Pages

18.2.13

Voor ons vergeet (?)

Fotobron
Party goed is darem nou maar een maal vir eens en vir altyd verlore as dit eers oor en verby en in die verlede verskiet het.
Ja, ek weet dis nie juis wat ‘n mens die mees oorspronklike insig waartoe die mensdom tot op hede gekom het, kan noem nie, ek weet trouens die gedagte is seker so oud soos die mensdom self en dat daar min mense op aarde is wat nog nie die een of ander tyd tot hierdie gevolgtrekking gekom het nie.
Hoekom ek dit egter weer ophaal, is omdat ons deesdae, nou dat ons die laaste ruk so slim en volleerd en tegnologies gevorderd raak, partykeer die grootheidswaan ontwikkel om te wil dink dat dinge nie meer noodwendig verlore gaan of bly nie.
Wat my agter die rekenaar het, is nie groot en serieuse dinge wat vir altyd verby gegaan het nie, ‘n vader-en-seun-gesprek met my pa, of die geleentheid om vir my ma ‘n goeie more toe te wens nie; eerder iets kleins en nietigs, eintlik sommer beuselagtig.
Maar tog groot genoeg om ertjie te wees en my vir jare op 217 en nog meer matrasse wakker te hou:
Die eerste fliek wat ek gesien het, was ‘n Shirley Temple-fliek.
Al wat ek daarvan onthou, is dat ek en einste ma wat ek hierbo so graag nog ‘n keer ‘n goeie more sal wil toewens, saam met haar suster ingery het Johannesburg toe vir wat daardie jare bekend gestaan het as ‘n matinee-vertoning.
Ek onthou verder bloot dat dit ‘n swart-en-wit fliek was waarin daar ‘n dogtertjie met krul hare gespeel het, en dat dit my eerste en laaste Shirley Temple fliek was.
Die irriterende, skril hoë stemmetjie, spreek vanself. Maar ek dink nie dit het hoegenaamd iets met Shirley Temple te doen nie, dit was maar ‘n algemene probleem met ‘n sekere era se flieks.
Ek onthou in daardie tyd (en nou praat ons van meer as 40 jaar gelede) ook nie enige ander flieks in Johannesburg nie. Ons moes eers weer Johannesburg toe vir fliek, toe Libertas, Alberton se onafhanklike filmteater, toegemaak het en ‘n moewiese meubelwinkel, Lubners, verbeel ek my, in die plek daarvan oopgemaak het.
Libertas, o die wonderlike Libertas!
Ek sou eers baie jare later uitvind dat Libertas die godin van vryheid is, dat antieke tempels in haar naam opgerig en in plek gehou is.
Maar vir ons klomp kinders, destyds, is dit presies wat Alberton se Libertas was:  ‘n tempel wat deurgang gebied het tot wonderwêrelde waarin enige iets moontlik was.
Libertas het my die eerste keer saam met my Pa in die fliek gebring, sommer twee keer. Ek was 7, dit was die jaar 1971, en my pa het soveel van Jans Rautenbach se Pappa Lap gehou, dat ons gesin dit inderdaad twee keer in een week gaan kyk het.
En soos wat Pa van Pappa Lap gehou het, was Zorro weer mý gunsteling.
Die bloed begin sommer in my are tintel , net by die tik van die vorige sin en die uitspel van die naam: Z O R R O – ZORRO!
Maar met Pappalap/Pappa Lap was dit maklik.
Sien, alles is mos deesdae moontlik:  ek het bloot net “pappalap” in Google se navraagboksie getik, en oomblikke later toe het ek alles aan my vingerpunte:
Die film is 28 Junie 1971 vrygestel.
Gordon Vorster en Katinka Heyns se name onthou ek natuurlik van toe af, maar Marga van Rooy en Hermien Dommisse het ek vergeet.
Ek weet ook nou dat die fliek R105 000-00 gekos het om te vervaardig en dat Koos Roets se debuut as kameraman was. Ook Trix Pienaar debuteer met hierdie fliek as aktrise.
En dit is presies wat ek met Zorro wou doen – ek wou weet wanneer en hoe oud ek was toe ek kindertyd se silwerdoekhoogtepunt beleef het, ek wou kyk watter Shiley Temple fliek dit was waarvoor daar met klein Hansie al die pad ingery is Johannesburg toe.
Nie so maklik nie. Nie heeltemal so maklik nie.
Shirley Temple het in 58 flieks gespeel, die laaste een waarin sy gespeel het, was voor my geboorte. 
Sy is twee dae na my ma gebore, 23 April 1928! 
Die fliek wat ons in Johannesburg gaan kyk het, moes iets uit die 1930’s gewees het.
Dit laat my met 43 flieks. En elkeen van hulle is swart en wit, soos ek onthou, en Shirley Temple het in elkeen van hulle lieflike krul haartjies (ek sal dit nooit vergeet nie).
Ek moet vrede maak met die feit dat ek nooit sal weet watter fliek die eerste fliek van my hele lewe was nie. Ek sal al 43 moet kyk en spoor ek een op waar sy met haar krul haartjies vir die kamera kyk, blinkerige swart skoentjies mooi teen mekaar, ‘n swart handsakkie wat sy in beide hande voor haar waterlyn vashou, dán eers sal ek weet dis my fliek.
En dieselfde met Zorro!
My Libertas-dae dateer uit die dae voor jy óf na ‘n Ster Kinekor of Nu Metro teater gegaan het om die nuutste vrystelling te sien. Die man het gewys wat hy wou wys, waarop hy ook al sy hande kon lê. Wanneer hy wou.
Dit moet voor 1978 wees, want teen standerd 6 was Libertas al ‘n meubelwinkel en moes ons met die bus Johannesburg toe om in die middestad te gaan fliek.
Dit laat my met 9 flieks uit die sewentigs. Maar soos ek met Shirley Temple agter gekom het, kon dit ‘n ou fliek, sommer ‘n baie ou fliek, gewees het wat die eienaar opgespoor  het om die dorp se jong seuntjies op hol te jaag! Dit kon gevolglik een van 38 moontlike titels gewees het.
Ek onthou iets van ‘n kers. Kry hy die kerse vlam met die punt van sy sambok dood? Of zwiep hy met die punt van sy swaard so drie maal deur die kers, dan is daar ‘n –z deur die kers gesny, maar dit het alles so vinnig gebeur dat die kers nie uitmekaar val nie? Maar is dit nie ‘n ander fliek nie?
Ek kan, en het, “Zorro” en “candle” en “sword” saam in die Google-soektogkoevertjie getik.
Soos Google dit mooi in Afrikaans my stel, het my soektog “ongeveer 19 500 000” skakels opgelewer.
‘n Ertjie gaan dit dan maar bly.
Ek moet aanvaar dat party goed nou maar een maal vir eens en vir altyd verby is, ek sal dit nooit weer uitvind nie.
Soos die naam van die oom en die tannie in Durban, moontlik ‘n neef van my pa, by wie ons kleintyd ‘n hele paar keer gaan kuier het. My broer het nie ‘n idee van wie ek praat nie. Hulle het elke jaar vreeslik baie storieboeke vir my gegee. Ek en Klaradyn het nou nog van daardie boeke wat ek so drie jaar gelede nog vir haar voorgelees het.  Ek dink die tannie se naam was Anne (soos my ma se suster). Ek sien die huis voor my. Hulle het love birds in ‘n baie mooi hok gehad.
Hulle is vermoedelik al jare lank oorlede.
Klaradyn, as jy ooit hier lees, jou eerste fliek was Happy Feet. Jy was twee jaar en ‘n paar maande oud, beslis nog nie drie nie, toe ons jou bioskoop toe geneem het. Jy kon nie ‘n snars Engels verstaan nie, maar die byklanke en beelde het jou so op hoogte gehou dat jy in aanloop op die klimaks aangedring het om te loop. Mamma het buite met jou gewag. Jou pa, die vark, het julle laat wag terwyl hy die fliek klaar gekyk het.
Wanneer Pappa sy eerste Zorro gesien het, sal hy nie weet nie, maar jy het jou kennismaking met Zorro die naweek van 16 en 17 Februarie 2013 gehad. Eers die een van Banderas en Jones met Anthony Hopkins in, en toe die opvolg sonder Hopkins.
Mamma het langs jou gelê en slaap tot die einde. Pappa was so moeg, hy het na ‘n uur gaan slaap en die fliek die volgende oggend klaar gekyk.
Jy het die Sondag met ‘n Zorro-masker gespeel en na jouself as Esperanza verwys.
Jy was in graad 3 en so wakker soos ‘n akker toe jy moes gaan slaap – jy wil soos die heldin wees.
Moenie as jy eendag oud is, sê ek het jou nie gehelp nie.
As jy enigsins na my aard, gaan dié klas van ding  ook dalk eendag aan jou knaag. Wees gewaarsku.
Gelukkig is dit ook mos eintlik waarom Pappa hierdie blog byhou, lest we forget.
Mý Zorro sal egter ‘n ertjie bly.
Behalwe nou as my beste vriend sedert standerd 1 (en ek weet hy het die fliek gesien, ek onthou ons het daaroor gepraat, selfs so laat as matriek nog) dalk lig kan werp. Maar wat is die kanse?
Gelukkig is dit dan darem alles ook nie net ertjies nie; ek sien daar is ‘n nuwe Zorro in die pyplyn wat in 2014 vrygestel word.
Aan die anderkant is dit nie noodwendig iets om na uit te sien nie, die wedergeboorte speel nie in die 1800’s af nie, maar iewers in die apokaliptiese toekoms, 2110 of daar iewers.
Dis hartseer dat sommige goed vir altyd verby is en jy dit nooit weer sal hê nie.
En dan is daar ander goed waarvan dit beter is as dit liefs nooit jou pad kruis nie.


