Pages

5.3.13

Die maatjie met die praatjie

Ek sê dit weliswaar met gemengde gevoelens, maar ek sê dit:  “So baie soos ek op skool van redenaars gehou het, so min hou ek nou daarvan.”
Op skool het dit eers in standerd 6 begin; deesdae is daar al Graad O’s wat aan kompetisies deelneem.
Destyds was ons skool se kompetisie in die hande van die Junior Rapportryers. Maar van die Junior Rapportryers, die Ruiterwag en die Broederbond het ons kinders niks geweet nie. Die Junior Rapportryers was verantwoordelik gewees dat die Sondagkoerante Saterdagaande laat reeds op straat verskyn en Sondae op pad Kerk toe gekoop kan word. Dis ook hoe ek dit destyds aan Aartsbiskop Tutu en die lede van die Waarheid- en Versoeningskommissie erken en bely, kyk maar self, volume 27, subparagrawe 3 576 tot 3 579.
Hierdie omies van Rapport se redenaarskompetisie was ‘n gesellige aand in die skool se personeelkamer, regtig net die een keer ‘n jaar wat jy as kind hierdie heiligdom van die personeel betree het. As Ma of Pa tyd oopgesien het om te kom, moes hulle ‘n bordjie eetgoed vir saam met tee bring. (Ai, dit was die dae toe die ouers nog self daarvoor ingestaan het, nie die tuisnywerheid, of later Woolworths, nie!)
Daar was ‘n handjievol sprekers en luisteraars en twee ooms van die Junior Rapportryers wat beoordeel en boekpryse aan die einde van die aand uitgedeel het.
Nou se dae is dit wat die destydse ATKV vandag uitgedraai het, wat die septer swaai. En dis groot, baie groot. Nasionaal. Internasionaal as ons Namibië en Orania byreken.
Ons laerskool hou oor twee aande uitdunne, een vir die juniors en een vir die seniors, daar is telkens nagenoeg 30 sprekers en die saal is gepak van mammas en pappas en ooms en tannies en oumas en oupas en boeties en sussies; die helfte van hulle tot die tande toe met rolprent- en televisiekameras bewapen. En dié wat dit nie daar het nie laai hul digitale kameras se magasyne met telefotolense wat die plaak op die sprekers se tande vir navorsingsdoeleindes kan afneem.
Gelukkig kan die selfone nie een lui nie, elke foon in die gehoor word gebruik om, óf backup vir die televsiekamera te wees, óf om die toespraak se klankbaan te minste op te kan neem.
Maar ek het vrede, want eintlik hou ek mos van redenaars.
Ek het as student al deur Wes-Transvaal gery en saam met die dramadepartement se personeel redenaarskompetisies gaan beoordeel. En toe ek eers begin skoolhou, van krag tot krag gegaan as kranige afrigter en beoordelaar.
Dis nou tot ek na so 12 jaar van redenaars bloot  na een provinsiale sessie besluit het: tot hiertoe en nie verder nie, ek weier om ooit weer te beoordeel, of dit nou plaaslik of vriendskaplik of onder ‘n naam of sonder ‘n naam is, ek het klaar.
Die kompetisie het net eenvoudig in alle opsigte handuitgeruk.
Dit was om van siek te word. En te bly.
Ek het die laaste een van my skooltoesprake self geskryf. Ek het geweet hoe om dit te doen, en ek het geweet hoe om dit goed te doen.
Goeie toespraakskrywers (en toevallig ook beoordelaars in die kompetisie waarvoor hulle jou van ‘n toespraak voorsien) lewer al langer as 10 jaar nie net meer ‘n getikte toespraak nie, nee, die kliënt word van ‘n opname ook voorsien, sodat die kandidaat die regte infleksies kan hoor en nadoen. En dan praat ek nie van ‘n klankopname nie – ‘n video-opname met die oog op die regte houding, oogkontak en effekberekende handgebare.
Ja, dinge het drasties verander.
Die dag toe ek die laaste keer beoordeel het, was die dag waarop ouers begin verneuk het om hul kinders in die lokale van húl keuse laat meeding, daar waar die regte beoordelaars met die regte voorkennis sit. ‘n Ander moeder het weer vooraf insae gekry in watter leerders van watter skole in watter lokaal praat, en toe aspris laat met haar kind daar aangekom, dit net sodat die kind in ‘n ander lokaal kan gaan praat as die lokaal waarin haar seun saam met ‘n vorige wenner moes praat. Sy was op die punt om hom as ‘n laat inskrywing in die betrokke lokaal van haar keuse te laat praat, toe iemand al 13 lokale se lyste daar had, en die kind se naam in ‘n ander lokaal opgespoor het.
In die film Hoofmeisie  is daar ‘n grap van gemaak, maar dit was inderdaad die middag waarop twee sprekers van twee verskillende skole, trouens een op Brits en een in Pretoria, met presies dieselfde toespraak daar opgedaag het.
Maar die organiseerders kon nie briek aandraai nie, die kompetisie bring geld in. Die beoordelaars kon nie briek aandraai nie, die kompetisie bring geld in en onder die tafel met al die skryfwerk en afrigting saam, bring dit nog meer geld in. En ek as onderwyser in beheer van ‘n span of enkele individuele sprekers wóú nie briek aandraai nie – skielik het ek na jare met ‘n buitemuurse aktiwiteit gesit wat niks van my tyd in beslag neem nie. Terwyl die hoof dink ek werk, leen ek my ore uit aan kinders wat vertel:  “Moenie wharrie nie Meneer, whatch net – my ma het klaar ‘n tannie gekry om alles te doen.”
Ai, en toe, na ‘n klompie jare van redenaars doen sonder om iets hoef te doen, is Klaradyn graad 1 toe. En hulle kry selfs iemand om ‘n kursus vir die ouers te kom aanbied oor hoe om jou graad-eentjie-parrabeentjie se toespraak vir hom of haar te skryf.
Ek stap daar weg en my gesonde verstand sê vir my ons spring nou nie net op een nie, maar sommer op twee verkeerde voete weg wat elk op sy beurt verklaar hoekom hoërskoolredenaars geword het wat dit geword het:  eerstens leer die kind van dag een af dat iemand anders jou toesprake vir jou skryf, wat in graad 1 begin is, gaan nie in graad 7 verander nie. Tweedens word die kinders van graad 1 af geleer om die toesprake soos gedigte uit hulle koppe op te sê; geen graad 1 kind kan notas aflees en ‘n toespraak rondom die sleutelwoorde praat nie, dit moet uit die kop geleer en resiteer word.
Maar ek weet so seker as wat my naam Hans Moolman is dat ‘n kind wat aan so ‘n redenaarsaand deelneem, enige kind, elke kind, ‘n wenner is en lewenslank daardeur verryk word. So Pappa, Mamma (en Klaars noodgedwonge daarby ingesleep) gryp die geleentheid aan.
Ook die jaar daarna, en verlede Woensdagaand toe ek uit die hospitaal ontslaan is, weer.
Ek sluk twee pynpille, kry my seer lyf in die kar en gaan luister na my kind.
Ek lê weliswaar die eerste tweederdes  van die aand op die naat van my rug in die motor se passasiersitplek, maar pouse kom haal Annieka my.
Ek luister met oorgawe en geniet elke oomblik.
Na ‘n outjie waarvan ek een jaar nie ‘n enkele woord kon hoor nie, as graadwenner aangewys is, weet ek darem lankal om nie die kompetisiegedeelte te ernstig op te neem nie.
‘n Ander jaar was die wenner enetjie Klaradyn se ouderdom wat onder andere Reuters Associated  Press as bronverwysing aangebied het. Dit kon Agence France Presse ook gewees het, ek onthou net dat ek totaal stomgeslaan was, gedagtig veral aan my kind wie se bronverwysings ooreenkomstig haar ouderdom en onmiddellike verwysingsraamwerk ‘n episode van Barney, haar oupa Charlie, en iets uit die Afrikaanse weergawe van National Geographic Kids was.
Maar teen vanjaar is my beoordelaarsvaardighede in ieder geval so verroes van al die jare sedert ek my voet neergesit het, dat ek nie eers probeer om met die beoordelaarskaart voor my te luister nie, ek geniet die kinders eerder met volle oorgawe.
Terwyl die hoofbeoordelaar repliek op die aand se gebeure en praatjies lewer, laat val Annieka dat dit die sinvolste kommentaar in ons laerskoolloopbaan is, en ek stem nogal met haar saam.
Elke kind het wat my betref lieflik gepraat, elkeen van die 10 of wat, wat ek gehoor het,  styg uit bo die ander 90 wat nie daar is om te kom praat nie en ek maak vrede met die feit dat elke kraai van nature dink sy eier is die witste, ek móés dié vrede trouens nege jaar gelede al maak toe die verpleegsuster nie mý prinsessie kies om te bad nie. Daar is daardie dag vyf babas gebore en hulle het al die mammas en pappas bymekaar gekry vir ‘n baddemonstrasie. En toe gaan staan en kies die vrou ‘n ander kind wat gelyk het of sy vroeër die dag met tange vrygelaat is!
Ek het nege jaar later weliswaar nie ‘n idee wie sou kon deurgaan as die beste redenaartjie nie, ek troos my daaraan dat dit my werk as pappa is om te sorg dat my kind vir my die mooiste ís, en lýk, en praat, en oorkom, en opstaan, en gaan sit, en doodeenvoudig sommer álles. En ek kwyt myself deeglik van my taak.
Haai, en daar is dit toe nou nie net ek wat so van my kind dink nie, maar ten minste een van die beoordelaars ook – en daar word K vanjaar vorentoe geroep as wenner onder die graad 3’s en die juniors in geheel.
Na die algehele verbasing en oorstelptheid op haar gesig my op die punt van ontroer gehad het, is ek met ‘n bly hart en seer buikwand dadelik uit en kar toe.
En dis hoekom dit in ‘n kwessie van 10 sekondes skielik vir my moeilik geword om die proses te kritiseer, dat ek met gemengde gevoelens oor redenaars sit.
Enige iemand, nie net ma’s en pa’s nie, sal verstaan.
Ek is bly vir my kind, bly dat sy gister die vormende ervaring kon hê om haar toespraak tydens saalopening vir die hele skool te vertel.
Blyer nog, ‘n pa is ‘n pa, dat ek, vir een jaar ten minste, nie die weer ‘n keer die ref hoef te blameer vir die feit dat ons prinses nie gewen het nie.
En laat ek as nota bene en addendum, ter wille van die rekord, dit net duidelik stel dat dit nie ons is wat die foto’s hier onder geneem het nie, dit kom van die skool se saalaanbieding gisteroggend.

