Pages

8.7.11

Sonde met die honde

Ek het reeds van my grootste verleentheid in die onderwys vertel.

Gister het ek, danksy Annieka, my ander grootste verleentheid, hierdie keer buite die onderwys, vrygespring.

Danksy Annieka, ja, maar ook te wyte aan. Ek wou nie in daardie stadium 'n derde hond hê nie, twee of drie of vier jaar later, ja, maar nie tóé nie.

En oor dit makliker is om Tafelberg manalleen op sy kop te keer, as om manalleen 'n vrou wat reeds haar kop op 'n ding gesit het, daarvan weg te keer, kry ons toe die hond.

So kry ons gisteraand, drie of vier jaar later, gaste. Hulle is weg. Ons slaap. Lankal. Ek word daarvan nie wakker nie, maar van Annieka wat langs my sê:  “Daar stamp een iets van die rak af.”

Ek wonder nie watter hond dit is nie, ek wéét. Annieka weet ook. Ons wonder in  stilte watter bord of skottel of bak of ding dit kan wees waarvan die skerwe nou agter 'n smaak of geur oor die vloer gelek word.

Die honde het toegang tot die kombuis van die huis en vandat die jongste van die drie ouderdom bereik het waarop sy hoog en groot genoeg was om die rak by te kom, het ons geleer om niks binne bereik van die teef te los nie. Ek het die antieke kombuistafel uit Annieka se voorgeslag met 40 cm moes verhoog, die kombuisstoele met kroegstoele moes vervang – hierdie hond klim op die tafel en as daar niks te ase is nie, blý sy daar lê om te slaap – sy glo vir vier jaar nou al dat sy iets sal oorkom as sy nie met haar gat iewers in die lug slaap nie, of dit nou op 'n tafel, 'n stoel, 'n drom, 'n kruiwa of Klaradyn se klein plastiek kindertafeltjie buite by die agterdeur is.

So een maal elke ses maande verslap ons natuurlik ons waaksaamheid rondom die rak so 'n aks, maar word dan spoedig daaraan herinner: 'n pond botter, 'n blok kaas, 'n pakkie koekies, 'n kardoes  met biltong of droë wors... Die hond het 'n jaar terug glads 'n boks rottegif opgevreet – en verdomp niks daarvan oorgekom nie.

Nou na hierdie hond wat die bord of bak of ding...

Nee, ek het nagelaat om te noem ons kan ook nie meer sommer enige kombuisasblik hê nie. Daarin kan ons ook nie sommer meer enige iets gooi nie. Die asblik kan ook nie meer op enige plek in die kombuis staan nie, nog minder op enige manier gedraai wees. Of dié betrokke hand wat ek nie wou gehad het nie, wat ek geweet het ons nie tóé, op daardie vroeë stadium vir Klaradyn moes aanskaf nie, is gat oor kop in die asblik ook in. En nie lank nie, of alles lê oor die kombuisvloer gestrooi.

En nou dat Klaradyn stadig maar seker groot en oud en selfstandig genoeg word vir die wonder van 'n babahondjie van haar eie, is hier nie plek en geld en ruimte vir 'n vierde op hond op hierdie erf van ons nie; mis sy uit op 'n ervaring wat ek weet vir 'n kind soos haar ontsettend verrykend sou wees.

As ek kon het ek die hond dierebeskermingsvereniging toe geneem en daar gelos. As mense nog soheentoe gaan om diere te kry, kry hierdie hond dieselfde dag as sy daar aanland nog 'n nuwe eienaar. Sy is, so ver dit patryshonde betref, een van die mooistes wat die natuur nog ooit opgelewer het. Dis eintlik jammer 'n neem nie meer foto’s van mooi honde en sit dit op sjokoladebokse en koekblikke nie, want dan het ons nog stinkryk geword uit die hond uit. Annieka sou die onderwys bedank het en as die hond se agent en bemarker opgetree het. Kort voor lank sou die span uitgebrei moes word, en ook ek sal die onderwys moes verlaat.

Maar, helaas, hulle sit nie meer foto’s van honde op die bokse en goeters nie. En nee, ek sal die hond nooit in my dag des lewens dierbeskermingsvereniging toe neem, of van ontslae probeer raak nie. Die dag wat jy 'n dier in die oë kyk en hom 'n naam gee, so het my pa my geleer, word daardie dier joune en is hy jou verantwoordelikheid.

Nou na hierdie hond wat die bord of bak of ding heelnag oor die vloer lek, kan ek ook nie heelnag luister nie; ek is op, af met die alarm en af in die gang.

Dit is toe ook so en niemand anders nie. Gelukkig ook nie 'n opskepskottel of groot opdienbord wat gebreek het nie, maar 'n gewone eetbord wat aan skerwe lê.

Ek boender die hond by die hondedeur wat ek in die kombuisdeur gemaak het uit, en sit 'n stoel voor die flap dat sy nie kan inkom nie. Vannag slaap sy buite in die koue en mis uit op die sagtheid en warmte van die beddegoed wat wintersaande saans in die kombuis op die honde wag. (Ongelooflik hoe kleinlik en domonnosel 'n groot en slim, kwansuis “volwasse” mens soos ek, nie kan wees nie!)

Ek oordryf as ek sê Annieka het my vier keer wakker gemaak, sy het my drie keer wakker gemaak. Die eerste keer toe die aasdier toegeslaan het, die tweede keer toe die aasdier van buite begin blaf het om in te kom, en die derde keer toe die twee wat binne was aan die deur begin krap het om buite te kom.

Iewers by ronde twee of drie impliseer sy ek moet opstaan en die hondeflap weer oop flerts. Ek laat weet dat as ek weer uit die bed opstaan dit slegs sal wees om 'n graaf of pik of vurk in die motorhuis te gaan sodat ek die teef se kop vir kan paneelklop.

Nóg iets wat ek natuurlik nie in my het om te doen nie – ek is daarvoor hopeloos te veel van 'n sissie. En selfs al wás ek die tipe mens wat 'n hond se breins met 'n tuingraaf kon inslaan, sou ek dit steeds gisteraand nie kon doen nie. Ek sou dit nie gisteraand kón doen nie, want wás ek die tipe mens gebore in staat tot so iets, hét ek dit lankal, drie jaar gelede al, gedoen!

Ek het nog iets nagelaat om te noem: sý is die een wat nie daarvan hou om haar voete af te gee aan nat gras nie – as die gras natgereën is, los sy haar bolle op die plaveisel in die binnehof. As dit die nag reën as sy nood het, los sy haar bolle trouens vir ons ín die kombuis.

Gedagtig aan my twee honde wat nou in die kombuis opgesluit is, is ek vanoggend vroeg op om hulle te ontset – hierdie twee sal beide eerder knyp as om voor hul eie voordeur en in die kombuis te ontlas. En wat tref ek daar aan – al drie honde, warm en knus in die beddegoed! Die merrieperd het mooitjies deur loop van die nag die flap oop forseer, die stoel wat ek daarvoor geplaas het, geskuif en ingekom.

Nou, by die grootste verleentheid buite die onderwys, trouens enige verleentheid, het ek nog nie uitgekom nie. Ons verwag die naweek mense vir ete – daardie gewraakte hond se ewe gewraakte bord moet vervang word. En oor die een poedingbakkie ook al lank 'n kerfie weg het, sit ons af na die verskaffer waar ons drie of vier jaar gelede die eetservies aangeskaf het.

