Pages

19.5.11

Die sondetjies van die vaders en die moeders

“Die sondes van die vaders besoek die kinders tot in die derde en vierde geslag van die wat my haat.”
Ek haal aan, beslis nie verbatim nie, maar soos my onthou uit ‘n kindertyd dit so gereeld uitspoeg.
Deesdae borduur ek natuurlik daarop voort:
Die sondes van die vaders én die moeders besoek...
Die groot sondes en die nie so groot sondes besoek...
Die sondes en ook dit wat nie sondes is nie besoek...
En as ek dit alles wil saamvat in een hoofgedagte, is dit:  Dis ‘n lang storie.
‘n Lang storie, vir my en in my idiolek, is ‘n ding wat oor geslagte kom, nie sommer twee nie, maar drie of vier. Iets soos:  Grootjie het aangejaag en verbrou dit toe met haar dogter. Die dogter kom toe stukkend anderkant uit en jaag op groot skaal aan met haar dogter. En toe hierdie stomme dogter haar eie dogter verwek is die kind se lewe iets waaroor later jare ontstellende boeke van geskryf en ewe verontrustende flieks oor gemaak word.
En dan gee ek nie die grootjie die skuld nie – ek weet sy was ook maar die produk van haar omstandighede, of soos die Russe dit so mooi stel:  uiteindelik word jy wat jy was.
Ek het in my onderwysloopbaan al baie keer op sulke lang stories  waar dit die sondes van die voorgeslag is wat die nageslag steeds teister , afgekom.
Egter nie ‘n lang storie of vreeslike sonde wat my agter die rekenaar het nie. Trouens nie eers ‘n storie nie, net ‘n gedagte, ‘n vlietende gedagtespraak waarop ek myself by herhaling die afgelope ruk voor die yskas betrap: Judy se sonde besoek haar seun 20 jaar later.
Want kyk, as daar nou een ding is wat ek nie sal mis as ek Australië, of waarheen ook al, geëmigreer het nie, dan is dit nou Cross & Blackwell se mayonnaise.
Dis sommer net plein simpel sleg; en maak nie saak hoe jy dit probeer verbloem nie – dit spring altyd voorop op jou tong en in jou mond.
Hoe my ma haar eie slaairoom gemaak het weet ek nie, weet sy al jare nie meer nie, en is ook nou al moeg gesoek en gevra na.
Tuisgemaakte mayonnaise van olie en eier was dit beslis nie – ek het ‘n paar keer probeer om deur daardie pyn en leiding te gaan, en kon die goed na die tyd in my mond nie kry nie. (Ek vermoed my olyfolie was nie maagdelik genoeg nie, of té maagdelik; of dit nie cold genoeg ge-press nie.)
Maar my ma het in ‘n stadium ook gatvol geraak van haar eie slaairoom maak, haarself verbeel sy grand en mayonnaise in bottels begin koop.
Nie wát nie, die walglikste, ongesondste, vetterigste, olierigste goed op die mark – ek is selfs bang om dit by die naam te noem, netnou dagvaar hulle my oor ek my woorde openbaar bekend maak.
Sy was mal daaroor. Ons almal het geprotesteer, gewaarsku, vertel hoe ongesond dit is en dat dit so ryk is ‘n mens kan dit in jou lyf nie kry nie.
***
En toe is ek in 1984 uit die huis uit en self het ek dit nooit gekoop nie – dis te ryk en duur en vetterig en galsterig en geil en alles wat sleg is.
***
Maar dis 27 jaar later.
En in 27 jaar gebeur baie dinge.
Ek was lus vir ertappelslaai.
My eie sous kook, gaan ek nie.
Miracle Whip is ek al tien jaar lank aan uitgekuier.
Alle mayonnaise’e en slaaisouse en slaairome proe soos plastiek.
Cross &Blackwell is buite die kwessie.
Maar dan is dit mos nou maar hoe dit met ‘n ding soos ertappelslaai is – jy wil hom hê soos jy hom in jou ouerhuis, óf uit jou ma, óf uit jou pa se hand leer ken het.
En toe onthou ek van Ma en haar Hellman’s Mayonnaise (real mayonnaise het hulle dit genoem) uit die laat jare sewentig, vroeë jare tagtig.
En dan is dit mos ‘n snaakse ding wat tyd en afstand doen – op daardie oomblik raak ek so lus vir ertappelslaai met Hellman’s dat die week nie eers sy einde gesien nie, toe het ek vir ons drie Moolmans ‘n bak ertappelsaai aanmekaar geslaan wat genoeg is vir ‘n weermag.
En die week daarna weer.
Nou is dit seker drie maande dat ek vies is as ek by SPAR kom en hulle Hellman’s is uitverkoop, want dis nou drie maande dat my yskas net sonder Hellman’s is die kere wat SPAR nie het nie.
Ek wil eintlik in konfrontasie met die ourjies by SPAR gaan – hulle hou net die klein botteltjies aan. Toe ek spesiaal uitry CHECKERS toe om my Hellman’s te kry, toe sien ek jy ‘n kry ‘n groter verpakking wat goedkoper uitwerk neem jy die gewig/volume in ag.
Verlede week toe smeer ek en Klaradyn ons Hellman’s hoender-mayonnaise broodjies ekstra Hellman’s op die buitekant, en ek dink:  “Die sondes van die moeders besoek die kinders...”
Die naweek is daar stukkie droë koue souttert en ek maak dit na iets proe met ‘n bolaag Hellman’s en ek dink:  “Die sondes van die moeders...”
Vanoggend kry elke snytjie van die toebroodjie ‘n plakkie ham, die een kry dun lagie Sandwich Spread, die ander ‘n skotige happie Hellman’s en ek dink my dink...
Skool het nog nie begin nie, toe kom sit ek met my broodjie agter die rekenaar.


16.5.11

Heeltyd speeltyd


Probeer jy 'n kind se vestibulêre stelsel opskerp, is 'n tydskrif in 'n stadium onontbeerlik – jy skeur prentjies uit waarop mense interessante liggaamshoudings en -posisies inneem. Dan moet die kind die prentjie eggo, en daarop let om dit nie in spieëlbeeld te doen nie, maar so getrou as moontlik aan die oorspronklike foto vorm aanneem – ek noem dit sommer Lot se Vrou, want jy moet 'n standbeeld word.

Jy moet natuurlik die prentjie langs die kind hou, en dit help nie jy neem 'n houding en posisie in wat die kind moet naboots nie, of vang snaakse dinge met 'n Barbie-pop aan nie - dis beter vanaf 'n tweedimensionele plat vlak tot die driedimensionele bol klei wat die kind se liggaam word.

Ek het net besluit ons gaan hierdie oefening in meer styl doen as om prentjies uit 'n Huisgenoot of Sarie te kry. Ons gaan deur die Louvre stap en figuurstudies kies wat tot ons spreek:  Rouault, Modigliani, Rubens, Velazquez...

O, en wat 'n lekkerte is dit nie!