4.3.13

To hell and back

‘n Mens kan darem maar onnadenkend omgaan met die “share”-knoppies in die sosiale media. ‘n Week of wat gelede deel ek iets deur Koos Kombuis onder die opskrif “Daar is ‘n hel”, minwetende dat ek binne die volgende vier dae sou uitvind die hel is nié op Somerset-Wes gestasioneer soos die man aanvoer nie, maar dat dit nou verskeie takkantore dwars oor Suid-Afrika, soorts van soos ‘n franchise of so iets, het.
Koos Kombuis het hel leer ken aan die hand van ‘n nadere kennismaking met sy plaaslike munisipaliteit.
My eie beskeie huishoudinkie se  water-en-ligterekening is maande nou al elke maand sowat R2000-00 meer as enige van my bure s’n. Gelukkig het ons hierdie maand ‘n all time low van R3 500-00 beleef. Anders as Koos weet ek fool rush in where angels fear to tread, so ek raak aan die munisipaliteit nie met ‘n tang nie.
Maar so is ek toe nou genoop om Watloo toe te gaan rondom ‘n motor se registrasiepapiere wat na alle waarskynlikheid weggeraap is tot op ‘n plek of dimensie waar ek en Annieka dit na drie dae se soek nie kon opspoor nie.
En skielik begin een van die Indiese godsdienste, die Jainisme, se siening van die hel vir my soveel meer sin maak. Die aanhangers van die geloof glo nie in iets so ordinêr soos slegs maar een hel nie, nee, hulle onderskei sewe verskillendes, op sewe verskillende vlakke, en van sewe verskillende intensiteite. Iets soos Nando’s se verskillende chilliesouse, stel ek my dit voor.
Koos se munisipaliteit is, glo my vry, bloot die intreevlak. Was dit soos die kombuis se toaster (‘n ander manier om daarna te kyk as in terme van chillies) is dit met die verstelknoppie op 1 gedraai.
Watloo, aan die ander kant, is volsterkte, nommer 7!