SOMMER VIR SOMMER

Fotobron

Shirley Temple se kindertyd-flieks:
1939 The Little Princess
1938 Just Around the Corner
1938 Little Miss Broadway
1938 Rebecca of Sunnybrook Farm
1937 Heidi
1937 Wee Willie Winkie
1936 Stowaway
1936 Dimples
1936 Poor Little Rich Girl
1936 Captain January
1935 The Littlest Rebel
1935 Curly Top
1935 Our Little Girl
1935 The Little Colonel
1934 Bright Eyes
1934 Now and Forever
1934 Baby Take a Bow
1934 Now I'll Tell
1934 Little Miss Marker
1934 Change of Heart
1934 Stand Up and Cheer!
1934 Managed Money 
1934 As the Earth Turns
1934 Mandalay
1934 Carolina
1934 Pardon My Pups 
1933 What's to Do? 
1933 Merrily Yours 
1933 Kid 'in' Africa 
1933 To the Last Man
1933 Dora's Dunking Doughnuts 
1933 Polly Tix in Washington 
1933 The Kid's Last Fight 
1933 Out All Night
1933 Kid in Hollywood 
1933 Glad Rags to Riches 
1933 New Deal Rhythm 
1932 The Pie-Covered Wagon 
1932 Red Haired Alibi
1932 War Babies 
1932 Runt Page 
1932 Kid's Last Stand

Fotobron
Flieks (net die flieks en in Engels, daar is meer as 200 titels met die woord “Zorro” in, op die Internet Filmdatabasis geregistreer)
Zorro Reborn (2014)
Zorro (I) (1975)
Mark of Zorro (1975)
Zorro (II) (1975)
Red Hot Zorro (1972)
Zorro the Fox (1968)
Son of Zorro (1947)


