Pages

18.8.12

Vrydag iewers in Augustus

En wat doen ek en my kind Donderdagmiddag terwyl ons moet huiswerk doen, Donderdag-agtermiddag  laat terwyl ons tafels moet leer vir vandag se toets, Donderdagaand in die kombuis om die tafel terwyl die kos in die oond brand?
Ons foeter Kollonade toe, koop die ding en kom speel Battleship.


 Ja, was my enigste ‘n seuntjie, het ek seker nie sommer uitgery om vir hom sy eie Barbie te koop nie, maar ek kan in my wildste drome nie voorstel dat Klaradyn enige identiteitskrisis kan ontwikkel oor sy en haar pa Battleships speel nie!
Ek regverdig my aankoop verder met die feit dat dit my kind se wiskundevaardighede opskerp en ons later nog baie bly gaan wees ons nou, op amper 8, hierdie kosbare oefening inkry. Gee my ook net tyd, en ek sal vorendag kan kom met nog tientalle ander vaardighede, waarsonder geen groeiende kind kan klaarkom nie, wat alles en almal in die speel van Battleship opgesluit is.
En dan moet julle weet, ons het in agt jaar geen doodmaak-doodmaak-speletjies gespeel nie. Speelgoedgeweertjies is ten sterkste afgekeur, selfs waterspuitgeweertjies is weggewys en spuitgoeters in die vorm van inspuitingnaalde is aangekoop.
En hier speel ek en sy ‘n ding wat daarop neerkom dat elkander se vliegdek- ek lugafweergevegskepe kruis oor dwars en links en regs moer toe geskiet moet word, om te wen.
Ja, so val die helde.
Maar ek moes dit net doen, al kry ek baie lag vir myself in die proses.
Ons het die speletjie die langnaweek in ‘n boekwinkel raakgeloop. Ons het baie dinge die langnaweek in die boekwinkel raakgeloop, baie dinge, lieflike dinge, baie lieflike baie lieflike dinge.
MAAR: dis verjaarsdagmaand, Klaradyn die einde van die maand, Pappa vier of vyf dae later. Dis twee partytjies (klaspartytjie en huispartytjie – nie by die huis nie, maar ‘n dieretuin), en, soos elke jaar einde Julie het die Automobiele Assosiasie se geld afgegaan, my water en ligte was R4 300 en bla-bla-bla-bla... daar is ‘n duisend en een redes waarom ons nie die langnaweek die Battleships kan koop nie.
En dis ‘n Hasbro-produk, enige Hasbro ding is moeiliker as hoendertande om in die hande te kry.
Maar daar is nie geld nie, en basta.
En ek spot altyd vir Annieka – haar tjeks hop nie, haar tjeks hop nooit nie, maar o, wee, die geld wat in haar bankrekening kom, hop altyd vinniger daar uit, as wat dit daar in gekom het – dit vat skaars grond, dit word nie toegelaat om asem te skep of tydelik nes te skrop nie, dit vat-vat net-net grond en dan is dit uitgegee.
En toe ek haar na skool gaan tatta-sê, vra sy my of ek ook salaris gekry het, die bank se SMS het laat weet sy het ‘n ou bedraggie gekry.
Ek sal nie weet nie, my selfoon is in die motor.
Maar daar was sprake van ‘n salarisverhoging iewers, en ek verbeel my ek het iets van ‘n terugbetaling gehoor.
O, en toe ek in die kar klim, en ek spoor die selfoon op, toe is daar ook ‘n ou halwe kwarteleiertjie wat darem ‘n knertsie beter is as die leë dop van die afgelope drie weke.
So toe ek die merrieperd vra hoeveel huiswerk sy oor het, en sy noem dis net die tafels vir Vrydag se toets, toe vra ek of sy nie saam met my Kolonade toe wil ry nie.
Ai, en toe ek net noem ek wil na die boekwinkel toe gaan omdat ek ‘n geldjie gekry het en ek my verbeel daar was iets wat ek nog laas daar wou gekoop het, toe weet sy presies waarvan ek praat.
Ag, en hoekom nie?
Sy en Mamma het Maandag teen donker van die Voortrekkers af gekom, hulle tref my toe in die motorhuis aan, en die volgende waarvan ek bewus word, is my kind wat van die motorhek af op my afhol en in my arms en om my nek  spring.
Volgens Annieka, ‘n rukkie later toe ons alleen is, het sy gevra of sy by die hek kan uitspring voor Annieka intrek, “want,” en ek haal haar aan, “ek gaan daardie man nou dood druk.”
O, my swakke vaderhart!
Sy het hoeka die wind verlede week uit my seile geneem toe ek haar die oggend in die symste motorhuis afsien en sy, uit die bloute, sonder enige bymotief, sommer so in die verbygaan, in my oor fluister en terloops net laat val:  “Onthou ek het Pappa baie lief.”
Die enigste ander vroumens wat my nog ooit kon laat voel soos hoe ek gevoel het toe ek net  toe daarna die huis instap, is dieselfde meisiesmensie se ma.
Ja, ek kon sjokolade ook gekoop het, ek kon die sagte speeldingetjie ook gekoop het, die boek waarvan ons al twee so baie hou, ek kon, maar ek het nie en ek sal nie – dis verjaarsdagmaand en ons draai die geldjies twee maal om.
Dis nou al die geldjies, met die uitsondering van die paar rand wat Donderdagmiddag ‘n breukdeel van ‘n sekonde in my rekening was, voor ek dit uitgegee het op iets waarvoor ek gerus maar en met die grootste vrymoedigheid my oë, in plaas my beursie, toe kon knyp.
Niemand het my nog ooit vertel dat kind grootmaak maklik is nie, maar niemand het ook al ooit ten behore kon vertel hoe lieflik, en lekker, en asembenemend, en alles wat mooi is, dit by dit alles ook is nie.
Kyk byvoorbeeld net wat is agter op Woensdagmiddag se vel papier waarop ons die middag se spelwoorde geoefen het.

Watter en welke paaie het die kind se gedagtes nie geloop om haar hierby alles uit te bring nie?
Dit sal seker help as ek vra.
Maar dan is dit nie dat ek wil weet wat sy geteken het nie, ek kan moes sien, en ek herken Gary Larson en elemente van "Idees vol vrees", maar dis die gedagtes terwyl sy teken waarby ek wil uitkom, die bewussynstroom, iets waarby 'n mens nie sommer uitkom nie, selfs nie eers al vra jy nie.
Aan die ander kant is dit miskien goed en reg en deel van die lekker van menswees, die feit dat jy plekke kan gaan en paaie kan loop waar ander nie saam met jou kan kom nie, waar jy alleen maar jy, en jy alleen, kan wees.