Ons Louvre is Oumagrootjie se stel van 20 kleurplate elk oor 'n stuk of 15 kunstenaars versprei. Dit is in 1956 en verder maandeliks vanuit Johannesburg na Elias Dale, Oupagrootjie-hulle se plaas anderkant Barkley, duskant Rhodes, versend.

('n Mens besef net opnuut hoe bevoorreg ons generasie is om met die druk van internetskakels tot binne 'n kunsgalery iewers in Europa te kan gaan. Destyds moes hulle 2 pond per boek betaal en dit honderde kilometers met die pos aanstuur om die kunstenaar se werk onder oog te kan kry. En dit nadat die oplaag per skip vanaf Amerika hier aangekom het.)

Klaradyn word die fraaiste eilandmeisies as sy in Paul Gauguin se post-impressionistiese doeke klim; sy verkies natuurlik Velazquez, maar dis suiwer oor die dames se kleredrag tot haar spreek. Party van Goya se skilderye hou ons sommer 'n hele rukkie besig – sy word tereggestelde en teregsteller (en trek dan self lyne na Gauguin se Geel Christus wat ons netnou leer ken het).

Toe Picasso volgende lê en wag, toe dog ek ons gaan niks kry wat werkbaar is nie, maar ek het Pablo onderskat – hier uit die roos en blou fases van sy loopbaan, stel hy vandag nogal lekker uitdagings.

Dan is daar nog Vermeer se baie vrouens, Degas se dansers en Breughel se boere en boerinne.

Toulouse-Lautrec kry die kind om sommer, nie net met haar lyf nie, maar ook sommer haar gesig in te span en ek wonder of ons arbeidsterapie doen, of drama.

Die hele speletjie moet eintlik 'n afleier tussen kruiwastoot en ander fisieke aktiwiteite wees, maar as ons ons weer kan kry, dan het ons in een van die galery se sale vasgeval en kom daar van fisieke oefening niks.

Dit alles oor 'n vriendin, destyds voor Klaradyn graad O toe is, voorstel ons laat haar deur 'n arbeidsterapeut assesseer; sy (self 'n graad 1-juffrou) het dit met beide haar kinders gedoen en was nie een dag spyt nie.

So hoe ken jy nou vir Hans en Annieka? Ons laat die kind assesseer. En nie hoe nie, jy klok vir iets soos ses ure in waarin die tannie dan nou met die kind speel en so spelenderwys haar afleidings en gewaarwordings maak.

Hulle was seker so uur besig toe die vrou by my kom aansluit en grootoog vra waarom ons die kind hier het, sy tel geen opvallende uitvalle op nie.

Nee, daar is nie ooglopende rede nie, dis ter wille van gemoedsrus en omdat ons eerder nou sal wil uitstryk wat uitgestryk moet word, voor ons ses of sewe jaar later met bondels en hope strykwerk sit.

Dit is dan ook so soos ons gehoop het:  die terapeut het 'n heerlike sessie gehad en dit was vir haar lekker om met 'n kind te werk wat dringend terapie nodig het nie.

As sy hiper krities is, is daar twee sake waaraan sy aandag kan gee, maar dis niks in vergelyking met die tipe gevalle wat terapeute normaalweg konfronteer en uitdaag nie.

Ons laat ons afraai om opvolg te doen en graad O kom en gaan.

Eerste oueraand graad 1 is daar ook net lof.

Maar met die tweede is dit tog of die kind uitsak hier na 12:00 se kant en ons dit kan oorweeg om na spiertonus te kyk.

Toe weet ons ons het die woord al gehoor, by die arbeidsterapeut destyds, dit was een van die dinge wat aandag kon geniet het as sy fout moes soek.

So vandeesweek is dan nou die tweede week van terapie.

En soos ek my kind leer ken het, so is sy steeds – die tannie stuur so ewe 'n spogkaart saam, ter wille van ekstrinsieke motivering, maar 14 dae later het ek nog nie nodig gehad om iets daarop in te vul nie. Klaradyn geniet dit so, is so gewillig, dat ek g'n stuk nodig het om geelwortels voor haar neus uit te hang nie.

Maar partykeer kom ons gewilligheid om met oorgawe in te koop ons ook duur te staan – soms letterlik duur daarby.

So hou die tannie vir Klaradyn, terwyl sy in 'n hoogsongemaklike posisie aan 'n pyp hang, besig met 'n baie stimulerende speletjie – een van daai goed wat nóg ek nóg Annieka kan doen, maar Klaradyn soos soetkoek eet, daai speletjies wat meet en pas en ontwikkelde linkerbrein-denke noodsaak.

Toe ek verlede Saterdag, na ons so goed soos Johannesburg toe en terug was, uiteindelik by 'n winkel aankom wat die goed in voorraad het, koop ek sommer drie stelletjies wat al drie, met geringe afwyking, rondom dieselfde tema borduur.

En wat gebeur Donderdag? Ons het so lekker geoefen aan die betrokke aktiwiteit dat die vrou dit skrap en met iets heel anders vervang, iets wat beslis nie my R500-00 se intellektuele speelgoed akkommodeer nie.

En wat doen ek? Ek hou vir my so doof soos 'n soutpilaar. Klaradyn se aandag was gelukkig elders, en as sy haar maar weer kan kry, dan oefen ons die oefening met die gekoopte IK-uitdaging asof dit 'n eerste keer is.

En of dit alles help?

Nee, hoe sal ek weet? Ek weet nie eens mooi wat vestibulêre beteken nie; om van spiertonus nie te praat nie.

Ek weet wel dat sy week twee sommer baie minder gesukkel het met twee of drie goedjies wat week een maar mank gegaan het.

Die vrou kry haar in 'n stadium op 'n ding wat 'n mens seesiek maak oor dit nie plat staan nie, maar jou angsbevange rondwieg en –skommel op twee halfmane.

Ons probeer tuis met 'n blikkie onder 'n plankie, maar na Pappa die blikkie moer toe getrap het, beteken dit ook nie veel nie.

Ek teken toe maar vir Oupa en hy saag en skuur tot ons iets soortgelyks as die tannie het.

Dit sal my nie verbaas as Klaradyn volgende week pirouettes op die ding maak nie, 'n Degas-danser of Picasso-akrobaat op die ding aanneem nie.

Met Hoër Graad links en regs kan dit beter gaan, maar dis gene, ek sweer. Die stomme kind sit met 'n ouer wat nie eers weet waar bo en onder sit nie, en of jy af ry Kaap toe, of op nie, wat nog te sê van links en regs.

Maar ook hier is verbetering, meer as net te bespeur, 'n blinde sal dit met 'n stok aanvoel.

Ek is so bly ons kry die swaarkry met allerhande lekkerkry klaar – daar is mammas by die skool wat vertel hoe hul kinders die dae arbeidsterapie omgehuil het.

Klaradyn, en die beste arbeidsterapeut in Pretoria, maak dit vir ons maklik.


14.5.11

Nog 'n eerste


Ek hét op my dag rugby gespeel.