24.1.13

Voor in die koor

So kry ons toe mos nou hier knap voor Kersfees skotteltelevisie. Dis nou drie weke dat die ding nie eers aan was nie. Vir al wat ek weet, is ons al twee weke gelede afgesny.
Moet ook nie sê ons moet naweke kyk nie – daar is soveel ander en lekkerder dinge om te doen, dat ons daarby ook nie uitkom nie.
Iewers in die vakansie was daar wel iewers op KYKNET ‘n insetsel oor hierdie een of ander koor in die Kaap wat glo so goed is, tien teen een die Stellenbosch Universiteitskoor (dis beslis nie die Acapella koor nie).
In elk geval, die koormeester laat val toe in die onderhoud dat hy dikwels ‘n minder goeie stem kies as hy aflei die stem se baas is passievol begeester en het potensiaal.
Ek het soveel waardering vir die man gehad; juis omdat ek nog altyd van dieselfde uitgangspunt uitgegaan het. Ek gaan nog verder en sê gereeld dat ek veel eerder werk met iemand wat wíl, maar nie noodwendig so goed kán nie, as wat ek sit met een wat kán, maar nie wíl nie.
En toe nie hier, op nasionale televisie, ‘n man wat praat asof dit ek persoonlik was wat hom voorgesê het. Nogal ‘n koormeester daarby.
As alle koorleiers maar so was – in die besonder die juffrou in beheer van Klaradyn se junior laerskoolkoor!
Ek moes op universiteit 100 uur lank na gefiltreerde klassieke klanke luister in die hoop dat ek daardie 100 ure later minder toon doof daar sal uitstap.
Helaas!
En dan het ek nog altyd van sing gehou.
Ek onthou nog goed hoe my beste vriend se ma, ook my standerd 1-onderwyseres, een oggend terwyl ons in haar klas gesing het, van agter uit haar stoortjie gekom het, teen die deur gaan staan het, vir my gekyk het, en gesê het:  “Jy hóéf nie heeltemal so hard te sing nie, Hansie.” En ek haal aan, ek haal verbatim aan – ek onthou dit 40 jaar later steeds woord vir woord.
Ek sou dit tot in die hiernamaals kon onthou. Maar was daar iets soos ‘n koor, weet ek nie wat hulle met my sou aangevang het nie.
Annieka sing self nie soos ‘n engel nie.
Ons altwee glo egter dat ‘n mens nie mooi hoef te kan sing nie, jy moet net lekker kan sing.
En dit doen ek en sy uit volle bors – ons sing lekker.
Ook nie ek en sy nie, maar ek en sy en Klaradyn.
So het ons Klaradyn dan ook groot gemaak; dit het immers gou geblyk dat sy, wat sang betref, 100% na haar ma aard, 100%na haar pa aard en gevolglik 200% toondoof/vals is.
Maar net so is sy ook 200% lief vir lekker sing – lekker sing tot op die punt dat jy jou ore met pluisies wil toestop.
En as daar nou een mens is wat dit selfs nog beter as haar ma en haar pa, haar ouma en oupa (selfs haar oorlede ouma en oupa) weet, dan is dit haar skool se juniorkoor-juffrou.
Ek weet nie wie sy is of hoe sy lyk nie, maar toe ek sommer met die eerste skrywe van die laerskool se kant af, vroeg vanjaar hoor sy begin eersdaags met kooroudisies, het my hart na haar uitgereik – die stomme juffrou.
Dit gebeur seker nie sommer dat ‘n laerskooljuffrou gronde het om op te staan as sy ‘n laerskool kind van teistering aankla en aandring op ‘n hofinterdik dat die kind nie binne 500 kubieke meter van haar mag kom nie; so sy en Klaradyn sou geskiedenis kon maak.
Ek het in graad 1 by die vierde of vyfde keer wat Klaradyn vir kooroudisies gegaan het, ophou tel. Ek het skaam gekry.
Onthou, die juffrou vra net een keer – dis Klaradyn wat al om die ander maand of week vanself aanmeld.
Die arme vrou kan nie eens terreindiens doen nie, dan corner Klaradyn haar en kry the hills alvie with the sound of music.
Sy moet ook nie sê dat hulle ‘n volgende keer weer sal luister en kyk nie; want dan besluit Klaradyn ‘n maand of wat later dat volgende keer se tyd nou aangebreek het.
Toe kom graad 2, en dit gaan niks anders nie.
Intussen is daar van haar ander maatjies wat kla en ophou en wil ophou en dreig om op te hou, maar Klaradyn meld aan vir luisterryke oudiënsie na luisterryke oudiënsie.
En toe die juffrou nou net mooi genoeg gehad het, toe reken sy, sy het nou lank genoeg ge-suffer, dis nou die ouers se beurt om te suffer, en hier teen die agste of negende probeerslag stuur sy die kind huis toe met: “Jy moet nog ‘n bietjie meer oefen om te kan sing. Gaan oefen hard en dan probeer is volgende jaar weer.”
En Klaradyn het met volle oorgawe, uit volle bors ‘n volle repertorium gaan aanleer en oefen.
Ek en my vrou het kilogramme in die proses verloor, so erg was dit om net daarna te luister.
Intussen het Klaradyn iewers gehoor dat jy nie so mooi hoef te kan sing vir die senior koor nie, daar is baie meer kinders in die en jou stem kan in die massa verdwyn.
Dis presies wat hulle vir my pa gesê het toe hy op skool in die koor was:  maak maar net of jy kan sing.
Dis presies wat hulle in graad 1 vir my gesê het toe ons graad-eentjie-parrabeentjies die eerste keer op die verhoog gesing het. Ek het destyds gedog dis omdat ek pampoentjies gekry het en twee weke skool gemis het.
Maar in graad 2 en standerd 1 toe gebeur dit weer.
En weer.
Teen die tyd dat dit ‘n derde keer gebeur, toe kon ek al een en een by mekaar tel.
Nie Klaradyn nie – as ‘n mens ministers sonder portefeuljes kan kry, dan kan ‘n mens koorlede sonder stemme ook kry, is blykbaar haar vertrekpunt.
So toe trek sy met die eerste afkondiging van die jaar los en begin sing.
Vir die hoeveelste keer.
Met oorgawe.
Volle oorgawe.
En dis dan toe ook net mooi op daardie punt dat die juffrou moes geknak het, want toe ons weer hoor, toe kom die kind in ekstase by die huis aan met die nuus dat drie jaar se volgehoue oefening, vrugte afgewerp het – sy het haar kooroudisie, wys jou net  aanhouer wen, geslaag.
Die arme koor, die arme juffrou, my arme kind!
Wie eerste gaan wees om die koor te verlaat, sy of die juffrou weet ek nie.
Tot dan koester ek maar die seepbel dat hy nie bars nie.
Dis op die ou einde dalk nie die juffrou of my kind nie, maar sommer die hele koor wat nie opgewasse is vir alles wat die begin van die nuwe jaar vir hulle inhou nie.
Ons leef in opwindende tye, my joie de vivre-kind die meeste van ons almal.
As dit aangaan soos dit nou aangaan, sing sy eersdaags in die Kaap in daardie ander mannetjie se koor vol jong ontluikende kunstenaars.

