Pages

14.6.11

'n Een en ander oor Ouma Moolman


Ek het vroeër die week van my Ouma Moolman op Sonop buite Brits vertel.

Sy en haar man het in die Oos-Kaap, omgewing Cookhouse en Somerset-Oos, geboer. Haar man, soos alle mans in my voorgeslag, of dit nou aan Pa se kant of Ma se kant is, het vroeg gesterf. Nie een van haar twee seuns het die hande of vat van 'n boer gehad nie en die plaas is verkoop.

Sy sou die plaas tot en met haar dood mis. Nie die grond en die ooptes en die stiltes nie; haar vrugteboord en groentetuin.

Maar nou klink dit of dit haar verantwoordelikheid was, die groente en vrugte. Dit was nie, en of sy ooit 'n voet in die uitgebreide vrugteboord gesit het, sal ek nie weet nie; ek betwyfel dit ook ten sterkste of sy ooit afgebuk het om 'n wortel of ertappel uit die grond te kry.

Daarom eerder die vrug van die boord en tuin wat sy lewenslank gemis het, waarna sy bly hunker het.

Toe ek my verstand gekry het, was sy al jare van die plaas af weg, maar een maal elke jaar moes Pa of Ma van Alberton af, Germiston stasie toe om Ouma se boksie, ander jare 'n kassie, sitroene van die plaas af, al die pad van Ghwarrielaagte af, met liefde vir haar deur die nuwe eienaars aangestuur, in ontvangs te neem.

En hierdie gebruik is volhou tot Ouma van Alberton af, Sonop toe is.

Party jare was dit so min soos 12 en 14 vruggies, ander jare veel meer, maar jaar vir jaar het Ouma die vrugte met amperse heilige toewyding versorg en berei vir 'n kooksel van die allerlekkerste sitroen-konfyt wat nog ooit Noord van die Vaal gekook is. Daar was baie vrugtebome op die plaas, rye en rye, maar net een Sitroen wat baie wisselvallig (eintlik na gelang van die reënseisoen) gedra het.

Vra jy my vandag hoe lyk 'n sitroen, sal ek nie vir jou kan sê nie; jy sal een voor my sit en ek sal nie weet dis een, as jy my nie sê.

My enigste Albertonse herinneringe aan Ouma Moolman is dat ons in die parkie voor haar huis in Jan Coetzee-weg, dennenaalde opgetel het, ek en sy as ek daar kuier, en dan het sy die dennenaalde gevleg.

Ek onthou die konfyt uit my kleuterdae was net so lekker soos wat dit spesiaal was. En twee keer in my lewe het ek al sitroenkonfyt raakgeloop, en gedagtig aan Ouma Moolman, gekoop.

Ook my Ma kon 'n potjie sitroenkonfyt nie weerstaan nie en het elke keer as sy haar hande op een kon lê, na die beursie gereik en vir almal Ouma Moolman se storie rondom die sitroene vanaf die plaas vertel.

Egter 'n ander Ouma-Moolmanisme wat haar jaarliks en baie gereeld, vandag nog, in my gedagtes het. Sommer 'n hebbelikheid, 'n geit gewees, maar dan 'n geit en hebbelikheid waarby sy hoog en laag gesweer het – 'n gebruik wat sy met haar van die plaas afgebring het, en saam met haar geneem het tot in haar graf.

Sy het nie sommer belang gestel in 'n vars vrug op die tafel of in die bordjie voor haar, as die vrug nie reeds deur 'n gevleuelde vrugtevretertjie ryp en heerlik sappig en soet verklaar is nie. Ja, Ouma Moolman het geglo die voëltjies weet watter vrugte is die lekkerste, watter is ryp – aan 'n tweederangse of –graadse vrug, sal hulle nooit as te nimmerste nooit hul snawels slaan nie.

As ek my oë 31 jaar na Ouma Moolman se dood toemaak en haar voor my oproep, kom een van twee beelde by my op. Die een is Ouma by haar tafel in die kamer in die ouetehuis. Die tafel is vir een mens gedek. Sy het 'n swartsteel-vrugtemessie in die een hand, 'n vrug in die ander. Sy skil stadig, bestendig, sekuur, rustig, nie oorhaastig nie – is dit 'n skil afspiraal, val hy in een stuk op die bordie, of langs die jammerlappie op die bordjie van sy eie.

Maar ek sien ook die gate wat die muisvoëls en ander vrugtevreters op Oom Piet se plaas, in Sonop se boorde, in die vrugte, vye, pruime, perskes en appelkose, ingevreet en –pik het. Ek word summier weer 'n klein seuntjie en deins terug by die aanskoue daarvan. En dan hoor ek Ouma vertel hoe spesiaal daardie eetkolle en gate die vrug maak.

Die ander prentjie wat in my toe oë opkom sal ek later by uitkom. Miskien het ek al, ek saal gaan soek.

Die ander Ouma-Moolmanisme wat deesdae gereeld by my opkom, veral nadat ek by die Boeremark 'n tweedehandse broodsnyer uit die jare sestig van die vorige eeu raakgeloop het, is wat sy met die brood gedoen het wat die ouetehuis-kombuis op haar bord gepak het – sy het dit, net so sekuur en bestendig en sorgsaam soos wat sy die vrugte geskil het, in twee gesny.

En ek sien ek word verkeerd verstaan, miskien oor ek myself verkeerd uitgedruk het:  die snytjie brood was te dik na Ouma se sin, dan het sy die enkel snytjie brood geneem en van hom twee, ewe groot in lengte en breedte maar die helfte so hoog, snytjies brood gesny. Elke dag, soggens, smiddags en saans.

Tot iewers in my standerd 7-jaar. En nou beweeg ek oor na 'n teksgedeelte wat ek elders en lank terug geskryf het:

In daardie jaar, standard 7, Hansie is klaskaptein, verjaar Miss Mills, die beste Engelse onderwyseres wat ooit my pad gekruis het.. Ek samel geld in vir ‘n geskenk en oor sy ‘n geliefde by almal is, stroom daar hope van in, genoeg om vir haar ‘n pottery koffiestel te koop. My ma moes opsluit al die pad Johannesburg toe ry, Jacoby’s toe, om vir Miss Mills ‘n bruin blink geglasuurde seventies koffiestel te gaan koop.

Hansie werk die toespraak vir tydens die oorhandiging uit: ons is na haar huis genooi. Haar huis, ‘n klein woonstel gerieflik naby die hoërskool. Ek ken die toespraak selfs ‘n week voor die tyd uit my kop.

En daar sterf Ouma Moolman op Brits. ‘n Songedroogde en weggekrimpte ou vroutjie by wie ons, selfs na die egskeiding, en my pa se dood ‘n jaar tevore, steeds eenmaal ‘n maand deurgery het Brits toe om te gaan kuier.

