tweede dag baie lekkerder en geuriger as dag 1.

Ek bou myne tot voor die roomlaag en afronding die dag voor die tyd en rond op die dag van bediening dan met die room af.

Ek kon dit sedert skooldae nog nooit so lekker soos my ma maak nie, maar ek wil ook nie.

En ek glo Klaradyn sal darem eendag kan sê dat niemand hierdie poeding soos lekker soos haar pa kon saamslaan nie.

Probeer gerus en begin 'n familietradisie wat oor geslagte sal strek.

12.11.11

Jaareinde-oordenking

O, die einde van die jaar darem!

Geen wonder ons gaan elke Nuwejaar met soveel oorgawe in nie – dis oor ons so vuisvoos van die vorige vreksel se doodsnikke is!

Toe Annieka Klaradyn Donderdagaand badkamer toe stuur om te gaan bad, kom dit van Klaradyn:  “Agge, nee, moet ons al weer iewers heen gaan!”

En ek weet nie regtig vir wat die kind so murmureer nie – sy het net Dinsdag- en Woensdagaand 'n verpligting gehad. Verpligtings had haar ma Maandag- en Vrydagaand ook uithuisig. Donderdagaand was eintlik grasie.

En dan roep ek nie die vorige week, waar ons streng gesproke elke aand van die week 'n engagement gehad het en doelbewus moes briek aandraai, in die herinnering nie.

Wat meer is – Dinsdag en Woensdag was háár aande. Dit was nie soos met een van Ma of Pa se aande wat ons haar by Ouma en Oupa kan gaan aflaai nie – nee, allermins; dit was twee aande wat Ma en Pa met bonsende harte en bultende ribbekaste saam met haar laerskool toe moes piekel.

En dan gebruik ek ook nou die werkwoord, piekel. Vir wat sal ek nie weet nie, dit was eintlik net een vet lekkerte. Sien, dit was oor twee aande heen jaareind-prysuitdelingaand waarby die parrabeentjies betrokke kon wees... en onse meisiekind het uitnodiging na beide ontvang.

Iewers, en ek weet wraggies nie waar nie, het 'n Afrikaanse digter of skrywer, woorde soos “'n lewe kan so maklik breek” kwyt geraak. En hierdie woorde van die vent maak dat ek geleenthede soos prysuitdelingsaande lewenslank met versigtigheid, eerder as oorgawe en grootheidswaan, benader.

Ek stap daar in, ten volle bewus van die uitsonderlike voorreg wat dit is, maar pynliker bewus van hoe broos dit alles is, so asof dit nie eers voorreg is nie, maar suiwer genade en niks anders nie. Dis dan wanneer ek ophou om trots te voel, en niks anders as oneindig dankbaar en uitgelewer aan die genade begin voel. Dis dan wanneer ek klein word in die agterste gestoelte wat ek by voorbaat uitgesoek het, en myself nie eens so ver kan kry om 'n kamera uit te ruk en die weerlose klein weerbare meisiekindjie met die mooiste vlegsels en glimlag in die hele skool kan afneem, en die oomblik verewig nie.

Miskien is dit omdat ek te veel van, en te lank al, 'n onderwyser is – dis net die een helfte wat as vaderfiguur in die saal op een van die stoele sit; die ander helfte bly onderwyser agter in die coulisse op die verhoog. En min mense weet beter as onderwysers hoe maklik en hou gou dinge ander rigtings in kan neuk, die pad heel byster kan raak, en selfs kan ontspoor.

En terwyl ek hier tik, begin ander woorde in my gedagtes draai, kry dit 'n wysie en kom grepe daarvan na die bewussyn. Ek herken die woorde na 'n ruk as komende van Koos du Plessis. Ek moet dit gaan soek, en ek kry dit. In hul geheel is seker nie 100% van toepassing nie, trouens glad nie, grotendeels wel, en daarom haal ek alles, ook die meer ontoepaslike dele, aan. Wat in my kop kom maal het, terwyl ek tik, druk ek dan maar skuins:

Gebed

Laat my nooit die grond verlaat nie.
Laat my in U skadu bly.
Gee dat elke aardse vreugde en vrees,
eindelik nietig word vir my.
Elke afdraai paadjie ken ek.
Elke keer het ek verdwaal.
Elke keer het u my iewers kom haal.
Maak dit Heer, die laaste maal.
Elke dag is ‘n gedagte.
Elke kamer net gehuur.
Elke aardse droom van rykdom en roem,
net ‘n skadu teen die muur.
Wat ek is, is net genade.
Wat ek het, is net geleen.

