Pages

20.3.11

Lekker verjaar Lynette

Elke onderwyser beleef seker in 'n stadium wat bekend kan staan as sy grootste verleentheid ooit in die onderwys.

Myne was iewers tussen 1989 en 1991.

Die Hoërskool Staatspresident CR Swart se podium in die vierkant, staan soos alle skole s'n in die middel van die een sy van die vierkant.

Daardie jare was daar nog nie 'n geboude podium nie – ons moes wag vir 'n besonderse bang meneer om een van baksteen en sement te bou. In daardie stadium het ons op 'n koorbankie geklim en die woord gevoer.

Ek sê ook nou bang, maar dis nie bang nie, die man het net nie daarvan gehou om voor baie te praat nie, hy het blootgestel gevoel om so voor almal te staan en het aangedring op iets waaragter hy kan staan, net om beter en rustiger en meer op sy gemak te voel.

Nou oor die koorbankie/podium in die middel van die een sy van die vierkant ingerig is, glo ek vandag dit wat 1989 wat ek my most embarrassing moment gehad het – as die standerd 6’e (ja, daardie jare was dit nie graad 8’s nie) heel links gestaan het, dan het die matrieks heel regs gestaan.

Dit beteken die standerd 8’s was in die middel, reg voor die podium/kateder/koorbank – die meisies voor, die seuns agter, 8A na links, 8H heel regs.

En die gesig wat ek die beste uit die oomblik van my allergrootste vernedering onthou, het in 1991 gematrikuleer. Sy was met ander woorde in 1989 in standerd 8, 8D of 8G , om tydens my vernedering en verleentheid voor en eerste in my gesigsveld te kon wees.

Die kind, vandag al getroude vrou en mamma, verjaar eerskomende Vrydag en in my dink aan haar, onthou ek weer haar verbouereerde histeriese gesig voor my, soveel jare gelede.

Want kyk, ander mense mag dalk ongemaklik daarmee wees om voor baie te praat; ek nie.

Ander se broeke mag begin bewe, en hulle sal aandring op stewige baksteenkonstruksies van waaragter hulle kan wegkruip; Hans nie.

So waar elke onderwyser vir jare nou al tot hoogstens op die eerste trap van die koorbankie klim om sy preek te preek en sy sê te sê, rush fools soos Hans in where angels fear to tread – ek klim met selfvertroue tot op die tweede trappie, en vandaar tot op die derde en heel boonste trappie, dat almal my kan sien en ek oor die hele see van gesigte tot heel agter kan uitkyk.

Nou is daar net een rede waarom dié betrokke koorbankie wat ek met soveel selfvertroue bestyg, buite die saal as podiumpie ingespan word, en nie binne in die saal as koorbankie saam met al die ander gebruik word nie – die ding is stukkend.

In plaas van 6 pote, 3 links en 3 regs, het die bankie net 5 – die regter voorste een is afgebreek – as koorbankie word dit gevolglik vir jare reeds nie meer aangewend nie, maar oor geen regdenkende dit ooit sal oorweeg om tot heel bo te klouter nie, dien dit perfek as daai klein verhoginkie vir die personeel wat die opening en afkondigings moet waarneem.

So die oomblik toe ek, Bybel in die hand, heel bó kom, is toe ook mooi die oomblik dat die hele koorbank regs vorentoe oorhel en ek met 'n luide kreet, mikrofoon in die ander hand, tussen die standerd 8-dogters infoeter.

Ek onthou nie veel nie, net Lynette (die oudleerling wat Vrydag verjaar) se gesig, haar oë, haar mond, haar koes, haar wegspring en plek maak vir Meneer.

Ek weet, na die aanvanklike kreet, dat ek die verleentheid met grasie hanteer en selfs as geleentheid ingespan het:  ek het my opening geïmproviseerd aangepas om verwysings na die insident in te sluit.

Maar verdomp of ek onthou waaroor die preekbeurt gegaan het, of hoe ek die val bygewerk het. Maar ek het.
Lynette hou baie ander assosiasies en herinneringe in – ek verbeel my selfs sy het, voor sy by ons aangesluit het, van dieselfde tuisdorp en hoërskool gekom as ek, maar die eerste en sterkste onthou wat by opkom, as ek aan haar dink of haar raakloop, is immer die een rondom my grootste verleentheid.

Lekker verjaar Lynette

O, die huiswerk

Tannie Carike en Ghoempie sing 'n liedjie waarin die refrein (of titel) o, die huiswerk is.

Ek en Annieka het hierdie liedjie al jare gelede onwelvoeglik verklaar - dit programmeer 'n negatiewe persepsie by jong en ontvanklike kleuters.

Min het ons geweet wat op ons wag.

Die volgende is sowat 'n maand gelede neergeskryf:

Naweek 1 van jaar 1 in graad 1 is die Saterdag gevul met 'n ouerbyeenkoms in die saal, aangebied deur niemand anders nie as die ATKV met die oog op niks anders nie as die jaarlikse redenaarskompetisie.

Einde week 2 van maand 2 laat val Annieka vandag dat dit belaglik was – hulle kon die hele naweek afgestaan het aan 'n werkswinkel met die tema Hoe oorleef jy en jou kind graad 1, meer spesifiek, graad 1-huiswerk.

En ek is dit met haar eens.

Ja, daar was vroeg al 'n oueraand, en ja, daar is by huiswerk stilgestaan, maar dit het ons beslis nie toegerus vir dit wat week twee in alle erns en verwoed losgetrek het en op ons afgevuur is nie.

By dié vergadering is bloot genoem dat die graad 1’s eersdaags huiswerk gaan kry, dit gaan 20 na 30 minute van ons tyd in beslag neem en ons moet asseblief nie teen ons eie tempo vooruit beweeg nie.

Drie weke later kan ek my nie indink dat enige regdenkende mens vir 'n enkele oomblik net daaraan kan wil dink om vooruit te beweeg nie – op 'n goeie dag neem die huiswerk ons twee uur om te voltooi. En ons het min goeie dae – die gemiddeld is eerder twee en 'n half uur.

