Pages

7.12.12

Vat vyf

As dit soos fietsry is, sal ek dit seker regkry; is dit meer soos ysskaats, is ek nie helemaal so seker nie. (Ek het mos so jaar of wat gelede met Klaradyn gaan skaats, maar dit waarmee ek die omstaanders vermaak het, is nou nie juis iets wat nog as ysskaats kan deurgaan nie.
Daar het so baie gebeur sedert ek laas tyd kon maak om agter die sleutelbord te gaan sit, ek voel nie net verroes nie, ek beleef myself vasgeroes.
 Het ek in ‘n stadium ‘n blog bygehou? Kan nie wees nie.
Ek kan nie eers onthou waarby ek alles nie uitgekom het nie, wou uitkom nie.
Die hittegloed wat my hierdie week by herhaling oorval het, voel ek as het ware nog aan my bas, haut na, en is miskien ‘n goeie begin.
Ek kan mos nie na Rodriguez luister sonder om nie onmiddellik onverbiddelik warm te kry nie. Summier. Elke keer. Ongemaklik warm. Krapperig warm. Vreeslik, baie warm.
Drukkend warm. Selfs neerdrukkend warm.
Die beddens het aanvanklik teen asbesmure moes staan. Daar was nie glas in die ruite nie, maar gaas. En klim jy saans lank na sononder op die bed (ja, op, want in of onder die komberse het jy selfs in die winter nie eers oorweeg nie) dan gloei jou kussing, die krappige kombers én die donkerbruin laken teen jou ewe gloeiende lyf. In die onmiddellike omgewing van die muur kan jy nie kom nie, hy gloei ook. (Smiddaes kan jy aan die einste muur ook nie eers raak nie – dan brand hy vir jou.)
Iewers in my tweede jaar is ons bevorder na hout bungalows. Dit was nog snikkend warm, maar danksy die bome tog marginaal koeler. (Nee, koeler is ‘n te sterk woord, kom ons maak dit eerder marginaal minder drukkend warm.)
Nou, in die houthut, was daar ‘n opvou-ystertafel teen die muur, ‘n ammunisiekis bo die tafel aan die muur  vasgespyker. (Ek soek al van gisteraand na my fotoalbum om te kan illustreer ook, maar kon dit nog nie opspoor nie.) Dit moes dien as boekrak.
Maar ek onthou naas ‘n biografie van Nelson Mandela en ‘n selfs nog meer polities uitdagende boek wat deur die rysmiere opgevreet is, nie enige ander boeke in die rak nie.
Ek onthou wel die kassette wat die boekrak volgestaan het.
Kassette want dit was 1987 en CD’s ‘n relatiewe nuutjie.
Dit was 1987 in die Caprivi-strook, op die walle van die Okavangorivier, en al wat daar was, was musiek.
Van die PF’s het televisie om video’s te kan kyk gehad, maar troepe vleg nie sommer piel met PF’s nie. Ja, ek kon gesê het dat die staandemaglede en nasionale dienspligtiges nie sommer gemeng het nie, maar dan was dit nie 1987, die bosoorlog en versoekprogramme met boodskappies vir die troepies op die grens nie. Dan was dit nie ek wat wag vir my min dae om aan te breek nie, smag om weer op civvie straat te kan beweeg nie.
En, in elkelkgeval, ek het uit respek vir wonderlike PF’s wat ek wel leer ken het, nagelaat om te laat val dat die meeste van die video’s blou movies was wat met flossies van die states opgevlieg is grens toe. Hierdie een stukkie bar moet my daarom ter wille van outentisiteit vergeef word. Wees verseker dar is veel meer bar wat die liggeraakte leser gespaar word.
En al was dit miskien minder warm in die hout rondawel, voor ek vergeet, was dit nog net so krapperig, army-gryskombers-krapperig. Letterlik. Daardie ystertafel het so sonder glas in die vensters vreeslik stof vergader. Ons was ses jong mans, en selfs al was ons ses jong dames (na die SAVLKOL-meisies is daardie jare ewe bar as staatsmatrasse verwys) sou ons waaragtig steeds nie met ‘n tafeldoek uitgeryk gewees het nie.
My kamerbuddy kon nogal netjies wees as hy dag wou, maar vir elke dag se afstof het hy nie kans gesien nie. Gevolglik moes ‘n grys kombers as tafeldoek dien, ‘n tafeldoek suiwer om die stof te absorbeer. En so elke twee of drie weke, of so, as ons altwee hooikoorsaanvalle begin kry het, het ons die kombers gelig en van die ergste stof ontslae geraak. (Waar is my fotoalbum tog!)
En dís hoekom Rodriguez warm én krapperig is.
Percy het ‘n blink ghetto blaster van Windhoek gebring en hierdie ding het op die ystertafel gestaan. Daar het ons gesit en musiek luister. As die kombers nie jou arms gekrap het, dan wel jou bene as jy agteroor op jou stoel gery het, jou pote en bene op die tafel.
Dan onthou ek konflik ook. Want daar was twee ghetto blasters in die bungalow. Agter die tamatiekasplankies van die skeidingsmuur was Peet se blink geraasmaker. O, hemel en Peet was in dit wat as high energy bekend gestaan het, high energy  en boy bands en alles wat gemors en irriterend is.
So van die een kant is dit club music; van ons kant Rodriguez, Tracy Chapman, Koos Kombuis alles wat die buurkamer grensloos sal irriteer. Maar dis nie al nie, uit die bungalow links kom ook twee stelle klanke, en van regs nóg twee. Onder andere Gawie se Smokey en die pastoor se gospel.
Kakofonie in die ergste graad.
Dat ons nie met die vuiste onder mekaar ingeklim het nie, is, in retrospeksie, ‘n wonder.
As dinge te veel geraak het, die mure te eng, die ruimte te knap, die verlange te veel, dan is ek af rivier toe. Van die mees surrealistiese herinneringe wat ek van die Okavangorivier het, is ek op die boot wat teen die wal aangemeer staan. Die son sak prentjiemooi-oranje oor die rivier, die bos en Lala-palms aan die oorkantse oewer swart afgeëts, en in die water die donker silhoeëtte van ‘n hele trop olifante, seekoeie wat op een van die eilande uitbeweeg om te gaan wei. Vivali, oorverdowend in my ore.
Ja, Vivaldi.
En ja, oorverdowend in my ore, in my kop, in my murg en bloed en been, dawerend, sidderend, polsend deur my skedel.
Ja, dit was nie net die dae van tapes  nie, dit was ook die dae van walkmans. Ek is op grens toe met ‘n walkman.
Solet, geseënde vrou wat sy is, geseënd ook tot in die derde en vierde geslag omdat sy dit vir my gedoen het, het vir my ‘n troepiepakkie gestuur met ‘n Vivaldi-musiek op, onder andere sy Gloria. En daar, kruisbeen op die boot, met die son wat oor die Okavango sak, het Barok en Afrika ongelooflik lieflik piel gevleg tot die maan lankal op, en die sterrenaghemel verblindend geskitter het.
Dis miskien hoekom ek nooit nodig had om my weeklikse malariapil fyn te maal en ‘n white pipe van derderangse dagga wat volop was, te maak nie – ek het Solet se Vivaldi gehad om my weg te vat, ver weg te vat.
O, en dan was daar Suster Sakkie wat in alle opsigte ‘n hawe was. Haar deur was altyd oop, of sy by die werk, op Rundu of in Windhoek was. En sy had ‘n platespeler.
Dis 25 jaar later en ek kan steeds nie na ‘n opname van Schubert se Sanctus uit sy Deutsche Messe  luister, of die vertaling sing, sonder om nie aan Sakkie se opname te dink en daarna te verlang nie:  Heilig, heilig, heilig, heilig ist der Herr! Heilig, heilig, heilig, heilig ist nur Er! Er, der nie begonnen, Er, der immer war, ewig ist und waltet, sein wird immerdar. Heilig, heilig, heilig, heilig ist der Herr! Heilig, heilig, heilig, heilig ist nur Er! Allmacht, Wunder, Liebe, alles rings umher!Heilig, heilig, heilig, heilig ist der Herr!
Ja, daar was ander mooi, ander baie mooi, maar die speler se naald is deurgespeel aan daardie betrokke snit. Kruisbeen nie op die dek van die boot nie, maar kruisbeen in Suster Sakkie se stoel.
Die laaste snit wat in my onthou maal, gaan kuier ek in die weermagverlede, is een wat my deesdae so een keer ‘n jaar in trane kry:
Hierdie dag belangrik my lief
Die foto's in my hand 'n ope brief
Hier was jy nog in die gradeklas
Klein haasbekkie met handjies skoongewas
Hier's jou kleinboet hy kon jou so pla
Geduld word mos van ma's gevra
Hier jou matriekafskeidsdans
Jou rok so mooi, o sterreglans
Vandag is jou troudag my meisie
Jy word 'n vrou my kind
Mag vreugde groei deur die jare
Hierdie jou dag
Toekoms wat wag
My liefste, my meisiekind
Destyds het ek dit gehaat, verafsku, daarop neergesien. (Dis so staandemag, so PF.) Maar intussen het ek 25 jaar gehad waarin ek so bietjie groter en ouer kon word.
Twee jaar gelede dryf die heimwee na Buffalo-basis en die wonderlike grepies onthou wat ek daar geöes  het, vriendskappe wat vandag steeds dividende oplewer, my om ‘n dubbel-CD met wyle Janita Claassen se musiek op, aan te knoop.
Die heel eerste snit, toe nie Ballonne in die wind nie, maar die een oor haar dogter se troue. Ons was in die motor op pad terug van Harties af, en ek sien Klaradyn in die truspieël . En daar doen my oë en gemoed wat Hartebeespoortdam se sluise na hewige reën doen – hulle stroom oor.
So vat ek vanaand vyf saam met die onthou, is dit, in geen spesifieke voorkeurvolgorde nie:
Glorias –Vivaldi
I wonder – Rodriguez
Heilig, heilig, heilig is der Herr – Schubert
Vandag is jou troudag my meisie – Janita Claassen
Me, myself, I – Tracy Chapman
Ver van die ou Kalahari – Koos Kombuis
Ek weet dis nie vyf nie maar ses. Moenie kla nie, dit kon maklik vyf en twintig gewees het. Ek wou immers iets oor die fliek Searching Sugarman kwyt geraak het, ook iets oor Laurika Rauch waarna ons Sondag gaan luister het. En toe haak ek vas met my arms op ‘n wollerige army-kombers.

