Pages

2.3.14

Die huis wat my pa gebou het




a.       Sitkamer

Voor die aanbouings was hierdie twee vertrekke. Teen die muur aangrensend aan my ouers se slaapkamer was ʼn kaggel waar winteraande vuur gemaak is.

Sitkamer

My lekkerste herinnering aan hierdie vertrek is Jac se 21ste verjaarsdagpartytjie. Dit was die laat sestigs. Musiek is gemaak op die ou platespelers waar die hele ding soos ʼn tas gelyk het. Die onderste deel was die draaitafel, maar die boonste deel het losgekom en verdeel in die twee luidsprekers.

Sondaeaande met biltong voor die kaggel was die heerlikste.

Baie pa-en-seun-tyd is hier deurgebring; ons het oor naweke hier musiek geluister.

Die tannies van die Vroue Landbou-unie, die Verjaarsdagklub en die Betsie Verwoerd-damesklub het ook hier vergader.

b.      Eetkamer

ʼn Groot tafel wat met verdrag groter kon word. ʼn Moewiese buffet.

As daar drie groentes was, moes ek twee eet. Was daar vier; dan drie. Ek was gelukkig as daar net twee groentes was, want dan hoef ek net een ingewurg het.

Eetkamer

Rooihoender, gemaak van destyds se blikkies rooi tamatiesop was my gunstelingdis. Ons almal se gunstelingdis. En toe hou Oxo op om daardie dik rooi blikkies tamatiesop te maak. En tamatiesop vir die rooihoender se sous was net nog nooit weer dieselfde nie.

c.       Studeerkamer

Hier het dit gegoël. Mense wat met die helm gebore was, het onafhanklik van mekaar en sonder enige voorkennis geweier om by hierdie vertrek in te gaan.

Hier was ook ʼn kaggel.

My lekkerste herinnering aan hierdie vertrek is die ses tot agt blikke koekies jaar na jaar wat met die oog op die Kersvakansie hier gestaan en wag het om karavaan toe te gaan:  speserykoekies, grondboontjiebotterkoekies, vlakoekies en hawermout-crunchies. Ek moes groot word voor ek die eerste keer met outydse soetkoekies kennis gemaak het – straks was dit té outyds, té soet na my ouers se sin.

Studeerkamer, voor my geboorte

Meer as 40 jaar later word mense nie meer met die helm gebore nie, is spoke iets van die verlede nie. Miskien was alles versinsel om kleintjies uit die koekies te hou. Ek weet nie. My het dit nie gekeer nie. Ook nie my broer nie – by hierdie vertrek se houtraamvensters dat hy snags vanuit sy buitekamer ingeklim het om in die huis te kom kry, wat dit ook al was wat hy binne kom soek het.

d.      Kombuis

In ons kombuis is nie tee gedrink, of sover ek onthou, vreeslik om ʼn tafel gekuier nie, selfs al was daar ʼn kombuistafel met ʼn geel blad en blinkerige staalpote. Hier is kos gemaak. En elke Vrydag koek gebak. Ek is toegelaat om pens en pootjies op die werksoppervlak, langs die mengbak te sit. “Jy gaan siek word, moenie so groot lek nie, proe net.”

Om die geel kombuistafel met die masonite blad is verjaarsdagkoeke versier, kolwyntjies omgetoor soos geen eietydse bakker, noudat kolwyntjies weer ʼn modegier geword het, my ma dit vandag kan nadoen nie.


Van hier het ek saans vir Pa gewag om van die werk terug te kom huis toe. Eers het hy elke aand vir my iets in sy boonste sak gehad – maar later het dit iets geword wat net tot Woensdagaande beperk is. O, maar dit was spesiaal. Die kere wat dit ʼn blikkie Groovy was, was die este leste beste.

My broer sou donkiesjare later met wrewel in sy stem (en dan is wrewel ʼn sinoniem, beter woord en eufemisme vir baie ander) vertel hoe goed hy my wag onthou, die aande dat Pa nié gekom het nie, nie betyds gekom het nie, glad nie gekom het nie. Ek het tussen die sitkamer en die kombuis gependel. Sitkamer toe om deur die venster in die donker en die straat af te kyk wanneer kom pa se kar dan; kombuis toe om te hoor of die kar wat ek gedink het syne is, wel syne was. Sitkamer toe... kombuis toe... Uiteindelik, klaar gehuil, slaapkamer toe.

Ek het ʼn lang en lomp vergelyking wat ek iewers aan die begin of die einde sou inwerk, maar laat ek dit nóú doen, noudat die geleentheid hom voordoen.

