Pages

16.8.13

Stukkende skoene tussen vrot pampoene



Ek verbeel my dis die Russe wat die spreekwoord het:  uiteindelik word jy wat jy was.

Hoeveel spreuke het ek nie al in my leeftyd gelees nie! Ek lees die goed soos ek Kuifie en Asterix lees – asof dit soetkoek is. Ek koop spreekwoorde-boeke en wissel dit tussen die boeke langs my bed af.

Daar is letterlik honderde spreuke en uitdrukkings wat ek al vergeet het, wat ek nie eers sal herken as ek dit weer moet raakloop nie.

Tog bly hierdie een van die Russe my nou al jare lank by.

Miskien is dit die skynbare teenstrydigheid daarin.

Aan die ander kant weet ek dis ook meer as suiwer die paradoks – eerder ook omdat ek die strekking van die spreekwoord so dikwels in myself en my eie lewe herken.

Hoe gereeld gebeur dit nie dat ek myself in my gedagtes aanspreek en sê:  Uiteindelik word jy wat jy was, Hans Moolman.

So het my Tannie Anne van my nefie (wat goed 16 of 17 jaar ouer as ek is) ‘n paar leerskoentjies gehad wat sy lank voor my geboorte laat verbrons het.

Nou as jy Tannie Anne geken het, sal jy weet dat daar uit haar kombuis en spens vir ‘n klein seuntjie soos Klein Hansie nooit iets wonderliks sou kom nie – die vrou kon rys kook en vleis verbrand, dis al.

Troeteldiere het sy en haar man, Uncle Chappie, ook nooit gehad nie.

Die wonderlikste ding vir my, kuier ons by hulle (iets wat sommer baie gebeur het) was daarom my nefie (wat al ‘n groot man en uit die huis uit was toe ek my verstand gekry het) se reeds genoemde verbronsde paar kinderskoentjies.

Teen die tyd dat ek klaar met die grade was, en meer as een standerd agter die rug had, het ek daardie skoentjies al stukkend gespeel.

Moet my nie nou vra wat ek alles gespeel het nie, ek weet net dat ek die goed nie uit kon los nie. Ek sou van hierdie plastiek oorlogsmannetjies daar indruk, en dan word die skoene tenks en pantserwaens vir die troepe.

In die hande van ‘n verveelde seuntjie by sy mamma se suster en swaer kon dit twee vegvliegtuie word, koeie, renmotors, noem maar op.

Met die voorpunte van die sole wat so effe opgelig het, ook die gladde oppervlak van die onderkant, was daar min dinge wat só lekker op en af en heen en weer oor bedspreie en tapyte kon gly, soos daardie twee ystersandale.

Boonop was dit sommer net lekker om na te kyk ook; maar kyk soos ‘n kind kyk – met die handjies kyk, beslis allermins nie nét met die ogies kyk nie.

Die goed was later van jare skoon voos gekyk van al Klein Hansie se gevat.

Dit was ‘n paar sandaaltjies, met gespes, die soort met die tradisionele geweefde leerstroke oor die tone en brug – op hoërskool het ons van flat boy sandals gepraat.

My nefie se skoene het amper soos
die paar daar links bo gelyk.

Hier teen die latere jare se kant het die oorspronklike leer al weer plek-plek uitgesteek, sou jy selfs die een, styf-styf,  by die gespe rond kon losmaak.

Vir my het dit egter die mooiste en spesiaalste in die hele huis gebly.

Uncle Chappy was ‘n Jood, en dis heel moontlik dat ons vandag van die spreekwoordelike wandelende Jood praat, suiwer op grond van Uncle Chappy wat die oorsprong en rolmodel van die uitdrukking was. Hy het in ‘n stadium vreeslik van werk verander, en daarmee saam van huis. In hierdie tyd het Tannie Anne-hulle op ‘n kol binne die bestek van 18 maande op 6 verskillende plekke gebly.

As ek mooi dink sal ek presies kan sê op watter tafeltjie en waar in watter kamer van elkeen van daardie blyplekke het dié skoentjies waarvan ek so baie gehou het, gestaan. Op van die plekke was dit in die sitkamer, by ander het dit staanplek in ‘n studeerkamer gekry, die hoofslaapkamer, en selfs die spaarkamer.

En toe word ek, soos die Russe, wat ek was:

Klaradyn het skaars haar babaskoentjies ontgroei, toe sit ek daarmee af na die mense wat te koop loop met die feit dat hulle hierdie klas van dinge uit my kinderdae van meer as veertig jaar gelede, in vandag se dae kan lewer.

En nee, ek neem nie een paar nie, ek vat sommer twee. Ietsie piouter en ietsie brons.

As rooi- en geelkoper verdere opsies was, sou ek seker vier paar skoentjies geneem het.

Naaste aan my váderhart is die mokassins wat ons in die Baai gekoop het toe Klaradyn 18 maande oud was en ons by Van Stadensriviermond vakansie gehou het. Ek sê ook nou mokassins, maar dit staan bekend as shooshoos, sulke lief en dierbare goedjies vir lief en dierbare dogtertjietoontjies.


Naaste aan my kínderhart is die skoentjies/sandaaltjies wat ons ‘n paar maande later aangekoop het. Omdat dit suiwer ‘n dogtertjie-weergawe is van die seuntjieskoentjies wat my nefie sowat 50 jaar tevore gedra het. Ek dink nie Klaradyn het die skoene drie maal in haar lewe gedra nie. Dis gekoop op ‘n ouderdom wat hulle vinnig groei en dit eintlik geldmors is om enige duur leerskoene te koop, maar ek móés dit net koop, omdat dit my so baie aan daardie verbronsde goedjies uit my kinderdae herinner het.


Annieka is nie noodwendig gaande oor die goed nie, en hoe meer sy dit in ons kamer wil onderspeel, hoe meer sorg ek dat dit prominent uitstaan. Skuif sy dit agtertoe, bring ek dit vorentoe; vat sy dit af, bring ek dit op. So hou dit nou jare aan.

Noem my maar kommin met ‘n k, ek gee nie om nie.

Dieselfde mense wat skoentjies vir my verbrons het, verbrons ook gips afgietsels van baba se hande en voete. En ek dink dis kommin verby, ek ril en deins weg by die aanskoue daarvan.

Maar nie my skoentjies nie, nee, dis nie common nie – ek het bloot uiteindelik maar net geword wat ek was.