Ek onthou dit soos gister, 'n nuwe eetservies aanskaf is nie iets wat jy al om die anderdag doen nie. Ons het in daardie stadium nog onthaal met die Liebermans stel waaruit ons gesin geëet het toe ek iets in die veertig jaar gelede my verstand begin kry het. Natuurlik het daarvan uitgebreek, maar oor al die jare heen, kon jy dit vervang – oor meer as veertig jaar heen.

Maar drie jaar gelede toe voel ek groot en volwasse genoeg dat dit tyd geword het vir Annieka om haar eie stel aan te kan koop – Pappa speel Kersfeesvader en sal betaal.

Dit was net mooi die tyd dat almal wit verskrik geraak het, en ons raak toe ook wit verskrik.

My ewe wit verskrikte skoonsus wat in daardie stadium pas 'n stel afgetrap het met wit borde wat sy nie kon aanvul toe sy wou nie, die verskaffer voer die betrokke stel nie meer in nie, het ons op ons hoede en ons loop van gerespekteerde leweransier tot gerespekteerde leweransier voor ons uiteindelik by die gerespekteerdste van gerespekteerde leweransies vassteek om 'n besluit te moet neem.

En ek sê weer dat ek dit soos gister onthou – ons moes op die einde kies tussen die spitterwit of die afwit van 'n betrokke gerekende en jarelange gevestigde fabrikant. En oor almal so spitterwit verskrik was daardie tyd, kies ek en vroulief toe die spitterwit.

En toe ons gister daar instap, toe is dit afwit waarvan jy kyk, maar van spitterwit is daar in die hele winkel geen sprake nie. Die eerste assistent, voor ek haar vervreem en sy ons verlaat het, noem dat die betrokke afwit maar die afwit is van die huidige besending van oorsee.

Die tweede assistent, wat ons ook verlaat het, wil my toe vertel dat die betrokke fabrikant vir jare nou al slegs die betrokke afwit lewer, sy weet trouens nie eers van die bestaan van die spitterwit nie.

Ek is lankal opgeklits, 'n verleentheid vir my vrou, die ganse Afrikanerdom, wit ras en eintlik sommer die hele mensdom. Annieka bied aan om buite met Klaradyn te wag. Nee, ek jok, Klaradyn vra haar ma om maar kleiwerster buite met haar te gaan wag.

Maar daarvoor steek ek 'n stokkie – die derde assistent wat ek rondjaag, het aangebied om die invoerders te gaan bel en ons sal nou weet wat gaan vir wat.

Sy kom toe met die verdoemende nuus dat die stel net in die betrokke afwit, en niks anders nie, beskikbaar is.

As ek 'n vrou was, en een met 'n skril stem, het die plek se kristalglase aan skerwe gespat, maar gelukkig is ek 'n man, en die glase bly heel.

Ons kies toe 'n wit bord van 'n ander fabriek, in die hoop dat dit nie sal uitstaan soos 'n puisie op 'n vark se rug nie. Wat die poedingbakkie betref, moes ons maar die afwit neem – daar is geen spitterwit poedingbakkie in dieselfde of soortgelyke vorm nie.

Drie dames, naas nou die drie wat ek reeds vervreem het, by die betaaltoonbank lyk vir my soos 'n bestuurder van die een of ander aard en ek maak 'n punt daarvan om aan al drie te noem dat ek my wit stel gaan inbring sodat hulle kan sien wat hulle drie jaar gelede aan my verkoop het onder die voorwendsel dat my agterkleinkinders nog eendag borde van die betrokke stel sal kan vervang.

Annieka paai in die kar, maar ek bly opgeklits en word met elke kilometer nader aan die huis net nóg en meer en weer kwater vir die ellendige hond wat nou alleen vir hierdie dilemma van ons verantwoordelik is.

Natuurlik pas die wit bord van 'n ander stel toe nie naastenby by ons stel nie, die vorm is dieselfde, die grootte verskil.

Maar dis nog niks – die afwit poedingbakkie pas perfek!

En al onthou ek dit soos gister, onthou ek duidelik verkeerd!

Ek het verniet al my poppe uit die pram gegooi. Ons kon maar een van die ander borde gekoop het.

Annieka gaan die middag weer in daardie betrokke rigting, haarkapper en die een of ander skoonheids- en gesigsbehandeling. Sy trek vir haar ander klere aan en sê dat die mense haar hopelik na haar algehele gedaanteverandering nie sal herken nie.

Wat toe natuurlik nie die geval is nie. Toe sy haar voet by die deur insit, kom vra twee van die drie dames agter die betaaltoonbank haar of sy nou haar stel ingebring het vir hulle om te inspekteer.

My arme, arme vrou. Wat sy gemompel het, is ek nie seker nie, maar sy het hier aangekom met 'n bord wat perfek pas.

Ek sal my eie gesig eers oor vier jaar weer in die winkel kan wys, en ook slegs as ek my baard afgeskeer, my hare gekleur en 25 kilogram afgeskud, óf aangesit, het.

Ek sou dit nie gemaak het nie, my vrou het my, my grootste verleentheid buite die onderwys gespaar.

En die volgende moet ek seker nie kwyt raak nie, ek het genoeg gesê om myself in 'n slegte lig te plaas by mense wat my en my tong-in-die-kies manier van oorvertel nie ken nie. Maar laat ek dit maar doen.

Oor alles nou so gelukkig eindig, en ek so skuldig teenoor almal voel, van my vrou, via die drie winkelassistente, die drie bestuurders, dwarsdeur tot by al drie honde, wil ek dit toe nou opmaak. En omdat dit die maklikste by die honde is, kies ek toe die honde om dit teenoor op te maak.

Ek sny vir elkeen drie herdersnye brood. En oor daar baie, oorlopens toe baie, van die vleissous van gisteraand oorgebly het (hoeka die vleis en sous wat die een hond so in die moeilikheid had) maak ek dit toe spesiaal vir hulle louwarm en verdrink elke sny brood daarin.

Waarin ek dit vir die honde opgedien het?

Nee, moet liewers nie vra nie...

...maar ek het dit na die tyd, voor ek dit gewas en afgedroog het, eers met kookwater uit die ketel skoon- en afgespoel.


7.7.11

Een van baie, min dinge

Daar is baie dinge waarvoor (of is dit waarvan?) ek sê: “Daar is vir my min dinge so lekker soos...”

Party van die min dinge wat so volop is, hou verband met smake; ander met emosies, party is tasbaar; ander suiwer belewenis of ervaring.

Nou een van hierdie baie, min dinge van my wat my lekkerte tot my binneste gee, is as iemand 'n tweede porsie neem van dit wat ek voorberei en voorgesit het.

Jy hoef nie vir my  te sê dat die kos lekker is nie; jy kan ook maar, so veel keer as wat jy wil – voor jy nie 'n tweede porsie geneem het nie, glo ek nie 'n woord wat jy sê nie.

Die teendeel is ook waar – neem 'n tweede porsie, dit hoef natuurlik net 'n skeppie of happie, en nie noodwendig ‘n volle porsie te wees nie, en jy hoef oor die kos nie 'n enkele woord te rep nie – jy het my reeds alles uitgespel wat daar moontlik genoem kon word.

En as jy met jou tweede porsie kommunikeer het dat jy bykans sterf van die honger en selfs nog van my slegte kos sal eet om jou lewe te red (in plaas van Maggies Hans, maar dit smaak nou vir jou vorentoe!) maak dit ook nie saak nie – jou opskepaksie, en allermins nie jou gedagtes nie, vlei my.