In standerd 3.

Een keer.

Die seuns en die meisies in die klas het teen mekaar gespeel.

Daar was meer seuns as meisies in ons klas en drie seuns moes hul gewig in die meisiespan gooi.

Ek onthou nog wie die ander twee was. Die een is reeds oorlede, maar die ander een leef nog, so ek verklap geen ander name nie.

My krieketloopbaan was beperk tot oë toeknyp in Casjohan-hulle se tuin elke keer as die bal in my rigting kom.

Ek en einste maatjie Casjohan het ook by dieselfde tennisafrigter tennislesse gekry.

Ten spyte van die feit dat talle van my balle nie net oor die net nie, maar oor die 15 vt. heining om die baan gespan, gegaan het, het ek die lesse geniet en uitgesien na die volgende week se les...

...tot die dag dat die oom van my verwag het om die bal só te slaan dat hy dit nie kan terugslaan nie; tot die dag dat hy nie meer die bal vir my geslaan het sodat ek dit kan terugslaan nie, maar só geslaan het dat ek agter die bal moes aanhardloop as ek wou terugslaan.

Casjohan het hierop ingekoop; ek het my ouers gevra om die lesse te staak.

Maar dan het, sover ek weet, nóg my ma, nóg my pa enige sport in hul are gehad – ek het nie een van die twee ooit hoor praat oor enige deelname iewers hoegenaamd nie. Op 'n sportveld as toeskouer het ons nêrens gekom nie, ons het nooit eers met biltong in die hand as gesin voor Spiekeries en die radio ingeskuif nie, en teen die tyd dat ons land televisie gekry het was ek al groot.

Annieka, aan die ander kant, het langs die muurbal- en tennisbaan begin loop, tande gekry en van die doeke afgekom.

Sy’t geswem, netbal en tennis gespeel, én, maar miskien verbeel ek my, in die atletiekseisoen gehol of die een of ander ding deur die lug gegooi ook.

En dit geniet... (of so het sy gedink) ...tot sy iewers langs die pad die verhoog en kultuurgoeterstes leer ken het en daarna, soos sy self sê, nooit weer dieselfde was nie en na matriek eweneens nog nooit weer haar hand aan 'n sportbal geslaan het nie.

So hoe sterk sportmanskap in Klaradyn se are vloei, is nie die vraag nie; dis of daar enigsins spoorelemente daarvan teenwoordig is, of nie.

Dat haar gees gewillig is, is egter 'n feit – en dan het sy die tipe persoonlikheid wat bykans enige iets met 'n sosiale ondertoon geniet.

Ook die netbal.

Die kleintjies (graad eentjies parrabeentjies) sou aanvanklik geen wedstryde hê nie, maar toe kom dit deur: 'n groot netbalsaamtrek verlede Vrydag.

En skielik wil sy nie meer netbal speel nie, ek word by herhaling ingelig, Annieka word by herhaling ingelig. Dit blyk toe hulle het haar nou al drie weke op doel, en sy voel sy kry nie doele gegooi nie.

Ons kan nie heeltemal agter die kap van die byl kom nie – of sy het spanning oor die komende wedstryd, of sy beleef spanning oor die doele wat sy moet gooi en dit dan nie na wense en verwagting regkry nie. Maar spanning is daar.

Spanning ook vir Pappa:  hy is Vrydagmiddag meer as 'n uur lank in die Vrydagmiddag-spitsverkeer van die een uithoek van die stad, deur die middestad, na die ander uithoek van die stad om Klaradyn se eerste netbalwedstryd met haar te deel.

Ek het (met die gaan) ophou tel by ses kruisings waar die verkeersligte buitewerking was en ons die saamvloei as vierrigtingstop moes hanteer. (Terug kies ek 'n ander pad – selfde storie, vier punte sonder werkende verkeersligte.)

Ek sou nie gegaan het nie – ek het al om die uur verpligtinge by my eie skool se sportdag.

Die selfoonoproep voor ek begin reëlings tref het 'n sinnetjie in soos:  “Jy moet regtig probeer deurkom, dit wemel hier van die pappas en sy sal dit geniet as jy hier is.”

(Die volgende oproep se sinnetjie is: “Ek weet regtig nie of dit die moeite werd is om deur te kom nie, miskien moet jy maar bly.” Maar toe is dit te laat – ek het gebel om te sê ek gaan tien teen een laat wees, daar was vermoedelik 'n ongeluk, die verkeer staan al 10 minute stil.)

Na die eerste oproep willig die een adjunkhoof in om 15:30 vir my in te staan  (hy is ook 'n pa wat sewe jaar gelede sy eerste netbalwedstryd gehad het).

Ek wil iemand anders in plek kry vir 16:30, maar toe die geleentheid voordoen is die persoon in die geselskap van 'n ander adjunkhoof wat ek nie wil hê moet weet ek verlaat my pos nie – en toe ek na 30 kilometer en 'n uur op die pad daar aankom, raai wie se kleinkind neem ook deel, raai wie het deurgery om die kleinkind te sien speel?

Ek kom daar aangestap net mooi toe die fluitjie blaas vir die begin van die wedstryd.

My kind se een voortand hang aan 'n draadjie, 'n speekseldraadjie, en sy is meer gepla oor wat in haar mond aangaan as op die veld met die bal.

Maar ek probeer kyk soos 'n kraai wat nie kyk of sy eie eier die witste is nie, en ek kry dit reg – ek sien 'n hele spul dogtertjies wat effe verward rond pik, per toeval raak vang, of nie oor die bal val as hulle hom probeer vang nie.

Ek kry ook die idee hulle gooi die balle in die arms van die eerste beste hande wat hulle in die lug sien – hulle kyk nie of dit 'n opponent of 'n spanmaat se hande is nie, as daar 'n hand wuif, gooi hulle.

Partykeer herinner die spel se verloop eerder aan Bulletjie-rugby met 'n losgemaal hier, en dogters wat lyk of hulle sak vir 'n skrum daar. Hier en daar is 'n sokker-move wat Diego Maradonna jaloers sal maak, maar dit daar gelaat – die dogters geniet dit. En die meeste ouers.

Ek verbeel my selfs ons het gewen. Met een doel. Die enigste doel van die wedstryd.

Maar in wedstryde soos die wat ons Vrydag beleef het, is daar nie wenners of verloorders nie, elke dogter is 'n wenner, elke span 'n wenspan.

Dis jammer dat daar so baie verkeerd verloop in die volgende twaalf jaar, dis jammer dat die sport in die nabye toekoms so baie van Vrydag se lekker afstaan en verloor, maar daaraan kan ek niks doen nie.

Ek het nog altyd daarvan gehou om my bek langs 'n netbalbaan te rek en luidkeels te ondersteun. Nou dat dit my eie kind se span is kan ek dit net soveel meer onbevange doen. Ag, en die kinders is klein, elke kind verdien aanmoediging en toejuiging as sy die bal vang, of sy nou rooi is soos ons span, of in die klere en kleure van die opponente op die veld is.