Na my ma seker so 15 minute dood was, het die ouetehuispersoneel saggies geklop en heel bedees kom vra of ek ‘n oomblik sal uitgaan, hulle wil die lyk “voorberei”.

Ek is toe maar uit en het gewonder wat dit nou alles kan wees wat hulle wil doen.

O, wee, en toe ek terug kom toe het hulle ‘n waslap onder haar ken opgerol dat haar mond nie oopval nie. En daar lê die dierbare moeder van my met ‘n ken en onderkaak wat in plek gehou word deur ‘n waslap in ‘n ronde drol gerol. Maar dis niks nie, ek kon dit bloot wegvat, hulle het egter verder gegaan en die lyk versier deur drie of vier plastiek blomme in haar hande (wat hulle op haar bors saamgevou het) in te druk. Daar lê my ma, wat haar lewe nie juis vat kon kry aan ‘n plastic imitation flower of any kind nie,  toe nou met hier monsteragtige oranje gedrogte op haar bors.

Natuurlik het ek haar en myself daarvan verlos.

En al het onse mense nou al vir donkiesjare nie meer ‘n kis op die solder waarin ons elke dan en wan kan gaan lê nie, het ek myself darem al male sonder tal in die verbeelding self so dood op die bed sien lê. Die prentjie van myself in my kop, laat natuurlik nie ruimte vir ‘n bossie plastiek blomme nie, nee, ek het in my hand, niks anders nie as ‘n paar van Klaradyn se skoentjies!

Annieka weet ook: ek word met die goed begrawe. Nie vir stof en roes en mot om dit by te kom nie – miskien word daar eendag vir my die uitsondering gemaak dat ek dit met my kan saamneem.

Wat egter nie ‘n miskien is nie, maar ‘n feit, is dat ek, sou ek eendag die geld en voorreg hê om ouetehuis toe te gaan, die drie skoentjies, so seker soos ek leef, saam met my sal neem.

Drie?

Ja, ongelukkig net drie.

Die een moes ‘n maand of wat gelede van die kassie langs my bed afgeval het.

Ek het dit dadelik gemis, maar gereken dat Klaradyn seker met die een gespeel het – ‘n drawiegie vir ‘n poppie of iets, byvoorbeeld.

Toe ek teen gister darem nou ook al lank genoeg reken dat lank genoeg nou lank genoeg is en dat sy my skoen gerus op sy plek kan kom terugsit, moes ek hoor sy het hom nooit gehad nie.

Dis duidelik soos daglig wat gebeur het – die kamer se snippermandjie staan direk teen die kassie, aan die teenoorgestelde kant van waar die bed staan. Die skoen het ongetwyfeld van die kassie af, reguit in die mandjie geval en sy weg vullishoop toe gevind.

Hoe sleg dit vir my is, kan en wil ek nie in woorde omsit nie.

Dis aardse goed ek weet, maar my brose hart is nie aards nie, dis vlees en bloed, van gevoel en emosie en liefde en onthou aanmekaargesit.

Vir die res van my lewe is daar, onder andere langs my bed,  nou ‘n gat wat met geen pleister toegeplak kan word nie.

Ek het geen probleem daarmee om uiteindelik te word wat ek was nie, maar as daardie voorreg en geleentheid om ordentlik en voluit te word wat ek was, my ontneem word, is dit nie vir my lekker nie. Ek het daar geen behae áán of ín nie.

 

12.8.13

Romaanse roompies en taaipitgeelperskeskywe


Dat ek toe nou amper 50 moet word voor ek vir die eerste keer in my lewe kopkool gaar maak!

Waarom tot op amper 50 wag?

Dit hou seker verband met die feit dat ek dit nooit ooit by my ma aan huis geniet het nie. Party van die goed wat sy nooit gemaak het nie, is vandag van my gunsteling gunstelinge.

Soos mieliepap byvoorbeeld.

Iewers tussen standerd 3 en standerd 8 (na ons uit die huis uit, maar voor ons in die meenthuis in was, weet ek het my ma ‘n enkele keer vir die huisbediende gevra om vir haar ‘n stywerige mieliepap aanmekaar te slaan. Daardie aand sny die mieliepap toe in dikkerige vingers en draai daar repies spek om. Toe daardie spekvleis vingertjies pap ‘n rukkie later uit die oond kom, toe sit ons met die lekkerste smulhappies denkbaar.

Dit was egter nie net die eerste keer nie; dit was ook die laaste keer.

Ons het nie eers mieliepap vir ontbyt gekry nie. Ek vermoed dis omdat mieliepap vir haar soos koshuiskos wat ‘n mens eers as jy uit matriek is, nooit weer wil eet nie, was. Dis net dat my ma haar ganse lewe nooit in ‘n koshuis was nie! Sy moes eenvoudig net te veel daarvan as kind ingekry het, en toe sny sy dit heeltemal uit haar verwysingsraamwerk uit , die oomblik toe sy groot en oud genoeg word om haar eie sê te hê.

En na ‘n kindertyd met ‘n enkele keer se pap aan moedersknie en –huis, is mieliepap vandag een van daardie goed wat ek drie keer ‘n week, drie keer ‘n dag sal eet sonder om te kla. Stywepap, slap pap, poetoepap, krummelpap... pap en melk, pap en sous, en as daar nie sous is nie, pap met botter en kruie en allerhande speserye, pap en gerasperde kaas, pap en Marmite, en in sy eenvoudigste vorm: pap met ‘n knippie Aromat. Koningskos.

Maar dan is daar ook ander goed wat jy nooit as kind leer ken nie, en dan as jy groot is, as jy self die dag jou eie sê ontwikkel het, ook nooit by uitkom nie. Onbekend maak nie onbemind nie, dit bly bloot onbekend. Soos in my geval met kopkool loop gebeur het.

Anders as met mieliepap wat darem eenmalig tegelyk ‘n debuut én swanesang in die kombuis gehad het, het ‘n kopkool, in watter vorm ook al, nie ‘n enkele keer die oond, of die yskas getref nie. Ja, nie eers die yskas in daardie moerby slaai van koolrepies, mayonnaise en ‘n rosyntjie of wat nie.

So stop jy my ‘n kopkool in die hand, sal ek nie weet wat om daarmee te maak om daarvan ‘n dis te maak nie. Kopkool is vrouens wat met pynlike rede sukkel om te borsvoed, maar wat en hoe, hoeveel en wanneer, hoeveel keer en hoeveel keer nie, weet ek nie.