17.8.12

Voor dit te laat is

Ek het nou al meer onvoltooide blog-geselsies op my rekenaar, as wat ek blog-geselsies in die kuberruim het.
Alles oor die Olimpiese Spele en osn wat vir die eerste keer in sewe jaar weer 'n TV gekoppel had sodat ons die sport kon geniet, moet maar oorstaan tot 2016.
Hierdie gesels eindig stomp, maar wag ek langer is sy tydsgees ook verby, het ons al vergeet dit was koud, en het ek aan hom geen erg meer nie.
As ‘n dieetkundige Woensdag Klaradyn se kosblik onder oog had, het hy my laat opsluit.
Met die opwinding van die sneeu die vorige dag en ek wat deur die stad jaag om by my kind uit te kom voor die sneeu ophou, het die aankoop van brood my geheel en al ontgaan.
Dis toe eerstens sjokoladekoek. Dit het ek eintlik met ‘n skoon gewete gestuur omdat ek geweet het sy sal dit nie eet nie. Sy het nie die vorige dag die koek geëet nie, en ek het dit eintlik net ingesit sodat ek na skool ‘n strooptog van haar kosblik van stapel kan stuur.
Maar behalwe vir die koek, is daar toe regtig niks anders nie. Behalwe drie Mariebeskuitjies. Eintlik twee, want die laaste een was in twee gebreek. Ek kyk so ewe of daar nie malvalekkers in die kas is nie – dan smelt ek vir haar ‘n toe-koekie (soos toe-broodjie) in die mikrogolf. Maar helaas.
Toe gaan ek oorboord: ek smeer Nutella, nie op een koekie nie, om ‘n toe-koekie te maak nie, maar op elke koekie! En toe druk ek die Nutella-kant in sjokolade vermicelli en vertel my dis Hollandse hagelslag.
Om alles af te rond, spoor Annieka ‘n klein pakkie Safari-vrugtelekkers op en dit vins ook die weg in die skooltas in.
Daar was darem twee rooiworsies (seker net so ongesond) met tamatiesous in ‘n klein pilhouertjie-grootte plastiekhouertjie.
Ek het my oë toegeknyp en gehoop daar daag nie ‘n inspekteur van enige gesonde aard op nie.
En toe is daar genadiglik ‘n klaspartytjie en bykans alles kom net so terug. (My strooptog het by die sjokoladekoek gestop.)
En toe vergeet ek weer van kos – nie Klaradyn s’n nie, die konyne s’n.
Met ‘n Spar loopafstand van ons huis af, was ek Vrydag drie keer daar en terug. Maar toe ek met eiervrug in ‘n warm pan agterkom die laaste twee blikkies tamatie wat Maandag nog in die huis was, is deur die huishulp opgebruik, toe sit ek my voet neer – ek doen die eiervrug, dan gaan kry Annieka gou die tamaties.
En daar vergeet ek van die blaarkool wat sy vir die konyne moet kry.
Ek onderneem om, terwyl die kos 40 minute in die oond is, dan maar gou vir die hoeveelste keer te stap, dis regtig net twee blokke, twee klein blokke, se tjoef-tjaf stap.
Maar ons val vas in ‘n potjie UNO, eet, kyk ‘n DVD met Mamma wat onder die springbokvelkaros aan die slaap raak... en onthou knap voor 22:00 van die honger hase in die hok.
En streng gesproke voel ek hoeka steeds skuldig oor die goed:  die sneeudag se aand, dieselfde aand toe ek van my kind se brood vergeet het, het ek nie net van haar brood vergeet nie, ons het ook, op die koudste nag van die ganse winter, vergeet van die hase. Ek het die volgende oggend knap voor 05:00 in die koue uitgehop om hulle te voer en was verlig gewees dat die goed sowel die koue as die honger oorleef het.
Laat daar ter versagting darem genoem word dat dit ‘n hoogsuitsonderlike aand was, behalwe nou die koue. Ons het nie kans gesien dat Martha agtermiddag in die koue ‘n bus vat, en dit in ‘n bus wat laat opdaag, straks met hulle gaan staan, of tien teen een glad nie opdaag nie.
Sonder iets soos ‘n spaarkamer (ons derde slaapkamer is studeerkamer en die vierde kleintjie Klaradyn se speelkamer) kos dit dit toe bedopblaas en –opmaak en ek wat kos maak vir ‘n skielike oorslaapgas ook.
So alles was anders en buite die normale roetine, geen wonder ek vergeet van die konyne ook nie.
Maar toe vergeet ek so wraggies nie ‘n week later nie, weer van hulle.
Gelukkig kom ek dit teen 22:00 agter en ek is uit om hulle hul koolblare te bedien.
Miskien was dit danksy ‘n beskermengel dat ek onthou het, ek weet nie.
Ek glo nie in iets soos persoonlike beskermengele nie, maar ek kan verstaan dat daar partykeer sulke ongelooflike goed kan gebeur dat mense nie ander kan as om dit aan iets soos beskermengele toe te skryf nie.
En was die een kwartel in ons hok ‘n ateïs, dan is hy vandag ‘n belydende Christin wat oornag in veel meer as net beskermengele glo.
Ek en Annieka en Klaradyn deel ons kamers met drie patryshonde. Drie patryshonde waarvan die een reeds ‘n kwartel die hiernamaals ingestuur het (of dan nou by gebrek aan ‘n hiernamaals, beslis asblik en asgate toe) en ‘n ander een bykans haar hele dag daaraan wei om die kwartels se bewegings in die hok dop te hou. Dit is vir ons almal duidelik dat daar net een ding is wat Sussa met die kwartels, kry sy net die geringste kans, wil doen.
Ek is soggens eerste op, en die oomblik dat ek my voet op die matjie langs die bed neersit, dan het twee honde tussen my bene en ‘n derde op my skoot en in  my nek. Met drie honde wat al tussendeur my bene koeksister worstel ek dan die vier tree tot in die badkamer, om af te handel wat ‘n mens eerste ding smorens afhandel.
En of dit eerste my oog of my oor was, weet ek nie, maar ek raak in die badkamer bewus van ‘n fladdering en iets soos ‘n rot. En ek besef dadelik dat dit nie ‘n rot kan wees nie – rotte fladder nie met vlerkgeklap nie. Gelukkig is die honde so op my ingestel dat hulle, wonder bo wonder, teen alle verwagting in, nié die gefladder registreer nie.
Ek draai net daar vin spore om, want vries kan ek nie; vries ek stap hulle verby my en is die kwartel ‘n peuselhappie vir ontbyt.
Ek is af in die gang, agter die hondebeskuitjies aan, en kry die honde agter ‘n kombuisdeur toe.
Annieka word wakker toe ek oomblikke later met die badkamerasblik, toegegooi onder ‘n handdoek, in die hand uitstap. Dat ek sê daar is ‘n voël in die asblik, maak nie vir haar sin nie.
En hoe die voël in die badkamer gekom, en dit met ‘n toe badkamervenster, weet ek nie.
En hoe die ding ‘n nag in die geselskap van die honde kon oorleef, weet ek ook nie. Sussa, die een wat die kwartels bedags so kwylend dophou, slaap in die stort; ek het die kwartel aan die anderkant van die stort se deursigtige afskorting opgespoor.
Die stomme ding moes 22:00 uitgekom het toe ek die konyne in die donker gevoer het.
Sy moes met die dal van doodskaduwee langs al in die gang af gestap het, verby die drie honde (tussen hulle deur) en haarself die hele nag so stil gedra het, dat geen een van haar bewus geword het nie.
Dit ís ongelooflik.
Ek weet nou nog nie hoe dit kon gebeur het nie.
Behalwe natuurlik as selfs kwartels persoonlike beskermengele het.