Dit sal my geensins pla as Klaradyn nie iewers die een of ander span haal nie. As ek weer geleentheid kry, gaan ek weer.

Miskien het die appel nie ver van die boom geval nie. Maar miskien staan die boom op 'n koppie, rol die appel ver en bou selfs momentum teen die afdraand op – en sit ons eendag met 'n kranige sportman in die familie. Wie weet.

13.5.11

Spyt kom altyd, altyd, te laat

Daar is min dinge so lekker en bevrydend soos om ouer te word.
Oud word het ek nog nie leer ken nie – dis iets wat my ma twee weke na haar sewentigste verjaarsdag getref het en hoe dit voel weet ek niks van af nie. Maar ouer word, wat ek meer en meer aan eie bas beleef, is een vet lekkerte.
En ek word bykans daagliks daaraan herinner.
Janita Claassen se musiek kon ek my hele jonger lewe lank nie uitstaan nie.
Nee, laat ek dit anders verwoord: ek kon myself, toe ek jonger was, nie toelaat om daarvan te hou nie.
Toe ek die eerste keer met haar musiek konfronteer is, was ek ‘n nat agter die ore drie-en-twintigjarige snotkop en Janita Claassen iemand na wie die weermag se staandemaglede se vrouens geluister het . Jy kry my gevolglik nie dat ek selfs met ‘n braaitang en oor ‘n afstand aan ‘n Janita Claassen plaat, kasset of CD raak nie.
Tog gebeur dit dat ek oor meer as ‘n jaar gereeld in hierdie staandemaglid se huis kom. Dit was myle van die beskawing, van radio-opvangs of ‘n luukse soos televisie was daar nie sprake nie – so my ore word gepeper met die vrou se bloody rolbosse en soene soos ballonne in die wind.
Ons lag miskien selfs vir die mense se kommin musieksmaak.
Ek hou skool en iewers 1990 of 1991 het ons ‘n heerlike taak met die standerd 8’s:  hulle moet ‘n navorsingstaak oor ‘n Afrikaanse sanger, sangeres of sanggroep maak. Een van die kinders is bevriend met Tannie Janita en ek onthou ‘n goeie taak.
Maar dit dan toe nou die laaste van Janita Claassen vir seker 20 jaar.
Iewers is Annieka, ek weet nie eers of ons toe al getroud was nie, na ‘n Junior-Burgemeester van Pretoria juniorburgemeesterstee en sy noem dat Janita Claassen die gasspreker was en dat die vrou haar aangegryp het.
En iewers kry die kanker na tien jaar die oorhand.
Maar dis dit.
Dis nou dit, tot ek myself die laaste drie of vier jaar begin betrap dat ek al meer en meer wonder wat van Sammajoor en Bessie geword het. Is hulle al afgetree? Wat sou die kinders nou doen?
En toe, nou Desember wat verby is, loop ek in ‘n CD-winkel en krap en kom af op ‘n Beste-Van-Janita-Claassen-album. Op daardie oomblik oorval ‘n verlange na Sammajoor en Bessie-hulle my so, dat ek die ding onmiddellik koop.
Die girls is saam met my in die shops, maar Annieka sê niks, sy weet van beter om nie in te meng met nostalgie, heimwee en ‘n stewige skoot gesonde melancholie nie.
En dit is ook so:  kom ons in die motor en ek sit die ding in, toe gaan ek aan het grense, nee, ek lieg – dis nie eens dat ek tjank nie, ek huil sommer snot en trane.
Maar met Samajoor, Bessie, Min Dae, Varkpanne en die laat jare tagtig as weerlose weerbare jong ma uitgelewer aan die SAW & Seuns het dit net mooi niks te doen nie – die eerste snit op die CD is die een waaroor ons destyds die meeste agteraf gelag het as Bessie so veraf kyk in haar oë kry, terwyl dit speel: iets wat begin met Vandag is jou troudag, my meisie...
Ag, en daar is dit nie Janita wat praat nie, maar Pappa. En hy praat met Klaradyn.
En ag, my hart ruk sommer net om daaroor te skryf.
En ek onthou Bessie se dogters was destyds al uit die huis en seker nie te ver van trou nie.
Behalwe vir die Ballonne in die wind en die rolbos wat ook ‘n tolbos is, herken ek niks anders (naas nou ook die ma wat haar kind in ‘n trourok vir die wolf uitgooi) nie; dis duidelik die vrou het nog ‘n goeie vyftien jaar lank musiek gemaak, musiek waarop ek uitgemis het, ouer geword het.
April-vakansie toe luister ek weer.
En nou, hierdie week weer, soggens op pad skool toe.
En ek is nie eers skaam om te sê dat ek van die vrou se musiek hou nie. Is daar ‘n snit waarvan die strekking my nie aanstaan nie, stuur ek my gedagtes anderkant toe; netnou is daar in elk geval weer ‘n snit wat hulle op hok kry.
Betrap ek myself vanmiddag selfs dat ‘n snit wat my April nie juis aangestaan het nie, een wat my in 1988 oor die rand sou gestuur het, vir my mooi raak, aangenaam om na te luister, ek draai die klank op.
En dis hoekom die opskrif (gewoonlik totter ek aan die einde met opskrifte; vandag het daarmee begin) nie direk met ouer word verband hou nie, maar met spyt. Ek is een van daai mense wat, as ek van Dalene Matthee se boek gehou het, dan laat weet ek haar. Ook met Chris Barnard en sangers soos Laurika en Coenie.
En nou so ek so graag my gewaarwordinge met die vrou deel, deel uit skuldgevoel ook oor ek haar so afgelag het; en nou is dit te laat. Spyt kom altyd te laat.
Maar dis nie die les wat ek hieruit geleer het nie, ek weet dit immers lankal.
Nee, ek het geleer om nie meer in CD-winkels rond te hang nie. Netnou het ek nie ouer geword nie, maar het my kop my verlaat.
Sê nou ek tel een mooi dag ‘n CD van Bles Bridges of Worsie Visser op, en ek hou skielik daarvan?
Of die man wat ons destyds so aangespoor het om op te staan en uit te hou... iets van wenners-wenners-wenners. En as jy val, dan moet gou weer opstaan.
Danie, maar nie Niehaus nie.
Wat gemaak as dit skielik tot my spreek?
Miskien het ek dan nie sommer ligweg net ouer geword nie, maar sonder enige optimistiese prognose, niks anders nie as oud.