En dis vir haaskos.

Dis ook hoekom ek een of twee keer ‘n week vir meer as twee jaar nou al met ‘n kopkool by die huis aankom.

Nie vir mastitis nie, vir Klaradyn se konyne. Of is dit nou haar hase? Ek weet daar is ‘n verskil, en ons het twee van die een en nie van die ander nie. Maar watter een wátter is, en wat dit is wat ons het, weet ek lankal nie meer nie.

Aan ‘n heel groot kopkool teen R8-00 by Uitkyk-slaghuis gekoop, eet die hase/konyne ‘n goeie vier keer van – ek sny die ding in kwarte en Klaradyn dra dit saans hok toe aan. Die meeste R8-00-kopkole koop ek egter by Spar, en aan hulle eet die troeteldiere net twee keer, met hoogste uitsondering miskien drie keer.

Die ding egter self gaarmaak? Nooit.

Tog moet dit iets wees wat Suid-Afrikaners baie gaar maak; daar is oralster, áltyd, báie van op die rakke. En ek laat my nie vertel dat dit alles deur sotte soos ek vir troeteldierkos aangekoop word nie.

Waarom dan amper 50 word, ‘n amperse 50 waarin jy dit ampers nooit geëet het nie, en dan skielik eendag uit die bloute met twee oorgewig kopkole by die huis aankom, een vir die wollerige wit goed in die hok buite die huis, en een vir jouself, jou vrou en jou kind.

Ek wend Maandagoggend 06:00 tot Vrydagmiddag 14:00 ‘n doelbewuste poging aan om gesond te eet. As dit nie was dat ek ‘n dieet met die afweeg en afmeet van porsies kos assosieer het nie, sou ek kon sê dat ek op ‘n baie streng dieet is.

Maar nee, ek meet of weeg niks af nie; ek sorg net dat ek gereeld en gesond eet. Vyf keer ‘n dag as jy die pouse-vrugte en agtemiddag-vrugteporsie as peuselhappies byreken.

En al sit ek nie my kos op ‘n skaal nie, sorg ek dat ek self elke oggend op een klim, met ‘n pen en papier, om die vordering (of omvang van die naweek se terugslag) aan te teken.

En na drie weke begin ek toe uit groente hardloop. Ek kan twee keer ‘n week spinasie eet, ek kan drie keer ‘n week spinasie eet. Ek kan spinasie en groenboontjies al om die beurt afwissel. Nie Annieka nie. Ook nie Klaradyn nie.

Hulle sal botterskorsie, skorsie en pampoen, al om die beurt, élke keer met kaneelsuiker, wil eet. Ek nie.

Saam met die soeke na ‘n nuwe groente vir die gesinsmaal, verdrink ek toe boonop week lank in heimwee en nostalgie.

Dit alles begin met ‘n Facebook-vriendin wat ‘n foto uit haar kinderdae op Facebook plaas. Ek en sy het seker vir ses of sewe jaar van ons lewens smiddaes na skool om dieselfde tafel broodjies vir middagete voorberei. Gesmelte kaasbroodjies, met grypie blatjang op die brood gesmeer, en katjiebotter-met-appelkooskonfyt-broodjies was my twee gunstelinge.

So nou en dan, hoogstens op ‘n Vrydag, en ook nie elke Vrydag nie, was daar ‘n geheime verbode lekkerte:  ‘n broodjie met DRIE goed op – katjiebotter, appelkooskonfyt én kaas; blatjang, gebraaide skyfies polonie én gesmelte kaas.

O, dit was die lekkerste van lekkerstes, daardie rojale broodjies, met nie twee goeterstes daarop nie, maar DRIE. Dit het gewone kos, koningskos gemaak.

Haar foto neem my toe meer as 35 jaar in ons gedeelde verlede in, en oor ons die vorige naweek deur Warmbad (waar haar Ouma gebly het, en ek hoeka toe teruggedink het aan die kere wat ons daar by haar Ouma gekuier het) gery het, klim ek toe weer in my gedagtes saam met hulle in die pruimkleur Mercedes Benz en sit af Warmbad toe vir ‘n heerlike kindertyd kuier by hul Ouma.

Sy was ‘n ouma in ‘n rolstoel, en ‘n voorslag kok. En sy het die lekkerste kopkool gemaak wat ek ooit in my lewe geëet het. Behalwe vir die weermag en die enkele koshuisetes wat ek in my lewe gehad het, dink ek sy het, nie net die lekkerste kopkool in my lewe gemaak nie, maar ook die enigste kopkool ooit in my lewe gemaak.

En haar kopkool het ek ook net hoogstens drie keer in my lewe geëet. Want dis hoogstens drie keer dat ek saam met die pruimkleur Mercedes Benz deur is Warmbad toe.

Al wat ek onthou is dat dit ‘n gebakte dis in ‘n Pyrex-bak met ‘n deksel was. En dat dit anderkant heerlik verby was.

Die drie hoofbestanddele vertel my gesonde verstand en die bietjies onthou wat ek het my, was dun repies kopkool, melk en eiers. Maar in watter verhouding en met wat daarby, sal ek nie weet nie.

Ons rit verlede naweek deur Warmbad, ‘n katspoegie van waar die tannie gebly het, tesame met die foto wat my vriendin geplaas het, veral nadat ek toe weer na haar ander kindertydfoto’s op Facebook, onder andere ook van haar ouma, gaan kyk het, had my toe so kwylend agter daardie Warmbad-kopkool aan, dat ek deur nagenoeg 35 kookboeke van my eie is op soek na iets wat aan daardie tannie se kool herinner.

Onverrigtersake van my eie boekrak af weg, is ek toe die kuberruim in en loods ek die een soektog na die ander met “cabbage” en “kopkool” of “blaarkool” as trefwoord.

Die naaste wat ek kon kom was hierdie heerlike resep van Martha de Lange op wateetonsvanaand.co.za:

1 middelslag kopkool
 250 ml gerasperde cheddar kaas
 250 ml sagte witbroodkrummels
 4 repe ontbytspek gesnipper
 4 eiers geklits
 125 ml melk
sout en peper na smaak

 Kerf die kopkool fyn en kook in soutwater tot sag.
Dreineer die kool baie goed.
Voor die verhit oond op 180C.
Smeer vlak oondvaste bak met volume van 2 Liter.
Meng kool, kaas, broodkrummels, ontbytspek, eiers en melk.
Geur die mengsel met sout en peper.
 Skep in skottel en bak vir 1 uur of totdat die eiermelk gestol het.
 Sit warm voor.