Eintlik smag ek na U waters van rus.
Lei my Heer vanaand daarheen.

Gedagtes en invalshoeke soos hierdie ontneem geleenthede soos die wat ons vandeesweek  met Klaradyn gedeel het geensins van enige luister nie, dit maak dit soveel meer kosbaar en spesiaal.

Die wonderlikste vir my (en jy gaan vir my wil sê dat alle ouers so is, en gaan jou sê dat ek jou kan verseker dat alle ouers nie so is nie) is die seker wete dat dit aan die verhouding tussen my en my kind geen maar geen verskil sou gemaak het as sy nie daar was en verhoog toe geroep is nie. Dit maak my nie meer lief nie; net meer dankbaar.

Saam met die wonderlikste, moet ek seker ook die lekkerste en die mees spesiale deel. En dan het die lekkerste en mees spesiale, dit wat my hart die warmste verwarm, die bonsigste laat bons het, nie by die skool gekom nie, maar na die tyd, by die huis, ure na die kind se normale slapenstyd en Ma en Pa beide op die rand van histerie is omdat dit so laat is en ons nou eers kan gaan slaap.

Sal die merrieperd en verleidster nie lostrek (heel angstig) met:  “Ek het nog huiswerk nie!”

Dit nadat sy ons die middag leedvermakerig vertel het dat sy nie huiswerk het nie – ons kan speel, ons kan swem. Wat ons toe ook gedoen het.

Gelukkig stel sy nie uit nie, anders het ek die vloermoer wat in my opgebou het op die vloer gemoer, maar nee, sy kom dadelik nader, slaan haar arms om my nek en gee my een vet uitgerekte lang soen. Daarmee saam, ook dié woorde: “Juffrou het gesê ons enigste huiswerk is om ons ouers vanaand 'n soentjie te gee en dankie te sê vir alles wat hulle vir ons doen, en die kanse wat hulle ons gee om te doen wat ons doen. My huiswerk is nou klaar. Kan ons asseblief nou gaan slaap.”

Alles wat ek is, is net genade, alles wat ek het, is net geleen...

Ek moet dit mooi, só mooi, só vreeslik bitter baie mooi oppas.

10.11.11

Pad- en ander predikante





Afrikaans het baie mooi woorde.

Een van Afrikaans se baie mooi woorde is die samestelling padpredikant.


Baie van Afrikaans se baie mooi woorde hou vir my kosbare stukkies onthou in.

Padpredikant is weer eens een.


Ek het vanoggend met padpredikant in my lobbe en op my lippe wakker geword. Waarom weet ek nie. Maar hy was daar toe ek my oë oopmaak, toe ek tande borsel en skeer, en toe ek skool toe ry.

Ek sou die woord gehoor het, vir die eerste keer, en daarna kort-kort en in dieselfde konteks weer en weer, in die nag, iewers in laat sestigs van die vorige eeu, van ons huis af op pad na Oom Kobus-hulle-op-die-plaas toe.

Dis nou die plaas Holfontein, 'n entjie met die Hoopstad-grondpad uit Bultfontein uit.

Maar ek kan verkeerd wees. Dis nou presies 30 jaar sedert ek laas op die plaas was. In my drome kuier ek dikwels daar, seker een keer 'n maand, indien nie een keer 'n week nie.

Daardie jare het ons seker een keer 'n maand op 'n Vrydag-agtermiddag laat, as Pa klaar gewerk het, in die motor geklim en deurgery na Oom Kobus-hulle-op-die-plaas toe.

Is daar iewers, ooit, 'n lang pad wat lekkerder is as een wat jy in die donker aanpak? Self hou ek nie daarvan om die nag in te ry nie. Maar ek het geen probleem nie, verkies dit trouens

Nou in daardie opsig was my pa soos ek: hy sou, na sy ma reeds vyftien jaar buite Brits woon en ons by haar net so getrou soos by Oom Kobus-hulle-op-die-plaas gaan kuier het, steeds op Sondag verdwaal – so verdwaal dat ons laat vir middagete daar opdaag. (Vandag se dae is dit nie eers twee ure se ry met die kar nie.)

