Pages

19.9.11

Roetine, roetine, roetine


Ek is afhanklik van roetine, ek moet wees, want daarsonder sal iemand met my persoonlikheid sommer net uitmekaar val, breek en soos Hompie Kedompie bly lê, sonder dat enige iemand iets aan my kan doen om my te help.

Ek is egter nie noodwendig goed met roetine nie, trouens en inteendeel...

Was dit 'n sterk punt van my gewees, was my sleutels nie elke liewe oggend van lewe soek gewees nie; dan het my sleutels, soos Annieka s'n, aan die rakkie neffens die kombuisdeur gehang.

En wat sou ek nie dan ook alles rondom my beursie, my ID-dokument, my salarisstrokies, my inkomstebelastingvorms, my penne, my potlode, my selfoon, my sakrekenaar kon kwytraak nie!

Maar soos ek sê, ten spyte van my afhanklikheid van roetine, is ek geensins 'n meester op die gebied nie.

Tog is my roetine nou twee weke deurmekaar gekrap, dit sal nooit uitgestryk of weer kan word wat dit was nie – en dis vir my louter hel.

En so sal dit bly tot ek 'n nuwe roetine gevestig het.

Louter hel omdat ek nou in tien werksoggende al een keer laat vir skool was, al twee keer onder die spreekwoordelike (maar ook letterlike) derde gelui daar aangekom het, en twee ander kere baie byna, amper laat was.

En dit alles oor daar 'n halfuur in my dag los gekom het, weggeval het, 'n los halfuur wat ek nou op 'n nuwe, geroetineerde manier moet vul.

Ek ry steeds 06:30 skool toe, soos hoe lank nou nie al nie; maar deesdae is dit om 06:30 van die huis af, en nie om 06:30 van Ouma Nooi se ouetehuiskamer nie. En dit maak die wêreld se verskil.

In die verlede, as ek 06:30 by my ma weggery het, het een of dikwels meer van die volgende hulself reeds om 06:00 by die huis afgespeel:

·         Ek soek enige iets tussen 2 en 7 minute lank my sleutels

·         Ek soek enige iets tussen 2 en 7 minute lank my beursie

·         Ek soek enige iets tussen 2 en 7 minute lank my skoene (moenie vra nie, dit gebeur)

·         Ek kom by die eerste of tweede robot agter ek het nie 'n das aan nie, en moet terugdraai.

·         Ek kom by die eerste of tweede robot agter ek het nie my beursie nie, en moet terugdraai.

·         Ek kom by die eerste of tweede robot agter die geel petrolliggie brand en onthou hy het gister al gebrand – ek moet petrol (sodra ek net eers my beursie gekry het) ingegooi.

·         Ek ry terug huis toe om te kyk of ek die motorhuisdeur toegemaak het.

·         My gedagtes is elders as ek verby die huis ry om die motorhuisdeur toe te verklaar en maak vir 'n tweede keer 'n drie-punt-draai om te bevestig die deur is laat sak.

·         Omdat ek te skaam is om vir 'n derde keer 'n drie-punt-draai te maak, ry ek maar om die blok en kyk dan vas in die toe motorhuisdseur.

In die ou roetine het dit bloot beteken ek kom laat by Juds aan, ons kuier 'n knertsie korter maar oorlog is erger en more kuier ons weer gewone tyd.

Maar vir twee weke nou speel bogenoemde rituele nie om 06:00 af nie, maar om 06:30 sodra ek die huis agter my gesluit het.

En dán maak dit my laat.

Dan kom ek nat gesweet en met hartkloppings by die skool aan.

Ek het al gewonder of daar nie 'n ou oom of tannie in die ouetehuis is wat kan doen met 'n oggendbesoekie van my kant af nie – straks is die kinders almal in die buiteland.

Maar ek het myself voorgeneem om nooit weer my voete in daardie plek te sit waar my ma die laaste ses jaar van haar lewe geslyt het nie.

Eintlik is al wat ek moet kry 'n japon, 'n house coat.

Want nou is ek steeds om 06:00 gedress en gepress, dan sien ek die girls af, maar in plaas daarvan om Judy toe te ry, gaan totter ek dan in die huis.

Tot 06:30, wat dan sonder veel moete 06:40 of 06:45 word voor ek uiteindelik kan sê dat ek weg is.

Maar nou hou ek nie van 'n japon nie, het ek eintlik 'n broertjie dood aan een.

Sommer simpel, ek weet, maar om met 'n japon in die huis rond te loop is iets wat ek my verbeel Liberace sou doen.

En hoewel ek nie omgee om krale te string, met Annieka se handsak in die winkel rond te loop, te huil oor my ma, blomme te rangskik, te tjank in flieks en boeke, en nie te weet wat dit beteken as die rugyskeidsregter sy hande soos die wuiwende palms van Egipte rondwaai nie, loop ek nie soos Liberace met 'n japon in die huis rond nie.

Almal kan doen. Pierre Spies ook.

En Steve. En Joost.

Net nie ek nie.

Ek gebruik ook nie naskeermiddel nie.

My manlike ego en selfbeeld akkommodeer baie, maar nie 'n japon en naskeer nie.

Ek is simpel, ek weet. Ek mag wees.

Maar as ek nou uit die bad of stort in 'n japon klim kan ek heerlik in die huis besig wees met toebroodjies en koffie en die girls weg sien.

Dan, as ek hulle afgesien het, trek ek gou aan, en sorg dat ek 06:20, op die laatste in die pad val.