Vir jare, jare na die egskeiding (trouens tot gister, eergister toe nie nuus kom dat die huis gesloop word) sou ek, hoor ek hoe my ma, of enige geskeie mens, vertel van hoe sleg hul huwelik was, kom met ʼn teenvraag, sommer ʼn hele stel teenvrae:

Julle kon tog nie só ongelukkig gewees het nie? Daar móés goeie tye ook gewees het! Dit hét immers op ʼn kol so goed gegaan dat julle in die huwelik getree het. Ek sien vakansiefoto’s, sorgelose, gelukkige tye. Julle hét iewers langs die pad kinders verwek. Moenie nóú kom staan en vertel dit was alles net sleg nie.

Ek kón dit nooit verstaan nie, tot Vrydag toe. Maar nou verbeel ek my dat ek iets daarvan begin verstaan.

Met my en 27 Telawarren straat is dit soos met die egskeidings waar daar van voormalige eggenote en eggenotes gepraat word soos hier bo impliseer word.

Ek besef dat daar inderdaad wel goeie tye saam was, dat goeie lieflike herinneringe opgebou is, dat daar selfs meer positiewe stukke onthou as slegtes kan wees.

Die geneuk is net – al is die mooi so baie en miskien selfs  soveel veer, is dit nie so sterk, so intens, soos die negatiewe nie.

Ek het wonderlike herinneringe aan die huis, baie, maar dit is nie een naastenby so intens, so groot en voorop in die geheue soos die negatiewe, slegte, grepe onthou nie.

Ek was destyds geraak toe ek hoor hierdie baken op die dorp gaan te wyte aan gierigheid en onbevoegde, onbeholpe, inkompetente munisipale bestuur gesloop word.

Ek was ontroer en is tot trane beweeg toe ek besoek aan die bouvallige dop gebring het – tot bouval gebring deur gierigheid, nie deur tyd nie.

Maar ontstel toe die nuus Donderdag of Vrydag kom dat die dorp se erfenisvereniging nié opgewasse genoeg teen die korrupsie en stiksienige kortsigtigheid van die wanbestuur aan stuur van sake was nie, was ek nie.

Niks kan of kon my aanspoor of beweeg om vir die plek in die bresse te wil tree nie.

Saam met die hartseer is ek heimlik bly en verlig.

Die letsels wat die huis gelaat het, sal lewenslank bly.

Vir my ma is lewenslank gelukkig reeds verby.

My eie pad vorentoe is ook baie korter as die een veertig jaar terug, 1974 toe, toe ek en my ma daar uit is.

Tog is dit of die finale afbreek van die huis ʼn mens, al is dit net simbolies, ʼn stap verder aan die finale afsluit van onaangename hoofstuk het.

Die Engelse praat van closure kry.

So dáárom teken ek nie protes aan nie.

Dit sou goed wees as ek, en miskien my broer ook, eerder kaalvuis gewapen met enige iets wat ʼn baksteenmuur moer toe kan slaan, kon afsit New Redruth toe om elkeen sy eie beskeie bydrae tot die afbreek van soveel meer as net ʼn baksteenmuur te lewer.

e.      Donkerkamer

Reg voor die donkerkamerdeur was ʼn baie groot luik in die dak deur na die solder toe. Die deel van die huis met die meeste en grootste bekoring. Ek is nóóit daar toegelaat nie. Ek kon hoogstens een of twee keer met leer opklim en in die geheimenis inloer.

Die mense wat die huis in 1978 vir R23 000 op die veiling gekoop het, het nooit die Moolman-goed op die solder verwyder nie. Ek het hulle twee keer besoek, iewers in die 80’s en een keer in die 90’s en hulle het dit op beide geleenthede genoem oor hulle mý die goed wou gee.

Ek het dit elke keer van die hand gewys.

Hoe ek die verkoopprys na al die jare so goed onthou? Dis eenvoudig. My ma het in 1979 toe die huis opgeveil is nie kans gesien om R23 000 vir die huis te betaal nie. In 1980 het sy toe 'n kleiner plek, 'n meenthuis, vir presies dubbel die prys gekoop. Dis 'n stukkie wiskunde en ironie wat ek nooit sal vergeet nie. Ek het baie kinders al aan die hand hiervan verduidelik wat hulle onder ironie kan verstaan.

Die donkerkamer self is so genoem omdat my pa hier sy foto’s ontwikkel het. Die grootste pakslae wat ek in my lewe gekry het, het ek hier gekry toe ek ʼn bak van sy chemikalieë in die bad wat daar ingebou was, laat uitloop het.


Die boosste van alle bose herinneringe sentreer ook rondom hierdie vertrek. Dis ʼn geluid. Die geluid van my pa se bos sleutels as hy snags uit hulle kamer, verby my kamer, in die donker afvoeter donkerkamer toe, daar gaan stil staan en sukkel om die deur oop te kry.

Dis hier waar hy sy drank opgesluit gehou het.

Erger nog, die geluid van my pa se sleutels, en my pa self, as hy later, probeer toesluit en terugstrompel kamer toe. Verby my kamerdeur regs langs hulle sʼn.