Ek is vir die tweede keer soontoe, 06:00 die oggend, dieselfde oggend waarop ek om 10:00 by hospitaal moet aanmeld vir my para-umbilikale breukoperasie.
Ek was die grootste gedeelte van die vorige dag ook daar. En amper was ek die grootste gedeelte van die vorige dag verniet daar.
Daar daag mos daagliks net hopeloos te veel mense voor die Watloo-poorte op, en dan hier knap na eenuur kom die gevalle engel se handlangers uit en stuur die mense wat na hulle mening nog nie teen sluitingstyd deur die drukgang gaan wees nie, huis toe vir ‘n tweede dood tot verdere kennisgewing.
So is die twee mense agter my nog ingelaat, maar die menigteagter hulle wat met veel meer as die onuitputbare sewe visse en vyf brode gevoed sou kon word, is almal, deur die bank, weggewys.
Ons drie kon darem gelukkig nog in.
Dis eers twee ure later, toe die wat laaste was, uiteindelik eerste is, dat ek weggewys word omdat hulle die vorige dag nagelaat het om te noem ek moet ‘n bewys van residensie inlewer.
Ja, ek hét gebel, ek het trouens met die foon in die hand aan die slaap geraak, nie omdat ek skape afgetel het nie, maar die 3 689 inbellers wat voor my deurgeskakel is.  Nagenoeg 15 van hulle was nie gelukkig genoeg om soos ek aan die slaap te raak nie, hulle het sommer beswyk, en toe beset hulle ‘n stuk of 15 van die telefoonlyne wat tot verdere vertraging van enige vorm van hulp aanleiding gegee het.
Gelukkig is Watloo se werksure nóg korter as bankure, en kon ek rustig, na besoek aan die roadhouse, deurskiet bank toe om ‘n rekeningstaat met my adres op aan te vra.
Die volgende oggend is ek 06:10 daar; weliswaar nie eerste nie, maar vyfde.
Ek moet so vroeg daar wees om te verseker dat ek voor in die ry is, sodat ek, maak hulle soos gesuggereer om 08:00 oop, relatief gou geholpe kan wees. 10:00 wag die lem mos om te keer dat my binnegoed aanhou by die gat in my buikwand uitwurm.
Ek staan dan ook om die waarheid te sê van 06:10 daar, vreeslik stewig  op- en om- en in- en vasgebind met etlike inklimgordels om my lyf, om binne te hou wat binne moet bly.
Iemand het seker 20 jaar gelede in my teenwoordigheid genoem dat ‘n mens nie aan ‘n breuk moet laat sny voor dit nie absoluut nodig is nie. So het ek hierdie woorde ter harte geneem en toe ek jare later self een ontwikkel aangehang en vasgebyt tot ek knap duskant ‘n noodoperasie moes hospitaal toe.
Maar die registrasiepapiere kan nie wag tot ek weer op die been is nie, ek moet maar net vroeg genoeg op die been kom en in die tou gaan staan.
Ek het donkiesjare gelede, nog voor ek begin skool hou het, by die Blou Meul op Alberton vir my een van daardie wandelstokke wat bo oopvou om sitplek te word, gekoop. Ek het destyds voorsien ek sal dalk eendag lank in ‘n tou moet staan op rugbykaartjies te koop, en dan hoef ek nie so lank te staan nie, ek kan gerieflik sit.
Ek het die ding, letterlik, in meer as 20 jaar nie een keer gebruik nie, en dit het niks met rugby te doen nie, maar suiwer die feit dat die goed ‘n lewensrisiko vir jou asposteriori  inhou – vit al wat jy weet het jy nie eendag meer nodig om vir daai oumansoperasie te gaan nie, jy het alles sommer uitgeval die dag toe jy in die tou voor Loftus se kaartjieskantoor op jou wandelstok probeer sit het.
Ek kry die kierie teen alle verwagting in opgespoor waar ek dit 10 jaar gelede toe ons hier ingetrek het, op die heel boonste rak in die motorhuis gesit het.

Gewapen met hierdie kierie en toegerus met die dikste storieboek in die huis, val ek toe nou 06:10 vyfde in die tou wat spoedig ‘n lywige serpent  met sy stert iewers om die gebou se agterkant word.
Hier teen 07:40 is my boek ook klaar gelees en kan ek al geld as straatarties verdien – gedagtig nou aan al die balanseertoertjies wat ek op en om my sit-sit-so-kierie kan uitoefen.
Dis ook ongeveer hierdie tyd, 07:40, een uur en dertig minute later, dat daar skielik ‘n tweede ry, parallel met ons s’n begin vorm aanneem.  As ons links van die deur se linkerkosyn staan, dan staan die kop van hierdie nuwe slang net so regs van die regterkosyn. En dis nie 15 minute nie, toe het hierdie verwarde huisslangetjie aangegroei tot ‘n basilisk van gigantiese afmetings.
Ek tree versig so effe uit my ry, net om seker te maak daar is nie ‘n straks twee bordjies, een links en een regs, by die deur waar ons tou nie. Netnou ís daar en dan staan daar op die anderkant se bordjie dat dit is waar jy moet staan vir motorvoertuie se herregistrasievorms.
Maar gelukkig is daar nie.
Plek-plek begin links en regs na mekaar hap en gif spoeg. En ek kan dit verstaan.
Maar ek weerhou my daarvan om hierdie nuwe tweede ry reg te help deur beleef te noem dat die einde van die ry af met die tou waarin ek staan, is. Ja, jy kan die einde weliswaar nie meer sien nie, dit kronkel nou al twee en ‘n half keer om die gebou, deur die parkade en af in die straat waar hulle ingekom het, enige mens met gesonde verstand wat 07:40 hier aangekom het, sou dit agtergekom het toe hulle netnou by die hek ingekom het, onder die indruk dis weer 27 April 1994, die dag van die eerste demokratiese verkiesing in die mooi Reënboogland van ons.
Ek wonder in die stilligheid hoe dit moontlik is dat daar soveel breindooies op een oggend by Watloo kan aanmeld.
Die res is geskiedenis, en voorspelbaar.
Al wat die leser seker nie verwag nie is dat die deur nie 08:00 oopgemaak het nie, maar 07:55 – kan jy meer! Wonderwerke gebeur nog! Dis darem nie net die gerugte van iets soos ‘n hel wat waar blyk te wees nie.
Maar dis gou duidelik dat die mense aan die binnekant van die deur al van baie vroeg af daar besig is, want dis omreeds hul eerste smoke break vir die oggend te kom neem, dat hulle die deur so vroeg oopmaak.
En so waar as wat ek nie ‘n koronêr geskiet het nie, maar oorleef het om die storie, vandag, amper ‘n week later te kan vertel, druk die twee tannies hulle sigarette op die grond dood, skiet die stompies eenkant toe, en laat die 30 mense aan die regterkant van die deur eerste inbeweeg.
Vir die volgende 40 minute gebeur daar niks nie – behalwe nou vir die feit dat ons waaraan die spinnekoppe al hul spinnerakke begin weef, al hoe warmder om die kraag begin raak. Ek bly, soos van 06:10 af, vyfde in die ry.
Toe kom daai een Beëlsebub van ‘n tannie uit vir haar volgende sigaret, en na sy haar stompie weggeskiet het, stap sy met die ry af en kyk na ons papiere – dit was soos op laerskool as ons almal ons hande moes wys dat Juffrou kan sien of ons ons hande mooi gewas het, net, hierdie vrou het nie na ons hande of naels gekyk nie, sy het  ons papiere uitgekyk.
Party mense stuur sy toe so waar as waaragtig na regs om ‘n nuwe tweede tou te begin vorm.
En ek, nommer 5 van 06:10 af, was die eerste een van hulle.
Maar ek sluit af, ek kan voel, aanvoel, dat ek na die operasie duidelik nog nie geestelik en vleestelik  sterk genoeg is om nou al met al hierdie gevoelens en stukkies onthou om te kan gaan nie.