Maar nou kom ek 06:00 in van die motorhuis en gaan sit agter die rekenaar. Ek doen skoolwerk, vertaal 'n fabel, krap in die e-pos-posbus.

06:20 weet ek ek moet ry, maar dan is ek so verdiep, of op 'n punt dat ek net nog 'n rukkie moet werk.

Op die kop 06:30 het ek egter die selfdissipline om toe te maak, op te pak en te ry.

En eintlik val ek vroeër in die pad as toe ek 06:30 by Judy weg is. Daar was die dienshysbak wat stadiger as 'n melktrein was, en meer gestop het.

By die ouetehuis eers onder gekom, moes ek dikwels weer op – omdat ek nie kon onthou of ek die tralies van haar bed opgeslaan het nie – en dan neuk sy af op die grond as sy wil opstaan en loop.

Dit hét meer as een keer gebeur dat hulle haar soggens op die grond aangetref het – hulle moes laterhand ekstra tralies aanbring want sy had 'n wil van haar eie en kon nie onthou sy kon nie meer loop nie.

Maar ten spyte van selfs 'n tweede retoerrit in die melktrein was ek nooit laat vir skool nie, het ek nooit nat gesweet by die skoolhek ingedraai nie.

Ek sal nog tot die einde van die kwartaal eksperimenteer met verskillende oggenroetines, maar teen daardie tyd moet iets gereed wees om in plek te kom.

Ek, ék van alle mense, het nou al selfs 'n oefenfiets, trapmeul, en die trampolien oorweeg.

Ek voorsien ek gaan more oggend met die fiets deur die strate ry – dit kan my net goed doen.

En in die proses word my hartspier straks net sterk genoeg om die spanning van soggens se bykans-laat-vir-skool te hanteer.

As dit nie was dat ek al verlede jaar ophou rook het nie, kon ek in plaas van 'n house coat of japon, vir my 'n smoking jacket, soos die een daar bo wat ek op Wikimedia Commons raakgeloop het, gekoop het.

'n Bloue. Niks paisley of syerig en blink nie.

Tot dan is dit dan maar ek en die handdoek om my lyf.

Dit het Vrydag-oggend heel goed gewerk – ek is selfs met die motorhuis toe om die meisies af te sien.

En kom winter, en ek het steeds nie 'n japon nie, dan gooi ek maar die Basoetoe-kombers wat uit die Maluti’s kom om my skouers en gaan groet die twee vrouens wat ek in my lewe oor het.



Naskrif:  Dit was die naweek se klets wat ek Sondagaand uiteindelik kon afsluit, maar toe nie Maandagoggend gepos het nie – het aan 'n gedig voorberei.

Dis egter snaaks hoe 'n mens se kop werk want daar is ek toe 04:00 op – ek het nie broer se wyse raad gevolg nie:  don’t look on the watch and don’t switch on the light.

Ek het al twee ignoreer. Op die selfoon sien ek dis 03:30 toe ek wakker word van die laaste twee koppies koffie en nog nie die paradysvinkies kan hoor nie. Ek maak my reg om verder te slaap, maar die laataand-koffie laat van hul oor. En daar sit ek toe die lig ook aan.

04:00 staan ek toe maar op.

Uit vrees dat ek Annieka gaan wakker skarrel, krap ek in die kas na iets warm om aan te trek, onthou ek toe Sondagaand se getjommel oor die Baoetoe-kombers. En wat kry ek toe uit die spaarkamerkas om my warm te hou agter die rekenaar?  'n Groot dubbelbed- bruin kombers.

Ek kry dit, na die girls weg is, reg om 06:20 op te pak van die gedig wat ek aan die voorberei was.

Dis toe nie die beursie, das, skoene of vergete toebroodjies wat my laat uit die huis het nie, maar die skootrekenaar se swart toerits-sak.

Ek is later hier uit met die rekenaar kaal in my hand.

By die kombuisdeur val my oog toe op die rooi plastiekskotteltjie met die 3 sywurms wat Klaradyn Vrydag by 'n maatjie gekry het.

Ek en Sussie het gisteraand gestap om te gaan blare kry, maar verniet of ek die blare in die yskas kan opspoor.

So daar is ek toe met die sywurms motor toe.

Ek trek toe maar langs die pad af by ons naaste moerbeiboom en pluk vir die wurms kos.

Ek was betyds, net-net.

Die sywurms wat ons present gekry het, het my laat dink aan die kennisgewing wat ek vroeër die naweek in 'n winkel gelees het: Unattended children wil be given espresso to drink and two baby bunnies to take home.


Blou is beslis my kleur




17.9.11

Ek lig ook my hoed


Ek het respek vir ouderdom.

Ou mense kan moeilik wees, maar formidabel ook. (Klaradyn, graad 1, wou iewers verlede maand van haar juffrou weet hoe om formidabel te spel – hulle was besig om hul eie sinne te skep.)

My Leonard Cohen CD is ‘n The Best Of wat in 1975 op swart viniel vrygestel is.

Ek luister dit baie min.

Dis 'n algemene feit dat die man, met die uitsonderling van die laaste klompie jare, aan depressie gelei het; ek val, as ek na sy musiek luister, dan 100% by hom en sy gemoedstoestand in. So die spreekwoordelike skeermeslemmetjies word eers gebêre alvorens ek my CD in die speler sit.

Ja, en dan was daar so drie of vier geleenthede in 1989 op 1990 dat ek die ligte in die woonstel afgesit het, vir myself 'n whisky geskink het en dan plat op die grond na sy musiek gaan luister het.

Ah, les bon vieux temps ou nous etions si malheureux. (O, die goeie ou dae toe ons so ongelukkig was.)