Dis vir my ‘n uitgemaakte saak: Juffrou Mills verjaar, ek moet buitendien toespraak maak en die geskenk oorhandig:  “Jammer, Mamma, ek kan nie saamgaan nie, ek sal saam met Susan se ma by Juffrou Mills en terug kom.”

En toe die troefkaart uit my ma se mond:  “Jy kan regtig nie, Oubaas, jy is een van die draers van Ouma se kis.”

Oor die jarelange selfverwyt dat ek nie bereid wou wees om ‘n draer van my eie ouma se kis te wees nie —en dit omdat ek na een of ander verjaarsdagpartytjie wou gaan — is egter nie die sterkste begrafnisherinnering wat ek van Ouma Moolman het nie.

Daarvoor moet ons, ‘n jaar vroeër, na my pa se begrafnis gaan.

Ons stop die dag daar by die krematorium. Ek gekisklere en baie vernaam. Ék kon immers sê wat ons moet sing tydens die roudiens:  Nearer my God to thee en Uit dieptes gans verlore (op die Voortrekkewysie en beryming soos my Pa so baie daarvan gehou het.)

Oom Frans en Tannie Johanna van die Kaap, my pa se broer en skoonsuster, het aan die oorkant van die pad gestop. Hulle was al uit en het kom handskud. Weggekrimp dat haar swart bollatjie net-net uitsteek het my pa, die afgestorwene, se ma, diep in die negentig toe al, in die kar bly sit. Ek het oorgestap en gaan groet. Sy het my stom sonder herkenning aangestaar en oom Frans moes kom verduidelik, iets soos, “Dis Hansie, oorlede Hans, ma se seun, se seun.”

Sy het my aangekyk, en háár woorde sal ek nooit vergeet nie, verbatim daarom, dis of ek dit nou opnuut weer hoor: “O, so jy is die seun van die man wat hulle vandag begrawe, aangename kennis. Wie word vandag begrawe?”

Maar dan onthou ek dit nie so goed omdat ek dit nog hoor nie – dis oor ek haar dit so duidelik sién sê dat ek dit nog al die jare en pad met my saamdra.

Of dit bloot die ouderdom was, weet ek nie. Dalk die ontwrigting van ‘n roetine en al die pad van Brits af Johannesburg toe. Moontlik selfs ‘n kalmeerpil wat die gewoonte was, en is, om mense in te jaag. Feit bly staan, Ouma Moolman het ‘n jaar voor haar dood nie geweet wie ek is nie, wie haar eie seun was wat hulle daardie dag begrawe het nie.

Soos gras is nie mens, wat in die oggend opkom en in die aand verdor.

Gelukkig is herinneringe nie heeltemal van gras nie.

Foto's, op die korte duur, ook nie:





Ut edam vivo

Iewers op hoërskool in 'n eksamentoesigklas het die kunsjuffrou gevra of ons eet om te leef, en of ons leef om te eet.

Dis hoeveel jaar later – seker amper 30 – en ek het geen maar geen karaktergroei getoon nie was ek 'n karakter in 'n roman sou ek die kinders daarop moes wys dat ek nie 'n vol of ronde karakter nie, maar ten spyte van my vol en ronde figuur, 'n plat of vlak karakter is:  ek leef nog al die jare steeds maar net om te eet!

Verlede week, na ek gery het om 'n nuwe slaghuis waarvan ek gehoor het, te gaan verken, sien ek nie die nuwe bakkery 'n klipgooi, hanetree en katspoegie daarvan af, raak nie. Maar Vrydagaand toe ons dieselfde sentrum besoek om Stuur Groete aan Mannetjies Roux te gaan kyk, raak ek bewus van die bakkery en weet dat dit net 'n kwessie van tyd is voor ek daar ook besoek aflê.

Met die dat die skool 13:00 i.p.v. 14:00 uitkom, het ek 'n tydjie voor ek Klaradyn moet optel, en ek besluit om die bakkery van nader te gaan leer ken. Uit die hoek van my oog het dit Vrydagaand gelyk of ons sommer nog dik tjomme sal kan word.

Die volgende oomblik kondig Annieka aan dat sy en die beheerliggaam of sy en die ander adjunkhoofde gaan uiteet, en sy noem die naam van 'n restourant wat bekend is om sy lekker kos.

Net daar en dan besluit ek dat ek myself kan bederf op 'n ietsie lekkers. En toe ek eers my voorneme aan 'n kollega noem en sy stel voor ek gaan geniet 'n toebroodjie by die nuwe bakkery oorkant die teater, toe is die koeël deur die kerk en ek in die kar.

Ek besluit om iets in die loop te neem, ek wil nog by die slaghuis ook in om te kyk of hulle wildsvleis al ingekom het – ek wou al die naweek wat verby is lekker wildspastei maak, maar kon geen lekseltjie wild opgespoor kry nie.

Ek koop 'n broodjie – hulle noem hom gourmet, en glo my hy was gourmet.

Maar toe koop ek 'n Italiaanse brood ook – jy kan tog nie al die pad soheentoe ry en met leë hande daar wegstap nie.

Die slaghuis het nie kookvleis nie, maar wel twee rooibokboude. Rooibokboude sal tog seker lekkerder pastei maak as afgekookte bene, so in met 'n boud.

Maar ek hou van vark saam met die wild. Rooibokboud en eisbein. (Nee, ek hoef ook nie spek te koop nie, die slagter het reeds spek om te lardeer by die boud ingesluit.)

Toe sien ek die kaas en onthou die brood wat ek reeds gekoop het. Ek het in 'n stadium gereeld 'n camembert in krummels bedek en dit dan gebak of gebraai en met bessiekonfyt geniet. 1 Rooibokboud en 1 eisbein en 3 camemberts.

Toe onthou dat die ander rede hoekom ek hierheen gekom het was om van die plek se fyn biltong te kry – ek het verlede week vir Klaradyn se broodjies 'n bakkie gekry, en toe ek by haar kom om haar op te tel had ek reeds die helfte van die bakkie myself opgeëet. Ons was op pad drama-klas toe, so toe ons daar aankom het sy afgereken met die helfte van die helfte wat ek vir haar oorgelos het. 1 Rooibokboud en 1 eisbein en 3 camemberts en 1 bakkie fyn biltong.

Ek loop nog met alles in my hand, nou moet ek deur toe om 'n mandjie te kry.

Die pad deur toe neem my weer verby die kaas en 'n moerse wig ingevoerde guyere spring in my hand nog voor ek by die mandjie kan kom. 1 Rooibokboud en 1 eisbein en 3 camemberts en 1 bakkie fyn biltong en 1 moerse wig guyere.