28.2.13

Uit en genadiglik in een stuk weer tuis

Ek is in die Unie Verpleeginrigting op Alberton gebore. Teen daardie tyd was ons darem al vir drie jaar nie meer ‘n unie maar ‘n republiek.
Einde my sesde lewensjaar is ek weer daar in om my mangels te laat uithaal. Ek onthou lieflike pynpille wat soos kougom was (en dat dit later heel omstrede van die mark onttrek is). En ek onthou die gou-gesond-word-geskenk wat ek (seker maar via my ma-hulle) van my broer gekry het – sulke plastiek mosaïek-pennetjies wat jy in ‘n wit klein plastiek skinkbordjie, met honderde klein gaatjies in, in allerlei prentjies en patrone, druk.
Na Klaradyn se geboorte het ek seker vyf jaar gesoek tot ek presies dieselfde, nagenoeg veertig jaar later, in Johannesburg raakgeloop het.
Nou spel ek daarmee terwyl sy langs my sit en televisie kyk. Ek oordryf natuurlik so effe. Maar net so effe.
Iewers tussen my geboorte en mangels in Judy ook Unie Verpleeginrigting toe vir daardie operasie waarvan daardie jare se klein seuntjies eers jare later die kloutjie so vaagweg in die omgewing van die oor kon bring.
Ons het van “Die Unie” of “Unie Verpleeginrigting” bly praat tot my ma-hulle iewers rondom 2005 uit Alberton weg is.
Toe was dit natuurlik lankal nie meer die Unie Verpleeginrigting nie, maar deel van ‘n franchise soos Steers of Wimpy – geensins meer gefokus op verpleging nie, maar die maak van wins. As die naam nie intussen verander is na ‘n toi-toiende swart stakende verpleegsuster wat gedurende die oproerige struggle-jare vir haarself in die voorste linies naam gemaak het nie, staan dit na 1994 vandag steeds bekend as iets soos Alberton Mega- ,of Medi-, of selfs Multi-Mega-Medi-City. Of so iets. In elk geval iets wat herinner aan ‘n shopping mall eerder as ‘n hospitaal.
So is ek toe nou Dinsdag, 43 jaar na my vorige narkose (ek dink hulle het daardie jare nog hamers ook ingespan) weer in hospitaal toe, ‘n ander tak van dieselfde franchise, om dit wat binne is en die laaste klompie maande wil uit, weer binne te hou en te kry.
En laat ek dit dadelik sê en van my af kry:  as die ongemak wat ek van ‘n para-umbilikale breukoperasietjie het, enigsins opweeg teen die ongemak en pyn van ‘n keisersnitoperasie (met ‘n snit enige iets tussen drie en tien keer langer as myne – ek weet nie hoe lank myne is nie, want dit is nog toegeplak) dan weet ek nie hoe en waarmee oorleef keisersnitmoeders dit nie!
As ek dink waartoe alles ek nie op die oomblik in staat is nie, as ek dink wat ek alles in die volgende twee maande nie mag doen nie, en ek dink aan Annieka se eerste twee weke en twee maande na Klaradyn se geboorte, dan is ek stom en haal ek my hoed vir haar af, salueer ek haar.
Laat ek, net om haar en die ander vrouens wat ek pas oorgewen het, weer te vervreem, byvoeg:  na my para-umbilikale breukoperasie is ek, as algehele onbetrokke buitestaander, ‘n nóg groter voorstaander van ‘n natuurlike geboorteproses as vantevore!
Ai, my bek is groot, hy is wyd. So ‘n bek kort nie jêm nie, maar ‘n klap!
Ewentwel, Vroulief neem my toe Dinsdag in en probeer ons beide gerus stel met die woorde:  “Gelukkig is dit darem ‘n goeie hospitaal.”
Ek weerhou my daarvan om haar en myself daaraan te herinner dat dit die derde keer in 20 jaar is dat ons die betrokke hospitaal besoek – die vorige twee kere het ons elke keer ‘n vriendin daar aan die dood afgestaan.
Ek maak bloot die nugter opmerking (veel nugterder as haar “Gelukkig is dit darem ‘n goeie hospitaal”) dat daar in vandag se dae in ons land nie meer goeie hospitale is nie, ongeag die naam van die franchise. Daar is steeds meesterlike artse, ja, maar meesterlike hospitale? Nie sommer nie.
En laat ek nie op te veel detail ingaan nie,maar ek word op vier of vyf maniere reg bewys:
‘n Dokter stap eerstens in sy teateruitrusting op die man langs my in die opneemsaal in met die woorde dat hy vreeslik bly is om uiteindelik sy pasiënt op te kon spoor, hospitaaladministrasie het hom verkeerd uitgeplaas en in die proses tussen een van die tientalle vleuels en vleore verloor, maar hier is hy nou gevind en hy gaan binnekort opereer word.
Tweedens:  Na jy by ontvangs opgeneem is, kry jy ‘n wit armbandjie om te sê waarheen jy moet gaan. Daar aangekom moet hulle vir jou ‘n pienk armbandjie opsit om die teaterpersoneel te herinner presies wat hulle moet doen – ek vermoed dis om seker te maak dat hulle nie persoon A afknip en plat stryk terwyl dit persoon B is waaraan geknip en gestryk moes word nie.
Toe ek uit die opneemsaal in die teaterwaglokaal is, toe is ek sonder pienk prosedure-armband wat nie net die prosedure op het nie, maar ook die naam van die sjirurg. Amper beland ek toe by die afknip-en-platstryk-man in die een teater, in plaas van my eie bloot-net-spoeg-en-plak-man in ‘n ander teater.
So toe stuur die waglokaal se tannie, die opnamesaal se tannies weer ses dagreise te perd terug, om my pienk prosure-armband te loop haal.
Toe, na die operasie, honger hulle my ten derde uit. Hulle weet goed ons mog van die vorige aand 10-uur niks eet nie. 9-uur daardie aand vra die ou omie wat voor my gedoen is, se dogter vir die nagsustertjie of haar ou pa nie maar iets te ete kan kry nie.
Toe is die suster kastig verbaas dat ons die hele nag nog nie nat of droog oor ons lippe had nie.
Dis dieselfde ou oom, by die hoeveelste punt trek ons nou al, wie se papiere hulle my, by my ontslag, in die hand stop en afstuur apteek toe om my medisyne op te tel. Gelukkig is die apteker mooi by, gee hy my een kyk, en besef hy ek kan onmoontlik nie in 1923 gebore, en daarom 90, wees nie.
‘n Uur later het ons gelukkig die regte voorskrif en medisyne.