As dit ons derde kind deur graad 1 was, het ons die huiswerk straks gans anders benader. Selfs as daar nog twee op pad graad 1 toe was, was ons dalk meer ge-chill, 'n mens leer immers uit ronde 1 en kom sterker anderkant uit.

Maar ons het net een rondte, Klaradyn, Graad 1, 2011, NOU, daar kan nie later op verbeter word nie.

Huiswerksessies in ons huis het van uit die staanspoor nie net twee dinge wat nie in die sessie se guns tel nie – 'n onnie-pappa en 'n onnie-mamma – maar drie – 'n onnie-mamma-en-pappa-kind daarby, 'n kind met 'n stewige skeut van mamma se presisie en 'n ewe stewige skeut van pappa se kreatiwiteit bygevoeg.

Ek illustreer graag aan die hand van een enkele voorbeeld, hoewel minstens drie toepaslike voorbeelde bykans daagliks opduik.

Die juffrou het dit goed gedink om die kinders 'n reeks van kolletjies (soos dit op 'n dobbelsteen verskyn) te laat inkleur.

Maklik, dit sal niks meer as twee minute neem nie.

Nie vir Klaradyn nie. Die 5 kolletjies van die 5 word 5 blomme, die 4 kolletjies van die 4 word 4 lolipops. Dan is daar nog suiglekkertjies, gesiggies en kat-ogies daarby. Hierdie vyf groepies kolletjies is elk in 'n raam – Klaradyn los nie negatiewe spasie om die kolletjies oop nie, sy kleur alles in.

Wat Pietie twee minute en een kleurkryt neem, neem Sarie twee minute met vyf kleurkryte – 'n kleur vir elke reeks kolletjies. Klaradyn speel oor 15 minute heen met al 24 kleurkryte.

Waar lê die fout? Beslis nie by die juffrou nie, sy is sielsalig onder die indruk die huiswerk hou haar bloedjies op die langste 20 minuutjies besig.

Dan het ons nou vaardighede verbonde aan inkleur ingeskerp. Wat voorlê is nog die geletterdheid, nie net syfers nie, maar ook nommers.

Die jaar skop af met die letter –l. Die opdrag is eenvoudig:  Kry soveel goed as wat jy kan wat deel is van die kombuis en begin met die letter –l.

Dis maklik – lepel.

En dan?

Laai. Laaikas.

Lieflik!

Kry nou prentjies van 'n lepel en 'n laai, nie sommer enige laai nie, 'n kombuislaai.

En dan het jy twee. Meer as nege tiendes van die bladsy lê nog braak.

Laevetmelk, laevetkaas, laevetmaaskaas, laevetbokmelk, laevetmargarien, laevetbotter, laevetroom.

Dis kroek en hoe moet 'n kind weet van “laevet”?

Ek kroek toe maar, by gebrek aan 'n arsenaal kombuiswoorde wat met 'n –l begin, vir “laevetkaas” in.
Toe ons uiteindelik 'n prentjie van kaas opspoor (bogger die feit dat dit volroom is) vra ek Klaradyn wat dit daardie is, maar sy het vergeet van “laevet” (hoe dan nou anders) en haak af met “maer kaas”.

***

Na twee weke doen ons saam met 'n maatjie huiswerk, dis in die rukkie tussen netbal en drama, en toe kom ons agter ons plak nou al twee weke lank prentjies van woorde wat met die klanke begin, hulle knip woorde uit. Wie is reg en wie is verkeerd?

Vir my pla dit glad nie – my kind se gedagtes moet betrek wees by klanke wat met letters verbind, of sy dit nou aan die hand van prentjies doen, en of sy dit aan die hand van woorde doen, is in hierdie stadium om het ewe – solank sy net daaglikse omgang met die klanke en woorde het.

Vertel dit nou vir twee neurotiese linkerbrein mammas, en kyk waar slaap jy vanaand.

Ek verkies die prentjies, nie hieroor of daaroor nie – dit knip soveel makliker uit as jy nog net 6 is. Om woorde te kry wat groot genoeg is, is al 'n stryd, en as dit groot genoeg is, is daar nie juis negatiewe ruimte tussen bo en onder nie – dit verg vaardige vingertjies om dit behendig te doen.

Ek het na middag 4 besef ons versnipper nou al ons tydskrifte – daar is nie manier dat ons tot by –z gaan kom met ons voorraad tydskrifte nie.

So nou as ons in die Huisgenoot is by “MET NET EEN ARM MATRIEKAFSKEID TOE” en ons is bly oor die NET wat ons het, dan sorg ek dat ons die MET, EEN, ARM, MAT, AF en SKEI ook het. Ek bêre elkeen van hulle in 'n banksakkie saam met al die ander woorde wat met dieselfde letter begin.

Ek was al lus en tik woorde op papier, lekker groot en in verskillende lettertipes, dubbel spasiëring. Gestel die volgende letters is v, k en r, dan tik ek iets soos:

van                        kam                       rook                      veer                      keel                       raap                      vir                          kos
rooi                       vuis                       krag                       rats                        vies                       klip                        reus                      vis

Dan knip ons middag een al die v-woorde uit. Die tweede middag knip ons nie –r’e uit. En die derde middag is ons gelukkig – “Kyk, jy het gister al vir ons al die k-woordjies uitgeknip, my Lief!”

Had ek 'n kleurdrukker, en ons kon dit bekostig, het ek die bladsy vol kolomme en rye getrek, dan steel ek prentjies van die internet en plaas dit in die verskillende selle:

kraai                      vis                          rot                         keel                       vrou                      ribbok                  klip
vos                        ring                        knop                     vark                       robot                    kaggel                  vuis

By gebrek aan prentjies, moes die woorde nou instaan, maar ek glo dis maklik om te begryp.

Helaas, ons het nie 'n kleurdrukker nie. En kies ek swart op wit buitelyn-prentjies sal Klaradyn dit ook nog wil inkleur, en daarvoor sien ek nie kans nie.
***

Dan is daar nog die wiskunde geletterdheid, of dan nou “gesyferdheid”.