Toe die mandjie eers in my arm is, wonder ek of dit 'n opregte Italiaanse gorgonzola was wat ek uit die hoek van my oog gesien het. 1 Rooibokboud en 1 eisbein en 3 camemberts en 1 bakkie fyn biltong en 1 moerse wig guyere en 1 lywige sny Italiaanse gorgonzola.

Maar in die soek om te kyk of daar nie 'n lekker emmentaller is nie, spoor ek regte egte plaasbotter op. 1 Rooibokboud en 1 eisbein en 3 camemberts en 1 bakkie fyn biltong en 1 moerse wig guyere en 1 lywige sny Italiaanse gorgonzola en 'n pond vars plaasbotter.

Toe is ek weer agtertoe na waar ek die pakke en pakke droëwors gesien het. Ook al iets soos R169-00 vir 'n kilo wors, maar dis as jy 'n klein pakkie koop – koop jy 'n kilo, is dit iets soos R20-00 'n kilo ligter. Dit sal dom wees om 'n klein pakkie te koop, dan maar eerder 'n kilo. 1 Rooibokboud en 1 eisbein en 3 camemberts en 1 bakkie fyn biltong en 1 moerse wig guyere en 1 lywige sny Italiaanse gorgonzola en 'n pond vars plaasbotter en 1 kilo droëwors.

Op pad kasregister toe gaan ek verby die beskuit – ja dit klink nie meer na 'n slaghuis waarin ek my bevind nie, maar glo my, dis 'n slaghuis – en ek onthou hoe lekker die beskuit was wat ek verlede week hier gekoop het. 1 Rooibokboud en 1 eisbein en 3 camemberts en 1 bakkie fyn biltong en 1 moerse wig guyere en 1 lywige sny Italiaanse gorgonzola en 'n pond vars plaasbotter en 1 kilo droëwors en 1 pak anysbeskuit.

Die konfyt om saam met die camembert te bedien, het hulle nie, maar hier is heel groen vyekonfyt, en dis tog so lekker saam met die Gorgonzola...

Gelukkig weier die bank nie die kitskaarttransaksie waarin ek my tien minute nadat ek daar ingestap het, begewe nie.

Gelukkig is daar 'n Woolies Foods neffens die plek, want dit sal darem lekker wees as ons emmentaller ook kan geniet – Klaradyn het opvoeding in kaas nodig.

Hulle het nie die kaas nie, maar ek kry die bessiekonfyt vir saam met die camembert.

En toe raak 'n potjie uiemarmelade rammetjieuitnek met my, maar ek laat hom maar begaan – ek wil nie 'n insident in die winkel hê nie, en netnou is dit lekker saam met die guyere.

Ek stap nou met die trollie na die motor – ek wat gekom het vir die koop-en-loop toebroodjie heel onder in een van die vele sakke.

Maar dis 'n bargain – ek hoef nie eers parkeergeld te betaal nie – dit het my minder as 'n uur geneem om al my geld tot die einde van die maand uit te gee, en die eerste uur is gratis.

In die motor speel die mooiste kerkorrelmusiek van Ockie Vermeulen, kliphard.

My gourmet broodjie is die lekkerste sedert een wat ek jare gelede op die Franse platteland by 'n mark geëet het.

Ek betrap myself dat ek doellose sirkels al in die rondte in die parkade ry – ek gee myself oor aan die wonderlike, bykans goddelike, stimulering van my ore en tong, en besef as ek nou moet sterf, dan is dit op 'n asembenemende hoogtepunt.

Maar ek oorleef die oomblik en ekstase, oor-lééf dit, om te kan eet.

Gelukkig is my kunsjuffrou, die beste kunsjuffrou in die geskiedenis van die mensdom, Jacque Olivier, ook al seker amper 27 jaar oorlede. As sy my moes sien of hoor, sou ek baie skaam gekry het.

Maar stop ek weer daar, en miskien moet ek voortaan al ons brood daar koop, kry ek van die vars lewer wat so lekker gelyk het. So lekker soos Judy Moolman en Sakkie Korf dit kan maak, sal ek nooit regkry nie, maar niks keer my om te probeer nie.

Naskrif:  die lawwe titel, ut edam vivo, is aldus Google se vertaler uit Afrikaans in Latyn die Romeine se weergawe van "leef om te eet" (Of dit so is, sal net George of Charl of Rina kan beantwoord.)


13.6.11

Toe se ouma en nou se ouma


My Ouma Moolman was in die ouetehuis op Sonop, net buitekant Brits. My pa se suster was die matrone van die ouetehuis en omdat hulle nie ver daarvandaan nie geboer het, kon Ouma Moolman in Tannie Miemie se Personeelwoonstel bly.

Ek onthou my ma was altyd haastig om te vertel van die matrone-woonstel waarin my ouma gebly het. En ek onthou my ouma het nooit saam met die ander oumense in die eetsaal geëet nie, maar in die kamer – so asof sy die behandeling wat die matrone toekom, geniet.

My ouma en Tannie Miemie was al jare dood, toe ek agter die kap van die byl kom. Die Sonop-nedersetting is blykbaar begin om huisvesting aan hulbehoewendes en armlastiges te verleen.

En die oues van dae in hierdie betrokke ouetehuis was die wat letterlik geen ander heenkome had as om daar deur die staat gedra te word nie. My ma-hulle moes gevolglik seker verplig gevoel het om dadelik te kwalifiseer dat Ouma haar nie daar bevind op grond van armoede nie, maar dat sy die matrone-kwartiere in die plek van haar dogter betrek.

En Ouma Moolman was straks self te opstairs om met die ander te assosieer.

Ek weet nie. Ek was kind en baie klein. En het net een keer 'n maand saam met ouers deurgery Brits toe om vir Ouma en Tannie Miemie-hulle te gaan kuier.

Die kuiers op die plaas was heerlik.

Maar ek het elke oomblik by die ouetehuis gehaat.

As ons eers by Ouma in die kamer was, was dit okey, maar om daar te kom, was 'n stryd en nagmerrie.

Ek kry sommer so hol kol op my maag, net om hier daarvan te tik en daaraan terug te dink.

Die ouetehuise, daardie dae, het nie op gegaan, die lug in, nie. Nee, hierdie was 'n enkelverdieping-gebou wat vir myle en myle in die Wes-Transvaal son uitgesterk gelê en vergaan het tussen sonbesies en swart turfgrond.

Letterlik soos myle het dit gevoel. Myle van waar die motor in die skadu parkeer is, na die hoofingang waar Ouma se kamer dadelik op linkerhand was.