As kind was dit nie vir my vreemd dat ons so baie verdwaal nie, verdwaal was vir my maar iets wat mense in karre doen.

Later, vandag, het ek besef dit was tien-teen-een nie van deur-die-weer-wees wat my pa so verdwaal het nie – hy het bloot van onbekende (en dikwels straks selfs ongekende) vreemde, interessante paaie gehou, roads less travelled by, so to speak.

Name van plekke soos Boshof, Bothaville, Brandfort. Bultfontein,  Hennenman, Hertzogville, Hoopstad, Odendaalsrus, Theunissen, Ventersburg, Virginia, Welkom, Wesselsbron en Winburg kom daarom saam met die woord padpredikant by my op.

Ook Bethlehem, Clarens, Clocolan, Cornelia, Excelsior, Ficksburg, Fouriesburg, Harrismith, Hobhouse, Kestell, Ladybrand, Lindley, Marquard, Memel, Paul Roux, Petrus Steyn, Reitz, Rosendal en Senekal.

Dis darem nie omdat ons so vreeslik ver en uit koers uit verdwaal het oppad Holfontein toe; my ma en pa het op Ficksburg ontmoet en daar was peetkinders, skoonsusters, swaers en baie ou ooms en nog ouer tannies vir wie ons net so gereeld gaan kuier het.

En so, op die Vrystaatse grondpaaie en teerpaaie sonder noemenswaardige some, snags, met die motor se ligte op die een of ander padpredikant, het ek aan die woord padpredikant gekom.

Transvaal en die Kaap het daardie jare naamborde gehad, dis net die Vrystaat wat agter was en nog met padpredikante gesit het. (Wat Natal gehad het sal ek nie weet nie – ons is hoogstens een keer 'n jaar soheentoe.)

En nou vertel ek dit of dit die waarheid is. Maar dis oor dit as die waarheid aan my voorgehou is. Transvaal en Kaap se provinsiale bestuur was op en wakker, ons het groot groen borde wat op twee pote staan, langs die pad gestaan; die Vrystaat, groot dele van die Vrystaat (minstens die dele waar ons verdwaal het = en dit was baie wyd) het sulke losstaande pale gehad met reghoeke, wat elkeen in 'n driehoek geëindig het, bo vasgetimmer.

Baie van hierdie rigtingwysers het hul arms al laat sak, soos sonneblomme hulle koppe. En dikwels was die verf so af dat een van my ouers moes uit, met die flits (jy gaan nooit op die pad sonder 'n flits nie) om te sien waffer godsverlate rigting ons nou weer moet inslaan.

Ek wonder of predikante vandag nog doen wat padpredikante (iets wat na hulle vernoem is) daardie jare gedoen het. As jy my as kind moes vra wat 'n predikant doen, sou ek nooit gesê het dat hy die woord van die Here verkondig nie; ek sou gesê het 'n predikant wys vir ons mense watter pad om te loop.

Die laaste ervaring met 'n outentieke Vrystaatse padpredikant, soos van ouds, dateer rondom 1980. Ons was by die peetkind op Ficksburg en ek en my ma het die motor gevat en die Oos-Vrystaat ingevaar, vir die dag. My ma het my na plekke en gehuggies en plase en dorpe geneem wat ek nie sommer weer sal opspoor nie. Op hierdie en hierdie plek, en op hierdie en hierdie plaas, het sy en my pa kom dans.

Ek onthou niks van die stories nie, behalwe miskien 'n skinderstorie van my ouma wat 'n getroude man had wat skelm na haar as getroude vrou gevry het. Maar van die storie het ek net twee keer se onthou, en kinders, maak nie saak hoe oud hulle is nie, glo in elk geval nie enige slegte stories van hul oumas of oupas nie.

Maar ons is die betrokke dag, 'n dag waarom ons amper in groot moeilikheid was omdat ons sonder 'n fisiese rybewys by ons in die motor op Lesotho se paaie gery het (my ma wou my wys waar haar eerste werk – iewers op TY of Teyateyaneng) ook by die plaas verby waar die owerspelige vryer kwansuis sou gebly het.

En dan onthou ek 'n grappie wat my ma gemaak het, 'n flou grappie, wat net so teen my ma se aard in was, dat ek dit vandag nog onthou – soos gister – en my oë het vanoggend begin skiet toe ek daaraan terugdink.