Dit maak die lewe vir 'n mens soos ek wat in sommige opsigte, partykeers nogals soorts van ordentlik kan wees, redelik moeilik – ek sal 'n tweede porsie van die onaangenaamste dis neem, net om die gasheer, gasvrou of een agter die kospotte te vlei. Maar dis my fout, oor ek redeneer almal voel en redeneer oor kosmaak soos ek.

Kosmaak is vir my 'n liefdesdiens, elke greintjie bemoeienis wat ek in kosmaak insit wil kommunikeer: jy is vir my belangrik en spesiaal, daarom belê ek van my tyd en energie in jou. (Dikwels ook nie net tyd en energie nie, maar deesdae geld ook.)

Ek weet nie of die mense vir wie ek kosmaak, my gebaar noodwendig as sodanig interpreteer nie, ek loop normaalweg nie so met my gedagtes en motiewe op die mou rond soos nou hier nie. Dis na ek Annieka meer as sewentien jaar ken, dat ek vanaand vir die eerste keer aan haar bely het:  “Daar is vir my min dinge so lekker soos wanneer mense 'n tweede skeppie van my kos neem.”

En dit was omdat ek daardie sonderlinge lekkerte van my, vanaand meer as een keer ervaar het.

Ek het gaan beesstert koop, van 'n plaas in die Vrede-distrik, OVS. Die boer en sy vrou ry elke Saterdagoggend deur  Pretoria toe om 'n middelman uit te sny en hulle vleis by die Boeremark, ook Irene-mark as dit Irene-mark is, van die hand te sit.

Ek het weer my boeke geraadpleeg – sommer vir die lekker. Ek het die internet deurkruis. En op die volgende interessante resep afgekom wat ek woordeliks aanhaal:

Romeinse Resepte
Beesstert
Velletri

2 uur en 15 minute

Bestanddele vir 4 persone:

1 kg koei se stert
seldery, uie, wortel, knoffel
olyfolie, sout
peper, pietersielie
½ koppie rooiwyn
gr tamatiesous. 300


Voorbereiding en gaarmaak:
Die vleis in 'n pan te kleur met: olie en gekapte ui, seldery, wortel, knoffel en pietersielie, fyngekap. Pas sout en peper. Wanneer die vleis bruin pour 1 / 2 glas rooi wyn wanneer dit verdamp voeg die tamatiesous. Altyd voeg water by en kook oor lae hitte met die deksel vir sowat 2 uur tot die sous dik.

Ek kan net divve bon'appetito

Waar ek daaraan gekom het, kan ek steeds nie 100% aflei nie – ek lei af dis die een of ander Italiaanse vraag-en-antwoord-werf (enige een vra, en enige een antwoord). Maar die outjies span Google se vertaalfunksie baie intensief in – hul werf is in iets soos 27 tale beskikbaar, en toe ek beesstert begin soek, toe spoeg die soekenjins die Afrikaanse vertaling van hul werf uit.

Of, wie ook al die resep geplaas het, by die Romeinse Apicius gaan kers opsteek het, weet ek nie, dis moontlik.

Maar na ek orals lig gaan haal het, waar ek lig wou kry, het ek my beesstert reg en gereed gekry.

Dit moes dag lank staan, dat die vet ordentlik kan stol en ek dit kan aflig.

Natuurlik het ek dit oordoen, en toe ek die eindresultaat so kyk, toe weet ek, ons gaan drie dae hieraan eet. En my gesin hou nou van na mekaar dieselfde kos eet nie, ongelukkig ook nie van kos wat lank in die yskas gestaan het nie.

Toe glimlag ek, want nou kan ek iemand oornooi om met ons te kom deel. My hart neem 'n besluit en ek bel: “As dit nie te koud is om uit te kom nie, wil julle nie vanaand by ons kom inval vir 'n vroeë aandete nie? Ek het lekker kos gemaak en soek iemand om dit saam mee te geniet.”

En die saak is reg, die kind se naam is Wit Willem.

Dis jarelange baie goeie vriende, so ek is reg vir slegs die vleis, sy sous en mieliegruis, bykosse is nie nodig nie – dis die geselskap wat bepaal hoe lekker geëet word, nie die kos of variasie daaraan nie: brood en botter en jam en konfyt, word 'n koningsmaal saam met Pat en Ina.

Annieka is lus vir groente. Ek besluit op haar gunsteling, patats, en my gunsteling, groenboontjies op die boeremanier gaargemaak met ertappels, ui, tamatie en nie die stukkie spek nie. (Hierdie manier van doen, kom ek toe agter, herinner darem baie aan die verskillende soorte Hollandse stamppot wat in die stamland opgekook word – Google gerus eendag die woord stamppot en kyk by watter lekker kos kom jy uit.)

En toe kook ek so lekker dat ek vieruur besluit dis tyd en weer vir my oorlede Ouma van Wyk se sagopoeding – as sy nie gebel het om te sê sy het vir ons 'n hoendertjie gaargemaak wat my ma kom optel nie, dan was dit 'n sagopoeding wat gereed gestaan het. 'n Vinnige, maklike sagopoeding het Ouma gemaak, die dooier is in die sago in, die wit is styfgeklop bo-op gebak, en tussen die wit en die res, was die dun lagie appelkooskonfyt. Maar sagopoeding was hy nie sonder die kaneelstokkie wat iewers astrant sy kop uitgesteek het nie.

En nadat elkeen 'n tweede porsie had, met skeppies van alles op die tafel, het elkeen waaragtig nog 'n soet of sout proppie, na gelang van elkeen se smaak en voorkeur, gehad. 'n Sout proppie, so het ek groot geword, is daardie klein sout happie, sommer net 'n lekseltjie, net so vir die lekker, na die nagereg geniet is. Ek geniet myne meesal as ek afdek, op pad kombuis toe, 'n velletjie hoender, knypie boudvleis of teelepeltjie groente. Maar hier bedoel ek 'n derde skeppie, net so ietsie, na die tweede porsie.

My beker het oorgeloop.

Ek wens ek kon dit, soos die huis waarin ek groot geword het, elke week doen, partykeer op groot en overdadige maat, ander kere in kleiner en beskeie maat. My ouers sou iemand bel en sê:  “Wil jy nie vanaand by ons kom pot luck neem nie.” En dan eet ons, wat die kospotte ook al oplewer.

Ook van my ma wat ek hierdie ding rondom die tweede porsie het. Maar ek en sy het dikwels konflik daaroor gehad. Ek het talle maaltye die idee gekry sy geniet haar eie kos nie – sy het verplig gevoel om op haar manier die goeie gasvrou te probeer speel, so haar aandag was nooit haar bord nie, maar die ander s'n. En die oomblik as jy klaar het en jou vurk neersit, dan vra sy wat sy jou nog van kan aangee. En ek kon nie ontspan by die gedagte dat my ma met valkoë dophou hoe ek eet nie.

Daarom dat ek uit beginsel bykans nooit 'n tweede porsie aanbied of forseer nie.

As ek lekker eet, wil ek nie lekker eet en ooreet tot lekker nie meer lekker is nie, want dan is lekker nie meer lekker nie.