15.11.12

Waarvoor wens jy


Ek soek ‘n kragpunt vir die rekenaar. Die battery is so te sê gedaan. Ek en Annieka moes ons middae saam met Klaradyn omruil en vir die tweede of derde keer hierdie jaar is dit ék wat ‘n uur in die motor voor die kunsklas moet deurbring. Ek eindig op in die lugversorgde ateljee waar Klaradyn en die res een maal ’n week vir ‘n hele uur lank hul kunsklas het.
Vandag se les, na die papier uitgedeel en die verf verdeel is, begin met ‘n eenvoudige vraag:  “Sê nou jy kon wens, waarvoor sou jy wens?”
Klaradyn antwoord heel eerste van die vier kinders:  “Ek sal wens ek verloor my allergie vir katte.”
“Mooi,” kom dit dadelik van die kunsjuffrou, “dan kan jy vandag ‘n prentjie skilder van jouself met ‘n kat.”
Is dit nie ‘n lieflike vertrekpunt vir ‘n kreatiewe uur nie!
Iemand anders is besig met ‘n tier of luiperd, en ‘n ander met ‘n Ferrari.
“Jy moet net dink wat jy graag wens, en dit dan teken of skilder.”
Ek noem dit ook nou “kunsklas” maar dis tegelyk meer, én minder, as die tradisionele kunsklas.
Minder, omdat jy nie hier ‘n tegniek oor en oor doen tot jy dit reg doen nie – dis geen gestruktureerde kunsklas met lesse en sillabusse, assesseringstandaarde en werkskemas nie.
Meer, omdat ‘n vaardigheid en tegniek nie al is wat die kinders oefen en ontwikkel nie, maar ook:  selfvertroue, waagmoed, vrymoedigheid, laterale denke buite die boksie, dissipline, selfdissipline. En nog baie meer, ook goed waaraan ek nie nou eers kan dink nie.
En dit alles op die maat van die allerlieflikste musiek en in ‘n ontspanne, dog beheersde en beheerde atmosfeer.
En daar, my merkwerk veilig in die motor toegesluit, konfronteer ek myself toe óók met die vraag:  “Waarvoor wens jy?”
Wanneer laas is ek met so ‘n vraag konfronteer, óf deur ‘n ander, óf deur myself?
In geen jare nie.
Maar erger as dit, is die feit dat ek nie dadelik, summier, soos Klaradyn netnou, ‘n antwoord gereed het nie. Nie dadelik en summier, soos in ‘n dinkskrum nie; ook nie na minute se nadenke nie. En tien minute later steeds nie.
Waarvoor wens ek? Waarna smag ek, hunker ek? Waaroor, waarvoor droom jy, Hans Moolman?
Daar is nie iets nie. Niks.
Is ek so afgestomp?
Of is ek so gelukkig?
Is ek dalk so tevrede?
Maar is tevrede, selftevrede en selfgenoegsaam, nie maar presies dieselfde as afgestomp nie?
Soos ‘n bok of ‘n buffel, ‘n wildebees of selfs ‘n baba olifant, soms in modder vasgevang, vas- en ingesuig word, is ek só vasverstrengel en tot my ore toe toegeslik in suburbia en grootmenswees dat ek die vermoë om nog te kan wens vir iets, heeltemal verloor het?
Wat sal ek skilder as die kunsjuffrou in my lewe my vandag, doelgerig en stip, gevra het waarvoor ek wens? Wat sal ek teken?
Of gaan ek bly sit met ‘n wit vel papier.
Ek hét gewens, ek hét gehoop. So onlangs soos drie of vier jaar gelede nog. Vir ‘n groter gesin.
En seker ander goed ook.
Wat ek nou nie eers meer kan onthou nie.
Maar die tweede kind en die ander goed waaraan ek nou nie eers kan dink nie, wat ek nou nie kan oproep nie, is meer dood as my ma, leef minder in my gedagtes as sy waarsonder ons nou al ‘n tweede Kersgety en Nuwejaar ingaan.
Ek weet baie goed waarvoor ek nié wens nie. Ek wens nie vir meer geld, ‘n ander werk, ‘n ander kar, ‘n ander huis, ‘n ander vrou, ‘n ander kind nie. Nie ‘n ander dorp, ‘n ander voorstad (suburb?) nie. Selfs nie eers net ‘n ander roete, pad of straat winkels, kerk en werk toe nie.
Miskien sal ek dan maar ‘n dakwaaier skilder.
Want as ek dan nou iets móét wens, dan is dit hierdie tyd van die jaar miskien dat iemand ‘n dakwaaier vir elke vertrek van die huis sal skenk.
Maar ek sal dit self koop ook – dit gaan nie oor die aanskaf of verwerf en geld uitgee nie; ek soek dat dit by magic ingesit moet word. Ook nie deur die tuinier nie. Hy ís ‘n meesterlike elektrisiën, maar ek soek hom nie om dit te doen nie – ek sal hom moet help soek na skroewedraaiers en insulasieband, ek sal lere moet help vashou.
En daarvan wil ek niks hê nie.
Daarom dat ek daarvoor wens.
Waarom dan vir dakwaaiers (wat hét van jou geword, Hans Moolman) waarom nie wens vir ‘n elektriese lugeversorgingsisteem dwars deur die hele huis nie, selfs extractor fans bo die stoof en in die badkamers nie?
Maar so sterk is my wens ook nie, dat ek dakwaaiers se lemme sal wil verf nie.
Ons leef nou agt jaar sonder ‘n waaier in elke vertrek; ons kan netsowel die volgende 15 jaar so voortleef. Die volgende 20 of 30, liefs 40 en 50.
En so tussen die tik en musiek deur, die kinders, kwaste en Tannie hier en Tannie daar, weet ek nou skielik presies wat ek sal skilder, boring, maar dit sal so lekker wees:
Pappa, Mamma en Klaars.
Klaradyn miskien slapend op my skoot, soos gisteraand by die laerskool se Kerssangdiens (soos ek my voorstel die kat op háár skoot in haar kunsklasprentjie sit). Sit Annieka nie langs my en Klaradyn se bene lê oor haar skoot nie (miskien het die kind so oor ons al twee aan die slaap geval) dan staan sy agter ons, haar arms beweeg na onder uit om ‘n driehoek te vorm.
Nie ‘n driehoek nie, vlerke van ‘n moederhen. Van ‘n engel.
Maar sukkel ek om dit te teken, dan verf ek ons in die swembad, soos so dikwels:  Klaradyn op my skouers gereed om af te spring, Mamma op haar helderkleurige opblaas-swembadstoel.
Nou vra jy miskien waarom ek vir iets wens wat ek reeds het, wat ek so onlangs soos gisteraand in die bedompige skoolsaal gehad het, gister agtermiddag in die water had.
My wens is nié om dit te hê nie, ek het dit in oorvloed; my wens is om dit te mag behóú.
Solank dit menslik en sterflik, misdaadlik en gebrokewerklikheidlik moontlik is.
Vir die volgende 20 of 30, liefs 40 en 50 jaar.