Na die ongemaklikheid en please explain in Basoetoeland  (ek het vandag nog –iewers – 'n klei beeldjie wat ek die dag langs die pad gekoop het) was ons die middag redelik laat teen 'n stink spoed terug oppad Ficksburg toe. Dit was ook meer as dertig jaar sedert my ma die paaie die gery het, en ons was, laat ons dan nou maar bieg, redelik verdwaal.

Maar dis oor ons Basoetoeland op die een plek in, en by 'n ander plek uit is.

En daar tref ons 'n slaggat in die grondpad en Judy sê “o, aarde, en daar het ek nou 'n blou oog.”

Ek, ook al rondom standerd 8, is hopeloos te naïef, of het my ma bloot net hopeloos te swak geken, om te verstaan, en ek gee my onkunde en –begrip te kenne. “Die kar het so gehop, my kind, dat Mamma se tietie haar 'n blou oog gestamp het.

Ek dink as my broer hier moet lees, sal hy dink ek lieg, want my ma het regtig nie sommer sulke opmerkings gemaak nie. (Haar stoutste grappie ooit het neergekom op 'n woordspeling tussen die Franse la’ petite en die Boere se boerse lappe-tiet.)

Ewenwel, terwyl ons nog so, ligweg histeries oor die tyd, ry en lag, is daar skielik 'n vurk in die grondpad, 'n vurk sonder 'n naambord (die Vrystaat het intussen lankal bygekom).

En so terwyl ons so wik en weeg oor waffer rigting om in te slaan, gewaar ons 'n verweerde padpredikantjie, presies soos van ouds, tussen die groen ruigtes aan die oorkant van die vurk.

En Hansman is uit en het die rigting by die verflenterde dominee gaan vra.

En daardie dominee het ons voor donker by die huis gekry.

Padpredikante is nie net wonderlike woorde nie, dis wonderlike goed.

Naas ma’s, en ek mis myne vandag weer, seker die wonderlikste goed wat 'n man, dis nou naas sy vrou en kind, kan hê.


Naskrif:  Daar is ongelukkig nog een onthou wat moet uit, 'n kosbare hartsonthou, enige iets tussen twee jaar vroeër of twee jaar later.

My pa was toe al dood, maar ons is steeds gereeld af Holfontein toe. Ma hou die pot aan die kook, so dis steeds op 'n Vrydagmiddag na werk dat ons in die pad val.

Maar Ma hou nie van vreemde paaie nie, sy bly op die gebaande wee en ons ken die pad soos die palm van ons hand.

Dis winter en lankal donker toe ons die pad, wat toe lankal nie meer Bultfontein nie, maar om hom, op pad Hoopstad toe gaan, navigeer.

Dis net ek en my ma, toe lank nog nie 'n ou vrou nie – seker so vyf-en-vyftig.

Maar daar kry die ou lady 'n piepie, en as daar een ding is wat my ma nie kon doen nie, dan was dit om te knyp.

En dan was sy ontsettend koulik. Sy het haar pelshandskoene aan, 'n jas, 'n mus en 'n serp. (Ja, my ma was ook nie skaam om te wys dat sy koud kry nie.)

Toe moet sy piepie, ons is aan die rand van die dorp, die plaas nog 'n goeie 14 myl verder.

Dis toe dat sy, net betyds, onder een van die groot nuwerwetse Vrystaatse naamborde, die een wat Hoopstad en wat ook al links en regs uitdraai aandui, stop en uitspring om te piepie. (Ek het in die ry al 'n tissue uit die handsak moes opdiep.)

En om langs die pad te moet piepie, so tussen die twee oop deure as jy 'n vrou is, was nou vir my in daardie dae, nie 'n snaakse ding nie – oor Ma nie kon knyp nie, was dit iets wat ek bykans maandeliks (óf op pad Bultfontein toe, óf op pad Ficksburg of Brits toe) leer ken het.

En sy moes in die ry, haar een hand op die stuur, haar ander hand na haar mond toe gebring het om haar handskoen met haar tande uit te trek. Hierdie handskoen moes op haar skoot, op haar jas geval het.

En toe sy uitklim om te piepie, moes hy op die grond uitgeval en daar agtergebly het. Want toe ons 'n halfuur of twintig minute later op die plaas stop, toe is my ma se gunsteling stel winterspelshandskoene opgebreek.

Maar waarom en hoekom en hoe die woord padpredikant my vanoggend en daglank by hierdie halte langs die pad uitgebring het, sal ek nie weet nie.