In Annieka se familie is daar 'n kok wat, soos ek en my ma, genot daaruit put as die vir wie hy die kos voorberei het, dit geniet. Daarom eet hy nie noodwendig saam nie, hy sit saam en kuier saam en geniet saam, maar eers teen die einde, as hy op sy gelukkigste is en weet sy gaste het heerlik geëet, sal hy vir homself opskep. En hy doen dit op so 'n manier dat geen mens ongemaklik voel nie.

Ek hou van kuier, en van kuier om 'n tafel die meeste.

Naskrif:  ek het nou weer gaan loer by die Italiaanse plek wat beesstert vir my op Afrikaans uitgespoeg het. Hier is die skakel Il Pazzicomio Ek het gaan loer by die "Vandag se posts", dit lyk nou eerder na bloggemeenskap.

29.6.11

Nog bogtery



Vroeër die week is ek en Annieka en Klaradyn elkeen op ons knieë op die vloer in die buitekamer wat as die merrieperd se speelkamer ingerig word.

Ons het die woonstel vir agt jaar uitverhuur en dit het gehelp om talle gate toe te stop. Toe die laaste huurder einde verlede jaar na drie jaar uit is en die plek nie dadelik geneem word nie, het ons hom aan die mark onttrek.

Dit sou Klaradyn se speelkamer word, die speelkamer wat eers studeerkamer was, sal weer studeerkamer word en dit wat in daardie stadium deurgegaan het as studeerkamer (maar niks anders as 'n pakkamer was nie) sal dan die “hobby raum” word. (Dis 'n Duitse woord van my Duitse Juffrou vir 'n vrou – hou glo verband met stokperdjies – die kunsgoed word daar gepak, en die klei, en krale en mosaïekteëls.

Die buitekamer/tuinwoonstel het egter toe die pakkamer geword. April is ons see toe, so tóé het daar ook niks gebeur nie, die tweede kwartaal ook nie. Die Julie-vakansie word toe die vakansie waarin ons die bordjies gaan verhang.

En het ons dit nie verhang nie!

Die tuinier, wat wintermaande nie juis tuin het om te maak nie en allerhande los werkies in en om die huis doen, het toe misverstand rondom watter blik verf om te gebruik en ons stap een aand in op 'n sjokoladebruin speelkamer. Maar daar is nie tyd vir oordoen nie, die maatjies is al genooi en die vakansie het al begin. Buitendien moet die kind wat nie van sjokolade hou nie, nog gebore word, so waar wil jy nou kindervriendeliker as sjokolade kry!

Dit vat ons twee dae, twee volle dae, om die pakkamer semi-speelkamer te kry.

Maar was dit nou vir jou lekker – ek het vergeet ek en Annieka kan so lekker saamwerk aan 'n lawwe projek. En dis ook nou midde die opruim en opwas dat ons al drie op onse knieë die teëls  beginne skrop asof ons lewens daarvan afhang.

Ons het elkeen 'n skuurgrasserige staalwollerige iets in die hand en ons kry inderdaad  die teëls skoon. Elke huurder trek in en wil die plek na sy smaak uitverf – ons laat dit toe, maar nou sit ons met 'n stuk of ses kleurskakerings se spatsels op die vloere en spatlyste. Dis skraap en skrop en warm water en mop, vir 'n vale. En 'n lekkerte vir 'n soortgelyke vale. Natuurlik taan die kleinding se entoesiasme eerste, toe haar Pa, wat nie op hom laat wag nie en kies voor watter groepsdruk hy wil swig, s'n. Hy spoor haar 'n rukkie later op die punt om te begin grens in haar kamer op: haar sweetpakbroek, die pajamabroek onder die sweetpakbroek én  broek-vest (dis nou soos sy dit noem maar lang-onderbroek in haar pa se woordeskat) is nat, die drie, miskien was dit vier, stelle lang goed aan haar bolyf is by die polse rond waternat en speelkamer agtermekaar kry is nou glad nie meer lekker vir 'n sesjarige dogtertjie nie.

Ons trek vir haar uit en begin van vooraf aan met droë klere – sy kom sit by ons op die outydse skooltafeltjie, waar hulle eersdaags in die speelkamer gaan skool-skool speel, en speel met die een of ander ding terwyl ek en Mamma klaar maak wat ons begin het.

Later die aand, Annieka se rug is seer op plekke waar sy nie geweet het 'n rug kan seer wees nie, sit ons om die kombuistafel en drink 'n wyntjie. Annieka laat val dat sy ons vroeër die dag op ons knieë in die speelkamer so gekyk het, en nie anders kon as om te dink dat nie een van die rykgatte (Klaradyn praat van ryk-gaaate) en hul mans ooit as te nimmerste ooit so saam met hul kinders op hul knieë sal gaan om 'n vloer te skrop wat in geen jare so deeglik geskrop is soos die oggend nie.

En hoewel dit miskien ryk-gaaat genoeg is dat die Mamma nie meer hoef te werk nie en sy al haar tyd in die malls kan spandeer terwyl die twee kleintjies in goeie hande is tot die au pair hulle gaan optel, en hoewel die posseël vir 'n erfie in die Pretoria-estate verruil is vir iets groters op 'n kleiner erfie nader aan Pappa se werk en die lughawe, sê ek vir Annieka:  “Ja, my vrou, jy is reg, hulle sal beslis nie, die rykdom om dit te kan geniet, het hulle nie, hulle is daarvoor te arm. Is ons nie gelukkig nie!”

En so is die speelkamer toe vandag ingewei met 'n skoolmaatjie van kleuterskooldae wat kom speel het.

Die kamera se battery was pap, so ek kon nie glanstydskrif-foto’s neem voor die tornado daardeur getrek het nie – en teen die tyd dat die battery gelaai is, toe is dit ook meer as net 'n tornado wat verbygegaan het, 'n orkaan uit die weste en 'n tsunami uit die ooste.

Die mure kort nog aandag. Aandag, soos in goed om teen die kindervriendelike bruin te hang, maar dit sal kom.





28.6.11

'n Bietjie baie bogtery

Ek verbeel my dit was Pieter W Grobbelaar hier in my kinderdae twee boeke die lig laat sien het, 'n Bietjie Baie Bogtery, opgevolg deur 'n Liewe Lawwe Lollery. Die boeke het in my 'n voorliefde vir alliterasie, jare voor ek sou  leer wat dit is, gekweek.
Van gister af het 'n paar klein los gedagtetjies wat ek wil aanteken, maar elke keer betrap ek my dat ek wonder wat dit dan nou is wat ek wil verwoord, en dan kom ek by die antwoord uit dat dit sommer 'n bietjie baie bogtery is.

Want dis hier waar ek moet aanteken, voor ek vergeet, dat Klaradyn dan nou na 6 maande in graad 1 haar eerste Engelse sin geskryf het, uit haar eie en sonder enige aansporing hoegenaamd.

Ons ry devideoteek (amper soos biblioteek en videoteek, jy neem net DVD’s, en nie boeke of video’s nie, daar uit) toe en Klaradyn is soos altyd aan die totter met 'n pen en papiertjie. Die volgende oomblik sê sy:  “Lees bietjie hier.”

Ek bestuur motor en my aandag moet op die pad wees, maar ek wil ook nie die kind se entoesiasme laat taan nie, so ek laat maar toe dat sy 'n stukkie papier, skaars groter as posseël, in my hand prop.

En as 'n mens nou eers die papiertjie geneem het, raak die verantwoordelikheid soveel groter, want nou moet jy sorg dat jy reg lees – jy wil jou kind se selfbeeld bou, en kan dit nie wil afbreek deur verkeerd te lees nie. En enige graad 1’tjie se spelling kan hier in die begin nogal 'n uitdaging wees.