Of hulle teen daardie tyd al die lugversorging in die opnamesaal aangekry het, weet ek nie. Glo my, ek wil nie weet hoe die verpleegters met gesofistikeerde mediese apparaat werk, as hulle nie eers die die lugversorging kan aankry om seker te maak hul pasiënte sterf nie uit van die hitte nie.
Maar dis daardie ou oom waarvoor een van die susters my aangesien het (tien teen een was sy sommer net agtelosig) waarby ek wil uitkom.
Ai, mense, ek het so jammer gekry, soos ek geen mens sedert my ma se laaste hospitalisasie jammer gekry het nie.
Net voor hulle my die teater instoot vra ‘n ou, en nie ouerige nie, teatersuster my (opvallend hoeveel ouer die susters is, hoe belangriker die werk word – wie gaan hulle vervang?) of ek wel een van hulle lawwe blou onderbroekies aan het.
En onmiddellik kry ek lag want ek het gesien die 90-jarige oubasie het nie net sy teaterjassie agterstevoor en voorste agterom aangetrek nie, maar hy het ook nagelaat om sy lawwe, verspotte, blou see-through onderbroekie aan te trek. Ek het self gedog dis ‘n stortkeps of ding, en eers toe ek die drie gate opspoor besef dis eintlik om nie so heeltemal full monty in die teatermense se gesigte te wees nie.
Die einste ou oom had my Dinsdagnag al om die uur wakker.
Eers had sy twee dogters ons almal eers uit die slaap. Ek wou in ‘n stadium vir hulle sê dat ek en hul pa presies dieselfde operasie gehad het, en as hy net 10% soos ek voel, wil hy glad nie nou om die beurt met twee besoekers konfronteer word wat die hele tyd met hom gesels en daarop aandring dat hy saampraat nie.
Toe soek hy teen 23:00sy beursie en ID. En dit help nie jy vertel ‘n 90-jarige oom dat sy 70-jarige twee dogters dit dalk saam met hulle het nie. Geensins.
Teen 24:00 had hy sy selfoon iewers opgespoor. Hy bel toe een van die dogters en word gerusgestel. Maar toe een van die nagsusters wat hy opgejaag het 10 minute later kom om te vra of hy sy beursie en ID gekry het, kon hy nie eens meer onthou dat hy dit gesoek het nie – toe soek hy dit van voor af.
Dit het mooi en baie oortuiging geneem om hom so ver te kry om my te glo, en nie weer sy dogter te wil bel nie.
Die oom het drie keer deur die loop van die nag gaan piepie – nie een keer daar waar hy moes gaan piepie het nie. Ek vermoed hy het elke keer maar net onverrigter sake teruggekeer, maar na ons toilet toe, was hy nie een keer nie.
Om die reine waarheid te praat, ek dink nie regtig hy het elke keer onverrigter sake teruggekeer nie, trouens en inteendeel. Ek is net bekommer oor watse verrassings die hospitaalpersoneel nie alles sedert Dinsdagnag op vreemde plekke in die hospitaal opgespoor het nie. My ore kon nie twee keer vir my gejok het nie.
Ek het hom teen 03:00 sien terugkom sonder sy drup waarvan hy die vorige twee kere elke keer vergeet het, en dit dan omgetrek het. Toe sit ek maar met my drup af diensstasie toe en vra hulle moet die oubaas kom help. Hy het die goed uit sy hande en are geruk gehad.
En dan is hy ‘n spoggerige, ordentlike, oubasie, soos van ouds, deel van ‘n geslag wat al bykans 100% uitgesterf is.  05:00 is hy op en gaan stort hy, eers af in die verkeerde gang, na hy weer die drup agter hom omgeruk het, maar toe darem na nog twee of drie mislukte probeerslae, by die regte deur in.
Ek het sy nagklokkie, suurstofpypie en drupbuis, wat knap voor 05:00 ‘n kraaines was, ontknoop, maar hoe hy gestort gekom het, weet ek nie.
Hy kon nie los van die drup nie, en daarom nie geskei van sy teaterjassie nie, dié  hang toe aan die drupbuis tussen hom en die drupstaander toe hy 45 minute, kaal bolyf, maar haartjies gekam en skoene en kouse by sy pajamabroek aan, by die stort uitkom.
Net soos hy nie die teaterjassie kon afkry nie, kon hy natuurlik nie sy spoggerige blink pajamahemp aankry nie – die drup is mos nou basies ‘n verlengstuk van sy arm.
My hart het vir hom gebloei, ‘n doddering old man, ‘n doddering old gentleman, as daar ooit een was.
Hy het soos ‘n ware, waardige Charlie Chaplin geskarrel en beweeg.
Toe die dokter hom ontslaan toe trek hy sy going away stel klere, wat hy kort vantevore oor sy pajamas aangetrek had, weer net so oor sy pajamas aan en gaan staan met sy tassie in die gang vir een van sy dogters en wag.
Toe ek meer as ‘n uur later met Annieka daar weg is, was hy nog daar, wagtend, sy hande om die tassie geklem.
Waar tannies van 83 en 85 wat ek skuifelend agter ‘n trollie in die Spar raakloop, my deesdae in trane het, oor ek my eie oorlede ou moedertjie in hulle herken, wil julle nie weet wat hierdie dierbare true gentleman van ‘n 90-jarige ou oom, aan my gemoed gedoen het nie.
Ek het sommer oor my ma se oorlede man, Oom Jack, ook ‘n traan wou pik.
Hoeveel presies sulke nagte het die ou vroutjie van my en my broer nie ook in haar leeftyd gehad nie? Hoeveel presies dieselfde oggende nie? Die soek na verlore beursies en brille en tande wat nie verlore beursies, brille en tande is nie? My ma se hande moes hulle, na daar nie meer are vir ‘n drup vir haar op een van haar twee hande beskikbaar was nie – omdat hulle al algar gaar gesteek is van al die uitruk en terugsit – met verbande aan die bed se kante vasbind!
Nou is ek gelukkig by die huis, baie trots op my baie bekwame dokter, die narkotiseur en die res van die span, bly dat die ander dokter sy pasiënt uiteindelik opgespoor het, verlig dat ek my pienk prosdure-etiket gekry het, dat daar gespoeg-en-geplak en afgebind-en-plat-gestryk is nie, maar die blyste van alles dat ek nooit nodig had, of sal hê, om te kraam of iets soos ‘n keisersnit te kry nie.
As Annieka deur haar 20 cm kon kom, dan kan ek my 2, of die 3, of 4, of 5 sentimeter, met manlike kleinserigheid, seerkleinlik die loef afsteek.