13.11.12

Bobotie, die laaste sê

Ek het ‘n ruk gelede die naaste wat ek nog ooit gekom het aan bobotie soos Leipoldt dit gemaak het, gekom.

Maar dit het ‘n lang pad gekom.

En daarvan hét ek al vertel, maar dit is voor ons die slothoofstuk, die klimaks, die tikkie hemel op aarde van ‘n week of wat gelede, beleef het.

Sien, ek en Annieka was nog aan die opsit toe ek die moeilike tannie en oom wat sy as Ma en Pa aanspreek, wou beïndruk.

Met Rembrandt-aandele kan ek dit nie doen nie.

Ook nie met staaltjies oor die dae toe ek en Joost saam vir die skool se eerstespan uitgedraf het nie.

Al wat daar vir my is om indruk mee te maak, is kosmaak.

Die lot val toe op bobotie.

Hoeka ‘n ou laai van my.

Dit was immers die jaar 1989, ‘n goeie sewe of agt jaar vroeër, toe dit alles begin het.

Hans is pas met universiteit en twee jaar in diens van die SAW & Seuns klaar. Ek’s bo in die lug in ‘n bachelor’s flat met ‘n kombuisie kleiner as my huidige badkamer.

Synde ‘n laat-laatlammetjie (my broer was in standerd 8 toe ek die eerste lewenslig aanskou het) was dit nogal ‘n okkasie toe hy, sy vrou en kinders vir die eerste keer op ‘n Sondag, al die pad van Johannesburg af, by my in die eertydse Petoorsdorp kom eet.

Ek besluit op geelrys en bobotie. (In ons huis was dit geelrys en rosyntjies; ons het nooit van begrafnisrys gepraat nie.)

Bobotie en geelrys behoort fieterjasierig en verwikkeld genoeg te wees vir so ‘n historiese moment.

(Wat is dit met my, geskiedkundige gebeurtenisse en bobotie? Ek en Annieka sou 21 jaar later bobotie op ons bruilofspyskaart ook hê?)

Twee kookboeke het ek destyds gehad. Die Kook en Geniet wat Boeta-hulle my namens die twee kleintjies as mondigwordingspresent gegee het (Dear Hansie, Happy 21st Birthday. Love Joanne. Love Marc —onderskeidelik in ‘n graad 1- en standerd 1-handskrif). En Huisgenoot Wenresepte 2, wat ej begin ’89 toe ek huis opsit, van Judy gekry het. (In die mooiste sierskrif hierdie keer:  Hans Moolman Feb 1989, op die skutblad se binneblad; Oubaas, geniet jou bak en brou!! Liefde Judy, ‘n entjie dieper in op die titelblad.)

Wenresepte sal dit dan wees. Pagina 112

Op pagina 112 het Huisgenoot twee bobotieresepte. ‘n Droëvrugte-bobotie, en neffens hom een wat aan Tini Vorster, voormalige Premiers- en Staatspresidentsvrou, toegedig word.

Vrydag na skool koop ek aan.

Saterdag na wintersport berei ek voor.

En Sondag, loop alles volgens plan, eet ons.

Gelukkig (ongelukkig?) is ek nie bang vir improviseer nie. As daar plek is vir droë-appelkose, droë-appellringe en rosyntjies; waarom nie daarby ook droë-perskes en ‘n dadel vir die soet nie?

Een keer in my lewe het ek geblikte chestnuts gekoop. So ‘n maand of wat tevore. Oor ek wou proe hoe dit proe. Nodeloos om te sê my bobotie het chestnuts en amandels ook ingekry.

So dis nie dat ek bang is om te waag nie. Dis net, toe ek die tweede keer kerriepoeier moet byvoeg, dat dit nie vir my sin maak nie. Ek dog eers dis vir die eier, maar nee, daar staan dit — dit moet ook in die vleis. Miskien was die borrie vir die eier, maar nou sê tannie Tini skielik niks van borrie nie. Ek het tog al borrie bygegooi.

Maar dis eers toe ek wonder of suurlemoensap en asyn nie dieselfde werk verrig in ‘n resep nie, dat ek snuf in die neus kry — in my angstigheid en spanning het ek dan links gelees en ingegooi, en dan weer regs, en ingegooi. Nadat ek soorts van tot verhaal gekom het blyk dit ek nou net mooitjies alles van beide resepte saam in een bak het. (Met dan nog my talle eie minder tradisionele bestanddele, daarby.) En dis, besef ek toe, hoekom ek nie juis melk oor had om met die eiers te meng, nadat ek die geweekte brood daar uit gelig het nie — ek het die een resep se min melk, by die ander resep se meer brood gegooi.

Maar dit was ‘n treffer!

En tot vandag toe, kan ek nie bobotie maak, daaraan dink of daarvan praat nie, sonder om nie tere herinneringe aan daai eerste bobotie van my te kry nie.

Later jare sou ek by ‘n puris soos Peter Veldsman, of miskien was dit Leipoldt homself, lees dat bobotie slegs bobotie is, as dit van skaapvleis gemaak word.

(Dis glo ook so met sosaties wat kebabs/kabobs word, die oomblik wat jy skaap verruil vir bees of vark, selfs die oomblik as jy allerhande ander fieterjasies soos pruimedante of nuwerwetse peppadews, in plaas van appelkose, inryg.)

Maar Leipoldt se bobotie is ‘n vertelling op sy eie:

Ek’s nou al mooi groot en wil, soos reeds gesê, die girl wat later my liewe vrou sou word, se ouers beïndruk.

Ek het (daardie jare was Leipoldt se resepteboeke nie soos vandag agter elke klip uit te skop nie) pas ‘n verslete aankoop van een van sy ou-ou boeke gemaak.

En, soos ek later sou agterkom eie aan hom is, gee die man nie ‘n enkele resep puntsgewys en klinies nie, nee, hy vertel hom skrywendergewys, al geselsende, en jy verlekker jou in die lees van kulinêre prosa.

Geen Huisgenoot se Wenresepte of Kook en Geniet nou vir my nie. Dankie maar nee dankie; ons eet aan die voete van Gamaliël.

Gamaliël kos my ook soek om ‘n slagter te kry wat skaapvleis vir my sal maal.

Slagters se meulens is mos deesdae so fancy dat my kilogram skaapvleis nog in die meule se derms vassit as die laaste paar honderd gram al klaar by die bek ingeprop is. Nou moet jy die skaapvleis aanjaag met nog skaap van bo, om iewers ónder die kilogram of wat maalvleisies op te vang. En dan sit hulle met nog twee kilo’s skaapvleis in die binnewerkinge van die masjien, wat hulle nie verkoop kry nie. Lang storie.

Maar ek het my gemaalde lamsboud gekry; by die Oosterse Plaza het ek selfs tamaryn loop kry om my bobotie outentiek en sonder asyn te maak.

En daar gaan my bobotie onder luide fanfare die oond in. Die jong dame het vlinders in haar oë en skoenlappers op allerhande ander plekke. Haar ouers lyk ook ingenome. My hart klop.

Maar toe ek die bobotie uithaal na die tyd wat Leipoldt ons aanraai om dit uit die oond te kry, toe is my bobotie skaars gestol.