Ek lees, en ek lees weer – maar daar breek niks deur nie, dit maak nie sin nie. My oë beweeg verbouereerd na Klaradyn en die afwagting in haar oë noop my om onmiddellik maar weer te probeer.

Dis eers toe ek in Engels begin dink dat die betekenis deurskemer:  Merie mie Plis.

Ek vermoed dis vroeër die middag se gesels rondom Guinevere, Arthur en Lancelot (wat Klaradyn die heeltyd Dance-alot noem) wat Klaradyn in sowel 'n Engelse as 'n huwelikstemming het.

Ek het lankal vergeet hoe dit is as 'n kind se lees- en skryflus inskop, en net Klaradyn wat my 40 jaar later weer daaraan kan herinner. Ry ons, begin sy vrae vra oor wat sy raak lees, sit ons iewers in 'n inkopiesentrum, is daar skielik allerhande vrae wat my en Ma se koppe en oë in alle rigtings het om agter die kap van die byl te kom. Selfs die ontbyttafel met sy papboks sorg vir vrae. Te lekker.

Ek onthou hoe ek as jong leser verwonderd was oor die “TOILET”-bordjies wat hulle orals aangebring het. Ek het selfs uitgewerk dat daar een of ander landswet was wat mense verplig het om aan te toon dat daar 'n “TOILET” in elke nuwe winkel en gebou, wat gebou word. Dis eers toe ek my teorie met my ouers deel, dat ek hoor dis “TO LET” en nie “TOILET” nie.

Die ander stukkie bog wat in plek moet kom is die bogtery in die kombuis. Natuurlik help Klaradyn gereeld in die kombuis, maar dan is dit help soos 'n baie klein enigste kind help – die belangstelling wyk so vinnig en gou soos mis voor die son en jy sit met 6 onafgehandelde takies en 'n baie deurmekaar kombuis met meel en eier tot teen die dak.

Nie gister nie. Ek het uiteindelik krag gehad vir vers twee van die hoenderpastei waarvoor ek dag een nie kans gesien het nie en toe maar besluit het op pap en wors:  soetpatats, boereboontjies en gestoofde vrugte.

Die pakkie skilferkorsdeeg was ook ontdooi en ek roep Klaradyn om te kom help.

Die kind is heel behendig met 'n koekroller, maar die lekker het gekom by die uitsny van patroontjies om die pasteie te versier. Die een is afgerond met 'n Pappa-beer, Mamma-beer en Baba-beer. Rondom die ander een is dit 'n jammerte dat Valentynsdag al verby is, want met al die hartjies wat die betrokke pastei oortrek, sal dit geskik wees vir 'n Valentynsdagmaal. Die derde pastei het 'n groot Gemmerbroodmannetjie-vroutjie op. Klaradyn wou haar vlerke aansit dat sy 'n engel word, maar toe is die deeg net mooi klaar en sal die vrou sonder haar vlerke in oond beland.

Maar steeds is dit het einde niet:  toe skil sy die patats en die ertappels en werk met die boontjies en dis net 'n aardigheid.

Kom aandete, toe eet sy van alles behalwe die gestoofde vrugte – want sy het dit nie help maak nie.



Intussen is die speelkamer in gereedheid gebring en staan ons op die vooraand om ons eerste legkaart te bou. Klaradyn het al baie gebou, Mamma ook, dis Pappa wat nie te gewoond aan die goed is nie.

Ek en Annieka het een jaar fluks gevorder met een, maar toe vreet haar babahondjie twee van die stukkies wat op die grond geval het, op. Die hond is seker al agt jaar oorlede, van ouderdom – wat 'n aanduiding behoort te wees van wanneer laas ek/ons legkaart gebou het.

Hierdie een, die voorblad van Maurice Sendak se Where the Wild Things Are, staan bekend as 'n familie-legkaart. 'n Familie-legkaart, sê hulle oor die finale produk so groot soos een van 1000 stukke is, maar dit het net 700, bietjie groter, stukkies. Hoe lank dit ons gaan neem, weet ek nie. Ek vermoed die vakansie gaan te kort wees.

As gesin kon ons nog nie daar uitkom nie. Pa het al 'n geruime tydjie getotter, Klaradyn het eenmalig vir sowat 7 minute en 13 sekondes by my aangesluit en ek vermoed Mamma gaan redeneer die kamer waar ons die bouwerk doen is te koud na haar sin om enigsins by my/ons aan tye sluit.

Maar die hoop beskaam nie.

Ons ander projek – ek sal moet langverlof neem (ai, waar is die dae van langverlof) is 'n mosaïek-takie. Ook ek en die ellendige Boeremark. Want daar is hierdie tannie wat deesdae met die oulikste vetplantjies daar uithang. Littoppies en die klas van ding.

Toe wil ek iets begin.

Maar wat weet ek nie.

Toe wil ek die goed in my ma se ou broodpanne aan die groei hou. Toe wil ek die panne met die hele gesin se insette aan die hand van mosaïek opdollie. Ons sit toe ook af mosaïekwinkel toe maar dit wat ek van afval- en uitskot- en oorskotstukkies beplan het, se kleurskakering welgeval toe nie die hele gesin nie. En toe ons uiteindelik die kleure het wat almal pas, toe pas dit alles en almal behalwe Pappa se beursie.

Maar as dit klaar is, gaan dit lieflik wees.

So as ek nie so pligsgetrou by die blog uitkom, soos 'n mens redelikergewys van 'n man verwag wat met vakansie is nie, dan verstaan 'n een en 'n elk hopelik voortaan: al die bogtery en lollery hou my net te besig.

27.6.11

Hartkos


Toe ek nog op skool was, en dit was in wat bekend staan as die oertyd, kon jy dit gevries koop en in die oond prop; so ek laat my nie vertel Woolworths sal nie in een-en-twintigste-eeu iets soortgelyk hê nie.

Jy kan, as jy dit dan nou self wil maak, sommer twee gaar hoenders by Woolies koop, 'n pakkie of blikkie hoenderroomsop daarby, straks iets met sampioene ook, en die klaar bereide skilferkorsdeeg. En dan kan jy sê jy het self jou eie hoenderpastei gemaak.

Of, as jy van kosmaak hou, kan jy dit op my manier doen.

Daarvoor moet jy ongelukkig 'n plaashoender in die hande kry. Ek is Saterdag op die koudste naweek tot op datum hierdie winter 06:30 Boeremark toe – dit terwyl Annieka en Klaradyn nog inlê en al wat ek uit een van hulle kry, is:  “Bring vir ons elkeen melkkos saam.” En of dit my nou moes oortuig om wel die melkkos te bring, bygevoeg ook:  “Ek is lief vir jou!”

Maar ek het die melkkos gebring – nog warm – omdat ek eers my eie aankopies in die motor gaan plaas het en toe die girls se ontbyt gaan aanskaf het.

Ek het my twee hoenders gekry, twee plaashoenders wat my teen R22-00/kg net onder die R150-00 gekos het – so jy kan jou vir jouself uitwerk hoe groot hierdie hoenders is.