9.8.12

Kapok, kapok, lawwe kapok

Sneeu, sneeu, lieflike sneeu,
Daal op die aarde neer,
Dit skitter, dit swewe, (?)
Dit bibber dit bewe, (?)
O, kyk tog hoe val dit al weer!
Ek het iets in hierdie lyn in standerd 5 geleer. By Meneer Peens.
Ons moes ook die kruiwawiel se skreeugeluid kerm hy droefgeestig uit, die tarentaal uit ons koppe kon opsê.
Van hom het ek gehou, al kon ek nog nooit ‘n tarentaal se geluid by ‘n kruiwawiel se skreeugeluid uitbring nie. Maar dan het ek ook nog nooit ‘n kruiwawiel gehad waarvan ek sy geskree by ‘n poelpetater uit kon bring nie. Miskien is dit omdat ek nog nooit juis baie lank en baie nou met ‘n kruiwa saamgewerk het nie. Miskien is Totius-hulle se kruiwaens daardie jare anders gemaak as ons s’n deesdae. Hoe sal ek weet.
Egter nie oor tarentale, poelpetaters of pêrelhoenders dat ek hier sit nie, maar oor die sneeu.
Dit was in 1977 vir my so absurd, so belaglik (of in my standerd 5-woordeskat, so laf of simpel) om opgewonde te moet raak, of opgewonde te moet klink, oor ‘n ding wat ek glad van geen kant nie ken nie, nog nooit gesien het nie, en tien teen een nooit gaan sien of leer ken nie.
Ja, een keer in standerd 4, by Oom Kobus-hulle op die plaas buitekant Bultfontein was daar vir so drie minute iets wat Tannie Erica kapok genoem het, maar dit was niks om oor huis toe te skryf nie; ook niks wat my kon help om geloofwaardig sneeu-sneeu-lieflike-sneeu uit te moet roep nie. Dit was eintlik niks anders as koud nie.
En omdat sneeu iets was wat ek op Kersfeeskaartjies leer ken het, en kapok iets gans anders was wat ek op Holfontein vanuit die sonkamer leer ken het, was sneeu en kapok nog altyd vir my twee totaal verskillende goed. Dis nou tot gister, toe die Aardrykskunde-leerkrag in die personeelkamer aankondig daar is hoegenaamd geen verskil tussen sneeu en kapok nie.
Oor die radio hoor ek wyle Fanus Rautenbach het voorgestel jy vervang die kapok in jou kussing met sneeu, en dan vind jy sommer self uit wat die verskil is. Maar hoeveel mense wel nog van kapokkussings praat, weet ek nie. Dit sal nie baie wees nie.
Standerd 9, toe sneeu dit wel Kerskaartjiesneeu en ons Ekhulurheniane (destyds was ons sommer Albertonners) was uit ons velle uit, en oor dit skooltyd was, sommer uit ons klasse ook. ‘n Skoolvriendin onthou 31 jaar later selfs in watter onnie se klas sy gesit toe dit begin sneeu het, juis omdat hy hulle nie wou laat uitgaan het nie. Hy het al die jare later via sy dogter laat weet, dat daar kwansuis ‘n inspekteur in die klas was en dat hy die klas net so graag wou uitstuur, maar nie kon nie.
Ek onthou dit nie. En in sy klas was ek beslis nie – ek het nie sy vak gehad nie.
Ek onthou my beste vriend, Riaan, ‘n jaar verder met skool as ek, het toe rekordeksamen geskryf, en in plaas van om te leer, soos hy moes, het ons ure se pret in die tuin gehad en ‘n sneeuman in die agterplaas gebou.
Maar ook dít het nie die belaglike aanleer en opsê van sneeu-sneeu-lieflike-sneeu vyf jaar te vore regverdig nie. En die sneeu ten spyt, is en bly my sterkste sneeu-herinnering uit my kinderdae die belaglik absurde, lawwe gedig.
En dan die foto’s wat my pa geneem het toe dit iewers voor my geboorte baie sterk op die dorp gesneeu het. Dit was nou vir jou sneeu, soos ek dit nog nooit gesien het nie.


Judy en Jac in ons agterplaas

Jac was 16, Judy 35 toe ek gebore is

Ek onthou my en Riaan se sneeu man as so iets

Mammie

Ons huis soos ek hom ken
(behalwe nou vir die sneeu)

Dit is by Germiston meer geneem -
ons gaan duidelik maar altyd mal
as ons sneeu kry

Ons huis soos ek hom nie ken nie,
lank voor my tyd
Daarom ook dat sneeu vir my geen maar geen bekoring inhou nie - ek het uitgemis op al hierdie pret wat ek op skyfiesaande teen die sitkamermuur geprojekteer leer ken het.
In 1994 kon ek met sweefspoor sneeu toe in Switzerland – my reisgenoot het maande daarna uitgesien. Ek is ure met die trein hoofstad toe – dit was nasionale museumdag en alle museums was daardie betrokke dag gratis – so terwyl sy frost bite in die berge opgedoen het, het ek museum-hopping gedoen.
Ag, en toe nou gister! Ek noem dit, die nuwe vakwetenskaplike kennis ten spyt, steeds sommer kapok.
Gelukkig dat ons nie juis meer hoede dra nie. Anders moes die Arries-onnie vandag haar hoed opeet. Vir ‘n hele week lank werk sy daaraan om die kinders te oortuig dat dit beslis nie in Pretoria gaan sneeu nie, en toe, voor die einde van die skooldag, toe lê die sneeu wit op die skoolveld.
OK, nie toe lê die sneeu wit soos in Switzerland nie, maar so dik en so wit soos dit in geen jare in Pretoria gelê het nie.
Ek het dit gemis – amper soos die Spinks-Coetzee geveg wat destyds verby was toe ek na ‘n piepie teen 03:15 voor die televisie uitkom. Net hierdie keer het ek nie gaan piepie nie, ek is vroeg by die skool weg om na Klaradyn se inset by die kunswedstryd te kan gaan luister.
Maar terug by die skool, na Sussie se vyfde A++ (ek MOES dit net IEWERS inwerk, en moet byvoeg dat daar nog ‘n A+ ook is) toe sneeu dit weer, en as dit nie was dat ek nie daarin glo om ‘n skeppergod met sulke beuselagtighede te pla nie, het ek wraggies gebid dat Klaradyn tog ook die sneeu moet sien.
Sy lê toe in Mamma se kar en slaap, na die kunswedstryd. Ma sit by haar in die motorhuis en wil haar nie wakker maak nie.
Maar die volgende kry ek ‘n oproep en dis net lenteklanke en –tone en –hoogtes in my ore:  “PAPPA DIT SNEEU!”
Maar toe ek 7 minute later by hulle aansluit, is daar natuurlik niks van oor nie – ek het die heeltyd trouens gery en kyk hoe die wolke voor my uittrek, hoe die klare blou hemel agter my oopval.
Ons gaan slaap die aand vroeg, ek, desnieteenstaande alles, steeds heimlik in die hoop dat ons die volgende oggend wakker gaan word met alles wit om ons, dreaming dan maar van ‘n white spring, maar helaas.
Ek sal die lawwe gediggie wat ek Klaradyn wil leer, maar moet bêre vir ‘n ander keer, dit straks nog maar saam met my graf toe neem.