5.1.13

Nuwejaar op Zwartkloof

Ook genoem, Voor ek afklok, lepel in die dak steek en die emmer skop,  want hierdie en ander goed, die wat is en die wat was, het mos nou maar een maal die geneigdheid om rondom Ou- en Nuwejaar deur die gedagtes te wil maal.
En so is daar op my afkloklysie (maak dit dan maar emmerlysie, gedagtig aan Norman Freeman en Jack Nicholson se fliek, Bucket List) is eintlik net een iets.
En dan is dit nie ‘n item soos wat die outjies in die fliek ‘n aantekening sou definieer nie. Sien, ek moet eers self lepel in die dak steek voor hierdie lewensambisie en  -aspirasie van my, hoogs postuum, miskien, afgetik sal kan word – en dan ook net deur Klaradyn, sonder dat ek dit ooit weet.
Maar dis eenvoudig: Dis vir my ‘n behoefte van die hart dat Klaradyn, nadat ek en Annieka weer tot die stof waaruit ons kom,  teruggekeer het, van ons sal dink, en oor ons sal voel, presies soos ek en my broer na haar dood oor my oorle’ mammie voel en dink: een eindelose, grenselose bondel liefde, niks meer, niks minder, as net dit nie; lewenslange liefde, tot oorlopens toe, vir haar kinders.
Ja, ek praat van “Oorle’ Mammie” en ek praat met deernisvolle liefde en ‘n ewe deernisvolle glimlag van my oorle’mammie, want dis hoe my oorle’ mammie se eie oorle’ mammie (my ouma) altoos van  haar oorle’ mammie (my oumagrootjie, Vroutjie, wat ek net van foto’s ken) gepraat het.
Ek kan nie anders nie, dis die voorbeeld van my ouma waarmee ek groot geword het, ‘n voorbeeld wat ek nie skaam is om te volg nie.
Soos ook die voorbeeld wat my ma vir 46 van my lewensjare voorgeleef het. Want dink ek deesdae aan haar, dink ek regtig net liefde en niks anders nie.
En as ek my lewe so kan leef dat my kind eendag dieselfde dink, dan was dit nie onnodig dat ek die eerste lewenslig aanskou het nie.
Tog gebeur dit dat ek van tyd sekere wonderlike ervarings het en dit dan, in retrospeksie, gou op my afkloklysie neerskryf en summier ‘n regmerkie daarnaas maak.
Een so ‘n inskrywing wat ek gister gemaak en afgetiek het, het op die koop toe vanoggend ‘n tweede regmerkie agter hom gekry. En verloop alles moreoggend voor ons huis toe gaan volgens plan, dan tiek ek more ‘n derde regmerkie agter die inskrywing.
Dit alles het in 1987 of 1988 in ‘n bad onder die bome op die walle van die Okavangorivier begin.
Ja, ‘n bad, letterlik in die kale oopte onder die bome, met ‘n uitsig op die rivier.
Kyk, ek het nog altyd ‘n ding met ‘n longdrop waarvan jy die deur nie toemaak nie en dan afskakel met ‘n uitsig op alles wat mooi is.
Om dieselfde ervaring te hê, nie vanaf die troon nie, maar van binne ‘n bad, met ‘n uitsig van 360 grade as jy jou kop soos ‘n uil wil draai, is mos nie net koninklik nie – dis hemels.
Die naaste wat ek na 1988 op die Okavango-oewer daaraan kon kom, was aan die hand van een van hierdie storte wat rykes buite hul seevakansiehuise aanbring, die stortkoppe om die sout en die sand van jou af te spoel voor jy die huis ingaan.
Maar dis glad nie dieselfde nie, geensins nie.
Nie eens amper nie.
Maar toe tref privaat wild- en natuurreservate die Suid-Afrikaanse bosveld. En blaai jy van tyd tot tyd deur glanstydskrifte of koffietafelpublikasies oor Afrika-interieurs, dan vang jou oog ‘n soortgelyke baddens.
Prentjiemooi, idillies, arkadies, nirvana.
Partykeer is daar ook prentjies van ‘n huisie by die see wat onbekostigbaar hoog op rots gebou is, en dan kyk jy oor die Atlantiese of Indiese oseaan uit terwyl jy seker maak die water se temperatuur is na jou wense.
Maar ‘n plekkie by die see het my nog nooit getrek nie, gee my liewer ‘n droom (maak dit liewer dan ‘n fantasievlug) na die een of ander bosveldwegbreekoasetjie.
En daar word my droom toe werklikheid toe vriende ons saamnooi na presies so ‘n wildsplaas waarvan gewone mense net in tydskrifte lees of op televisie sien.
Ons betrek die luuksueuse tentkamp.
Alles is vreeslik mooi en weelderig en pamperlang, uit die boek, uit die beste, mooiste, dikste, glansste boek. Dis Top Billing en Pasella en ek weet nie watter plaaslike en oorsese programme alles nie.
Maar ek, wat gewoonlik ‘n oog vir ‘n keurige ding het, sien daar niks van raak nie; ek staar my blind teen die bad in die badkamer van nagenoeg 16 vierkante meter.
Maar dis ook nie die bad en die feit dat ek en my vrou en my kind daarin kan wegkruip en nie raakgesien word nie, so groot is hy nie; dis drie van die vier “mure” om die bad; nie die bad nie – die uitsig!
Met die dat alles tent is (en dan praat ek nie van tweeman-plastiekgoedjies waarmee jy op Voortrekkerkampe of staptoere gaan nie, nie eens die tente waarin krygshoofde in antieke, of latere, tye hulself afgesonder het om strategies te kan dink nie; ek praat van die goed wat jy in koffietafelboeke raaksien) is daar mos nou hoeka nie “mure” nie, dis seilwande, met binne die seilwande, direk teenaan, niks anders nie as gaaswande.
En dis toe net daar dat ek die natuur in die badkamer innooi en elkeen van die drie buitemure se buitenste seile gaan oprol tot bo die dak en nie kan wag om te gaan slaap dat ek kan wakker word en gaan bad nie.
Ag, en dan kan ek nou adjektiewe gaan soek en dit inryg om te wil beskryf wat ek beleef het, hoe ek gevoel het, wat ek gehoor het, wat ek gesien het, in die afgelope twee oggende se ongeveer ‘n uur wat ek daar in die bad deurgebring het, maar ek gaan nie eers probeer nie, ek weet maar al te goed woorde skiet te kort.
Kom ons volstaan daarby dat ek in die sierste van sierskrif (soos selfs my oorlede mammie my op haar beste nie sou kon nadoen nie – en sy was goed) op my afskoplysie skryf:  opelugste van alle opelugbadervarings denkbaar, en dan ‘n mooi regmerkie daarnaas maak, nie een regmerkie nie, maar drie. Sien, ek gee mos nie om om vuil te gaan slaap nie, dis die vuil opstaan waarmee ek nie kan saamleef nie.
En as ek hierdie gesels stop afknip, dan is dit omdat ek haastig is en nou in die bad gaan lê en lees en luister na die geluid van die natuur wat om my leef.
Hier sak die son
en die flappe is af,
maar die idee is daar.

Ja, ek kon gaan stort,
maar selfs met 'n
waterdigte Kindle hou ek
nie van staan en lees nie.

In retrospeksie hoort die
hele ervaring op 'n
afklok-lepel-emmerlysie

Steeds jammer die
flappe is af


Ook maar goed ek is
nie 'n krygshoof nie -
ek sal sukkel om
strategies te dink

Die hele Zwartkloof-ervaring is opsigselwers iets wat die verwesenliking van 'n lewensambisie of -ervaring kan wees. Besoek gerus die webwerf deur hier te kliek.


