Pages

6.8.14

Oor sosaties en sambokke

Ons het ons een jaar lelik vasgeloop rondom ʼn uitruilstudent uit een van die Europese lande waar rooivleis ʼn rariteit is – nie omdat almal vegetariërs of geloofsbeswaardes is nie, bloot oor dit so duur is.

Die kind toer toe vir drie weke met ons vleisvreters deur Namibië, Botswana, Zambië en Zimbabwe.

Saans beplan ons niks anders as braaivleis nie – ons het bees en bees en bees, en vir afwisseling nogmaals ʼn bietjie bees. Daar is die lekkerste sosaties en ʼn rits ander snitte en bewerkings – alles lugdig verpak en en vir duisende kilometers gevries.

En al waarteen ons gewaarsku word, is dit Mejuffrou nie rooivleis eet nie. Twee dae voor ons vertrek vaar ons die winkels in en koop drie weke se geblikte vis. Jy kan ook nou nie vir die mens 21 blikkies tuna koop nie, stomme mens. So ons foeter by al wat delikatessen in op soek na Duitse, Deense en dure Dietse blikkies haring en forel en makriel. Ag, siestog, en dan kan ons nie van die kind verwag om haar vis met mieliepap te eet nie – so daar is ʼn ander spul blikkies en pakkies en langlewe rogbrode en dinge óók in ʼn trommel in.

Eerste aand slaan ons nog diékant van die grens tent op. Daar word groot vuur gemaak en toe ons vra wat ons vir Mejuffrou moet uitkry, moet ons hoor sy sien kan vir een van die sosaties waarvan haar gasgesin-sussie haar so baie vertel het.

En daar ontwikkel die kind, in die bestek van een buitelugaandete onder die suidersterre ʼn sinnigheid in braaivleis.

Aand twee noem sy dat dag drie haar “visdag” sal wees (teen dié tyd praat sy al mooi Afrikaans). Dag drie het gekom en gegaan en dit was asof die laaste gevoel wat sy moontlik vir vis kon gehad het, weggeraap is die ewigheid in.

So ook dag vier en vyf en ses en sewe...

Week twee het ons agtermiddag begin vra watter vleis sy vanaand voor lus het, dat ons kan weet wat om uit te haal. En teen die einde van daardie week was ál die sosaties op.

Begin week drie, iewers in Zim, knoop ons toe ʼn spul ruiltransaksies aan en raak só van al die blikkies en goed ontslae.

En van toe af steur ek my nie veel aan ʼn uitlandse kos-geit of –gier nie – dis suiwer fiemies en basta met enige spesiale versoeke.

Maar net soos ons ons vasgeloop het deur ons te veel te steur, is die teendeel ook waar – jy kan die geite van jou laat afloop soos water van ʼn eend se rug. Maar wees gewaarsku daar ís iets soos die blinde sambok.

So ontvang ʼn kollega van my die kind saam met wie haar eie kind tydens haar studiejare oorsee studenteverblyf gedeel het.

Van allergieë en geite was daar, daar oorkant, vir vier jaar lank geen sprake nie. Die kind het ʼn kerngesonde eetlus en eetpatroon daarby.

Maar toe Mejuffrou na vyf jaar (beide van hulle het nou al amper ʼn jaar se werk agter die rug) in sonnige Suid-Afrika waar die leeus en die olifante in die strate rondloop, kom kuier, het sy ʼn skielike ding met gluten.

Nee, sy kom niks daarvan oor nie, sy het geen allergie of iéts nie, sy eet uit die bloute net geen styselrigheid of greintjie gluten onder die son nie. Nie brood, pasta, ertappels, pasteie, koeksisters of enige sousie wat met mielieblom of so iets verdik is nie.

O, aarde, en sy kom neem haar intrek in ʼn no-nonsense huis. Besige mense waar laat ingekom en kos gemaak moet word.

En nou met special needs. Na ʼn week weet die ma  nie meer wát om te maak nie – uithang gaan sy waaragtig nie die hele duur van die besoek nie, maar afsteek gaan sy waaragtig ook nie.

Week twee is sy in ʼn nuwe roetine – in plaas daarvan om na skool te bly en haar werk eers af te handel, jaag sy saam klokslag 14:00 saam met die klok en die kinders hier uit.

Nie hieroor of daaroor nie – om te gaan kosmaak terwyl die twee maats nog nie by die huis is nie. Op dié manier is daar nie helpende hande en nuuskierige ogies in die kombuis as sy roer met die aandete nie. Só kan haar hand ook plek-plek gly-gly met ʼn glutentjie hier, ʼn verbloemde styseltjie of gekamoefleerde granerigheidjie daar.

Volgende oomblik storm sy benoud by my in:  “Het jy dan nie iewers vir my ʼn pampoenkiekieresep sonder meel nie!”

Kom dit uit dat sy die naweek terwyl hulle die oggend strate toe was, gou ʼn baksel outydse, Boerse, pampoenkoekies saamgeslaan het.

En daar is die kind gaande daaroor. Dis nog nie eers weer halfpad naweek toe nie en sy moes intussen, op spesiale versoek, nou al weer twéé keer van daardie lekker pumpkin fritters maak.

En nou soek die kind die resep – nie met bobotie of enige van die ander Suid-Afrikaanse dissse wat haar gasvrou so glutenvry opgetoor het, dat sy haar mense daar oorkant wil beïndruk nie. Nee – met die pampoenkoekies, bruinsuiker en kaneel.

Sy soek nie net die resep nie, om seker te maak dat dinge daar oorkant flatervry verloop as sý dit die dag vir haar mense maak,  soek sy ʼn oefenlopie, hier ter plaatse voor sy eersdaags op die vliegtuig klim en koers kry huis toe.

Nou kan ek my geensins ʼn pampoenkoekie sonder meel voorstel nie; aan die anderkant laat ek my nie vertel dat die Amerikaners wat so verbeeldingryk met ʼn nederige pampoen kan omgaan, nog nie ʼn meelvrye iets uit sou gedink het nie.

Ons google daar en dan, “gluten free pumpkin fritters” en “flourless pumpkin ietsie-anders-wat-ek-nie-nou-onthou-nie.”

Kortvoorlank sit ons met iets wat ʼn sterk Suid-Afrikaanse geur en gevoel sal kry as jy net eers die kaneelsuiker deeglik ingespan het.

Maar lees ek die ingrediënte so, weet ek nie so mooi nie. Ek kan so op sigwaarde sê dit soos plaatkoekies gaan uitkom. Ás hulle gelukkig is en die hele spul nie die ganse bodem van die pan eerder soos ʼn pannekoek betrek nie.

En daar;s nie veel wat jy kan doen nie – dis óf minder pampoen (wat nie sal deug nie) óf meer eier (wat net so min, indien nie minder nie, sal deug).

Resep in die hand is sy daar uit, maar ek hoor hoe sy haar dogter bel en dié die dood voor die oë sweer as hulle agtermiddag daar opdaag voordat sy nie klaar het met die pampoenkoekies nie. Daar is nie ʼn manier dat hulle dit saam in ʼn toetskombuis gaan maak nie. Iets moet voorval dat ons tuiskok en haar leerling nie saam in die huis is nie.

Hulle moet dan maar so uit die kombuise Skype as die kind net eers weer daar anderkant is. Wie, weet, dan kry hulle aan hierdie kant dan nog straks die meel  ingewerk sónder dat die buitelandse oë enigsins snuf in die neus kry.

