Pages

5.1.14

Ek wil terug gaan na die plek waar ek kind was (II)

Op Alberton kon jy sommer net loop brood koop, of jy kon moeite doen en uitry om ordentlike bróód te koop. 

Koop jy sommer net brood, is dit by die naaste kafee. Vir my was die naaste kafee twee blokke af in Telawarrenstraat tot jy by die laerskool en die melkery kom. Behalwe vir die een of twee keer wat ek saam met die heelwat groter en ouer Eloff-tweeling (die een is nou ook al jare oorlede) sonder enige sukses daar gaan sweets steel het, hou die melkery om die hoek vir my ‘n sterker onthou as die kafee in. En dan gaan dit nie oor die melk en die melkkoepons wat jy hier kon koop nie – was dit ‘n battery-aangedrewe karretjie wat die melk kom aflewer het, of nie – maar oor die tannie agter die toonbank. Sy moes van Europa gewees het, want al sien ek haar glimlag en al hoor ek lag en praat, is dit daardie welige bos onderarmhare wat ek die duidelikste onthou. Elke keer as ek daar ingestap het, het ek gewonder of die ruie bos vandag vir my gaan loer of nie. Jackpot was as sy op die foon was. Ek onthou Jackpot die duidelikste.


Die kafee wat jare nie meer kafee is nie



Die Kafee was op die hoek. Na regs was die elektrisiën. Daardie jare, anders as vandag, het jy nie ‘n nuwe strykyster gekoop as jou strykyster die gees gegee het nie; jy het hom hierheen gebring. Ook ‘n ketel, en die broodrooster. Links agter, om die hoek was die melkery.

Ek het kafee toe gestap, ja, maar lekkerste was om op my blou skopfietsie af te trap kafee toe en terug. ‘n Pakkie Simba-tjips het 5 sent gekos. ‘n Percy-banana ook. En ‘n Caramello-beertjie, toe dit uitgekom het, was 10 sent.

By die melkery kon jy jogurt in glasbotteltjies met blikdekseltjies koop. Sulke klein botteltjies wat my altyd herinner het aan die wit botteltjie-goeters op telefoonpale se dwarsbalke. In Gauteng, nie eers by Woolworths nie, kry jy nie jogurt wat geproe het soos daardie nie. Selfs al sê hulle no preservatives, het die goed wat ons die laaste 40 jaar kry, almal iets in wat die jogurt ‘n “mak”smaak gee. In die Kaap, by my broer-hulle, loop ek van tyd tot tyd jogurt in glasbottels raak, wat nog proe soos daardie melkery se telefoonpaal-wit-botteltjie-jogurt.

Wat ‘n brood gekos het, weet ek nie. Seker 2½ sent, dit kon niks meer gewees het nie. Die brood het nie in sakkies gekom nie, dis in dun geelwit papier toegedraai. Amper soos die papier waarin die Griek (of Portugees) op ‘n Vrydagaand ander mense se fish & tjips toegedraai het, net dunner.

Ander mense se se fish & tjips? Ja, my ma het nie geglo in enige vorm van lui-huisvrou-kos en wegneemetes nie. Anna Mofokeng het vir ons gekook.

Haai, maar ek is lelik met my ma. Sy verdien dit nie. Anna Mofokeng het net vir ons gekook solank sy en my pa getroud was; na die egskeiding het ek sonder bediende grootgeword. Maar Ma het steeds nie in lui-huisvrou-kos en wegneemetes geglo nie. Die naaste aan die luukse van ‘n voorafbereide, gaar, dis wat sy haarself gegun het, was ‘n koue, gerookte hoender.

Maar waar loop my gedagtes nie! Elke blêddie woord is ‘n afdraaipad, en ek is op pad Ou-Alberton toe, Florentia toe, Van Riebeeck-laan toe.

Sien, op Alberton kon jy een van twee brode koop; kêffie-brood of ordentlike brood – ‘n Proto-brood. Van Proto, waar anders, net op in die straat van waar my pa se prokureurskantoor latere jare was.


Eers was sy kantore, hier, op die hoek van Telawarren en Fore. 


Vandag lyk dit effe anders, Voortrekkerstraat is nou Alberton Boulevard:



Op die gronvloer was nog al die jare ‘n bank, Barclays, in daardie jare, as ek my dit nie mis het nie. Pa se kantore was dan op die eerste vloer. Oorkant die pad, en ek sien dis vandag nog steeds so, sit Slabberts Bottelstoor. Ons het nie van ‘n drankwinkel gepraat nie, my ouers het die Engelse bottle store reguit verafrikaans bottelstoor toe.

Ek dink ek was in my hele lewe een keer in Slabbert se bottelstoor. Kinders is nie daar toegelaat nie. Ek weet nie of dit ‘n landswet was nie. Dit kon tog nie gewees het nie. Tog was dit soos wet, asof dit in die Bybel staan:  kinders sal nie hul voete in ‘n drankwinkel sit nie. Ek was al klaar met skool en universiteit en weermag, toe ek eendag, na al die jare, uiteindelik by Slabberts in is. Ek kry sommer weer die hol kol opwinding op my maag, om uiteindelik in die onheilsnes in te mag stap.



Langs die bank op die grondvloer was jare lank ook ‘n bloemiste. (Ek sien die gebou se naam is JS-sentrum.) My assosiasie met die bloemiste is dat my broer in ‘n stadium sy verhouding met die meisie wat hy sou trou, verbreek het, om met die bloemis se dogter uit te gaan! O, die ontsteltenis vir die res van die gesin en familie. Gelukkig het die fling nie lank gehou nie, en is my broer toe met die meisie van ons almal se keuse getroud. Ek onthou egter dat ek uit beginsel nooit van ‘n ruiker blomme wat van Alberton-bloemiste gekom het, gehou het nie – oor dáái vrou se dogter. Maar ons praat van meer as 40 jaar gelede. Dalk onthou ek verkeerd. Was die een se naam nie Anne nie? Óf die ma, óf die dogter.