Saam met die hoenders het ek ongelukkig ook 4 kg wildsvleis, die vark en spek om daarby in te werk en nog 'n een en ander om gaar te maak ook gekry. Maar dis vakansie, dis winter, en 'n vriend laat weet hoeka gister per SMS:

Winterkos is hartkos. Dis sielkos. Warm geure:  kaneel, naeltjies, komyn en kardemom. Ek smul aan melkkos. My ouma Stien se resep met regte bottersnysels.

Op my hart het die winter hoenderpastei kom lê. (En beesstert. En eend. En wildspastei... en ek hoop die vakansie is lank genoeg, my beursie dik genoeg.)

Ek het seker so 3,5 liter aftreksel berei vir die kiep om sagkens in sag te word. 'n Bottel droë witwyn waarvan ons vroeër die week net 'n kelkie uit gehad het. Toe Annieka my vra wat sy vir my van die winkel kan bring, toe vra ek vir wyn. Sy kom toe gelukkig/ongelukkig met 'n soeter wyn hier aan – toe drink ons dit maar aan tafel op. Naas die droë witwyn ook water. Hierin het ek opgekook en laat prut ook twee vet wortels, twee vet uie, twee vet huisies knoffel, twee stingels seldery wat in die yskas was, die laaste lourierblare (seker 6 of 8 kleineriges), 'n hele paar (8 of 10) peperkorrels, dieselfde hele paar korrels wonderpeper/all spice en selfs 'n paar meer as 'n hele paar naeltjies.

Ek sit nie 'n hoender in die pot of in die oond, sonder naeltjies nie, sonder te veel naeltjies nie. My Ouma wat in 1900 gebore is, het seker een keer 'n week gebel om te sê ons moet by haar stop, sy het vir ons 'n hoendertjie in die oond gesit wat ons moet kom optel. En Ouma se hoender het, tot sy op 85 ouetehuis toe is, altyd te sterk aan die lekkerste naeltjies geproe. Ek sal selfs net 'n enkele naeltjie by 'n hoenderresep wat geensins na naeltjies vra nie, gooi, net in liefdevolle en tere herinnering aan Ouma van Wyk.

Ek het ook 'n halwe teelepel foelie ingegooi. Ek het nooit geweet wat die foelie is waarvan die kookboeke praat nie. En toe ek so jaar of wat gelede uiteindelik foelie in 'n winkel raakloop, toe koop ek summier genoeg dat dit my sal hou tot ek eendag self ouetehuis toe gaan.

Ander ken foelie dalk goed, maar net in Engels, mace. Dit word van dieselfde saad/peul as neut gemaak. Maar waar neut gerasper word van die middelste en binneste kern of pitgedeelte, is foelie die fyngemaakte dop op buitenste deel.

Ek het ook 'n teelepel of wat sout ingegooi, maar nie te veel nie – hierdie amper 4 liter aftreksels gaan nog afkook tot onder 'n liter, 750 ml as jy wil, en dan wil jy nie las hê van 'n gekonsentreerde sout smaak nie.

Toe die aftreksel goed gekook en lekker lank geprut het – ek, wat nie haastig is nie en met vakansie is, het dit vir ure in die prutpot gehad terwyl ek en Annieka Klaradyn se speelkamer geverf en ingerig het. Toe die groente en die goed, goed sag was, het ek die aftreksel deur 'n sif gegooi en die groente eenkant gehou.

My hoender, die tweede een is maar vrieskas toe – my pot is te klein, is toe van vergeet in die prutpot. Die oomblik toe die hoender sag is, toe het ek hom uit om af te koel.

En dis wat so lekker is van my Boeremark-hoenders, hulle is groot, maar hulle gewig lê nie in hul bene nie, maar in hul vleis. En die hoenders is nie so vet nie, maar so groot. Ek het nie eens nodig gehad om vet af te skep nie – of erger nog, alles te laat afkoel sodat die vet bo-op kan stol nie – daar was die minimum vet.

My aftreksel, wat nou intussen hoenderaftreksel geword het, is nou in 'n pot op die stoof gesit. Ek het die uie en knoffel van vroeër weer bygegooi, die hitte hoog gesit en begin afkook. Ek het in ‘n stadium gou vier eiers daarin hard gekook.

Die hoender is ontbeen en in blokkies gesny. Jy moenie die hoender so kook dat dit in drade van die been kom nie – jy moet nog kan sny aan die vleis.

Toe ek reken die aftreksel is seker nou met die helfte ingedamp, het ek die groente van die eerste aftreksel weer uit gehaal. Ek het toe twee eierwitte daarin posjeer (die geel is aan die einde nodig). Toe ek die eierwit uit het, toe gooi ek 'n halwe koppie (so min of meer) sago in.

En toe die sago net mooi deurskynend is, toe is die aftreksel ook net mooi onder 'n liter, nader aan 750 ml.

Dit is toe verdik met die eiergele waarby 'n halwe suurlemoentjie se sap ingeroer is.

Op hierdie punt het altyd te veel sous en is die twee eiergele te min. Maar ons leef in die een-en-twintigste eeu, ek gaan netnou klaar bereide skilferkorsdeeg gebruik, so waarom sukkel – ek maak die sous toe 'n knertsie dikker met 'n knertsie mielieblom.

Intussen het ek 'n lekker dik skyf gekookte ham in klein blokkies gesny en by die hoendervleis ingewerk. Ook die gekookte eiers, wat ek in skywe gesny het, en die geposjeerde eierwit.

Toe alles gemeng is, het ek geproe vir sout, en bygevoeg. Ook peper. En hierdie keer, die binnekant van die saad – fyn neutmuskaat.

Alles is pasteipanne toe. Die skilferkors is op en versier en blink geverf met eier en melk. Ek maak klein pasteie dat ek kan vries vir ons 3, so ek het nie 'n pasteitregter of skoorsteen in nie – ek maak stoomontsnappingsgaatjies in die deeg en basta met die res.

Toe ek hiermee klaar is, en dit was een vet lekkerte, was ek te gatvol kos gemaak om nou nog twee groentes te kook én gestoofde droëvrugte soet en geurig te kry. Dit terwyl Klaradyn se speelkamer oor die hond se stert is, maar dit Ankie se rug gaan breek as sy nou alleen moet aangaan terwyl ek my in die kombuis afsonder.

Toe braai ek wors en maak mieliepap en sous.

Lekker wildswors met baie koljander, pap soos ek daarvan hou en 'n propperse sous (in plaas van 'n blikkie tamatie-en-uiesmoor).

Die vakansie is lank, die winter lekker, en my pastei gaan more tien teen een geuriger proe as vandag, so waarom nie wag tot more nie!

Dit is en bly soos Hein sê:  Winterkos is hartkos. Dis sielkos. Warm geure:  kaneel, naeltjies, komyn en kardemom.

Foelie en neut daarby.

Die foto's is nie my pastei nie, ek het dit wikimedia onder commons gaan soek.




26.6.11

Mooi, my kind, ons is trots op jou

Ai, my kind het met so 'n mooi verslag van die skool gekom. Dit maak my nederig, beskeie, trots, lief en sommer elke woord met 'n positiewe betekenis, assosiasie en konnotasie.

Dis net 4’s waar jy kyk – jou oë duisel skoon daarvan. ('n 4 in vandag se dae, beteken die kind het die een of ander iets “uitstekend bereik”; 'n 3 beteken “bereik”, 'n 2 slegs “gedeeltelik bereik” en 'n 1 dra die boodskap dat die kind iets “nie bereik” het nie.)