Ai, siestog, die hele storie sou seker snaaks kon wees, ás dit nie was dat die stomme kind so opgewonde was oor dié ellendige pampoenkoekies waaraan sy haar hier by ons so kaduks geëet het nie. Maar die passievolle jong kind, wat alles wat sy aanpak met oorgawe en ongekende entoesiasme doen, het nou al twee keer daar oorkant pampoenkoekies gebak.

En nie om te oefen en te kyk hoe dit werk voor sy dit vir mense voorsit nie, nee, elke keer met ʼn huis vol mense wat die verrigtinge met honger oë dophou en volg.

Vra ons maar, want ons weet – elke keer is dit selfone en kameras waar jy kyk – om die groot spog af te neem.

Ag, siestog, elke keer is dit natuurlik ʼn klaaglike mislukking – elke plaatkoekierige kwasi-pannekoek-floppie word omtrent uit ses hoeke afgeneem en dadelik deurgestuur Suid-Afrika toe dat die kenners hier kan kyk wat dan met Ouma se beproefde resep verkeerd kon geloop het en sommer dadelik weer raad stuur.

Twee keer het sy nou al teleurgesteld gevra of hulle seker is dat sy die regte resep het, want haar goedjies herinner geensins aan die poffertjies in die verre suide nie.

En twee keer antwoord hierdie kant heel instemmend.

Dit help ook nie hulle ontdek ʼn ingrediënt wat per toeval – kan jy glo – op die resep uitgelaat is nie, want al wat dit kan wees, is meel.

Of is daar dalk iemand wat kan help met iets anders as meel, of kapokertappel, of rysmeel, want nie een van dié drie sal deug nie.


5.8.14

Nooit weer nie, nooit-ooit

Dis regtig nie lekker om eerste ding, elke oggend van jou lewe, met gedagtes rondom “nooit, ooit weer nie” te moet begin nie.

En met my is dit seker nou al ses maande presies hoe dit is.

Ek voorsien ook nie dat dit gaan verander nie. Nooit ooit nie.

Gelukkig is dit nie verganklikheidsgedagtes rondom goeters soos die dood nie; eintlik bloot net variasies op een enkele woord:  “Nooit!” Nie doodnegatief nie, maar gagga-negatief genoeg.

En vir iemand met ʼn brein soos myne, het ek smorens net ʼn woord soos “nooit” nodig en my gedagtes loop met my hol agter al die ander nooit-ooite in my lewe aan.

Ek het vrede met al die oorlye mense, selfs die naastes soos oorle’ Hans en Judy, Ouma van Wyk en Tannie Anne. Daar is niks wat ek nog vir een sou wou sê of doen wat my soggens voor die badkamerspieël, terwyl ek tande borsel, besig sal hou nie.

Maar Oom Ben en ʼn gans ander Tannie Anne as my ma se sus, Tannie Anne, is geheel en al in ʼn ander klas. Hulle is soos ʼn ertjie onder vyftig matrasse. En dan weet ek nie eers of dit ooit Oom Ben en Tannie Anne was nie, is nie, moes wees nie. Ek en my broer sien mekaar hoogstens een keer in twee jaar, en die laaste vier kere al het ek hom nog elke keer met hierdie Oom Ben en Tannie Anne konfronteer.

Tannie Anne, hulle het iewers in Durban gebly. (Die “Bluff”? Daar is mos ʼn plek soos “The Bluff”, is daar nie?) Een jaar het sy vir my vir Kersfees seker ʼn stuk of vyftien of meer leesboekies gestuur. Ek praat van sowat veertig jaar gelede. Drie of vier daarvan het sulke gunstelinge geword, dat ek dit steeds het; ʼn ander, dat ek dit steeds onthou. Dis in Klaradyn se boekrak – ons bewaar dit soos goud.

Daar was Suid-Wes-parkiete in hok vlak teen die motorhek. En leiklip vloere. Frangipani en alles tipies Natal. Geil, groen, welig, humied, drukkend.

Dit was (miskien) familie van my pa. Die tannie had goud in haar tande en het gerook. Die oom het gedrink. En al het hulle Afrikaans gepraat, was hulle Engels. Óf die tannie had ʼn “husky voice”, óf die oom had ʼn rasperstem. Ek weet waar het die yskas gestaan, hoe die tuinpaadjie gelyk het, selfs hoe die parkiete in die hok opgelyn gesit het...

Maar ek weet nie eers of dit ʼn Anne en ʼn Ben was nie. Dreyer, verbeel ek my.

En my broer weet nie eers van wie ek praat nie.

Ma Judy is dood en sou seker die laaste tien jaar van haal lewe nie meer geweet het van wie ek praat nie. Pa is al jare voor haar tot stof.

My eerste herinnering aan ʼn “Game”-kettingwinkel, ek onthou dit asof dit gister was, hou verband met die vakansie dat ek, Ma en Pa by, noem hulle dan maar Oom Ben en Tannie Anne Dreyer, gekuier het.

Vandat my gedagtes soggens so in die “nooit-ooit” gewerp word, dink ek seker twee keer ʼn week opnuut aan hulle:  “Ek sal nooit-ooit weet wie hulle was, waar hulle vandaan gekom, of wat hulle in my lewe gesoek het nie.” Die enigste rede waarom ek hul nog lewendig in my het, is die kinderboekies op my kind se rak. Dis al.

En so spring ek dan van die een nooit-ooit na die volgende nimmer-as-te-nimmerste nooit-ooit-nooit nie. Byvoorbeeld springboklewer en uie, op ʼn regte, egte skottelskaar, in die veld, dis winter saam met Oom Kobus op sy plaas; op ʼn bankie voor Rembrandt se Joodse Bruidjie, of Van Gogh se slaapkamer; kaartspeel, in die aand, onder die bome, in die destydse karavaanpark oorkant Warmbad se warmbad. For that matter, nooit ooit weer matzos met botter en sout saam met tee in die Warmbad-hotel se sitkamer nie – die hotel en sy poeierblou interieur is al jare afgebreek

Rembrandt en Van Gogh, Breughel en Giotto en al die ander outjies soos hulle, is natuurlik nie een honderd en tien persent finaal verby nie. Daar is ʼn nul-komma-nul-nul-nul-één-kans. Maar nie sommer nie.

Teen daardie tyd van die oggend, my tande nou net klaar geborsel, het al die finaliteitsgedagtes my al so negatief gestem vir die res van die dag, dat ek die nul-komma-trippel-nul-een-kans nie eers registreer nie.

En dit alles omdat die buurmaatjies, ʼn tweeling – Hannes en Wikus, se ouma (maar of dit nou Oom Zed, of Tannie Rhona se ma was, sal ek nie weet nie) iewers rondom 1969 Europa toe gegaan het. Vir die twee seuns het sy plastiek woer-woere teruggebring. Dit had ingeboude liggies wat aangaan as die goed ordentlik begin spoed optel. Suiwer toorkuns vir ʼn klein seuntjie. Daardie jare. Vandag, verbeel ek my, is dit algemeen.