Toe ons die skottel uiteindelik gaar het, toe is dit so droog soos laasjaar se wildsbiltong wat buite bly hang het.

Dis eers ‘n jaar of wat later, toe my versameling Leipoldt-boeke aansienlik uitgebrei het, dat ek lees bobotie is tradisioneel van gemaalde skaapboud gemaak.

Maar dis nou nie gemaalde skaapboud wat die slagter vir jou maal en afweeg nie; dis die skaapboud wat oorgebly het van Sondag se middagete.

Die goed wat Leipoldt oond toe gestuur het, was gare gemaalde left overs!

Leipoldt het aanvaar ons weet dit, en gevolglik niks daarvan in sy eerste vertelling rondom bobotie genoem nie.

Nou vra ek jou – wanneer moet ek, bróódwinner en nie gemesde-kalf-winner nie, vandag se dae genoeg oorskiet skaapboud hê om regte egte bobotie van te maak?

In die vyftien jaar sedert ek agter die kap van die byl gekom het, het ek nog net hoogstens vyf keer skaapboud gaargemaak: twee boude van ‘n ooi wat ek present gekry het, een vir ‘n Kersete en twee ander waarvoor ek oë moes toe en beursie oop omdat ek dit by Woolworths gekoop het.

Maar so word die einste tannie wie se guns ek destyds probeer wen het, vandag al vir jare my skoonma, toe mos nou die anderdag 70.

En daar word ‘n skaap op die spit gebraai.

Maar saam met die skaap ‘n spul hoenderkabobs daarby.

Die gevolg is dat daar die einde van die aand van die skaap oorbly. Die spyseniers laat dit vir ons in ‘n skinkbord agter toe hulle met die vuil borde, glase, messe en vurke vertrek.

Toe wil niemand die oorskietvleis hê nie. Behalwe nou ek. Maar toe ek terugkom na ek iets in die motor gepak het, moet ek hoor die vleis gaan nou vir die motorwag gegee word. Toe maak ek maar my stem dik en sorg dat die oorskiet waarop almal nou so neersien uit die motorwag se mond, in my kar se kattebak kom.

En moet asseblief nie vir een oomblik dink die man het nie reeds meer vleis weg as wat ek en my familie sáám die aand geniet het nie, hy hét.

En die volgende dag toe maal ek net so oor die twee kilogram se gare skaapvleis, twee keer en mooi fyn presies soos Leipoldt vertel.

Die appelkose wat oorgebly het van my verjaarsdag se sosaties, sommer ook ‘n stuk vrugterol waarin Klaradyn geen sin het nie, word ook deur die lemme gestuur.

Ek gaan koop amandels en pluk suurlemoenblare om te posisioneer.

Ek week met liefde in melk, speel met borrie en werk alles sagkens in...

Dit stol en set in net mooi die tyd wat Leipoldt voorgestel het.

Dat ek nou vir 47 gedink het ek eet bobotie, sonder dat ek ooit ‘n enkele keer bobotie geëet het. Hoeveel keer het ek nie vleis en geurmiddels en korente en amandels saam in ‘n skottel gefoeter en dit bobotie genoem nie! Ek was verkeerd. Totaal en al verkeerd.

Wat geur betref, is dit natuurlik dieselfde. Maar wat tekstuur betref, kan selfs die gemaalde skaapvleis wat ek deesdae eers braai voor ek die bobotie daarvan meng, nie by hierdie dis kers vashou nie.

Dis ongelooflik anders en onverbeterlik!

Ek kan my in my wildste drome nie voorstel dat ek ‘n Woolworths-lamsboudjie gaar sal maak en opmaal tot bobotie nie. Maar miskien net slag iemand iewers ‘n ou ooi wat jy present kry. Miskien dalk net bly daarvan genoeg oor om deur die vleismeul te stuur.

Probeer dit gerus, daar gaan ‘n nuwe wêreld, ‘n stuk Suid-Afrikaanse kostradisie en –geskiedenis, vir jou oop.


5.11.12

Intrperneers 2013


Intrperneers is hoe Klaradyn die woord op 8 vir die eerste keer in haar lewe verkeerd gespel het.

Hoeveel keer sy hom nog verkeerd gaan spel, weet ek nie – kinders spel dit nou se dae immers tot in matriek nog verkeerd. Hierdie is na my beskeie mening egter een van die meer intelligente  verkeerde spelwyses van die woord, ek het kinders agt en nege jaar ouer as sy, die woord al veel meer verkeerd sien spel. Vir die gemiddelde graad twee is hierdie glad nie sleg nie; al die konsonante is immers daar, én dis in dieselfde volgorde geskryf as wat dit gehoor word.

Mamma was by ‘n vergadering die aand, en knap voor slaaptyd wou sy ‘n briefie op die kombuistafel laat om haar daaraan te herinner om tog net haar registrasievorm vir vandeesjaar se entrepreneursdag in te vul en reg te hê teen die volgende oggend. Vandaar die rede om hierdie vreeslike groot woord op 8 reeds te wil spel.

Dit was redelik vroeg in die jaar reeds duidelik wat dit vanjaar gaan wees – maskers. Sy en ma het na afloop van vanjaar se dag verskil oor presies wié eerste op die gedagte van die maskers gekom het. As dit dan is dat dit Ma is wat aanvanklik die saadjie geplant het, dan kan daar tot Klaradyn se eer gesê word dat sy die saadjie vanuit die staanspoor gekoester, versorg en bygestaan het.

Annieka het ons dagboeke maande voor die tyd so uitgekyk en tot die gevolgtrekking gekom dat ons alles al in September in plek moet hê as ons enigsins daaraan wil dink om einde Oktober hoegenaamd iets op ‘n tafel uit te wil pak.

So sit ons gesinnetjie toe lank voor die Oktober-katspoegie-vir-‘n-verskoning-van-‘n-vakansie af Johannesburg toe, Sjinese Basaar toe.

In ‘n stadium, deur die loop van die jaar, het ons verneem die China Malls het almal op ‘n streep toegemaak – die outjies en SARS het glo ernstig koppe gestamp. Maar toe ons iewers in September weer daar aankom was dit business as usual.

Ons het ‘n heerlike oggend, die drie van ons, en dis met twee, tot oorlopens toe vol, inkopiesakke dat ons die pad terug Pretoorsdorp toe aanpak. Darem nie na ons nie eers ‘n heerlike porsie Sjinese kits gemorskos ook ingewerk het nie.

En daar staan die twee sakke toe nou in een hoek van ‘n vertrek tot verlede Maandag toe. Wat ‘n fout was,  want toe ons dit meer as ‘n maand later uitpak, kan ons geensins onthou wat ons vir elkeen van die onderskeie spul maskers betaal het nie.

Vir Klaradyn is dit natuurlik geensins ‘n probleem nie, haar opregte voorstel is immers dat ons ons stalletjie ‘n R2-00 stalletjie maak en alles voor die voet (en voetstoots, gedagtig aan die land van oorsprong) teen R2-00 moet verkwansel.

Dis ook op daardie punt dat ek myself weer daar aan moet herinner dat Ekonomiese en Bestuurswetenskappe nog nié deel van die graad 2-kurrikulum uitmaak nie; die skool spoor die outjies aan om deel te wil neem, maar die vooraf agterafgesprekkies rondom die rasionaal agter dit alles, en die gedagte aan wins, is nog lank nie in plek nie.

Ag, siestog, en aan moedersknie of vadershand gaan die stomme kind dit ook nie inkry nie, dit sal van die skool móét wees – ek en Annieka het nie een hoegenaamd enige aanvoeling vir die handelsbedryf nie. Ons voorgeslag, so lyk dit, ook nie, want dis duidelik dat Klaradyn van nergens selfs net ‘n greintjie besigheidsgene en gesonde fiskale verstand in haar bloed geërf het nie. Dit help nie eers ek probeer verduidelik dat daar maskers is waarvoor ons so veel as R7-50 stuk betaal het nie en dit onmoontlik nie teen R2-00 van die hand kan sit nie; sy hou voet by stuk dat sy daarvan oortuig is dat ons ‘n toestroming van kliënte sal hê as ons alles teen R2-00 uitverkoop.

En sy is natuurlik reg – hulle sal ons toestaan, wat heerlik is, en ons sál alles uitverkoop, maar wat het van die intrperneers in entrepreneursdag geword?