So eintlik bly ek van die man en sy musiek weg.

Hoor ek dit terloops, geniet ek elke oomblik.

En sit ek dit die dag op, dan is dit met nostalgie na my beginjare as onderwyser toe ek so op die grond na die man gaan sit en luister het.

Annieka ken weet ook wat ek bedoel as ek sê:  “Ek luister hierdie man net alleen, in die donker en met 'n whisky in my hand.”

Die goeie nuus, natuurlik – ek het seker in 15 jaar nie whisky in my huis gehad nie.

Ook 20 jaar dat ek die man nie in die donker geluister het nie.

Maar beweeg die man se musiek by my ore in, is dit eerste my bloed wat daarop ag slaan en begin tintel, vibreer en ritteltit my hele wese binne oomblikke in reaksie op die klanke.

En toe, so vier maande gelede, nooi 'n vriendin my een middag na skool in haar klas in:  “Ek wil hê jy moet kyk na hierdie konsert van Leonard Cohen wat opgeneem is toe hy pas 75 geword het.”

Dit was asof daar een van daardie wonderlike Oktober-donderstorms deur my kop gegaan het. Ek weet dit maak nie sin nie, maar ek weet nie hom sinne te heg aan dit wat ek daardie middag beleef het nie. Ek onthou hoendervleis, ongeloof en nuwe agting vir ouderdom.

Om die man met kaas of wyn wat beleë geword het te wil vergelyk, is banaal.

Nee, ek moet liewer nie eers probeer nie.

Laat ek dit so stel:  niks van die euforie wat ek die middag beleef het nie kom naby die teleurstelling toe ek 10 minute later my CD (die 1975-opname) in die motor se CD-speler druk nie.

Ek is na 29 jaar steeds nie seker wat studentikoosvermakerig beteken nie, maar na ek die CD ingesit het, was die eerste woord wat deur my brein gegaan het (na die donderstorm/eerste somerreënbui van vaneffe) studentikoosvermakerig. En luister ek die man so, so soos hy in 1975 geklink het, dink ek dat ek uiteindelik weet wat studentikoosvermakerig beteken.

Dis ongelooflik hoe studentikoosvermakerig die hippies van die laat sestigs nie was nie.

Op hierdie DVD van my vriendin – Leonard Cohen Live in London – sing hy natuurlik bykans elkeen van daardie The Best Of’s van 1975, maar om die twee en 'n half uur wat die DVD lank is vol te maak, ook nog bykans elke treffer wat daarna gevolg het.

En vir die eerste keer spreek die man en sy musiek tot my, vir die eerste keer sing hierdie man mooi – ek het myself vir amper 30 jaar net verbeel die man sing mooi, myself net wysgemaak die man se musiek pluk aan my wese se snare. Ek het die pot mis gesit, myself 'n rat voor die oë gedraai.

Dis soos 'n mens wat sy ganske lewe nog geen vorm van suiker in sy dieet gehad het nie, wat skielik sy eerste happie heuning geniet.

Dis 'n nuwe ervaring, 'n nuwe eerste.

Toegegee die bariton van die sestigs en sewentigs het intussen met die registers afgeklim tot 'n lieflike bas.

Maar dit gaan nie oor 'n stem wat in veertig jaar verander het nie, dit gaan oor liedjies wat met veertig jaar meer ervaring gesing en interpreteer en vertolk word. Elke gedagte wat die man agter elke sin insit is gelaai met veertig jaar meer se rypheid.

O, die ouderdom is 'n wonderlike ding.

Ek het onlangs gesien/gehoor/beleef wat 20 jaar aan Laurika Rauch se vertolking Brel gedoen het.

Dis ongelooflik wat 40 jaar se rypwording aan Leonard Cohen se oordrag van sy eie lirieke gedoen het.

Na bykans twee en 'n half uur van die DVD voel jy, veertig jaar later, geensins depressie naderkruip nie. Die man skryf sy veranderde lewensuitkyk toe aan die Zen wat hy die afgelope klompie jare beoefen.

Ja, hy is steeds 'n toegeweide Jood, wat selfs op toer die Sabbat heilig; die vorm van Zen wat hy aanhang verwag egter geen vorm van aanbidding of toewyding aan enige vorm van 'n godheid nie, daarom dat dit geensins inbraak maak op sy Joodse godsdiensbeoefening nie.

So ja, die man sin veertig jaar later dieselfde liedjie op 'n ou deuntjie, maar ook die selfde deuntjie met 'n nuwe liedjie (of is dit dieselfde liedjie op 'n ander deuntjie?)

Ek kan ongelukkig aan baie vriende dink wat hulself eerder sal straf met 'n kompilasie van Worsie Visser se liedjies as om na Leonard Cohen te luister; dis ongelukkig tot hul eie nadeel.

Maar enige iemand wat nog ooit, selfs al is dit net een keer, op Leonard Cohen reageer het met 'n sjoe, dit was nou mooi, moet hom- of haarself die guns doen en probeer om die CD/DVD net een keer te beleef. Daarsonder sal jy ongelukkig eendag 'n armer mens sterf.

Youtube kan nie reg laat geskied aan die DVD nie, maar hier is enkele lusmakers:

Anthem



16.9.11

Blye Feesdae



Watter of wie se plaas dit was, weet ek ongelukkig nie meer nie. Dit was beslis nie een van die plase wat ons gereeld besoek het nie, want dan sou ek onthou het.