En dan het sy ook gebring – maar nie ʼn speelding vir een van die seuns nie, eerder iets vir die hele gesin – ʼn kontrepsietjie met drie onderdele waarin jy die onderkant van die destydse lood-tandepastabuisies staangemaak het. Hierdie kontrepsietjie het dan jou lood-tandepastabuisie, soos jy keer na keer tandepasta gebruik het, mooi netjies in sy magie opgerol. Niks tandepasta het in die buisie se stert agtergebly nie en die buisie het netjies en in plek gebly.

As die woer-woere met hul ingeboude liggies destyds vir hierdie jong seuntjie suiwer toorkuns was, weet ek nie wat hierdie toothpaste dispenser was nie. Magic, met ʼn hoofletter –M. Nee, MAGIC, in hoofletter gespel. Miskien eerder on-ge-fokken-looflik – maar daardie jare was so ʼn sterk woord nie deel van my verwysingsraamwerk nie.



Ek kan dit, vandag nog, niks anders as ʼn toothpaste dispenser noem nie – dis nie iets wat in Suid-Afrika bestaan, gekry en gekoop kan word nie, dis nie iets wat in Afrikaans ʼn naam het nie.


Ek onthou dat ek, speel ek by die bure, gaan piepie het – nie om te piepie nie, maar om te kyk hoe die tandepastabuisie ingekatrol en korter word.


Dis natuurlik vandag geen geheim nie, as ek en Annieka ooit in ʼn skeihof beland, sal dit nie oor ʼn derde party of die een of ander onversoenbare persoonlikheidsverskil of ding wees nie, maar oor ʼn tandepatabuisie. Nee, ʼn tande-fokken-pasta-fokkense-buisie.

Sy het vir ʼn tandepastabuisie en hoe daar met ʼn tandepastabuisie omgegaan moet word, geen, maar geen respek nie. Dis ʼn blog-inskrywing op sy eie, dit wás trouens al, en ek gaan nie nou ons vuil wasgoed in die openbaar uithang vir almal om te sien nie.

Vir die eerste veertien jaar van ons huwelik was ons totaal uiteenlopende omgang met tandepastabuisies nie so ʼn wesenlike probleem nie – sy het hare gehad, en ek myne, langs mekaar in die badkamer.

Want in 1994 toe ek by Annieka-hulle aan huis begin kom, spoor my oog, vir die eerste keer na meer as dertig jaar, weer so ʼn porselein toothpaste dispenser op.


Annieka se tannie was jare tevore Europa toe en het vir haar familie van die goed ingebring.

Daar is duidelik meer mense as net ek wat oor tandepastabuisies se versorging voel soos ek. Waarom anders sal hulle sulke goed opkoop en die land inbring as hulle in die vreemde is.

Dié betrokke tandepata-kontrepsie het my nog nooit laat wonder oor enige moontlike bymotiewe waarom ek Annieka getrou het nie, maar laat ek eerlik wees – dit het heimlik ʼn baie groot rol gespeel in die keuse van ons destydse huwelikskontrak:  binne gemeenskap van goedere, daar buite, of met aanwas van goedere.

Ek het die ding al een keer, en dit het ons bootjie gevaarlik na aan die rotse gehad, uit die asblik moes red.

Kan jy glo – in een van haar akute spring cleaning aanvalle bliksem sy die ding, sonder om nugter te dink, mooitjies in die asblik. Ek spoor hom, uit en deur suiwer genade alleen, op toe ek iets in die buitenste groot asblik gaan gooi.

Dit was gelukkig nie ʼn maand nie, toe praat ons weer met mekaar en deel ons van nuuts af aan dieselfde slaapkamer en bed.

En toe, ses maande gelede, kom ek agter die eenvoudige stukkie ding werk nie meer so goed soos hy al die jare gewerk het nie.

ʼn Oomblik se ondersoek het my by die rede – ʼn onderdeel is soek.

En ek soek en soek, op my knieë, in die badkamerkas se diepste hoekies waar geen mens in jare was nie. Maar verniet – die onderdeel is nie net soek nie, dis weg.

Ek sal dit nie wees nie – ek pas die ding soos goud op.

Maar tussen Annieka en Martha is enige iets moontlik. Annieka het net ʼn effense bevlieging en die ding is asblik toe omdat sy nie hou van hoe ding lyk nie. Martha kon die onderdeel gesien het en nie geweet het wat dit is nie, sy kon gereken het dit hoort nie in ʼn badkamer nie en het dit weggegooi.

Ja, as die tandepasta nou sy gat gesien het en die buisie heeltemal ingekatrol was dat net sy kop uitsteek, is daar mos nog ʼn dag of twee se tandepasta in die buis se nek en keel oor. Iemand soos Annieka het haar buisie dan al lankal eenkant gelos en ʼn nuwe oopgemaak; nie ek nie.

Dis dan wanneer ek die buisie teen die spieël plat- en gladstryk met die steel van die tandeborsel. (Daarom ook dat ek nooit ʼn tandeborsel vervang as die hare uitgewerk is nie – lank voor die hare uitgewerk is, het ek die steel al teen die spieël op een van die gladgestrykte tandepastabuisies afgebreek en moet hy vervang word.)

Dit is wat moes gebeur het – die tandepasta was 99, 99999999% klaar opgebruik en ek moes die buisie uit die kontrepsie gehaal het om die laaste oggend se tandepasta met die steelkant van die borsel uit te kry.

Iemand moes die onderdeel vir ʼn stukkie gemors aangesien het en dit weggegooi het.

My broer bel my ʼn week gelede in die klas. Ek skrik, want hy sal nooit in klastyd bel nie – dit moet dood wees.

Maar dit is nie. Hy het vergeet om te sê hulle gaan Europa toe, is daar iets wat ek nodig het.

Op daardie oomblik weet ek daar is iets wat ek wil vra, maar verniet of ek kan onthou. Ek onthou ek het die laaste dag of wat gedink dat al hoe ek aan wat ek soek, gaan kom, is as iemand dit vir my van oorkant die waters bring.

Maar verniet of ek kan onthou wat dit was.

Dis eers die volgende oggend, terwyl ek tande borsel natuurlik, dat ek onthou – ek moes gevra het dat hy op die uitkyk moet wees vir ʼn tandepastabuisiebewerker – in ʼn Suid-Afrikaanse winkel het ek dit in amper vyftig jaar nog nooit gesien nie. Hoe kan ek so onnosel wees om te wil staan en vergeet.

Ek kan met die wonderlikste lied in my hart en die beste, korrekste voet denkbaar, uit die bed opstaan, maar eindig ek deesdae voor die wasbak by tandeborsel op, dan bederf my dag. Nie oor ek moet sukkel met die buisie nie –  ek laat my nie ore aansit deur ʼn tandepastabuisie nie, ek sit hóm ore aan – maar oor ek keer op keer weer daaraan dink dat ek “nooit ooit weer” my kontrepsie kan gebruik nie.

En dan verval ek in al die ander nooit-ooits van my lewe, sleep ek my voete verder en verander die melodie in my hart in ʼn treurmare met ʼn dodemarspas.




20.7.14

Vakansiepraatjies

As daar nou een ding is waaroor hierdie Boetman nog nooit die bliksem in was nie, dan is dit die balsak waarmee die SAW & Seuns hom in 1987 uitgereik het. Teen die tyd dat my min dae al minder en minder begin word het, as het ware uitgeloop het en ek einde 1988 uitklaar, het ek al so baie goed om aan te vlieg states toe, dat ek skoon ʼn tweede een pasella kry.

bron

Dis hoeveel jaar later, en ek het steeds die twee kit bags, of dan troepesakke. 