En hoewel ek geen entrepreneur in my kind kon opspoor nie, kon ek my kind se ontsettende sagte en groot hart nie miskyk nie. As ‘n klein handjie ‘n laaste R1-00’jie vir ‘n R2-00-masker aanbied, R2-00 oor het, maar die R5-00 nie, dan kyk sy my gou vir ‘n oomblik in die oog en aanvaar die verlies gelate en met ‘n warm glimlag.

Maatjies wat glad nie haar maatjies is nie, word skielik haar maatjies, niemand mag weggewys word nie, en as iemand met leë hande agterbly, is dit elke keer eerder sy en nie die besoeker nie.

Nie dat ons vreeslik op die wins ingestel is nie, ons, ek en Annieka, glo beide in ‘n klein winsgrens wat versterk word deur ‘n vreeslike hoë omset. Ons soek immers nie een die profyt nie, maar eerder die geselligheid van die uur of wat van die verkope, kinders wat maal en soek en gesels en óóé en ááh.
En dit het ons alles gehad, saam met vieslike koue rukwinde gerugte van sneeu elders in die binneland wat my buurman se piksplinternuwe gazebo op drie plekke stukkend geruk het.

Maar dit was heerlik.

Daar was ‘n groot omset, bykans alles is uitverkoop.

Teen die verwagting in het die R10-00-maskers, die met die bling-bling en die vere en die krale en die tieterlantynties, eerste gegaan; dis van die goedkoop, maar lieflike, R2-00-maskers wat oorgebly het.

Dít het ons egter vanuit die staanspoor voorsien – ons het van die begin af gesê ons gaan dit wat te veel is, vir die kleuterskool gee, vir die kleintjies om mee te kan speel. Op die ou einde het die juffrou minder gekry as waarop ons gereken het.

Gelyk het ons definitief gebreek, maar reken ons die petrolgeld, Johannesburg toe en terug, by dan is daar van wins nie sprake nie.

Dis egter dan suiwer rand-en-sent-wins.

En wins en rente en dividende kom in veel meer, en ryker, vorme as suiwer rand en sent.

Daaraan gemeet het vanjaar se entrepreneursdag ons weereens stinkskatryk gelaat.

Daar is gerugte dat vanjaar die laaste jaar van ‘n entrepreneursdag vir elke graad was. En dis waar dat die dag tot ongelukkigheid kan aanleiding gee – nie alle ouers kan daar wees om hul kinders te help nie, daar is fat cat-stalletjies  én dirty rat-kraampies wat die dam onder die eend kan uitruk.

Tog sal dit ‘n jammerte wees as dit die einde is. Elkeen van die ander grade se entrepreneursdae was nog elke keer vir Klaradyn ‘n hoogtepunt om na uit te sien en na die tyd van te praat; allermins nie net haar eie nie.

En dít sal ‘n gemis, dwars deur die jaar, wees.

3.11.12

Kaskar 2012


Laerskool Voorpos in Waverley, Pretoria, se graad 2’s het ‘n vreeslike lekker week gehad – Woensdag was hul jaarlikse entrepreneursdag, en Vrydag die ewe jaarlikse kaskarwedren. Met die eerste maak hulle geld vir hulself; met die tweede samel hulle geld vir die skool in.
Annieka, vermoed ek, het haar misreken met hoeveel méér rondes as die vorige jaar, ‘n spul graad 2-leerders en hul ouers kan stoot. Ek dink ook daar was meer belangstelling en stoters en ouers en aanhangers uit graad 2S vanjaar, as wat daar verlede jaar uit graad 1-muisklas was.
En dan vermoed ek die skool het, na verlede jaar se kaskar wreed uitgereën het, besluit om vanjaar vir verlede jaar se verlies op te maak deur die baan vandeesjaar ‘n goeie 25% kleiner as in 2011 te maak.
Hoe dit ook al sy, die Wriemels (dis hoe Klaradyn-hulle se klas vanjaar bekend gestaan het) het gisteraand  214 keer in die rondte gegaan en die Moolmans word gevolglik vir ‘n hele paar honderd rand meer as in die verlede aangeslaan.
Maar, soos my oorlede pa altyd gesê het, dis vir ‘n verdienstelike saak;  soos my oorlede mammie altyd gesê het, in for a penny, in for a  pound; soos ék altyd sê, ag, wat – dis een groot vet lekkerte, en soos wat Annieka altyd sê:  werp jou brood op die water...
Verlede jaar het ek die fout gemaak om te vergeet dat ek, al voel ek elke dag net so oud soos die ander graad 1-pappas, ek ‘n goeie 10 na 15 jaar ouer as hulle is. En terwyl elkeen van hulle wat so lekker hol, in matriek nog vir die eerstespan rugby gespeel het en steeds twee keer ‘n week gimnasium toe gaan om fiks te bly, het ek, eenmalig, in standerd 3 rugby gespeel, en iewers, net so eenmalig, in my eerste jaar op universiteit saam met Riaan na die dorp se trimpark gegaan, en nog nóóit óóit weer nie.
Ek het ook vergeet dat my maag my broek van nature ondertoe druk, trouens, met klas- en kar- en huissleutels in die een sak, en ‘n beursie dik aan munte in plaas van note, gaan die ganse broek teen die eerste draai al, ten aanskoue van ‘n hele laerskool se ouers, op die grond beland, ás ek hom nie al die pad met die een hand vashou nie.
En so is ek met die een hand voor aan die kaskar, en die ander hand agter by die broekrek rond, ‘n keer of wat om die baan. En dit terwyl dit vinniger sou gegaan het as ek met my grote lyf óp die kaskar gesit het en die twee graad 1’s my gestoot het.
Gevolglik, toe die Juffrou Woensdag vra of ek of Annieka die rondeteller nie in ‘n stadium wil aflos dat sy gou ‘n draaitjie kan loop nie, toe willig ek dadelik in.
Straks het ek so gou en begerig ingewillig om te tel dat die juffrou die idee gekry het ek sal sommer die heeltyd tel, wat toe ook gebeur het – ék  is halfpad deur die aanvanklike rondeteller kom aflos vir ‘n pie-pie en om gou iets warms in die kar te gaan haal.
Wat ook maar beter so is, die vriendin wat sou rondes tel is ‘n selferkende aandagafleibare kletkous van ‘n babbelbek, sy sou net so hier en daar, hoogstens elke tweede of derde ronde, al geselsende geregistreer  het.
Sy het vir ons klas veel meer tussen die kinders in die kuipe beteken as agter ‘n tafel, ‘n velletjie papier en ‘n potlood aan die oorkant van die baan.
En ek kon weer veel meer beteken aan die oorkant as daar anderkant by hulle, of erger nog – óp die baan en óm die baan met my een hand agter en die ander voor.
Nou kyk, selfs al hét ek, soos my voorgeslag, self wintersoggens moes skool toe stap, en dit kaalvoet met net vars beesmis waaruit die hitte nog opslaan om die koue, kale wintervoetjies plek-plek in te verwarm, sou dit nie so erg gewees het soos wat Klaradyn dit in haar tyd en dag het nie.
Soggens, wanneer haar maatjies nog ‘n halfuur en ‘n uur langer en later in die bed lê, trippel sy al motor toe om by Ouma afgelaai te word. Voor 06:00 dat sy en ma smorens hier wegry, sodat , Ma betyds vir haar 06:45 oggendvergadering kan wees.
Gevolglik nie elke oggend met ‘n jubelkreet dat Klaradyn wakker word nie (sy wórd trouens bykans nooit wakker nie, sy moet wakker gemáák word). Vandeesweek het sy egter twee keer, vanself, vroeg, wakker gewórd. En dit elke keer, nie net met ‘n lied in die hart en lag op die lippe nie, maar met ‘n jubel uit die keel daarby. Woensdag was dit ‘n luide “ENTREPRENEURSDAG”  wat my en mamma kamer toe laat hol het om te sien die meisiekind is wakker. Vrydag is die dag met ‘n “KASKAR!” oor die lippe aangegryp. Ons praat van iewers knap na 05:00.
Dis nou die volgende oggend, op die kop 08:00, en sy slaap steeds ‘n barshou. En dan is Klaradyn iemand wat, vanweë haar ongewone normale oggendroetine, nie sommer Saterdagoggende tot veel later as 07:00 kán slaap nie.
Dit getuig egter alles van watter heerlike dag die kind gister gehad het, as ek maar weer sien, dan is dit Klaradyn agter die stuur op die kaskar self, of Klaradyn wat die stoot- en holwerk help doen.
Toe sy die eerste keer omkom, merk twee tellers rondom my op dat ons tog moet raaksien hoe vreeslik dáárdie betrokke dogter in kaskar 7 dit geniet. “Dáárdie dogterjie” is toe, sonder dat hulle dit weet, mý dogter. En sy wás ‘n gesig om te aanskou – die ene gefokusde, uitgelate,  pret en plesier en opwinding en adrenalien en noem maar op.
Daarom ook dat ek met grootse trots onmiddellik vaderskap erken en bely en aanvaar het.
Ek sal betaal om my kind volgende jaar weer so gelukkig te kan sien.
Ek gáán tien teen een betaal  –  in graad 3 is dit seker nóg 50 rondes meer. Maar, ag, wat, ek gee  nie om nie, dis een groot vet lekkerte en net ‘n plesier.
Mamma het terug van waar die werk haar Johannesburg toe had, deur die loop van die  wedren by ons aangesluit. Maar ek het gemaak of ek haar nie eers sien nie, netnou wil sy kom tel sodat ek kan gaan hol. En dan moet ek my eersteklas, prima, sitplek prysgee! Daar is mos nou nie ‘n manier nie.
Verlede jaar, toe die aand so kwaai en met soveel donder en blitse en sluise en strome uitgereën het, dat die graad eentjies nog vir weke bang vir die weer was, is ons huis toe na ‘n kragonderbreking en aandete met vriende by gedwonge kerslig.
Vanjaar het die aand op die een se verjaarsdag geval, so ons is droog en in een stuk na ‘n verjaarsdaggeselligheid toe. Dit was vreeslik gesellig – drie maatjies en hul ouers – elkeen immers soos ‘n resiesperd wat pas ‘n wedren voltooi het en koudgelei moet word.
Tot ounag toe, dagbreek toe, kón nie een van ons nie, ons was net eenvoudig te moeg. Klaradyn het by die eerste stopstraat, letterlik in die middel van haar sin, aan die slaap geraak toe ons, en die koffiekoppies was nog nie eers ordentlik koud nie, daar wegry.
En hier is dit al 08:21, my storie is uitgeskryf en die kind slaap nog steeds! Dis ‘n rekord vir haar.
Mamma is al douvoordag op en uit werk toe.
Vir my sou dit self beter gewees het as ek agter die skoolwerk en nie agter die rekenaar ingeskuif het nie. Ook nie dat ek ágter hom ingeskuif het nie, eerder ónder hom in – ek lê op die naat van my rug met my skootrekenaar op my boepens en tik.
Miskien, volgende jaar, is die boepens weggewerk, afgewerk, en hoef ek nie weer rondes te tel nie, maar hol ek saam.
Soos ‘n wafferse 26-jarige wie se matriekafskeidbaba al in graad 3 is, en nie soos ‘n 48-jarige nie.
Sal dit nie lekker wees nie!
Want volgende jaar, as ons nog leef en ons is uitgespaar, dan maak ons weer so, Pappa en Mamma en Klaars. Ouma, Oupa, Oom Schalk, Tannie Vicki, Phil, Ilze, Petri, Tessa, Carel, die hele spul van ons.
Want die lewe is lied, die notebalk lê voor jou oop en uitgestrek, maar jý moet die note, die melodie, die toon, tempo en die ritme self voorsien.