Ek noem dit musiek, want dit herinner my aan toonlere.

Juffrou het Maandag laat weet die kind moet tot by 20 en terug tel. Ek dink ons begin by 1; Annieka reken 'n mens begin 2. Terwyl ons mekaar uitwis oor 'n 0 of 'n 1,  kleur Klaradyn solank in.  

Toe ons mekaar uitsorteer gekry het, kom Klaars aan die beurt, en ons kom met 'n skok agter sy kan dit nie doen nie. 45 minute later, toe kan sy dit doen – tussen haar trane deur.

Toe wil Juffrou dit Dinsdag weer doen. En ek dink vir wat wil sy dit weer doen, ons het dit dan nou gister bemeester!

Maar dis nog niks – sy wil dit toe Woensdag, Donderdag en die daaropvolgende Maandag en Dinsdag weer gedoen hê.

Toe eers besef ek die kind hoef dit nie eerste middag (nag?) al te bemeester nie, ons het tyd.

Almal in die huis het dit nie noodwendig dadelik gesnap nie. Party het dit trouens nou nog steeds nie gesnap nie.

Met al die vaardighede, geletterd- en gesyferdhede na bykans twee uur uiteindelik agter die rug, moet ons nog hersiening doen. Dis nadat ons gelees het.

Dan wil iemand nog hê ons moet 'n resitasie ook oefen, maar dit lyk my Klaradyn het haar voet neergesit – kunswedstryd doen dit nie vir haar nie.

Ek en Ma kry haar kop nie gedraai nie – my geld is op die juffrou. Ons sal moet sien.

Wie eerste gaan knak, weet ek nie. Miskien is dit Mamma, miskien is dit Dogter. Dis tien teen een óf Mamma, óf Dogter wat Pappa net een mooi middag totaal oor die rand stuur tot in 'n plek van veilige bewaring, ver van
huiswerk en sulke dinge af.

***

Hierdie is bykans 'n maand gelede, straks meer as 'n maand.

Baie het intussen verander – die huiswerk het minder geword.

Nee, dis nie dat ons daaraan gewoond geraak het nie, die huiswerk hét mínder geraak.

En ja, ons is ook meer vaartbelyn.

Toe ek hierdie vandag lees, het ek nie kon glo dis hoe ek 'n maand gelede gevoel het nie.

En dis hoekom ek blog – 'n mens vergeet so maklik.

19.3.11

Los gedagte

Ek sê toe gister 'n ding, en terwyl ek dit sê, weet ek dis snert.

En soos ek dit sê, sien ek Annieka stem saam, al sien ek ook sy weet, ek weet dat ek weet, sy weet dat ons altwee weet dis loutere kale snert.

Tog erken ons, terwyl ons letterlik in die badkamer voor die wasbak  skouers skuur, aan elkander:  “Ons moet leer om Klaradyn te vertrou.”

Dit terwyl ons weet ons vertrou haar.

Net die vorige aand sit ons sardientjies ingeryg op die bank.

Nee ons kyk nie televisie nie, as ons soos sardientjies op die bank ingeryg sit, dan sit ons eerder soos drie vinke op 'n tak – want dan kwetter ons kompleet soos... wel soos die twee Suid-Wes-parkiete nou op hierdie oomblik vanuit die kombuis doen.

Ons kom op datum rondom die dag se gebeure en ons eie doen en late, en Klaars laat val midde die verhaal van 'n insident tydens pouse: “...toe wys hy  hierdie teken vir haar.”

En deur my siek gedagtes wat altyd geleentheid soek vir ironie flits onmiddellik:  “O, fok, dis die fok jou-middelvinger wat nou reeds deel van my kind se verwysingsraamwerk geword het.”

Duidelik egter ook nie – die gebaar eggo geensins “up your’s” of die Duitse “der stinke finger” nie. Nee, óf Klaradyn, óf sommer al die maatjies, het die kat aan die stert beet, of dalk die klok, al weet hulle nog nie waar die bel hang nie, want my kind se sesjarige middelvingertjie wys onbeholpe af, grond toe, soos 'n verwelkte agurkie.

Maar ons weet, al is dit die stert – dis steeds 'n baie gevaarlike kat, en ons vra: “Wat beteken die teken?”

En Klaradyn is stom, opreg naïef stom, voor sy na 'n breukdeel van 'n sekonde sê: “Ek weet nie, maar ek weet dis nie baie mooi nie.”

En ek glo haar, ek vertrou haar, ek weet dat sy nie 'n idee het waarvoor dit staan of wat dit beteken nie. Ek weet dit.

Maar tog, tussen tande- en hareborsel voor die wasbak en spieël gisteroggend, is ek die een wat lostrek met:  “Ons moet leer om Klaradyn te vertrou.”

Nie hieroor of daaroor nie, nie dat ons haar nie vertrou nie, maar suiwer omdat sý straks die idee kan kry dat ons haar nie vertrou nie – miskien selfs haar juffrou kort voor lank met dieselfde gevolgtrekking ook.

Sien, ek en Annieka, is beide soorts van oorversigtig en hopeloos te lugtig, altyd bang ons doen iets, laat iets toe wat Klaradyn in 'n ongemaklike of sommer slegte situasie kan plaas.

Want so laat val Klaradyn Donderdagaand, knap voor slaaptyd, dat hulle Vrydag in Blou Bul-klere kan skool toe.

Die hele middag het sy niks gesê nie, en nóú met slapenstyd die boodskap.

Sê nou ons stuur haar sonder uniform, en sý had met 'n halwe oor gehoor! Hoe ongemaklik gaan sý én Óúma nie wees as hulle voor die skoolhek opdaag nie!

Ons SMS die klasjuffrou, en sy antwoord bevestigend. (Die massa-histerie rondom haar Blou Bul-hempie wat vorige seisoen al te klein en weggegee is, is 'n blog op sy eie, ook die soeke na iets anders, die middernagtelike pendel waskamer, en 'n volle siklus van die elektriese wasgoed-droërmasjien later, ook strykkamer toe.)