Nie net hét ek dit nog steeds nie – ek gebrúik dit steeds. Ek het netnou in die donker oor die een getrap toe ek opgestaan het om te kom tik aan die gedagtes wat in my kop maal.

Ek en Annieka het al reistasse en –sakke en allerhande fancy dinge gehad. Die helfte daarvan is weggegooi, die ander helfte is stukkend in die motorhuis. 

Ek voorsien nie dat ek ooit in ʼn vyfster hotel sal inboek vir vakansieverblyf nie, maar sou dit wel gebeur, voorsien ek dat ek met my balsak oor die skouer in die foyer sal aanmeld.

Ek stop myne soos ʼn wors, en Annieka, wat áltyd te veel klere inpak, het geleer om haar wors selfs nog stywer te stop.

So kon ek die twee al selfs in Botswana of Zambië langs mekaar lê-maak om op hulle te kan slaap.

Dis miskien ook die enigste nadeel – ons gaan nou elke keer met te veel klere op vakansie. Disomdat ons al die ander sakke opweeg, elkeen te lig bevind, en op die ou einde op ons ou vertroude balsakke besluit. 

Ek dink baie keer dat dit darem soveel makliker sal wees om, in plaas van die twee sakke, net een sak te neem, én dan een boksie Koue Water Omo daarby, maar verniet of ek Annieka kan oortuig om in te koop.

Die voordeel van die stywe wors is dat jou klere nie kreukel nie. Soos ek dag veertien se pakkie twee weke gelede heel onder ingepak het, so haal ek dag veertien se pakkie twee weke later heel onder uit. Uit die tas, aan die bas.

Partykeer, hang net af hoeveel keer ons kamp opslaan en verskuif, konsolideer ek en Annieka ons vuil wasgoed in die een, en skoon klere in die ander – dan leef ons uit net die een. Kom ons by die huis, dan bly die een in die waskamer agter, die ander gaan verder kamer toe.

Dis hoeka waar die een vandaan kom waaroor ek van effe gestruikel het toe ek opgestaan het. Teen daardie tyd het Sussa, die spanjoel, al die warmte van haar slaapplek verruil vir die sagtheid van die balsak, en is dit eintlik oor haar én die balsak dat ek gestrompel het.

Nou as jy dink ék pak te veel klere in, het jy nog nie vir Annieka gesien nie – ons kan in die middel van nêrens en êrens karprobleme optel, vir twee weke gestrand op parte moet wag, en sy sal steeds ʼn skoon pakkie vir elke dag hê, ongeag die weer. Want dis mos ekstra somersgoedjies, ekstra goedjies vir as daar ʼn byt in die lug is, en ekstra goed vir ingeval dit in die middel van die somer in die Nasionale Kruger Wildtuin begin sneeu.

En nés jy dink dís nou erg wat sy vir haarself inpak, dan het jy nog nie gesien wat sy vir Klaradyn inpak nie – vir tien jaar nou al. 

Klaradyn was nog in die doeke, dan lyk haar bagasie net soveel soos ons sʼn. 

Noudat die kind 10 se kant toe staan, is dit nog erger.

Ek sal myself jare se sukkel spaar as ek army surplus store toe ry en kyk of ek nie dan maar ʼn derde balsak vir die gesin kan aanskaf nie. 

Vir Klaradyn word elke vakansie voorsiening gemaak vir drie seisoene in een dag, met die moontlikheid dat sy in elke seisoen roomys op haar sal mors – dit kom neer op twee pakkies vir elkeen van die drie seisoene per dag.

ʼn Derde balsak is ons voorland.

***

Ons kan darem nie van ʼn heerlike vakansie in die wildtuin kom, en al waaroor ek praat, is ou bruin balsakke nie.

Dit was hemel op aarde. Nie net die wildtuin nie, maar ons drie, saam, van die oggend tot die aand, net ons drie. Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd in die oortreffende trap.

Klaradyn, onthou ek reg, is in die wildtuin van die bottel gespeen – ons het hom vir die apies gegee. Darem nie letterlik nie, die bottel wag in een van die kaste om ontdek te word. Soos ʼn jaar of wat gelede met die rooi Kersvaderpak gebeur het.

Maar omdat die kind haar melktande, by wyse van spreke, in die wildtuin gesny het, is sy natuurlik net ʼn plesier en koop sy een honderd persent in op ʼn outentieke wildtuinervaring: vroeg na bed, maar net so vroeg om weer op te staan.

Ons hou nie van krag in die wildtuin nie, dis kerskrag en paraffien. Elke aand, nes ons hier teen 19:00 klaar geëet het, dan vou sy haar bene oorkruis en trek los met:  “Kom ons gaan slaap nou julle.” Elke aand. En elke aand wys ons haar op die opruimwerk, skottelgoed en alles in gereedheid kry vir more se koffie-en-beskuit iewers langs die pad waar dit mooi genoeg is om 'n koffie-breek te neem. Elke aand maak sy dan of sy ons nie gehoor het nie, sy kom rank dan bloot oor een van ons twee en herhaal:  “Kom nou julle, kom ons gaan slaap.”

Sy is dalk moeg, maar haar verstand skakel lank nie af nie.

So vra sy een aand, klokhelder, in haar slaap:  “Is dit ʼn basterhartbees, Mamma.”

Annieka antwoord, dik deur die slaap, instemmend.

Maar my gewete pla my, of die kind nou slaap of nie, ons kan nie sommer so goedsmoeds, soos met Kersvader, die tandemuis en wat van haar bottel geword het, vir haar lieg nie, toe voeg ek maar by, “of dalk eerder ʼn tsessebe, skat.”

Ek lees op die oomblik Chris Barnard se Boela van die Blouwater vir haar.

Dit het alles begin toe hulle my een middag hardop onder die bome hoor snik het oor twee hartroerende stories in die man se mees onlangse bundel kortverhale.

Die aand stuur ons haar solank bed toe, maar ek en Annieka bly sit, ek skink nog ʼn dop en begin vir haar by lamplig voorlees aan die stories wat my die middag so aan die hart gegryp het. Daar gaan Annieka ook aan die tjanke. En toe ons ingaan, laat val die merrieperd vanuit die slaapsak waar net haar gesig uisteek:  “Dit was nou twee mooi maar hartseer stories.”

My gehoor was toe groter as wat ek vermoed het. En van toe wil niemand gaan slaap voor Pappa nie storie gelees het nie. Gevolg is toe dat ek elke oggend, terwyl ek wag vir die dag om te breek, twee of drie stories by die lig van 'n toorts lees, net sodat ek een of twee kan kies vir vanaand se slaaptyd. Chris Barnard se teikenmark is immers nie tienjariges nie en nie alles daarom vir ʼn tienjarige toeganklik nie.

Op pad terug, loop ek deur ʼn tweedehandse boekwinkel op Haenetsburg, en hier spring Chris Barnard se Boela van die blouwater, voor my in. ʼn Storie sonder selfone, i-pads en selfs elektrisiteit, ‘n storie wat afspeel op ʼn vissersdorpie, geskryf in 1962. Maar ʼn tydlose storie, met tydlose temas vir die jeug.

Klaradyn koop in op Boela en Oukoos, Patrys en Vlooi, Boeliepens, Janneman en Sollie, presies soos sy inkoop op tsessebes, gompoue, bergarende en bosbokke.