Ek kan nie glo die manshaarkapper is nog daar nie.En dit nogal steeds met die rooi en wit paal om die plek aan te dui! Seuntjies het hier natuurlik nie net hare gesny nie, hierdie haarkapper het speelgoedkarretjies, Dinky-toys, verkoop. Ek is oortuig daarvan dat elke Dinky-toy wat ek ooit besit het, hier bekom is. Dis nou met die uitsondering van my broer, 16 jaar ouer as ek, se boks Dinky-toys, wat ek van hom gekry het.


Ewentwel, toe skuif Pa se kantore Van Riebeeck-laan toe. Weer op die eerste vloer. Net bokant die Fast Fix en Take Away-restaurant van vandag:



Ek hoor my ma nog:  “En kry tog vir ons ‘n Proto-brood op pad terug as jy kom.” Hulle was al lankal geskei, my pa trouens al dood, dan kry ons van tyd tot tyd nog lus vir ‘n Proto-brood, en dan ry ons Florentia toe vir ‘n Proto-brood.



Partykeer is jy te vroeg, dan moet jy wag dat die brood uit die oond kom. Ander kere weer, is jy te laat. O, wee! Later van tyd, na die egskeiding, het ons net oor naweke Proto-brood gekoop.

In dieselfde straat, langs Proto, is die Blou Meul. Ek wil amper nie sê “is die Blou Meul” nie, maar “was die Blou Meul”. Al is dit steeds daar. Wat die Blou Meul vandag is, en wat dit daardie jare was, is twee totaal verskillende goed. Die Blou Meul het in 1954 sy deure oopgemaak en is vandag een van die grootste buitelugwinkels in die land. Veertig jaar gelede was dit ‘n donker klein plekkie waarin seuntjies van alle ouderdomme kon verdwaal.


Dit was al die jare nog net “Die Blou Meul”en niks meer nie. Almal het geweet wat die Blou Meul was en wat jy daar koop. Hulle, en ons, het nie nodig gehad om te praat van die Blou Meul-kampeerwinkel, of die Blou Meul-buitelugsentrum, Blou-Meul-geweerwinkel nie. Blou Meul is Blou Meul en basta.

Ek kon nie glo, toe ek hul webwerf besoek, dat dit bruin is, en nie blou nie. Die kenmerkende blou meul is, so ver ek kon sien, nie eers op hul tuisblad nie!


Langs Blou Meul, langs Proto, oorkant van Pa, waar vandag net pawn shops, ‘n porn shop en ‘n quick cash loan-besigheid is, was daardie jare Oom Morris en Tannie Faye se Apteek. Oom Morris was die gentle-ste, waardigste oom onder die son – hy is met ‘n hoed soggens werk toe. Sy vrou, wat hom in die apteek gehelp het, was rond en had ‘n warm, diep stem. Hulle was Engels, twee Jode gewees, maar het lieflike Engelse Afrikaans gepraat.

Hulle huis was die wonderlikste in die hele Alberton. Nie die grootste of grêndste nie, allemins. Maar die wonderlikste. Nie net oor die ongelooflike lekker Europese disse wat tannie Faye opgekook het nie, maar oor die mure – regte, egte Picasso’s, Dali’s, De Chirico, Miró... die ander drie sien ek voor my, maar die name ontgaan my nou. Groot name. Groot skilderye.

Hulle het nie kinders gehad nie. Ek het altyd gewonder wat van al die kunsskatte sou word, as hulle te sterwe sou kom. Ek wonder wat toe wel daarvan geword het. Vir iemand wat opgewonde geword het oor die Johannesburg se Kunsmuseum se enkele Picasso, was ek ek heel koorsig, elke keer as ons by die Hershins gaan kuier het.

Ek was eintlik op pad stadsaal toe gewees. Die lekkerste troues wat die mense daar gehou het.



En van daar af Burgersentrum toe. Om by die Biblioteek uit te kom.



Maar dit sal moet wag tot ‘n ander keer.

Ek is eintlik op soek na die oudste winkel op Alberton. Ek het dit leer ken as ‘n slaghuis. Venter se slaghuis. Dit was naby die ou Squeeze In waaraan iemand my die anderdag herinner het. Ons het op laerskool daarvan geleer. En toe later van tyd leer ken ons die mense wat toe die slaghuis in die gebou besit het. Maar of dit Venter se slaghuis was, weet ek nie. Dit kon ‘n ander van ook gewees het.

Die ou Squeeze In


Nes ek my ma hoor vra vir 'n Proto-brood, hoor ek haar aankondig dat sy gou Squeeze In toe wil gaan. Daardie jare was dit 'n onafhanklike groot (-erige?) handelaar. Toe word dit 'n Spar. Vandag is dit 'n baie groot, groot Squeeze In Super Spar, nie te ver van waar dit eers was nie.)

Dan is daar nog die ou Poskantoor oorkant die stadsaal. Ons was Posbus 7, Alberton. Sien dis nou prokureurskantore.


En die ou Kerk. NG-Moedergemeente. 


Ek weet nie of dit nog ‘n kerk is nie. Hier by ons in Pretoria is daar al kerke wat veeartse geword het. Ek onthou toe daardie kerk nodig had om sy paarkeergrond en tuin te verkoop om ‘n bestaan te maak. Dit was te vreemd om een jaar daar te kom en te sien die kerk staan nou op ‘n posseël en sy tuin is geteer om openbare parkeerplek al om die kerk te wees.

Dan is daar nog die Mark Joodjie in Florentia waar jy alles wat jy nêrens anders kon raakloop nie, kon loop koop het. En Tannie Tosca se haarkapper. Die woonstelle bokant haar haarkapper was die woonstel waar my ma-hulle glo gebly het, toe hulle net in Alberton ingekom het. Ek kan verkeerd onthou, ek weet nie.

In die ou Immelman se apteek. Ek en Sarie Immelman is ‘n half uur uit mekaar in dieselfde hospitaal gebore.

En dan is daar die straat waar een keer ‘n jaar kaskarresies gehou is. 14’e Laan? Ek weet nie!.Ek onthou net ‘n moerse afdraande, moerse baie mense op die sypaadjies, moerse baie kaskarre en moer baie opwinding. Een keer ‘n jaar.

En dan is daar die straat, dis een van die lane, miskien is dít 14’e laan, ek weet nie, waar die Indiër-winkels is. My ma het gepraat van Koelielaan. Wat jy nie by die Blou Meul of die Mark Joodjie kon kry nie, kon jy in Koelielaan raakloop. Daar was dress makers en seamstress –es ook. Dit is Pieter Uys-Laan, sien ek. En ek is bly om te sien daar is steeds iemand wat handel dryf onder die naam van Bombay Tailors.