Maar dis nie eerste keer hierdie jaar dat Klaradyn, en die klasjuffrou, die idee kan kry haar mamma en pappa vertrou haar nie: 

Die kinders se huiswerk vir die hele week word Maandag afgerol in hul boeke geplak. Die een Woensdag staan daar, byvoorbeeld, “Lees Ek en my gesin-boekie tot bladsy 8.” En Klaradyn is adamant – sy moet nie tot by bladsy 8 lees nie, dis net tot bladsy 3.

Ek hou voet by stuk:  “Daar staan dit, swart op wit, ‘bladsy 8’!”

Klaradyn skop vas:  “Maar Juffrou het gesê net tot bladsy 3.”

Sê nou die kind kom in die moeilikheid oor ek nie haar huiswerk doen nie! Hoe kan ek nie wil doen wat die juffrou vir my uitspel om te doen nie!

Dit word later een van daardie sessies waaroor jy later  skaam sal wees as iemand dit skelm met 'n videokamera afgeneem het en dit aan jou voorgespeel word.

Ten einde griffel ek in my krapskrif onder die huiswerksinnetjie in die boek:  “Klaradyn hou vol dis tot by p.3”

En volgende dag het Juffrou my gekrap in haar mooiste van mooi handskrif en met 'n rooi pen uitgebrei en aangevul met:  “Sy het die boodskap 100% reg oorgedra.”

En na aanleiding van hierdie twee insidente, al vertrou ons haar, dink ek tog dis reg om te wil reken:  “Ons moet leer om Klaradyn te vertrou.”

Onvoorwaardelik en sonder voorbehoud te vertrou.

18.3.11

My Vaaltyn

In die week wat haar pa rondhol tussen A, B en C het Klaradyn self een van die vrotste weke in haar lewe. Eintlik nie één van die vrotstes denkbaar nie, beslis dié vrotste. En dit met 'n pa waarvan die aandag verdeel en elders lê, én 'n ma wie se senuwees op 'n knop gejaag is daarby.

Dinsdag-agtermiddag, baie laat, laat val sy dat sy vir Kyle, haar een kleintyd-maatjie, gesien het. Ek is bly dat hulle paaie uiteindelik gekruis het – hoe lank is die skool nie al aan die gang nie, sy in graad 1; hy in graad 4 of 5, en hulle het mekaar nog nie gesien nie.

By gesels en bespreek, kom ons egter nie uit nie – ek is op en uit en weg toe die foon, die oomblik wat ons klaar geëet het, lui.

Eers die volgende oggend, dat ek hoor hoe dit gekom het dat sy vir Kyle gesien het.

En my hart swel uit, loop oor, by die aanhoor van die storie – veral as ek dink hoe erg dit vir haar moes gewees het, toe sy die vorige aand daarna verwys het, maar niks laat blyk het nie.

Dit moes heeldag op haar gedruk het, maar tyd vir dié klas van gesels wat sy nodig had, was daar nie – eers was dit ballet en drama, toe huiswerk, toe aandete. En dis eers na ete, na badtyd, op pad kooi toe, dat sy rustigheid in die gemoed kry en dit met Mamma deel:  sy en 'n maatjie het in die saal gesels toe moes sy en die maatjie, saam met twee of drie groter kinders wat ook gesels het, voor in die saal gaan staan en vir die ander kyk!

En dís hoe dit gekom het dat sy Kyle gesien het – geen blye weersiens nie, maar soos 'n Middeleeuse heks wat aan 'n stok op die markplein vasgemaak is vir almal om te sien, of 'n veroordeelde in die Kaap tydens die Bataafse tyd wat wag om in die openbaar gevierendeel te word.

Waarmee ek natuurlik geen probleem het nie – sy het gepraat toe sy nie moes gepraat het nie, sy was tien-teen-een ongehoorsaam want ek laat my ook nie vertel dat hulle haar sal uithaal en 'n voorbeeld van maak as hulle dit nie duidelik gestel het dat die kinders stil moet bly nie.

Hopelik het die kind geleer om te sharrap as hulle beleef om blote stilte sou vra.

Behalwe vir die les wat ek bly is my kind hopelik geleer het, is ek die blyste van alles dat sy dit wel met ons gedeel het – stel jou voor sy het dit nie gedeel nie:  óf omdat sy so bang is vir ons, óf omdat sy klaar so skelm is, dat sy weet dis beter om dit stil te hou.

Ja, aan die een kant wil ek nooit hê my kind moet so bang vir my wees dat sy my nie kan vertrou nie; aan die ander kant wil ek haar ook nooit so vertroud met die verkeerde weë sien, dat sy weet dis beter om stil te bly nie.

Dit wil my voorkom jy as ouer moet gevolglik 'n bohaai opskop, groot genoeg dat dit nie weer sal gebeur nie, maar ook nie só groot dat die kind jou nooit weer van iets soortgelyks sal vertel nie.

En waar om die streep te trek met jou bohaai, word nergens in geen handboek uitgespel nie – jy moet dit aanvoel, vir jouself en by jouself.

Maar as Dinsdag erg was, en dit was – gevra hoekom sy so huil toe sy die storie aan Mamma oorvertel, kom die antwoord dat dit is omdat sy so ontsettend skaam gekry het – was Vrydag tien maal erger. Gelukkig nie wat skaam kry betref nie, wel wat die insident op 'n Richterskaal afgemeet, betref.

Hulle moet uittrek vir KDP (ek vermoed dis iets soos ons ou dae se LO – toe LO nog vir Liggaamsopvoeding, en nie Lewensoriëntering nie, gestaan het).

Nou hoe dit kan gebeur dat 'n klas se kinders die kleedkamers ingejaag kan word, sonder toesig, sal ek nie weet nie.