22.2.13

Daar vloei vandag 'n stroom Blou Bul-blou-bloed so dik as my duim

Ons Moolmans deel nie noodwendig die hart en gees van ons volk nie. Ek het dit van Ma en Pa se kant oorgeërf, Annieka het met verloop van jare nie anders gekon as om daarby in te koop nie, om die waarheid te sê sy was maar al te gewillig om haarself te kon bevry, en Klaradyn kon dan nou ook nie juis anders as om haar are met talle voorsate se bloed gevul te kry nie.
Die gees van ons volk, dan soos Lina Spies dit destyds met die afsterwe van NP van Wyk Louw gedefinieer het:
Die land se grootste digter sterf
en op die koerant se voorblad staan:
All Blacks is giftig
maar Bokke self nie sleg nie.
My volk se gees is ‘n voetbal.
Ek sal dit in my lewe nooit vergeet nie – Klaradyn het destyds nog nie heeltemal ontgroei om ‘n peuter te wees nie, toe soek ons vir haar ‘n kleuterskool. Ons loop ‘n dierbare – die beste – kleuterskooljuffrou en –skooltjie raak, en skryf haar in. Die verbintenis sou tot einde graad 2 duur, toe die uitkomtyd van die groter kinders verander en die juffrou nie meer daar kon wees om haar na skool op te tel nie. Ek en die juffrou sien mekaar steeds bykans daagliks as ek haar dogter soggens optel om saam met my skool toe te ry.
Wat ek egter nooit sal vergeet nie, is wat die juffrou, én haar ma, aangehad het, dié dag toe ek die juffrou (en dan nou haar ma) vir die eerste keer buite skoolverband, in ‘n apteek, raakgeloop het – daar was hierdie twee vrouens in Blou Bul-kleure uitgevat, en toe ek hulle van voor aantref, toe is die een my stomme kind se juffrou. (As dit nie was dat die juffrou nog self van tyd tot tyd hier lees nie, het ek aangedik en vertel dat die twee dames helmets met horings op hul koppe had, dat hul gesigte blou geverf was; só loop ek egter gevaar om uitgevang te word dat ek jok.)
Toe ek die twee die middag egter groet, toe wonder ek in watter subkultuur ek nie nou my kind ingeskryf het, haar aan uitgelewer het nie.
Net om vyf jaar later, in graad R, tot die skokbesef te kom dat die kleuterskool nie ‘n patch op die laerskool is nie.
By die kleuterskool was daar elke jaar ‘n Blou Bul-dag. Wat ‘n heerlikte – die kinders moes dan blou aantrek en ek lei af hulle het dan lekker rugby gesels en gees gebou.
Oupa is na jare noord van die Vaal- en Jukskeiriviere steeds nie ‘n Blou Bul nie, hy sal tot en met die dag van sy dood ‘n Cheetah bly. So die eerste rugby-hempie wat ons kind toe een Saterdag na die grootouers gaan inkopies doen het, is ‘n oranje een. En so is Klaradyn toe van tyd tot tyd met hierdie hempie kleuterskool toe, ons trek hom ook aan as ons op ‘n Saterdagmiddag by Oupa-hulle gaan rugby kyk en biltong eet voor ons na die tyd ‘n vleisie op die kole gooi.
Later van tyd had Klaradyn ‘n lieflike pienk Bull’s Babe-hempie, ook 'n ewe pienk soet en sappige sweetpakbaadjie, en op die skooltjie se Blou Bul-dag is sy dan in die lieflikste pienk as Blou Bul skool toe.
O, aarde, en toe tref ons laerskool. En al wat ‘n laerskool in plaas daarvan om ons kinders te leer, doen, is om fondsinsameling te hou. Dit sal my nie verbaas as ons eendag ‘n papier kry met plek vir baie name om teen R5-00 per naam te laat raai hoeveel dit op die Richeterskaal sal meet as die hele Springbok- of Noord-Transvaalspan, na elkeen drie blikkies sousboontjies weggeslaan het, gelyktydig ‘n buikwind passeer nie.
Tot dan sal ons egter getrou een of ander blooming eindtelling moet raai, soos nou iewers om die draai weer. Daar het hoeka gister of eergister weer ‘n e-pos van daardie kant gekom om te herinner dat daar nog net soveel dae of ure oor is vir die kinders om hul lyste rondom die een of ander wedstryd in te handig.
Die laerskole weet goed ons ouers stuur nie meer kinders van deur tot deur met lysies papiere nie, hulle weet goed die ouers skryf self verskillende mense se name op die lys en betaal dan alles op die lys.
My en Annieka se grootste probleem is om 10 verskillende rugbytellings uit te dink wat steeds volgens die nuutste puntetellings vir die verskillende baltruuks aangeteken word. Vir my is ‘n drie nog drie en ‘n vervyfskop niks anders as ‘n vervyfskop nie. In graad 1 was elkeen van ons tellings verkeerd want Pappa het die tellings gaan google en toe ongelukkig die een of ander Amerikaanse voetballiga se klubtellings afgeskryf.
Vanjaar is ons darem al in graad 3, ons het punte uit die duim gesuig tot die kind ‘n blikkie koeldrank by die skool kon kry. Ek was meer as bereid om sommer ‘n blikkie koeldrank van die huis af saam te stuur, ek sou hom selfs koud gehou het, maar Annieka wou nie inkoop nie.
Ons is vanjaar in graad 3 en het die laaste sewe dae, vandag ingereken, nie minder nie as vier interhoërs waarby ons eie skool betrokke was en is, een vir atletiek en drie vir swem. Dis ook dieselfde week wat die laerskool om die een of ander onbekende rede besluit het om hul Blou-Bul dag te hou.
Ai, en laerskole is nie onder kalkoene uitgebroei nie, hulle dink bloot hulle kinders en ouers is:  om die dag spesiaal te maak, kan kinders hul Blou Bul hempies aantrek. Maar ook nie sommer net aantrek nie, o, nee, dis ‘n fondsinsameling, onthou jy nou weer!
Ons sou iets moes betaal vir die voorreg, of nog 999 name op ons Blou-Bul-rugbyraailys moes voeg voor die kind haar Blou-Bul hempie kan aantrek?
“Watter Blou Bul-hempie? Hy is al vir jare pienk en in elk geval nou al te klein.”
“Stuur haar in daai blou hempie wat ons met haar verjaarsdaggeld van Ouma gekoop het. Dis ook blou en sy hou nogal van hom.”
Maar dit kan nie, dit moet ‘n Blou-Bul hemp wees, niks anders nie. Die juffrou het gesê. Die meneer het gesê.
Gedagtig aan die moewiese interhoër-week wat voorlê, ek en Annieka is beide pro-aktiewe ouers, ry ons toe nou verlede naweek ‘n hele tenk petrol uit agter al wat onwettige immigrant in Suid-Afrika is wat op die hoeke van die strate smokkelhandel dryf met onwettige goedkoop rugbytruie – nie dat dit meer truie genoem kan word nie, behalwe nou as jy nog van ‘n vervyfskop praat, natuurlik.
Maar niks, daar is in hierdie Pretoria nie ‘n enkelte Blou-Bul-hempie langs ‘n enkele straat op ‘n enkele hoek onder ‘n enkele bos uit te skop nie. Ons hoor van ‘n ou in Bronkhorstspruit, maar toe is die petrol op.
Dinsdag neem hulle my af, dis nou die padverkeeroutjies, toe ek teen 80 kilometer per uur in ‘n 60 sone in die 45 minute wat Klaradyn drama het, Kollonade-winkelsentrum toe jaag om te kyk of ek nie daar ‘n bloody hemp opspoor nie.
Die R700-00 se tenk petrol van die vorige naweek en die R200-00 verkeersboete van laer af in die straat kry toe (maar miskien jou eers seker maak jy sit, vir ingeval jy flou val) ‘n verdere R500-00 vir die stukkie lap by. Nee, wag, ek oordryf, ek lieg, ek dik aan, dis nie R500-00 nie, dit was R499-99!
Ek laat my nie vertel dat elke kind vandag in ‘n ontwerpershemp daar gaan opdaag nie.
Maar dis wat my kind my vrou wysmaak, en dis wat my vrou my aan die verstand probeer bring.
Wat kan ek doen?