11.5.11

Ek wil my chick 'n huisie bou 1,2 en 3

Ek praat voor die kinders van die Ek-wil-vir-my-chick-‘n-huisie-bou-gedigte wat ons gedoen het, en dan weet hulle presies na watter twee gedigte ek verwys: “Florauna” deur André Letoit (maar as ek hom nie Koos Kombuis noem nie, weet hulle ook nie van wie ek praat nie) en “Heimat-vers vir my Lovely” deur Theunis Engelbrecht.
En hier moet ek weer ‘n punt daarvan maak om nié voor die kinders na die man te verwys as die ou van die groep “Randy Rambo en die Rough Riders” nie – netnou moet ek vrae beantwoord wat vir my ongemaklik sal wees om te antwoord. Ek kan egter met vrymoedigheid swyg – vandag se generasie weet van dié groep niks nie. En dit help nie eens ek sê vir hulle dis die man wat verlede week so ‘n interessante artikel in Beeld se By gehad het die – hulle lees nie eens die Jip nie, wat nog te sê die By.
Maar hier dan die twee gedigte wat ons so saam doen:

FLORAUNA
Koos Kombuis
Ek wil vir jou ‘n gewelhuisie bou
in die boland van my hart
met ‘n peerboom in die tuin
en vaatjies wyn in die kombuis
en ‘n tuinhekkie met krulle
en boekrakke met sartre.
ek wil vir jou ‘n gewelhuisie bou
in my onderkaap van smart
met skepe in die hawe
en donssaad op die berg
en jy, in lewende lywe
op die stoep, in jou kombers
in die winterboland van my hart.
jy kom van ‘n groot glaskasteel
met kandelare en wolkatte
en toffies toegedraai in bordjies
en poedels op plaveisel
jy's ongewoond aan kaapse weer
jou tekkies is geparfumeer
maar ek wil vir jou my lewe gee
in die wit afdophuisie van my hart.


HEIMAT-VERS VIR MY LOVELY
ek bou vir jou ‘n huisie
van sandsteen son en skalie
ek plant vir jou ‘n wilgerboom
wat wolffluitlange skadu’s maak
ek dors vir jou ‘n riviertjie uit die aarde
waarin paddas moederlik grom
ek plaas vir jou ‘n paar vet kuikens
en cuddlesome katjies op die werf
ek brei ‘n voetmatjie om te lê
voor die riempiestoel wat ek vir jou gevleg het
ek vra die wolke
om die blou lug plek-plek melkwit af te werk
ek gooi die damme vol water
sodat ons kinderlik kaal daarin kan baljaar
ek versamel stronke vir jou stofie
sodat ons koffiewater lekker warm kan stoom
ek brei vir jou ‘n matrasveerbedjie
waarop ons nagtelank bymekaar kan doeks
ek sit sterk vensters in die mure
om tokkelossie buite te laat bly

dit alles doen ek net vir jou
omdat ek vreeslik baie van jou hou

Dis een van daardie lekker lesse: ons trap nie die gedigte tot stof nie, maar handel altwee sommer in een periode af.
Op Koos Kombuis koop die kinders nog in, veral as ek daarop wys dat hy ook hier waar hulle matriek wil skryf, skool gegaan het (hoewel hy nie sy skoolloopbaan hier afgesluit het nie.)
Behalwe dat “Florauna” ‘n baie mooi liefdesgedig is, is dit ‘n taalonderwyser se droom: die gedig verleen jou om te praat van progressie, regressie, kontras, metaforiek, simboliek, dubbelsinnigheid, en noem maar op – dis daar.
Ook “Heimat-vers” spreek tot die outjies. ‘n Vriendin van my het vir die man skoolgehou en danksy die staaltjies wat sy kan deel, kan ek die gedig dan ook lekker vir die kinders inkleur.
Dis nie vreemd dat twee gedigte so nou by mekaar aansluiting vind nie, ook nie onmoontlik dat die een digter die ander kon inspireer of aangesteek het nie – beide digters/sangers was immers destyds deel van die opspraakwekkende Voëlvry-toer.
Maar toe ek nou hierdie vakansie weer luister na die mooiste liefdesliedjie wat ooit in Afrikaans geskryf is, toe wonder ek of hierdie twee sangers nie deur die grootste onder die Afrikaanse sangers inspireer is nie? Was “Vir Jou” nie eerste nie, en toe debunk André dit met sy gedig nie? En toe het Theunis Engelbrecht net mooi genoeg gehad van die Boland wat so geromantiseer word en kom met sy Vrystaatse heimat om net weer balans te bring nie?
Seker nie? Maar dis ‘n moontlikheid en lekker om te bespiegel.
En al maak dit nie sin nie, het ek daarin geleentheid gevind om Coenie de Villiers (vir die kinders “die dude van Kwêla”) aan die nuwe generasie bekend te stel. Natuurlik spreek hy nie tot almal nie, hy het ook nie in 1984, maar iewers het ek straks net een kind die guns gedoen om hom of haar met die man en sy musiek in aanraking te bring – en wat meer kan ‘n onderwyser vra as om ‘n kind se verwysingsraamwerk uit te brei.
Ek moet miskien nie vir die kinders vertel dat ek amper derig jaar gelede op die liedjie verlief was nie, dat ek haar ‘n huisie met ‘n leiklipvloer beloof het nie – nou dink hulle dis ‘n prehistoriese liedjie.
En vandag het ek ‘n huis met ‘n leiklipvloer – deur die genade het daar niks gekom van die groot verliefdheid destyds nie.
Die een groot verandering wat ek aan ons huis wil bring, is (toevallig?) om ‘n dubbeldeur (hy hoef nie van okkerneuthout te wees nie) by die voordeur in te sit.
Hier is dit dan, die mooiste liefdesliedjie in Afrikaans:

VIR JOU
Coenie de Villiers
Vir jou wil ek 'n huis hê
'n Huis met 'n leiklipvloer
'n Witgekalkte skoorsteen
Wat deur die rietdak loer
'n Okkerneuthoutonderdeur
Wat kreun aan die skarnier
'n Donskombers om in te beur
'n Kaggel en 'n vuur
Koor:
Die dae is droef soos druiwe
Jou naam is soet soos mos
En die herfs is in die wingerd
En die son in elke tros
En die winterseer is wondbaar
As die jaar se hitte kwyn
Die seisoen word oud en waardig
Wat mos was word nou wyn
Vir jou wil ek 'n bos hê
Waar jy dennenaalde ruik
Reën wat oor die berg kom
En timmer teen die ruit
En by die hek 'n ou bloekom
Met sy takke in die wind
Hier aan die koperledekant
Jou warm bruinoog kind
Koor:
Al maak ek hierdie versie eenvoudig lief soos nou
Die wens bly tog maar net 'n wens, die werklikheid verbrou
Die wens bly tog maar net 'n wens, die werklikheid verbrou

Koor

Nou dat ek weer hierdeur lees en in my gedagtes saamsing, wil ek my selfs verbeel ek het hierdie liedjie met elke verliefderigheid “ons liedjie” gemaak.
Ek is oortuig daarvan ek het meer as een vrou ‘n huis met ‘n leiklipvloer beloof.
En dat dit toe nou Annieka (arme, stomme Annieka) moes wees wat met haar gat in die botter geval het!
Op ‘n ernstige noot egter, sit jy die drie tekste langs mekaar, is dit verbasend waarop jy afkom as jy vergelykend en kontrasterend na hulle kyk.
Om te hoor hoe die liedjie klink as Coenie dit sing, kan jy hier op youtube gaan luister – “Vir jou” skop egter eers in die middel (op 3 minute, 10 sekondes) in, want wie ook al hierdie musiek gelaai het, het twee liedjies gelaai.
Maar dis Coenie wat sing, so dit maak nie saak nie – mooi bly mooi.