En of dit van slimheid, skranderheid of louter harde werk is, sal ek nie weet nie. Is dit haar eie toedoen, die juffrou se harde werk, of die insette by die huis? Hoe sal ons weet wat alles saamwerk en in welke verhouding elk 'n bydrae lewer, maar feit bly staan, die resultaat wat gister hier aangekom het, is genoeg om enige een oor te wil laat loop van trots.

Die 11 goedjies onder Geletterdheid takseer die juffrou almal as uitstekend. Dis nou goed soos woorde, sinne, lees, praat, skryf, en selfs lúister (van alle dinge). Ek wens die juffrou wil haar luisterassessering een keer eerder bietjie hier by ons aan huis kom doen. Sondagoggend as ons wil regmaak vir ry, sal 'n goeie tyd wees wat heel ander resultate sal oplewer.

Die kommentaar maak gewag van watter goeie spreker Klaradyn is en hoeke goeie woordambag sy ook op papier oor beskik. Dit stel my gerus – die kind is dan duidelik nie in die hospitaal omgeruil nie, 'n mens kan sien beide haar ouers is talemense.

Gesyferdheid is ook net 4’s, met uitsondering nou van 'n enkele opteltaak wat 'n 3 opgelewer het (met die aftrek het dit weer goed gegaan). Dit moet sy alles van haar Ma hê; my kop is vir somme doen geensins bedraad nie.

Wat die gesyferdheid betref, had Klaradyn die huis een aand op hol, en sê ek nou “die huis” dan is dit sommige partye meer as die ander. Sy het dit die betrokke aand toe mos te vertelle dat sy vandag 'n 2 gekry het vir somme doen omdat sy nie goed genoeg in drieë kon tel nie, en daar is nog 'n spul 1’s ook wat in somme gaan kom.

Nou weet ek aanvanklik nie of 'n 2 kort duskant baie goed, of knap anderkant vrotsig, is nie. Maar ek onthou dit soos gister dat ons hoof, 'n Meneer Coetzee, soggens van klas tot klas gegaan het, met 'n stophorlosie, en dan moes ons ons tafels vir hom opsê. Waar sy teenwoordigheid, en die van die stophorlosie, sommige kinders miskien kon aansppor, het dit op my presies die teenoorgestelde uitwerking gehad – dit het my so verbouereer en gespanne gelaat dat ek nie 'n woord kon uitkry nie. (Ek is tot vandag toe nog oortuig dat dit hoeka hierdie besoeke van die hoof as ons moet tafels opsê, wat my, wat somme betref, lewenslank geskaad gelaat het.)

So as my kind vassit met veelvoude van iets opsê, kan ek verstaan en het ek empatie.

Maar toe wil sy die goed oefen om weer vir Juffrou te kan doen, en ek verbeel my die kind het daardie aand nie onder Mamma se gebed nie, maar haar eie drie-maal-tafel, aan die slaap geraak.

My gene staan tien teen een pa vir daardie 3 (wat toe darem nie 'n 2 was nie) in somme. En wat van die 1’s geword waarmee sy te koop geloop het, sal ek ook nie weet nie – ek sweer dit was net om te kyk hoe goed sy die hele gesin, tot skoon die honde ook daarby ingesluit, kan opklits.

Die kleintjies se laaste vak is Lewensvaardighede of Lewensoriëntering. Hier oorheers die oortreffende trap ook. Miskien is die vlytigheid met die mond, ek praat van Kletskous-Klaradyn, bydraend tot die een 3 wat miskien verband hou met selfdissipline en gesels as daar eintlik stil gebly moet word.

As die dominee sê ons sing Psalm 119 vers 1,3 en 5, dan kan ons bly wees Klaradyn se ouers, ten minste een, trek nie weg met Psalm 118 nie. En as daar gekonsentreer is om wel 119 te onthou, dan volg vers 2, en nie vers 3 nie, op vers 1.

Help ook nie jy vra dat ons na 'n liedjie se woorde moet luister nie; nog voor die koorgedeelte vir die eerste keer ingeskop het, is ons gedagtes al op 'n ander kontinent.

So as die kind se konsentrasie wyk en haar gedagtes 'n eie koers inslaan, is dit seker te verstane.

Maar ons werk daaraan.

Ek hou nie van geskenke uitdeel as die rapport goed is nie, so om iets te loop koop om geluk te sê, doen ek nie. Wat nou gemaak as die kind eendag ten spyte van harde werk met 'n swak rapport by die huis kom!

Ek is tevrede met Klaradyn se beste, of dit 'n 2, 'n 3 of 'n 4 is. En die feit dat slegs 4’s met 'n enkele 3 hier en daar is, is 'n bonus.

Ek is van mening sy het haar beste gelewer, so ons het Vrydag gaan shop.

Mamma, wat ook reken dit was 'n moeilike kwartaal waarin die meisiekind net haar beste gelewer het, het gesorg vir die een of ander pop en nog 'n een en ander.

Ek het beweeg na opvoedkundige speelgoed wat 'n mens tot 99 nog kan besig hou.

Op die ou einde kon ek nie kies nie, wou ek nie kies nie, en is ons weg met 4 intellektuele uitdagings:

Architecto en Tangramino van Foxmind

Color Code en Camelot JR van Smartgames

Lees gerus oor elkeen na. Dis 'n ieder en ‘n elk 'n uitgawe wat elke sent die moeite werd is. Of jou kind nou sit 1’s, 2’s, 3’s of 4’s.


As ek kon het ek elke maand iets van elkeen van hierdie twee speelgoedvervaardigers aangeskaf. 'n Mens raak daaraan net nie uitgespeel nie.

Daar is nog een iets wat ek in die pyplyn het om te koop. 'n Afrikaanse kinderboek oor musiek wat ek hierdie week nuut op die rakke gesien het. Dit het 'n CD ingesluit en dek musiek en musiekinstrumente oor alle tye en lande en style.

Die idee was om dit Vrydag vir die viering van die einde van die kwartaal aan te skaf, maar toe weer sien, toe is ons in die speelgoedwinkel.
'n Mens is net een maal jonk, jou kind net een maal in graad 1, so waarom nie.









21.6.11

My beker loop oor

Ek hetnetVIRGEET
Ja, toemaar wat!

Het ek en Annieka nou vanmiddag op hierdie Dinsdagmiddag, met die motor in die koelte parkeer, heel laf en uitbundig vir hierdie twee sinnetjies gelag!

Vir my en Annieka om saam op 'n Dinsdagmiddag in 'n motor onder 'n koelteboom te sit, is uiters raar.

So jaar of wat voor haar geboorte het ons 'n ruk lank die gewoonte gehad om op 'n Dinsdagmiddag saam te gaan uiteet. Dit was net na die boek, Tuesdays with Morrie, uitgekom het en ek het gepraat van Tuesdays with Ankie en sy van Tuesdays with Hans. Roekelose middae was dit gewees, onverantwoordelik en vreeslik ongebonde.

Maar dis ook al 8 jaar gelede. Tussen toe en nou het baie water in die see geloop, waters waarmee die meul nooit weer sal maal nie.

Klaradyn is gebore en daarmee saam het 'n nuwe roetine en struktuur gekom. Twee middae na 15:00 doen Annieka vier middae se werk, twee middae doen ek vier se werk. Die vyfde middag van die skoolweek wat oorbly, gaan dan na dié een, dan na die ander. En die een wat nie laat by die skool bly nie, tel Klaradyn op.