Daar vloei in my are 'n stroompie Blou Bul blou bloed so dik as my duim se nael.
Met Transvaal wat nou Gauteng geword het, en Noord-Transvaal wat heeltemal verdwyn het, kan ek seker maar patentreg op sy ou leuse uitneem en dit so effe aanpas:  Dis kak en betaal as jou kind die paal wil haal.

18.2.13

Voor ons vergeet (?)

Fotobron
Party goed is darem nou maar een maal vir eens en vir altyd verlore as dit eers oor en verby en in die verlede verskiet het.
Ja, ek weet dis nie juis wat ‘n mens die mees oorspronklike insig waartoe die mensdom tot op hede gekom het, kan noem nie, ek weet trouens die gedagte is seker so oud soos die mensdom self en dat daar min mense op aarde is wat nog nie die een of ander tyd tot hierdie gevolgtrekking gekom het nie.
Hoekom ek dit egter weer ophaal, is omdat ons deesdae, nou dat ons die laaste ruk so slim en volleerd en tegnologies gevorderd raak, partykeer die grootheidswaan ontwikkel om te wil dink dat dinge nie meer noodwendig verlore gaan of bly nie.
Wat my agter die rekenaar het, is nie groot en serieuse dinge wat vir altyd verby gegaan het nie, ‘n vader-en-seun-gesprek met my pa, of die geleentheid om vir my ma ‘n goeie more toe te wens nie; eerder iets kleins en nietigs, eintlik sommer beuselagtig.
Maar tog groot genoeg om ertjie te wees en my vir jare op 217 en nog meer matrasse wakker te hou:
Die eerste fliek wat ek gesien het, was ‘n Shirley Temple-fliek.
Al wat ek daarvan onthou, is dat ek en einste ma wat ek hierbo so graag nog ‘n keer ‘n goeie more sal wil toewens, saam met haar suster ingery het Johannesburg toe vir wat daardie jare bekend gestaan het as ‘n matinee-vertoning.
Ek onthou verder bloot dat dit ‘n swart-en-wit fliek was waarin daar ‘n dogtertjie met krul hare gespeel het, en dat dit my eerste en laaste Shirley Temple fliek was.
Die irriterende, skril hoë stemmetjie, spreek vanself. Maar ek dink nie dit het hoegenaamd iets met Shirley Temple te doen nie, dit was maar ‘n algemene probleem met ‘n sekere era se flieks.
Ek onthou in daardie tyd (en nou praat ons van meer as 40 jaar gelede) ook nie enige ander flieks in Johannesburg nie. Ons moes eers weer Johannesburg toe vir fliek, toe Libertas, Alberton se onafhanklike filmteater, toegemaak het en ‘n moewiese meubelwinkel, Lubners, verbeel ek my, in die plek daarvan oopgemaak het.
Libertas, o die wonderlike Libertas!
Ek sou eers baie jare later uitvind dat Libertas die godin van vryheid is, dat antieke tempels in haar naam opgerig en in plek gehou is.
Maar vir ons klomp kinders, destyds, is dit presies wat Alberton se Libertas was:  ‘n tempel wat deurgang gebied het tot wonderwêrelde waarin enige iets moontlik was.
Libertas het my die eerste keer saam met my Pa in die fliek gebring, sommer twee keer. Ek was 7, dit was die jaar 1971, en my pa het soveel van Jans Rautenbach se Pappa Lap gehou, dat ons gesin dit inderdaad twee keer in een week gaan kyk het.
En soos wat Pa van Pappa Lap gehou het, was Zorro weer mý gunsteling.
Die bloed begin sommer in my are tintel , net by die tik van die vorige sin en die uitspel van die naam: Z O R R O – ZORRO!
Maar met Pappalap/Pappa Lap was dit maklik.
Sien, alles is mos deesdae moontlik:  ek het bloot net “pappalap” in Google se navraagboksie getik, en oomblikke later toe het ek alles aan my vingerpunte:
Die film is 28 Junie 1971 vrygestel.
Gordon Vorster en Katinka Heyns se name onthou ek natuurlik van toe af, maar Marga van Rooy en Hermien Dommisse het ek vergeet.
Ek weet ook nou dat die fliek R105 000-00 gekos het om te vervaardig en dat Koos Roets se debuut as kameraman was. Ook Trix Pienaar debuteer met hierdie fliek as aktrise.
En dit is presies wat ek met Zorro wou doen – ek wou weet wanneer en hoe oud ek was toe ek kindertyd se silwerdoekhoogtepunt beleef het, ek wou kyk watter Shiley Temple fliek dit was waarvoor daar met klein Hansie al die pad ingery is Johannesburg toe.
Nie so maklik nie. Nie heeltemal so maklik nie.
Shirley Temple het in 58 flieks gespeel, die laaste een waarin sy gespeel het, was voor my geboorte. 
Sy is twee dae na my ma gebore, 23 April 1928! 
Die fliek wat ons in Johannesburg gaan kyk het, moes iets uit die 1930’s gewees het.
Dit laat my met 43 flieks. En elkeen van hulle is swart en wit, soos ek onthou, en Shirley Temple het in elkeen van hulle lieflike krul haartjies (ek sal dit nooit vergeet nie).
Ek moet vrede maak met die feit dat ek nooit sal weet watter fliek die eerste fliek van my hele lewe was nie. Ek sal al 43 moet kyk en spoor ek een op waar sy met haar krul haartjies vir die kamera kyk, blinkerige swart skoentjies mooi teen mekaar, ‘n swart handsakkie wat sy in beide hande voor haar waterlyn vashou, dán eers sal ek weet dis my fliek.
En dieselfde met Zorro!
My Libertas-dae dateer uit die dae voor jy óf na ‘n Ster Kinekor of Nu Metro teater gegaan het om die nuutste vrystelling te sien. Die man het gewys wat hy wou wys, waarop hy ook al sy hande kon lê. Wanneer hy wou.