29.12.12

Net bietjies-bietjies van al die baie onthou rondom Phlippie/Phlippa/Philippa

Snaaks hoe ‘n mens jou vir jou ouers kan skaam.
My ma het gereeld die volstruis in my na vore gebring – daardie tye wanneer ek nie net my kop soos ‘n wafferse struisvogel  in ‘n gat in die grond wou steek nie, maar sommer geheel en al daarin wou verdamp, verdwyn, om elders, in ‘n ander dimensie of tydsgewrig, weer te voorskyn te kom.
Dis was so as kind, meer nog as tiener en jong volwassene en dis eintlik maar eers die laaste 10 jaar van haar lewe (en my grootword) dat dit al hoe minder geword het, totdat dit uiteindelik, toe dit eintlik lankal reeds hopeloos te laat was, heeltemal verdwyn het.
Wildvreemdelinge was mos nou iets wat Judy nie geken het nie; vreemdelinge wel, maar ook net vir enkele minute, of selfs sekondes, en slegs as sy die persoon net van agter gesien het, of self om moes draai (in ‘n tou of bondel byvoorbeeld) om die vreemdeling  van voor in die oë te kan kyk.
En dan, sodra oogkontak eers gemaak is, het sy haar geselsie aangeknoop, enige plek, enige tyd, enige mens.
Een  so ‘n gesprek wat sy vroeg in Februarie 1983 aangeknoop het (miskien was dit einde Januarie, hoe sal ek weet)  sal my seker lewenslank bybly.
Sy het die vorige dag voor in haar groen Fordjie gery, ek agter in die geel Volksie (CWZ 167 T) wat my broer-hulle vir my einde matriek, einde 1982, gegee het.
(Dit sou eers jare later wees dat Judy aan my erken het hoe sy die volle 144km Potchefstroom toe, en drie dae later weer terug, omgehuil het.)
Net buite die dorp, dit sal my geensins verbaas as dit steeds so is nie, het die plaaslike verkeerspolisie gesit om die ouers wat met hul eerstejaarstudente op die stil dorpie toesak, af te trek en aan te skryf vir die een of ander verkeersoortreding.
En die volgende oggend is al die eerstejaars, en die wat gelukkig genoeg was om hul ouers, of ‘n ouer, by hul te hê, saam met hulle in die ouditorium ingejaag vir die een of ander verwelkomingstoespraak.
Getrou aan Judy se aard was ons ruim betyds en het iewers na agter in die middel rond plek gekry.
Ek sou die Carducci somersbaadjie wat ek en my beste vriend die vorige week in Johannesburg gaan koop het, aangehad het.
Omdat ons vroeg was, het my ma ook reeds hopeloos lank genoeg stil gesit teen die tyd dat daar uiteindelik twee mense in die twee oop stoele links van haar kom sit het. (En met “stil gesit” bedoel ek nie om nie te beweeg nie – dit kon Judy goed doen – ek bedoel om nie te praat nie.)
En dit was ook nie lank nie, hoogstens drie of vier minute, tot die vrou langs haar ordentlik haar sit gekry het, toe leun Judy oor na links en knoop haar gesprekkie aan. En ek laat my nie vertel dat haar seun wat langs haar gesit het, nie die aanknopingspunt was nie. Selfs al sou sy straks eers na die dogter wat langs die vrou sitplek ingeneem het, uitgevra het.
Berge val op my, heuwels bedek my, die aarde sluk my in.
Ek skuif al hoe laer af in my stoel. Later sit-lê ek op my stuitjie met hoogstens net my twee bloedrooi ore wat bo die rugleuning uitsteek.
En toe kom dit:  “Haai, Oubaas, hierdie tannie se dogter kom ook, soos jy, hier op Potch Drama studeer!”
Judy het haar kop en nek en skouers en rug agtertoe in die rugleuning ingedruk sodat ek voor haar verby kon kyk, in die oë in van die vrou, wat sopas vir my ma soos ‘n vriendin geword het. En agter die wildvreemde tannie het, soos ek, ewe verleë en rooi, ‘n jong meisie uitgeloer. Net so halfpad en skugter, met ‘n verlepte glimlaggie en ewe verlepte handjie wat halfmas wuif.
Net soos wat my ma my en my naam sopas vergat het, het haar ma Philippa se naam op haar beurt sopas met ‘n plank geslaan.
Ja, jong tieners is simpel goed. Maar Philippa het daardie oggend presies soos ek gevoel – ons het baie keer daarna daaroor gesels en gelag en daaraan teruggedink, want  dis dáár (kom ons maak dit maar Ry Q van die Sanlam-ouditorium op die PUK se hoofkampus) waar, en wat, en toe,  dit alles, op ‘n maand na, dertig jaar gelede, begin het – ‘n vriendskap wat ek met my sal saamneem graf toe.
Die derde lid van ons driemanskap (maar ek en Philippa was saam in meer as een driemanskap, en viermanskap, selfs ‘n enkele of wat vyf- en sesmanskap ook) SMS gister na die nuus van haar hopeloos voortydige dood vir my:  Ja, ‘n mens wil nou onmiddellik 100 van jou eie stories in jou kop aanmekaar sit.
Nie honderd nie, honderde.
Honderd is op en finish en klaar aanmekaar gesit, en dit net rondom die eerste vier jaar op Potch. Toe kom Bloem en die San du Plessis. Dan nog die Kaap. En uiteindelik, eers toe daar weer, soos op Potch, van ‘n Rivierstraat sprake was om by Philippa uit te kom, en ‘n krom en skewe sirkel op so ‘n manier eindelik voltooi is: Pretoorsdorp.
Ek noem dit ‘n driemanskap want ons drie het vier jaar later, die dag voor ons elkeen sy eie rigting die grootmenswêreld in sou spat, amptelik afskeid geneem – in Philippa-hulle se sitkamer op die bruin sitkamerstel, met ‘n koek en tee.
Weliswaar nie koek en téé nie, eerder koek en mélkskommel.
Koek en melkskommel was waarmee ons daardie eerste keer gegroet het.
Wat is immers beter as wortelkoek en Philippa se hoogs unieke lemmetjiemelkskommel om mee afskeid te neem?
Ek het ‘n foto van daardie middag, einde 1986, in my foto-album.
Maar ek het nie nodig om my album te gaan uitkrap nie, daardie middag, daardie koek, daardie geskommelde bruismelk is my hele kop vol.
Die wortelkoek het sy begin gehad in ‘n koffiehuis op Grahamstad, ‘n jaar of twee te vore.
Dis die jaar wat ek en Philippa saam afgery het Grahamstad-kunstefees toe, en ons teen 06:00 daardie oggend iewers in die Palmpas êrens tussen Tarkastad en Bedford in ‘n botsing met ‘n sandwal betrokke was.
Studente is darem nog onnoseler as matrieks – ek en Philippa het daardie aand agtuur ons laaste vraestel geskryf, en toe, daarna, in die pad geval Grahamstad toe.
Die ongeluk kon baie erger gewees het (soos die een baie jare later waarin haar ma oorlede is) en is ‘n storie op sy eie.
Die fees was al verby en die mense huis toe, toe moet ek en Philippa by die Grahamstown-Hotel inboek vir ‘n nag of wat – hulle wag nog op ‘n part vir my motor wat met die trein al die pad van die Kaap kom en iewers op die spoor verlore geraak het.
Ek het Julie 2011 eers, toe ons studeerkamer reggepak het, die kwitansies, uit 1985, van die paneelkloppers en die hotel op Grahamstad, weggegooi.
Maar waar loop my gedagtes nie, ek was by die wortelkoek wat ons drie op Grahamstad so geniet het.
En toe bak Philippa ons eie wortelkoek toe ons oulaas as studente groet.
Maar die koek was nog warm toe sy die versiersuiker opsit, en die twee lae het van mekaar afgeskuif, en die boonste versiering het ook pad gevat teen die kant af en in die bord in.
So what!  Dit was, o, so spesiaal!
Die melkskommel waarmee ons afskeid geneem het, het sy begin, onder veel gelag, ook reeds die vorige jaar gehad.
Ek het Philippa na ‘n repetisie of optrede huis toe geneem. Ian is saam, en Philippa is met groot fanfare kombuis toe om vir ons melkskommel te maak.
Sy kom toe te voorskyn met drie groot glase groen lemmetjie milkshake.
Maar dit was ook net lemmetjie milkshake tot ons die eerste sluk geneem het.
Want toe ons sluk, toe is dit áárbei – lemmetjiegroen aarbeimelkskommel!
Philippa het gegaan en die aarbeigegeurde melkskommel, lemmetjiegroen met voedselkleursel gekleur.
Dit was die vreemdste ervaring – jou oë vertel jou brein die een storie, en dan kom die tong met heeltemal ‘n ander een.
So, ter herdenking van daardie lieflike aand, neem die drie van ons toe afskeid met Milkshake a’la Philippa ook.
Dan praat ek hier bo egter van ‘n afskeid voor ons elkeen eie rigting grootmenswêreld toe ingeslaan het.
Dis ‘n lieg.
Ek, en Ian, moes elk eers ‘n detour  maak army toe.
Sit jy daardie jare in Die States, soos ons destyds na Suid-Afrika verwys het, dan het jy seker gereeld naweke huis toe kon gaan, of, is dit nie huis toe nie, ten minste dan darem ‘n wegbreek civvie straat toe.
Ek, aan die anderkant, is grensbasis toe gepos.
Daar het jy net jou seven days in jaar een; fourteen days in jaar twee. Dis nou onderskeidelik jou sewe- en veertiendagpas.
Op die eerste een van die twee vlieg ek toe dringend van Johannesburg Bloemfontein toe om by Philippa ‘n draai te kan maak. Sy is pas deur ‘n baie nare ondervinding in haar lewe en ek kan nie anders as om dringend na haar toe af te moet vlieg nie.
In daardie jare, vir ‘n armgat sonder salaris, was dit ‘n vreeslike volwasse, grootmens-ding om te doen.
En toe ek na die naweek terug kom, toe gee ek my motor by die lughawepolisie as gesteel aan.
Toe kry hulle hom drie ure later op vlak 3 van die parkade – ek het hom op vlak 5 gesoek.
Die volgende jaar, toe ek fourteen days het, toe ry ek darem af Bloem toe met die motor.
Hierdie keer nie vir ‘n krisis nie, maar vir Aïda.
Ek onthou nog opgetrek ek met die piksplinternuwe pad was. Net om na ‘n ruk te lees dat ek nou op ‘n tolpad is – dit terwyl ek nie genoeg tolgeld in my beursie het nie. Ek is summier van die nasionale pad af, en omdat ek nie weet waar daar nog hoeveel tolhekkevoor ‘n motorhawe met ‘n kitsbank  is nie, het ek Bloem via vreemde dorpe en paadjies vanuit ‘n onbekende rigting bereik.
En toe mis ek die olifante op die verhoog.
Laat ek 23 jaar later dan maar uiteindelik bieg: Philippa had ‘n pa wat haar Sondagaande lief kon maak vir opera, of dit nou op die platespeler, oor die radio of oor die telvisie was; ek nie.
Ek het ‘n ma gehad wat geselsies met vreemde tannies aangeknoop het.
So toe raak ek hier teen die einde aan die slaap en word eers wakker na die olifante af marsjeer het.
Ek verbeel my ek het hoogstens die punt van die een se stert in die coulisse sien verdwyn, maar dan praat ek ook onder korreksie.
Met Philippa egter self nou finaal in die coulisse in en weg en van die verhoog af, voel ek uiteindelik eintlik nogal vry, bevry, noudat ek dit na al die jare uiteindelik kon erken en bely.
Ek is nie een wat glo Philippa kan terugkyk of omkyk of self net vir ‘n oomblik weer verhoog toe kom om erkenning aan die applous te gee nie.
Maar ek weet as sy kon, sou sy haar in ‘n staande ovasie vasgeloop het.