26.10.12

Woensdagmiddag toe dit hier by ons na reën gelyk het

In 25 jaar van onderwyser speel (eintlik is dit 37 jaar onderwys, tel jy die 12 jaar agter die banke by) het ek darem al baie maal gehoop en bid die atletiek reën uit.
Vanoggend weer.
Maar dit was die eerste keer dat ek gehoop het ‘n byeenkoms van Klardyn, en nie my eie skool s'n nie, spoel in stormwaterstrome en –slote weg.
En dis nie dat ek nie wil hê hulle moet hol nie, hulle moet; dis net dat ek daar wil kan wees as my eie kind hol.
En dit kon ek nie vanmiddag nie:  drie ander verpligtinge,en nog 'n een of ander daarby ook.
Toe dit egter hier teen 12:00 steeds by blote beloftes en vae gerugte van reën bly, toe klim ek met my onbeholpe vingers op die foon se alfabet en SMS my uit twee en ‘n half van die drie afsprake uit. (Ons het die een in topversnelling teen vinnige spoed so in die hardloop afgehandel; vandaar die verlore halwe.)
En dan is dit nou nie dat ek en Annieka ‘n wunderkind, ‘n Jesse Budd of Zola Owens (ja, my sportverwysingsraamwerk is kleiner as my jaarlikse verhoging) in ons midde het nie; dis net dat sy vir haar kleurspan gaan hol, drie keer, en Pappa wil daar wees om dit te sien.
Sy was vierde in haar kleurspan, die Berghane (nogal Mamma se gunsteling roofvoël) maar ek is seker daar is in elkeen van die ander twee kleurspanne seker 8 kinders vinniger as sy.
Maar nie een so gewillig, en dan nog met soveel oorgawe gewillig, soos sy nie.
Die lewe is mos vir Klaradyn ‘n lied, en as drie interhuisitems toevallig drie akkoorde in daardie lied is, dan sing sy uit vollebors saam.
Die helfte van die eerste vergadering na skool het my, ten spyte van ons haas, uit haar eerste item uit.
Ek verneem by Mamma, via selfoon, dat sy nie ‘n goeie wedloop gehad het nie;  sy was glo nie deeglik opgewarm nie.
Voor die tweede item verbeel ek my inderdaad ek sien iets wat lyk soos iemand wat iets aan het wat kan herinner aan Klaradyn se t-hemp, besig om strekoefeninge te doen. Maar in daardie stadium is ek meer bekommerd die kind gaan oorkook van al die roomys en koeldrank wat ons tussen die twee items ingepas het, as dat sy enigsins gevaar kan loop van ‘n  koue spier wat verstuit.
Ons Moolman het teen daardie stadium in elk geval genoeg spiere vir een dag verstuit – Ma het, nie dat ek kan getuig nie, ek leen my ore aan haar uit, effe onvleiend iewers agter die pawiljoene  neergeslaan en haar enkel staan soos ‘n ballon wat enige oomblik kan bars.
Maar dit gaan in die tweede item, gemeet aan die hoor-sê van die eerste, nie te sleg nie; ek oortuig haar sy was sewende en wys by herhaling daarop dat sy meer as een kind in die wedloop  verby gevat het.
Dit (sal diegene wat verlede jaar ook hier gelees het, weet) is al ‘n reuse verbetering op 2011 se prestasie; verlede jaar het sy, nogal in die aflos, gewag dat haar maatjies haar eers inhaal voor sy verder saam met hulle gehol het.
Sy het verlede jaar die eerste been van die aflos gehardloop en in die buitebaan weggespring. Om voorsiening te maak vir die kromming van die baan, het sy toe natuurlik etlike meters voor haar ander maatjies afgesak vir die wegspring. En toe haar maatjies eers langs haar is en hulle kan saam hardloop, beteken dit toe dat hulle teoreties (onthou die kromming en die buitebaan) meters voor haar is.
Vanjaar, toe dit weer aflostyd is, sien ek die spanbestuurder het darem geleer uit vorige jaar se fout en sy is nou op die eerste oorgee.
Voor die aflos is daar sprake van nog ‘n roomys en ek ontdek die kerrie-en-rys in die kombuis onder die pawiljoen. Daar is darem maar min dinge so sleg soos slegte, afskeep kerrie-en-rys, by enige skoolfunksie of kerkbasaar. Aan die ander kant is daar min dinge so lekker soos ‘n lekker bakkie kerrie-en-rys op so ‘n geleentheid.
Met die gerugte van reën steeds in die lug, dis lekker bewolk en eerder koud as warm, is dit net die feit dat ek weet hulle gaan my snaaks aankyk as ek nóg ‘n bakkie koop, wat my daarvan weerhou om ‘n derde bakkie te koop.
Toegegee, ek wil ook nie my aandete bederf nie – die oomblik toe ek my verbeel dis nie meer hoogsomer se hitte nie, en almal beplan om ‘n pannekoekie deur te werk, het my kop ook op kaneelsuiker besluit, maar nie saam met pannekoek nie, saam met melkkos.
Ewenwel, ek (dik gevreet) en Ma (haar voet dik geswel van die neersloeg) val toe iewers tussen ‘n spul oudleerlinge van my, wat nou almal saam met hul 1991-onnie kinders in die skool het, langs haar trek van die baan in. Wat takties gesproke natuurlik ‘n moerawiese fout was, want toe sy ons sien en hoor aanmoedig, toe kyk sy vir ons, glimlag vir ons, en vergeet geheel en al dat sy eintlik met ‘n wedloop besig is. (Gelukkig was dit nie ‘n skoolkonsert en die ban ‘n verhoog nie, want dan het sy nog vir ons gewaai en halo gesê ook.)
Met die oorgee van die stokkie (maar dis ‘n eufemisme – toe sy die kind wat by haar moet oorneem se onderarm met die stok stukkend kap en haar pols boonop in die proses ook ontwrig) verloor hulle nog kosbare sekondes/meters, wat soos minute/kilometers gevoel het.
Maar, ag, dis so lekker! En die dogtertjie op tweede oorgee het dit in elk geval nie eers gevoel nie!
Ek het my aansporing met die “baie maatjies verby gesteek” op die reguit-snol-wenpaal-toe, probeer ewenaar met ‘n verduideliking van hoe sy die afstand tussen laaste en tweede drasties laat krimp het, maar die konsep is vir haar nog onmoontlik om te snap. Ek het probeer.
Nie dat dit nodig was nie. Sy het lekker gehol. Ons het huis toe gery en langs die pad gestop vir koeldrank. Ons moes selfs terugry om die warm ding wat sy aan die oorkant van die veld onder ‘n boom vergeet het, te kom optel.
Maar die belangrikste van alles, die spesiaalste en kosbaarste, spontaan, sonder dat ek dit vra of haar daarna pols, is haar opmerking (die belangrikste van alles, die spesiaalste en kosbaarste, spontaanste, sonder dat ek dit vra of haar pols) toe sy langs my in die motor klim en uit haar eie sê:  “Baie dankie Pappa dat jy vir my kom kyk het.”
Ek is nie so nie, en ek het haar nie so afgerig nie. Sy het nie nodig om dit te sê nie, nie vir my nie, vir ‘n ander tannie beslis, maar nie vir haar pa nie...
En tog:  :  “Baie dankie Pappa dat vir my kom kyk het.”
Vir daardie paar woordjies sit ek volgende jaar weer daar, ry ek trouens skelmpies ‘n periode of wat voor die tyd by die skool weg en hoop die hoof vang my nie uit nie.