Hy het nooit lank in die donkerkamer gebly nie.

Maar ek sou daardie sleutels tot drie of vier en meer kere ʼn nag hoor.

Ek weet presies waar ek met my hamer sou gaan staan het, as dit nie was dat die bull dozers my voorgespring het nie.

f.        Spens

ʼn Huis met ʼn spens, ʼn volwaardige outydse spens. Dit sal lewenslank my begeerte bly om ʼn huis met ʼn spens soos ons spens van destyds te kan besit. Rakke van onder tot bo.

Al is dit reg langs die hell hole van ʼn donkerkamer, het ek van hierdie deel van die huis net positiewe herinneringe.

As al die vensters toe was, en my broer nie gesorg het dat die studeerkamervenster se knip gelig is nie, was hierdie spens se toiletgrootte venster die enigste een waardeur Klein Hansie ingelaat kon word om die kombuisdeur se jail lock van binne oop te maak.

Die kombuisdeur en regs van hom die spensvenster.
Ek het verlede jaar in die kombuisdeur gestaan, gemik en gedruk


g.       Spaarkamer

My ma het oornag grys geword. Letterlik oornag. En dis nie sommer net ʼn storie soos die spoke in die studeerkamer nie. Sy het hier oornag grys geword die nag nadat my pa sy goeie vriend, Oom Kobus, gekry het om my ma in te lig dat hy haar dagvaar vir ʼn egskeiding.

h.      Badkamer

“Mamma! Kom veeee my aaaaf!”

Ek was ʼn bedorwe klein brokkie. Wat meer kan ek sê.

i.         My slaapkamer

Ek het my imaginary friend se naam vergeet! Ek kan dit glo nie. Ek sien myself op die mat sit en speel. Ek hoor ons speel. Ek hoor hom terug praat. Maar verdomp of ek sy naam onthou.

My slaapkamer

Ek onthou van my nagmerries en my drome, beddegoed en gordyne.

Ek onthou selfs my kindertydse vrae oor goddelike uitverkiesing, predestinasie, en almag, weliswaar nie in daardie groot woorde nie. Ook my wonder oor die lewe en die dood, tyd en ruimte.

j.        Hoofslaapkamer

Hierdie vertrek was selfs groter as wat hy geteken lyk.

Hoofslaapkamer

Winteraande, somtyds, is die tafel wat ver anderkant, oorkant die dubbelbed, en later twee enkelbeddens,  gestaan het, se kantflappe opgeslaan en het ons as gesin hier geëet. Nee, die borde is nie in die kombuis voorberei nie – die opskepborde en –skottels is aangedra. Hier is volwaardig aangesit en geëet.

Daar ander onthou ook, onnodig om oop te krap.

ʼn Lekker onthou is die tradisie om my verjaarsdagpresente op die vloer uit te pak. Ek kan by ma, of ma-hulle toe daar nog ʼn dubbelbed was, inkruip, en word ek die volgende oggend wakker is dit net pakkies en dinge waar jy kyk.

Siembamba, soggens  oor die radio.

Ek onthou ook ʼn skildery, miskien was dit ʼn print, bokant die trousseau kis. Ek het nounet ʼn deeglike Google-soektog na de leste Tretchikoff-afdruk uitgevoer. Nee, is ek bly om te kan sê, dit was nié ʼn Tretchi-print nie. Maar elke keer as ek MM Walters se woorde van “Tretchikoff se blougroen meid uit Java” wat “solitaire, effek berekend” teen die muur hang, dan dink ek aan dié betrokke skildery in die slaapkamer.

k.       Hoofbadkamer

Piepie saam met pappa en wonder wanneer my tollewietsie dan eendag soos syne gaan lyk.

Hoofbadkamer

Hier het ek ook ʼn diamant weggebliksem wat my ma-hulle in ʼn poeierkwas weggesteek het. Dit was die jare van Reeva-cosmetics. En hierdie cosmetic-kwas kon soos ʼn vrou se lipstiffie in en uit draai. Pa het ʼn kwassie gehad waarmee hy sy kameras en lense skoon gekwas het. Ek het gereeld skelm my skylectric-motortjies met Ma se kwas skoongekwas, soos Pa sy kameras se binnekante. En so van die diamant ontslae geraak.

l.         Voorstoep

Hier het die lekkerste swaai, wat Pa self gemaak het, gehang. ʼn Lang ystertafel is hier staan gemaak en daai verjaarsdagpartytjie-koeke waarvoor ek op die kombuis se blad kon sit, is hier, onder die beaugenvilla voorgesit.