Die hekkie het 'n son met strale in gehad, so in ysterwerk gesweis, en die gedagte was seker dat dit 'n opkomende son moes verteenwoordig. Tot en met daardie een middag in standerd 7, die tweede laaste middag in my lewe wat ek ooit op Sonop was, het daardie son, van ek my verstand gekry het, net een ding beteken – 'n son wat ondergaan. Niks positief nie, maar negatief al die pad.

Die paadjie self was van sement in verskillende vlakke en grade van verval. Daar was al die jare 'n bedding tussen die vervalle paadjie en dooie grasperk wat tot teen die ouetehuisstoep gestrek het; partykeer was daar dooie blomme in die bedding (of iets wat daaraan herinner het dat dit dalk 'n blomplant kon gewees het), meestal was daar niks.

Maar hierdie sementpaadjie in die hitte en sonbesies was niks, niks in vergelyking met dit wat op die stoep agter en tussen die koffieblikke vol varings aangegaan het nie. Daar, vir myle en myle, so lank as wat die gebou was, het ingeryg gesit die ou ooms en tannies.

En dan was Jacques Brel amper reg as hy sing dat the old folks don't talk much, and they talk so slowly when they do. Want hierdie ooms en tannies het niks gepraat nie, nie woord nie. En as daar die betrokke Sondag 94 van hulle in die verweerde rottangstoele op laslapkussinkies gesit het, het 179 oë (‘n paar was blind en een of twee sou iewers langs die pad ‘n oog verloor het) jou gevolg van die oomblik wat jy die sononder-hekkie se knip oplig, totdat jy, ure later (so het dit weer eens gevoel) by Ouma se kamer ingehol het.

Hulle het nie gepraat nie, nie ‘n woord gesê nie, maar dit beteken nie hulle was stil nie, tussen die sonbesies en die paar aasvoëls en swart kraaie se gekrys in die omgewing deur, kon jy die ou ooms en tannies se nekke, en oë, en senings, en gelooide en geplooide leer velle hóór kraak, soos hulle jou elke tree en beweging volg.

Naby die hoofingang sou altyd iemand wees wat ‘n gekraakte rimpelhand van die stoelleuning gelig het, en na my gewink het, my nader gelok het; ‘n tandelose mond sou dalk iewers iets geroggel het. Maar voor my ma of pa my kon terugroep om die oom of tannie ordentlik te groet, was ek al by Ouma in haar kamer.

Brel bring in sy lieflike én verskriklike liedjie oor die ou mense ook 'n ou silwer horlosie wat hul tyd op aarde sekond vir sekond aftel, in. Hy sluit dan ook af met:

but life goes on / For still another day / As they try to escape the old silver clock / When day is through / It tick-tocks oh so slow it says "Yes" it says "No" / It says "I'll wait for you" / The old old silver clock that's hanging on the wall / That waits for us / All

Vir my, as kind, was hierdie ou ooms en tannies op die stoep daardie klok wat op my gewag het, my wou kom haal het, my wou kom kry het. 'n Groot, ou, hout, staanhorlosie, nie 'n silwer klok nie, elkeen van hulle, hulle oë en nekke, die pendulum en uurwerk wat vreesaanjaend en amper sinister beweeg. Ek wil ook die woorde makaber en surrealisties kan gebruik.

Dat ek enigsins nog lief vir ouma kon wees, verwonder my tot vandag toe.

Ek het seker so vier jaar gelede weer daar gestop. Baie het verander en is aangebou, maar intussen het dit ook soveel verval, dat dit eintlik maar dieselfde gebly het – die doodsheid, die sonbesies, die drukkende, gillende stilte.

Die ou mense uit my kindertyd is almal dood, en die nuwe ou mense sit nie meer op die stoep nie. Ouma se kamer is verbou. Maar my kindertydvrese het volledig van my besit geneem toe ek met dit wat oorgebly het van die sementpaadjie hoofingang toe, afgestap het.

Daarom dat ek soveel begrip het vir my dapper dogter wat een Sondag 'n maand saam met haar ma en pa by haar ouma in die ouetehuis moet gaan eet.

Hierdie een is in die lug op, daar is nie 'n stoep nie, die seniele oues word in 'n sitkamer ingeryg soos mielies aan 'n stronk. Klaradyn weier om daar in te stap. Die een, dierbare, gesellige, mal-soos-'n-haas, kens tannie, het haar 'n ruk terug nader gelok en begin gesels – Klaradyn het haar water en ligte weggeskrik.

Dis nou winter, daar is nie 'n venster op die hele vloer oop nie, so dit stink so aan pis tot middel September dat geen mens dit sommer kan hou nie.

Die een tannie gil van die more tot die aand so hard dat selfs my ma, stokdoof en vier kamers af in die gang, kort-kort vra wie die kind is wat so skree en of ons die mens nie kan gaan help nie.

En dan is Pa die een wat met 'n opgewonde stem uitroep:  “Kom ons gaan kuier bietjie vir Ouma Nooi!” Stomme kind!

Dan is Pa die een wat so een Sondag 'n maand sê ons moet daar by haar gaan eet.

Darem nie in die eetsaal of haar kamer nie, in die lieflike tuin.

Somer is dit maklik, ek koop kouevleis en slaaie op Ouma se kaart – dit het my nie in die kombuis en weg van die gesin aan die kosmaak nie, én ons het kwaliteittyd met Ouma.

Winter is nie noodwendig moeilik nie, maar anders. Dan vat ons warm kos. Soos gister.

Ek warm die kos op by die huis en pak dit, in 'n kombers, in 'n koelboks. Terwyl ek opgaan om Ouma in haar rolstoel te kry, dek Annieka en Klaradyn die tafel. Sluit ons by hulle aan, kry ons die warm kos op die tafel en ons eet.

My ma is nou een van Brel se ou mense wat nie meer vreeslik praat nie. Partykeer, kom ek daar, het sy vergeet hoe dit is om te praat en dan praat sy in so 'n hoë skril stemmetjie sonder om agter te kom dat dit nie eintlik is hoe mense praat nie. En as sy die dag praat, is dit deurmekaar en gedeeltelik onsamehangend omdat die brein verkeerde en ander woorde as wat sy soek, na haar tong toe stuur. Maar sy geniet die kuier, elke kuier, en die kos terdeë.

Veral iets soets, soos gister se pampoenkoekies. En elke keer se poeding, maak nie saak wat dit is nie.

'n Uur later pak ons op en gaan huis toe.

Maandag het sy vergeet dat ons saam geëet het, maar dit maak nie saak nie. Dis die hede wat belangrik is, die verlede tel nie, en gister het sy 'n hele ruk lank 'n heerlike stuk hede kon geniet. So by so dat sy gehuil het toe ons moet groet, want wanneer sien sy ons dan nou weer.