Iewers was ook die kliniek waar die klinieksusters jou ingespuit en –geënt het. 

Maar dit moet oorstaan.


16.12.13

Ek wil terug na die plek waar ek kind was (1)


Ek wil Alberton toe. Ek wou vanoggend 03:00 al, maar het gelukkig weer aan die slaap geraak.

Die naam van die hoogste gebou op die dorp kan ek wraggies nie eers onthou nie, die een wat jy sien as jy van Johannesburg se kant af dorp toe kom. 



Maar dis daar waar ek my herbesoek sal begin. Nie omdat dit so belangrik is nie, bloot omdat dit so ‘n groot en duidelike baken is, bloot omdat dit eerste is wat jy sien, vlak by die tweede robot, kom jy die dorp in.

Royal York is sy naam. Die SAL-advertensie, heel bo, heel links, is af, sien ek as ek Google maps ingespan het om die geheue aan te help. Ek was altyd so trots op daardie advertensie – SAL, in Afrikaans! En dit lank na die SAL al jare lank net SAA geword het. Ek dink nie vir een oomblik iemand by die SAA het wakker geskrik en die reliek uit die Apartheidsjare laat verwyder nie, geensins nie; ek dink hulle het bloot ophou betaal. Niemand van die Ekhuruleni Municipality sou dit natuurlik agtergekom het nie en een mooi dag het die hele kontrepsie dalk net van daar bo af losgekom en neergedonder aarde toe, vlak by die busterminus tot rus gekom het.

Die busterminus. Ek sal seker nie dadelik die dorp weer wil uit die bult op nie, maar busterminus toe, groen onthou ek dit, sal ek gaan. Van hier af het die bus jou Johannesburg toe gevat. Op ‘n slegte dag sou dit vreeslik stink, halfpad soheen toe – die abattoir. 

Iemand wat dink dat ‘n leerlooiery stink, weet nie hoe die grootste slagpale in die suidelike halfrond kan stink nie – dis soos ‘n onsigbare wolkkolom wat van daar bo teen die bult afkom en hier onder oor die dorp kom hang. Die grootste abattoir in die suidelike halfrond? Ek weet nie? Maar hoekom nie?

Op ‘n Vrydagmiddag moes jy ons mense op daardie bus sien skarrel het, sodra die abattoir nader kom. Dis Vrydagmiddag en jy gaan fliek of ysskaats. In Johannesburg. Alberton se enigste onafhanklike fliek was toe al jare lank toe, en jy sou klaar met skool en universiteit en weermag wees voor die dorp weer ‘n fliek sou kry. Maar Vrydae tjaila die abattoir se outjies vroeër en dan staan hulle in sulke lang rye by die busstop en wag. Rooi en geel oorpakke, bont reënstewels (vir die bloed), plastiek helmets (waarvoor sal ek nie weet nie) en kosblik in die hand.

Waar almal elkeen dan alleen op sy eie bank gesit het, tot daar, spring almal op en gaan sit sommer vier-vier op ‘n drie-sitplekbank – net sodat een van daardie rowwe Jacks nie langs jou moet kom sit nie. Die reuk van die abattoir was in hul ongeskeerde gesigte, hul hare, hul tande, selfs die hare op hul bors. Selfs reisigers wat mekaar glad nie geken het nie, en nog nie ‘n woord met mekaar gepraat het, het verlig langs mekaar ingeskuif.

Dit was jare voor 1994, dit was ‘n Whites Only / Slegs Blankes bus daardie gewees wat ons in Johannesburg oorkant die hof afgelaai het. Dan is dit 5 minute se stap Carlton Sentrum toe, régtig die hoogste gebou in die land, in Suid-Afrika. In die suidelike halfrond? Ek weet nie, maar so what – die hoogste gebou suid van die ewenaar. 

Daar het ons gefliek en ge-ysskaats. Met R20-00 het ons bus gery, gefliek, met leerstewels (in kontras met vandag se plastiek gemors wat jy te huur kry) op ys geskaats, ‘n hamburger en Coke geniet, én kleingeld terug gebring.

Ek wil nog een keer ‘n buskaartjie laat knip met so ‘n mooi kaartjieknipper-patroontjie. Jy het sterre en sirkels en halfmaantjies gekry.



By die busterminus, verbeel ek my, kon jy weekkaartjies koop, genommer van 1 tot 5 links af, en 6 tot 10 aan die regterkant.

Dis hier teen ‘n muur by die groen busterminus waar Alberton se most famous graffiti was. Iemand het iewers in ‘n onstuimige politieke OOMBLIK gaan skryf:  DIE ROOM VAN ‘N VOLK IS ALTYD VERKRAMP. Dit het so ‘n week of wat gestaan, tot ‘n ander ROOM se –R gaan deurhaal het. En ‘n stertjie bygelas het. Toe staan daar:  DIE OOM VAN ‘N VOLK IS ALTYD VERKRAMP,  en onder dit in dieselfde kleur spuitverf wat die –R deurgehaal het, MAAR DIE TANNIE IS O.K.

Maar ek was by die Royal York.



Alberton had al die jare net een restaurant, Burger Ranch. 



‘n Jood en sy vrou wat die plek bedryf het. Hulle het hulle seuns almal Israel toe gestuur om daar hul 5 jaar weermagopleiding te ondergaan. Al drie van hulle. Of hulle drie seuns had, weet ek nie, of Israel 5 jaar weermagopleiding het, en dit nogal vir immigrante uit Suid-Afrika, weet ek nog minder. Maar dat dit as kind vir die waarheid aan my vertel is, is die reine heilige waarheid. Teen die daardie tyd was die Burger Ranch (rooi en swart van binne) ook al lankal toe, en het die Jode-oom en –tannie lankal aan stuur van sake by die Winning Post gestaan. 



Die Winning Post, ook ‘n storie op sy eie. Dis daar waar die ryk maatjies jou heen genooi het as hulle verjaar – vir ‘n hamburger én ‘n melkskommel, of ‘n wafel met room/roomys en ‘n melkskommel. En ook nie net jy en sy nie, ‘n hele twee tafels vol (party jare drie). Die spyskaart was in Afrikaans. Afrikaans én Engels, toe ons hier teen 2007 laas daar geëet het.