28.12.12

27 Desember 2012

Snaaks hoe die lewe partykeer inmekaar val as dit uitmekaar val.
My gedagtes is heeldag kort-kort by ‘n vriendin waarvan die vriendskap oor 29 jaar strek; omdat sy vandag verjaar, aan die een kant, maar ook omdat ek ‘n gesels wil aanknoop wat ek streng gesproke nie sonder haar en die boks briewe wat sy my sowat ‘n jaar gelde gegee het, kan aanknoop nie.
Laasgenoemde hou verband met die feit dat ek Facebook en die blog wat ek byhou geensins as verteenwoordigend van die sogenaamde “sosiale media” sien nie; vir my is dit niks anders as massamedia nie.
Maar dan nie massamedia soos wat dit in kommunikasiekunde of joernalistiek bekend staan nie, wel massamedia soos wat ek dit in 1987 en 1988 van iewers in die Caprivi-strook bedryf het.
Hierdie troep het toegang tot ‘n afrolmasjien gehad, en dan praat ek nie van ‘n fotostaatmasjien nie – as ek van ‘n fotostaatmasjien wou gepraat het, sou ek dit ‘n fotostaatmasjien genoem het – hierdie was ‘n outydse Gestetner afrolmasjiene wat met slinger, wasvel en ink gewerk het.
Ek het dan wasvelle van die staat gesteel en skelm my weeklikse briewe afgerol om dit aan ‘n massa vriende en vriendinne te stuur. Elke week het elkeen dan ‘n algemene, generiese brief gekry met ‘n velletjie of wat persoonlike nuus en geselsies daarby ingesluit.
En presies dit wat ek destyds met die afgerolde briewe gedoen het, is wat ek vandag met dit wat ander die sosiale media noem, regkry – ek bereik meer as een mens op ‘n slag met dieselfde boodskap – massamedia en nie sosiale media nie.
My universiteitsvriendin het elkeen van my briewe aan haar getrou bewaar en toe dit mondig word, net mooi een en twintig jaar later, in silwer strikke saamgebind en plegtig aan my terug besorg.
Saam met al die briewe ouerhuis toe, wat ek ook het, is dit hoogtyd dat ek nou beroemd en bekend word, want dan kan my briewe ook soos Van Wyk Louw en van Gogh se briewe gepubliseer word.
En dis hoeka ook hoekom ek die motorhuis wil regpak – ek soek die boks weermagbriewe om weer die kuiers van destyds met my vriendin te kan kuier, te sien hoe my massamedia-korrespondensie destyds daar uitgesien het.
En sal dit nie nou lekker wees om dit vandag, so op haar verjaarsdag, te doen nie.
Bel sal ek haar nie bel nie – ons bel mekaar nooit op mekaar se verjaarsdae nie want die een het dan altyd mense en gaste en besoekers en sosiale verpligtinge en dan kan mens nie jou twee keer ‘n jaar se lekker gesels, uitgesels nie. Ons bel so róndom mekaar se verjaarsdae.
En so is my gedagtes heeldag by Philippa, as dit nie oor die verjaarsdag is nie, dan oor die briewe waarby ek wil uitkom rondom die twakpraat oor my massamedia op Facebook en die blog.
Maar so kom ek nóg by die motorhuis se opruim, nóg by die briewe uit.
Al waarby ek uitkom is die Facebook-boodskap dat my lief en dierbare, baie goeie, hartsvriendin van 29 jaar vandag dood by haar huis gevind is.
Dis ‘n ramp, ‘n terugslag, ‘n tragedie – dis elke byvoeglike en selfstandige naamwoord wat die dood nog ooit beskryf het, of sal beskryf.
Die lewe, anders as die dood, is en bly ook darem maar vreemd: Hier hou ek ‘n mens daglank in my gedagtes springlewendig en gesond, iemand wat na alle waarskynlikheid reeds die 23’ste of 24’ste gesterf het.
Maar waar wil jy nou klinkklaarder bewys hê dat afgestorwe geliefdes lewenslank lewendig is en bly, lewendig gehou word in die gemis na hulle, die onthou van hulle, die geselsies wat ons jare later steeds met hulle aanknoop, die wonderlike herinneringe, die met lag en die met trane?
Ek en Philippa en ons saamkuier vandag het dit bewys.
Ja, ek gaan dit mis om weer tee op Philippa se stoep te drink, saam met haar groente in die tuin te pluk, saam met haar te lag – ek voorsien dat ek dit baie gaan mis, meer as wat ek dit reeds die laaste klompie jare mis – ons moes regtig tyd maak, en inruim, en afknyp om te kon tee en wyn en musiek, te kon olyf en kaas en boek en deel en gee en ruil.
Maar vir Philippa Gloudina mis? Nooit nie.
Sy leef in my tot ek die dag afsterf.
Hopelik kou ek nog eendag ou bene, begin ek ruk en vergeet en verkalk en na piepie ruik; nie Philippa nie, sy sal altyd knap voor vyftig en jeugdig bly.
Wat gaan gebeur, en waar my gedagtes nie orals ‘n draai gaan maak as ek en Klaradyn weer krappie-krappie in bad speel, weet ek nie. Ons vier voete is vier krappe. Hulle knoop oor en weer geselsies aan en duik weg vir wrede albatrosse wat van klein krappies mince meat maak. Klaradyn se voete is onderskeidelik Cleo en Patra, myne is uit die Griekse letterkundeskat en kom uit Elektra – Chrysothymus en Klytemnestra. Nie hieroor of daaroor nie –die motor waarmee Philippa in 1984 rondgery het se naam was Chrysothymus  en die tye, die herinneringe, die naam, die kar, die onthou en die goeie ou dae was so goed en mooi, dat ek, toe ek jare later op twee name vir my krappie-pote moes uitdink, ek by Chrystothymus vasgesteek het.