As dit nie vir ander dinge was nie, sou ons dit in een sitting kon kafdraf, maar dis toe nie moontlik nie. Met moeite en selfbeheersing dat ek daarin slaag om die laaste twee hoofstukke, vir die laaste oggend van die vakansie te spaar.

Dit was lekker om weg te wees.

Dis net so lekker om terug te wees.

Naskrif:

Die verwysing na Chris Louw se Boetman wat die bliksem is (ook al 14 jaar gelede) het my die brief laat soek. Dis op meer as een plek op die internet beskikbaar. Ek het dit opgespoor, waar dit oorspronklik publiseer is, in Die Burger, 8 Mei 2000.

Dit bly die moeite werd om te lees. Ek hoop nie dis ʼn eerste keer nie.







1.7.14

Wat 'n voorreg

Patroon en Patat het sommer gou-gou Boeta en Sussa geword.

Boeta het met verloop van tyd ook Boets geword. Maar met ʼn lang en liefdevolle –oe, soos in die Engelse “boots”.

En Pa-se-seun, of Pa-se-groot-seun. (En dan het ek my stem so diep, bas en laag as moontlik gemaak – dié liefdesnaampie is immers net in oomblikke van onbevange male bonding gebruik.)

Ook Ouman, Ou-man en Ou man.

Nie dat hy ooit soos ʼn ou man begin lyk het nie. Sussa het vroeg tekens van ouderdom begin toon – fyn grys strepies al om die bek. En op die voete om die tone langs.

Tog was Boeta al Ouman, lank voor ek Sussa smiddae met ʼn hoezit Ou Girl begin groet het. Want sien,  hy het hom op relatiewe jong leeftyd al soos ʼn befoeterde ou man begin gedra – een wat altyd van beter geweet het, sy eie kop gevolg het, sy eie rigting ingeslaan het. Obsternaat. Dik, dom en difficult.

Vir lank het hy soggens voor ons uitgehardloop motorhuis toe. En dan het hy daar gaan sit. Tussen die twee karre. Vasgeslaan soos ʼn vasgesteekte donkie. Dat ons oor hom klim om verby te kom. Hy weet ons kan mos nie ry met hom in die motorhuis nie – hulle bly agter in die agterste deel van die erf, ons ry voor uit.

Boeta het sulke oggende sommer vinnig-vinnig net HÓNT geword. O, en dan het hy probeer om jou met sulke puppy eyes te laat swymel.  Verbeel jou – ʼn groot volgroeide brak wat jou met die hemelwaarts slaan van sy oë wil vermurwe.

Én dit reg sou kon gekry het, ás dit nie was dat ʼn skoolklok nie op hom laat wag het nie.

Toe ek en Annieka destyds uitgery het om na die patryshondbabas waarvan iemand ons vertel het, te gaan kyk, het ons op ʼn spesiale bendetaal besluit. Praat ek voor die verkopers met haar en ek spreek haar aan as “Ankie”, is ek positief oor die honde; noem ek haar “Annieka”, moet sy weet dis ʼn nee-nee. Dieselfde van haar kant af met die gebruik van onderskeidelik “Hans” of “Hansie”.

En daar neem die ganse werpsel en hul ouers die wind so uit ons seile, dat ons skoon van allerhande bende- en kodenaampies vergeet. Ons sou met vier honde daar uitgestap het, sou ons net kon.

Ek het daardie middag huis toe bestuur soos ʼn pa wat sy eersgeborene van die kraaminrigting huis toe neem.

Presies soos ek minder as ʼn jaar later bestuur het, toe ons met Klaradyn uit die Moedersbond of Mary Font (of wat ook al dit was) se parkade wegry.

Ek is vroeër die oggend eers huis toe met ʼn poefdoek, ʼn baby-grow, babapoeier en nog wat – vir Boeta en Sussa om aan te ruik, en gewoond te raak, vóór die nuwe baba huis toe kom. Baba-Klaradyn het dan ook ʼn deegliker bekendstelling aan die honde by die huis gehad, as aan enige van die vriende en familie wat ons in die hospitaal kom besoek het.

O, en die honde het op die pienkvoet ingekoop. Boeta meer as Sussa. Miskien was dit omdat Annieka en Boeta voor Klaradyn se geboorte so lekker op Steve Hoffmeyer se “Papmpoen”-liedjie gedans het. Ek sien Annieka weer voor my – hoogswanger en met ʼn lieflike boepie , aan die dans met Boeta.

Boeta en Annieka was saam op kraamverlof. Waar Mamma en baba gaan, daar was Boeta saam.

Later, met Annieka terug in die tuig, ook. Dis waar Boeta maar altyd was – by Klaradyn. Swaai Klaradyn, dan gaan lê hy onder die swaai. Slaap sy, dan gaan lê hy by haar. Kom eet sy, dan is hy by haar voete.

In ons kamer is, lewensgroot opgeblaas op doek, ʼn foto van Klaradyn en Boeta saam op die bed toe Klaradyn ʼn kleuter was. Annieka het dit die een jaar vir my gemaak vir Vadersdag. En die volgende jaar, toe vergroot ons die ander foto, die een wat enkele sekondes ná die ander een geneem is, óók. En ons hang die twee langs mekaar. Nie agter ons, waar ons hulle nie kan sien nie, ons hang dit waar ons dit, die laaste ding in die aand, die eerste ding in die oggend, kan sien.

Annieka weet ook, gaan ons twee die dag ouetehuis toe, kan die Dykmans en Claerhouts en Buchells en ander skilderye en dinge maar bly – ék trek met Klaradyn en Boeta se twee Vadersdag-fotovergrotings. Die res kan maar gaan.

Ek en Boeta het ʼn onsigbare Eybersiaanse naelstring wat nooit breek nie, gekry, dié oujaarsnag toe ek enkele minute voor twaalf met hom deurgejaag het noodveearts toe. Hy was sterwend, bulkend soos ʼn bees. Maar die mediese wetenskap ʼn bedrewe noodveearts en meer as ʼn maand se salaris het sy lewe gered. 

Danksy ʼn slim chirurgiese prosedure is hy toe ook ʼn lang en gelukkige lewe gewaarborg.

Hy was natuurlik aanvanklik  ʼn bang hond. Dis hý wat ágteruit in die gang kon afhardloop, tot in die hoofslaapkamer. Dan spring hy (dit sal my nie verbaas hy dít óók in reverse gear gedoen het nie) by ons op die bed, en blaf aggressief vir die tuindienstemense wat by die voorhek inkom.

En omdat hy bangerig was, was hy ook gouer op die aanval en verdedig. Maar onder “aanval en verdedig” bedoel ek bloot net “grommend” – niks meer nie.

Met die jare het hy dit egter ontgroei. Grotendeels.

Behalwe sy vrees vir die vrou wat hulle kom was en dip het.

Ek het kleintyd al gedink hy kan gedagtes lees. Ek sou opstaan om koffie te gaan maak, dan sal Boeta op die bank bly lê. Ek sal opstaan om badkamer toe te gaan, dan sal Boeta op die bank bly lê. Maar laat ek nou net opstaan om die honde-haarborsel te gaan haal, om hom uit te borsel, dan is hy ʼn breukdeel van ʼn sekonde vóór my al op en onder die bank in, of weg. Ek het nog nie eers die borsel in my hand nie, ek dínk nog net aan uitborsel, dan weet Boeta dit al!