9.5.11

Sommer vanaand


Ek soek drie keer 'n dag na my motor- of huis- of klaskamersleutels. Dis nou op 'n goeie dag. Daar is maar min goeie dae en dan is dit meer keer, of meer goed waarna ek soek.

Maar twee dinge wat ek my hele lank nooit gesoek het nie, dis nou tot elf jaar gelede, is selotape en presstik, minder algemeen ook bekend as kleefband en wondergom.

In my huis is 'n kamer,
in daardie kamer is 'n lessenaar,
in daardie lessenaar is 'n laai
in die laai is groot rooi blik
en in die groot rooi blik is
onder andere die selotape en presstik.

Dis nou tot elf jaar gelede die geval gewees. Of die skielike, ingrypende verandering in 'n jarelange status quo enigsins verband met die feit dat ek en Annieka vanjaar elf jaar onder dieselfde dak slaap daarmee verband hou, is iets waarop ek my nie vanaand gaan uitlaat nie. Dis dalk ook net toeval dat die goed net nog meer en langer soek is vandat Klaradyn ook by ons aangesluit het.

Ek is oor die selotape soos ek is oor 'n tandepastebuisie se algemene versorging en sy prop – manies!

My selotape is in dit wat hulle in Engels 'n dispenser noem – hierdie goed wat dit vir jou moontlik maak om jou verlangde strokie kleefband met een hand in die regte lengte te skeur.

Myne, sedert skooldae, is 'n groot swaargewig swarte. Ek het hom steeds. Hy is in die laai, waar hy hoort. Maar ek gebruik hom nie meer nie – dit waarom jy die rolletjie kleefband maak hang in die gleufies – die as van die wiel – is weg. Seker vier jaar al. (Klaradyn is ses)

Ek het in daardie vier jaar nie minder nie as twee nuwes gekoop nie – 'n gele en 'n swarte. Die een was tot onlangs nog in sy verpakking. Ek gebruik nie een van die twee nie. Hulle tolletjies is weg.

Ek praat nie meer nie, ek vra nie meer nie.

Ek het Saterdagnag, knap voor 24:00 Annieka se moedersdagpresent met wit maskeerband toegedraai. Op so 'n manier dat jy nie die maskeerband sien nie. En dan nie sommer enige papier nie – tissue papier. En ook nie een pakkie nie, maar vier. (En nee, vir die wat nie weet nie, tissue papier is nie sneesdoekiepapier nie – dis nóg dunner as enkellaag toeiletpapier en skeur tien maal makliker.)

Wat anders kon ek doen. Ek het onthou die hond het die double sided selotape 'n ruk gelede opgekou, so dit was buite die kwessie. Van die vier ander rolletjies plakgoed wat ek tussen 23:30 en 23:55 opgespoor het, was die maskeerband die beste.

En vanaand, twee aande later, is dit ek en die presstik.

Daar is in hierdie huis net een mens wat presstik hier aandra, en dis ek. En daar is net een mens wat nooit kans kry om dit te gebruik nie. Ek.

Maar my tande was 'n halfuurlank soek. Ek sê ook nou “my tande” oor ons van dit praat as “tande”, maar ons verwys na my knersplaatjie.

Dan ook nie die knersplaatjie wat weg is nie, maar die grasgroen plastiekhouer waarin dit gekom het, en die plaatjie dan ook elke keer hopelik is.

Dis nou wat gebeur as twee totaal verskillende wêrelde ontmoet. Martha weet nie wat dit is nie, en ons sien haar nie om haar te sê wat dit is nie. Volgens haar is dit 'n speelding, dalk iets wat jy saam met jou kiddies meal  by McDonald’s of Steers kry.

Waarom anders sal ek dit verlede week in 'n geskenksakkie van Klaradyn, vol van haar speelgoed opspoor? En weet jy hoe lank en hoe ver moet jy soek, voor jy 'n knersplaatjie se plastiekboksie tussen speelgoedjies van jou kind in 'n ou geskenksakkie opspoor?

Verlede week was dit darem nog in die huis dat ek die ding opgespoor het.

Vanaand was dit in die speelkamer – buite die huis in 'n tuinwoonstel wat ons tot verlede jaar uitgehuur het.

Toe soek ek presstik om die boksie aan die kas vas te plak. (Dit help nie ek spoor die glue gun op nie –  die ander mense in die huis voel oor hom ook soos hulle oor kleefband, krambinders, gatjieponse en tandepasteproppies voel – want selfs al spoor ek hom op, ek weet die gomstafies is opgebruik en nog nie weer aangevul nie. Maar as dit nie vir dit was nie, het ek die ding sweerlik vasge-glue gun.)

Die hoofpyne waarvan ek April so gekla het, het my van die dokter af tandarts toe – altwee het goed voorgeskryf, maar die tandarts het toe nou nog die plastiek knersplaatjie op die koop toe ook ingesluit.

Dis my derde knersplaatjie in my lewe. Die vorige twee het ek tesame nie vir sewe nagte in my mond gehad nie. Maar hierdie een dra ek pligsgetrou. Ek sit selfs nou met hom en tik.

Dan het die hoofpyne my ook in 'n nuwe bril in – een met multivokale lense.

Dit sal nie snaaks wees nie, maar dit sal my nie verbaas as die Durbaniet vir 'n dokter reg was toe hy gesê het my hoofpyne is sinushoofpyne nie – allergiese mense reageer volgens hom wat al jare in Durban praktiseer dikwels anders in Natal op gewone huismyte as wat in hul tuisdorpe en –stede die geval is.

Die tweede ding wat my nie sal verbaas nie, is as dit net mediese dekking vir bevalling wat nog oor is by die mediese skema nie – maar ek kla nie, my hoofpyne is bykans 100% weg.

As ek net die wondergom kan kry.

Of miskien moet ek die plastiek houertjie van die tande inderdaad vir Klaradyn gee, en dan stoor ek my plaatjie in die brilkassie waarmee hulle jou belas as jy 'n nuwe bril kry.