Voorstoep

m.    Slaapkamerstoep

Veselperskes had daardie jare nog vesels. Jy kon die pitte uitwas en droog, dan het die goed soos glug-poppies, waarvan die hare so wild gestaan het, gelyk. Hier was lekker son. Hier is veselperskepitte gedroog, modderkoekies en kleiosse.

n.      Buitekamers

Buitegeboue

Jac, my broer, het hier geslaap. Pa se draaibanke en ander houtwerkgereedskap het ook hier gestaan toe Jac eers uit is. Lekker male bonding tye met my pa hier gehad.

o.      Stoorkamer

Hier is 25-kg mieliemeel, suiker en broodmeel in sulke groot blikke met skewe deksels gestoor.

Buitegeboue vanuit kombuis

p.      Bediendekamer

Anna Mofokeng had hier ʼn bed op verfblikke.

q.      Bediendekamer-binnehof

In die binnehof het ek bolletjies pap met my hand kon rol en dit dan eet soos Anna.

r.        Hoenderhok

In my dae was dit in geen jare meer ʼn hoenderhok nie. Grassnyers en goed is daar staan gemaak.

s.       Vrugteboord

Pruime, appelkose, perskes.

t.        Klip

Langs die kraan was ʼn onmenslike groot en swaar klip. Dit is as verhoog gebruik toe Jac en Bev getrou het en twee groot markiestente in die tuin opgeslaan is vir die resepsie. (Resepsie? Het in jare nie die woord gehoor nie. Maar dis beslis die woord wat in 1973 gebruik is om na die onthaal, na afloop van die huweliksbevestiging, te verwys.

u.      Motorhuis

Dit was eintlik ʼn moerse Kaaps-Hollandse gewelhuis-afdak. Hier het die biltong en droë wors elke jaar inlieflike lang rye en reekse gehang. Hier is skaap geslag teen R25-00 ʼn skaap. Hier is hoender en vis oor geurige skaafsels in ʼn stukkende ou yskas gerook.

Hier is ook bier gestook. Ek weet wat dit 40 jaar gelede genoem is. Ek weet nie wat hulle dit vandag noem nie.

Motorhuis en bediendekwartiere

Happies en Boela en Lady, en al die baie ander honde, se hondehokke wat Groot Hans Moolman self aanmekaar geskryn en –timmer het, het ook hier staanplek gehad.

v.       Akkerboom

Onder die akkerboom, by die klip, op die stoep en in die vrugtebome het ek my maats baie gespeel.

Ek wou baie keer nie binne in die huis speel nie, het om die waarheid te sê in vrees geleef dat my maats wil in, kamer toe.

Pa het nooit vir weke aaneen snags met sy sleutels gangaf gestap, voor hy gaan lê het nie, vir lank gaan lê het nie. Dan het Slabberts-bottelstoor se afleweringswa daagliks voor die huis gestop, soos Springbok-apteek se motorfiets by ander mense se huise medisyne aflewer.

Jacques, Riaan, Andre, Marius, Alwyn, Pieter, Casjohan, Sean, dis hoekom ons altyd buite moes speel – my ma-hulle se kamerdeur was reg langs my kamerdeur.

Net ek en my verbeeldingsmaatjie, DIRKIE was sy naam! wat altyd en enige tyd hier kon kom speel.

Sien, dié huis wat vandeesweek platgestoot is, is jare gelde al gelyk met die grond gesloop.



Naskrif:

Ek lees hier hulle noem dat  my pa die huis in die vyftigerjare van die vorige eeu gebou het. Dit is nie die geval nie. Toe hulle in 1955 daar ingetrek het, was dit reeds een van die oudste, indien nie die oudste, huis in New Redruth.

Hier is hoe hy eers daar uitgesien het:




1.3.14

Vreeslik baie twakpraat oor 'n das



Ek dra die laaste ruk so lekker aan my 1982-prefekdas. Vandag weer.


Iemand vra vanoggend of dit ‘n PUK-das is. Ek antwoord:  “Nee, selfs nog ouer – skooldas; Hoërskool Alberton.”



Die das is in my matriekjaar van my afgeneem – amper soos weermagoffisiere wat oneervol ontslaan word. Hulle word glo op die paradegrond staangemaak en dan word hulle ten aanskoue van almal van hul ken- en rangtekens gestroop. Daar is ‘n woord daarvoor, amper soos kastreer. Maar nie kastreer nie.


Miskien is dit ‘n mite. Ek weet nie.


Toe doen ek ʼn internetsoektog na die woorde “oneervolle ontslag weermag” en kom inderdaad dadelik op die woord af – kasseer / kassering.


Dis nog erger as wat ek gedink het. Die koerantberig uit 2007 (dis duidelik nie net iets uit die dae van die Apartheidsregime nie) noem onder andere die volgende:  “Kassering word as die mees vernederende wyse van oneervolle ontslag uit die weermag beskou.” 

ʼn Entjie verder vertel die joernalis ook van ʼn man se range wat met ʼn seremoniële swaard van sy klere afgesny word. Dis nou nadat hy geboei aangejaag is paradegrond toe. Dan word jy uit jou uniform gehelp en tot op die grense van die weermagbasis marsjeer. Van daar moet jy koers kies.