As daardie bakkie en sleepwa van die hondewas-vrou stop, dan is Boeta weg en iewers in die tuin in. Ek jok- as die vrou se SMS deurkom om te laat weet sy kom die volgende dag, dan is Boeta op en uit en weg – nog vóór ek die boodskap gelees het. Ek het later trouens al geweet – kom daar ʼn SMS deur en Boeta maak hom uit die voete, dan is dit Michelle wat wil weet of sy kan kom was-en-dip.

Kruis jy jou bene op ʼn bank of ʼn stoel, dan kom skuif Boeta voor jou in, plaas hy sy kop op jou voet en moet jy die onderkant van sy gevreet met die bokant van jou voet streel en speel. Stop jy, dan laat rus hy bloot sy kop op jou voet, en sou hy net kon, dan sal hy so aan die slaap geraak het ook.

Boeta en Sussa het twee uiteenlopende geaardhede. In al hierdie jare had ons nog nooit nodig om Boeta kaal te skeer nie. Met Sussa is dit anders, sy moet liefs drie keer ʼn jaar gestroop word. Van in die modder en reën speel. Nie Boeta nie. Hy is die stil, besadigde een wat nooit sy hare koek nie – die ore uitgesluit natuurlik. Maar dis ook bykans ál wat ons skeer, die ore en hier en daar ʼn koek, onder die maag of om die bene.

Ons is babatyd met hulle "hondeskool" toe. Nie hondeskool-hondeskool nie, maar oom-veearts se puppy school. Sussa was die modelleerling. En Boeta. Hy is nie oor 'n enkele hindernis nie, maar onder de leste een deur, reguit na die "doekesak" met treats, om daar te gaan sit en slaap.

Boeta is ook die een vir roetine. As hy soggens mooi stil gesit het om sy beskuitjie te kry, dan gaan maak hy homself lê voor sy kosbak, en dan eet hy ontbyt. En jy moet hom nie pla nie – hy éét. vanaand is dit weer so.

Ons honde kon van die tafel af, en met oorskiet, met niks anders nie as vleis bederf word nie. Boeta se maag het aanvanklik keer op keer opgeblaas as hy stysel en ander koolhidrate inkry. En as die maag opblaas, dan druk dit teen die ingewande. Die ander ingewande draai dan die maag, en met verloop van tyd knoop die dermkanaal waar die by die maag in en uit beweeg. Dan blaas hy op soos ʼn bees wat te veel lusern gevreet het.

Die veearts moes twee keer deur die buikwand ʼn snit in die maag maak, dat die gasse kan ontsnap en die stomme dier afblaas. Doen jy dit nie, sterf hulle.

Die derde keer, die Oujaarsnag, die aand toe ek Boeta die eerste keer Pa-se-seun genoem het, het die dokter bloot sy maag aan sy buikwand vasgewerk. Boeta het nog opgeblaas, maar soos hy opgeblaas het, het hy dan dadelik weer afgeblaas, sy ingewande kon nie meer knoop of soos ʼn ballon opgerol word om te keer dat die lug en gasse ontsnap nie.

Gevolglik was Boeta ʼn vreeslike poeper, ʼn onbeheersde poeper. En elke keer as hy so wind afblaas, dan is ons heimlik bly, want dan weet ons hy sou nou opgeblaas het, en ons sou met hom veearts toe moes jaag, ás dit nie vir Doktor Peck se slim operasie was nie.

Dis wat ons gister aanvanklik gedink het toe hy nie sy goeie selwers was nie – hy moes iewers iets verkeerds geëet het.

Maar na ons ʼn uur of wat terug was van die veaarts, en die fout eerder by water om die hart of op die longe gevind het, was dit duidelik, Boeta is sommer goed siek. En die gewone opblaasmaag is dit beslis nie. Allermins.

Ek kon sy roggelende asemhaling, gisteraand, met net een uur in my lewe verbind – die uur waarin my ma, in my arms, in haar eie liggaamsvog en -water verdrink het.

Ek en Annieka, en Klaradyn het geweet ons neem van Boeta afskeid. Daar in die kombuis waar ons ʼn spul van ons die lekkerste tye saam gehad het.

Ek het hom in ʼn stadium ingedra van buite. Ons het saam met hom op die vloer gesit waar ons saam op die vloer gesit het toe Klaradyn nog nie eers kon loop nie.

Ek het gewag vir die laaste roggel. Soos met Judy. Maar dit het nie gekom nie. Wou nie kom nie, kón nie kom nie. Nié met ons teenwoordig nie. Boeta is te veel van ʼn gentleman gewees om ʼn spektakel van sy heengaan te maak.

Ons al drie het ons uitgehuil, saam met hom in die kombuis. Of altans, só het ek gedink.

Na ek hom vanoggend op die plekkie wat hy vir homself gaan uitsoek het, gekry het, het ek Annieka egter beide besef dat ons in 11 jaar baie meer kosbare oomblikke en herinneringe opgebou het om oor te huil, as wat ons gisteraand ooit kon vermoed het.

Dit was ʼn voorreg om vir 11 jaar ʼn huis met Boeta te kon deel.

ʼn Huis, ʼn erf, ʼn lapa, ʼn stoep. Én ʼn swembad.

Ja, dis inderdaad wanneer ek hom seker die meeste sal mis. Boeta, my swem-en speelmaat wanneer ek en Klaradyn en Sussa en Snuffels Oktober gaan begin swem.

ʼn Voorreg, ja. ʼn Voorreg.



Ai, die honde darem

Ek het die volgende ʼn rapsie meer as ʼn maand gelede geskryf:

En dan is daar nou Jasper ook.

Die naam, Jasper, is gekies uit ʼn kortlys van seker sowat 30 seunsname wat Klaradyn maande gelede in een van haar notaboekies neergepen het.

Ook nie seunsname nie, eerder reunsname. Sy het gedink aan name vir mannetjieshonde.

Maar ek sit my voet neer. Elke keer. Lag-lag vyf jaar lank nou al.

“Ons het klaar drie honde op die erf!”

“Die jongste een gaan jaloers raak as Klaradyn ʼn skoothond in die kamer by haar het, terwyl hulle ander in die kombuis moet slaap.”

“Klaradyn hét haar eie hond.”

Klaradyn het inderdaad haar eie hond. Snuffels. Die jongste, die jaloerse, een. Die een waarmee ek en Annieka sewe jaar gelede die fout mee gemaak het . Om vir ʼn driejarige haar eie hond te koop.

Klaradyn was hopeloos te jonk. 

En die hond het binne die eerste maand uitgedraai om ʼn monster te wees. 

Sewe jaar later is sy niks minder van ʼn monster as destyds nie.

Toe kry ons drie jaar later vir Klaars ʼn kat.

Groter fout as hond.

Klaradyn het ʼn allergiese reaksie op die kat. Ses maande in graad R in, stel die juffrou dit duidelik:  “Klaradyn is nie die helfte van wat sy maand 1 was nie, sy is trouens nie eers ʼn skaduwee van wat sy was toe sy die begin van die jaar haar skoolloopbaan afgeskop het nie.”

Ons was teen daardie tyd elke vier weke by Dr. Smit met die kind. En ons het geweet (maar wou nie weet nie) dis die kat. Die kat moet gaan.