Ek sien die vertrek voor my, nie veel groter as my huidige studeerkamer nie, ‘n hoë trap wat lei na die houtdeur. Deel van ‘n buitegebou.

Binne was ‘n groot houttafel soos die boere gehad het, en baie houtrakke teen die kante. Ek onthou die rakke leeg. Dit was ‘n werksplek, nie ‘n stoor plek nie, en ek stel my vandag voor dat die vertrek met die loop van die seisoene en die normale sikliese gang op ‘n plaas, na gelang van die betrokke aktiwiteit, deur die loop van die jaar vol verskeie dinge gestaan het. Plek vir vier of meer pare hande om die tafel, was daar beslis.

Met my besoek aan die vertrek was daar ‘n ding, vasgeskroef soos ‘n koffie- of vleismeuletjie. Maar vleis- of koffiemeuletjie was dit beslis nie, eerder iets wat my as jong seun herinner het aan ‘n eierklitser. Net, selfs al draai jy die hingsel, kan daar beslis niks daarmee geklits word nie. Die “klitser” self kyk 180 grade dwars, en daar is nie ‘n manier of hefboom wat die ding 90 grade in ‘n mengbak staan kan maak nie.

Ek het al een keer in my lewe daarna weer so ‘n kontrepsietjie gesien. In ‘n museum iewers. Die Jan Smuts-huis? Melrose-huis? Maar dit kon net sowel op Stellenbosch, Darling of Clarens gewees het. Dit sou kon deurgaan as ‘n laat-Victoriaanse-utensil, hoewel daar heel moontlik ook van hulle kan wees wat heelwat jonger is.

Dit was naamlik, wat ek sou noem, ‘n gadget wat geelperskes skil. Jy het die perske hier van sy ners af penetreer met ‘n iets, hom stewig sit gemaak en slinger gedraai. Die goed wat my aan ‘n eierklitser se draadwerk herinner het, het dan hier van buite af korte mette met die perske se skil gemaak. Groot perskes, kleinerige perskes, heel klein perskes en outsize perskes, dit maak nie saak nie. Daar moes ‘n veertjie of ding gewees het wat die se middellyf takseer het en sy lemme het net gesny tot daar waar die skil ophou en die vleis begin.

Te lieflik. Daar was perskes in die boord, so ek kon heerlik speel.

En dit is, vermoed ek ten sterkste, waar dit alles begin het — my fassinasie met ‘n kontrepsie, utensil, of gadget. Hoofsaaklik toegespits op die kombuis, met tog ‘n natuurlike aantrekkingskrag vir enige iets wat elders ook gebruik kan word, van die skrynwerker se werksbank tot die swembad se aorta, hartkamer, lewer en niere...

Nie ek wat vandag so sê nie, ek wat 'n jaar of wat gelede so gesê het. Hierna klets ek nog dik stukke oor al die wonderlike kombuisgoeterstes wat my pad gekruis het – gaan kyk gerus, ek het dit vroeë op Ougoed aan die vergetelheid ontruk.

En vergetelheid was dit beslis.

Tot vanmiddag by die inkopiesentrum waar ek in seker 13 jaar nie was nie. Dit kan 15 ook wees. Of 8. Hoewel ek twyfel – van ek en Annieka getroud is, glo ek nie was ek al ooit daar nie.

Ons is Glenfair-sentrum toe om Klaradyn se bril op te tel. Goeie ou Glenfair-sentrum wat toe Glenfair Centre geword het. Ek sien die mense wat daar huur, verwys deesdae na hom as Glenfair Boulevard, maar dis seker maar net vandat die nuwe teater en uithangplekke van die jaar daar neffens oopgemaak het.

Toe ek destyds Pretoria toe gekom het (1989) het ek om twee redes die motor se neus in daardie rigting gestuur:  eerstens om 'n adrenalien-rush in Alma-slaghuis, of Die Duitse Slaghuis, soos ek na hom verwys, te beleef. Die plek se vleise, worse, kase, vleisbrode en wat ook al, is vir my vandag nog steeds van die lekkerste goed om myself mee te omring.

Met grootste (en grootse) selfbeheersing dat ek daar kon uitstap met nog 'n sent in my sak oor. Maar ek moes nie, want die ander rede om daar te stop was Walter’s Feinkost, die Duitse delikatessen. O, dit was 'n jammerte toe hierdie man die dag sy besigheid, na al die jare toemaak, en sy rug op Suid-Afrika keer.

Die Duitse Slaghuis het net geskuif, maar toe Walter se delikatessewinkel sy deure eers toemaak, had ek geen rede om weer daar te kom nie.

Tot vanmiddag met die bril. (En lyk die kind nie lieflik nie!)

Ek soek botter (vir die lekker vars ciabatta wat ons op pad by die nuwe bakkery gekoop het) en maak gou 'n draai in Checkers.

En daar sien ek dit, halfpad op pad botter toe, seker veertig van die goeterstes – nie Laat Victoriaans, soos ek die een op die plaaswerf onthou nie, maar onmiskenbare dieselfde patent, net met 'n eietydse een-en-twintigste-eeuse charisma.

(Besoek gerus die bron van hierdie foto -
ek is die mense baie dank verskuldig)
Ek kan dit steeds nie glo nie.
Die skaapribbetjie (en ek het al iemand oorgenooi om te kom saam eet – gelukkig kon sy nie kom nie) word toe summier op die spreekwoordelike ys geplaas tot moreaand.

Sodat ons kan vrugteslaai eet. (Ja, ons eet vrugteslaai vir aandete. Wat is verkeerd daarmee?)

En vanaand is daar selfs brood en botter by, sou jy jou verbeel jy is nog honger.