En dit kom straks as paradoks oor, maar ek was so bly dat sy nog kan huil oor ander goed as frustrasie met lam bene of seer bene. Dit bewys sy weet nog wie ons is, en selfs as sy nie weet wie ons is nie, bewys dit ons is vir haar belangrik en dis vir haar lekker om ons om haar en by haar te hê. Daar is 'n diepte, 'n emosie, 'n begryp en verstaan en deel wees van 'n sosiale struktuur.

In Judy se geval is dit baie om voor dankbaar te wees.

En dan is ek sommer opnuut bly oor Klaradyn ook. Soos vir my destyds, moet dit vir haar hel wees, maar sy verdra dit en sy verduur dit, want dit is na alles haar Ouma.

11.6.11

In en uit by die honde se klapdeurtjie


Ek is nie opgewasse vir die klas van ding waarmee ek Vrydagoggend op my nugtermaag konfronteer is nie. Ek was darem al by die werk en geen ander normale mens sou nog nugter gewees het nie; myne was wel, en selfs al was hy nie, het ek hom net daar en dan, in die klas, morsdoodnugter geskrik.

Die dag het hoeka nie goed begin nie. Vir die tweede keer hierdie jaar besluit ek en Annieka om met dieselfde motor werk toe te ry. Dit noodsaak aanpassing van ons beide, maar dit is darem lekker om so nou en dan die ongewone te doen. Maar toe alles in my kar gepak is (Ma se rekenaar, Ma se handsak, Pa se rekenaar, Pa se klaar gemerkte antwoordstelle, Klaradyn se skooltas, Klaradyn se naskool-klere, Klaradyn se padteken vir die mondeling, Ouma se mandjie wat moet teruggaan én die borde, messe en vurke vir pouse se verjaarsdagete aan ons tafel) toe is die sleutels soek.

Toe dit al 10 minute soek is, die huisbediende is al op die erf, toe begin ons oorpak.

En toe ek alles en almal uiteindelik weer ín Mamma se kar het, en die donderse hond úit, en ek klim self in, toe kom Martha aangehardloop met die sleutel – hy was toe op die kombuistafel, maar onder die een of ander pot se deksel wat ons nie die moeite gedoen het om op te lig nie – wie sal nou ‘n deksel op ‘n stel motorsleutels staanmaak!

By die skool gekom, het ons vergeet ek en Annieka kan nie vanmiddag tussen 13:00 en 14:00 gaan kyk wat ek haar nou al van Maandag af wil wys nie – ons het vergeet ek help met die matrieks se praktiese drama-eksamen. En ons is by die skool met een motor. En ek is besig tot 17:00. En 17:00 moet Klaradyn na Ouma-hulle toe. Want ons gaan vanaand Stuur Groete Aan Mannetjies Roux kyk. En ons ontmoet die res van die mense al 18:00 vir aandete. En, en, en. Want, want, want...

En toe die SMS (ek en die kinders waar ek eksamentoesig hou, is net besig om die klas in te stap):

Liewe Annieka, Carel het klaarblyklik vir Klaradyn genooi om Saterdagoggend saam met ons te gaan fliek. Ek weet nie of dit reg is met julle nie. Jy is welkom om saam te gaan indien dit in orde is. Groete Lize Lombaard.

Ek en Annieka sukkel beide met skeidingsangs, en dan nou dit!

Ek gaan sit.

Die kinders vra wat is fout. Een wil gaan suikerwater haal, ’n ander dra ‘n suiglekkertjie aan.

Ek los my student by die kinders en sê ek is terug voor ons moet vraestelle uitdeel – ek sit af na Annieka toe.

Maar dit help nie ek praat met haar nie – sy is nog meer aan die kind se broekspante vasgeheg as haar pa.

Ek kry nugterheid, en helikoptervisie, en alles wat nodig is om my kop oop te kry.

Ek het vir Carel se pa skoolgehou. En vir sy boetie. Soos ek die gesin leer ken het, en onthou, is dit ‘n gesin waarheen ek my kind sal laat gaan as daar ‘n partytjie is.

Carel se ma het nog elke keer wat ek met haar te doen gekry het, baie aangenaam oorgekom.

Klaradyn  het Carel se naam al baie in gesprekke laat val – elke keer positief. (En as sy na haar ma aard, gaan sy haar hele skoolloopbaan lank in baie opsigte baie lekkerder met haar seuntjiemaatjies as dogtertjiemaatjies speel.)

Ouma het al laat val watter oulike gesinnetjie dit lyk.

So enige lewensbeswaarlike probleme met die mannetjie kan ons nie hê nie.

Toe pak ek die mannetjie verder by die horings:

Ten eerste moet ons onthou ons is besig met 'n opvoedingstaak.

Die mannetjie het nou die galante stap geneem om 'n dametjie te vra om saam met hom te gaan fliek. Gestel nou maar dit is die eerste keer dat hy so iets doen, dan kan die man mos nie so met die intrapslag 'n koue skouer kry nie. Dit knak hom dalk net vir die res van sy lewe.

Ek sal Klaradyn vra of sy wil gaan, en as sy in haar hart oortuig is dat sy eerder saam met Carel-hulle wil gaan fliek, as om saam met Mamma en Pappa na 'n vervelige rugby-hokkie-en-netbaldag by hulle skool te kom, dan is dit reg so.

As maatjies wil speel en gaan fliek is dit goed so. Ons sal nie in hul pad staan nie.

Ek meen, ek dink nie dis ‘n geval van snuiters wat oor die onderdeur begin loer nie – maar smaak my straks het hulle die honde- of katteflap waarby die troeteldiere in en uit, opgespoor en loer hulle daardeur.

Weet egter, as dit sommer enige van die ander mannetjies was, was ek beslis nie so geneë nie, het ek trouens 'n stokkie, nee, 'n stok of 'n spanner daarvoor en in die works gesteek.

Intussen het ek met die ma gepraat en die wind was net so uit haar seile geneem toe haar seun vanoggend op pad skool toe laat val dat Klaradyn Saterdag saam met hulle gaan fliek. Nee, hy het Klaradyn nog nie gevra nie, hy sal nog en intussen moet sy ma kyk wat sy gedoen kan kry met Klaradyn se mamma.

En vandaar die SMS na Pappa se foon wat hulle gehad het as Mamma se nommer.

Die mannetjie het darem sy woord gehou en Klaradyn pouse gevra.

En wat sê sy?

“Nee.”

“Want,” sê sy vir Annieka, “ek het geweet Mamma weet dit nie, en as ek vir Mamma sê na skool, sal Mamma histeries wees.”

Ook maar goed sy het vir 'n oomblik van haar pa vergeet.

Want sy was reg. Kan 'n kind so in die kol wees? Kan 'n sesjarige haar ouers so goed ken?

Ek hoop hulle het 'n lekker tydjie.