En Sokkies (drie witte pootjies aan ʼn swarte lyfie) was nie drie dae by die nuwe mense nie, toe gaan sy in kraam.

Vandag weet ek dat ek en sy reageer op ʼn ensiem in die kat se speeksel. Die ensiem bly agter as die katte hulself poets. 

Selfs die haarlose katte het daardie ensiem.

Maar die Siberiese kat nie.

Siberiese katte, lieflike goed, het destyds vir R5 000-00 gegaan. En dan moet hulle nog van die Kaap afvlieg Johannesburg toe. Dit was in graad R. Ons is nou in graad 4. 

Ek wil nie weet hoeveel kos hulle nou nie.

Ek het groot geword met Happies, Annieka met Ogies.

Happies was my beste maatjie. Ook gedurende die egskeiding. Hy het saam met my en Ma uit die huis getrek woonstel toe.

Annieka kry nog trane in haar oë as sy net aan Ogies dink.

Moet my kind dan nou sonder ʼn kleintjie van haar eie van haar kinderdae afskeid neem.

Sonder dat sy ooit die tere gevoel van ʼn hond se hartjie leer ken het, verdrink het in  ʼn welpie se asempie?

Ek het nie ʼn hond gesoek nie. Ek het nie.

Ek is weer daaraan herinner dat ʼn kat ongelukkig buite die kwessie is.

Toe gaan koop ek voëlsaad. In die uur wat Klaradyn dramaklas het.

En toe stap ek uit met voëlsaad en ʼn hond.

Ek het nie die hond gekies nie. Die hond het my gekies.

En hy het lank gewag voor hy sy keuse gemaak het.

Die laaste van sy drie sussies is al vier weke gelede verkoop.

Hy het agtergebly. Alleen.

Die odd one out. Ek verbeel die Engelse praat van ʼn runt.

Die uitskot-welpie. Die afvlerkspreeu. Die swakkeling. Loser!

En toe kom ek verby met R90-00 se voëlsaad.

Ek stel my voor dat hy geweet het, nog voor ek geweet het – daardie man gaan my koop. Daardie man en sy gesin gaan ʼn groot verskil in my lewe maak.
Hy het op sy agterpote teen die tralies gaan staan en bewe van opwinding.

Ek het in sy jakkalsgesiggie vasgekyk en met eerste oogopslag verlief geraak.

Toe breek my hart:  hy is afgemerk! Hulle het die hond op ʼn uitverkoping gesit. Sale Price.

Hoe min moet jy ʼn hond wil hê, hoe graag moet jy van ʼn hond ontslae wil raak as jy hom afmerk!

Dit kan nie! Dit mag nie!

Ek het Annieka gebel. Sy was te oorbluf om weerstand te bied. Terwyl ek met die een hand aflui, het ek die debietkaart met die ander hand in gereedheid gebring.

Klaradyn is soos haar ma en pa, lief vir honde. Dis ʼn week en haar oorgawe het nog geensins begin taan nie. Dit sal ook nie.

Sit jy die hond langs ʼn groot vet rietrot, dink ek die rietrot staan hoër en groter. Maar die dingetjie is destyds juis geteel om rotte te vang.

Die hondmalles praat van Min Pin, of “The king of the toys” (dalk is dit “prince” ek kan nie onthou nie.)

Leke praat sommer van Miniatuur Doberman Pinchers. Maar dis totaal verkeerd. Doberman Pinchers (Magnum PI se honde) is eers in 1880 geteel. Teen daardie tyd was die Miniatuur Pinchers al ʼn lank gevestigde ras in Europa wat gedoen het wat die rottevanger van Hamelyn hulle nie kon nadoen nie.

Gewone outjies soos ek praat, miskien verkeerdelik, sommer van tant Mien se hondjie, die swart keffertjie wat tant Mien van Ben, Babsie en familie hier in die vyftigerjare so onder die arm vasgeklem het.

Tot hier het ek ʼn maand gelede gekom, maar dit nie gepos nie. Ek het skuldig gevoel oor vier honde op die werf, die onverantwoordelikheid, die impulsiwiteit.

Miskien was dit nie onverantwoordelikheid of impulsiwiteit nie, eerder ʼn onbewuste gereedmaak vir wat in die nabye toekoms voorlê. Want ons is vanoggend, bietjie meer as ʼn maand later,  weer net drie hondeasems op die werf. Boeta, gebore en gedoop as Patat, is gisternag na 11 mooi jare en ʼn baie kort siekbed van minder as 24 uur oorlede.

18.5.14

Moedersdag 2014

Ek hang onlangs my frustrasie rondom Klaradyn wat nie noodwendig altyd die toebroodjies wat ek vir haar vir skool maak, eet nie, aan die groot klok. 

Die reaksie was heelwat, en uiteenlopend.

ʼn Pa van vier oudleerlinge vertel dat die oplossing meer kinders is:  "Ons  4, het altyd mekaar s'n vasgelê en - oud of vars - verorber, soos ‘n honger kat ‘ n vars muis - want ons het altyd NET 3 pakkies gemaak... "

ʼn Ander mamma vertel dat die manne in haar huis (en ek vermoed amper sy bedoel nie net die twee seuns nie, maar Pappa ook)  weet as hulle nie hul brood by die skool eet of weggee nie, hulle dit na skool by die huis sal moet eet. ʼn Sessie waartydens sy hulle met kwaai oog sal dophou want mors sal hulle nie en die honde-uitweg is daar nie.

Ek dink onwillekeurig aan ʼn oudmatrikulant, jare gelede toe ek nog ʼn beginneronderwyser was, wat elke dag die broodjies wat haar ma vir haar gemaak het, by die skool weggegee het. Nie onder haar maats nie, maar vir haar meneer. Dit was later nie eers meer ʼn geheim nie, selfs die ma (ʼn kollega van my by ʼn buurskool) het geweet ek kry elke dag haar stukkie liefdesdiens van elke oggend. En tog het sy aangehou. Ek vermoed as jy oor soveel jare heen (sy het meer as een kind groot gemaak, en die eerste was al klaar met skool) soggens broodjies maak, dit iets is wat jy sommer maklik afsterf nie. Straks het haar moedersinstink (nie om mý te mother nie, maar die hoop en wete dat sóú haar dogter wel die dag honger  hê, sy as ma darem vir haar kind gesorg het) haar gedryf.

Van oorkant die water vertel ʼn ander vriendin iets wat perfekte sin maak. Sy het nooit vir enige van haar drie kinders kospakkies gemaak nie. Nes jy oud genoeg is om ʼn mes en vurk vas te kan hou, is jy oud genoeg om brood te kan smeer. Sy noem dat seker wreed is, maar getuig dat hulle elkeen se oorlewingsvaardighede merkwaardig ontwikkel is.

Ek is dit onmiddellik met haar eens, en weet sommer dadelik dat haar drie maters soggens voor skool hul eie beddens ook opgemaak het.

Maar al is ek dit ook hóé met haar eens, kán ek my dit nie self sien doen nie. Nie oor my dooie liggaam nie. Selfs al weet ek dis uit en uit in die kind se belang.

En toe, ʼn uur of wat later, kom ‘n opmerking van ʼn skoolvriendin, en sy sluit aan by ek wat genoem het dat ek kinders wat op skool by my om ʼn broodjie geskimp het, afgeskrik het met die woorde dat hulle nie van my broodjie sal hou nie – dit het kwansuis knoffelvis op. Sy noem:  “Ek vermoed ek weet wie dit was wat jou broodjies ge-aas het... Ek onthou spesifiek die maaskaas en pynappel wonders! dit was die hoogtepunt van haute cuisine...”