Dit was heerlik, maar glad nie naby of soos dit wat ek uit my kinderdae op Warmbad onthou nie.

Een resep, tussen die baie wat ek gelees het, was ‘n ware moerby-resep. Jy pak die repies koolblare in ‘n bak, en soos jy inpak, strooi jy ook ‘n pakkie uiesop-soppoeier by. Dan moer jy ‘n kannetjie ongegeurde jogurt by en bliksem alles in die oond by 180 grade vir ongeveer ‘n halfuur.

En nóú, 1 533 woorde later, is ek uiteindelik waarby ek wil wees: die eenmalige moerby-resep wat my ma, toe ons nog in die woonstel was (iewers tussen standerd 3 en standerd 8) een aand gemaak het.

Ek was lus vir kosmaak en het vir ons die grootste tongvisse wat ek nog ooit in hul velle op ys raakgeloop het, gekoop. Daarmee saam, soos altyd, twee bygeregte, spinasie en sampioene.

In die ou dae sou dit geroomde spinasie en sampioene met ‘n room-en-sjerrie-sous gewees het; in die nuwe bedeling word dit sampioene met laevet-fetakaas bygekrummel, die sampioene kry steeds ‘n suiwelsousie, maar nie van room nie, van melk. Die sjerrie was op, toe kry dit ‘n skeut van die eerste, beste, naaste bottel waarop ek my hand kon lê.

Met die dat ek lank moes wag vir die seemonsters om van hul koppe en velle gestroop te word, loop ek toe lang en wye draaie in die winkel. Dis koud en nat en ek besluit die girls kan op poeding ook trakteer word. Ek oorweeg egter nie om iets te bak nie, dis al na 18:00 en ek moet nog huis toe en alles begin.

Dis toe dat ek my mammie se eenmalige moerby-resep uit die jare sewentig van die vorige eeu onthou. My ma was ‘n puris en sou nie eers voorafbereide vla koop nie, ‘n kortpad het sy nie geken nie. Sy sou in haar lewe nooit daardie konkoksies waar jy ‘n pak Simba-skyfies oor jou groenteskottel krummel, of ‘n hoender in ‘n bottel Coke gaar maak, oorweeg nie.

‘n Warm poeding was ‘n warm, gebakte poeding, Jan Cruywagen-poeding, Japie se gunsteling, Malvapoeding, asynpoeding, die lekkerste roly-poly denkbaar; beslis ook nooit hierdie goedjies wat jy in ‘n boksie koop met twee of drie verskillende sakkies in nie, dan kom die eier by die een, die water by die ander en ‘n bietjie melk by die derde nie.

Iemand by die werk moes haar egter van daardie aand se poeding vertel het, en die persoon moes baie oortuigingskrag had dat sy inderdaad so ver gegaan het om dit op die proef te stel.

Ek weet ook, was dit lynreg teen haar aard en beginsels nie, sou sy die poeding weer en weer bymekaar gemoer het, want dit was heerlik.

Meer as dertig jaar later, na ons tongvis en groente, was dit nog net so lekker:

Jy koop een pakkie Romany Creams en een groot blik perskeskywe. Jy week die koekies in die stroop dat dit van die sous kan begin optrek. Dan pak jy die koekies op die bodem van ‘n bak wat groot genoeg is dat die koekies die bodem bedek. Ek en Klaradyn het die koekies platgedruk met die rugkant van ‘n lepel. Toe pak my meisiekind die perskeskywe mooi oor die sjokoladekoekie-onderlaag. Ons het nog so bietjie van die stroop oorgegooi.

Toe die tongvis uit die oond kom en ons sit aan om te eet, toe sit ons die poeding in die oond.

Gelukkig was ek nie naby die houtkissie met die ouvrou se as nie, ek sweer ek sou dit hoor ritsel het, toe ek die boksie  Ready made, real diary, custard oopmaak om saam met die poeding te bedien.

As die lus vir ‘n warm poeding jou ooit oorval wanneer jy nie tyd of krag of lus het om met goeters soos bakpoeier en meel en kremetart te sukkel nie, probeer gerus hierdie moerby-poeding uit die middeljare sewentig van die vorige eeu.

 

5.8.13

'n "Moederhart," soos Ouma van Wyk dit genoem het



Klaradyn sal dan nou lewenslank net Klaradyn bly.

Ek en my broer is lewenslank net ek en my broer.

Maar benewens nou vir ‘n miskraam of wat, was ons twee, was dit nie vir die stil geboorte ‘n klompie jare voor my geboorte nie, so ampertjies drie, en het ons ‘n sussie gehad.

Ek weet van hierdie sussie bitter min; nie eers wat haar naam sou wees nie.

Sy is die somtotaal van enkele telegramme en kaartjies toegedraai in pers lint in my ma se kas, en ‘n speelding of twee waarmee ek groot geword het (en toevallig steeds het) wat ek van die begin af weet vir my doodgebore sussie bestem was.

Daar is seker ‘n mediese naam daarvoor, maar ek het grootgeword met die verstaan dat die naelstring om haar nekkie gebind was toe sy in die geboortekanaal afbeweeg het en verwurg het voor sy die eerste lewenslig kon aanskou.

En dan weet ek ook dat dit vir my ma verskriklik was, sy het die baba nooit gesien nie, en toe sy uit die hospitaal ontslaan is, toe is die mondeltjie lankal klaar begrawe.

Hoe ek aan die storie gekom het? Die sny op Ma se maag, hoe anders?

Ja, na hierdie tragedie, toe ek na een of twee miskrame later my ma-hulle se jongste word, was dit ‘n keisersnee.

En kinders het mos die geneigdheid om oor sulke snye uit te vra.

My ma het my vertel en hoe hulle nie die gevaar van ‘n herhaling met my geboorte wou loop nie.

Ook dat dit, soos met my sussie, Koos Koekies was wat gehelp het met die bevalling.

Waar Koos Koekies aan sy naam gekom het, het ek nooit gevra nie. Ek het al die jare maar gedog sy naam is Koos Koekies, soos ek Hans Moolman en jy byvoorbeeld Riaan Poggenpoel is.

My ma het my ook nooit vertel nie; ek het maar soos die jare aangestap het en my woordeskat en verwysingsraamwerk uitgebrei het, een en een bymekaar gesit en begin verstaan waarom my ma altyd so effe gelag het as sy van haar ginekoloog, Koos Koekies, gepraat het.