Maar dis seker heel logies – die juffrou kan haar tog nie in twee wil deel en by die seuntjies en dogtertjies tegelyk wees as hulle verklee nie. Sy sal die ouers op haar hê as die twee geslagte saam verklee. Om haarself te vrywaar van vervolging is dit trouens seker beter om nêrens by te wees waar óf die seuntjies óf die dogtertjies verklee nie – netnou word sy van onwelvoeglike gedrag verdink. 'n Moontlikheid sou wees om glad nie KDP te doen nie, maar dit sou nie in belang van die kinders wees nie – so ek vermoed hulle knyp maar oë toe en stuur die kinders in om te gaan verklee.

Hoe dit ook al sy, so gebeur dit toe dat 'n spul energieke graad 1-dogtertjies Vrydag die kleedkamers in is om vir KDP te verklee.

Nou gelukkig is ek self nog 'n kind en nie 'n goody two shoes een daarby nie, 'n dood normale gemiddelde kind; bietjie soet én bietjie stout.

So ek verstaan, onthou nog, hoe werk 'n kind se kop.

Want daar is my kind toe nie met haar sitvlak op die ingeboude bankies nie, maar met haar voete.

Sy hoef ook nie veel moeite te doen om my te oortuig dat sy nie die enigste een was nie, ek ken normale kinders omdat ek self een is.

Al wat anders is in hierdie geval, en in vergelyking met al die vorige kere wat daar kleintjies verklee het, is die feit dat dit toe Klaradyn se voete is wat tussen die planke infoeter, en nie net een voet nie —  beide voete.

Dit verbaas my geensins, dit het op enkele maande ook met haar gebeur. Ek het vir Annieka 'n swaaibankie, soos die wat jy gereeld in Amerikaanse flieks en huishoudings op die stoep of onder die boom by die voordeur sien, gebou. En Klaradyn se een voet is daar tussen twee sparretjies só deeglik in, dat ek met hamer en koevoet moes nader hardloop.

Op 6 sit sy egter toe 'n baie harder keel op as op 7 maande.

Die maatjies kom tot redding, maar dis suiwer by wyse van spreke, want van redding is daar geen sprake nie, hulle ruk en pluk net verder in verskillende windrigtings en maak dit wat reeds seer is, nóg seerder.

Klaradyn se alarm styg nou 'n paar desibels in toonhoogte, maar ook wat volume betref draai sy die krane, saam met haar oë se trane, op volsterkte.

Juffrou kom in – ons het nie gesels nie, maar ek sou my voorstel: wit geskrik.

Ook sy kry niks uitgerig nie.

En na ek verneem begin almal toe op hierdie punt bekommerd raak ook die ruite in die omgewing, so 'n gil en geskree pak die kind tóé uit.

Na ek verneem was dit die teebediende (miskien omdat van haar koppies en glase begin gaan het?) wat die hoof gaan roep het.

En wat doen die hoof?

Die hoof doen wat elke kind en ouer van laerskool verwag – hy storm in en bevry haar met vernuf en tegniek wat geen een tot nou nog toe kon openbaar nie.

En toe hy klaar is, toe gee hy haar 'n drukkie.

Ek weet nie wat die sterkste indruk op haar gemaak het nie, die feit dat hy haar bevry het, of daardie drukkie nie, maar as sy haar hoof voor die tyd verafgod het (wat sy het) dan is dit nou nog tien maal erger.

Dis dan ook nou op hierdie punt dat my hande na my hare toe gaan. Raas ek van voor af? Of nie?

Sy het geskrik. Groot geskrik. Juffrou het geraas. Baie geraas soos sy moes, hoop ek. Sy het 'n les geleer wat sy nie deegliker gaan leer as wat sy hom reeds geleer het nie, so ek raas nie verder nie.

Uit die gesprek met Klaradyn is dit vir my duidelik dat sy weet sy het verkeerd gedoen, en ek kry die idee sy gaan dit nie weer doen nie.

Die stomme kind wil nie eens meer voor skool in die saal gaan liedjies sing nie – oor dit haar te veel aan die verleentheid voor die ander kinders herinner.

Ek het dit al 100 maal gesê, en ek gaan dit seker nog 100 maal sê:  grootword is en bly nie lekker nie.

En dan is Maandag nog Valentynsdag ook.

Vir drie jaar was dit “Liefiedag” - dan het jy rooi aangetrek kleuterskool toe en daar was koekies en koeldrank.

Iemand, een van die “groter” kinders, het egter vanjaar by die klas omgekom en teen R20-00 die een of ander Valentynsbeertjie verkwansel.

Nee, my kind het nooit R20-00 aan haar nie, nie eers op snoepiedag toe nie, so sy kon toe nie vir haar 'n beertjie bestel nie.

Die volgende dag vergeet sy toe om te vra.

En toe sy die daaropvolgende dag wel haar R20-00 hier weg het, toe daag die seun natuurlik nie weer op nie.

Dit pla haar nie vreeslik nie, ons het getroos en gesê ons sal self oor die naweek 'n beertjie gaan koop, so sy is heel rustig.

Maar dit pla my.

Amper “vreeslik”, maar darem nog nie heeltemal nie. 

Fedit bly egter staan:  Maandag gaan daar kinders omkom en pakkies uitdeel, beertjies, Valentynsbeertjies, en 'n hele spul kindertjies in haar klas gaan spesiaal voel – hulle het bestel; my kind gaan afgeskeep voel – sy het nagelaat om te bestel.

So na kerk is ons strate toe om 'n beertjie te kry. Sy kon haar eie beertjie kies. En die een wat sy kies lyk of dit uit Bollywood ontsnap het, so kitsch jy wil kots. Maar ek meng nie in nie, dis haar beertjie wat sy kan bestel, op haar eie. Ma wil nog inmeng, toe praat ek haar dood.

En moenie dink die donderse beer het R20-00 gekos nie – ek moes R60-00 opdok. En moenie dink die skool se beertjie het R20-00 gekos nie – dit het tien teen een R10-00 gekos, indien nie minder nie; en die entrepreneur het R10-00 wins gemaak, indien nie meer nie.