En toe onthou ek, vir die eerste keer in meer as 30 jaar, weer my ma se “maaskaas en pynappel wonders” en sommer baie van haar ander daaglikse haute cuisine wonders.

Toe wéét ek, en verstáán ek ook, eensklaps, waarom ek nie sommer nié vir Klaradyn sal broodjies maak vir skool nie.

Toe weet ook presies wat ek bedoel het, destyds met Judy se afsterwe, toe ek genoem het dat ons ma nie dood is nie, sy leef voort in haar kinders, én in haar kleinkinders, in elkeen wat die voorreg had om van naby deur haar aangeraak te wees.

Dis nie ek wat toebroodjies vir skool maak nie, dis Judy wat in my ʼn verlengstuk gekry en soggens met soveel liefde Klaradyn se broodjies maak.

Ek is so gemaak en gelaat staan.

Maar ook in haar kleinkinders dat sy voortleef.

Verlede Sondag toe ek en Klaradyn Mamma se skinkbord in gereedheid bring, kruip my kind op haar knieë deur die honde se deurtjie in die kombuisdeur na buite. 

Ek weet dadelik waarom.

Sy kom minder as ʼn minuut later terug met blomme uit die tuin vir Mamma se skinkbord.

Dis die tweede jaar dat sy dit self doen, en ek weet klaar ek sal dit nooit weer vir Klaradyn voor hoef te doen nie – Judy se reikwydte strek nou, deur my, tot by Klaradyn.

Ja, ek weet, duisende kinders het verlede Sondag vir hul ma’s blomme in die tuin gepluk en op die Moedersdagskinkbord staan gemaak.

Maar Klaradyn sou dit nie so verbete gedoen het as ek dit nie haar eerste sewe lewensjare so getrou gedoen het nie, en ék sou dit nie gedoen het, as dit nie was hoe Judy ons geleer het nie.

Ander kere weer sal Klaradyn skielik tafel dek, sommer net vir ons drie, met kerslig.

Ek het as laerskoolkind, en Judy het my daaroor gespot, gesê ons moet “romanties” eet. Een keer, baie klein nog, het ek dit glo ge-moranties, en dit het sy my, glimlaggend, nooit laat vergeet nie.

Judy, op haar beurt weer, het nooit gaste saans om die tafel gehad, sonder die atmosfeer van kerslig nie.

En so is dit nie net die sondes van die vaders en die moeders wat die kinders besoek tot in die hoeveelste en soveelste geslag nie, maar ook die deugde en liefde en navolgenswaardige.

Gelukkige Moedersdag, Ma.

En nee, ek is nie laat nie. Ek het ook nie vergeet nie.

Ek weet jy sou wou terugstaan, verlede Sondag, dat Klaradyn en Annieka, die kalklig van die dag kan geniet. En hulle het.

Seker in elk geval ook nie “Gelukkige Moedersdag nie, Ma” maar “Dankie, Ma.”

Dankie, Ma. Dankie dat jy daar wás om vandag steeds hier te kan wéés.

Naskrif/Aanhangsel

Hierdie gedagtes het eers ʼn ander pad, ʼn ompad, ingeslaan. Maar die ompad het doodgeloop. Ek las dit hier aan, ter wille van die foto’s waarby ek ter verduideliking en bewys wil uitkom. Én ter wille van die skakel na dit wat ek 2008 kwytgeraak het toe ons begin het om vir Klaradyn broodjies vir skool, toe nog kleuterskool, te maak.

Die knapie in die rooi moes tot Standerd 8 wag voor hy ‘n boetie, ekke, gekry het.

Die rooi blik met wit strepe
se maatjie is steeds in ons
huis.

Dit lyk dalk nie soos stop vir padkos nie, maar dit is.

Waar is die dae! Beslis nie 'n middagete-stop, 10:00 of
agtermiddag straks

Die eerste poging, dan:

Ek is ‘n skoolbroodjie-mens. En ek het al daarby uitgekom. Hier. Maar vandag wil ek ‘n ander invalshoek, met ‘n ander doel voor oë, met ‘n ompad daarby uitkom.

Miskien oor dit Moedersdag was en ons Moedersdag rondom Klaradyn en Annieka gevier het en die dooies met rus gelaat het.

Miskien omdat Klaradyn nie haar broodjie vir skool geëet het nie. (Die vissmeer wat sý wou gehad het.) En toe die volgende dag weer eerste ding, dadelik, toe ek haar optel, opgemerk het hoe heerlik haar broodjie was. (Baie bros gebraaide – nie so baie  nie, maar so bros – spekvleissnippers met kaas.)

Miskien omdat Sondagoggend, die tweede een in Mei, vroeg iewers weer Judy se begrafnisbrief gelees het.

Sien ek is nie net ʼn skoolbroodjiemens nie, ek is eerder ʼn padkosmens – en wat is skoolbroodjie nou anders as kos vir die lang pad skool toe en terug.

Hoekom ʼn padkosmens? Dis eenvoudig – die antwoord lê opgesluit in die foto’s wat elk voor my geboorte geneem is.

Dis hoe ek groot geword het, ek is opgevoed, letterlik – soos Klaradyn sal sê,  op-ge-vóéd – om van padkos te hou. Dis wat ek ken, Dis hoe ek gevorm is.

Ek het nie een enkele herinnering aan ʼn gekookte eier of koue wors langs die pad nie – nie uit Judy se hand nie. Maar toebroodjies, heerlike toebroodjies – daarvan onthou ek baie.

Ek was al groot, het al skoolgehou, dan sit ons af Kaap toe – twee motors – dan ry ons ʼn draai Alberton toe. Om by Ma te stop vir padkos – ʼn keurige padpiekniekpakkie vir elkeen wat afskiet Kaap toe.

En volgende jaar maak ons weer so.

Ons gaan Bloemfontein toe, vyf ure, dan maak ek padkos.

Net die gedagte aan Kaap toe, maak my deliries – drie vleise, minstens. Peperwortelsous by die een bief, soet Duitse mosterd by die ham, blatjang, uie, blaarslaai, twee kase, tamatie, dun skyfies agurkie, blaarslaai, noem maar op.

Warm flesse koffie. Genoeg warm flesse met koffie.

En as ons die eerste tolhek deur is, dis nog na en lank na sonop toe, dan kan jy maar my eerste broodjie aangee. Nie omdat ek honger is nie, omdat ons op die langpad is, Kaap toe en deel van die lekker padkos is.

Het ek nagelaat om te noem dat die eerste tolhek, soos die kraai vlieg, nie ʼn kilometer van die huis is nie?

En dan is ons nog nie eens oor die Jukskeirivier tussen Pretoria en Johannesburg nie, dan vra ek ʼn volgende broodjie.

Om van padkos, by skoolpadkos uit te kom, om uiteindelik by Judy wat nie dood is nie maar elke dag voortleef, uit te kom, was net te lank.

Dankie ook aan Pa, wat my soveel Moedersdae Springbok-apteek toe geneem het dat ek vir Ma 'n ietsie kon uitsoek vir Moedersdag. Ek doen dieselfde met Klaradyn. Soos jy my geleer het.