Dink ek aan die swaard en die feit dat jy uit jou klere gehelp word, verstaan ek waarom daar net ʼn –r tussen kasseer en kastreer staan. En ja, dit is inderdaad wat, in afgewaterde formaat, in my matriekjaar met sommige van ons prefekte gebeur het.


Ons had ’82 besoek van ‘n Japannese rugbyspan. Die prefekte moes toe die agtermiddag in die geselskap van die toerspan-rugbyspelers deurbring.


En daar ruil ons toe links en regs skoolwapens en –balkies en dinge uit.


Ek kan nou nie meer onthou of ek my prefekbalkie, gewone balkie of prefekdas geruil het vir ‘n das of ding uit die Verre Ooste nie, maar geruil het ek geruil. Dalk was dit Sjinese, maar ek twyfel – Verwoerd, Vorster en Botha kon tog nie daardie jare sulke wafferse diplomatieke bande met Sjina gehad het nie, nie soos vandag met Mbeki en Zuma se generasie die geval is nie.


Ewenwel, ons ruil te lekker allerhande keep sakes uit. Eet koek en drink koeldrank.


En die volgende dag, toe is die hel los. Meneer en Juffrou Snyman, verbeel ek my was die prefekvoogde. Ons is uitgekryt oor ons dislojaliteit teenoor die skoolwapen en word inderdaad ‘n ruk lank kamma-kamma van ons prefekskap gestroop. Of so gedreig dat ek dit in my brose kindergemoed as volskaalse kassering onthou.


Einste das wat destyds in die gedrang gekom het, strop nou om my nek soos ek hier sit en tik.


Nie hieroor of daaroor nie, maar oordat ek, om tot op hierdie punt te kom, twee verkeerde dinge gedoen het. Eerstens het ek myself in ‘n huwelik in laat bind. En dan het ek, nadat ek die fout gemaak het om te begin rook, die veel groter oortreding begaan om op te hou rook.


Dan is dit nog ʼn kwessie van geloof ook.


Ek het mos my lewe lank geglo ʼn man dra net een van twee hemde werk toe – ʼn witte, saam met blou en swart broeke, of ʼn ligte roomwittes, saam met alle skakerings van bruin broeke.


Hoe jy voel, in welke bui jy is, wat in jou lewe aangaan, waar jy gisteraand was en hoe laat jy by die huis gekom het, ál daardie dinge word deur jou das kommunikeer.


Gevolglik het ek baie dasse, uiteenlopende dasse, uitspattige dasse, gedempte dassie, doodsdasse, los-my-uit-dasse, partytjiedasse, verspotte dasse... Selfs ligloop-dasse en een wat groot en duidelik “HELP ME” uitspel. Noem maar op, ek het hom.


Voor ek in my eerste pos ingestap het, Januarie 1988, sit ons af Burger Broers in Johannesburg toe. Die beginneronderwyser skaf twee ligte somerspakke aan. ʼn Stemmige gryse, en ʼn donkerbloue met ʼn fyn wit penstrepie in. Wit dashemde. En twee paisely dasse.


Die een het ek nou nog steeds. Altyd lekker en met ʼn stewige skeut nostalgie as ek hom die dag om my nek bind.


Genoegsaam om te sê dat die ander een in die wasmasjien beland en onherstelbaar beskadig anderkant uitgekom het.


Lang storie met twee kante – myne en Annieka sʼn. Die een hou verband met klere wat op die grond gegooi word; die ander met mense wat ander mense se goed nie uitlos nie en funksionele hopies klere net so wasgoedbalie toe stuur, sonder om eers te kyk wat dit alles is. En sonder om die sakke deur te gaan (maar dis ʼn ander storie vir anderdag).


Ek het selfs nog my oorlede pappie se troudas. Dit dateer uit die vroeë jare vyftig van die vorige eeu. Die ding val al gate in en dit maak nie saak hóé ek hom knoop nie, die onderste punt kom nooit eers naby my naeltjie uit nie. Maar, o, dis ʼn lekkerte om hom die dag aan te trek skool toe.


Hierdie vintage bykomstigheid uit Hans Moolman senior se klerekas is self verlede jaar deur die was. Hierdie keer ʼn misverstand tussen my en die huisbediende. Maar ek het hom eiehandig herstel en nog blinker gestryk as wat hy reeds geblink het.


Toe kry ek mos in ʼn stadium ʼn vrou in my lewe.


En soos dit mos nou maar een maal met vrouens is, begin sy toe getrou aan hul aard aan my aard totter verander:  “Kyk hierdie mooi vlootblou hemp wat ek vir jou vir skool gekoop het – ek weet nie wát dit met jou en al die wit en beige hemde is nie!”