14.10.12

Oor Pettson, Fielies en ‘n sielsvriendin

Protea-boekehuis, so lyk dit my, is besig om Sven Nordqvist se hele reeks rondom Pettson en sy kletsende kat in Afrikaans te vertaal.

Verlede jaar, ‘n dag of wat voor my ma se siekbed en dood is ek inderhaas boekwinkel toe om ‘n Vir-Klaradyn-met-liefde-van-Ouma-Nooi-geskenkie te koop.

Dis toe dat ek op die eerste, en in daardie stadium enigste, twee besluit.

In Klaradyn se eerste boekies het my ma nog met haar mooi sierskrif-handskrif kon skryf, maar die laaste jaar of wat skryf ons maar self: Aan Klaradyn, met baie liefde van Ouma Nooi.

My oë val die laaste jaar op meer as een geleentheid op daardie woorde want ek en Klaradyn raak dadelik verlief op die eksentrieke karakter van ou Pettson; Fielies, sy kat, kom kruip onder ons vel in.

Die verteller in die Afrikaanse vertelling vertel die stories ook so lekker, ‘n mens kan nie anders as om pens en pootjies in die gebeure in te klim nie.

Maar dan luister en lees ‘n mens nie net lekker nie – jy kýk so lekker daarby ook. Sven is immers skrywer én illustreerder tegelyk, daarom miskien dat die storie en die beeld, die verteltrant en tekenstyl so lieflik ontmoet.

Deur die loop van die jaar kom ons agter ‘n vriendin, haar man en die ganse gesin is soos ons net sulke sterk aanhangers van die eensame ou man en sy pratende kat.

Terwyl die kinders buite speel, lag ons grootmense te heerlik (ek hoor weer ons gas en jarelange universiteitsvriendin van onder, diep en laag uit maag en keel lag) om die etenstafel vir die omie en die kat se streke.

En so bring hulle vir my en Klaradyn ook by Pettson op Youtube uit.

Ja, hierdie is kinderboekmense, nog mense wat soos ek die boeke en outeurs en illustreerders gaan google om meer te ontdek, en inderdaad meer ontdek.

En toe, verlede Sondag, loop ek nóg twee in die reeks raak. Fielies raak weg en Pettson gaan kampeer.

Klaradyn klouter saam met Mamma en Pappa op die dubbelbed en voor ons, ons Sondagagtermiddagslapie geniet, het ons ons eerste ontmoeting met twee nuwe stories.

Ek moet die voorlees by herhaling op grond van een van twee redes onderbreek: óf ek, óf Klaradyn kraai te veel van die lag, of ons al twee wil eers net die lieflike illustrasies “lees”, voor ons verder aan die woorde lees.

Die wonderlike samesyn in die geselskap van Pettson en Fielies en die hoenders en die twee husse, ontaard in een van die lekkerste momente wat ons tweetjies in ‘n lang tyd het.

Maandag jaag ek eers Graffiti-boekwinkel, toe reguit na Protea-boekwinkel toe, om vir my boekvriendin ook ‘n eksemplaar van die boeke te kry. Nie vir die kinders nie, nie vir Pa nie, vir háár, spesiaal.

Ek wil haar gee, ek wil haar skenk, gun, presies dieselfde wondermoment wat ek en my kind gehad het, saam met elkeen van haar drie kinders en haar man.

Ek verwoord daarom ook my kaartjie iets soos:  Ek wil jou drie geskenke in een gee. Die minste daarvan is die twee boeke. Groter is die genot en leeservaring om die boeke, die storie en die prentjies self te leer ken; en nog groter as dit, die genieting om jou kinders se genot te beleef as jy dit vir hulle voorlees.

Dit word my hart se wens om dit met my haar te kan deel.

Woensdag maak ek my oë groot toe ek in my vriend en kollega se kantoor sien dat sy vrou se pakkie van die vorige dag nog net so in die kantoor lê.

Maar dit gaan dol in hul huishouding en ek verstaan.

Vrydag bel hy my net na nege die aand.

Ek skrik.

Ons was nie een van die twee die dag by die skool nie.

Hy bel spesiaal om te laat weet dat my geskenk wel, so wil dit voorkom, reaksie ontlok het – die enigste reaksie ontlok het.

Pappa is met al drie kinders hospitaal toe, maar Mamma is onder omstandighede nie tot veel reaksie in staat nie.
En so red Pettson en Fielies gelukkig toe die aand – dis toe hulle haar van die boeke vertel, dat sy inderdaad ‘n glimlag oor haar lippe en in haar gesig kry.

En as sy kon, weet ek dit sou daardie lekker, diep, lank en uitgeregte, kenmerkende lag van haar, die een wat sy lag as sy die dag lekker lag, van onder uit haar keel en maag wees.

Maar nie Vrydagaand nie.

Gister pluk ons blomme in ‘n vriend se tuin om te sê dat ons lief is, blomme om teenwoordig te wees waar dit te privaat en intiem is vir ons om self in die persoon te wees, die onkologiese Mary Potter-vleuel van die Little Company of Mary-hospitaal.

Of sy ooit die lieflike Lemon Verbena en Roosmaryn wat ek saam met die pronk-ertjies, en letterlik die laaste papawer en kamelia van die lente ingewerk het, geruik het, sal ek nie weet nie.

Die SMS het vanoggend deurgekom net voor ek hier bo begin tik het.

Woorde soos vreedsaam en genade en in haar slaap kom daarin voor.