Ma is ook kennelik bewus van die rustelose week in haar kind se gemoed en toe beginne ons 'n vroueding waaroor ons nog 11 jaar spyt gaan wees, Klaradyn se toekomstige man, trouens, eendag en vir die res van hul getroude lewe:  ons gaan koop iets nuuts, iets spesiaal vir Valentynsdag. (Daar is absoluut niks in haar kas wat sy kan aantrek nie.)

En Ackermans en Woolworths se somersgoed is van die rakke af – dis herfs en winter. Ons moet by die designer-plekkies in, daar waar ons in 6 jaar letterlik een of twee keer in was en elke keer laggend vir onsself, en die wat dit kan bekostig om daar te koop, uitgestap het.

En of dit nie genoeg is nie, koop ek by winkel A iets vir weersomstandigheid A, en Annieka by winkel B, vir weersomstandigheid B.

Maar as dit haar dag, haar week, haar maand en haar jaar spesiaal kan maak, sonder dat dit haar verrot laat, is ek bly tot in die diepste uithoek van my hart.

Gelukkige Valentynsdag, my skat.

Ek sal jou later vertel van Mammon, en verder terug waar die dag van Oom Vaaltyn eintlik vandaan kom.

Maar later.

17.3.11

Waarom blog?

Hierdie vraag het ek al by herhaling moes beantwoord?

Dat die bloggery neerkom op die volmaak van twee gesteelde Statebybel-grootte dagboeke en met verloop van tyd die ekwivalent van Trompie se ma se dahlias by die tuinhekkie geword het, het ek in 'n vorige hoofstuk van vertel en ek heg dit as addenda aan.

Wat ek toe gesê het, geld steeds en is waar, maar...

...maar ek is bevrees dis nie die volle waarheid nie, was ook nie destyds nie.

En dan letterlik nie die volle waarheid nie, nie soos in deurspek met leuens nie, maar soos in slegs een helfte wat vertel is; 'n tweede helfte wat geriefshalwe verswyg is.

Toe ek destyds die Statebybel en Trompie uitgeruk het, was ek egter nog nie opgewasse genoeg om met die volle reine waarheid vorendag te kom nie.

Vandag weet ek dit neem minder as niks van my om te erken dat die oorsprong van die blog niks anders as blote professionele jaloesie, kale afguns, louter naywer en 'n geknakte selfbeeld is nie.

Vanuit die bemarkingskantoor “blog” Annieka weekliks aan die hand van die skool se nuusbrief.

En na hoeveel jaar in die stoel van die bemarker is dit steeds die twee die goed wat dit reg van die begin af was, die twee goed wat my destyds genoop het om te blog:  sy sonder haarself weekliks af om “vir die lekker” iets te kan skryf – 'n kreatiewe stukkie skryfwerk wat funksioneel, as redakteursbrief, ingespan word.

En asof dit nie genoeg is nie, is daar na amper 5 jaar steeds weekliks ouers uit die skoolgemeenskap wat o, so positief op haar skrywes reageer – sy en haar tekste geniet 'n aanhang onder die ouers wat ek in geen 10 jaar by die skool, 'n skool, enige skool gesien het nie.

En dit kan nie wees nie, nie die rekreasie van kreatiewe verkeer nie; ook nie die aanhang nie.

Ek is die meer kunssinnige een van ons twee, ék is die een wat woorde in my mond rondrol, slyp en poets, nie sý nie – dit kan nie wees nie, dit mag nie wees nie, dis nie moontlik nie.

En omdat ek haar die luukse van kreatiewe omgang met die woord, nog minder die akkolades wat bly instroom het, nie so alleen en op haar eie gegun het nie, het ek die geleentheid aangegryp om te begin blog.

Ek het my vrou die bietjie son oor haar hoof nie gegun nie, haar dit misgun, haar eenkant toe gestamp, my vol sonroom gesmeer en begin sonbrand – te heerlik.

En nee, ek was nog nie een dag spyt nie.

Of dit te danke aan haar, of te wyte aan haar is, weet ek helaas nog nie verseker nie. Ek vermoed egter ek verkies die tweede een van die volgende vrae (en daarmee neem ek dan natuurlik basies standpunt ten gunste van te wyte aan in):

Hoekom blog jy?
Wie se skuld is dit dat jy blog?

Van die twee vrae na twee argief-antwoorde. Ek het dit Verbale Diarree 1 en 2 genoem.

En nou weet ons almal wat die volle betekenis agter daardie titels was – nie net dat ek heerlik overdadige dubbel-ka-middel-a kwyt raak nie, maar juis dat ek die leser 'n rat voor die oë draai deur sommer strooi en geensins die volle waarheid nie, te praat:

Verbale Diarree 1

Hierdie ongetroude vriendin op Bloemfontein het ‘n ding met bloedoortappings en vigs. “Want as ek dan nou vigs móét kry, laat dit dan tog net op ‘n opwindender manier as aan die hand van ‘n boring bloedoortapping wees,” reken sy.

Daarom dan ook hoekom ek my nie sommer skuldig maak aan diefstal nie. As ek dan nou vervolg móét word, dan tog net nie oor iets so onopwindend soos 'n onbenullige ding wat ek gesteel het nie.

Uit ‘n prille jeug onthou heelparty van my generasie seker tjoklits by die Griek op die hoek gesteel.

In my geval onthou ek ‘n eenmalige insident met sweets, want die tjoklits by Pappa-sous-se-klou (ek vermoed dit was Papasoseklou, of iets dergelik) se kêfie was agter glas, met jare se opgehoopte vlieëmis wat sulke piepklein korreltjies daarin, -om en –op gelê het.

Dan was daar die suikerlepeltjie met die gepoleerde rooskwarts aan die steel wat ek vir my ma gevat het die nag toe ons by rykes in die bodorp wakker gebly het om die geveg tussen Gerrie Coetzee en een of ander Spinks te kyk. Boksentoesiaste uit daai dae, en dis tog of daar daardie jare meer was,  behoort die geveg hier teen drie-uur die oggend te onthou.