Maar dis ander besoekpunt, ek hang nog by die Royal York uit. Die dorp se tweede restourant, naas Burger Ranch, was The Pancake House, ‘n bietjie laer af in Voortrekerstraat. Ja, Voortrekkerstraat, hoe dan nou anders. Ek en my ma en my pa het hier kom eet, ‘n groot aardigheid, dié nuwe eetplek op die dorp. Dit moes rondom graad 2, standerd 1 gewees het, wat einde standerd 2 was die egskeiding. ’73, ’74, ’75. Daar rond. Die plek het in elk geval nie lank gehou nie, toe kry die dorp sy eerste nuwe fancy restourant in Royal York, op die eerste vloer.

Sy naam kan ek nie onthou nie. 

Aanvanklik was dit ‘n steak house, toe ‘n Portugese eetplek en later jare, na skool, ‘n Sjinese plek. Maar toe dit nog ‘n steak house was, eet ons een aand daar saam met my peetpa, Oom Kobus, ‘n bees- en skaap- en mielieboer uit die Vrystaat. Hy het vooroor geleun, ek onthou dit soos gister, en vertel hoe duur kos gaan word – hy het voorspel dat ons een van die dae, sit jy vas in jou stoel, ek wil nie hê jy moet omval nie, vir ‘n steak in ‘n restourant so veel soos R10-00 gaan betaal. Niemand aan die tafel het hom geglo nie. As ek self nie so ordentlik groot gemaak was nie, sou ek gedink het hy praat die grootste kak onder son. Maar sulke lelike woorde sou daardie jare nie deel van my verwysingsraam gewees het nie.

Verniet of ek die naam van plek onthou.

Die Portugese plek was swart van binne en die tradisionele Portugese hoenderhaatjie was prominent op die spyskaart.

Teen die tyd dat die Sjinese restourant daar was, was my ma al sou oud en op daardie stadium van haar lewe waar sy van alle restourantkos gesê het:  “O, aarde, die porsies is te groot, ek sal nooit al hierdie kos geëet kry nie.”

Ek kom agter sinnetjies soos daai is universeel, lyk my ons almal raak dit kwyt soos ons oud raak.

In ‘n stadium was daar ‘n Duitse delikatessen op die grondvloer, skuins onder die restourant. Jy kon die lekkerste koue vleise en kase daar aankoop. Ek was nou op hoërskool en ons buurvrou ‘n Duitse oujongnooi uit Wene. Haar vriendin had die delikatessen. Hulle is eerste terug Duitsland toe. Sy ‘n hele paar jaar later. Ek het twee keer vir haar gaan kuier. Maar dis ook al lank terug.


Die gebou se kafee was al die jare nog 'n treurige plek. Ek het dit as skoolkind geboikot - die eienaar was die eerste om jou destyds net drie, in plaas van vier, Chappies vir 2 sent te gee. 'n Chappie het destyds 'n halwe sent gekos, twee vir 1 sent, vier vir 2 sent. Maar nie daar nie. Skurk!
Lekkerder nog as die delikatessen en elke restourant wat ooit daar was, is die movie hire in die Royal York-gebou. Nee, nie die video-winkel nie, die Movie Hire. Snaaks dat video-winkels steeds video-winkels is, al weet vandag se kinders nie wat VHS of Beta beteken nie. Daardie jare het iets soos ‘n videowinkel lank nog nie bestaan nie. Hier het jy flieks, in ronde leertasse uitgeneem. En ook nie net die fliek nie, die projektor ook, as jy, soos baie mense, nie self jou eie 35 mm-projektor gehad het nie. O, die opwinding, die lekkerte.



By die Van Rooyens het ons nie gebodder om ‘n wit laken oor die gordyn te hang, of die skilderye van die muur te haal nie – hulle het sommer die blou Valiant uit die garage getrek en die projektor op ‘n tafel staan gemaak. 

Heerlike aande, heerlike tye. 

Oom Hannes het toe nog geleef. Tannie Marthie ook. 

Ek wou nie netnou enige name rondom die ryk maatjies noem nie – van hulle lees partykeer hier, maar die Van Rooyens hoef wraggies nie anoniem te bly nie.

Oom Hannes het een oggend met daardie blou Valiant by die hek uitgery gekom werk toe, toe ek huilend in my Laerskool Generaal Alberts-safaripakkie daar aankom. Ek sien hom by die venster uitleun, ‘n onseker glimlag op sy gesig en hoe hy my die huis in beduie.

“My ma en pa gaan skei,” is al wat ek daardie oggend in Tannie Marthie se hoofslaapkamer, met sy troufoto en afbeelding van ‘n balerina – The Dying Swan – teen die muur, kon uitkry.

Dat my pa die oggend die ronde tafel in hulle slaapkamer op my ma omgekeer het, dat die Venus de Milo-beeldjie teen hulle hoofslaapkamermuur daardie oggend gebreek het, het ek hulle nie vertel nie, ek vertel dit vandag, ‘n goeie veertig jaar later, vir die heel eerste keer.

Tog wil ek teruggaan na die plek waar ek kind was.



Naskrif:

Op soek na 'n prentjie van die Burger Ranch, kom ek toe op die volgende af:

With its origins in South Africa, Burger Ranch made its way to Israel in the early 1970s, and by the end of that decade, it had two branches in Tel Aviv. When McDonalds entered the fast food market here in 1993, Burger Ranch had nearly 50 restaurants and was the largest restaurant chain.

Burger Ranch se Wikipedia-artikel noem nie eens die Suid-Afrikaanse konneksie nie. Ek het die stukkie inligting hier gekry.

Die eietydse logo (ek kon nie glo toe ek dit raakloop nie) is presies soos ek dit onthou, maar dit was nie geel en rooi nie, net swart en rooi.


Die bult-af Alberton toe, is 'n bult-af wat kilometers sterk. Behalwe die stank wat daar afgekom het onthou ek duidelik hoe ek snags die swaar trokke met hul ratte hoor afslek het. Ons het in 'n stadium binne hoorafstand van die bult gebly. 