Streng gesproke sal ons dit met die skool se sportdag saam, so kan bewimpel dat een van ons saam kan gaan. Maar in belang van én die mannetjie, én Klaradyn, is dit beter dat ons haar alleen laat gaan.

10.6.11

Dis heerlike winter...


Dis heerlike winter...

...die herfs is verby, weer nodig die kombuis vir jou en vir my.

Ja, dis met 'n hola-drioa, hola-drio in die hart dat ek die dae aanpak. Kosmaak is nooit so lekker soos in die winter nie, en dit sal my nie verbaas as navorsing eersdaags bevind dat kos in die winter ook sommer 'n hele paar strate vorentoe proe nie.

‘n Vriendin by die werk vra gister na ‘n beesstertsop-resep, en ek weet daar is iewers op die rekenaar een – ek het sewe jaar gelede baie goeie vriende oorgehad vir sop en moes die volgende dag ‘n spul lekker wintersoppe se resepte vir hulle per e-pos aanstuur.

Die beesstert-een sou beslis een van hulle gewees het.

Ek het die resep straks voorheen geblog, ook, so ek moet net in die rekenaar se binnewerkinge gaan rondkrap en soek na sop en os- of beesstert

Ek spoor hom toe ook op onder die opskrif soos hier onder:

Beesstersop van Hans en Annieka se daknatmaak.

Ook al agt jaar gelede. Ons het 1 Julie ingetrek en dit maak sin dat ons gesellig rondom borde vol sop die eerste groot kuier sou geniet het.

Maar maak ek beesstertsop, dink ek nie aan die huis se daknatmaak nie; ek dink aan einste pal vir wie ek die resepte aangestuur het.

Jare gelede, toe Duiwelskloof nog Duiwelskloof was, ek dink nie eers sy oudste dogter wat nou al in matriek is, was al gebore nie, ry ons teen so ‘n bult af Duiwelskloof se kant en na sy heimat toe. Terwyl ons so verby nedersettings, statte, gehuggies, bokke, beeste en oorbeweide vee- landbougrond ry vertel, vertel hy van die beessterte wat so goedkoop is in daai omgewing - omdat die Modjadji en haar mense nie sommer beesstert eet nie. Die hele geweste daar het trouens ampers 'n oorskot beessterte en dis relatief goedkoop bekombaar.

Ek kry dan ook sinies giggel as ek dink aan die twee kere wat ek al raakgelees het van hoeke inexpensive kos van beessert gemaak word. Want ek weet wat ek vir die beessterte waarmee ek op die oomblik werk, betaal het.

Ons betaal deur onse nekke vir lekker beesstert!

Ek maak nie gereeld beesstertsop nie – daar is vir my min geregte so lekker soos beesstert en as ek die dag beesstert het, dan berei ek dit as vleiskos vir ‘n hoofmaaltyd.

Maar partykeer gaan ek oorboord, of kry ek ‘n boks sterte te koop, dan maak ek graag hierdie resep.

Benodigdhede

1 — 2 kg beesstert – dis so twee of drie heel sterte (gewas en in water geweek). Natuurlik altyd eerder 2 kg of 3 sterte, as dit van my afhang.

so 750 g (gerookte of vars) varkskenkel

Die beste slaghuis hier by ons is die Duitse slaghuis ‘n hele ent van ons af, maar beslis die moeite werd om so ver agter hulle sterte aan te ry – geen vet nie, en net groot stukke/litte, met dan die baie vleis. Bloody duur, maar kosteffektief. En oor ek daar is, hulle Duits is en weet van, vra ek dan dat hulle sommer vir my ‘n eisbein in twee of drie stukke saag vir die vark.

4 liter water

sout

2 — 4 uie

1 bouquet garni (Woolies verkoop deesdae oulikes, maar dis eintlik maar net ‘n bossie verskillende kruie in ‘n neteldoek of moeselien toegedraai.)

1 kop seldery – ek hou nie van seldery nie en verminder dit in enige resep met meer as die helfte, maar hier kan jy maar met vrymoedigheid die hele kop gebruik.

2 vet rape (turnips vir die winkelier)

4 wortels

6 — 8 kruienaeltjies

½ t peperkorrels

rooipeper

meel om te verdik

As daar ‘n prei in die yskas is, toevallig ook ‘n tamatie of wat, wat na die naweek sal moet komposhoop toe, dan kan jy dit met vrymoedigheid ook in die gereedheidshouding plaas.

Metode


vleis en water in pot (jy kan die vleis eers lekker bruin braai ook voor jy dit kook — dit veroorsaak ‘n kleurverskil en ook ‘n geurverskil, maar los maar die braai as die tyd min is)

skep die skuim af wat opkom (dit hou nie te lank aan nie en ‘n teesif werk lekker)

sodra daar nie meer skuim opkom nie, gooi jy al die ander bestanddele behalwe die rooipeper in (jy kan die uie, rape en wortels ook eers lekker bruin braai, maar soos met die bruingebraaide sterte dateer dit uit die dae van koolstowe met 3 kombuis-, 3 opwas-, 1 kinder- en 4 huis-vrouens en dergelike -bediendes… maar braai maar geduldig, jy sal nie spyt wees nie en jou ook nie net verbeel dit proe anders nie – dit doen!)

kook tot sag (3 — 5 ure, maar die stoompot werk amper net so goed as jy klaar die skuim afgeskep het)

En as jy tyd het, val weg in die slow-cooker of prutpot en gaan slaap tot more oggend.

as dit sag is, uit met die vleis en bene

as daar baie vet bo dryf, moet jy nou weg daarmee (omdat ek by die Duitsers koop, het ek nog nooit hiermee gesukkel nie, maar jy moet maar afskep, selfs afkoel as dit moet en dan ontslae raak van dit wat stol – ek het een keer, net om te kyk of dit regtig werk, met ysblokkies in ‘n vadoek die vet gestol en afgekry)

aftreksel dan deur ‘n vergiettes om van die groente en goed ontslae te raak (ek het die groente en goed al bygegooi, maar dis nie lekker nie, ek het dit al verpulp en bygeroer, maar dis ook nie lekker nie, gooi dit weg, dis nie vermors nie, dit het dit se doel gedien – dit het jou kos heerlik gegeur)

ontbeende vleis terug by aftreksel (jy kan vir fancy-geit ‘n paar klein beentjies met die vleis nog aan in die sop hou)

verdik met meel en geur met sout en rooipeper

speel met speserye en selfs wyn as jy wil, sjerrie, port...

Ek dink nie dit sit enige Afrikaner se broek of hart om die vleis nie terug te gooi nie. Maar daar is resepte wat heeltemal wegdoen met die vleis as jy dit eers 100% van die bene afgekook het. Die aftreksel, wat nou ‘n lieflike dik jellie word as dit afkoel, kan met wyn en kruie na smaak gegeur word en dan bedien word.