Haai mense, en daar het nie net die vismotte nie, maar ook ek, donkerbrille nodig as ons voor my klerekas staan. Die vlootblou is spoedig uitgebrei en aangevul met ʼn rype verskeidenheid ander bloue, kanariegeel, borrie, mosterd, donkie, grys, swart, skarlaken, pruim... Daar is  nie ʼn kleur op die kleurwiel nie, of ek het hom.


My dasversameling brei met rasse skrede uit. Dis immers meer as net swart, bruin en blou wat nou my broeke op wit of roomwit aan die hand van my das moet komplementeer.


Party mans raak mos maar moeilik van sekere goed ontslae. Ek is een van hulle. Maar oor die jare heen raak ek, met die uitsondering van die reeds genoemde troudas en so twee of drie ander, van al my pa en Oom Chappie se geërfde dasse ontslae.


Oom Chappie, my oorle’ ma se oorlye suster se oorlede man, én my pa sterf beide in 1978. Van Pa erf ek genadiglik net ʼn paar dasse; Oom Chappie se dasse en, van alle dinge, ʼn sestal nagelate onderbroeke vind inderdaad ook hul weg na my kas toe – sulke dik wollige Elmar-onderbroeke wat aan Skotse tartan herinner! Dit was 1978, kouse is nog in die kringe waarin ek my verstand gekry het, gestop as hulle gate ingekry het, die goed is beslis nie weggegooi nie; nie vir gate nie en allermins ook nie as die eienaar sou besluit om af te sterf nie.


Behalwe dat mense daardie jare nie goed weggegooi het nie, is alles nog gebou en gemaak om te hou – van huwelike tot Toyoya-bakkies. En wollige winterstof Elmar-onderbroeke daarby.


Nodeloos om te sê dat ek vyf, nee, ek lieg, sés, jaar later saam met Uncle Chappie se onderbroeke universiteit toe is.


Daar op universiteit begin ek toe tot my spyt rook. Van 1985 tot so vier of vyf jaar gelede.


En aan ʼn sigaret het ek nog nie weer gevat nie.


Maar ek word ʼn oorryp piesang in ʼn te klein skil wat na drie jaar letterlik uit my nate begin bars – hempsnate, broeknate – selfs my trouring pas nie meer nie.


Twee jaar gelede moet ek vir ses agtereenvolgende dae in ses verskillende provinsies onderwysopleiding aanbied. En my hemde span.


Die middag toe ek moet inpak, sit Annieka haar voet neer – dit immer nie net van my wat die mense gaan sleg dink nie, maar ook van haar, my vrou.


En sy sleep my van die tas waar ek inpak, winkels toe.


Twee of drie ure later pak ek verder – ses piksplinternuwe hemde. Nie ʼn enkele witte of roomwitte nie. Erger nog – nie ʼn enkele effekleurige mosterd of turkoois of burgundy nie, maar ses bontes. Nie uitspattige Hawai-bontes nie, maar strepies en blokkies en allerhande skakerings.


Ek reis te lekker deur die land. Maar terug in Pretoria moet ek skool toe en ek het nie skoolhemde wat pas nie. Ek moet skool toe in my ses jet setting province hopping pikante bont pakkies.


Nou kyk, ek sal nog met wit of rooi kouse skool toe gaan, maar met ʼn bont hemp en ʼn bont das vang jy my net eendag in my kis – as dit iemand van AVBOB, en beslis nie ek nie, is wat my so uitgevat het.


En daar sit ek met 45 dasse waarvan net drie effekleurig is: ʼn bruine (my pa of Oom Chappie), ʼn swarte met ʼn skoolwapen op (Hoërskool Staatspresident C.R. Swart se prefekdas) en ʼn bloue met ʼn skoolwapen op (Die Hoërskool Menlopark se prefekdas).


Intussen is my ses bont hemde einde verlede jaar aangevul met nog vyf lieflike bontes uit Woollies se Wolwaarde-reeks.


Die kinders wonder nie meer watter das Meneer vandag gaan aanhê nie, want dit is deesdae redelik maklik voorspelbaar – óf die swarte, óf die bruine, óf die bloue.


Daar is vierde, ʼn meroen een, ook met ʼn skoolwapen op – my 1982 Hoërskool Alberton prefekdas, maar hy tel nie – daar is niks in die klerekas waarby ek hom kan dra nie.


Dis altans wat gedink het, tot Januarie 2014, want breek Januarie 2014 aan en ek moet skool toe, is Uncle Chappie se bruin das skoonveld weg. En dis al Maart, en hy is steeds weg.


En die naaste wat ek aan bruin kan kry, is meroen; Hoërskool Alberon-prefekdas-meroen.


En dís hoekom ek na al die jare so lekker aan my prefekdas van 1982 dra.


Waarom ek nie bloot uitgaan en nuwe dasse koop nie?