Toe die geveg begin het ek opgestaan om te gaan piepie.

En toe ek terugkom was die fight iets van die verlede en die TV al af.

Vir wat ek die suikerlepeltjie nou ook die volgende oggend vir my ma loop staan en gee het, sal net ‘n kind weet. Ons (ek en my ma) is later met die kar Skuldbult toe om die ding al verduidelikende terug te besôre.

So was dit ook in standerd ses, 1976, met die koraalboomsade (dendroloë uit daardie dae sal ‘n ander naam onthou) wat die curiowinkel in die foyer van Windhoek se grêndste hotel destyds, teen ‘n asembenemende 99c vir een verkoop het.

Die meeste van ons ken koraalboomsade, ons weet dalk net nie dis koraalboomsade nie. Dis hierdie bloedrooi/knaloranje piepklein saadjies met so kraaiswart klein knoppie in die buig van die boontjievormige saadjie.

(As jy dieretuin toe gaan, of dit nog op Durban se strandfront by die esplanade waag, is daar vrouens wat krale verkoop met van hierdie saadjies in.)

Nou in ’76, en ‘n pakkie Simba tjips is toe net op van 5c na 7c, was ‘n volle 99c vir ‘n 3 mm-koraalboomsaadjie, wat ons pouses by die skool sommerso uit verveling met ons tone opgetel het, darem wragtig ‘n sonde. En oor hulle so kan kroek om daai belaglike prys te vra, het ek gedink ek sal hulle terug kroek en ‘n handvol van die goed skaai.

Dis altans hoe ek dit aan my ouers verduidelik het toe ek, na die relaas oor die belaglike prys, my hande uit my broeksak wurm en die handvol sade as bewys voorlê.

Gelukkig was die hotel (Namib Sands/Windhoek Sun/ Ietsie Inn?) hopeloos te grênd en my ouers nog hopeloser te trots om hul jongste telg aan die ore met die hysbak af te sleep tot voor die winkelbetuurder.

Ag ons nou nie die witboordie- (of is dit in die onderwys se geval blouboordjie-?) insidente rondom ‘n riem afrolpapier so een maal in twee jaar vir die druk van vraestelle en aantekeninge tuis, as diefstal nie, is dit eintlik my vierde, laaste en grootste diefstal waarby ek wil uitkom.

En dit in 2000.

Ek darem toe al 36 en heel toerekeningsvatbaar.

Hans is steeds in die onderwys, maar kantoorgebonde.

Die saal aangrensend aan sy kantoor is gevul met die vrugte van duisende rande se onafgelewerde/verkeerdelik geadresseerde/verdwaalde/misplaasde wanbesteding en swart bemagtiging van en in die onderwys.

En daar eenkant, nog uit die dae van die vorige regime se verwarring met aankope en besending, lê hulle:  ‘n hopie leë skooljoernale, lieflik deur die Staatsdrukkery gebind. Twee keer so groot en twee keer so dik as die grootste dikste Familie- of Statebybel wat jy in enige museum in SA sal kry.

Hulle lê al vir jare daar, word al vir jare nie meer aan skole uitgereik nie.

Tog roep hulle my byna daagliks. Staan ek in my kantoor op die lessenaar teen die afskorting wat ons skei, kan ek hulle sien. Hulle vra my om hulle vol te skryf, om dagboek te hou, joernaal te word van my lewe en die huwelik wat ek eersdaags gaan betree.

Maar dan is dit mos nou maar een maal soos dit met die Staatsdiens is. Jy kan nie vir een gaan vra nie; die goed is iewers aangewins en waar dit aangewins is, moet uitreiking gemagtig word. Die lêer waarin dit aangewins is, is weg of vernietig toe die gebou in ‘81 oorstroom het. Die aanwinsbeampte (of is dit nou uitreikingsbeampte?) met verlof/afgetree/afgesterf, sy pos vakant/tydelik vakant/oortollig verklaar. Vorms in triplikaat vir voorlegging aan... Kantoor A405, vyfdevloer, regtervleuel...

Wat ook al die rede, daar’s nie ‘n manier dat jy jou hande, op die regte manier, met die regte papierwerk, volgens die korrekte kanale, in jou dertigjaar-dienstydperk as staatsdiensamptenaar, op een van daardie skooljoernale sal kan lê nie – vergeet dit, skryf dit op jou maag.

Ek smokkel dit toe nou maar een middag daar uit.

Maar smokkel is iets wat jy met diamante die grootte van mieliepitte en kleiner doen. ‘n 900-bladsy, A2, Gutenberg-Bybel tipe Staatsdiensjoernaal is nie die klas van ding wat hom sommerso laat uitsmokkel nie. Nie as jy ‘n pennelekker, waarvan sy kosblik daagliks groter as sy aktetas is, is nie.

Hoe ek dit reggekry het en die ekseemagtige senu-uitslag wat vir maklik twee weke daarmee saamgegaan het, is ‘n hoofstuk op sy eie. En ek haas my want waarby ek met hierdie aanloop en ompad wil uitkom, is hoekom ek hier skryf.

Nodeloos om te sê dat die twee moerse boeke wat ek toe wel daar weg het, vandag...  nee, ek weet wraggies nie waar hulle vandag is nie. (Die boekrak se een rak wat hulle in ‘n stadium so min of meer waterpas moes hou, het ek tog al reggemaak.)

Nodeloos, daarom eerder en ook, om te sê dat ek hulle toe nooit as joernaal of dagboek ingespan het nie, al het ek selfs in kalligrafie ‘n titelblad in elkeen laat aanbring.

Ook toe Klaradyn gebore is, en ek die visioene van ‘n Pa wat daarin dagboek hou van haar eerste paar jaar, gekoester het, het niks gekom nie.

Dink net hoe roerend kan dit wees, vir die Pa ook, om die kronieke bewend op ‘n 21ste verjaarsdag/troudag/gradeplegtigheid te oorhandig.