Is dit dan hoe dit is om, nie ‘n boekvriendin nie, nie sommer net ‘n vriendin van 28 jaar nie, maar ‘n sielsvriendin te verloor?

Dit is dan hoe dit is om ‘n sielsvriendin te verloor.

Ja, dit is.

1.10.12

1982 - 2012


Ek is ook al een wat
nie 'n dag ouer word
nie, en jaar na jaar
net al hoe aantrekliker.
Óf jy is een, óf jy is nie een nie; jy kan ook nie soorts van een wees of nie wees nie – jy is dit met oorgawe, of jy is dit met oorgawe nie.
Ek hou met oorgawe van ‘n reünie; of dit nou ‘n skoolreünie of ‘n universiteitsreünie is, die saam kuier van ‘n spul oudkollegas, of saam gesels met die ouens wat saam met jou in die peloton was.
Daarom hou ek ook van begrafnisse – dit is immers die naaste wat families deesdae aan ‘n reünie kom.
Ek hou van familietroues ook, hoewel ‘n mens deesdae op grond van die koste en versteekte onkostes nog die troue by jou verby sal laat gaan.
Ek sal saamkuier met my eerste paar jaar se matrieks, hou hulle die dag ‘n reünie; maar enige iets van na 1995 of 1996 ook nie sommer nie.
Miskien is dit omdat ek graag kuier met die mense wat saam met my oud geword het en nie noodwendig saam met die wat na my oud geword het nie, ek weet nie.
Natuurlik sien ek nog baie van my universiteitsvriende, maar ons het nog net so twee of drie keer ‘n poging aangewend om so vyf of ses van ons tegelyk saam te kuier. Een vet lekkerte.
Die skool het sover ek weet nie op 10 jaar bymekaar gekom nie.
Op 20 wel. En, o, dit was lekker!
Die afgelope naweek het ‘n paar van ons mekaar weer, party vir die eerste keer in 30 jaar, gesien.
En die slotsom:  Ek het lekker gekuier op 20 jaar, maar op 30 is dit beslis, wat my betref, lekkerder.
20 jaar na skool is jy nog nie oud genoeg om nie om te gee nie, op 30 jaar is daar niks wat jy meer kan verloor nie. Op 20 jaar is die egskeidings nog te vars, die ongetroudes te veel van ‘n bedreiging vir die getroudes, en verbeel jy jou jy is nog op pad na ‘n kruin toe.
Maar 10 jaar later het elkeen al op die een of ander manier sy gat gesien en geleer om daarmee saam te leef; of dit nou as mens, eggenoot, werker, pa of ma is, dit maak nie saak nie – jy het, as jy gelukkig is, nie meer nodig om voor te gee nie.
En dan kuier ‘n mens net soveel lekkerder.
Ons het nou nie ‘n 10-jaarreünie gehad nie, maar ek stel my voor dat jy jou op 10 jaar seker bykans dood skinder (en te wonder of jy wel die regte vrou getrou het en nie maar tog eerder met daardie seksbom wat tien jaar later steeds nie ‘n dag ouer lyk nie, moes getrou het nie.)
Op 10 jaar is daar seker matriekafskeidbabas, aborsies, opgeskopte universiteitsloopbane, fiskale teleurstellings en ander goed waaroor ‘n mens sou kon skinder.
Ek kan nie juis onthou dat daar vreeslik op 20 geskinder is nie, so hier en daar is iets dalk met ‘n tikkie venyn of lekkerkry gedeel, maar oor die algemeen het die gesprekke om onsself, en om die wat nie daar is nie, gedraai.
Wat het geword van en Wie hoor nog van en Waar is, is inleidings tot bykans elke gesprek.
Die outjies wat nie van reünies hou nie, hou nie van sulke vrae nie en stel ook nie in hul antwoorde belang nie. Maar vir my is dit lekker om te hoor dat sus toe wel met so getrou het, of dat sus en so in Pakistan of op Hotazel sit, of gesit het.
Ek wil ook weet wie is dood en wie nie.
En moenie vir my sê jy het niks om vir die mense te sê nie, jy gesels met jou beste vriende nie 5 of 6, of 7 of 8 ure, só eenstryk deur om nie!
Ek het een skoolvriend oor, en dan is dit streng gesproke nie eers ‘n skoolvriend nie, dis eerder ‘n vriend sedert skooldae – ons was in twee verskillende grade en van hoërskool af, in twee verskillende hoërskole.
Maar dis soos dit is en soos dit hoort – die groot gemene deler tussen skoolvriende en –maats is die feit dat julle in dieselfde skool of klas of rugbyspan is, in dieselfde straat bly, julle ma’s en pa’s vriende is.
Op universiteit brei die groot gemene deler uit – julle deel dieselfde belangstellings en passie, en op die oue einde loop jy die pad enduit met heelwat meer universiteitsvriende as skoolvriende.
En soos party op universiteit vriende maak, kry ander weer daardie gemene en gedeelde belangstelling by die werk.
Kom die kinders die dag, het hulle maatjies weer invloed op jou vriendekring en word enkele van daardie nuwe vriendskappe straks lewenslange vriendskappe.
So terwyl jy nog op skool is, wag daar 20 en 30 jaar later ‘n lieflike verassing op jou – jy gaan lekkerder as lekker en geselliger as gesellig kuier saam met skoolkennise langs wie in twaalf jaar op skool nie eers een enkele keer om dieselfde vuur gesit het nie.
Ja, mense wat geensins op skool maats is nie, kuier 30 jaar later ongelooflik gemaklik en lekker saam – vir daardie naweek of paar uur is die enkele groot gemene deler – ons was saam in die selfde graad in dieselfde skool – só sterk dat dit alle verskille ophef, hetsy nou die verskillende kringe waarin julle op skool beweeg het, of die verskillende rigtings waarin die afgelope 30 jaar julle elk geneem het.
‘n Paar van ons het Saterdag heerlik gekuier, dit terwyl ek in die geselskap van mense was waarvan ek hoogstens die naam vaagweg onthou. En dan verbeel ek my eintlik ook maar net ek onthou die naam.
Op tien jaar vertel jy nie van jou weghol een aand van ‘n ding soos ‘n ouer seun tong wat in die styl van Pinocchio se neus op jou neerdaal nie. Op tien jaar, op twintig jaar, laat blyk jy nie jou vrese en trane en ouers se egskeidings nie. Op twintig bely jy nie dat jy toe maar met C probeer uitgaan het maar eintlik agter B aan was nie. (Toe B nie wou val vir die attensies nie, maar C, haar beste maatjie, wel, toe settle jy wat A is maar vir tweedebeste.) Op 20 is jy nog nie lank genoeg getroud en die kinders nog te klein vir jou om, soos tien jaar later die geval is, te erken dat jy weet jy nooit moes getrou het nie. Straks weet jy dit al, maar jy kan dit nie erken nie.
Dit waaroor jy tien en twintig jaar tevore oor sou geskinder het, het jy nou geen sin in om oor te skinder nie, jy het simpatie, empatie, jammerte, begrip, of ‘n stille onbegrip. Ons het  na wat beweer word‘n lief en dierbare mens verhoorafwagtend vir aandadigheid aan ‘n huurmoord. Maar ek ken nie die detail nie; tien en twintig jaar gelede sou ek al die detail gehad het. Dertig jaar later bly jy stil, jy vra nie uit nie, jy is net bly die lewe het ander paaie met jou geloop.
Ek het Saterdag eers gesukkel om geld te trek – die vervoermense staak en 6 kitsbanke was leeg. Toe reeds amper ‘n half uur later as beplan op die hoofweg, sit ek 40 minute in die verkeer vas. ‘n Vassit waaruit ek baie maklik kon omdraai en huis toe gaan – na my vrou en kind toe, na Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd toe.En as dit nie was dat ek bang is ek self byt nie vas tot ons oor tien jaar weer so maak nie, en as ek nie seker was dat almal wat Saterdag daar gaan wees, dit beslis nie almal vir nog ‘n ronde gaan maak nie, het ek waaragtig omgedraai.
Ek is baie bly ek het nie.
Ek sal die volgende 10 jaar nie om wens nie, maar weet drie dinge: ek sien uit na die volgende keer, ek hoop nie my draad word voor dan geknip, of iemand rol ‘n klip in my pad om daar te kan wees nie.