Dit het gereeld gebeur dat die heel groot lorries se remme gefaal het, en dan het hulle hier, waar die sand nou se dae vir hulle gegooi is, van beheer verloor en van die pad af gegaan.







23.11.13

Ons is darem maar snobiste (1 en 2)

Miskien moet ek daardie ons bietjie duideliker kry – nie almal wat hier lees, is noodwendig ‘n ons in my pond nie; by ons bedoel ek eerstens myself en elkeen wat bevoorreg genoeg was om so vrot bederf soos ekself groot te kon word.

Ook die snobiste  verdien ‘n uitbreiding – kullinêre snobiste; ‘n spul puntenerige, kieskeurige smulpape, dís wat ons is.

Ons is darem maar snobiste (1)  begin drie of vier weke gelede…

Ek en Annieka sit in ‘n restaurant aan die ontbyttafel saam met ‘n ou skoolmaat van my – ons het mekaar na 30 weer raakgeloop nadat ek vir sy kinders begin skoolhou het. Hy het seker so 35 jaar gelede as jong seun, met lang 70’s hare, sónder dat hy ooit ‘n enkele dag skooluniform moes dra, huiswerk óf ‘n drag slae gekry het, saam met sy ouers uit Nederland hier in Suid-Afrika aangekom. Die eerste wat moes gaan, was die hare; die tweede die bell bottom jeans wat met Laerskool Generaal Alberts-skooluniform vervang is. (Die huiswerk en drag slae het enkele dae later gevolg.)

Die gesels maak ‘n draai by kos en iewers laat val hy, of sy vrou, hul voorliefde vir dit wat in die gesin as rafeltjie-vleis bekend staan.

Die word self trek dadelik my aandag, lieflike woord – rafeltjie-vleis, maar ook die manier waarop daarvan gepraat word, die deernis waarmee die woord uitgespreek word, laat my dadelik aan iets reguit vanuit die hemel dink, en ek weet ek moet meer uitvind.

Rafeltjie-vleis is toe ragu,  iets wat ek al baie raakgelees het, maar in my lewe nog nooit self gemaak het nie, ek ken trouens net die woord, maar wat presies dit is, weet ek nie. Voor ek nie by my skoolmaat van rafeltjie-vleis gehoor het nie, kon ragu, vir al wat ek weet, ook ‘n broodpoeding of die een of ander Surinamiese bykos gewees het.

Ek gaan google dit toe en beperk my soektog na ‘n ruk tot ragu wat in prutpot voorberei kan word – nie hieroor of daaroor nie, bloot omdat ek besef die dis sou miskien oorspronklik vir ‘n stadige koolstoof bedoel wees, my ongeduld en warm elektriese stoofplate, gaan nie reg laat geskied nie – ek moet my aan die hand van ‘n prutpot tot urelange lae hitte dwing.

En daar eet ons Moolmans toe gisteraand ons eerste, eie, rafeltjie-vleis. Miskien moet ek dit eerder ons eie fraaiing-vleis noem. Of iets soos toiing-vleis, want tradisionele ragu was dit beslis nie en netnou vat ek die Seesinks se dis lelik in die gesig deur dit wat ek gepleeg het, rafeltjie-vleis te wil noem.

Dit was heerlik en ek weet ek gaan dit weer en weer maak – fra(a)iing-vleis gaan ‘n familietradisie word, ek weet dit.

Maar wat het dit te doen met ons wat kullinêre snobiste of 'n spul smulpape is, vra jy.

Onthou, nie regtig óns nie, maar ék en almal wat soos ek grootgeword, of eerder uitgedraai het.

Dis eenvoudig. As kind het ons elke jaar bees by Oom Kobus-hulle op die plaas gaan slag . Daar is groot geslag – drie beeste op ‘n keer, een vir elkeen van drie gesinne wat saam geslag het. Ook vark is geskiet en ‘n skaap of twee, drie keel-af gemaak.

En daar is niks gemors nie – daar is kos vir die honde teruggebring, kos vir die bediendes, kerrie- en stowevleis, en dan die beste snitte (ás dit nie reeds bykans alles vir biltong opgesny en ingelê is nie).

Later van tyd, in die maerder jare, het die honde se kos weggeval, dis nou vir die bediendes opgekook; die bediendes se vleis het die etenstafel se kerrieblokkies geword, en dit waarvan die gesin kerriekos en stowedisse gemaak het, is nou op allerhande slim maniere vir die gastetafel berei.

Dis hoe elk grootgeword het, maar nie hoe ek uitgedraai het nie. Sonder ‘n Oom Kobus met ‘n plaas het ek self nog nooit gaan slag nie. Beesvleis, van 1989 toe ek vir myself huis opgesit het, was nog altyd net een ding – steak. Ek het in 24 jaar nog nooit ‘n ander snit beesvleis as kruisskyf of filet gekoop nie. Selfs as ek kerrie en reis maak, sny ek kruisskyf in blokkies.

Dinsdag wat verby is, koop ek toe vir die heel eerste keer in my grootmenslewe ‘n ander snit, platrib, om my fra(a)iing-vleis van te prut.

Vroeër die week lees ek deur altwee kookboeke wat Jeremy Mansfield en sy vrou die lig laat sien het, Zwoosh! 1 en 2, en dit val my op dat hulle gereeld van beesvleissnitte gebruik maak, wat ek nog nooit self gaargemaak het nie.

Na ons gisteraand toe nou so lekker aan een van hierdie snitte gesmul het, besef ek dit het met snobisme niks te doen nie, ek was net te dom onnosel om van beter te weet, daar is aan ‘n bees veel meer as steak, daar is nog ‘n wêreld wat wag om ontdek te word.

Gaan google “ragu” en kies ‘n resep om te maak. Wees versigtig, “ragu” en “ragout” word dieselfde uitgespreek en kom vanaf dieselfde woord, maar is twee verskillende disse – “ragout” is ‘n Franse stowegereg, “ragu” is ‘n Italiaanse souserigheid wat tradisioneel met pasta bedien word.

Ek het Dinsdag my vleis gekoop, maar eers Donderdagoggend, tien minute voor ons moet skool toe ry, besluit om om dit deur die loop van die dag uit te rafel. So toe is daar nie tyd om resep op te soek nie, ek het in die pot gemoer en geloop. Maar die toiings, rafels en fraiings wat ure later daar uitgekom het, was hemels.