Seker maar die Hoopstad/Welkom/Wesselsbron (?) naambord vlak bokant my kop by die venster uit, wat ek so in die maanlig sit en lees het – dis nou om uit respekte nie te kyk hoe Ma piepie nie.

En dan hoor ek haar, nie net kenmerkend piepie nie, maar hoe sy ook sê:  “As hier nou, Oubaas, 'n spinnekop of 'n skerpioen of 'n slang of 'n ding by my enkels kom lol, dan spring by hierdie deur, dwars oor jou, in, en ander kant weer net so uit. Jy sal my daar oorkant die pad tussen die grasse moet loop soek.”

Ai, dit voel soos gister. Ek sien ook die handskoene, teen daardie tyd al verweer, voor my. Jac. my broer, het vir my pelshandskoene van oorsee gebring. Ek wonder wat het daarvan geword.


Naskrif:  ek het prente van padpredikante soos ek dit onthou, gesoek. Daar is baie, maar hulle is almal te Europees, die omgewing óf te groen óf te mistig.


Naskrif: En dan kan ek daar waar ek vertel hoe ons Vrydagmiddae na werk in die pad geval het. 'n nader rigting inslaan.
Ek het een keer vir maande geweier om kar te ry, en toe geweier om saam met my pa te ry.
Ons is daardie Vrydag later as gewoonlik weg. Ek sou later hoor ons was laat oor my pa gaan drink het voor hy sy vrou en kind in motor gejaag het.
Dit was Vrydag, die pad uit Alberton, het deur die fabrieke, daar by Fuchs se fabriek uit, gegaan.
Miskien was dit nog die einde van die maand ook.
Daar was 'n motorongeluk. Miskien is 'n voetganger raakgery.
Binne oomblikke was ons, met 'n dronk pa, omring van, wat gevoel het soos honderde, fabriekswerkers.
Ek het dit vergeet. En toe nou vanaand onthou.
Maar daar is gelukkig lekker onthou ook wat terug kom. My eerste nag in 'n hotel was toe die kar op pad na Oom-Kobus-hulle-op-die-plaas toe, gebreek het en ons op Welkom moes oornag.
Vleisrolletjies en Appletizer op Kroonstad.
En David Kramer sal altyd, altyd, tot watter een van ons twee ook al eerste afsterf, die eerste entjie pad buite Kroonstad wees:  die son gaan oor minute begin sak, die radio is aan en ons ry en luister na Blokkies Joubert.
Vandag nog, hoor ek Blokkies Joubert, dan sien ek die pad buite Kroonstad; ry ek die ent pad net buite Kroonstad (net verby die verkeerspolisie wat nou donkiesjare elke keer op dieselfde plek wag) dan hoor ek Blokkies se liedjie, selfs al sing Dozi of The Parlotones luid oor die sprekers.

O, gits, amper vergeet ek die fotobron.

5.11.11

Wond klink soos gesond

Op stop agter die vrouens wat in Woolworths se aantrekhokkie wag op die nuwe style en groottes wat ek moet aandra, loop ek so twee weke gelede my maermerrie so stukkend teen 'n metaal vertoonrak dat die bloed teen my  been afstroom. By gebrek aan 'n lapsakdoek moet ek myself glads na die mikrogolfoond, waar die wegneemetes opgewarm word, haas om daar 'n servet te kry en iets aan die bloed te probeer doen.

Die ewige kind in my het my verlede naweek al voor die televisie op die punt gehad waar ek die rofie afkrap en wonder of die ding nou weer gaan begin bloei of nie. Te lekker. Soos van ouds.

Gistermiddag vra ek Annieka of sy die vaagste benul het hoe die wond aan my been jeuk, en sy laat val dadelik met 'n laggie dat ek dit tog nie aan Klaradyn moet vertel nie – Klaradyn sal dadelik vir my te vertelle hê dat dit 'n baie positiewe teken is:  my wond word gesond.

Gisteraand, in die bed, toe ons regskuif vir die aandstorie, kan Klaradyn, oormoeg soos wat sy is, nie dadelik tot rus kom nie – sy al by die pleister op haar knie. En as dit nie die pleister op die knie is nie, dan is dit die wond – met apiebloed aan – op haar toon, of die apiebloed aan haar hand.