30.7.12

Naweekpret

Ons het sedert laas enkele eerstes en lekkertes gehad. Dis egter hopeloos te min om uit te brei tot ‘n propperse PMK-geselsie.
Egter nie gesels wat ek vanaand wil doen nie – ek soek antwoorde, ek soek inligting.
Een van slegs enkele beste laerskoolvriende is seker 20 jaar gelede in ‘n frats skietongeluk oorlede.
Had hy nog gelewe het ek direk by hom aangeklop want dis saam met hom dat ek van my lekkerste kindertryd-speletjies gespeel het. Veral die een wat ek seker nou drie of meer jaar oor wonder.
Die ander een was een vet lekkerte, maar dis nie iets wat ek Klaradyn wil leer nie, iets wat ek nou al drie jaar wag om haar te kan leer nie – dis ‘n regte egte 100% seuntjie-speletjie van ouds.
Jy het nodig:
  • Twee seuntjies. Ek en Casjohan was ‘n perfect match. Partykeer was ons drie, maar dit het nooit so lekker gewerk nie.
  • ‘n Lekker lang gang. Tannie Marie en Oom Cas se gang was net reg en die ouer sussie, Greta, en ander huismense moes versigtig in die gang af om nie ons opstelling te breek nie.
  • Die gang het ‘n liggewig mat nodig, en by gebrek aan ‘n liggewig mat, dan ‘n kombers of wat. Jy wil kontoere, ‘n landskap met optes en aftes en slote en ravyne kan skep. Sonder ‘n mat, sonder obstacles, is dit so goed jy speel albasters, want al vaardigheid wat jy dan nodig het, is om te kan mik.
  • Albasters.
  • Twee lekker groot stelle plastiek soldate. Garetolletjies en vuurhoutjieboksies vir tenks, wapenopslagplekke, ondergrondse petrolreservoirs of wat jou verbeelding ook al toelaat.
Ons het die moer uit mekaar se manskappe en infrastruktuur gerol met daardie albasters – ure aaneen.
Ek het begrip daarvoor dat dit seker nie 100% post-Apartheid/Grensoorlog/Koue Oorlog is om oorlog-oorlog te speel nie, en had ek ‘n seun, sou ek een van daardie pappas gewees het wat nie sommer geweertjies en ander doodmaakgoed gepropageer het nie. Maar as ek nou 100% eerlik moet wees, kan ek regtig nie dink dat ek enige letsels oorgehou het van ons kleintyd se oorlog- en geweldspeletjies nie.
Maar dit nou maar daar gelaat. Dis ‘n debat op sy eie, en miskien is dit ‘n goeie ding dat ons toe nooit ‘n klein Hansie gehad het nie.
Die ander speletjie was Battleships wat ons vir net soveel ure besig gehou het. En dan praat ek nie van die borspeletjie wat later van tyd gekom het nie – ek praat van blokkiespapier, pen en potlood; ‘n swart Croxley skryfboek tussen ons twee staan gemaak.
Ek en Klaradyn het vandag het vandag ons eerste potjie Battleships gespeel.
Ek troos my daaraan dat dit hier gaan, nie om oorlogvoering ter see nie, maar vektore en die lees van kaarte. Ons het vandag meer van wiskunde geleer as van maritieme maneuvers.
Met die pen en die potlood het ons ook blokkies getrek. Ek sien hulle noem dit Squares op die internet. Dit sou ons by die skool in die eksamenklas gespeel het, dit hét ons by die skool in die eksamenklas gespeel. 
Eers was dit egter Racetrack, maar dan beslis nie Racetrack wat ek op die internet opgespoor het. Jy het jou baan geteken presies soos hulle uitspel, maar daar was nie blokkies nie; ons het die pen staangemaak op die papier, en met jou wysvinger op die pen se kop het jy hom dan vorentoe geskiet. Daar waar die streep ophou, het jy jou kolletjie gemaak. En so het jy geskiet tot jy oor die wenstreep is.
Die speletjie wat ek onthou, maar ook nie onthou nie, bring eintlik al drie speletjies in een heerlikheid bymekaar:  Battleships, Racetrack, en die plastieksoldaatjies met die albasters.
Ons het ‘n slagveld op papier uitgeteken (soos die soldate of die skepe). En dan het ons geskiet met penne (soos in ons weergawe van Racetrack).
Maar hoe dit gewerk het, wat ons geteken het, en wat die reëls was, weet ek lankal nie meer nie. Ek onthou daar was tenks – die tenks se spore was die penspore wat ons oor die bladsy gestuur het. Het ons landmyne geteken om te keer dat die tenks by ons forte uitkom. Hoeveel tenks was daar? En hoeveel forte?
Maar ek weet nie eers of dit tenks en forte en landmyne was nie.
Al wat ek weet is dat ek ure se pret gehad het – tot standerd ses en sewe nog.
Jy het vorentoe beweeg met die pen. Miskien het jy iewers heen gejaag, jy wou iewers uitkom. Of miskien het jy van iets weggejaag – jy wou wegkom. Ek weet nie, maar dis die breedste van breë trekke.
Maar net so breed soos wat dit is, so vaag is dit ook.
Dit help nie ek vra vandag se kinders nie – hul vermaak is Nintendo en Wii en Blackberries en Ipads en klomp ander goed wat ek nie eers weet hoe om te spel nie.
My ou maat is al jare in sy graf.
Ons tydgenote sal tien teen een, soos ek, net ten dele, vaagweg en ten mínste, gebrekkige, onder-dele, onthou.
Ek en my ander beste skoolvriend is steeds beste vriende. Maar dis mos nou maar hoe dit met maatjies gaan – by die een speel jy hierdie goed en op een manier, by die ander speel jy ander goed en op ‘n ander manier. Ek kan my nie vir een oomblik indink dat ek en Riaan ooit enige een van hierdie speletjies gespeel het nie.
Dit help nie ek bel of stuur e-pos nie.
Ek weet wel ek en Klaars, selfs ek en Mamma en Klaars, sal lekker pret kan hê in baie van die tydjies wat ander kinders voor die televisie sit of met oorfoontjies in hul ore besig is om BBM-boodskappe vir mekaar te tik.
Ons doen dit ook. En daar is niks verkeerd mee nie. Maar ook soveel ander. En suffel meer.