Dat my ma nooit “closure” gekry het oor die stil gebore sussie van my nie, is te verstane. Sy het genoem dat sy nooit eers die graf kon gaan besoek nie. Die een oomblik het sy nog nege maande saam met die gehad, en die volgende oomblik was daar niks, nie eers ‘n gesig of ‘n kreet en enige beeld van welke aard ook al nie.

Ek het destyds gewonder of sulke babetjies ooit begrawe is.

Hoe sal ek ooit weet.

En toe lees ek nou die anderdag die volgende opmerking op ‘n vriendin se tuisblad:

18 Julie om 09:57 NM op BlackBerry ·

Akward moment- Wanneer jou kind se maatjie se ma regtig nie van jou hou nie. En jy moet haar bel vir 'n oorslaap-aand. Ek ondersteun my kind se keuse in maats. En aan die ander kant, dis eintlik snaaks hoe hard die ma's probeer hoflik wees met mekaar. Sy kon net nie help om 'n mismoedige "O dis jy" sê toe sy hoor dis ek wat haar skakel nie. Ek moes keer om nie te lag nie.

En dit het my gedagtes ver terug laat gaan.

Soos enige iemand wat die opmerking gelees het, kan voorspel, begin my vertelling met iets soos:  “Ek het ‘n maatjie gehad.”

Maar dis die vertelling, my vertelling; die stórie begin egter ‘n hele klompie jare vroeër, selfs nog voor óf ek, óf die maatjie se geboortes iewers in 1964, die nag toe my ma letterlik oornag grys geword het.

Die storie begin selfs enkele maande voor die naelstring om die sussie wat ek toe nooit gehad het nie, se nekkie gestrik het.

My broer was op die punt om laerskool klaar te maak, of het hoërskool pas begin; ek sal nie weet nie; in al hierdie jare was daardie stukkie van sy geskiedenis, my voorgeskiedenis, nog nooit deel van ‘n enkele van ons gesprekke nie.

Miskien moet ek hom vra of daar ‘n begrafnis was.

En al het ek my verstand gekry met die storie van Ma wat oornag grys geword het (of dit waar is sal ek nie weet nie, dit het voor my geboorte gebeur) het ek die res van die storie stuk-stuk, en ook maar net ten dele, gehoor teen die tyd dat ek self klaar met hoërskool is; ek dink trouens ek was al klaar studeer en uit die weermag passeer voor my ma my agter die kap van die byl ingelaat het.

Die maatjie het ek egter op laerskool al leer ken, ons was twaalf jaar saam op skool, so dis heel moontlik dat ons nog saam in dieselfde graad 1-klas was.

Hy het sowat ‘n minuut se stadige stap van die laerskool se een hek gewoon.

Beste maatjies was ons nooit, goeie laerskoolmaats wel. Ons het oor en weer gespeel, verjaarsdagpartytjie gehou en ek onthou veral hoe lekker dit was om by hom aan huis te gaan swem.

Sy pa kan ek glad nie onthou nie. Ons het nie Saterdae gespeel nie; kuier was tot smiddags na skool beperk. En dan het die Tannie by ons kom tee drink as sy hom kom optel het, of my ma het daar by die Tannie tee gedrink as sy my kom optel het.

Later jare, toe my ma en haar suster ‘n rokwinkel gehad het om ‘n inkomste te genereer, het die tannie, onthou ek reg, ook van tyds tot tyd by ma klere gekoop.

Maar dat dit hierdie tannie was, my maatjie se ma, wat my grys hare gegee het, het ek daardie nooit geweet nie.

Ook seker nie tannie nie, maar eerder dan my my peetpa, Oom Kobus, wat haar die grys hare gegee het.

Want dis my peetpa, Oom Kobus, wat by hulle gekuier het, wat my pa ingestuur het na my ma toe, ingestuur het na my ma toe terwyl sy reeds hoog swanger was met my sussie, met die nuus dat hy van my ma gaan skei sodra die kind gebore is – hy het ‘n verhouding met een van sy sekretaresses en sy gaan ook haar man los sodat hulle twee die toekoms wat hulle vir hulle begin het, kan voortsit.

Kinders weet mos nie van letterlik en figuurlik nie – die beeld wat kleintyd in my kop gevorm is, is dat ma oornag grys geword het, sy het met haar hare nog bruin die aand kamer toe gegaan en die volgende oggend, na oom Kobus se gesprekvan die vorige aand, grys, spierwitgrys, wakker geword.

Miskien was dit nie die geval nie, maar feit bly staan dat sy in hierdie tyd spierwit grys geword het en ons gesin dit lewenslank gehad het dat dit van skok was.

My pa self het nooit eers ‘n wederwoord gespreek as sy laat val het dat sy mos oornag grys geword het nie.

Sy wou die ongebore kind wat in haar groei natuurlik nie meer gehad het nie. (En dis toe sy by hierdie deel van haar storie kom, die een enkele keer wat sy my dit vertel het, ek was al groot en uit die huis uit, dat sy begin huil het, grote, uitgegroeide, volwasse vrou wat sy was. Seker twintig of vyf en twintig jaar na die gebeure.)

Nie net wou sy die kind nie gehad het nie, sy wou sélf nie eers meer lewe nie.

Sy het met ‘n huisvriend, Oom Kobie Moller, gaan reël om na haar enigste kind, my broer (ek sou mos eers later kom) te kyk.

Die selfmoordgedagtes klink dalk melodramaties, ek weet, maar my was ‘n mens, was sy vandag ‘n tiener, wat vroeg met depressie gediagnoseer sou gewees het en miskien nog lewenslank medikasie daarvoor sou ontvang het.

Maar in die jare toe sy ‘n tiener en jong vrou was, was daar nie goed soos depressie en gemoedsversteuring nie. Sy was trouens al sestig, op pad sewentig toe, toe sy een dag ‘n tydskrifartikel oor die toestand onder my neus druk, met haar vinger wys en sê:  “As dit wat daar staan, waar is, dan lei ek my lewe lank aan die ding wat hulle daar beskryf.”

Ek het afgekyk en gesien hulle lys ‘n spul simptome van die ding waarvan my ma altyd gesê het ”daar is nie so ‘n ding soos dit nie.”

Ek kon geantwoord het dat ek haar al twintig jaar vantevore kon gesê het sy lei aan depressie, maar ek het nie.