En toe ons klaar het met die appels en pere, en die vrugteslaai staan om geur te trek, toe skil ons ertappels vir môreaand se  ribbetjie.

O, hy werk soos 'n droom.

Ek dink ek gaan more terug om nog drie te koop.

Vir presente.

Nou wil ek perskekonfyt kook.

Hoe lank nog? (Voor dit weer persketyd is?)

15.9.11

Klaradyn kry bril


As my kind vanmiddag na vyf haar voet in hierdie huis sit, is dit met 'n bril oor haar oë; volgens wat Mamma te vertelle het, 'n aanvallige pienke (hoe dan anders met 'n dogter soos Klaradyn en dit op 7).

Voor Donderdag verlede week, het ek in my lewe nog nooit van astigmatisme gehoor nie; vandag onthou en spel ek hom selfs reg en moes ek gisteraand op meer as een webwerf lees dat hierdie verskynsel die mees algemene rede vir 'n besoek aan die oogarts is, meer algemeen selfs as ver- of bysiendheid.

Uit ons drie se eie, voorsien ek nie, sou ons daarvan bewus geword voor oor twee of drie jaar nie.

Vandag weet ek nie eers hoe dit gekom het dat 'n besoek aan die oogarts op die tafel gekom het nie.

Oor ek nog nooit daarvan gehoor het, dog ek eers dis 'n modeverskynsel soos draadjies in 'n mens se tande – die geslag voor my het met hoogste uitsondering daarmee in hul monde beland, my geslag kon amper nie groot kom daarsonder nie.

En toe ek eers hoor dat dit nege-en-negentig-komma-nege-nege-keer oorgeërf is, toe vermoed ek eers onraad: ek en Annieka, as ons dit het, het dan niks daarvan oorgehou nie; dit het ons geen skade aangedoen nie.

Dit lyk my egter vandag dat ek verniet hond se gedagte gehad het – dis net toeval dat ek nog nooit met die woord kennis gemaak het nie. Straks is die woord 'n getroue vertroueling van my – in my laerskooldae, toe ek bril gekry het, het hulle bloot net brille uitgedeel, nie woorde en name vir oogtoestande nie.

Annieka herken ook nie die woord uit haar besoeke aan die oogarts en die rede vir haar bril nie; die woorde en manier waarop die toestand beskryf word, wel.

Die grootte van die letters waarmee ons dogtertjie in graad 1 uitgedaag word, maak dat sy vir lank nie sal sukkel nie; dis eers volgende jaar en later, wanneer die verskynsels al 'n negatiewe invloed op haar skoolbelewing kon gehad het, dat sy ongemak met lees en fokus sou ervaar. En dan het ons straks die oorsaak vir maande op 'n ander plek gaan soek, terwyl dit al die tyd nie reg onder haar neus nie, maar vlak bo haar neus lê.

En hoewel ons haar lense maklik sou kon aanspreek met 'n bril, sou die skade aan haar akademiese selfbeeld klaar gedoen wees.

So ja, ek is bly ons het dit so vroeg, sonder trauma en enige skade, opgespoor en kan dit aanspreek – hoeveel miljoene mense is daar nie wat lewenslank daarmee sit sonder dat hulle daarvan bewus is, dit 'n naam kan gee, en iets daaraan kan doen nie.

So stof tot dankbaarheid, het ons baie van.

Ek dink ek het verlede week dadelik reg reageer – my hele wese het summier nie vir 'n enkele oomblik skok of teleurstelling uitgestraal nie, ek het vanuit die staanspoor positief oorgekom.

Synde ek selfs sedert vroeg op laerskool met lense sit wat my eie lense moet aanspoor en ondersteun, is dit nie vir my vreemd, of iets om teleurgesteld of geskok oor te wees nie.

Dit bly egter beslis nie iets wat jy jou kind toewens nie – my eerste reaksie was, en sal bly, dat dit 'n jammerte is, dat ek my kind nie so vroeg met 'n bril opgesaal sou wou sien nie. Maar ek het daarin kons slaag om dit nie aan Klaradyn te kommunikeer nie.

Die gevolg is dat, die gevolg daarvan maar van nog baie ander dinge ook, is dit Klaradyn huidig geen negatiewe belewing van die bril het nie. Ons hoop maar dit bly so.

As sy hom natuurlikwegfoeter of breek, is ek daarvan verseker en heilig oortuig, gaan daar ontsettend baie negatiewe vibes en ervarings en woorde en handelinge en golwe en auras en strale en uitstraling rondom die bril wees.

Maar daardie perd saal ons eers op as dit nodig is, en as alles goed gaan, is dit nooit nie.

Ek is optimisties versigtig vir vanmiddag – Annieka het glo gevra of dit so moet wees dat al die brille so buitengewoon groot op die kinders se gesigte moet vertoon; die dokter het laat val dat dit inderdaad so is, juis omdat die kinders se gesiggies nog so klein is.

Hulle kon Klaradyn ook nie afgesien kry van haar aanvanklike pienk hartskeuse nie – gelukkig darem nie dat dit nodig was om haar daarvan te laat probeer afsien nie. Ek noem dit eerder net as bevestiging dat Klaradyn tot vanoggend nog redelik sterk positief oor die ding voel.

Ons praat later weer.


Die foto van die bril is deur Frank Muller vir gebruik beskikbaar gestel.

13.9.11

Die spreekwoordelike kinders van vandag

Hoeveel jaar is dit nie nou al dat ek iewers in Angola, of Mosambiek dan as dit moet, op 'n sendingstasie wil gaan skool hou nie?