24.7.12

Happy days


“Happy days are here again, da-dadda-da-dada, da-da... are here again.”
Ek ken regtig nie woorde nie, net die wysie en gelukkige gevoel.
En dis daardie gelukkige gevoel wat na vier jaar terug is.
En noudat dit terug is, weet ek regtig nie hoekom dit nie twee jaar gelede al terug gekom het nie.
Ek het tot ander insig gekom – gegroei.
En die hond is ook darem ouer.
Ons het vier jaar gelede ‘n derde hond gekry, en dit was die einde van honde in ons huis.
‘n Lang en hartseer storie, wat ter wille van die gebrek aan woorde om alles te vertel, ook ek wat nie derms wil uitryg nie, bloot opgesom kan word met:  Ons het vir vier jaar nie honde in die huis gehad nie.
Dis nou nádat ons vyf jaar honde in die huis gehad het. En dan het ons moeite gedoen om hulle in die huis te hê. Ek het ‘n gat in die kombuisdeur gesaag (met ‘n deurtjie wat kan toeknip) dat hulle kan in en uit. Ek het selfs die slaapkamerdeur ‘n gat in gemaak – dat ons die deur kan toemaak sonder om ons twee brakke uit te sluit.
In die kamer was twee hondemandjies, maar was dit net ek in die bed, kon die honde maar op en het ek ‘n blinde oog in hul rigting gedraai. En was Annieka alleen in die bed, is dit ook of sy nooit bewus geword het van ‘n Boeta of Sussa wat so saggies-saggies, by haar, op my plek kom lê het nie.
En is ek en Annieka eers waar saam in die bed en die honde af mandjies toe, het dit steeds gebeur dat ons soggens wakker word en dan het daar jou wraggies een, partykeer selfs twee, honde deur die loop van die nag by ons voete aangesluit.
Maar belangriker as dit, en wat ek vier jaar meer gemis het, was om saans (soms snags) te werk, en een van my honde iewers by my voete te hê. Of dit nou in die studeerkamer, eetkamer of televisiekamer is.
TT Cloete het in ‘n stadium ‘n gedig geskryf en gemeld van die gerusstellende geluide as die huis se dakbalke snags kraak. Ek het dieselfde gerusstelling gekry van die honde se toonnaels, snags af in die gang – the tiny pitter patter of twee patryshonde op en af in die gang oor die teelvloer.
Die mooiste geluid van alles egter Sussa – sy het nooit veel erg aan die hondemandjie gehad nie – onder die bed, aan my kant, en haar stert wat onbeheersd aan die klap-klap gaan as ek inkom om te kom slaap, of as ek snags haar naam noem en my hand afstuur om met haar kontak te maak.
Maar die honde is nie net geluide nie. Hulle is ook ‘n fees vir die oog – patryshonde, enige patryshonde, alle patryshonde, is immers die sjokoladeboksste van alle sjokoladebokshonde.
En dan daag hulle ook die reukorgane uit, naweekaande voor die televisie, stel hulle selfs ook uitdagings aan jou smaakkliere as die laaste soutproppie, die een waarna jy so uitgesien het, van die tafel nie na jou mond beweeg nie, maar met liefde rigting na hul bekke vind.
En toe raak hierdie huis stil. En leeg.
(Dis nou met die jongste telg – maar die stories wat ek nie gaan vertel nie.)
Ek was klein seuntjie en het met Happies by my voete grootgeword.
Annieka was klein dogtertjie en het met Ogies by haar voete groot geword.
En hier sit ons met Klaradyn, en ons kan nie eers die honde (waarmee sy amper 4 geword het) meer by ons dieper as die kombuis in die huis hê nie.
Vir vier jaar berou ek die aankoop van die derde hond.
Met reeds drie honde op die erf, is ek nie bereid om nog ‘n hond op hierdie erf te onderhou nie. Daar is ook nie ‘n manier dat ek drie honde buite het, en Klaradyn kan een hond by haar in die huis neem nie. Ek sal dit nie toelaat nie. En die jongste, derde, hond sal dit ook nie toelaat nie.
Elkeen vir wie ons van die komplekse jongste hond vertel, maak dit duidelik – die hond moet weg, dierebeskermingsvereniging toe, asgate toe, solank die hond net weg.
Ek oorweeg dit nie.
Ek wil die dier nie eers in die koerant adverteer nie – ons emigreer Australië toe en kan die dierbare hondjie nie saamneem nie – of die een of ander liegstorie wat die een of ander sucker met ‘n slap riem sal vang.
En toe iewers in die vakansie het ek net mooi genoeg gehad, en Annieka het net mooi genoeg gehad.
Lank genoeg dat die stert die hond geswaai het (bedoelende die jongste disfunksionele troeteldier wat die lot van die ouer twee, en ons as gesin,  bepaal het.)
Lank genoeg, reeds vier jaar te lank, dat ons nie ons troeteldiere kon troetel op die wyse wat ons gewoond was en wou nie.
Anders as katte het ons en die honde  net één lewe, en kan ons die wonderlike geleentheid en voorreg om dit met mekaar te deel, nie verspeel en versmaai nie. Klaradyn is eersdaags groot en dan het sy in haar grootwordjare nie die vreugde en verryking van honde gehad wat sy as peuter en kleuter geken het nie.
Die jongste sal ons nooit kan verander nie, sy sal nooit verander nie, maar die feit dat sy in alle opsigte geremd is, beteken nie ons moet ons deur haar laat rem nie.
En ons gooi die hekkie tussen die kombuis en die res van die huis oop.
En daar is dit Kersfees! Vier maande voor die tyd. Mense-Kersfees én Honde-Kersfees.
Dis asof daar nie vier lang en hartseer maer jare tussen vandag en gister lê nie... alles is binne tien minute in dieselfde ou roetine van destyds.
Daar is nie verwyt, aanpassing of enige iets van die aard nie.
Ouer geslagte het vertel van God wat die lei met een veeg van Sy hand skoon vee, alles is vergewe. En presies so is dit met die honde. Dis asof die vier jaar in ‘n oogwink weggeval het, dit wás nie, en dit het nie gebeur nie.
Werk ek, is daar ‘n hond by my voete, saans klap en flap en klop en flip-flop sterte die mooiste toccata gaan ons bed toe.
Ons slaap deur. En die bure! Die honde het snags op hul eie vir die maan en verbeelde inbrekers geblaf – soms vir wat soos ure gevoel het.
Nou sal hulle steeds aan die blaf gaan, maar met rede en net totdat hulle die rede afgeskrik het – dis nie ‘n doellose gekef en geblaf al oor en om die erf nie.
Die eerste draaitjie wat ek soggens loop, sal ook nooit weer so rustig wees soos die afgelope vier jaar was nie – it’s difficult, when a man’s got to do what a man’s got to do, to do all you have to do, met drie honde wat op jou, en om jou, en oor jou, en tussen jou deur, met wapperende tong en stert kompeteer om jou liefde en vry en vryf en aandag nie.
Maar dis soos van ouds, die wonderlike van ouds. En soos dit hoort.
Happy days are inderdaad here again.
Soos ek nou hier tik, is Klaradyn met die jongste in haar arms op die bank langs my. Soos ek nou hier tik, is dit op die maat en ritme van Sussa se stert. En te oordeel aan Boeta wat nou net opgespring en uitbeweeg het, is Annieka seker nou ook hier – hulle hoor altyd die motors voor ons. Ja, ek is reg – daar hoor ek nou die hek oopgaan.
Happy, oh, such happy days.