7.5.11

Twee jaar gelede, verlede jaar en vanjaar

Vanjaar
Dis vreeslik maar ek en Annieka slaan party dae amper vuis om Klaradyn se broodjies vir skool wat sy nie geëet het nie, te eet.
Soos vanmiddag toe ek nie kon wag om by die kattebak met haar boektas in, uit te kom nie.
En ja, die merrieperd het weer nie haar kos opgeëet nie!
Maar dis nou al meer as 'n jaar dat ek nie meer my bek en stem daaroor rek en verhef nie – ek geniet daarvan in stille dankbaarheid. Ek voel trouens smiddags na skool nie eers meer skaam as ek eers op my kind se tas afstorm en daarin krap, nog voor ek op my kind afgestap het om haar te soengroet nie.
Die oorskiet broodjies in haar tas is aan drie dinge te danke (seker “te wyte” uit 'n meer normale en algemene vertellerperspektief). Drie dinge wat, vermoed ek, min of meer ewe swaar weeg in die feit dat die kosblik nie tot op die bodem leeg, met hoogstens slegs enkele krummeltjies of van tyd tot tyd miskien 'n papiertjie, skilletjie of sakkie in, terugkom huis toe nie.
Ten eerste is die kind soos haar ma. Annieka sal nie eet as sy nie verplig word om te eet nie. Sy sal honger wees, ja, rasend honger selfs, maar dit sal nie maak dat sy dit waarmee sy besig is, los om iets te kry om te eet nie. En saam met al die ander wonderlike gene wat sy van haar ma het, het Klaradyn daardie een ook geërf.
As sy speel, kom kos tweede. As sy werk, kom kos tweede. As haar aandag trouens enige ander plek as saam met haar neus in die bord kos is, kom kos tweede.
Ons sal in 'n skoolkwartaal miskien een keer 'n maand voor die televisie eet, en dis ook maar goed dat ons nie televisiekykers en sitkamerbank-skooteters is nie, want voor 'n televisie kry Klaradyn ook nie 'n enkele happie in nie. Die kere wat ons haar, op sés, nie voer nie, is die kere wat ons die DVD moet vries, selfs afsit, sodat sy eers kan eet en ons dan verder gaan.
Tweedens gee ek vir die kind hopeloos te veel kos in haar pienk kosblikkie saam skool toe; sy het in graad 1 meer daarin as wat selfs 'n graad 9 seun op 'n dag kan baasraak.
En nie hieroor of daaroor nie, bloot omdat dit na drie jaar steeds vir my lekker is om vir my kind haar kosblik vir skool voor te berei. Elke oggend is omtrent 'n liefdesdiens aan my kind en eerbetoon en huldiging aan my ma wat my die voorbeeld van lekker kospakkies vir jou kind gestel het.
Soos Judy, glo ek daar moet variasie wees – en daarby bedoel ken elke dag iets anders nie, nee, ek bedoel daar moet in elke kosblik meer as een, liefs drie of vier, geure en teksture wees. Daar is vir my min dinge so lekker soos 'n katjiebotter-en-appelkooskonfyt-broodjie, maar mag die dag nooit aanbreek dat ek my kind skool toe stuur met slegs maar 'n katjiebotter-en-appelkooskonfyt-broodjie in haar tassie nie – iets souts, ter wille van afwisseling, of sommer net blote balans, is nodig.
En dan is dit met aversie dat ek 'n toebroodjie twee keer oordwars in kwarte of klein driehoekies sny. Ons het 'n blik vol koekiedrukkers en dié word elke oggend uitgekry om broodjies te vorm wat 'n kind se aandag sal trek. Ons het hartjies, beertjies, mannetjies, sirkeltjies, sneeuvlokkies en selfs bokkies om van te kies.
Dis 'n ding wat sy ontstaan in graad R had – met die dat kos by ons kind so maklik tweede kom, het ek moeite moes doen om dit so aantreklik moontlik te maak; die koekiedrukkers was 'n treffer, en toe graad 1 kom, toe hou ek daarmee voort. (Ek glo ek sal haar oor drie, vier jaar  nog steeds elke dan en wan verras met 'n kindertjiebroodjie in die vorm van die een of ander iets.)
Die brood wat afval, werk ek met vorms, skeel my nie, maar vleis kan ek nie so mors nie; die gevolg is dat dit omtrent net die kouevleis-en-sandwich-spread/mayonaise-broodjies is, wat oorlangs in driehoekies gesny, in haar blik beland. (Maar dan sny ek die kante en korsies, gedagtig aan Judy se liefdevolle manier van doen, eers af voor ek dit inpak.)
Ek is op my gelukkigste as ek 'n kosblik in die tas pak waarvan die twee toebroodjies se vier snytjies brood verwerk is in ses klein toebroodjies met ses verskillende interessante vorms én ses verskillende smake tussen die plakkies brood.
En dit kan gedoen word, ek kry dit van tyd tot reg, maar dit vat tyd – en nou verstaan 'n mens hoekom hierdie pappa wat smiddaes sy kind se kosblik teister nie soggens vir homself en sy vrou ook broodjies maak nie. Daar is bloot nie tyd nie - die kind se kosblik neem party dae goed 20 minute van die oggendroetine ('n roetine waarin jy die dag laat is as jy moet afbuk om 'n tandepastabuisie se prop wat geval het, op te tel) in beslag.
Klaradyn hou nie katjiebotter en konfyt nie, sy hou van katjiebotter en stroop. Maar stroop loop – so nou meng ek die twee vooraf in 'n bakkie. Ook die botter word gegeur, veral as daar 'n provita, ter wille van tekstuur, saam gaan. Of met Marmite, vissmeer, of met fyn biltongtjies liefderyk deurgemeng.
Die derde rede, naas die min eet en baie kos, is die feit dat sy so deel en uitruil met die kos.
Ek het vroeër die week konkoksies uit my kinderdae onthou. Iewers het die tannies die idee gekry om botter en Marmite te meng en daarby dan fyn biltong in te roer. Hierdie botter-biltong-en-Marmite-smeer is dan óm die happie-grootte blokkie brood gesmeer, voor die hele heerlikheid in die biltong gerol is – dan lyk dit soos 'n krimpvarkie/lamington, net sout en nie soet nie.
Ek verbeel my amper hulle het die brood op 'n kol in dik snye gesny, dit rond uitgedruk, so groot soos 'n ronde soutbeskuitjie. Dié broodjie is dan op die beskuitjie vasgemessel- en dán het die gegeurde smeer en biltong buitelaag bo-op en om die kante gekom. Maar miskien verbeel ek my.
Ek slaan toe vir Klaradyn so tipe southappie saam – en moet die middag toe hoor hoe die seuntjiemaatjies haar broodjies geniet het. “En weet Pappa wat het Rosh my geruil – sy Nik-naks!”
Die volgende oggend was daar nie tyd vir biltongblokkies nie – ek vat kortpad: twee mannetjies van bo gesmeer met my mengsel, en toé, op hulle se gesigte, in die biltong gedompel.
Maar oor ons toe nou hier met 'n tema of 'n motief sit, moet ek daarop uitbrei. Twee vroutjies word toe uitgedruk en met sjokoladesmeer bedek. Hierdie tannies beland toe in die sjokoladevermicelli waarvoor die Hollanders so lief op hulle brood is.