So lank dat die droom vervaag, so lank dat ek later my Portugees-sprekende vriende verruil vir ander in Botswana, Zaïre of by gebrek aan 'n geskikte Katolieke of Protestante sendingstasie, selfs die Noord-Kaap.

Hierdie droom het die afgelope weer 'n hernude oplewing beleef.

Maar ek is bevrees onbaatsugtige liefdesdiens en onderwysgeroepenheid het hierdie keer onder die son niks daarmee te maak nie – bloot die feit dat die afsondering in wil vlug, met my vrou en my kind... om my kind die uitlewering aan die een-en-twintigste eeu te spaar!

Ek soek nie selfoonopvangs nie, geen kort- en mediumgolwe wat boodskappe via radio of beeldradio by ons huis kan uitbring nie.

Hulle sê hierdie hoogsbeweeglike duime aan ons hande, die duime waarmee ons en die ander primate gebore word, in die geval van die mens selfs nog verder aan die beweeg en wikkel en ontwikkel is – alles glo te danke aan die selfoon en die vaardighede wat dit in die duime ontwikkel.

Te danke aan? Se voet! Te wyte aan.

Ek is allermins 'n doemprofeet wat van soggens tot saans loop en sanik oor die gevare wat die nuutste tegnologie vir die mensdom inhou, maar dat hierdie tegnologie vir 'n generasie sorg waarvan ek bly is ek nie 'n deel is nie, is 'n feit.

Elke opdraande het 'n afdraande, elke positief word uitbalanseer deur 'n negatief, maar in hierdie geval wonder ek of die vaardighede wat taan en afgestomp word, nie by verre meer is as die enkele vaardighede wat ontwikkel en opgeskerp word nie.

Lankal dat mense geluide maak van die kinders se interpersoonlike kommunikasievaardighede wat daaronder lei, sosiale IK’s wat afneem.

Rondom my ma se afsterwe laai Annieka, vir die eerste keer in 'n maande – indien nie die eerste keer hierdie jaar nie – die graad 10-seun wat soggens saam met my skool toe ry, op.

Nie: “Haai, waar is Meneer vanmore nie.”

Die volgende rybeurt, toe ek weer terug in die tuig is, ook nie: “So jammer om te hoor van Meneer van se ma nie.”

Net die altyd goed-gemanierde “goeie more” en toe stilte vir die volgende 15 km skool toe, want Boeta “gesels” in gebrekkige Afrikaans met 'n power spelvermoë oor die een-of-ander-bessie met sy vriende. Maar of dit nou 'n black- of blueberry is, en wat die verskil is, sal ek nie weet nie.

En dis geensins 'n aanklag teen, of aanval van, die seun nie – hierdie is een van die oulikste seuns in sy graad, die slimste seuns in sy graad, die presterendste, skranderste kêrels, nie net in sy klas nie, maar in al tien graad 10-klasse.

Hy verteenwoordig bloot 'n hele generasie.

Terwyl ons nou deesdae so in stilte ry en ek aan talle voorstelle kan dink oor maniere waarop ons van die stukkie tegnologie in sy hand ontslae kan raak, hou ek die oggendverkeer om my dop, in besonder die twee robotte voor die skool.

Wat sien ek? Waarmee word ek omring?

Kinders wat afgesonder, afgetrokke in hul eie klein sellulêre wêreldjies sit en mxit, of wat dit ook al is wat hulle deesdae doen. Ma of Pa sit en bestuur, luister musiek, probeer nie eers 'n geselskap aanknoop nie, want elke skoolkind wat ek by die verkeerslig in die motor neffens ons s'n raakloop (en miskien is dit toevallig gewees, ek weet nie) is aan het “klets” met die manipulering van sy of haar duime en ander vingerpunte.

Onder die mooiste volmaan in maande, word Klaradyn Vrydagaand ingewei as Voortrekker.

Na ek vir jare gemaak is om op aandag te staan vir my land en sy walgenswekkende politieke bestel, staan ek vir geen niks en niemand meer op aandag nie, nie as die Springbokke speel en die Nasionale Lied speel nie, nie as die skool sy skoollied na die een of ander oorwinning sing nie, nie as my pa se kis met volle militêre eerbewys in sy graf afsak nie.

Maar ek respekteer elke landsburger en individu se reg en behoefte van sy hart om op aandag te wil staan, ek sal nie disrespekvol sit en gesels nie, ek staan regop, en stil, tot die oomblik wat gewy word oor en verby is.

En die Voortrekkers staan mos uit die aard van hul saak, graag op aandag.

So toe die segsman agter die mikrofoon, voor die afneem van die penkoppe en drawwertjies se belofte van getrouheid, vra dat ons op aandag sal staan vir die duur van die kort seremonie, toe is ek amper eerste op.

En daar begin Annieka met my praat, ek kan dit nie glo nie, maar leun tog so effe na haar kant toe, om te hoor wat sy sê:  “Hou daai kinders agter die klankman dop.”

My oog beweeg na daar waar 'n jong seun agter 'n klankselsel ingeskuif sit. En ek sien twee dogters, duidelik nie Voortrekkers nie – want hulle is in gewone klere en nie in spandrag saam met hul maats by die res van die outjies nie, sit.

Sit, sonder om op te staan, soos elke ander mens (met uitsondering van die klankman) by die saamtrek doen. Want hulle registreer nie een wat om hulle aangaan nie – hulle is elkeen in vinger-gesprek met hul maats.