Hier is wat ek gedoen het.

Ek het seker so ander half kilogram platrib gehad.

Ek het twee uie in dun skywe onder in die prutpot gesit. Heelwat knoffel ook. Toe die vleis en twee blikke tamaties. Die vleis het ek gegeur met: sout, peper, heelwat growwe koljander, kaneel, naeltjies, lourierblare, ‘n stewige skeut Worcestershire-sous en ‘n eetlepel bruin suiker. Die suiker en kaneel was seker nie nodig nie, maar ek het dit vroeër die week in ‘n ander dis gebruik, dit was daarin nogal lekker, toe herhaal ek dit maar in die beesvleisdis. Ek het ook die laaste van ‘n bottel sjerrie bygegooi – as dit nie in die oggend voor skool was nie, sou ek dit in die kombuis gedrink het terwyl ek kos maak, maar toe is dit ongelukkig op my nugter maag en knap voor ek in kinders se nekke moet blaas, toe gooi ek dit maar in die pot.

9 uur later, toe skakel ek die prutpot af, kry die bene uit en trek die vleis uit mekaar, eintlik roer ek dit sommer deurmekaar. Ek het lag-lag 21 basiliekruidblare opgerol en dit in dun repies gesny; kort voor opdiening het ek dit by die sous ingewerk.

Ek het nie spaghetti gekook nie, maar eerder van die dikker linte, tagliatelle. Heerlik. Heerlik verby.

Nooit weer in my lewe maak ek spaghetti & mince nie. Hoor my mooi, ek herhaal:  nooit ooit weer maak ek spaghetti & mince nie, die lewe is te kort daarvoor.

Ek sal weliswaar nog hierdie outentieke Bolognese sous uit Bolognië wil maak.

Tot dan is en bly dit voortaan die Seesinks se rafeltjie-vleis a’la die Moolmans se fra(a)iingvleis.
 
So baie om te ontdek
 

Ons is darem maar snobiste (2)

Behalwe dat ons ons net ophou met filet en kruisskyf, het ons nog ‘n voorkeurverskaffer ook – nie die plaaslike Spar of slagter nie, maar niks en niemand anders as Woolies nie.

So trakteer ‘n kollega my en Annieka nou die ander dag, een pouse, op Woolworths se heat and serve fully cooked pulled pork. Man, dis ‘n lekker rafeltjie-varkvleis konkoksie, bedien met koolslaai en agurtjies tussen die twee helftes van ‘n sagte vars broodrolletjie.
 
 

Toe ek vir die huis wil koop, toe ry ek na vier verskillende Woolworthse toe, sonder sukses.

Toe maak ek maar my eie, nadat ek, soos met die ragu, eers heelwat ge-google het.

Ek het weer begin met ‘n ander half kilogram varkvleis, maar hierdie keer was dit meer vleis as met die platrib – daar is mos nie been aan nie.

Soos met die ragu het ek begin met twee uie en heelwat knoffel onder in die prutpot. Die vleis het ek ingevryf met:  sout, peper, teelepel mosterd, teelepel kaneel, teelepel komyn, so drie eetlepels bruin suiker.

Ek het ‘n koppie of so vleisekstrak gehad om by te gooi, maar sou ‘n boksie Liqui-fruit pynappelsap bygegooi het as ek nie toevallig my eie vleisekstrak van die tong wat ek die vorige dag in die prutpot voorberei het, afgekook gehad het nie.

8 ure later, toe rafel ek die vleis. Ek moes nog ‘n braaivleissous ook inwerk, maar dit was só lekker daarsonder, dat ons nie so ver gekom het om dit by te sit nie.

Ek wou dit op polenta bedien, maar het op die ou einde sommer gewone mieliepap gemaak. Saam met tuisgemaakte koolslaai om darem die Amerikaanse tradisie te behou.
 
 
Google gerus en kies een om te maak. Hier is ‘n Suid-Afrikaanse weblog wat ek vanoggend opgespoor het en letter vir letter gevolg kan word. Ek het, soos met die beesvleis-variasie, wyd gelees en toe saamgefoeter wat en hoe en soos ek onthou het.

Heerlik verby. Ek wil my verstout om te sê:  heerlik, man, heerlik.

4.9.13

Hoe lekker om weer jonk te wees


Ek was op twee geleenthede die afgelope naweek weer vir sowat vyftien minute lank 18 en in my eerstejaar op universiteit gewees.

Met gemengde gevoelens is ek daar in en rukkie later weer daar uit.

Ek het soos Saul Barnard terug in myself geloop, voor ek weer by die huis gestop het.

Party eerstejaars is mos gelukkig, hulle maak pelle met outjies wat op die kampus se voorstoep bly. En as hulle klas wil afgee, stap hulle net oor die pad en wees sleg in die een of ander studentekommune.

Nie ek nie, my eerste maatjie bly toe op die anderkantste uithoek van die dorp – het jy by hulle agterdeur uit- en oor die heining gekyk, was dit rooibokke en mielielande waarop jy uitgekyk het. (By wyse van spreke.)

Soos die noodlot dit wil hê, was haar motor, Chrusotemis (so genoem na ‘n tragiese karakter uit die Griekse mitologie) meer kere en langer tye onpadvaardig, as nié, en dan moes ek met haar tussen die kampus en die buitepost wat sy huis genome het, pendel.

Hier teen die einde van die jaar toe voer ons eerstejaar dramastudente self ‘n Griekse tragedie, Die Vroue van Troje, op. Ek verbeel my my naam was Thalthubios, herout van die Griekse gode.

In die wroegende tragedie wat homself oor vyf bedrywe en so knertsie meer as twee ure uitgewoed het, het Thalthubios, herout van die Griekse gode, net ‘n skamele drie sinnetjies gehad om te sê. 

En met die middelste een van die drie, “nie almal saam nie”, het ek gesukkel, so baie gesukkel dat ek die woorde  tydens een repetisie seker 40 keer na mekaar op 40 verskillende maniere en met 40 verskillende intonasies moes sê.