Ek het al drie keer uitgegaan om my dasse aan te vul. En gaan Saterdag weer. Ek het al drie kere onverrigtersake teruggekeer huis toe.


Eerstens weier ek om meer as R100-00 vir ʼn das te betaal – so Markhams en Truworths en daai plekke is uit, ek is beperk tot Woollies en Moolla’s, Pep en Jet, en so een of twee dasse in Edgars. Van hierdie vyf hou net twee dasse aan, Woolllies en Edgars. Maar niks is effekleurig nie, selfs al is dit R120-00 sal ek dan maar settle, maar ook nie eers teen R120-00 nie.


Verder is al die goed wat ek wel kan kry nou se dae van sy, en die egte sy dasse wat ek kan bekostig is almal hierdie blink sy goed – val daar net ʼn broodkrummeltjie op, dan sprei daar ʼn kol olie oor daardie das, dat jy hom nooit weer kan dra nie. Bring jy net botter of margarien, selfs melk of staatsdiens-rooibostee binne ʼn twee meter radius van so ʼn das, slaan die kol al uit.


Dit help nie ek koop so ʼn das nie, ek sal vir hom twee keer dra en dan moet ek hom weggooi.


Ek soek ʼn kommin, goedkoop kwaliteit das, ʼn oude doos das, soos oorlede Pa en Uncle Chappie se dasse. Ek soek ʼn das soos wat Jet en Pep sou verkoop het, ás hulle verdomp net dasse verkoop het.


Ek gaan Saterdag baie ver uitry winkels toe, dis sodat ek, kom ek weereens onverrigtersake terug, op die pad terug by die stad se grootste hospice kan stop. Ek is seker ek sal daar ʼn oorle’ pappie of een of ander chappie se das kan opspoor. Wie weet, miskien is ek gelukkig en is hierdie pappie nog Pappie, die random chappie s’n, niemand anders nie as my eie Uncle Chappie sʼn.


6.2.14

Watter lang en ver paaie loop die gedagtes nie


In die ou dae, voor ʼn rekenaar ʼn kind aan die einde van die jaar geslaag of gedruip het, is die hele skool se promosiepunte op velle papier wat elkeen groter as ʼn oopgevoude Sondagkoerant is, aangeteken. Hierdie promosiestate was ʼn skool se eer en trots – die kinders mog maar soos vlieë pluk, solank daar net nie 'n konfytkolletjie op, of 'n lastige varkoor-voutjie iewers in ʼn hoek sit nie.

Gevolglik het jy versigtigheidshalwe twee-twee gewerk – die een lees; die ander skryf.

Daar was darem al iets soos rekenaars, die vak Rekenaarwetenskap, het trouens pas sy kop uitgesteek gehad. Maar, o, wee, onderwysers in hierdie nuwe vak, was so skaars soos hoendertande. En nes jy een het, dan rokkel die vrye mark hom sommer gou weer af. Dit het destyds immers nie veel gevat om ʼn onderwysersalaris te troef nie en die rekenaarwetenskaplikes was op hul beurt maar al te gretig om groener weivelde op te soek.

So verloor ons diep in die middel van die jaar se tweede helfte ons hoeveelste rekenaarwetenskapmeneer. Die kinders is ʼn maand of wat haweloos, maar toe sluit Meneer van Heerden by ons aan – nie ʼn nat-agter-die-ore bogsnuiter nie, eerder iemand wat, teen die tyd dat rekenaars ʼn algemene ding begin word het, al lank in die arbeidsmark moes gestaan het.

Einde van die jaar lees hy die een klas se ritse en ritse getalletjies vir die prim en proper graadvoog; sy skryf dit baie netjies op die promosiestate neer.

So 16 jaar voor hierdie betrokke jaarafsluiting, was ook mooi die tyd toe Johannah en Johannes, Magdalena en Marthinus, ook Catherina en Karolus in die volksmond se onguns verval het. ʼn Hele geslag dubbeldoor-name het skielik die lig begin sien. Dominees is doopvont toe met ʼn glas drinkwater vir die droë kele: Jeanne-Marié-Louise, Jeanne-Pierre, Pierre-Henri, noem maar op.

Die outjies wat familiename wou behou, maar lank ook nie meer kans gesien het vir het Eeufesia en Stoffelina nie, het op hul beurt weer allerhande nuutskeppings uit die grootouers, grootjies en oorgrootjies se verskillende name saamgeflans. Spore van Suzanna, Amanda, Hendrikus, Markus en ander herken ons vandag nog in name soos Zandi, Karmi, Rikenette, Henko en Amelda.

Na ons rekenaargeletterde nuweling en die graadvoog reeds oor en weer opmerkings oor die kinders se name gemaak het, kom hulle af op ʼn Auret. “Ja, jy het reg gehoor – Auret! Bid jou dit aan. En dan is dit nogal ʼn meisiekind van alle dinge. Wie op aarde noem nou sy kind Auret,” trek die graadvoog los.