Twintig jaar later het gedink sy móés net sê dat daar nie so iets soos depressie is nie. Dis immers beter om die blote bestaan daarvan te negeer, as om te moet erken dat jy al vir jare daarvan las het.

Na die stil geboorte het daar van die egskeidings niks gekom nie, nóg van haar en my pa se egskeiding, nóg van my pa se een sekretaresse en dié se man.

‘n Jaar of wat later het elke gesin besoek van die reier gehad en sewe jaar later is die twee seuntjies skool toe gestuur.

En daar wil die noodlot dit hê dat die twee maatjies word, nie beste maatjies nie, maar goeie maatjies wat oor en weer kuier.

En in die vyf of ses jaar wat ons oor en weer gekuier het, in die vyf hoërskooljare wat ons uit mekaar gegroei en elkeen sy eie rigting ingegaan het, het my ma niks, maar niks laat blyk dat dit hierdie maatjie van my se mamma is wat die derde party in haar huwelik met my pa was nie...

Met watter herinneringe moes my ma nie die vrou by ons in die huis innooi as sy haar seun kom optel het nie? Hoe moes my ma nie voel, elke keer as sy daar gestop het om my op te tel nie? As ek gevra het om by hierdie maatjie wie se mamma ‘n ruk gelede by my pa op kantoor gewerk het (dit het ek darem van die begin geweet) te gaan speel?

Wat ‘n ma se liefde vir haar kind, in besonder ons ma, Judith Jacoba Moolman, se liefde vir my en my broer, nie alles moes akkommodeer nie, gaan op amper 50 steeds dikwels my verstand te bowe.

Ek het seker ‘n goeie dertig jaar gelede al in my kop ‘n metafoor daarvoor gekry: ek het gesê, en sê dit steeds, my ma sal (of dan nou sóú) die klere wat sy aan haar lyf het, op straat van haar lyf af, verkoop, solank sy net weet dat die handeling van haar in belang van my of my broer is.

Dan het ek die prentjie van my ma en ons gesin as ‘n Europese slagoffer van die Tweede Wêreldoorlog gesien. Ek het gesien hoe sy, altyd in beelde van ‘n swart-en-wit fliek, deur die puin loop op soek na kos vir haar twee kinders. Dan is daar iemand wat haar ertappels te koop aanbied. Omdat sy egter nie geld het om te koop nie, is dit dan wat sy die klere onder haar verslete jas, helder oordag en ten aanskoue van almal, uittrek en vir die een met die ertappels gee.

Sodat Hansie en Jacie kos kan hê om te eet.

Daardie selfde liefde herken ek vandag, noudat Judy al amper twee jaar nie meer met ons is nie, dikwels ook in Annieka.

Ek was, en Klaradyn is, twee baie gelukkige kinders, geseën met wonderlike mammas.

 

28.7.13

In liefdevolle herinnering aan Tannie Susan


Op ons 20 jaar re-unie het ek iets wat die meeste van ons wat nie meer nat agter die ore is nie weet, besef: jy kan mense vir die eerste keer in meer as 20 jaar sien, en dit sal wees soos gister, asof daar nie ‘n halwe leeftyd tussen gister en vandag lê nie.

Ek het dit beleef met iemand wat voor matriek verhuis het, ons het mekaar in meer as 22 jaar nie gesien nie; tog was lyftaal, steminfleksie en die klas van ding letterlik só bekend, dat dit was asof ons mekaar nie na ‘n halwe leeftyd weer vir die eerste keer sien nie, maar na die April- of Julie-vakansie.

Ek het al soortgelyke ervarings met musiek ook gehad.

Met die dat ek ‘n ’64-baba is, sal my musiek altyd die musiek van die tagtigs wees – tot net voor High Energy die musiekfront begin oorheers het.

Dit gebeur dikwels dat ek ‘n liedjie vir die eerste of tweede keer sedert my universiteitsdae hoor, en dadelik is dit asof die musiek die verlede opvreet soos ‘n voetganger sprinkaan als wat groen is opvreet – die jare verdwyn net, die afstand krimp tot niks nie.

Ek het agtergekom dit werk nie so met klere nie. Ek het twee weke gelede my troupak weggegee. Ek het hom een keer aangehad, maar dit was na net meer as ‘n jaar, en hoeveel jaar gelede is dit nie al nie, duidelik dat ek nooit weer daarin sal pas nie.

En tog het die hoop beskaam, vir soveel jaar.

Maar ook net tot twee weke gelede, toe is dit ook verby.

Selfs met party van verlede seisoen se klere is dit so – dis asof daar oornag 17 jaar tussen jou en jou broek kom uitstrek het.

Wat dit natuurlik nie is nie; dis 17 kilogram wat ongenooid tussen jou en jou broek kom inwurm het!

Maar dit daargelaat.

Dat dit met smake is, presies soos dit met vriende en musiek is, sou ek egter nooit kon sê nie.

Vandag kan ek inderdaad daarvan getuig.

Ek het tot ek nou die dag van my troupak ontslae geraak het, hier teen standerd 9 laas (maar dis tien teen een nader aan standerd 6 of 7) van Tannie Susan se tamboesietert geëet.

Ek weet nie wie ken tamboesietert uit die jare sewentig van die vorige eeu nie, in die besonder Tannie Susan se tamboesietert nie.

Ja, die naam lui dalk ‘n klokkie – lui huisvrouens koop deesdae via ander huisvrouens en hul tuisnywerhede sulke langwerpige plakkies gekoopte skilferkorsdeeg met so ‘n flouerige lekseltjie custard (met water aangemaak, wat anders) tussen die twee plakkies gelaatstaan. Dan kom daar bo op so katspoegie wit soet icing sugar, amper soos dit wat ‘n mens partykeer op oliebolringe kry.
 

En dan het hulle die vermetelheid om hierdie kortpad commin custard slices van hulle tamboesietertjies te wil noem. Dis soos om voetskimmel, Gorgonzola te wil noem, net omdat jy jou verbeel iemand het eenkeer genoem dat die skimmel wat in beide aangetref word, moontlik verlangs van mekaar familie is!

Dis ‘n klap in die gesig van ‘n rasegte opreggeteelde tamboesietert uit die jare sewentig, ‘n klap in die gesig van Tannie Susan, haar ganse nageslag, en elke Suid-Afrikaanse baasbakster van formaat wat ooit ‘n tamboesietert gebak het!
 