25.12.12

Kerskosklets


Ons het vandag (agtermiddag laat) my skoonouers oor; die groter ete was gisteraand en by my swaer-hulle aan huis.
So ry ons gisteraand daar weg, Skoonma en –pa saam met ons in die motor, en ek laat val dat ons nie eers nagereg vir Kersdag het nie. En ons het nie.
Ek was op die punt om groot te gaan staan en kook (skaapboud, beesvleis, tong) maar toe gooi ek en Annieka saam handdoek in nog voor ons begin het.
Ons is Saterdag na die Italiaanse Klub hier by ons in Pretoria. Daar is elke Saterdag ‘n Italiaanse kaasmark in een van die lokale. Toe koop ons ‘n spul verskillende kase.
Op pad terug het ek gou by Woolies ingehol vir een van daardie romerige kase met die vye en neute, en iets anders met mango en gemmer.
Gister het ek by die beste bakkery in ons stad sommer twee ciabattas gekoop.
En met die botteltjies en dinge wat die yskas voetstoots kan bydra, is ons gerat en gereed vir gesellig verkeer as die son vanaand sak.
Eintlik oor daar min dinge so lekker soos pekelvis en witbrood is, dat ons by die brood vasgeval het.
Ek het nie ‘n probleem met daardie blikkies kerrievis/pekelvis wat ons so lank ek kan onthou kan koop nie.
Soos wat ander mense in Woolworths konfronteer word met Lindt-sjokolade wat in hul mandjies beland, help ek bakkies van hul pekelvis in my mandjie in en peusel dit, soos sjokolade wat jy bietjie-vir-bietjie snoep en eet en bêre, uit die yskas op tot daar niks van oor is nie.
Maar hierdie tyd van die jaar hou ek daarvan om my eie te maak.
Ek het vanjaar geelstert gekry.
Met ‘n beslag foeter ek nie. As ek geweet het hóé, sou ek miskien, maar by gebrek aan die ervaring met ‘n beslag, stuur ek my vis met botter, sout en peper oond toe. Ek vryf die porsies weliswaar eers in met die fyn gerasperde skil van twee suurlemoene. Dit het ek by Peter Veldman en sy Kos van die Eeu leer doen.
Toe maak ek ‘n sous wat wegtrek met drie koppies asyn (ek het die jaar se asyn klaar gemaak, so dit was die laaste van wit-, rooi-, bruin-, appel- en selfs balsamiese asyn).
Om by ‘n liter vloeistof uit te kom het ek die koppiemaat geneem en hom so min of meer om die helfte met water en olie gevul.
Die laaste van die appelkooskonfyt is ingeroer. Seker so 6 eetlepels, maar ek nou begin leeg maak met die asyn, so toe maak ek die konfyt ook leeg.
Meer as ‘n halwe koppie, nader aan ‘n koppie, bruin suiker. Ek proe maar.
Toe ek klaar borrie bygegooi het, was die botteltjie borrie ook leeg. So ‘n teelepel sal doen, ek het egter meer gedoen omdat die balsamiese asyn my sousie donkerder gekleur het as waaraan ‘n mens gewoond is. Maar ek is seker, het die ou mense balsamiese asyn geken soos ons, dan sou hulle resepte ook donkerder gewees het.
Die kerriepoeier wat ek lief voor is, is Woolworths se Cape Malay, dis heerlik pikant sonder om Annieka en Klaradyn af te skrik met brand.
My brand is die sous in aan die hand van ‘n duim of wat gerasperde gemmerwortel.
Dan het ek ongelukkig ook ‘n hartsding met geskroeide koljander, so die bottel grof gevryfde heel koljander het ook ‘n draai by die pot gemaak en twee of drie teelepels armer daarvan afgekom.
Die suurlemoenblare wat ek by die bure gepluk het, het ek my skielik verbeel is vanjaar darem baie klein en ek het sommer nege ingegooi. Vyf of ses sou seker genoeg kon wees.
Hierby is in ‘n koppie of wat rosyne, drie gesnyde uie en een elk rooi en geel soetrissie opgesny, ingegooi.
Die soetrissie is seker minder tradisioneel, maar as jy al La Petit Ferme buite Franschhoek se pekelvis geproe het, sal jy weet hul idee werk wonderlik.
Ek kan nie onthou of ek die uie en soetrissie vooraf gebraai het of nie; ek het dit goed twintig minute na ‘n halfuur laat prut op die stoof, so vooraf braai is nie nodig nie – die asyn en kerrie sorg in ieder geval dat die smaak en geur wat jy met die vooraf braai wen, weer verloor.
Iewers, toe ek begin proe en die appelkooskonfyt al leeg is, is die laaste van Miesies Balls se blatjang ook in.
Ek stel my voor dat die boeretannies van ouds, of dan nou die slawe en ander bediendes heel in die begin, hierdie sous af sou gekook het tot dit effe dik word. Tyd en geld daarvoor het ek nie, en in elk geval, as La Petit Ferme hulle sous kan aandik met ‘n teelepel of wat mielieblom, waarom kan ek nie ook nie.
Die bietjie sous wat my geelstert en botter in die oond opgelewer het, iets wat ek nooit sal wegdoen nie, is as vloeistof by die mielieblom ingespan.
So die wat vanaand uitgeëet aan die kaas is, daar is pekelvis in die bak daar oorkant, neem gerus.
‘n Lieflike dag word elkeen wat hier lees, al is dit ook nou eers volgende week of maand, toegewens.