Maar ek het dit nie in my nie. Jammer.

Saam met hierdie beesstertsop het ek en Annieka ook Esti se Duitse Frankfurtersop voorgesit toe ons dak natgemaak het. Dis nie ‘n resep wat tot ‘n mens spreek as jy hom lees nie, maar boetie! maak hom nou, en proe hom op die tong, dan praat ons weer.

Hierdie resep het ek seker vir 10 jaar gemaak vanaf ‘n troukaartjie waarop die datum van dioe huweliksbevestiging as 13 April 1996 aangegee word. Ek het die resep sedert ’91 gehad, maar toe verloor. Vriendin Esti is toe Kaap toe en dit was ‘n gesukkel om haar nommer in die hande te kry, maar ek het, en ook die resep.

Toe ek een van Nataniël se Kaalkop-kookboeke met die plek vir jou eie resepte kry, het ek hom darem oorgedra. Maar ook nie oorgedra nie, terwille van die outentieke het ek die troukaartjie net so ingeplak.

Duitse worssop
(van Esti agterop Deon Loretan se troukaartjie van 13 April 1996)


Benodigdhede


Aanvanklik

60 g botter

1 gekapte ui

1 teelepel kerriepoeier

sout en peper

60 g koekmeel

Bietjie later


1 liter hoenderaftreksel

4 ertappels in blokkies gesny

Nog later


1 kg gemengde groente (vars is heerlik maar ‘n bevrore pak werk net so goed — vat net die country style i.p.v. die blokkies, dan lyk dit minstens outentiek)

1 bouquet garni (of mixed herbs en pietersielie as jy nie Woolies se fancy bouquet garni’s het nie)

Op die ou einde


500 g frankfurters (ek koop by die Duitse -slaghuis —  500 g verskillende worsies as ek wil uithang)

100 ml room (en as ek nie nog room elders gebruik nie, gooi ek sommer die hele kannetjie in)

25 ml sjerrie (na gedagte werk net so goed)

Metode


Aanvanklik


smelt die 60 g botter

meng die ui, kerriepoeier, sout, peper en koekmeel by

kook/braai/roer vir so 2 minute

Bietjie later


gooi die hoenderaftreksel en ertappelblokkies by

kook vir vyf minute (na gelang van die grootte van jou ertappelblokkies)

Nog later


in met die gemengde groente en bouquet garni

kook tot sag

Op die ou einde


uit met bouquet garni

in met gesnyde frankfurters en room

in met sjerrie as frankfurters deurwarm is

Gooi nog vloeistof/aftreksel by as dit te dik lyk. Partrykeer gooi ek by, ander kere nie.

Ja-nee-wat, ek is sommer opnuut bly die koue is uiteindelik met ons – selfs net by die deurlees van hierdie resepte en die lekker herinneringe wat dit oproep.