Miskien moes sy net na die van gekyk het, Van Heerden, want Roelf, die rekenaarwetenskaponnie oorkant haar, antwoord heel afgehaal: “Ek en my vrou het destyds weer gedink dis ʼn lieflike naam.”

 

So twee jaar voor dit, was ek self beginneronderwyser. Ek het ʼn hoogsindividualistiese dogter in die klas. Party sou sê sy het ʼn klap van die windmeul agter die blad, maar dis geensins die geval nie; sy pas net hoegenaamd nie in die boksie wat die hele Suid-Afrikaanse kultuur en samelewing in die tagtigerjare vir die Afrikaner volksmoeders van die nabye toekoms saamgeslaan het nie.

Ek gaan vis by die kunsonderwyseres (natuurlik had die hoogs kreatiewe dogter kuns as vak). Die juffrou praat vaag en tussen die lyne, maar ek het die oor van ʼn oorywerige beginneronderwyser – ek sit een en een bymekaar... en kry, getrou aan my aard, drie.

 ʼn Aaklige drie waarby allerlei onsmaaklikhede van binne die gesin nie uitgesluit is nie.

Maar toe breek die eerste April-vakansie van my loopbaan as onderwyser aan en ek sit saam met drie kollegas en hul gades met ʼn bus vol kinders af Oos-Transvaal toe vir ʼn eerste van baie staptoere saam met die skool se sterk en uitgebreide Natuur-en-Stapklub.

So maak ek in die bus vriende met mense wat ek eintlik in die baie kort, besige en vinnige eerste kwartaal van my heel eerste skooljaar glad nog nie leer ken het nie.

Aand een om die kampvuur waar die onderwysers kuier, gaan slaan ek en my nuwe pel na ʼn rukkie se kuier water af. En toe ons terugkom is die enigma in my Standerd 9-klas die middelpunt van bespreking. Ek is dadelik die ene ore. En insette. Ingeligte insette want ek het met die kunsjuffrou gesels.

My nuwe pel wil dadelik weer gaan piepie, maar ek het nie nou tyd vir enige verdere male bonding onder ʼn doringboom in die donker nie, hierdie is ernstige sake, ek wil weet van die kind.

Maar vriend Daan, Beesblaas, soos hy almal genoem het, en almal op hul beurt hóm weer genoem het, vat nie nee vir ʼn antwoord nie. Ek kan die dringendheid in die gebare waarmee hy my van agter die geselskap saamwink om te gaan water afslaan, nie ignoreer nie; ek verskoon my maar toe uit die kampvuur se geselskap en is agter ʼn muur in met hom.

Hy wil toe weet of ek weet (en nee ek het nie geweet nie – hoe de donder moet ek weet) dat ek besig is om met die meisiekind se ouers oor haar te gesels.

Genadiglik het hy my uit die lig van die vuur gekry voordat ek oor die slotsom waarby my gesprek met die kunsjuffrou my uitgebring het, kon begin uitbrei.

Hierdie insident uit 1989, en die ander, ʼn jaar of wat later, het hierdie week, 2014 weer voor in my gedagtes kom staan en maal.

Ons kry toe mos verlede jaar, na 29 jaar, ʼn nuwe hoof.

En begin van hierdie jaar, 16 nuwe onderwysers en assistente.

Een van die assistente is die nuwe man aan stuur van sake se dogter.

Maar nie almal weet nie. Trouens, bitter min mense weet dit.

Dis mos nou nie iets wat jy dadelik aan die groot klok gaan hang nie – jy is die nuwe chief cook and bottle washer en hier stel jy bloed van jou bloed aan om vir jou te kom werk – etnou word jy van nepotisme of so iets beskuldig.

Dan weet ons ook hoe dit is – personeel is altyd vreeslik begerig om nuwelinge tuis te laat voel en met die grootste gemoedelikheid in te burger. Ook min dinge wat so gou ʼn gevoel van kameraderie skep as juis ʼn vertroulike stuk geskinder.

Dieselfde gebeur toe met die baas se dogter – daar is talle wat die mensie nooi om pouses by hulle te kom sit, dan gesels hulle sommer lekker dik stukke.

Net jammer party weet nie dis die baas se dogter nie. Veral nie as hulle met kleur en geur van die nuwe hoof wat na 29 jaar by ons aangesluit het, vertel nie. In besonder nie, as die kleure en geure wat jy inspan om die man aan die nuweling voor te hou, nie die gunstigste en rooskleurigste kleure en geure is nie.

Soos twee van my kollegas sou kon getuig, hád hulle net geweet die jong juffroutjie by die tafel daar oorkant, die een met wie hulle so lekker gesels het, is niemand anders nie as die hoof se jongste dogter.