Ons het daarna nog drie keer gestaan, twee keer vir die afneem van 'n volgende groepe se belofte, en een keer vir 'n gebed – maar daardie twee was aan het gesels. Nie met mekaar nie, nie met die tong nie maar met die duim.

(En vir al wat ek weet, was hulle straks met mekaar in gesprek – daar word lankal gespot dat vandag se generasie tieners vanuit die selfde saal via satelliet al geselsende vir mekaar sal boodskappe stuur.)

Ek is oortuig daarvan dat hulle elkeen lewendig in vuurkolom weggeraap kon word Hemel toe, en voor die Poorte sit gemaak gewees het, hulle sou dit nie registreer nie.

En dan merk ek gister 'n gat in die klas voor my op. Ek vra waar die seun is wat gewoonlik daar sit en die antwoord kom dat hy afwesig is, vir die eerste keer hierdie jaar. Ek vra wat dit is wat hom makeer.

Maar hulle kan my nie sê nie.

Hoe keer 'n ouer dat sy kind wat tegnologiese vaardighede betref, so opgeskerp word, dat die kind totaal en al, geheel en al, afgestomp word?

Hoe hou jy haar in die wêreld, maar nie van die wêreld nie?

En is dit moontlik?

Ek weet nie.

Maar 'n sendingstasie iewers in die bos, daar waar ons nie te wyd kan gaan loop nie want die omgewing is steeds vervuil van die landmyne wat gedurende die oorlog geplant is, het hierdie week, om ander redes en motiewe as gewoonlik, uitnodigend voorop in die gedagtes gespring.


6.9.11

Die verjaarsdag ensomeer

Toe ek begin verlede week iets rondom Klaradyn se verjaarsdag soek om op my Ougoed-blog te pos, toe keer die volgende drie paragrawe uit verlede jaar se vertelling my, juis omdat ek myself nie wou herinner aan hoe gat dit ‘n jaar gelede vir my was om vir ‘n gesinsverjaarsdagete aan te sit, en dit met Judy nie soos altyd by ons nie, maar net om die draai in die ouetehuis nie:

“En toe tjank ek Sondag heerlik onder die tafelgebed wat ek Annieka gevra het sy my swaer moet vra om te doen:  dit was die eerste verjaarsdagete sonder Ouma Nooi.

Ek was Sondag daar om haar op te tel, maar ek het geweet dit sal ‘n onreg teenoor myself, teenoor my ma, en die ander gaste wees. Dit was Sondag twee dae dat ek gevoel het ek gaan kuier by ‘n vegetable. Miskien was dit twee af dae, ek sal vanmiddag sien; miskien gaan sy net baie vinnig, baie drasties agteruit.

Maar Ouma was daar, in die poeding (een van haar resepte) wat Annieka gemaak het, en toe ek die kouevleis in die bord pak en ek donder en plak dit nie sommer net op die bord nie, toe weet ek dis ook hoe my ma dit sou gedoen het.”

Nogal ironies, want twee dae later toe is die vrou nie eens meer in die ouetehuis nie.

Maar nee, ek sal lieg as ek sê dat my verjaarsdag in die skadu van Judy se dood gestaan het.

Ek regresseer na daardie kinderdae waarvan ek vroeë vertel het:  ek verbeel my ons afgestorwe geliefdes hou ons van iewers op 'n wolkie dop.

En dit sal beslis nie ons dierbare ou vrou se goedkeuring wegdra as ek toelaat om ons gesinnetjie se feesdag op te foeter met trane en dweep nie.

So ons het 'n heerlike dag gehad – wat afgeskop het met my gunsteling ontbytkos, en dit nogal in die bed:  Griekse Joghurt met heuning en kasjoeneute.

Wat dit lekkerder as enige vorige keer wat ek dit nog ooit geëet het, gemaak het, is die feit dat Klaradyn dit vir my voorberei het – alles, self.

Annieka is regtig die fynste van fynste fyn waarnemers as dit by die keuse van verjaarsdaggeskenke kom. Ek kan nie voorgee om iets te wil hê wat ek nie regtig wil hê nie, sy kom dit agter. Maar van oor 'n afstand van etlike rakke moes sy my lyftaal sowat 'n maand gelede fyn dopgehou het – want toe ek haar pakkie oopmaak, toe is dit die einste boeke waarin ek my verdiep het. (Die enigste rede waarom ek daardie dag nie roekeloos geraak en die goed gekoop het nie, was omdat dit Klaradyn se verjaarsdagmaand was en ek geweet het daar lê nog baie uitgawes voor.)

Van Klaradyn, iets van Russell Hobbs, vir die kombuis, waarsonder ek nie kan klaarkom nie.

Klaradyn het, sonder dat sy eintlik regtig weet wat dit is, voorgestel dat Annieka vir my 'n GPS aanskaf.

Annieka het versigtig navraag gedoen, maar eintlik het sy geweet wat my reaksie sou wees:  wat op deeske aarde moet ek met 'n GPS doen, daarsonder doen ek bloot net wat ek die laaste 40 doen.

Gelukkig het die kind se voorkeur getaan die oomblik toe hulle vir Oom Russell Hobbs in die winkels raakloop.

Toe skiet ons deur Hartbeespoortdam toe om daar by die Kaasplaas, op die walle van een van die Wilgerivier se sytakke 'n piekniek te geniet.

Aanvanklik sou ons die hele naweek veld toe gaan – Pilanesberg toe – dis soorts van tradisie oor my verjaarsdagnaweek, maar daarvan het toe nou niks gekom nie

Ja, dis opvallend hoeveel makliker die gedagtes na Judy spring, sonder om alleroorheersend te wees. Ons sal wegry by die Kaasplaas, en ek sal onthou dat ons hier regs is saam met Judy die keer toe ons na die plaas is waar ek my donskomberse laat herstop het.