As Thalthubios klaar sy enkele woorde op die verhoog des levens gesê het, moes hy summier een van die vroue van Troje word.

Vir ‘n man om ‘n Griekse vrou te word, en elke manlike student móés op meer as een geleentheid ‘n wenende vrou word, moes hy allerhande lappe en doeke oor sy gesig drapeer.

Gelukkig is daar nie veel van die stomme vroue verwag nie, ons moes bloot wenend en met baie gevoel om  en aan mekaar hang terwyl ‘n vyandelike mag se soldate ons wegdryf na ‘n  vreemde land toe.

So beland die gesigdoek een aand oor my oë en hoe meer ek my kop wil ontset, hoe meer raak ek verstrengel, die ding wurg my laterhand, maar verniet of ek kan loskom. Ek gryp in my blindheid na die eerste beste naaste suster in die verdrukking. En toe ek haar wenend aangryp, is dit dadelik duidelik dat hierdie suster my nie wil hê  nie.

Maar ek laat my nie onder kry nie – hierdie tannie wat Hans is, sal huil en ruk, tot die ganse gehoor in trane is. En hoe meer my suster van my ontslae wil raak, hoe meer klou ek verbete aan haar vas.

Dis eers toe ons van die verhoog af is, dat ‘n diep mansstem vra:  “Wat de fok dink jy doen jy?”

O, aarde, ek het my toe nie om ‘n Trojaanse suster des doods gerank nie, maar teen ‘n butch vyandelike soldaat aangevlei – een van die outjies wat ons met alle geweld kom losskeur het uit ons veilige bestaan in Troje.

Selfs al was die doek nie oor my ganse gesig gekoek nie, had ek steeds die volle potensiaal om dit in elk geval te doen. Sonder my bril is ek mos nou al jare so blind soos ‘n mol.

Die gevolg is dat ek onder my Griekse Fabula Togata (sommer toga, of pleinweg, laken) ‘n LO-broekie aan het – ons is immers Griekse tannies en nie Skotse omies nie.

Met my bril gaan ek dan tot op ‘n punt, maar dan gaan hy eers weer sak toe, terwyl ek Thalthubios of een van die hartseer tannies is.

Wee jou as jy as Griek verskyn en dit met ‘n horlosie, bril of enige iets buite periode.

O, aarde, en Menelaos, die boef in ons drama, se manne is nie sagkens met ons vroue nie – hulle gooi ons in ‘n stadium dat ons soos ‘n wafferse skrum op mekaar insak!

Nie net op mekaar nie, maar een aand ook op my bril wat aan skerwe breek en Hansie so amper die status van ‘n hamel gee.

Daar sit ons toe nou twee weke lank met twee stukkende goed:  Hans se bril, en vriendin-daar-ver, Philippa, se skedonk, Chrusothemis.

Tienuur, elfuur, dan ry ons om Philippa na afloop van die repetisie of optrede te gaan aflaai, ses dagreise te perd aan die oorkant van die dorp.

Ek, galante heer, bestuur en Philippa navigeer.

Maar sodra ons begin gesels dan gesels ons so lekker dat ek elke tweede, derde stopstraat mis, en een aand glads ‘n hond rakelings amper hondehemel toe stuur.

Ek sal daardie vorm van Russiese Roulette met my en Philippa in die motor nooit vergeet nie.

Jy ry op gevoel. Niks meer nie. Behalwe Philippa se hoor-sê.

Philippa self is nou al agt maande lank net ‘n herinnering en ‘n begrafnisbrief in die kassie langs my bed, maar saam met haar is hierdie kamikaze van ons deur Potch se laatnagstrate herinneringe wat nooit sal sterf nie.

Ten minste nie tot ek eendag self die emmer skop en tot stof terugkeer nie.

So stap ek Saterdagoggend 01:00 na ‘n skoolfunksie by die huis in.

En ek is die gelukkige wenner van nie net een nie, maar sommer twee vrouens in my bed.

Ek het ‘n poncho wat in die laat sestiger jare van die vorige eeu aan my broer behoort het oor my skouers en ek sukkel om die ding oor my kop en af te kry – my bril is in die pad en my neus te groot.

Maar ek val op die bed neer en klou net so verbete soos destyds toe ek ‘n Griekse tannie was, maar hierdie keer aan die rand van die bed, vas – Klaradyn lê getrou aan haar aard nie skuins of skeef nie, sy lê dwars. Lynreg dwars.

Enkele ure later, moet ek weer vroeg op en uit om te gaan help opruim aan die graad 10’s se gefuif van die vorige aand.

Die twee girls slaap vas toe ek opstaan.

En daar is my bril weg.

Goed weg.

Propperlies weg.

En ek wil hulle nie wakker maak om te help soek nie.

Maar ek kan ook nie laat wees nie, ek moet die saal gaan oopsluit dat die mammas kan begin skoonmaak.

Toe ry ek maar, 30 jaar later,  soos in 1983, sonder ‘n bril oor my oë, óf ‘n Philippa langs my, skool toe.

En was dit nou lekker! Want skielik is ek nie 3 dae van 49 af nie, ek is weer 19 of 20 en ry met Gloudina langs my in die kar. (Gloudina was Philippa se ander naam, ook my troetelnaam vir haar.)

Bekende strate in Pretoria kry skielik ander name, die name van bekende en groot strate in Potjiesdorp.

Hoe lekker om op 49 weer jonk te kan wees! Al is dit net vir 15 minute skool toe en weer vir 15 minute terug huis toe.

Ek wens net mense en vriende was soos herinneringe en het nooit weggegaan of afgesterf nie.

20.8.13

Suiwer dagboek, voor ek vergeet


Ek tob naweeklank rondom ouderdom en dood, weeg gedagtes op en woorde af, maar dan spoel die klein vreugdetjies van ouerskap oor my, die walle breek en my beker loop oor.

Epicurus, sy siening rondom dood en my eie gevoelens oor ‘n rype ouderdom moet dan maar eers opsy staan, anderdag miskien.

Daar is soveel lekkertes wat stoei om voorrang te geniet, ek weet nie wat om uit te pak en wat om op die ys te hou nie.

Sy gaan slaap saans 20:00, maar vanaand 19:15 het sy haar ma klaar saam met haar in die kamer; nie van moeg nie, maar van lus vir lekker lees.