22.7.12

Fietsry-Furnace

Waar ek toe FUNRACE moet lees, lees ek toe FURNACE. Iets wat natuurlik nie sou gebeur het as die kind dit net reg gespel het nie: FUN RACE.
En natuurlik weet ek ‘n FURNACE is ‘n smeltkroes of hoogoond, maar ek word dan nou uitgenooi na die skool se Fietsryklub se heel eerste FURNACE. So in fietsry is dit tog sekerlik nie ‘n oond nie, maar iets wat lekker en opwindend is.
Nou was die kind vier jaar gelede ‘n baie getroue ondersteuner van die filmklub wat ek en ‘n kollega van die grond af probeer kry het. Hoe kan ek die seun dan nie nou wil help nie – as hy ‘n fietsry-furnace wil hou, dan is ek in.
As hulpgraadvoog sien ek dit ook as ‘n geleentheid om die graad 9’s te inspireer om in hul massas in te skryf vir hierdie fietsry-furnace. Dit maak ook dat ek nie alleen hoef te ry nie – ek kommandeer die dame wat leiding neem by die graad 9’s op om saam met my te kom ry.
En dit maak nie saak dat sy nie ‘n fiets het nie – ek het mos nou ‘n bakkie:  ek gooi my én Annieka se fietse agter op en die saak is reg.
Die kleredrag het my aanvanklik bekommerd – ek kan nie hierdie tradisionele fietsryklere dra wat so vreeslik revealing is dra nie. Ek is natuurlik lankal nie meer gepla oor wat die broekie kan reveal nie, dis die balie om my maag wat deur ‘n T-hemp afgeëts word, wat my bron tot kommer is.
Maar toe onthou ek iets van ‘n “Geel trui vir ‘n wenner” uit die dae van Boontjies Bezuidenhout en die Rapport-fietstoer. Ek het ‘n borrie/kanarie/gifappeltjie/goudgeel sweetpak wat al oud en opgedra was toe ek Annieka in 1994 ontmoet het. Ek kan dit aantrek. En ek wonder of daar nog steeds ‘n ding soos ‘n geel trui in fietsry is – dalk snap die leerders nie my verwysing nie.
Maar so is ek toe Donderdagoggend in die donker met die fietse gelaai, skool toe. Klaradyn hou haar pa dop wat in die donker sukkel om die fietse op die bak te kry. Sy hê vir haar ma te vertelle:  “Ag, siestog, Mamma, arme Pappa hoef nie vandag te wen nie, hy moet dit net geniet!”
Dis ‘n gesukkel. Op die ou einde het ek die twee fietse se voorwiele af – ja, fietse word nie meer gemaak soos toe ek kind was nie, die wiele kom nou tjoef-tjaf af. Ek moet net onthou watter wiel is wie se wiel en ‘n aantekening in my gedagte maak van hoe om die remme weer gekoppel te kry. Em vir my fiets is die remme nogal belangrik – ek het nie wafferse agterbrieke nie, ek het trouens geen agterste brieke nie en is op die voorremme aangewese.
Ek en my kollega hou langs mekaar skool, so die fietse wat ons voor die klas vasgesluit het, maak nogal ‘n indrukwekkende vertoning.
As sy tog net vroeër op die fiets geklim het, sou ons vroeër agtergekom het Annieka se voorwiel is pap. Eintlik het ons dit vermoed, maar dis eerste die laaste periode dat sy toe ‘n fietspomp geleen kry en agterkom die wiel is nie net pap nie, die ding het iewers ‘n spyker of doring deur.
Gelukkig het ek die laaste periode ‘n vry periode en ek hop met die wiel in die pad om ‘n binneband te vervang. Daar is nie tyd om met patch & solution te sukkel nie, dis al na 13:30 en ons furnace skop 14:30 af. Seker ‘n verkeerde metafoor daardie – ons furnace val dan maar eerder maar 14:30 in die pad. Of so iets.
Bruce Reyneke, wat ek aldag wil Bruce Fordyce, moes ‘n fietsryer gewees het. Hy het ‘n fietswinkel ‘n katspoegie van die skool af. Maar ek het al baie daar verby gery en besef sy fietswinkel is nie soos die Blou Meul op Alberton waar al Alberton se seuntjies hulle fietse gekry het nie. Bruce Reyneke se winkel is vir swaargewig fietsers, en ek hou verby na die tweede een, ‘n entjie verder af in die straat.
Maar o, wee, dit is toe ook soos ‘n boetiekhotel vir fietse. Om ‘n fiets te was kos R150-00! Die goedkoopste fiets is duurder as my Venter-sleepwaentjie, en die duurste fietse is almal duurder as Annieka se motor.
Ek sien selfs fietse met skokbrekers.
Maar nie ‘n enkele dikwielfiets wat jy moet back pedal as jy wil briek nie.
Die binneband kos toe nie ‘n plaas se prys nie. Hulle wou natuurlik  eers dat ek die ding voor 17:00 moet kom optel, maar tyd vir was en kennel fees opbou, is daar nie – my furnace begin oor minder as 25 minute.
Gelukkig het ek teen skoolmuur my fout agtergekom, daar was ‘n plakkaat van die geleentheid op en ek het gesien dis toe al die tyd ‘n fun race (weliswaar funrace gespel). Netnou het ek in die fietswinkel gepraat van die furnace waaraan ek gaan deelneem. En die mense het my klaar so aangestaar.