24.12.12

Die groot gemene deler tussen Nabucco en Dirty Dancing


So kry ek en ‘n reisgenoot jare gelede kaartjies vir opera in die een of ander operahuis in Boedapest.
Iewers deur die loop van die oggend, klaar met die historiese vismark en oppad museum toe, leen ek, wat van opera maar min weet, my ore aan die musieklike reisgenoot uit; sy is immers die koorjuffrou en daar is omtrent nie ‘n stad in Europa waar sy tot op daardie datum nog nie self gesing het nie.
Sy vertel ‘n hoogsdramatiese storie met iewers ook die aria van die koninging van die nag ingegooi – en onthou, sy hoef nie te vertel nie, sy illustreer en iewers op ‘n klip onder ‘n boom trek sy los en begin sing.
Die Hongaarse program, later die aand, beteken vir my niks nie, maar ek volg die storie met die sinopsis van vroeër die oggend heel goed.
Ongelukkig egter ook net tot op ‘n punt hier knap voor die einde toe die vrou wat ek die hele aand verwag om af te klok, nie self af klok nie, maar trillend ekstaties bystaan as dit die man wat ek gedog het die onsterflike Lucifer is, twintig minute en drie arias verder neem om uiteindelik, oulaas, finaal, die gees met volle oorgawe te gee.
En daar is die storie boonop ook klaar en moet ons huis toe sonder dat ek enigsins die bekende melodie van die nagtelike koningin se befaamde aria hoor.
Dis toe ek op pad tent toe en in ‘n laatnag bus my effense verwarring (oor die dood) en teleurstelling (oor die gemis aan die aria wat ek by die klip onder die boom gehoor het) met haar deel, dat sy klokhelder, luidkeels, soos geen koningin of prinses van die nag, óf dag, haar dit kan nadoen nie, begin lag.
Het ek dan nou regtig daardie lawwe storie van haar geglo, dit was ‘n sameflansing van elke denkbare opera met ‘n vrouehoofkarakter met hier en daar iets na gedagte en verbeelding bygegooi om dit te maak werk.
En daar het ek haar hele storie op die 1994-aanbieding van die Hongaarse staatsopera se Nabucco getransponeer, tot knap voor die einde, toe die verkeerde karakter sterf en die een tannie nié lostrek met die aria van die koningin van die nag nie.
En iets daarvan herinner my aan Klaradyn en wat in die toekoms op haar wag, die ontnugtering, die teleurstelling.
Sy het nou al hierdie jaar die Kersfeesvaderpak onder in haar een grootjie se Chesterfield-set en kis opgespoor. Maar dit het sy gelate aanvaar as die Moolmans se pakkie wat hulle moes aanknoop die eerste jaar wat Pappa en Mamma ingespan is om as Kersfeesvader se helpers op tree, Mamma met die aankoop, en Pappa met die uitdeel van die pakkies.
Vanjaar sal immers die derde Kersfees wees waarop sy net so lekker en hard met ons twee saamspeel om aan Kersfeesvader ‘n illusie van die werklikheid te verleen. (Vanjaar het ons selfs ‘n kontak met die naam “Kersfeesvader” op die selfoon, en al wat ons ligweg bekommer is die skrale moontlikheid dat die nommer wat ons aan die man toegedig het dalk regtig bestaan – elke keer as ons SMS, wil dit voorkom asof ons vorige SMS wél deurgegaan het.)
Ons vermoed ten sterkste dat van die maatjies by die skool rondloop en vertel dat Kersfeesvader en feetjies nie regtig bestaan nie. En gedagtig aan ‘n beste maatjie wat nou die ander dag by haar ouers gekom en uit die bloute gevra het waar babas dan nou regtig vandaan kom, vermoed ons daar is maatjies wat oor allerhande ander dinge ook staan en rondloop.
En dís wat my by Nabucco en die aria van die koningin van die nag het.
Dit het mos alles begin, so vier of vyf jaar gelede, met ABBA se Mama Mia wat ons as gesin gaan kyk het, wat ons as DVD aangekoop het en nog steeds so twee keer ‘n jaar met springmielies in ‘n bak op die skoot in die sitkamer voor die kassie kyk.
Die motoriese moment wat alles in die blyspel aan die gang gesit het, jare te vore, is ‘n hoervakansie van slet en semen wat die ma met een van drie (sover sy kan onthou) moontlike pa’s vir kind gelaat het. Haar eufemisme vir haar stokperdjie om deur elke tweede derde jong man wat sy raakloop gespyker te word (en dan stel ek die harde, lustige werklikheid self ook so sag moontlik) is mos “dot, dot, dot” – die ellips wat sy as jong dogter in haar dagboek ingespan het om elke keer wat sy op en onder en deur en oor die tou gaan trap en spring het, te kommunikeer.
Maar op 8 en amper 5 maande sit Klaradyn met ‘n sugar coated, ‘n heavily sugar coated, weergawe en interpretasie van die gebeure, die een wat Annieka haar drie of vier jaar gelede met ‘n heuningkewas om die mond gesweer het: die dogtertjie kan een van drie pappas hê en sy weet nie watter een nie.
Nou tot op 8 jaar en 5 maande was dit vir haar genoeg.
En wanneer die werklike daglig gaan begin deurskemer, weet ek nie.
Weet ek ook nie met die dirty deel van Dirty Dancing nie.
Kyk, toe die kind destyds, ‘n halfuur elke week gaan ballet het, is ons na al wat ballet is, het ons al wat balletfliek of ballet-Barbie-tekenprent is, uitgeneem.
Na die fondament in die klassieke nou gelê is, beweeg sussie egter nou volgende jaar oor na modern, tap en hip-hop.
En ja, dit was ek wat voorgestel het ons kry kaartjies vir volgende jaar se Tap Dogs by Pieter Toerien in Montecasino. Maar dis toe wat Ma ook so graag hierdie vakansie met die kind Dirty Dancing wil gaan kyk.
Ek onthou dat ek die fliek in 1987 op die grens op video gesien het en daardie jare al nie veel van gehou het nie – hopeloos te veel van ‘n tipies Amerikaanse chick fliek.
Synde die petrolgeld Johannesburg toe, drie koeldranke en drie roomyse (nog lank voor die etegeld en toegang na die voëlpark bygereken is) al ‘n derde nul by die uitgawe se vorige twee nulle voeg, stel ek voor die dames neem net eers die fliek uit dat Klaradyn immers net die storielyn ken as sy in haar R300-00 teatersitplek wegsink.
Dis toe dat, én Moeder én Vader, vyf en twintig jaar later besef dat hulle in vyf en twintig jaar, soos inderdaad ook met Grease het, die storielyn vergeet het, en basies net die twee of drie musikale hoogtepunte nog onthou het.
Met Grease kon Mamma opstaan, die DVD stop, “nee, wat” uitroep en sê dat hierdie nie ‘n fliek vir dogtertjies is nie. Maar hoe gemaak met Dirty Dancing wat ons vanaand gou op die televisie kyk omdat ons dit more lewendig op die planke gaan kyk.
Behalwe dat die storielyn ook maar niks anders as ‘n gehop van kooi tot kooi is, het ons in hierdie storielyn ‘n agterstraataborsie ook ingewerk.
Toe Klaradyn my in ‘n stadium vra wat dan nou gebeur, antwoord ek bloot:  “Vra jou ma.”
En soos haar hele gesin en uitgebreide familie al vir jare weet, weet ek dit ook al vir jare – Annieka moes nie ‘n onderwyseres geword het nie, maar ‘n prokureur. Die oomblik toe ek die bal soos ‘n warm patat in haar hande gooi, spin sy daar ‘n storie en gebeurlikheid wat enige dag anderkant die hemelpoorte ook met geloofwaardigheid sou kon afspeel.
Met hierdie storie is ons toe ook gister Dirty Dancing toe, ek wat my heeltyd daaraan herinner dat ek moes geweet het hulle sou dit eerder iets soos Clean Dancing genoem het as dit nie was dat dit so duidelik dirty dancing was nie.
So doen die kind toe met Dirty Dancing wat ek met Nabucco gedoen het en geniet ‘n lieflike ervaring op die vlak van ‘n onskuldig-naïewe 8 jaar en 5 maande.
Mog sy nie 8 jaar en 5 maande verder weer daarna kyk nie, die skille sal soos lemoenskille van haar oë (én ore) afdop.
Aan die anderkant, eerder dan maar dít, en ‘n Kersfeesvaderpak in die kis, as om met ‘n half jack onder tussen Pappa se onderbroeke, ‘n pakkie sigarette of iets dergeliks tussen Mamma se panties, gekonfronteer te word.