Seker so vyf of ses jaar gelede kyk die dokter ons in die oog en vra iets soos:  “Hoe lank gaan julle nou nog elke vyf weke met haar hier instap – hierdie kind se mangels moet uit.”

Ek onthou van my eie mangeloperasie niks nie, maar die geskenkies en lekker tyd in Ma-hulle se bed is helder asof dit gister was. Ek is immers een Saterdag meer as 40 jaar later al die pad Johannesburg toe om vir Klaradyn dieselfde klassieke speelding te koop wat ek na my operasie destyds van my pa-hulle of, kamma-kamma, my broer gekry het.

Die gevolg is dat ek vir my eie kind se mangeloperasie ook iets in plek wil kry wat vir baie jare positief sal bybly.

Ek soek ‘n boek, ‘n baie spesifieke kinderboek waarvan ek ‘n resensie in die koerant gelees het. Maar die boek is nie op ‘n enkele rak beskikbaar nie. Die gevolg is dat ek al die pad na die hoofuitgewer van Fantasi-boeke se huis ry om my kind se eksemplaar van Die Dierehospitaal te kry.

Is dit nie gepas nie – ‘n hospitaalstorieboek vir ‘n dogtertjie se eerste operasie!

O, en was ek nie enkele dae later spyt oor die boek nie!

Daar word die boek al wat sy saans wil hoor – sy kan  nie genoeg kry nie, partykeers vra sy glads dieselfde storie twee keer in dieselfde week, oor dieselfde naweek.

Dis lang stories met groot en baie woorde wat sy toe ook ontgroei het, en dis seker so drie of vier jaar nou dat ons net elke dan en wan vir haar daaruit voorlees.

Dis nou tot verlede week, toe sy dit as hardop-selflees-boekie aan die vergetelheid ontruk.

En dis asof sy elke storie vir die eerste keer hoor. Snaakse stukkies lees sy meer as een keer. Sy roep my vanuit die kamer en lees dan hard genoeg sodat ek ook die snaaksste gedeeltes kan hoor.

En dan kraai sy, ongebreideld, van die lag. Dit met ‘n joie de vivre wat ongeëwenaar is.

Groot klein vreugde nommer 1, die lag.

Vet lekkerte nommer 2:

Toe ek Juliemaand met vyf bakkievragte vol ougoed asgate toe is, is dit kol-kol asof Klaradyn vinniger by die huis indra as wat ek by motorhuis uitdra.

Onder andere ‘n ou blaasbalk van my ouers wat hulle gebruik het om die kaggelvure in ons huis aan die gang te kry.

Die ding se leer het heeltemal verbrokkel van die ouderdom en dit val basies in twee stukke uitmekaar. Ons huis se kaggel is uitgebreek, ek sal nooit ‘n kaggel weer hê nie, en selfs al kry ‘n kaggel, sal ek die vuur aanjaag met ‘n vuuraansteker soos Blits, beslis nie ‘n stukkende ou blaasbalk nie. Teen my muur as ornament sal dit ook nooit kom nie. Dit staan nou 8 jaar in die motorhuis.

Ek gooi uit.

Klaradyn dra in.

Meer as ‘n maand later kom sy Vrydag met die huis en vertel van hul mondelingonderwerp: kry die oudste ding in  julle huis waaroor jy wil praat en kom praat daaroor.

“Mamma, ek weet waaroor ek wil praat, maar ek weet nie wat dit is nie.”

En weg is sy om die ding te gaan haal – die blaasbalk.

Ons kry gou heelwat om te sê, maar die ding is so stukkend dat ‘n kind wat nie weet hoe dit werk nie, geensins in ‘n mondelinge show and tell-periode ‘n idee gan kry nie.

Gelukkig het ek baie ander werk om te doen en willig ek dadelik in dat ons dit moet restoureer.

‘n Vodde ou sagteleerhandsak van my ma, wat nie Juliemaand asgate toe is nie (dit is al jare lank bo in my hangkas ingeprop) kry toe ‘n tweede en nuwe lewe as leersak tussen die twee houtbalke.

Die lekker lê egter nie in die reggerukte blaasbalk nie, dit lê in die heerlike uur saam met my kind om die ding na haar sin te kry.

Self sien die blaasbalk sommer weer spoggerig daar uit en ek vermoed die ding gaan straks ‘n plekkie iewers in die huis kry.

Kosbare oomblik nommer 3:

Ek sê vir die girls om nie die badwater uit te laat loop nie – ek wil ook kom bad.

Lekker warm in die water, skree-roep-vra ek vir Klaradyn wat elders afdroog, hoe vandag se saalopening was.

“Boring, soos gewoonlik! Maar Juffrou Koen het die mooiste storie vertel!”

Die volgende oomblik kom sit die koningsgrootte badhanddoek op die toilet by my in die badkamer, en daar vertel sy my, in die fynste detail, met baie uitbreidings en aanvullings van haar eie kant af, die boeiende storie wat Juffrou Koen vertel het. Dis ‘n Gertjie en ‘n Grietjie en Oom Gert, en sy vra selfs of haar pa al die –g’s in die karakters se name kan hoor.

Daar neem die gees toe van haar besit en sy vertel die vorige Maandag se opening, asof sy dit nou, oomblikke gelede oor die radio gehoor het. Van ‘n pêrel “uit daai skulpgoed wat Mamma en Pappa so eet.”

Daar sit ek toe nou en luister na twee weke se laerskool-saalopening-preke. Sy vertel met volle oorgawe, was dit ‘n item op ‘n Kunswedstryd, het sy nie net met A++ weggestap nie, sy was afdelingswenner ook!

In beide gevalle vra ek haar na die storie agter die storie, en nie een keer stel sy of haar interpretasie my teleur nie.

Die water was koud en ek had al hoendervleis toe sy klaar het en die nat badhanddoek vir my los om af te droog.

En as daar nou een ding is wat ek haat, waaroor ek kleinserig is, dan is dit ‘n nat badhanddoek!

Maar ek gee nie om nie – my kind het hom nat gemaak; sý mag maar.

Sy het my dag ook gemaak, en nie net vandag nie – die so-te-sê pasafgelope 9 maal 365 dae.

Die bad loop leeg, my beker oor.