Dit moet voor 1978 wees, want teen standerd 6 was Libertas al ‘n meubelwinkel en moes ons met die bus Johannesburg toe om in die middestad te gaan fliek.
Dit laat my met 9 flieks uit die sewentigs. Maar soos ek met Shirley Temple agter gekom het, kon dit ‘n ou fliek, sommer ‘n baie ou fliek, gewees het wat die eienaar opgespoor  het om die dorp se jong seuntjies op hol te jaag! Dit kon gevolglik een van 38 moontlike titels gewees het.
Ek onthou iets van ‘n kers. Kry hy die kerse vlam met die punt van sy sambok dood? Of zwiep hy met die punt van sy swaard so drie maal deur die kers, dan is daar ‘n –z deur die kers gesny, maar dit het alles so vinnig gebeur dat die kers nie uitmekaar val nie? Maar is dit nie ‘n ander fliek nie?
Ek kan, en het, “Zorro” en “candle” en “sword” saam in die Google-soektogkoevertjie getik.
Soos Google dit mooi in Afrikaans my stel, het my soektog “ongeveer 19 500 000” skakels opgelewer.
‘n Ertjie gaan dit dan maar bly.
Ek moet aanvaar dat party goed nou maar een maal vir eens en vir altyd verby is, ek sal dit nooit weer uitvind nie.
Soos die naam van die oom en die tannie in Durban, moontlik ‘n neef van my pa, by wie ons kleintyd ‘n hele paar keer gaan kuier het. My broer het nie ‘n idee van wie ek praat nie. Hulle het elke jaar vreeslik baie storieboeke vir my gegee. Ek en Klaradyn het nou nog van daardie boeke wat ek so drie jaar gelede nog vir haar voorgelees het.  Ek dink die tannie se naam was Anne (soos my ma se suster). Ek sien die huis voor my. Hulle het love birds in ‘n baie mooi hok gehad.
Hulle is vermoedelik al jare lank oorlede.
Klaradyn, as jy ooit hier lees, jou eerste fliek was Happy Feet. Jy was twee jaar en ‘n paar maande oud, beslis nog nie drie nie, toe ons jou bioskoop toe geneem het. Jy kon nie ‘n snars Engels verstaan nie, maar die byklanke en beelde het jou so op hoogte gehou dat jy in aanloop op die klimaks aangedring het om te loop. Mamma het buite met jou gewag. Jou pa, die vark, het julle laat wag terwyl hy die fliek klaar gekyk het.
Wanneer Pappa sy eerste Zorro gesien het, sal hy nie weet nie, maar jy het jou kennismaking met Zorro die naweek van 16 en 17 Februarie 2013 gehad. Eers die een van Banderas en Jones met Anthony Hopkins in, en toe die opvolg sonder Hopkins.
Mamma het langs jou gelê en slaap tot die einde. Pappa was so moeg, hy het na ‘n uur gaan slaap en die fliek die volgende oggend klaar gekyk.
Jy het die Sondag met ‘n Zorro-masker gespeel en na jouself as Esperanza verwys.
Jy was in graad 3 en so wakker soos ‘n akker toe jy moes gaan slaap – jy wil soos die heldin wees.
Moenie as jy eendag oud is, sê ek het jou nie gehelp nie.
As jy enigsins na my aard, gaan dié klas van ding  ook dalk eendag aan jou knaag. Wees gewaarsku.
Gelukkig is dit ook mos eintlik waarom Pappa hierdie blog byhou, lest we forget.
Mý Zorro sal egter ‘n ertjie bly.
Behalwe nou as my beste vriend sedert standerd 1 (en ek weet hy het die fliek gesien, ek onthou ons het daaroor gepraat, selfs so laat as matriek nog) dalk lig kan werp. Maar wat is die kanse?
Gelukkig is dit dan darem alles ook nie net ertjies nie; ek sien daar is ‘n nuwe Zorro in die pyplyn wat in 2014 vrygestel word.
Aan die anderkant is dit nie noodwendig iets om na uit te sien nie, die wedergeboorte speel nie in die 1800’s af nie, maar iewers in die apokaliptiese toekoms, 2110 of daar iewers.
Dis hartseer dat sommige goed vir altyd verby is en jy dit nooit weer sal hê nie.
En dan is daar ander goed waarvan dit beter is as dit liefs nooit jou pad kruis nie.


SOMMER VIR SOMMER

Fotobron

Shirley Temple se kindertyd-flieks:
1939 The Little Princess
1938 Just Around the Corner
1938 Little Miss Broadway
1938 Rebecca of Sunnybrook Farm
1937 Heidi
1937 Wee Willie Winkie
1936 Stowaway
1936 Dimples
1936 Poor Little Rich Girl
1936 Captain January
1935 The Littlest Rebel
1935 Curly Top
1935 Our Little Girl
1935 The Little Colonel
1934 Bright Eyes
1934 Now and Forever
1934 Baby Take a Bow
1934 Now I'll Tell
1934 Little Miss Marker
1934 Change of Heart
1934 Stand Up and Cheer!
1934 Managed Money 
1934 As the Earth Turns
1934 Mandalay
1934 Carolina
1934 Pardon My Pups 
1933 What's to Do? 
1933 Merrily Yours 
1933 Kid 'in' Africa 
1933 To the Last Man
1933 Dora's Dunking Doughnuts 
1933 Polly Tix in Washington 
1933 The Kid's Last Fight 
1933 Out All Night
1933 Kid in Hollywood 
1933 Glad Rags to Riches 
1933 New Deal Rhythm 
1932 The Pie-Covered Wagon 
1932 Red Haired Alibi
1932 War Babies 
1932 Runt Page 
1932 Kid's Last Stand

Fotobron
Flieks (net die flieks en in Engels, daar is meer as 200 titels met die woord “Zorro” in, op die Internet Filmdatabasis geregistreer)
Zorro Reborn (2014)
Zorro (I) (1975)
Mark of Zorro (1975)
Zorro (II) (1975)
Red Hot Zorro (1972)
Zorro the Fox (1968)
Son of Zorro (1947)