Daar het kort klere vergeet. En dis warm. My geel trui vir ‘n wenner sal ek seremonieel om my my middel bind, maar aan sal ek hom beslis nie trek nie. Ek kry toe ‘n T-hemp wat my soos ‘n te groot, oorryp piesang in ‘n te klein skil laat lyk by iemand present en ons kom by die wegspring byeen.
Daar is heelwat kinders. Ek hoor ons spanlede moet mekaar aflos – daar is sewe rondes. Ons span is toe nou al klaar drie sterk (in plaas van twee) en ons sit ons voete neer:  ons ry saam vir die lekker. En doen ons net twee of drie of vier of vyf rondes, is dit ook goed so. Ek moet in elk geval nog dramaklas toe met Klaradyn, Annieka het vroegaand koor, Klaradyn moet by Ouma-hulle slaap, ek gaan Jannie du Toit luister (op uitnodiging) – so ons moet gou maak.
Hulle begin toe praat van ‘n roete wat uitgespan is met rooi chevron plastieklinte.
Ek dog nog die heel tyd, meer nog na ek gehoor het dis ‘n fun race, dat ons al om die skool in die pad gaan ry, soos ‘n pretloop om geld in te samel vir ‘n kind se nieroorplanting, of ‘n kerk wat in Malawi gebou moet word.
Maar nou is daar ‘n roete – die verkenners en bespieders sê dis ‘n baie tawwe 2.4 km – uitgewerk, al aan die binnekant teen die grense van die skool af. Daar teen die walle op en af, onder die bome deur. En so aan. En so voorts.
En toe klap daar ‘n skoot en ek dog alle hel is nou los, maar dis toe inderdaad die afsitter.
Ons drie het die agterlangs gestaan, en die wat nog agter ons was, het ons binne die eerste 70 m verby geskiet.
Iemand het in ‘n stadium reëls oor ‘n megafoon uitgespoeg, maar ons het nie geluister nie – ons was soos resiesperde in die wegspringhokke. Al wat ek weet is dat jy uit die pad moet trek as iemand van agter kom en “Trek!” skree.
Ag, siestog, maar daar het ons nie mooi geluister nie, die idee is dat jy net na links, of net na regs moet aftrek – ek weet nou nog nie watter kant nie. En so gebeur dit toe dat ons omtrent die kinders van agter begin afskryf omdat ons voor hulle inTREK! as hulle agter ons verbyTREK!
Woorde om die roete te beskryf, het ek nie. Ek het die woorde, maar dis te veel en ek het nie tyd om so baie en lank te tik nie.
Laat ons net sê dit sou gehelp het as ek agterste remme gehad het. My groottoon se nael sou byvoorbeeld dan nie nou gelig en blou gewees het nie – ek het op een afdraande met my voete probeer keer dat ek gat oor kop val.
Ons kon nog die swaeldampe van daardie duiwelse afsitterspistool ruik, toe haal die outjies ons al van agter af in, toe is hulle al besig met die tweede ronde.
My hare het in ‘n stadium in die takke vasgesit.
Ek is blou op plekke waar ek nog nooit blou was nie, en ek nie eers die vrymoedigheid sal hê om vir my eie vrou te wys waar dit orals is nie.
En my longe! O, my longe! Dis of ek nie meer as twee jaar reeds nie meer rook nie, dis of ek die laaste 40 jaar al elke dag 40 Lexington-sigarette rook.
Ek weet nie of dit van die skud oor die rowwe terrein was nie, of wat nie, maar dis of ek by die fisioterapeut was – daar het dinge op my bors losgekom wat ek nie gedink het los kan kom nie – my asemhalingskanale was in geen jare so oop soos van Donderdag af nie. En dit van uitasem en niks meer nie.
Oral langs die pad was klaskaptein en prefekte met vlaggies. Dis om seker te maak jy sny nie hoeke of dele van die baan nie. In ‘n stadium spring hier enetjie voor ons in om te sê dat ons nie daardie kortpad, daardie gelykpad-kortpad kan vat nie. Mense, dit was die naaste wat ‘n voetganger nog ooit aan doodgery deur ‘n fietsryer gekom het.
In sy geheel was die enkele ronde wat ons drie gery het, ook die naaste wat ek in my lewe aan extreme-sport sal kom.
Maar dit was heerlik. As ek nie so moeg was nie, as ek nie so lekker gelag het nie, as ek nie my gate so uit geniet het nie, sou ek ‘n tweede ronde wou doen. Maar ek was op. Ek het so gebewe van die uitputting dat ek skaars die Energade kon drink wat iemand vir my aangedra het.
Wat van die noodhulpmannetjie geword het, weet ek nie. Hy is aangesê om saam met ons te ry met sy rooi tassie. En hy het. Maar ook net tot op ‘n punt, toe is ons waaragtig te stadig vir sy energievlakke, toe roep hy ons vaarwel.
Ek het in ‘n stadium gehoop daar spring ‘n spyker of kameeldoringboomdoring onder my bande in – maar verniet – die bloody wiele hou.
Maar dit was lekker en alles die moeite werd – daar was duidelik die meeste graad 9-spanne van almal.
En toe my hart en longe net eers weer bedaar het, toe stoot ons die fietse op bakkie toe. Maar ons stop net eers by die adjunkhoof met die boodskap dat hy maar Vrydag se toesigrooster kan uitwerk – ons fietsryspan gaan beslis nie daar opdaag vir skool nie.