9.6.11

Wolraad stap by die zebra oor die pad


Daar is seker ‘n woord daarvoor, maar wat dit is, sal ek nie weet nie. Straks selfs ‘n sindroom in die sielkunde wat daarna vernoem word. En wat dit ook al is, ék trap klokslag pens en pootjies daarin, op so ‘n manier dat die see my nie kan skoon was nie. Soos nou weer met die padtekenpraatjie.
Annieka laat val iewers verlede week dat Klaradyn die Vrydag wat nou kom oor ‘n padteken wat sy self kies, moet gesels. En Klaradyn vul die gesprek aan met die inligting dat sy die padteken moet skool toe neem ook – op ‘n stok.
En wat doen ek? Ek sluk my koffie want daar lê nog ‘n volle Vrydag tussen tóé, en die Vrydag wat Annieka  genoem het.
Maar kyk net wat doen Tyd met ons – die Vrydag wat destyds so ver geklink het, lê nou om die draai, sommer al more as ek my dit nie mis het nie.
En in al hierdie tyd het net een ding gebeur – Klaradyn se stok het al hoe groter en dikker geword, so groot en dik dat ons nou al selfs ‘n besemstok verby gesteek het, en haastig op pad is na ‘n piksteel toe.
Ook dan seker haar eie skuld dat ek haar woord hier teen Dinsdag wat verby in twyfel begin trek.
Sy kom toe mos ‘n ruk gelede by die huis aan met die storie dat sy ‘n praatjie moet uitwerk oor die man wat die mense met sy perd by die sinkende skip gaan haal het, en toe self omgekom het – wat is sy naam nou weer... Wolraad Woltemade.
Ek is vreeslik opgetrek met die Juffrou wat so oulik is dat sy nog die wit man se geskiedenis  met die kindertjies ook doen, en ek besef net weer eens, vir die hoeveelste keer, dat ons Klaradyn in die regte skool gesit het.
Die praatjie is blykbaar met die oog op uitdunne vir volgende jaar se redenaars, en nee, daar is nie ander kinders wat oor Wolraad Woltemade praat nie, dis net Klaradyn; daar is nog ander kinders ook, maar hulle praat oor ander onderwerpe.
Maar ek luister net met ‘n halwe oor, my gedagtes is by watter boek die stukkie geskiedenis is wat ek en Klaradyn nie twee maande vantevore nie, so lekker gelê en lees het. My gedagtes spring na die nuwe kinderboek wat ek onlangs op die winkelrakke gesien het, wat ek dood seker is ook die storie van Wolraad Woltemade in het. Ek is trouens klaar op my knieë met my neus in die rugkante van die boeke, op soek na die boek waarin ons dan nou die man ontmoet het.
Om ‘n lang storie kort te maak, Wolraad Woltemade was ‘n wolhaarstorie wat sagkens ‘n stille stood gesterf het, en net so skielik dood is, as wat hy gebore is.
Ek bel toe maar die Juffrou oordat ons niks meer uit Klaradyn kan kry nie as net dat sy oor Wolraad Woltemade moet praat nie.
Maar Juffrou weet van niks – Wolraad Woltemade se naam het nie eers in die klas ter sprake gekom nie. (Ja, ek moes dit seker kon geraai het – ek sal maar voortgaan en die artikels oor Sisulu solank eenkant sit vir anderjaar.)
Dit kan wees dat Klaradyn gedroom het. Of dit kan wees dat sy bloot lus was vir ‘n praatjie en gedink het dis tyd dat ons weer een uitwerk, en waar wil jy nou ‘n beter onderwerp kry as Wolraad Woltemade.
Eers ‘n paar dae nadat ek met die Juffrou gesels het, onthou ek dat ons seker so twee weke sedert Wolraad se spook uit die branders opgestaan het, vir die eerste keer in Klaradyn se leeftyd, deur my posseëlversameling van ouds gegaan het. En in hierdie versameling het ons lank gesels rondom ‘n reeks seëls uit die vroeë jare sewentig met onder andere ‘n uitbeelding van Wolraad Woltemade op.
Hierdie seël het seker dinge in haar onderbewussyn oopgekrap wat toe via ‘n droom of ‘n verbeel opgeëindig het in praatjie wat sy en haar pappa moet uitwerk rondom die dapper man en sy perd.
So toe Klaradyn se padteken oor die loop van die naweek en hier teen Maandag al hoe groter word, toe hoor ek perdepote klop op die strand, ek ruik ‘n wolhaar Woltemade-storie.
En hoe meer ek my ‘n klas voorstel met enige iets tussen 25 en 30 woelige graad eentjies  in wat elkeen met ‘n besemstok of piksteel in die klas rondloop, hoe meer hoop ek dat ek daarvan behoed sal word, en begin ek dit bevraagteken of enige regdenkende Juffrou so ‘n opdrag en uitnodiging tot algehele chaos sal gee.
Bel en vra, gaan ek waaragtig nie weer nie – nie na Wolraad Woltemade se verleentheid rondom ‘n telefoonoproep nie.  Dinsdag is ek vroeg om haar op te tel, ek sien die Juffrou se klaskamervensters is nog oop en ek stop, ek stap in.
Nee, hierdie keer is die storie is waar – die juffrou wys my trouens die stokke wat al ingekom het – formidabele goed, ‘n een en ‘n elk, en ek weet waar Klaradyn aan haar stokke en stele, lugkastele en kartonne van gigantiese proporsies kom.
Juffrou groet vriendelik met ‘n gawe “nou maar lekker padteken bou.”
En dis toe net daar waar ek toe die fout maak en my voet neersit en besluit dat daar nie ‘n manier is dat ek ‘n padteken gaan maak nie, óns sal, Pappa én Klaradyn – sommer Pappa en Mamma en Klaars, die hele lot van ons, maar die belangrikste is dat Klaradyn moet kan sê dat sy dit gemaak het.
Ek het hoeka die ander in die klas so gekyk en besef dat die lyne net té reguit, die plak en knip net té netjies, die verfwerk net té egalig, en die tekenwerk net té presies vir enige graad eentjie se handjie is. Trouens ek wonder of enige graad eentjie naby enige een van die voltooide take toegelaat is.
Nou kyk, as ek ‘n paar jaar jonger was, het ek om middernag ‘n padteken van die paal gaan steel sodat my kind goed kan voel oor haar teken, kon ek dit bekostig het ek na die kennisgewingbord-plek skaars vyf kilometer van ons huis af gegaan en uit perspex ‘n presiese lewensgetroue replika van ‘n padteken laat maak en betaal. So ek verwyt geen pa en ma wat hul kinders se padtekens gemaak het en nie toegelaat het dat hul kinders naby dit kom nie – ek verstaan.
Dis net dat ek nie wil weet waar ek in standerd 5 en 6 gaan draai as ek nou al in graad 1, met iets so maklik soos ‘n padteken, met my volle gewig inspring nie.
Ek besluit summier dat my kind die een sal wees wat deur haar hele laerskoolloopbaan haar eie take sal maak – selfs al beteken dit dat sy minder punte kry as wat ek en Mamma vir die take kon gekry het.
Ek (want die kind kan dit tog nie, nog nie, self doen nie) het die naweek al de laaste een van die 896 padtekens wat in Suid-Afrika gebruik word ge-google én afgelaai. Ek het al praatjies, rubrieke, radio-, program-, en TV-reekse in my kop uitgewerk wat Klaradyn oor een en elk kan aanbied, maar sy skop (gelukkig) vas en hou by dit waarmee sy dag een by die huis aangekom het – die padteken by die ouetehuis waarby ons elke dag met óf die motor, óf die fiets, verby ry:  ‘n rooi omsoomde driehoek wat die motoriste waarsku van voetoorgang by ‘n komende zebra-kruising.
Ek por in allerhande rigtings, maar verniet, Sussie het haar kop op die zebra-strepe gesit en basta met die res.
Ek stel uit, vir ingeval, maar haar nee bly haar nee en ek kan enige ander teken maar op my maag skryf en maan toe blaas, my kind gaan die Rubicon van haar praatjie by ‘n zebra-streep oorsteek.
Gelukkig het ek ‘n student in die klas, anders moes ek my lewe op ‘n tafel waag:  ons plak toe ‘n plakkaat wat al maande in die ingangsportaal is agterstevoor op die bord vas en ek projekteer die padteken wat ek ge-google het, daarop; die student teken af.
Toe ek Klaradyn die middag optel wys ek haar dadelik die prent in die kattebak en sy loop summier oor van opwinding, sy kan njie wag dat ons na dramaklasse by die huis kom om die ding te kan verf nie.
Ek sien uit na heerlike Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd rondom die eetkamertafel – dis die regte manier van doen, die manier waarop daar in tydskrifte van vertel word, die prysenswaardige opvoedkundig korrekte benadering.
Nee, vee dit maar van die tafel af en by die agterdeur uit. Dat ons daardie aand nog om dieselfde tafel aandete geniet het, is suiwer genade van bo.
En die grootmense is verkeerd gewees, die kind reg.
Want Klaradyn wil met volle gewig en lyf en oorgawe inspring en inkleur en verf, en ek en Mamma keer net, want netnou gaan sy oor ‘n lyn, netnou drup sy op die wit, netnou maak sy verkeerd.
Kan grootmense sulke volslae pyne wees!
Ek oordryf natuurlik, soos altyd, maar dit was opvallend dat Klaradyn so veel as moontlik wou doen, soos dit hoort; en dat haar ouers ook so veel as moontlik wou doen, soos dit seker ook maar orals is.
Na 5 minute het ek teruggestaan en besef ek het my lekker gehad met die google en afteken in die klas.
Ma het toe ook uitgetree en aangebied haar aandeel sal wees om die lamineerwerk te doen.
En Klaradyn het heerlik geverf en ingekleur, tot amper etenstyd toe.
Tussendeur was daar die tweede krisis – die praatjie! Hierdie gaan immers nie oor die padteken nie, maar die geséls róndom die padteken.
En of sy nou ‘n toespraak moet hê en ken en uit haar kop uit opsê, en of sy net ‘n minuut lank moet kan gesels oor haar onderwerp, weet ons nie, en sal ons eers weet as dit te laat is om enigsins iets daaraan te doen as ons interpretasie verkeerd was.
Al wat ek weet is dat my kind die aanloop geniet het, elke oomblik. Ek weet ook sy ken na dese die verskil tussen ‘n waarskuwings- en inligtingsteken.
En dit is seker nie genoeg nie. Maar vir my is dit.