Dis nou nogal 'n lang en hartseer storie, vir 'n sentimentalis soos ek. Ek sit met twee donskomberse van Oorle’ Ouma van Wyk (en dan praat ek al van my oorle’ ma, en vir jare al van my oorle’ ouma, juis omdat Ouma van Wyk so van oorle’ hierdie een en oorle’ daardie een gepraat het). Van oorle’ Ouma Moolman het ek ook vier gansdonskussings.

Ek wil Ouma se twee donskomberse saamvoeg in 'n duvet vir Klaradyn en dan kan ek sommer ander ouma se kussings bywerk.

By die skou loop ek toe die donkombersmense raak – ja hulle sal my help.

Ek en Annieka, Klaradyn, Ouma Nooi (my ma) en Ouma Wiesie (skoonma) skiet toe deur; ons maak dit 'n lieflike uitstappie met 'n besoek aan die Hartbeespoortdam-hoogtepunte.

Ai, en toe ek 'n maand later my donsduvet terug kry, toe het hulle van nege tiendes van my dons ontslae geraak en hulle nuwe dons bygesit – oor my dons glo platgeval en uitgewerk en te oud was.

O, ek was die hel in. Dit het vir my geensins oor die veerkrag van die dons gegaan nie, dit was die herinnering, die sentiment, die verlede wat ek vir Klaradyn wou bewaar. Hoeveel mense sal eendag kan sê dat hierdie duvet van haar oorspronklik haar twee ouma grootjies se donsbeddgoed was?

Maar so is daardie droom van my toe nou die drein af.

Meer nog toe ons vir Klaradyn eerder skaapwol in haar duvet moes kry – die kind het 'n allergiese reaksie op dons en word soggens siek wakker as sy aan te veel dons blootgestel is.

Ewentwel, was Judy nog in die lewe, sou ons besoek aan die gansboerdery nie deur my gedagtes geflits het nie, maar Sondag toe skiet dit deur my gedagtes toe ek opkyk Skeerpoort se rigting toe.

Die musiek in die motor neem my in 'n stadium terug universiteit toe. Toe onthou ek, wat ek andersins nooit sou onthou het nie, Marianne Faithfull se plaat uit my universiteitsdae en ek dink aan Ballad of Lucy Jordan. In daardie jare het die liedjie my al met deernis aan my ma herinner. Toe nou Sondag in die motor weer.

Veral na ek in aanloop tot die begrafenis by herhaling gedink het hoeveel beter sy verdien het as wat sy gekry het, hoeveel onvervulde drome, waarvan ek niks weet nie, daar miskien nie in haar is nie:

The morning sun touched lightly on the eyes of Lucy Jordan

In a white suburban bedroom in a white suburban town

As she lay there 'neath the covers dreaming of a thousand lovers

Till the world turned to orange and the room went spinning round.



At the age of thirty-seven she realised she'd never

Ride through Paris in a sports car with the warm wind in her hair.

So she let the phone keep ringing and she sat there softly singing

Little nursery rhymes she'd memorised in her daddy's easy chair.



Her husband, he's off to work and the kids are off to school,

And there are, oh, so many ways for her to spend the day.

She could clean the house for hours or rearrange the flowers

Or run naked through the shady street screaming all the way.



At the age of thirty-seven she realised she'd never

Ride through Paris in a sports car with the warm wind in her hair

So she let the phone keep ringing as she sat there softly singing

Pretty nursery rhymes she'd memorised in her daddy's easy chair.



The evening sun touched gently on the eyes of Lucy Jordan

On the roof top where she climbed when all the laughter grew too loud

And she bowed and curtsied to the man who reached and offered her his hand,

And he led her down to the long white car that waited past the crowd.



At the age of thirty-seven she knew she'd found forever

As she rode along through Paris with the warm wind in her hair ...



As ek gelukkig is, hoor ek hierdie liedjie nooit weer in my lewe nie.

Om van Lara’s Theme en Blue Spanish Eyes nie te praat nie.

Ek sal tien teen een aan die drink gaan as Lara se tema weer deur my kop moet gaan.

En die blou Spaanse ogies waarvoor sy so lief was het my tot twee jaar voor haar dood fassineer:

Haar peetkind se oudste trou. Ek en Annieka en Ouma Nooi en Klaradyn sit af berge toe vir die troue. Jac en Bev vlieg van die Kaap af vir die geselligheid. Die twee oues is Judy en haar oorle’ broer se vrou. Van Judy se brein is min oor, baie min. Voor ek haar vroegaand kamer toe neem om te gaan slaap, sit ons om die troue se kuiertafel en die orkes speel Blue Spanish Eyes.

My ma het die hele aand, op 81, nie een keer op die musiek reageer nie. Die oomblik toe haar gunsteling speel, lig sy die kop en deel met almal aan die tafel:  “Hoor net daar, is dit nie mooi nie!”

Dis wonderlik om wonderlike herinneringe te kan hê.
En aan die drink sal ek tog nou nooit eendag by die aanhoor daarvan gaan nie; aan die tjank wel.
Maar dit sal lieflike tjank wees.

En dis 'n voorreg. So baie mense het nie noodwendig wonderlike herinneringe waarvan die hart kan oorloop nie.

My skryf daarvan en gesels daaroor is niks anders as die koestering van hierdie mooi en goed nie.