Apiebloed, vir die oningewydes, is merkurochroom. Sy is na skool reguit na 'n maatjie se huis om saam met twee ander maatjies hierdie betrokke maatjie se verjaarsdag te vier. En toe Ma haar half ses optel, toe lyk sy, van al die lekker speel, asof sy op 'n slagveld was.

Teen slapenstyd gisteraand is ek en Annieka altwee toe nou al tot hier toe, van die moet luister hoe lekker die meisies gejol en gegly en geval en hulself gebeseer het.

Ek wil ook toe nou dat Klaradyn tot ruste kom en haar gewonde knie sal uitlos. (“Kyk, Pappa, dis nie apiebloed wat daar uitsteek nie, dis mý bloed, regtige egtige bloed.” Ek is ook nie links nie en sê:  “So dis nie apiebloed nie, maar bobbejaantjiebloed.” Sy dink, nodeloos om te sê, nie dis snaaks nie.)

Maar om die aandag toe nou af te lei van die bloederige vulkaan op haar knie, die een wat dreig om enige oomblik tot uitbarsting te kom, vestig ek toe nou die aandag op my wond van twee weke gelede. Ek vra haar om my wond bietjie uit te kyk, en of sy 'n idee het hoe die ding jeuk.

En wat is die eerste wat my kind met die grootste blymoedigheid in haar hart en vetste glimlag oor haar gesig vir my sê? “O, maar dis goeie nuus Pappa – dit beteken Pappa se wond word nou gesond!”

Die tweede ding wat sy sê, is om verbaas uit te roep dat wond en gesond met mekaar rym, selfs  al is dit teenoorgesteldes.

Dit moet seker maar haar Ouma wees wat haar aan die verstand gebring het met die gedagte dat 'n seerplek wat jeuk op genesing dui. Dalk was dit ek, dalk Annieka. Nog nooit het 'n kind egter met soveel oorgawe die storie geglo, of met soveel oorgawe oorvertel nie.

Net so het ek vyf en twintig jaar gelede 'n storie gehoor wat ek vandag nog met die selfde oorgawe glo, en oorvertel.

My ouma aan my ma se kant is in 1986, ek nog op universiteit, oorlede. Toe ek enkele maande later in 'n geselskap laat val dat ek die vorige nag, vir die eerste keer sedert haar afsterwe, van haar gedroom het, maak die proffie in ons geselskap die terloopse opmerking dat dit 'n baie goeie teken is – dit beteken ek is besig om my ouma se dood te verwerk.

En van toe af, glo ek hierdie terloopse opmerking van hom soos evangelie: as jy van iemand droom wat afgesterf het, is dit positief, jy is besig om daardie persoon se dood te verwerk.

Toe word ek 'n uur agt minute, om 24:05, wakker, vir die eerste keer, uit 'n droom rondom 'n sterwende Judy.

En die eerste wat ek myself wysmaak, is dat dit 'n baie goeie teken is – ek begin die ou vrou se dood in my en met my onderbewussyn uitsorteer.

Vir my is dit eintlik nogals iets groots – sedert 1986 het ek nog nooit nodig gehad om gekonfronteer te word met die afsterwe van iemand na aan my nie.

My ander ouma se dood het my nie geraak nie – ek wou trouens nie eers begrafnis toe nie, ek wou standerd 7-klaspartytjie toe. Dis eers toe my ma dit voor my gooi dat ek een van die draers van die kis is, dat die erns van die saak begin insink het.

My pa se dood het my geraak. Ook die ouma van wie ek klaar vertel het. En dan nou, jare later, die dood van my ma, twee maande, enkele dae gelede.

Dit was 'n droom wat ek, terwyl ek dit gedroom het, suiwer as droom en geensins as nagmerrie nie, beleef het. Maar die oomblik toe ek wakker is, en die droom herroep, toe word dit 'n nagmerrie-ervaring waarmee ek nie konfronteer wil word nie.

Ek het dadelik bewus geword van innerlike konflik: aan die een kant wil ek die droom herroep, in die herinnering roep, oproep; aan die ander kant wil ek dit onmiddellik vergeet en verder slaap.

Dan het ek ook 'n vreemde konflik, 'n konflik soos tussen twee partye of individue (entiteite) beleef. My bewuste ek wou die droom herroep, die onderbewuste ek, my onderbewussyn, wou die droom nie laat gaan nie – dit allermins nie in die onbekwame hande van my bewussyn laat nie. En toe is dit vir 'n ruk lank of die twee met mekaar toutrek oor die onthou van my stomme ma wat tussen hul hande aan flarde geruk word.