Nuwe lewe op die werf

Miskien het dit met die ligging van ons erf te doen, die vloei van die spruit hier anderkant verby, die belyning van die planete, of dalk die onbekende gru-dood van ‘n ewe onbekende met die een of ander meer onbekende vloek op dié lappie aarde, maar feit bly staan:  ons is nie ‘n vreeslik teelkragtige spulletjie op een werf versamel nie.
‘n Boetie of sussie vir Klaradyn het ek en Annieka toe nooit die lig kon laat sien nie.
Óf Boeta, óf Snuffels (of soos ek die saak uitkyk – hulle al twee) is gus. Dis nou al vier jaar dat Snuffels al om die ses maande stomme Boeta se hormone net so deurmekaar krap, maar helaas, al wat ons ooit hiervan kry is die iesegrimmige aanloop tot die gebeure van Snuffels se kant af, en dan Boeta wat week lank  vir ons almal ‘n irritasie is.
Toe is my geld op die konyne, maar konyne vreet voortaan uit my mond soos konyne. Ek sal nooit weer sê iets of iemand teel aan soos konyne nie, want al sit ons met twee mannetjies (wat 24 uur ‘n dag, 7 dae ‘n week, 12 maande ‘n jaar met mekaar in stryd gewikkel is om die dominante mannetjie te wees) het daar in al hierdie tyd ook nog niks van gekom nie.
Tussen Snuffels en ‘n rot sit ons met twee van dieselfde geslag kwartels op die grond.
Die vinke lê eiers – tot groot opwinding van my en Klaradyn, maar dis waar dit stop.
En dan het dit seker iets met die ligging van die erf, die spruit hier naby, of die stand van die planete te doen, maar die duiwe lê nie eers eiers nie – nóg die diamantduifies, nóg die kaneelduifies.
Maar toe, seker ook al meer as ‘n maand gelede, begin die Indiese Ringnekparkiete saans die wittebroodsuite wat ek vir hulle aangelê en met saagsels uitgevoer het, betree.
Ek, wat nou al geruime rukkie vermoed ons almal is getoor, raak natuurlik nie opgewonde nie – dit is tien teen een maar net die koue wat hulle binnetoe jaag. Ek kan my nie indink dat hierdie voëls se biologiese klokke so ingestel is dat hulle wanneer die koue op sy strafste is, met kuikens, moet sit nie.
Maar toe, inderdaad, seker so vier of vyf weke gelede, kom ons een agtermiddag by die huis aan, en daar is net een parkiet op die stokkie.
En van toe af hoor ons soggens net een, en kom net dié een ooit uit die hout broeinessie uit.
Maar ek lig nie die deksel om te kyk presies wat aangaan nie – netnou wip die broeipaar hulle vir ons en verwerp die eiers in die nes.
So hou ons die broeiproses met verwondering dop. Ons raak van talle vreemde dinge bewus en daar is talle vrae wat ons kenners sou wou vra oor die betrokkeb voëls se ongewone parings- en broeigedrag.
So val dit my dadelik op hoeveel morsiger die mannetjie word – dis net groente en vrugte wat halfpad geëet rondlê waar jy kyk. Ek lei toe ook af hy moet sy wyfie voer deur die kos weer op te bring want sy kom nooit uit om water te drink of kos te eet of te iets nie.
Intussen wil moeder daar binne ook nie so draai dat ons haar binne die houtnessie, deur die ronde gat, kan sien nie.
Een keer die vakansie verbeel ek my darem ek hoor haar daar binne rondskuif – groot opwinding.
Sy gedra haar vir alle praktiese redes presies soos ‘n toegemesselde neushoringvoëlwyfie – met die een verskil net: sy is nie toegemessel nie.
Maar drie weke, het vier weke geword, en nog ‘n vyfde week het gekom en gegaan sonder enige taal of tyding hoegenaamd of van watter aard ook al uit die nes.
Ek begin oor die wyfie bekommerd raak, want dis duidelik, die hok is so morsig omdat hulle nie meer al hulle kos eet nie – daar bly elke dag groente en vrugte oor, dit terwyl hulle voor die groot broei aangebreek het, elke dag selfs meer geëet het as wat ek die laaste week of wat vir hulle uitsit.
Teen Vrydag begin ek al gesigte sien van die stomme wyfie wat haarself uitteer op drie of vier windeiers, of eiers wat lankal van die koue verkluim het. Maar hulle instink kry hulle nie so ver om die eiers te los nie.
Saterdagoggend ruik ek selfs of ek nie verrotte vleis begin ruik nie – maar straks, as sy in die proses van toewyding aan haar eiers, die tydelike met ewige verwissel en stertveer in die dak gesteek het, is sy teen hierdie tyd van die koue eerder al biltong.
En teen Saterdag, toe ek weer terug by die huis kom, en ons is nou al verby amper ses weke, verbouereer ek maar die pappa-to-be en haal die tentpen wat die hokkie se knip op sluit hou, uit, en skuif die nes nader.
En wat sal ek ontdek toe ek die hok se deurpaneel oopskuif – niks, net mooi niks. Niks, soos in daardie niks wat jy met ‘n –f spel en in die ou dae soos ‘n hoë, skril bliep- of beeep-geluid oor die radio geklink het: nie ‘n eier nie, nie twee of drie eiers nie, om die waarheid te sê, nie eers ‘n donderse ongehude moedertjie van ‘n dag oud nie.
Ek vroetel selfs met my vingers tussen die saagsels rond op soek na biltong of beentjies van ‘n kannibalistiese ritueel, maar niks – ons sit al die tyd, nie met ‘n broeipaar in die hok nie, nie met ‘n wewenaar in die hok nie, maar met ‘n graswewenaar of geskeide man – want sy vrou het hom verlaat, ses weke gelede al!
Hulle twee wat saam haar ontsnapping beplan het, kan dit nie wees nie. Daardie tentpen is goed 15 cm lank. Vir twee parkiete om hom 16 cm gelig te kry, van buite, met hulle binne, deur ysterdraadgaatjies van 1 cm by 1 cm, is vir die vernuftigste geveerde vriende ‘n saak van onmoontlikheid.
Dit laat ons met een van agt ander moontlike skuldiges:  die drie spanjoele, ek, Annieka, Klaradyn, Martha of Amos.
Die drie spanjoele kan dit nie wees nie. Behalwe as hulle skelm afgeloer het toe ons Madagascar gekyk het en gesien het wat die pikkewyne alles kan uitrig as hulle op mekaar staan. Want, behalwe as hulle soos die stadsmusikante van Bremen die een op die ander se rug staan, kan hulle onmoontlik nie by die tentpen uitkom nie. En dan moet ons nog ‘n diere-afrigter uit Hollywood invlieg om die boonste een van die trio te leer om die tentpen op en uit te lig. En as hulle dit bemeester het, moet die hefboom en knip gelig en omgedop word – daar is nie ‘n manier nie.
Dit laat ons met myself, my vrou, my kind, die huiswerkster en die tuinwerker.
Ek het Klaradyn dopgehou toe ek die ontdekking gemaak het – daar is nie ‘n geringe kans dat dit sy kon gewees het nie. Sy waag dit nie naby die deurtjie nie, wat nog te sê met haar hande binne die hok. En as sy die moed bymekaar sou geskraap het, en sy het die een laat uitvlieg, sou sy histeries en in trane gewees het. As sy dit probeer wegsteek het, sou sy lankal nagmerries en versteurde slaappatrone daarvan ontwikkel het.
Meer nog – sy sou op haar eie by die skool moes wegsluip, huis toe kom, die ding doen, terug gaan skool toe, opgetel word en die middag saam met ons hier instap toe ons sien die een parkiet is in die broeines.
Annieka, wat geen maar geen belangstelling toon in die kyk van die agtermiddagsepies nie – ons het trouens nie eers televisieopvangs op ons erf nie – toon daagliks groter belangstelling in die agtermiddagsepies op TV 2 as in die parkiete. Dit sal my vrou nie wees nie. En dan is sy hoogsbegaafd daarby – sy sal nie so onnosel wees om te wil redeneer dat daar niks van sal kom as sy net daaroor stilbly nie. Kom ek rep geen woord nie, dalk kom niemand agter die een voël is weg nie, en dan gebeur daar niks.
Ek kan nie onthou of dit ‘n Donderdag was toe ons van die “broeigedrag” bewus geword het nie – Donderdae is Amos hier.
Maar ek weet nou al wat ek sal hoor as ek een van die twee werkers uitvra. En buitendien sou hulle my tog sekerlik gesê het.
So wat van die een ringnek geword het, weet ek nie.
Ek vermoed dit hou tien teen een verband met die Higgs boson en deeltjie-krag te doen, want met die ligging van die erf, die spruit hier naby, of die stand van die planete, kan dit onder hierdie son beslis nie verband hou nie.
Is daar straks iemand wat help met die bou, hier ter plaatse, van nog ‘n Groot Hadron-deeltjieverdeler soos die een van die Atlas-projek in Genève. Ek vermoed Martha (en, o, ek kan baie stories, en mooi stories ook, van hierdie liewe bemoeisame mens vertel) sal maandeliks ook ‘n rand of wat wil bydra om haar onskuld te bewys – al vat dit soos met die goddeeltjie ook nou 40 jaar om dit te verklaar.