Daardie aand moet ek hoor ek die volgende dag sewe sulke broodjies maak. En sy noem die name:  Jacques, Kosie, Tyron, Rosh, Emma, Maryna en Rilea.
En haar eie naam, wat dit agt broodjies sou maak, noem sy nie eers nie.
Daar is min enigste kinders wat kan deel soos Klaradyn.
Maar dan maak haar pa dit vir haar maklik om te kan deel – deur bloot te veel saam te stuur.
En as sy die dag nie deel nie, gee hy nie om nie – dan is daar vir hom ook.
Kindersgrootmaak bly daarom ook 'n lekker ding.
Twee jaar gelede:  Iets oor toebroodjies
Vroutjie, wat ek net op foto’s ken (omdat sy my ouma, gebore 1901, se ma was) het volgens oorlede Ouma van ‘n “sêwietjie” gepraat.
Ons het op skool van “samies” gepraat, maar of die woord nog in gebruik is, weet ek nie.
By die huis, en vir my ouers, was dit doodgewoon “pousebroodjie”.
Ek moet vanaand vir die derde keer in my lewe vir Klaradyn ‘n pousebroodjie maak. (Hulle neem net Vrydae, vir die lekker, ‘n kospakkie kleuterskool toe en dit het eers twee weke gelede gebruik geword.)
‘n Mens wens regtig seker nie jou kinders groot nie, maar ek kan nie wag dat sy graad 0 toe gaan nie. Doodeenvoudig sodat ek vir haar kan pousebroodjies maak.
Dit maak seker nie sin nie, en ek sal die woorde seker nog een vir een sluk, maar as jy ‘n ma soos ek gehad het, wat die allerlekkerste pousebroodjies vir haar kinders gemaak het, dan is dit vir jou ‘n uitdaging om die familiegebruik en –naam hoog te hou.
Ek onthou goed, sou iemand my op hoërskool vra wat op my brood is, dat my standaardantwoord “knoffelvis” was.
Standaardantwoord het dit geword nadat ek een keer regtig die lekkerste knoffelvis op my broodjie gehad het, en dit die een wat by my wou ops* so afgesit het, dat ek dit daarna elke keer gebruik het as ek nie my kos wou deel nie.
Ek onthou die knoffelvis, hoender mayonaise, spek en eier, wonderwerke met left overs, en selfs ‘n klassieke gunsteling, peanut butter & jam, was net strate lekkerder uit my ma se hand. Gee my geblinddoek happies van drie ma’s se peanut butter & jam-broodjies, en ek sal jou sê watter een het my ma gemaak.  Dit gaan oor die verhouding  grondboontjiebotter teenoor konfyt wat vir die regte kombinasie sorg. Enige een kan peanut butter en jam op ‘n brood plak en in waspapier toedraai; slegs ‘n uitgelese paar wat uit dieselfde potjies en botteltjies ‘n meesterstuk skep.
Ek kon tamatie op my broodjies ook hê, sonder om pouse met ‘n ongedefinieerde smudgy spul te sit. Ma Judy het gesorg dat geen skyfie tamatie dit sou waag om water af te gee aan ‘n maagdelike snytjie witbrood nie. Óf die brood is liefderyk verseël met ‘n lagie onderdringbare botter (margarien is ghries en geen broodsmeer nie), óf ‘n plakkie kaas moes dien as buffer na onder en ‘n blaartjie slaai as buffer na bo.
En dan was sy ‘n vrou met trots:  geen sandwich spread (wat hier iewers in my skooljare vir die eerste keer op Suid-Afrikaanse rakke verskyn het) op haar seun se brood nie. Dis vir lui huisvrouens. (Sy was ‘n werkende enkelma, ses dae ‘n week .)
O, en ek was so lief vir sandwich spread. (Kinders kan darem walglik wees — ons het dit kameelperdkots genoem.) 
Miskien was ek nie so lief daarvoor nie. Seker maar net omdat ek nie kon kry nie, dat ek dit so graag wou hê.  Sal vandag self nie eers oorwéég om eendag vir mý kind sandwich spread op haar brood te gee nie.
Utopia was dit darem ook nou nie van die more tot die aand nie. Dit het my lank gevat voordat ek hier teen standerd sewe geleer het om nooit, NOOIT OOIT, op ‘n Maandagaand te noem dat vandag se broodjies darem heerlik was nie. O, Boetie, dan kry jy daai selfde met jou brood Dinsdag, Woensdag, Donderdag, en as jy nie pasop nie, Vrydag ook.
En daar het ek nou nie uitgekom waar ek wou begin nie:  die graad 8-seuntjie op die trap vroeër die week tydens my terreindiens.
Daar sit hierdie mannetjie, netjies ge-collar  en ge-tie, pouse op die trap, met Sjinese eetsokkies in die hand, heel behendig en eet hom knuppeldik aan sy sushi, afgerond met wasabi en sojasous.
Dit herinner my aan die ander graad 8’ie wat hier in die eerste kwartaal tydens pouse op die departementshoof:  Engels afstap (dit het my, as mededepartementshoof ‘n goeie drie jaar gevat voordat ek dit gewaag het om met haar in gesprek te tree)met iets soos:
“Julle personeel het mos seker ‘n mikrogolfoond in daardie kombuis by die personeelkamer? Kan Juffrou hierdie asseblief vir my gaan opwarm. Dankie.”
Sy het dit gedoen.
*Ops  en nix-ops  hoor ek ook nie meer nie. Ons het ge-ops as jy ‘n happie van iemand se pousebroodjie wou hê, en ge-nix-ops as jy met ‘n heerlike broodjie in die hand by die pelle aangesluit het en nie wou hê hulle moet jou kos.
En sommer vir die lekker 'n greep uit iets van verlede jaar toe ek die onderwerp iewers ingespeep het:
Hier heel in die begin van my klets in die kuberruim het ek dit een oggend gehad rondom pouse se samies vir skool. Ek het tien teen een genoem dat ek nie kan wag vir die dag waarop ek op gereelde basis vir Klaradyn skoolbroodjies begin maak nie. Ek sou miskien selfs die woord reikhalsend gebruik het.
Wel, dit het dan nou amptelik gister begin.
En ek verwys eerder nóú daarna as oor vier of vyf jaar verder, want teen daardie tyd sing ek seker ‘n gans ander deuntjie.
Maar hierdie nuwe besem vee nog skoon. Of is dit eerder skerp nuwe messe wat smaakvol smeer?
Ek het die toets wat ek myself gestel het, met vlieënde vaandels geslaag: In antwoord op my heel eerste vraag, nee, nie “Hoe was eerste dag van regte grootskool? of “Hou jy van jou juffrou?” nie, maar “Hoe was jou broodjies?” was haar antwoord, “Die kouevleisie-broodjie was baie lekker.”
Natuurlik was dit lekker my kind, ek het dit met liefde gemaak. En ‘n stukkie ham tussen twee broodjies ís nie lekker nie. Dit moet twee of drie plakkies wees.
En wat eintlik die verskil gemaak het, is die dun lagie kindertjie-mosterd wat Pappa ingewerk het, so min dat jy dit nie agterkom en doelbewus registreer nie; maar laat jy dit weg, dan proe dit nou maar eenmaal anders en nie dieselfde nie.