Net iemand wat die onderwys nie ken nie en dink dat dit vir almal 'n halfdag-werk is, sal nie weet welke nagmerrie dit is om so 'n reëling te maak werk nie; maar ons moet maar, in belang van ons kind. (En om dit te maak werk, is daar eintlik net een ding wat jy kan doen – die drie ure waarop jy tussen drie-uur en sesuur uitgemis het deur dit met Klaradyn deur te bring, moet jy vanaand, as jou normale skoolwerk van na ete afgehandel is, inhaal.)

Vanjaar is Maandag en Dinsdag my middae met Klaradyn, Annieka neem die volgende twee dae, en Vrydae is ons beide meestal by die skool en weg van ons kind.

Dan werk dit ook so dat my middae die “buitemuurs” het. Maandag die Voortrekkers, en Dinsdae die Dramaklasse by Tannie Lorraine.

Daar is seker 8 dramajuffrouens tussen ons en Tannie Lorraine, maar nie een so lief en dierbaar en so vol ondervinding soos Tannie Lorraine nie – dit is al so vandat ek in 1988 in Pretoria aangekom het, en dit gaan vir lank nog so bly.

Die gevolg is dat ons oor die berg na die ander kant van die stad en 'n ander klimaatstreek moet ry om by Tannie Lorraine uit te kom. (Mense sal sê ek lieg, maar dis 'n feit – dis beslis warmder anderkant die berg as aan ons kant. Die Kapenaars sal weer lag as hulle sien watse puisie op die landskap ons voormalige Transvalers en Vaalpense aan hierdie kant van die rivier as 'n “berg” aanspreek.)

So Dinsdae met jou wederhelfte is 'n hele paar jaar nou al uit soos koekies in 'n weeshuis.

Dis nou tot vanmiddag, toe Annieka lus voel vir koffie en koek saam met haar man. Ek stem in, maar van wegkom as die skool sluit, is daar nie sprake nie – eers bykans 'n uur nadat die klok gelui het, stap ons na ons onderskeie motors toe. (En oor minder as 'n uur moet ek Klaradyn klaar weer in die kar en anderkant die tolhek hê vir haar dramaklas.)

Klaar die koffie weggesluk en nie gewag vir die koppies om koud te word nie, besluit ons dat hierdie ongewone kuier nou so lekker was, ons gaan sommer altwee drama toe, dan werk ons in die kar op ons skootrekenaars.

Maar daar was 'n slang in die tuin van Eden en dinge realiseer nie soos ons gehoop het nie – toe ek teoreties gesproke klaar laat is om die langpad drama toe aan te pak, gooi Annieka nog brandstof in haar motor. Ek kan beslis nie vir haar wag, Klaradyn by die naskoolsentrum optel én dink ons gaan betyds wees vir die groepsklas drama nie.

Ek bel en ons kanselleer die afspraak tot ons beide se teleurstelling.

Ek tel Klaradyn op en 27 minute later, 1 minuut voor die aanvang van die klas, stop ek by Lorraine se huis. En ek gooi amper die motor in 'n rustige voorstedelike systraatjie om, want wat is die registrasienommer agter op die motor wat presies soos Annieka s'n lyk? Dis nooit anders nie – Annieka het reguit deurgeskiet Lorraine toe en oomblikke voor ons hier aangekom.

Pappa én Mamma én Klaars straal. Ek en Annieka hou Klaradyn dop hoe sy letterlik dramaklas toe hardloop, nie oor sy dink sy is laat nie, omdat drama klas iets is waarheen sy week na week hardloop, waarvan sy week na week terugstap. Is dit nie wonderlik en die beste kompliment vir Lorraine nie – kinders hárdloop klokslag na haar klasse toe, en stáp traag daarvan weg.

En daar sit ek en Ankie toe nou ons kuier voort.

Die juffrou het KIaradyn se baie klaswerkboeke huis toe gestuur vir insae en teken voor die einde van die kwartaal. (In 1970, toe ek in graad 1 was, het ons nog tot Augustus klei gespeel en geoefen om vetkryt vas te hou!)

Ek is trots op my kind se skool, én op my kind – maar dis soos ek vir Klaradyn in die kar sê toe ons kom:  “Dis pragtig my kind, maar dan weet jy net so goed soos ek dat, was dit 100 maal minder pragtig, sou dit nog steeds vir Pappa die pragtigste van pragtig gewees het, net omdat dit joune is.”

En dit ís natuurlik ongelukkig ook so. Of sy nou 6 reg het, en of sy nou 6 verkeerd het, dit is my om het ewe – dis my kind, en daarom is dit goed genoeg en skiet die knope van my hemp af, so swel my bors van trots.

Dis dan toe nou ook hier, in een van die boeke, dat Klaradyn besluit het:  as Juffrou allerhande boodskappies in my boek kan skryf, dan mag ék tog sekerlik ook maar.

Soos alle onderwysers in die fase waarin Klaradyn haar nou bevind, is die juffrou lief daarvoor , en is dit trouens haar werk, om boodskappies te skryf. Hierdie boodskappies is vir Klaradyn belangrik want ons het einde verlede kwartaal gesprek gevoer oor heelparty van die juffrou se boodskappies.

Ek kan regtig nie aflei wat die dag verkeerd gegaan het nie, maar Klaradyn het seker aanvoeling gekry dat hier nou weer een daai boodskappies gaan kom waaroor sy en Mamma en Pappa later oor gaan gesels, toe spring sy die juffrou voor, gryp haar rooi potlood en skryf in dringende dik rooi letters (die meeste van hulle nog hoofletters ook) “EK HETNETVIRGEET.”

En wat kan die stomme juffrou nou anders as om te reageer met: “Ja, toemaar wat.”

Hoe sy vandag reageer het toe Klaradyn daarop sou aangedring het om in drieë tot by 30 te tel, weet ek nie. Sy laat val gisteraand in die bad dat sy die oggend 'n twee gekry het vir tel in drieë. 'n Twee is nie baie goed nie en daar moet nou weer geoefen word, sy wil dit beter kan doen. Daar word toe geoefen en soos ek dit het, is sy vanoggend vroeg na die juffrou toe om oor te tel, sodat Juffrou kan hoor sy kán dit doen, en dan gaan om die 2 'n beter punt/simbool te maak.

Waaraan die onderwysers (ons onderwysers) nie alles uitgelewer word nie!

Beide rooi sinnetjies is dalk glad nie so snaaks soos dit vanmiddag onder die malse omstandighede vir my en Annieka was nie, dis dalk glad nie eers snaaks nie, maar ek en Annieka het onbevange gelag toe ons onself die gedagtes agter die stukkie kommunikasie in die boek indink – en ons ken ons kind, ons weet hoe dit sou geklink het as sy dit moes sê en nie geskryf het nie; ons sien ook hoe span sy haar letters in dat dit kan lyk soos wat sy wil klink.

Toe ry ons huis toe en lag net nog verder. Klaradyn spring op die trampolien, deur 'n hoepel wat sy soos 'n springtou hanteer.

En daar wonder ek of ek dit nog enigsins sal kan doen – my logge lyf deur 'n hoepel kry. Klaradyn skree na haar ma om te kom kyk wat vang haar pa aan. En toe Annieka eers sien wat ek regkry, wonder sy of sy my dit sal kan nadoen. En kort voor lank slaan ons amper vuis oor gebruiksreg van die hoepel.

Wat maar net weer eens bewys dat 'n mens nie geld nodig het om gelukkig te wees nie.