Tannie Susan kon kosmaak, van speenvark tot sponserige souskluitjies, poetoepap, polenta, afval en eend, noem maar op.

Annieka het geen begrip vir my hebbelikheid om een maal elke jaar of wat twee sakke pere te koop en dit alles sagkens in rooiwyn, suiker en kruie gaar te stowe nie. Maar dit kom van Tannie Susan af. En dan sal sy by jou aankom met twee of drie van haar pere in ‘n Tupperware-bakkie. Koningskos.

Koningskos, alles wat sy gemaak het. Daardie jare is Tastic rys nog wyd en syd adverteer as ‘n bykos teen “minder as 3 sent ‘n porsie. Ek sweer dat selfs Tannie Susan se rys op ‘n Sondag by haar en Oom Servaas aan tafel het anders en lekkerder geproe as uit een van Ma se potte.

Oom Servaas het nog die voorsnywerk, of dit nou wildsbraad, lamsboud, kalkoen, hoender of eend was, self aan tafel gedoen. Nie net het die voorsnymes en –vurk gereed gestaan nie, maar selfs die ronde slypstaaf waaroor Oom Servaas die voorsnymes ‘n keer of wat behendig laat glip het, voor hy sy kerkhemp, met mansjetknope nog, so aks teen sy arm opgeskuif het, en begin voorsny het.

Ek kan boekdele skryf!

En so leer ken ek, uit Tannie Susan se oond, as jong laer- en hoërskoollat, haar tamboesietert. Die voorreg was my ook maar net seker so hoogstens vier of vyf keer beskore. Dis nie of Tannie Susan vir die tuisnywerheid gebak het nie, dis maar as jy daar kom vir ‘n verjaarsdag of tee, of as sy ‘n tert as present aanbring. Laasgenoemde het sy gereeld gedoen – maar daar was soveel verskillende lekkernye wat sy aangedra het, dat sy nooit ‘n tweede keer met dieselfde dis by jou sou opdaag nie.

En toe word ek groot – standerd 8 miskien, nou loop kuier ‘n seun nie meer saam vir koek en tee by ouers se vriende nie, jy het ander belangriker grootmensdinge om te doen. En dit was die laaste van Tannie Susan se tamboesietert.

Tannie Susan, my ma se heel beste vriendin, sou eers baie jare later, maar nou ook al jare gelede, haar stryd teen die kanker in haar liggaam gewonne gee, maar nooit weer sou ek taboesietert proe nie. Ek is matriek uit, universiteit toe, weermag toe, my eie rigting in.

Ek het gereeld by die oues se yskas gekom en dan was daar ‘n ietsie van Tannie Susan, maar tamboeietert? Nooit.

As jong onderwyser het ek gereeld tuisnywerhede besoek en geloer of ek nie tamboesietert raakloop nie. Ek het selfs van tyd tot tyd en plek tot plek gevra, maar niks raakgeloop nie. Dis hoe ek agtergekom het dat sleghuisvrou kortpad Danish custard slices wat van water en gekoopte skilferkorsdeeg aanmekaar geplak word, kwansuis tamboesies genoem word.

Toe ek na haar dood ‘n hele paar van Tannie Susan se kookboeke present kry, het ek eerste deur almal gegaan om te kyk of ek nie êrens ‘n tamboesietert opspoor nie, maar verniet. Die vrou se Kook en Geniet, wat deur die jare met reseppies op elke oop plekkie aangevul is, die kookboek met die talle los velletjies in haar eie en baie ander se handskrifte, is natuurlik familie-erfstuk, waardevoller nog as die Britse koningshuis se kroonjuwele.

Die vorige keer dat ek tamboesie ge-google het, het dit ook niks opgelewer nie. Ek kon nie eers taalkundig agter die oorsprong van die woord kom nie!

Om ‘n lang storie kort te maak: by iemand wat ek laas gesien het toe ek nog op skool was, se Facebook-blad spoor ek die gesig en naam van Tannie Susan se dogter op. Nou Tannie Susan se dogter het ek nooit eers in haar hoërskoolklere gesien nie – sy was al groot en uit die huis uit van ek my verstand het.

Maar hier het ‘n skoolvriend, self ‘n goeie jaar of wat jonger as ek, Tannie Susan se dogter in sy vriendekring.

Ek dink nie, ek kwyl. Ek skryf:

15 Junie 04:53 NM

Halo, Elma Ek het nie vir een oomblik gedink ek gaan jou hier opspoor nie. Jou ma het 'n tert gebak wat sy Tamboesietert genoem het. Ek soek al jare na daardie resep, maar niks wat ander Tannies "Tamboesie" noem, is jou ma se ronde pienk tert nie. Wat is die kanse dat jy hom het? Ek het enkele van jou ma se kookboeke, een of twee wat ek gereeld gebruik, maar haar Tamboesietert, vermoed ek, sal in haar handskrif iewers neergeskryf wees. Beste wense Hans Moolman

My vriendskapsversoek word aanvaar. Maar ek hoor niks rondom my skrywe wat die vriendskapsversoek vergesel het nie.

Ek vergeet nie, ek werk daaraan om te vergeet, ek onthou om te onthou om nie te onthou, maar kan nie vergeet nie.

En toe, twee, drie weke later, toe kry ek, een middag toe ek agter die rekenaar vasgeval sit, die volgende verblydende boodskap:

24 Junie 03:23 NM

Hallo Hansie, Jy het gevra vir Ouma San se Tamboesietert resep?! Ja, ek het hom, maar ek sou dit eerder per e-pos wou aanstuur - sodra jy die adres vir my gee, sal ek so gou moontlik die resep pos. Laat dit verder goed gaan met julle - hier by ons is dit maar lekker koud en nat!! Groetnis, Elma

24 Junie 05:04 NM

Ek kan nie glo wat ek lees nie, ek kan nie glo wat ek lees nie, ek kan nie glo wat ek lees nie! hans.moolman@wonderpark.co.za Jy is 'n ster. Baie dankie. Alles wat mooi is. Ons wag nog vir winter, maar ons kla nie.

Beste wense

Hans

Ek sien nou, toe ek die gesprek oopmaak, dat dit nie twee of drie weke later was nie, maar dis beslis hoe lank dit gevioel het.
 
En so gaan dit toe aan, nie via Facebook nie, maar my e-pos-posbus:

Hansie,

Hierdie Tamboesietert was en is nog altyd ook my grootste gunsteling van al haar resepte.