Toe ek 'n half uur later, wat soos 'n uur later voel, nog nie weer slaap nie, toe kom sit ek maar die rekenaar aan.

“'n Droom wat jy nie interpreteer nie, is soos 'n brief wat jy onoopgemaak terugstuur, 'n boek wat jy ongelees  wegsit.”

Party skryf hierdie gedagte aan Judaïsme  en die Talmoed toe; ander vind die oorsprong daarvan weer in die Koran by die Islam. Nou waar presies dit vandaan kom, of wie eerste die beeld verwoord het, staan my nie aan nie. Vir my is en bly dit 'n baie waar en raak opmerking oor drome wat al duidende jare met die mensdom is.

Ek is egter, toe ek wakker word en eers besef wat presies ek gedroom het, waarvan en waaroor en in welke terme presies ek daarvan gedroom het, só ontsteld dat ek myself toe nie toelaat om die droom te herroep nie – en al waarvan ek bewus word is hoe dit dieper en verder in die baie besitlike dryfsand van my onderbewussyn wegsink en –sak. En hoe interpreteer jy nou iets waartoe jy nie meer toegang het nie.

Al wat ek  nou verder kan doen, is om te wonder wat moontlik die droom kon ontketen het – behalwe dan nou my byna kategismusiese vaste vertroue dat ek besig is om my se dood in my onderbewussyn te verwerk.

En dan is die enigste antwoord waarby ek uitkom 'n toevallige, terloopse kort kragmeting tussen my bewuste en my onderbewuste gistermiddag na skool. 'n Kortkragmeting waarin die onderbewussyn die oorhand oor die bewussyn gekry het.

Met die dat Klaradyn na skool 'n partytjie had, het ek en Annieka besluit om die agtermiddag aan te gryp en is ons in aanloop tot die vryheid van die Vrýdag-agtermiddag met een motor skool toe.

En toe die klok lui om die einde van die skooldag en die skoolweek aan te dui, toe vat ons die strate.

In 'n stadium is ons in die omgewing van die ouetehuis waar my ma oor vyf jaar heen te sterwe gekom het. Ek sê vir myself, doelbewus, om nie die pad te ry wat daar verby lei nie – ek en Annieka het 'n lekker tydjie saam en ek wil dit nie nou bederf met gedagtes rondom my afgestorwe ou moeder nie. En ek draai doelbewus 'n ander rigting in.

Maar hoe ken 'n mens nou die mag van die gewoonte: vir vyf jaar, as ek hier gery het, was dit op pad na die twee oues toe, of op pad terug van die twee oues af.

En die eerste waarvan ek enkele minute (oomblikke?) later bewus word, is die feit dat ek met my motor vlak langs, vlak teen, óp die ouetehuis se voorhek is – my onderbewussyn het my, in weerwil van die bewussyn, daarheen gelei.

Ek was summier die bliksem in vir die alter-ego wat die oorhand gekry het, maar het nié toegelaat dat my gedagtes by die ou vrou gaan kuier om my tydjie saam met my vrou te bederf nie.

Dit in weerwil van Annieka wat opmerk, toe ons daar verby gaan, hoe haar binneste, elke keer wat sy daar verby ry, ruk. Sy noem ook dat sy wonder hoe erg, as sy dink hoe erg dit vir haar is, dit nie vir my moet wees nie.

En toe nou die droom van vannag. En waarom Annieka ook 'n hoofrolspeler in my droom was.

Ek droom, aan die ander kant, moontlik vir twee maande en enkele dae nou al, élke nag van my ma – ek weet dit bloot net nie. Vannag was dalk net toevallig die eerste keer dat ek wakker word terwyl ek rondom Judy droom – en drome waaruit jy wakker word, kan jy grepe van onthou en herroep; drome waaruit jy nie wakker word nie, word veilig in een van die sluitkaste in jou onderbewussyn weggebêre.

En dan kan jy nie krap waar dit nie jeuk nie.

Om terug te kom by die wond aan my been wat jeuk van die gesond word, in aansluiting dan by die wond in die binneste wat net so lekker jeuk van die gesondwordingsproses.

En soos Klaradyn tereg opgemerk het:  wond rym met gesond.

Al is hulle teenoorgesteldes.