Dink net hoeke verleentheid dit nie vir die stomme brat/bruid moet wees nie!

Maar dis presies wat ek besig is om te doen as ek so sit en skryf:  ek’s besig om daai bloody gesteelde joernale vol te skryf. Lyn vir lyn. Bladsy vir bladsy.

Vir my kind. Vir Klaradyn. En haar kinders eendag.

In elke ouer se lewe, ek sien dit met my Altzheimer-ma, ek hoor dit met my skoonouers en die grootouers saam, kom daar 'n stadium wat die kinders uitvra, maar die ouers nie kan onthou nie, die voorouers straks nie meer daar is om helderheid te bring nie.

Nie Hans Moolman nie – as Klaradyn vra, sal ek haar dié gee om te lees – dis wat die moeite werd is om te onthou, om te weet.

In my eie handskrif sal ek dit nooit kan doen nie – enige doktor besig sierskrif in vergelyking met my gekrap – daarom tik ek maar met die twee wysvingers waarmee ek myself destyds leer tik het. En selfs al kry hulle eelte, dan maak dit nie saak nie, want vol sal ek daai gesteelde boeke vol kry.

Verbale Diarree 2

Trompie, Trompie van die Boksombende saam met Blikkies, Dawie en Rooies, het altyd as hy van die skool af kom, een van sy ma se dahlias wat in die bedding by die voorhekkie staan, geskop dat dit oor die dak trek (en, in geestesoog, voor die kombuisdeur beland.)

By ons huis is daar nie dahlias nie en die enigste skopwerk wat ek deesdae doen, is skoene onder die bed in.

‘n Skoolvriend van my, voel hy soos Trompie en wil hy skop, het weer tennisbaan toe gegaan en, wat vir my speel soos ure gevoel het, die bal teen die oefenmuur geslaan. En geslaan. En geslaan. Tot hy beter voel en die draak waarmee hy worstel uit sy gemoed geworstel het.

Ons het nie ‘n tennisbaan nie en ek kry, selfs sonder om tennis te speel, gereeld las van ‘n tenniselmboog.

En dit dan die ander rede waarom ek my wysvingers se voorste litte eelte slaan teen die toetse:  by gebrek aan dahlias of ‘n tennisbaan.

Die Groot Afrikaanse roman wou ek weliswaar op een van twee plekke in ons mooi land gaan skryf het.

En nou onthou ek nie eers meer die naam van die strand wat ek een jaar op die Strandloper-staproete raakgestap het nie.

Maar ek weet dit sou lekker gewees het.

En die ou Underwood portable tikmasjientjie wat dié droom voltooi, kry geen mens in elk geval meer lint voor nie.

Die ander plek waar ek gedroom het om die laaste groot Afrikaanse boek (dis nou voor Karel Schoeman my voorgespring het) te skryf was in een van daai ou rondawels (wat nie rond is nie, maar wragtig ook nie ‘n chalet genoem kan word nie) op Punda Maria.

Maar vandat daar nou se dae ook krag en ‘n swembad is, sal daai prentjie ook maar net een in my kop bly. En onvoltooid daarby.

Deur die genade is geen gedig wat ek ooit geskryf het, met enkele uitsonderings hier en daar in tydskrifte wat nie eers meer bestaan nie, ooit gepubliseer nie.

Die ander skrywersdroom het Hennie Aucamp by my gesteel.

Hy noem sy boek Ontmoetings. 'n Lieflike boek, vertellings rondom mense wat hy ontmoet het, mense wat op hom en aan hom afgegee het.

Ek is bevrees, maar na 20 jaar droom om eendag my boek oor die mense wat my gevorm het te skryf, sit ek steeds net met twee, hoogstens vyf, hoofstukke:  die een oor die vrou wat destyds in die weermag ‘n baba se lyk uit die yskas gaan pluk het en onder die vroue voor die winkel se neuse loop swaai het in 'n poging om hul tot hul sinne te ru; die ander oor ‘n skilder wat deesdae in die buiteland sit.

Drie, vier en vyf is onderskeidelik my kind, my vrou en my ma (want kan jy nou dink wat sal gebeur as ek hulle nie insluit nie!)

My Ontmoetings-boek se naam sal jy nou nooit op die internet kan google en aankoop via kalahari.com nie, ook nie die groot Afrikaanse roman nie, nog minder die laaste Afrikaanse boek. Vergeet ook die Ingrid Jonker-pryswenners-debuutdigbundel, maar hier darem nou die geleentheid om my te verplig om my teksie so tussen skoolhou, kind grootmaak en by my vrou en ma uitkom, te skryf.

Nie dat skoolhou meer is wat dit was nie.

Ek onthou darem steeds, en verlang daarna, die heerlike Vrydagmiddae na skool hier in die laat tagtiger- begin negentigerjare. As die klok trrr-trrr, dan brrr-brrr my kar reguit kafee toe vir Vrye Weekblad. Dan is dit ek en Max du Preez en die bed.

O, en ek wou so graag ‘n  onderwysrubriek in Vrye Weekblad beman!

Maar voordat ek nog my voorlegging kon maak, toe trap hulle die koerant se tjank af en daar bars daardie bubble ook.

My ander en laaste aspirasie as skrywer was tot onlangs om die pa-en-kind-rubriek by 'n universiteitsvriend in 'n Afrikaanse baba- en kleutertydskrif oor te neem.

Om pa te wees, het ek op 40 agtergekom, is waaroor die lewe eintlik gaan en ek het gedog ek sal darem so lekker my en Klaradyn se oomblikke met die lesers kan deel.

Tot onlangs? Ja, vandat ek begin blog het, kom eg agter daar is ander dinge wat my gedagtes op loop neem, nie noodwendig net my kind nie.

Hierdie skrywes daarom my gesteelde Statebybel-joernaal, gelanseerde dahlias, tennisbaanfrustrasie, groot Afrikaanse roman, Ontmoetings a la Aucamp, en sommer twee rubrieke in die Afrikaanse media – alles in een.