Dit was vir my die lekkerste, lekkerste tert op aarde!!

Ek hoop jy kan dit mooi lees. Ek sien die heel laaste sin is bietjie onduidelik. Daar staan:

Voeg geursel en botter by. Gooi uit in gevoerde bak (dis nou met ¾ van die deeg).

Die pienk versiersuiker wat sy van praat is ‘n bietjie rooi kleursel by die versiersuiker (dit moet net ligpienk wees).

Geniet dit en laat weet asb. of dit soos hare gesmaak het!!

Groetnis,

Elma

Ek antwoord dadelik:

Ek is mos maar ‘n sissie, nog altyd gewees, dis met blink in my oog dat ek dankie sê.

Weet jy hoeveel jare ek wonder en vra en soek!

Ek sal laat weet.

Dis skoolvakansie, ek gee op die oomblik onderwysopleiding tot Woensdag, maar ek voorsien die gesin eet Donderdag hierdie tert.

Dit is werklik spesiaal. Uit my hart baie dankie.

Hans

En ‘n dag of wat later:

Elma

Die room, pienk en versiersuiker moet ek nou eers uitklaar.

Die vulsel kry ‘n koppie en ‘n half room of idealmelk, saam met dieselfde hoeveelheid melk.

Dit maak dat ek minimum twee kannetjies room (250 ml elk) moet koop om 375 ml vir die vulsel te kry.

Nou bly daar 125 ml room oor, vir bo. Of moet ek drie kannetjies koop 750 ml in plaas van 500 ml koop, dan het ek 375 ml vir vulsel en 375 ml vir versiersuiker en pienk?

Onthou, en jy moet nie lag nie, maar al wat ek van die tert onthou, is:  sy naam, dat daar pienk bo was, dat daar ‘n vulsel tussen twee lae was en dat dit die lekkerste lekker was. As jy vir my sou vra of daar caramel essens ingekom het, sou ek nie kon sê nie, ek het hierdie tert, op die laatste, laas in 1982 geproe, ek dink  egter dit was nader aan 1978 of 1979.

So ek kan nie die pienk room se vorm onthou nie, die resep, vra dat die room geklop moet word, so ek wil dit pienk en soet en geklop bo op ‘n koue tert sit.

Of is dit op ‘n warm tert gesit, en het dit in die boonste laag van die kors/deeg ingetrek. (Verwar ek dit met daardie appeltert wat daardie jare so gewild was, met die warm room en suiker en botter wat jy bo oor gooi as die tert uit die oond kom?)

So ek het twee vrae:  hoeveel room vir bo, en hoe gaan dit op (op iets warms of iets kouds)?

Terwyl ek Maandag so met jou gesels, SMS my vrou dat sy in SPAR is en of sy iets moes kry; toe SMS ek:  karamel essens, room en pienk voedselkleursel.

So, ja, ons het Maandagaand tamboesietert gebak en ek het Dinsdagoggend 05:30 voor ek werk toe gaan met ‘n moewiese stuk tamboesietert in die bad geklim – geklopte room bo op, op ‘n koue tert geplaas.

Selfs al was dit miskien verkeerd, was dit steeds heerlik.

My bord was te klein, maar gelukkig hoog; wanneer ons hom weer maak, sal ons die regte tertbord gebruik.

Die geur en die smaak, is presies wat ek onthou, dit was ‘n terugruk tot in die baarmoeder wat New Redruth in die jare 70 was – onbeskryflik en iets wat my gesin niks van sal verstaan nie.

(Annieka, my vrou, het toe Dinsdag vir die eerste keer sedert skooldae haar ouma se vlakoekies gebak en ‘n soortgelyke ervaring gehad... wat ek toe nie 100% nie en net “soorts van” kon verstaan.)

Vanoggend is ek weer bad toe met die laaste van my eerste, maar beslis nie laaste nie, tamboesietert.

Nogmaals, en ad infinitum, baie baie dankie.

 

Hans

Elma antwoord:

Naand Hansie, julle probeerslag klink so lekker - sjoe, jy maak my skoon jaloers!! Ek sal ook bietjie moet uithaal en wys!!
Wat die room aanbetref, ek sou in totaal net 2x 250ml gebruik, waarvan 125ml saam met die versiersuiker gebruik word. Ek onthou dat die tert afgekoel was voordat die pienk versiersel oorgegooi is, anders kan hy dalk skif (ek is nie so heeltemal seker nie!).
Ek het vanaand ook vreeslik na 'ou Suzie' (dis net 'n liefdesnaam in ons huis) verlang, want ek het haar Kerrieafval en Stampmielies gemaak! Aai, ek wens Oumas en Ma's kon langer geleef het - ek het so baie om te vra en te vertel (veral noudat ek self kleinkinders het!!).
Julle moet 'n lekker rustige aand he! Groetnis, Elma

 
En dis hoe ek agtergekom het dat vriende, gesigte, liedjies, die reuk van ‘n Volswagen-kewer se binnekant én selfs sekere smake, soos die van Tannie Susan se tamboesietert, almal een en dieselfde is: dertig jaar en meer kan hom tussen julle kom uitstrek, maar een enkele eerste herontmoeting daarna, en dis of daardie dertig jaar hoogstens ‘n oogknip lank geduur het.

Ek het die tert al ‘n tweede keer gemaak.

Ronde twee het ek nie versoete pienk geklopte room bo op gesit nie, maar versiersuiker, aangemaak van die room wat oorbly as jy twee 250 ml-kannetjies aankoop. Annieka en Klaradyn was hierdie keer gaande.

Dis nie maklik nie, verwysende na die deeglaag wat bo op moet kom – ek kan verstaan waarom lui en slegte huisvrouens vir klaar bereide blaardeeg gaan.

Iemand soos ek wat nie eintlik koeke en terte bak nie sal Tannie Susan dit nooit kan nadoen nie, maar selfs my floppies is hoogstens verbeterlik wat aansien betref, wat smaak en tekstuur en geur betref, kan ‘n mens nie beter as om haar resep te volg nie.

In herinnering aan Tannie Susan, ter ere aan die milde, gul hand waarmee sy allerhande lekkernye gedeel het, deel ek, sonder toestemming van haar dogter, Tannie Susan se tamboesietert-resep.

En geniet dit. Selfs al kan dit nie heimwee na die jare 70 by jou oproep nie, beloof ek dit sal steeds ‘n heerlike smaakervaring wees.